Die Samestelling van Gemeentes

Die samestelling en taalbeleid van gemeentes het ‘n onderwerp van groot omstredenheid in die nuwe Suid-Afrika geword omdat daar verskillende vertolkings van Bybelse riglyne én van die land se grondwet gemaak word. Die volgende feite is in hierdie verband ter sake:

Bybelse voorskrifte

In die opdrag van wêreldevangelisasie, die vorming van gemeentes en die verkondiging van die Woord word die kulturele, taalkundige en staatkundige diversiteit van die mensdom duidelik in ag geneem. Die Here Jesus het aan sy dissipels gesê: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies” (Matt. 28:19). In die oorspronklike Grieks van die NT word die begrip “etniese groepe” (Grieks ethne/ ekv. ethnos) hier vir nasies gebruik. Dit word in Engels as “Gentiles” of “nations” vertaal en in Afrikaans as “heidene” of “nasies,” bedoelende die nie-Joodse volke van die wêreld. Strong’s vertaal die begrip ethnos só: “Gentile, heathen, nation, people; a race (as of the same habit) i.e. a tribe, specifically a foreign, non-Jewish one.” In Bybelse tye het die nie-Joodse etniese groepe (bv, die Grieke, Romeine, ens.) in hulle eie lande gebly, hulle eie tale gepraat en hulle eie kulture beoefen.

Paulus het die etniese verskille tussen volke terdeë in ag geneem. Hy het nie net vir die Hebreërs in Hebreeus gepreek en vir die Griekssprekendes in Grieks nie, maar ook die geskiedenis en kulturele tradisies van die verskillende volke in ag geneem. Hy het intiem met die Jode geïdentifiseer, hulle as sy “broers” aangespreek en na die stamvaders van Israel as “ons vaders” verwys (Hand. 13:13-46). Onder die heidense Grieke was sy benadering anders. Hy het opstandig oor hulle afgodediens geraak, na hierdie gebruik verwys en toe die geleentheid gebruik om die onbekende God aan hulle te verkondig (Hand. 17:23). In dieselfde preek het hy na die feit verwys dat die Here grense tussen die nasies (etniese groepe) gestel het (Hand. 17:26). Dit is duidelik nie net geografiese grense nie, maar ook staatkundige en kulturele grense.

Hierdie diversiteit moet duidelik in evangelisasiewerk en gemeentestigting in ag geneem word, daarom is dit in ooreenstemming met die bedoeling van die Bybel as daar aparte gemeentes en kerke vir Grieke, Jode, Duitsers, Franse, ens., gestig word. Sodoende kry elke etniese groep die geleentheid om die evangelie in sy eie taal te hoor, en word die groep ook voor die uitdaging gestel om binne volksverband Christelike hervormings in die samelewing (veral ook op onderwysgebied) in te stel.

Wanneer Paulus in Galásiers 3:28 en Kolossense 3:11 sê dat daar nie Jood of Griek, man of vrou is nie, maar ons is almal een in Christus, verwys hy slegs na ons geestelike gelykwaardigheid voor die Here. Die bedoeling is glad nie om etniese grense tussen volke of geslagsgrense tussen mans en vrouens te ontken en af te skaf nie. Paulus het nooit sy volksidentiteit afgelê en ‘n “volklose Christen” of ‘n wêreldburger geword nie. Hy sê vir Romeine: “Ek is ‘n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin” (Rom. 11:1).

Christene hoef dus nooit hulle volksbewussyn te verloor of af te lê nie, ook nie in die vorming van gemeentes nie. Die verheerlikte kerk in die hemel sal steeds na hierdie realiteite van hulle aardse bestaan terugverwys as hulle die Lam toesing: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Op. 5:9). Selfs die martelare van die groot verdrukking sal verteenwoordigend van die wêreld se volkereverskeidenheid wees. Johannes sê: “Daar was ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies, stamme en volke en tale” (Op. 7:9).

Ons is dus nie geroepe om volksgrense af te breek, ons eie taal en identiteit te verloën, na ‘n wêreldtaal of ander dominante taal oor te skakel en verskillende etniese groepe saam te gooi om ons eenheid in Christus te demonstreer nie. Ons geestelike band in Christus vereis nie strukturele hervormings met die oog op die ontkenning van ons diversiteit nie. Ons skuld wel die evangelie aan alle volke, daarom het Paulus gesê: “Teenoor Grieke sowel as nie-Grieke... is ek ‘n skuldenaar” (Rom. 1:14). Dit het egter nooit daartoe gelei dat hy almal onder een dak as lede van dieselfde gemeente probeer saam kry het om ‘n nuwe eenheid te skep nie. Dit was nooit die bedoeling met die sendingopdrag nie.

Die grondwetlike posisie in SA

Die grondwet van Suid-Afrika (Wet 108 van 1996) bepaal dat alle kulture, taalgroepe, geslagte, politieke partye en godsdienste gelyk voor die wet is. Dit is dus nie ‘n Christelike grondwet waarin Christelike waardes amptelike erkenning ten koste van ander gelowe kry nie. In terme van die grondwet mag daar in die aanbieding van openbare dienste teen geen individu of groep in die samelewing gediskrimineer word nie – almal moet gelyke behandeling ontvang.

Hierdie breë benadering geld egter nie vir elke individu of groep nie, want elkeen van hulle het die vryheid van assosiasie, geloof, gewete, politieke oortuiging, taalverband, ens. Die individu hoef dus nie multigodsdienstig, veeltalig en multikultureel te wees nie – hy moet net sy eie regte op só ‘n manier beoefen dat dit nie die regte van ander groepe benadeel nie. Hierdie regte word só in die Handves vir Menseregte omskryf, wat in Hoofstuk 2 van die grondwet vervat is:

¨    Everyone is equal before the law and has the right to equal protection and benefit of the law. (Section 9.1)

¨    The state may not unfairly discriminate directly of indirectly against anyone on one or more grounds, including race, gender, sex, pregnancy, marital status, ethnic or social origin, colour, sexual orientation, age, disability, religion, conscience, belief, culture, language and birth. (Section 9.3)

¨    Everyone has the right to freedom of conscience, religion, thought, belief and opinion. (Section 15)

¨    Everyone has the right to freedom of association. (Section 18)

¨    Every citizen is free to make political choices… (Section 19)

¨    Everyone has the right to freedom of movement. (Section 21)

¨    Everyone has the right to use the language and to participate in the cultural life of their choice, but no one exercising these rights may do so in a manner inconsistent with any provision of the Bill of Rights. (Section 30)

¨    Persons belonging to a cultural, religious or linguistic community may not be denied the right, with other members of that community, (a) to enjoy their culture, practise their religion and use their language; and (b) to form, join and maintain cultural, religious and linguistic associations and other organs of civil society… (Section 31)

¨    National legislation must be enacted to give effect to these rights, and must promote efficient administration. (Section 33)

In terme van hierdie bepalings kan enige groep mense hulle eie kultuur en godsdiens op hulle eie manier en in hulle eie taal beoefen – die keuse is hulle s’n. Dit is dus glad nie ongrondwetlik om bv. ‘n gemeente te hê waarvan die lidmaatskap tot Afrikaanssprekende, blanke Afrikaners beperk is nie. As Christene én ook as Suid-Afrikaners is hulle daartoe verbind om dieselfde regte ook aan alle ander groepe te gun. As Christene is hulle in elk geval sterk daartoe verbind om die verkondiging van die evangelie aan ander etniese groepe te ondersteun.

Dieselfde beginsel geld ook vir die onderwys. Enkelgeloofsonderwys (bv. Christenskole of Moslemskole) is nie ongrondwetlik nie. ‘n Voormalige minister van Onderwys het verkeerdelik daarop aangedring dat staatskole multigodsdienstig moet wees omdat die grondwet alle gelowe gelykmatig erken. Indien ‘n intergeloofsoriëntasie op alle Suid-Afrikaners afgedwing sou word, dan tas dit hulle grondwetlike regte m.b.t. hulle vryheid van geloof aan.

Kerke en gemeentes moet daarteen waak om hulle godsdienstige, kulturele en taalkundige identiteit in te boet omdat dit na bewering in stryd met die grondwet is. Dit is nie! Elke groep, hetsy dit uit Blanke Afrikaners, Kleurlinge, Xhosas of Tswanas bestaan, moet op die beste moontlike manier na die behoeftes van hulle eie groepe omsien. Hulle moet ook ‘n helpende hand na ander reik sonder om hulle eie identiteit deur vermenging prys te gee. Dit is te betwyfel of slegte Afrikaners, slegte Engelse, slegte Xhosas of slegte Vendas (diegene sonder volkstrots) goeie Suid-Afrikaners kan wees. Die onderliggende beginsel van ons grondwet is “eenheid in verskeidenheid.” Ons kan nie die eenheidsbeginsel versterk deur die verskeidenheidsbeginsel te verswak nie. Die boustene van die samelewing moet sterk wees en mekaar komplementeer.

Die gevaar van konformisme

Die kerk van Christus moet daarteen waak om op ‘n pragmatiese wyse met die politieke standpunte van burgerlike owerhede te konformeer ten einde “polities korrek” en sosiaal meer aanvaarbaar in die samelewing te wees. Die kerk is aan die tydlose beginsels van die Bybel gebonde, ongeag of dit in ooreenstemming met ‘n land se grondwet is of nie.

Daar was ‘n tyd in Suid-Afrika toe die kulturele diversiteit in die land die grondslag vir gemeenskaps- en staatkundige ontwikkeling was. Die meeste kerke het toe vry gevoel om aan te toon dat die Bybel volksuiwerheid en volksgeoriënteerde gemeentestigting voorstaan. Die grootste Afrikaanse kerk het in ‘n publikasie, Ras, Volk en Nasie en Volkereverhoudinge in die Lig van die Skrif (NG Kerk Uitgewers, 1974) onder meer gesê: “...die etniese verskeidenheid [is] in ooreenstemming met die wil van God vir hierdie bedeling” (bl. 12). “Die Nuwe Testament aanvaar en handhaaf die feit van die verskeidenheid van volkere” (bl. 30). “Dit is die roeping van die kerk om aan sy lidmate, aan owerheid en onderdaan die etniese beginsels wat by die reëling van volkereverhoudinge moet geld, voor te hou” (bl. 35). “Die natuurlike verskeidenheid van mense en volkere bly in die kerk van Christus voortbestaan” (bl. 37). “Die kerk mag nie afsydig teenoor die volk staan nie, want midde in die volk vind die kerk sy bestaansruimte” (bl. 44). “Die staatkundige stelsel wat gebou is op eiesoortige ontwikkeling by verskillende bevolkingsgroepe kan in die lig van die Skrif prinsipieel verantwoord word” (bl. 72).

Toe die politieke beleid en grondwet van Suid-Afrika egter in die negentigerjare onder ‘n nuwe meerderheidsregering verander het en die beginsel van afsonderlike ontwikkeling verwerp is, het baie kerke op ‘n pragmatiese wyse saam met die regering verander. Wat hulle vroeër as eg Bybels bely het, naamlik afsonderlike kerke vir die verskillende kultuurgroepe, is toe in die openbaar as ‘n sonde bely. Die nuwe neiging was sedertdien die skepping van kultuurgemengde en rasgemengde gemeentes, asook die aanvaarding en bevestiging van gemengde huwelike.

Die rasionaal vir die nuwe benadering is die gelykwaardigheid van alle mense voor God, asook die eenheid van die liggaam van Christus (Gal. 3:28; Kol. 3:11). Die groot fout wat begaan is, was om geestelike gelykwaardigheid struktureel te demonstreer op só ‘n wyse dat die godgegewe etniese en taalkundige onderskeid tussen volke heeltemal misken en ondermyn word. In hierdie lig beskou, is die nuwe benadering tot “oop” gemeentes nie in ooreenstemming met Bybelse riglyne nie. Dit is eerder ‘n deursigtige poging om polities korrek in ‘n veranderende wêreld op te tree, m.a.w. in ooreenstemming met die beginsels van die nuwe wêreldorde.

Praktiese implikasies van volksgerigte gemeentestigting

Daar is verskeie praktiese implikasies van volksgeoriënteerde evangelisasie, gemeentestigting en pastorale sorg:

Evangelisasie is op kultuurgroepe (etniese groepe) toegespits. Omdat Christus sy dissipels na al die etniese groepe gestuur het om die evangelie aan hulle te verkondig, het die gelowiges in daardie groepe spontaan gemeentes met ‘n volkskarakter gestig. Die implikasies vir ‘n etnies heterogene land soos Suid-Afrika is dat daar gemeentes (of denominasies) vir al die etniese groepe moet wees, bv. vir die Engelse, die Boere-Afrikaners, die Kleurlinge, die Xhosas, die Zoeloes, ens.

Die bevordering van ‘n Christelike kultuur. Gemeentes moet ‘n konstruktiewe rol vervul om Christelike volkstrots (‘n Christelik-nasionale lewens- en wêreldbeskouing) onder lidmate op te bou deur die eerbiediging van Christelike norme in die samelewing te bevorder. ‘n Deel van ‘n Christelike volksoriëntasie is die skepping van strukture vir Christelike volksonderwys indien die regering sou nalaat om dit te doen.

Die handhawing van biologiese en kulturele identiteit. Die biologiese en kulturele identiteit van die samelewing én die gemeente moet suiwer gehou word omdat die Here grense tussen die volke gestel het (Hand. 17:26). Hierdie identiteit sal skade aangedoen word indien daar bv. Kleurling lidmate in ‘n blanke gemeente opgeneem word. Dit sal onmiddellik spanning skep, soos ook tussen blanke en Kleurling familielede in die geval van gemengde huwelike. Spanning van hierdie aard bring verdeeldheid mee en ondermyn die solidariteit en sosiale kohesie van die samelewing, die kultuurgroep én die gemeente.

Die erkenning van die taalverskeidenheid. Omdat die meeste etniese groepe hulle eie taal praat, moet doelgerigte pogings aangewend word om die Bybel in alle tale te vertaal sodat elke etniese groep die evangelie in sy eie taal kan hoor. Vir dit om te kan gebeur, moet daar volksgerigte kweekskole wees waar lede van die betrokke gemeenskap as predikers opgelei word. Selfs al is die opleiding in ‘n ander taal (bv. Engels) moet die studente nogtans van die groep afkomstig wees onder wie hulle wil werk, en dus ook in daardie taal die Woord kan verkondig.

Volksgerigte pastorale sorg. Vir hierdie beginsel om tot sy reg te kom, moet die prediker sy groep se kultuur goed ken, met al sy tipiese sterk- en swakpunte, sodat sinvolle leiding uit die Bybel aan elke persoon en vir elke probleem gegee kan word. Bybelse beginsels moet op die probleme van die kultuurgroep toegepas word, sodat die Bybel altyd die hoogste gesag bly. Buitestaanders (volksvreemde predikers)word nie maklik deur lede van ‘n groep aanvaar nie, veral as hulle pastorale advies nie baie populêr is nie.

Buitengewone omstandighede

‘n Volksgeoriënteerde gemeente moet nie sy deure vir besoeke deur lede van ander kultuurgroepe sluit nie. Daar is dikwels buitengewone omstandighede, soos bv. wanneer lede van ander groepe na die plaaslike óf ‘n besoekende prediker wil kom luister, wanneer lede van ander groepe ‘n begrafnis of troue wil bywoon, ens. Sulke ad hoc-besoeke moet egter nie na die permanente vermenging van die gemeente lei nie, dus kan sulke besoekers nie as lidmate aanvaar word nie. Besoekers van ander groepe behoort in elk geval gou agter te kom wat die volkskarakter van die gemeente is, en sal besef dat hulle nie permanent daar kan inskakel nie. Geen uitsondering kan op hierdie reël gemaak word nie, anders kan een groep ‘n ander groep mettertyd heeltemal verdring en uiteindelik die volkskarakter en taalbeleid van die gemeente verander.

Sending- en evangelisasiewerk

Volksgeoriënteerde gemeentes moet nooit hulle visie en roeping verloor om die verkondiging van die evangelie ook aan ander etniese groepe te bevorder nie. Hulle het nie die opdrag om die ander groep se taal- en kultuurverband te verander nie, maar om van hulle Christene te maak. ‘n Jood moet ‘n geredde Jood word, ‘n Xhosa ‘n geredde Xhosa, ens. Hulle moet dan aan hulle eie mense gaan vertel van die groot dinge wat die Here vir hulle gedoen het, en dat Hy hulle genadig was.