Prof. J.S. Malan
Opsomming: Kersfeesvieringe neem hoofsaaklik die vorm van sekulêre feeste aan omdat dit met heidense vieringe ter ere van die songod vermeng geraak het.
Daar is steeds groot meningsverskille oor die tyd én die wyse waarop Kersfees gevier moet word. Die feit is dat die jaarlikse Kersfeesvieringe op 25 Desember verkeerd geskeduleer is en op 'n hoogs gekommersialiseerde wyse deur Christene én nie-Christene gevier word. Die wêreld lê in 'n toenemende mate beslag op hierdie fees en verdraai die ware betekenis daarvan meer en meer deur dit met heidense gebruike te vermeng. In sommige gevalle word Christus heeltemal uit die fees weggelaat deur sy Naam met 'n X uit te krap en die fees Xmas te noem.
Die besluit om die viering van Jesus se geboortedag van 'n vorige datum in April na die huidige 25 Desember te verskuif, is in die vierde eeu tydens die bewind van keiser Konstantyn geneem. Amptelike erkenning is toe aan die Christendom gegee, en ten einde dit vir die heidense gelowe meer aanvaarbaar te maak, is 'n vermenging van die twee tradisies doelbewustelik toegelaat.
In die voor-Christelike heidenwêreld was 25 Desember die dag waarop Die Fees van die Onoorwinlike Son (Invicti Solis) gevier is. In die Noordelike Halfrond vind die sonstilstand in die middel van die winter op 22 Desember plaas. Sonaanbidders het dan verskeie rituele uitgevoer om die songod te oorreed om terug te draai. Mense het geglo dat as die son op sy suidelike tog sou voortgaan, die mensdom deur duisternis, koue en dood oorval sou word. Op 25 Desember, wanneer die son begin terugdraai, het dit tot groot blydskap en vreugde aanleiding gegee. Mense het rondom groen bome gedans, aan mekaar geskenke gegee, en jolyt en dronkenskap het dikwels hierdie feestelikhede gekenmerk.
Kersfees is na 25 Desember verskuif op grond van die argument dat Jesus die Son van Geregtigheid is. Die onafwendbare gevolg was egter dat die Christelike Kersfees en die Babiloniese Fees vir die Onoorwinlike Son vermeng geraak het. Selfs al word die songod as sodanig nie meer direk vereer nie, word Christus nou saam met twee afgode, nl. Bacchus (die drankgod) en Mammon (die geldgod) vereer.
Kyk maar hoe hoog die drankverkope oor Kersfees is, en hoeveel geld aan geskenke vir mekaar (nie vir Christus nie!) uitgegee word. Kyk ook na al die ligsinnige jolyt, en besluit dan vir uself tot eer van wie hierdie fees gevier word. Vra vir uself af wie Sinterklaas met sy rooi gewaad is, wat vryelik op Moslems se winkelvensters pryk en ook die winskopies op drankwinkels se vensters aankondig. Staan dit in die teken van die Here Jesus se koms na hierdie wêreld? Beslis nie!
Bybelse getuienis dui daarop dat Jesus tydens die loofhuttefees gebore is. Dit is in die tweede helfte van Tisri, wat die sewende maand in Israel se godsdienstige kalender en die eerste maand in hulle siviele kalender is, m.a.w. die maand waarin die Rosh Hashanah gevier word. Op die Gregoriaanse kalender is dit gewoonlik in September. Die Bybelse feite oor Jesus se geboortedag is die volgende:
'n Belangrike aanduiding is die tyd wanneer Sagaria, 'n lid van die priesterlike familie van Abía, sy tempeldiens verrig het. In 1 Kronieke 24 is daar 'n beskrywing van die twee weke tempeldiens wat deur 24 priesterlike families verrig moes word: "Dit was hulle ampsorde vir hul diens, om in die huis van die Here te gaan" (v. 19). Die agtste familie in die groep van 24 was dié van Abíja (1 Kron. 24:10).
Die eerste maand in hierdie siklus is Nisan, wat die eerste maand in die godsdienstige kalender van Israel is (Ex. 12:2; Lev. 23:5). Volgens die skedule in 1 Kronieke 24 was die familie van Abíja die agtste groep, en was dus die tweede helfte van die vierde maand dienspligtig. Dit was aan hierdie familie dat die priester Sagaria, die vader van Johannes die Doper, behoort het:
Terwyl hy hiermee besig was, het 'n engel aan hom verskyn en gesê:
Die res van die gebeure staan in 'n noue verband met hierdie aankondiging:
Sagaria se ontmoeting met die engel, en die begin van sy vrou se swangerskap, het in die tweede helfte van die vierde maand in die godsdienstige kalender plaasgevind (Junie op ons kalender). Ses maande later, in die tweede helfte van die tiende maand (omtrent die tyd wanneer Kersfees nou gevier word), het Maria se swangerskap begin. Nege maande later, in die tweede helfte van September, is Jesus gebore.
Sedert Sagaria se beurt van tempeldiens het dus 15 maande (6+9) tot by die geboorte van Jesus verloop – dit is een jaar en drie maande. Binne die raamwerk van die Joodse godsdienstige kalender was dit die tydperk tussen die tweede helfte van die vierde maand en die tweede helfte van die sewende maand in die daaropvolgende jaar. Dit het dus met die loofhuttefees (September op ons kalender) saamgeval: "Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit sewe dae lank die huttefees vir die Here" (Lev. 23:34).
Daar is ook in die Bybel omstandigheidsgetuienis wat hierdie inligting oor die tyd van Jesus se geboorte bevestig. Die wagters het buite in die veld oornag – iets wat hulle weens die koue nie in die middel van die winter gedoen het nie:
Onder die godsdienstige Jode in Israel was, en is dit nog steeds, gebruiklik om tydens die loofhuttefees in die besonder vir die koms van die Messias uit te kyk. Dit is waarom Jesus se broers by Hom aangedring het om nie in Galiléa te bly nie, maar om die huttefees in Jerusalem by te woon en Homself daar te openbaar indien Hy inderdaad die Messias is:
Die fees het reeds begin, en die Jode was op die uitkyk vir Jesus. Hulle was in hewige argumente betrokke of Hy die beloofde Messias was of nie. Ná 'n paar dae het Jesus in hulle midde verskyn: "En toe dit al in die middel van die fees was, het Jesus opgegaan na die tempel en geleer" (Joh. 7:14).
Sy kritici het sy lering verwerp, asook die aansprake oor Hom, maar sommige mense was sterk daarvan oortuig dat Hy die Messias is. Hulle het volgehou dat Hy die krag van God openbaar het en al die profesieë in verband met die Messias vervul het:
Op die laaste dag van die fees het Jesus die mense uitgenooi om met hulle geestelike behoeftes na Hom toe te kom:
Die loofhuttefees het 'n sterk toekomsperspektief op die koms van die Messias as koning, wanneer die oes van geredde mense in die hemelse skure byeengebring sal word. Die fees het egter ook 'n sterk terugverwysing na die eerste koms van die Messias, toe Hy die deur na die koninkryk van die hemel geopen en arbeiders in die oeslande gestuur het om onder elke volk en stam en nasie 'n oes vir Hom in te samel.
Wat is jou verhouding met hierdie Jesus wat byna 2000 jaar gelede na die aarde gekom het, en binnekort weer sal kom om sy bruidsgemeente te kom haal? Hy het baie populêre volgelinge gehad wat Hom ter wille van genesings en ander wonderwerke gevolg het. Toe Hy egter oor die essensie van sy koms na hierdie aarde gepraat het, het die meeste mense aanstoot geneem en Hom verlaat:
Jy moet die Here Jesus as die gekruisigde ken: "Hom het God voorgestel in sy bloed as 'n versoening deur die geloof" (Rom. 3:25).
Daar is té veel teologiese rigtings waarin die byvoordele van die Christendom buite-om die kruis aan mense gebied word. Voorbeelde hiervan is die Koninkryk-nou en die Voorspoedsevangelies. Ook is daar 'n hele aantal weergawes van vormgodsdiens waarin die klem op uitverkiesing, doop, aanneming en 'n goeie lewe val, en nie op die kruisboodskap nie. Dit is vir al hierdie mense dat die Here Jesus sê: "As julle nie deel aan my gebroke liggaam en gestorte bloed het nie, behoort julle nie aan My nie."
Is dit 'n harde woord? In 'n sekere sin is dit, want dit verg 'n kosteberekening. Jy moet jou sondes bely sodat jy gereinig kan word deur die bloed van die Lam. Jy moet ook bereid wees om eind-uit die pad met Hom te bewandel, al beteken dit ook verwerping deur die wêreld. As jy bereid is om op die kruisweg saam met Hom te ly, sal jy ook verhoog word om saam met Hom te regeer (Rom. 8:17, 2 Thess. 1:4-5, 2 Tim. 2:12, 1 Pet. 5:10).
Jesus het na hierdie aarde gekom sodat ons lewe en oorvloed kan hê. Kom ons leef tot sy eer en neem nie aan wêreldse vermaak deel wat tot oneer van sy Naam is nie. Dink daaraan dat Hy sy lewe vir jou afgelê het.