Moenie net jou Lot Aanvaar nie – Doen Iets Daaromtrent

Soms is daar situasies in die lewe wat ‘n mens nie kan hanteer nie. Dit is moontlik, maar jy wil jouself nie daarvoor opoffer nie, jy wil net aanvaar dat daar ‘n doel is waarom dit met jou gebeur, en dat die Here jou op sy eie tyd daarvan sal verlos. Wel, dit is die groot fout wat die meeste Christene maak, want hulle sê: “Ek verwag alles van die Here af”. Moet my nie verkeerd verstaan nie – die Here help ons met ons probleme, maar soms wil Hy hê jy moet self daardeur probeer kom. Hy sal jou krag en leiding gee, maar Hy wil hê jy moet self die probleem aanpak en oplos.

Van die eerste verhaal in Génesis leer ons daarvan. God het vir Adam en Eva alles gegee wat hulle harte begeer het, letterlik alles, maar hulle was hoogmoedig en het meer gesoek. As gevolg daarvan het hulle van die verbode vrugte geëet. God het toe besluit dat die mens vir sy kos en besittings moes werk. As deel van hulle straf is hulle uit die tuin verdryf, maar God het besluit die mens moes vir homself werk om te kon oorleef. In hierdie nuwe situasie het Hy die mens gewys hoe om te leef.

Sou die Christendom vandag nog bestaan het indien elke Christen besluit het hy gaan nie verder aansukkel nie, hy gaan net wag totdat die Here besluit om hom te help? Het God die ark gebou, of het Noag deur God se leiding die ark gebou? Het God letterlik die Israeliete uit die woestyn uit gelei, of het Moses met God se hulp en leiding hulle daardeur gelei?

Die Here gee vandag nog steeds vir ons geestelike krag en leiding om deur die lewe te kom, maar Hy wil hê ons moet ook onsself bewys deur hardwerkend te wees en nie so maklik moed op te gee nie. Die wêreld is boos en donker, maar die Here wil nie hê ons moet op ‘n klip gaan sit en wens die wegraping vind spoedig plaas om ons swaarkry te beëindig nie. Die wegraping sal plaasvind wanneer God se werk op aarde voltooi is, wanneer evangelisasie gedoen is en daar regtig aan alle volke verduidelik is wat redding is. God doen nie die werk nie, ons doen dit, maar met God se leiding. Sonder sy leiding sal die Heilige Gees nie in mense se harte werk om hulle te oortuig, te red en te lei nie.

Aanvaar die lewe as ‘n uitdaging en onthou net, God het mag om enigiets te doen, maar Hy wil hê ons moet na sy beeld streef en alles probeer doen wat nodig is. Hy wil hê die Christendom moet die versoekings wat Satan stel, oorwin!

Ek het besluit ek wil die Here volg – nie omdat ek in die wolke wil gaan rondsweef nie, nie omdat ek oor mense wil heers nie, maar omdat ek God se opdragte op aarde wil uitvoer en ‘n pligsgetroue werker vir Hom kan wees om sy wil te doen en aan ander bekend te maak.

Elke dag gebeur daar dinge wat my van my geestelike lewe af wegtrek, maar later besef mens jy was verkeerd en bid om vergifnis. Wanneer jy dít doen, is die kanse baie minder dat jy weer daardie sonde sal pleeg.

Mag die Here Jesus deur sy Gees met julle almal van julle wees totdat ons sy werk op aarde volbring het.

Kevin Malan, 19 (kleinseun van Johan Malan).