Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Julie 2010)
Ons leef in ‘n tyd van ongekende tegnologiese prestasies, waarin handige hulpmiddels en kitsoplossings vir omtrent alle probleme aangebied word. Daar hoef nie meer moeilike pogings aangewend te word om iets gedoen te kry nie. Op die terrein van kommunikasie is alle inligting letterlik met die druk van ‘n knoppie onmiddellik tot ons beskikking. Dit is nie nodig om ure lank te soek nie, want die internet ontsluit vir ons die hele wêreld. Dit het ‘n leefwyse geword om minder moeite te doen en kitsoplossings vir alles te vind – ongelukkig ook vir geestelike probleme.
Die prestasies van die moderne mens het hom nie net meer selfversorgend gemaak nie, maar ook baie hoogmoedig. Hy is trots op alles wat hy deur sy kennis en tegnologie vermag het, en gee aan homself alle krediet vir dit wat bereik is. Menseverering is aan die orde van die dag en leiers, of helde, word op elke lewensterrein geïdentifiseer en nagevolg.
Ten spyte van die verbysterende vooruitgang op tegnologiese en wetenskaplike gebied, is die mens steeds nie in staat om die geweldige morele verval te stuit wat oral in die wêreld voorkom nie. Moderne predikers wat die tegnologie baie behendig gebruik om miljoene mense te bereik, bied ongelukkig ook kitsoplossings vir hierdie probleme aan. Die evangelie word heeltemal afgewater, met sielkundige selfbeeldprogramme en positiewe denke vermeng, en sonde word selde of ooit genoem.
Tydens kort massabyeenkomste, en ook oor die televisie, word aan die suksesvolle, moderne mens oplossings vir sy morele en geestelike probleme aangebied. ‘n Goeie lewe op aarde, asook die ewige lewe in die hemel, word as ‘n bonus aan die “goeie mense” van moderne tye voorgehou. Dié seëninge is ook maklik bekombaar deur net hulle hande op te steek en ‘n kort gebed agter ‘n prediker aan te bid. Daarna word hulle vir tyd en ewigheid salig verklaar.
Soms gaan kitsbekerings van hierdie aard met sondebelydenis gepaard, maar daar word al hoe minder hierop aangedring. In Rick Warren se nie-veroordelende evangelie, byvoorbeeld, word mense nie as sondaars bestempel nie, en die klem word slegs op die groot voordele van Christenskap gelê. Dit word met blydskap deur die menigtes aanvaar, sonder dat hulle hoegenaamd ‘n kosteberekening van die vereistes vir bekering doen. Die klem val nie op dit wat hulle moet prysgee nie, maar op dit wat hulle in terme van ‘n gelukkiger en voorspoediger lewe, asook ‘n beter selfbeeld, gaan bykry.
Die Here Jesus het valse bekerings van hierdie aard beskryf toe Hy gesê het: “‘n Saaier het uitgegaan om te saai; en terwyl hy saai, val ‘n deel langs die pad, en die voëls het gekom en dit opgeëet. En ‘n ander deel het op rotsagtige plekke geval waar daar nie baie grond was nie; en dadelik het dit opgekom, omdat daar geen diepte van grond was nie; maar toe die son opgaan, is dit verskroei, en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog... By wie op rotsagtige plekke gesaai is – dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem; maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ‘n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik” (Matt. 13:3-6, 20-21).
Hierdie kitsbekeerlinge het die woord “met blydskap aangeneem” en beskou hulleself as Christene. Blydskap is egter ‘n positiewe emosie wat nie in die Bybel as eerste reaksie tydens ‘n bekering voorgehou word nie. ‘n Persoon wat tot bekering kom, is onder ‘n diepe sonde-oortuiging en het berou oor sy sonde (1 Joh. 1:9). “Die Here is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees” (Ps. 34:19). Eers nadat die sondes wat besig was om ‘n persoon na die verderf toe te sleep, bely en vergifnis daarvoor verkry is, sal ‘n gevoel van verligting en blydskap deur die geredde persoon ervaar word.
Indien die kwessie van sonde, asook die belydenis en reiniging daarvan, omseil word deur net die voordele van Christenskap te beklemtoon, word die deur wyd oopgemaak vir valse bekerings. Baie mense wil graag hoor dat hulle hemel toe sal gaan en eendag saam met Christus sal regeer as hulle net hulle hand opsteek, by ‘n kerk aansluit en gereeld bydraes vir een of ander prediker gee. Die probleem is net dat sulke “bekeerlinge” se lewe nie wesenlik en blywend verander nie. Agterna swig hulle maar weer voor versoekings om te sondig en gaan met hulle ou lewe voort. Hulle maak geen geestelike impak op die samelewing of op hulle kerke nie, en alles gaan maar voort soos altyd. Dit is hoogs misleidend om situasies waar honderde of selfs duisende sulke kitsbekerings plaasvind, ‘n herlewing te noem. Die Bybel doen dit nie.
Selfs wanneer mense waarlik met berou tot bekering kom, moet hierdie stap met ‘n oorgawe tot heiligmaking opgevolg word voordat hulle standvastige en vrugbare geestelike lewens sal lei. Indien dit nagelaat word, plaas die pasbekeerdes hulleself in ‘n verlengde kleuterskool vir vleeslike Christene waarin hulle niks vir die saak van die Here sal beteken nie (1 Kor. 3:1-3; Heb. 5:12-13). Hulle dra nie vrug wat by die bekering pas nie, is nie in daardie toestand ‘n bate vir die Christelike kerk nie en skep meer probleme as wat hulle goed doen. Sulke mense se wisselvallige lewe van val-en-opstaan is tot oneer van die Here Jesus en daarom ook nie vervullend vir hulleself nie. Frustrasie en bitterheid blyk dikwels uit hulle houding en hulle is krities en selfs totaal veroordelend teenoor mede-Christene wat van hulle verskil en hulle probeer reghelp.
As gevolg van hierdie geestelike sukkelbestaan gee baie van hulle in een of ander stadium die stryd gewonne en keer na hulle ou lewe terug. Ander sit hulle gedaante van godsaligheid voort en bied gereeld verskonings aan waarom hulle nie aktief by die dinge van die Here betrokke is nie. Baie min van hulle erken die feit dat hulle onvermoë om die Here suksesvol te kan dien, met hulle gebrek aan heiligmaking in verband staan – daarom doen hulle nie iets daadwerklik om die probleem op te los nie. Solank die ongekruisigde vlees (eie-ek) toegelaat word om voort te bestaan, sal dit enige vorm van geestelike groei blokkeer. Voor die Heilige Gees nie volle beheer oor ons lewe het nie, kan ons nie deur die Gees wandel en die Here in die krag van sy Gees dien nie (Gal. 5:16-17).
In die herlewingstyd van die 18de en 19de eeue was dit algemene gebruik om die leer van heiligmaking aan jong bekeerlinge te verkondig. Dit het daartoe gelei dat Christene hulleself ondersoek het, onbelyde sondes bely en daarmee gebreek het, en ook die sondige vlees volkome oorgelewer het om gekruisig te word. Hierop het die Here hulle met sy Heilige Gees vervul sodat hulle ‘n godvrugtige lewe kon lei. Die voorbereidende fase van selfondersoek, belydenis en aflegging van die vlees, is onontbeerlik vir vervulling met die Heilige Gees – vir die eerste keer of by hernuwing. In hierdie opsig faal baie gelowiges in hulle pogings.
Heiligmaking moet baie duidelik van regverdigmaking onderskei word. Regverdigmaking is “toegerekende geregtigheid”. Die Here Jesus het die volle prys vir die redding van sondaars aan die kruis betaal, en hierdie versoening word aan hulle toegereken wanneer hulle dit in die geloof en met die belydenis van hulle sondes aanneem. Ons werk nie hiervoor nie, daarom word redding deur die geloof, sonder werke, aan ons geskenk (Ef. 2:8-9). Ons besoedelde kleed van sonde word weggeneem sodat ons met Christus se kleed van geregtigheid beklee kan word. Dit maak van ons nuwe mense en vereis van ons om onsself vir die ou lewe van sonde “dood te reken” (Rom. 6:11). Dit beteken dat ons die ou lewe moet oorlewer om gekruisig te word, anders kan ons dit nie as dood beskou nie (Gal. 6:14). Dit moet ‘n daaglikse leefwyse word (Luk. 9:23).
Daar word ‘n bepaalde stap van ons verwag om hierdie toestand van hartsreiniging deur die volkome oorwinning oor die vlees (die ou, sondige natuur) deelagtig te kan word. Dit wat die Here van ons verwag in die ervaring van heiligmaking, maak daarvan “meewerkende geregtigheid”. Ons moet medewerkers van God word as ons wil hê dat heiligmaking in ons lewe beslag moet kry (vgl. 1 Kor. 3:9).
Ons medewerking beteken glad nie dat ons die opdrag tot heiligmaking deur eie inspanning kan laat realiseer nie – ons moet slegs saamwerk om dit wat die Here aan ons bied, te laat uitwerk. Net die Here alleen kan ons innerlik heilig maak, maar as ons nie ons volle samewerking gee deur aan die voorwaardes te voldoen nie, sal dit nooit gebeur nie. Ons groei nie sommer vanself in heiligmaking in nie. Die volgende geloofsoortuigings en stappe is in die proses van heiligmaking ter sake, en ons het ‘n plig om nougeset uitvoering daaraan te gee:
‘n Volgende stap: Ons moet eerstens besef dat heiligmaking ‘n verdere genadewerk ná regverdigmaking is. Dit volg ná redding en moet aktief gesoek en nagejaag word. Hy by wie die liefde en godsvrug van ‘n lewe van heiligmaking ontbreek, “is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet” (2 Pet. 1:3-9). Ons moet besef dat daar ná die eerste reiniging van sondes ‘n dieper werk van hartsreiniging is wat die Here vir ons wil doen. Dit staan as “volkome heiligmaking” bekend (1 Thess. 5:23) en moet jou hele lewe – gees, siel én liggaam – aan die beeld van Christus gelykvormig maak. Moet dus nie by die toetreepunt van die Here se heilswerk in jou lewe bly nie, maar gaan voort totdat jy die belofte van heiligmaking voluit in jou lewe ervaar. Jy kan begin deur die werke van die vlees in jou lewe te identifiseer en dit dan saam met jou toestand van vleeslikheid af te lê, sodat die Heilige Gees jou lewe kan vervul en beheer: “Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul” (Ef. 5:18). Die opdrag om met die Gees vervul te word, is in die onvoltooide teenwoordige tyd en dui op ‘n voortgaande proses in ons lewe. Paulus sê in Filippense 2:12-13: “... werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.”
Posisionele (innerlike) heiligheid: Ons moet begryp dat ons eers posisioneel heilig is wanneer ons harte ten volle van die heerskappy deur die vlees bevry en gereinig is. Slegs dan kan die nuwe natuur van Christus wat ons reeds sedert wedergeboorte het, onbelemmerd gevestig en uitgeleef word. Voordat dit gebeur, is ons nie geestelik nie maar vleeslik (1 Kor. 3:1-3). Om met Christus se nuwe natuur beklee te word en daardeur te lewe, vereis grondige selfondersoek en oorgawe van ons kant af waarin ons die ou natuur oorlewer om gekruisig te word. Paulus sê aan die Christene in Éfese: “... dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:22-24). Hierdie opdrag word aan mense gegee wat reeds Christene is, en beklemtoon die noodsaaklikheid van ‘n volle oorgawe. Hoewel Paulus na hulle “vorige lewenswandel” verwys wat op hulle lewe voor bekering dui, het dit nog steeds ‘n invloed op hulle gehad en moes hulle daarvan ontslae raak. Uit hierdie gedeelte blyk die gelowige se verantwoordelikheid van die volledige aflê van die ou natuur duidelik. Dit behels selfondersoek en die belydenis en versaking van alle sondes en vleeslikheid, asook die geloofsaanvaarding van die Here se beloftes oor heiligmaking deur die Gees.
Uiterlike heiligheid: Nadat die struikelblokke uit die weg geruim en ons harte gereinig is, het ons ‘n groot taak om ooreenkomstig die beginsels van ons nuwe natuur te leef. Paulus sê: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1). Ons moet die opdrag tot heiligmaking volbring, m.a.w. ons moet daadwerklik optree om dit in ons lewe te laat uitwerk. Daar is eerstens sonde, vleeslikheid en wêreldgesindheid wat vermy moet word, en aan die ander kant die voorskrifte van die Here tot diensbaarheid wat doelgerig en gedissiplineerd uitgevoer moet word. Paulus het homself op ‘n daaglikse basis hiertoe verbind: “Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie” (1 Kor. 9:27). Ons is tot heiligmaking en diensbaarheid geroep, en sal as mislukte dissipels beskou word indien ons nie uitvoering hieraan gee nie.
Die voortgaande lewe van aflê en beklee, word sterk in Kolossense 3 beklemtoon, waar daar aan bekeerdes gesê word: “Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper... Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is” (Kol. 3:8-14). Dit is alles opdragte wat wag om uitgevoer te word, daarom is heiligmaking nie ‘n statiese posisie wat ‘n gelowige posisioneel beklee wanneer hy in Christus is nie.
Uit al die tekste oor heiligmaking is dit duidelik dat daar tussen die krisis en proses van heiligmaking onderskei moet word. Die Here maak ons volkome heilig wanneer ons ‘n vólle oorgawe maak soos wat Hy dit van ons verwag. Dit is die krisisondervinding, en moet herhaal word indien ‘n persoon weer teruggeval het. Die woord “volkome” soos in 1 Thessalonicense 5:23 gebruik, beteken “om geheel en al aan iets oorgegee te wees”. Hierna volg daar ‘n lewenslange proses van heiligmaking waarin ons die volkome heiligmaking wat die Here in ons harte bewerk het, elke dag daadwerklik en doelgerig moet uitleef.
Beide aspekte van heiligmaking word in Lukas 9:23 genoem, naamlik die sterwe aan jouself én die daaglikse wandel met die Here Jesus. Hy sê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.” Eers moet ek myself verloën deur so volkome met die kruis van Christus te identifiseer dat ek saam met Hom sal sterwe vir die ou lewe, die wêreld en die sonde. Paulus sê: “Ek roem in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is, en ek vir die wêreld” (Gal. 6:14). Wanneer ek saam met Christus gesterwe het, sal ek ook saam met Hom lewe (Rom. 6:5-8).
Ná hierdie oorgawe moet ek “elke dag” my kruis opneem en Christus volg en dien. Die vlees moet dus in ‘n gekruisigde posisie bly, anders kan dit herleef en weer beheer oor my lewe oorneem (vgl. Gal. 3:3). Die vlees moenie net onderdruk word nie, dit moet sterf, maar omdat dit weer kan herleef, moet gesorg word dat dit aan die kruis bly. Slegs die Heilige Gees kan aan my die krag en motivering gee om enduit met die lewe van oorwinning en godsvrug te volhard: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16). Volhard jy saam met al die heiliges op hierdie nuwe en lewende weg waarop die Here ons deur die dood en opstanding van sy Seun, asook die uitstorting van die Heilige Gees, geplaas het?
Die sielevyand sal alles in die stryd werp om Christene van ‘n Geesvervulde, heilige lewe te weerhou en hulle sodoende kragteloos in die diens van die Here te maak. Een van sy metodes is om aan mense ekstatiese ondervindings te gee, soos bv. talespreek en val in die gees, wat hulle dan laat dink dat hulle onder die volle beheer van die Heilige Gees is. Dit is ‘n ernstige vergissing, want die Here Jesus het nie ekstatiese ondervindings aan ons beloof nie, maar net die vervulling, krag en leiding van die Heilige Gees (Luk. 24:46-49; Hand. 1:8).
Die ander valse kortpad na heiligmaking is die misleidende bewering dat alle Christene reeds posisioneel heilig in Christus is en dus nie ‘n tweede genadewerk van vervulling met die Heilige Gees nodig het nie. Hierdie bewering word onder andere na aanleiding van 1 Korinthiërs 1:30 gemaak, waar Paulus sê dat Christus ons geregtigheid, heiligmaking en verlossing is. Heiligmaking word dus, soos verlossing, ook volgens die siening van posisionele heiligheid in Christus, by bekering aan ons toegereken; God kyk na ons deur die bloed van Christus en sien ons as volkome heilig aan.
‘n Ander teks wat vir hierdie verkeerde afleiding misbruik word, is Galasiërs 5:24, waar Paulus sê: “...die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig.” Dit is dus nie regtig nodig om ná jou bekering eers die vleeslike natuur finaal af te lê sodat jy met die heilige natuur van Christus beklee kan word nie – jy het dit reeds.
Kom ons kyk na hierdie twee tekste en ondersoek hulle werklike betekenis.
Wat 1 Korinthiërs 1:30 betref, is dit wél so dat die Here Jesus ons verlossing én heiligmaking is. Dit is egter net sy verlossing wat deur die geloof aan ons toegereken word sonder dat ons daaraan hoef te werk. Christus het namens ons gesterf en die volle prys vir ons redding betaal. Sy kleed van geregtigheid word op ons gelê. Wat ons heiligmaking betref, het Hy egter nie namens ons heilig geleef nie – Hy het slegs die heilsmiddele tot ons beskikking gestel sodat ons dit kan gebruik om medewerkers in die proses van heiligmaking te word. Die belangrikste van hierdie heilsmiddele is: sy kruis waarmee ons kan identifiseer om onsself vir sonde en die wêreld dood te reken, die voortgaande reiniging deur sy bloed, die sekerheid van al die beloftes in sy Woord, die krag en leiding van sy Heilige Gees, die vrye toegang na sy genadetroon deur gebed, en al sy opdragte tot diensbaarheid waarby ons die voorreg het om betrokke te wees. Ons gaan eendag voor die regterstoel van Christus rekenskap gee oor hoe ons hierdie heilsmiddele gebruik het, en baie gelowiges gaan bedroë daarvan afkom.
Indien heiligmaking, soos regverdigmaking, aan alle Christene toegereken word, behoort daar glad nie so iets soos vleeslike Christene te wees wat nie met die Heilige Gees vervul is nie, en wat eendag – gered asof deur vuur heen (vgl. 1 Kor. 3:15) – weens hulle gebrek aan diensbaarheid met leë hande voor die Here sal staan. Waarom verwyt Paulus dan die gemeentelede in Korinthe omdat die werke van die vlees nog die botoon in hulle lewe voer? (1 Kor. 3:1-3). Waarom noem hy hulle vleeslike Christene wat soos klein kinders in Christus is, indien hulle posisioneel reeds voor God se aangesig heilig was? Hulle was só vol van hulleself dat hulle nie eers geweet het dat hulle liggame ‘n tempel van die Heilige Gees behoort te wees nie (1 Kor. 3:16). Die Heilige Gees het inderdaad reeds in hulle gewoon, maar weens hulle vleeslikheid en gebrek aan volle oorgawe was Hy glad nie in beheer van hulle lewe nie. Hulle het Hom aanhoudend bedroef.
Wat Galasiërs 5:24 betref, kan Christene net in beginsel sê dat hulle van hulle ou lewe afsien wanneer hulle die Here Jesus as Verlosser aanneem. Dit is wat die Here van ons verwag, en so behoort dit ook in die praktyk te wees. Of dit in gelowiges se lewe regtig so uitwerk, is ‘n heel ander vraag. Hierdie vraag word volledig in Galasiërs 5 beantwoord, daarom het ons geen verskonings om verkeerde sienings hieroor te huldig nie: “Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel. Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie” (Gal. 5:24-26).
In hierdie verse word ‘n duidelike onderskeid getref tussen ‘n situasie waarin ons “deur die Gees lewe” en een waarin ons “deur die Gees wandel”. Die eerste een dui op lewendmaking, of redding, en die tweede op ‘n voortgaande lewe van oorwinning en godsvrug onder die leiding van die Heilige Gees. Die meeste Galasiërs het nie hierdie oorgang gemaak nie, daarom het hulle steeds mekaar uitgetart en beny. Om daagliks in hierdie lewe van heiligheid te kan wandel, moet die vlees gekruisig wees. Indien die ongekruisigde vlees toegelaat word om voort te bestaan en sy dominansie in hulle lewe te behou, sal dit die werk van die Heilige Gees in hulle lewe blokkeer: “Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17). Hoe kan só ‘n persoon beskou word as posisioneel heilig en iemand wat oorwinnend oor sonde leef?
Die Gees kan nie in beheer gestel word voordat die vlees oorgelewer is om gekruisig te word nie. Wanneer ek wél die kruis van selfverloëning opneem en ‘n volle oorgawe maak, sal die Gees my vervul. Vir sulke mense wys Paulus op die voortgaande proses van heiligmaking waartoe ons geroep word: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16).
Sommige mense verwerp steeds die leer van heiligmaking as ‘n tweede genadewerk wanneer 1 Korinthiërs 3:1-3 aangehaal word as ‘n voorbeeld van vleeslike gelowiges wat nog nie ‘n volle oorgawe gemaak het nie. Hulle sê dat dit jong Christene was wat, indien daar genoeg tyd aan hulle gegun was, mettertyd meer heilig sou leef sonder om ‘n verdere oorgawe te maak. Kom ons ondersoek hierdie stelling om die geldigheid daarvan te bepaal.
Hierdie gemeente is in die jaar 51 n.C. gestig toe Paulus vir meer as ‘n jaar lank daar gepreek en die gemeente geestelik opgebou het. Daarna het Apollos ook in Korinthe gepreek (Hand. 19:1). Dit is later aan Paulus gerapporteer dat daar aansienlike twiste in die gemeente was (1 Kor. 1:11). Toe Paulus tydens sy derde sendingreis in Éfese was, het hy in 54 of 55 n.C. Eerste Korinthiërs geskryf om hierdie probleme aan te spreek. Dit het egter nie die probleme opgelos nie en Paulus het besluit om weer die gemeente te besoek. Dit het vir hom met diep teleurstelling gepaard gegaan (2 Kor. 2:1). Ná hierdie besoek en sy terugkeer na Éfese, het Paulus ‘n tweede brief geskryf wat weens die dissiplinêre aard daarvan groot droefheid vir hom meegebring het (2 Kor. 2:4; 7:8-9). Hierdie brief is deur ‘n derde besoek gevolg, waartydens hy die Korinthiërs uitgedaag het om hulle sukkelende geloof te ondersoek om te bepaal waar hulle met die Here staan (2 Kor. 13:1-6).
Die Korinthiërs het nie net aan ‘n gebrek aan geestelike groei gely nie – hulle is ook ernstig aan bande gelê deur verslegtende probleme wat gedreig het om hulle geloof te vernietig. In hulle Bible Knowledge Commentary (bl. 506) sê proff. Walvoord & Zuck: “Eerste Korinthiërs bied aan ons ‘n kykie in een van die eerste eeu se kerke, en hulle was ver van heilig af. Dit was die rede waarom Paulus hierdie brief geskryf het – om hulle te beweeg om posisionele heiligheid prakties uit te leef. Die gees van die wêreld was sterker in die gemeente van Korinthe werksaam as wat die Gees van God was, ten spyte van al die gawes wat die Gees aan hulle gegee het. Paulus wou dit verander.”
Paulus verwys duidelik na twee soorte heiligmaking – die een staan met regverdigmaking in verband en die ander een met ‘n heilige lewe. Eersgenoemde kan “inisiële heiligmaking” genoem word en die ander “volkome heiligmaking”. In die inleiding van sy brief verwys Paulus na gemeentelede as “die geheiligdes in Christus Jesus” (1 Kor. 1:2). Hy kwalifiseer hierdie stelling verder wanneer hy sê dat hulle vroeër verlore sondaars was: “Maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God” (1 Kor. 6:9-11).
Paulus gaan voort om hierdie “geheiligde Christene” op te roep om hulleself “van alle besoedeling van die vlees en die gees te reinig, en die heiligmaking in die vrees van God te volbring” (2 Kor. 7:1). Hulle moes dus ook volkome heiligmaking najaag. Hoe moet dit gedoen word en hoe skerp hy hierdie boodskap by die Korinthiërs én almal van ons in?
· Ons moet ten volle besef dat Jesus Christus Homself nie net geoffer het vir ons verlossing nie, maar ook vir ons volkome heiligmaking (1 Kor. 1:30; vgl. Ef. 5:25-27). Hy stel ons deur die Heilige Gees in staat om lewens te lei wat vir God welbehaaglik is.
· Prediking moet nie in oorredende woorde van menslike wysheid wees nie, maar in die betoning van Gees en krag (1 Kor. 2:4). Wanneer mense die regte prediking ontvang, sal hulle hulself ten volle oorgee en sal die krag van die Heilige Gees in hulle lewens sigbaar word. Voorheen het die vlees die botoon gevoer.
· Hulle moet hulleself daaraan toewy om deur die Heilige Gees geleer te word. “Die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God” (1 Kor. 2:10). Ken jy die dieptes van die rykdom, wysheid en kennis van God?
· Ons moet besef dat daar nie slegs ‘n basiese onderskeid tussen natuurlike (ongeredde) en geestelike (geredde) mense is nie, want Christene kan verder in vleeslike en geestelike mense verdeel word. Paulus het aan die Korinthiërs gesê: “En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus” (1 Kor. 3:1).
· Alle kerklidmate het die verpligting om seker te maak dat hulle nie met verganklike werke (hout, hooi en stoppels) op die fondament van bekering bou nie, maar met onverganklike werke (goud, silwer en kosbare stene). Laasgenoemde is die vrug van die Heilige Gees, en eersgenoemde die werke van die ongekruisigde vlees. Is jy onder die beheer van die Gees of die vlees? Dit is uiters belangrik om te weet of ons geestelik of vleeslik is.
· Sonde moet ten alle koste vermy word omdat dit ‘n mens se hele liggaam besoedel: “Weet julle nie dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie”? (1 Kor. 5:6-8). Die Korinthiërs word aangeraai om alle suurdeeg van ondeug en boosheid uit te suiwer en lewens te lei wat aan God se standaard van reinheid en waarheid voldoen. Baie mense dink hulle is reeds heilig en ondersoek hulleself nie deeglik nie.
· Christene moet nie net vir hulleself en die wêreld leef nie: “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (1 Kor. 6:20). Dit kan slegs gebeur wanneer die Heilige Gees volle beheer oor ‘n persoon het.
· Wanneer ‘n Christen deur die Heilige Gees verligte oë van die verstand gekry het, en ook ‘n vergesig van die ewige heerlikheid waartoe ons geroep is (1 Kor. 2:9), dan het hy die Here nie net ter wille van sy tydelike, aardse behoeftes lief nie, maar streef daarna om dinge te doen wat ewigheidswaarde het: “As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense” (1 Kor. 15:19). Ons moet die Here Jesus liefhê in onverganklikheid, ter wille van die belange van sy ewige koninkryk, want ons toekoms is ook daar by Hom.
· Christene is betrokke by ‘n wedloop waarin ons daarna moet streef om die oorwinnaarskroon te verkry: “Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal. En elkeen wat aan ‘n wedstryd deelneem, onthou hom in alles – húlle [die aardse atlete] nogal om ‘n verwelklike krans te ontvang, maar ons ‘n onverwelklike” (1 Kor. 9:24-25). Is jy ‘n sober, Geesvervulde Christen wat sondige gewoontes vermy en die wedloop van die lewe met volharding loop? Slegs die Heilige Gees kan jou in staat stel om dit te doen.
· “Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie” (1 Kor. 10:12-13). Baie Christene gee aan versoekings toe omdat hulle nie die krag van die Heilige Gees het om dit te weerstaan nie (vgl. Ef. 6:10-11).
· Die grootste gawe van die Heilige Gees is nie spreek in tale nie, maar die liefde (1 Kor. 13). Die kenmerk van ‘n Geesvervulde Christen is die agape-liefde van God wat volmaak moet word in sy lewe. Hierdie liefde word deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort wanneer ons ten volle aan Hom oorgegee is (Rom. 5:5) en sal ons dring om die evangelie te verkondig aan almal wat binne ons bereik is (1 Kor. 9:16).
· Ons moet op só ‘n manier lewe dat ons waardig is vir die opstanding van die regverdiges, asook die ewige lewe wat daarop volg (1 Kor. 15:51-53). Ons waardigheid sal voor die regterstoel van Christus bepaal word, waar krone toegeken sal word aan die oorwinnaars wat tot die einde toe in heiligheid volhard het (2 Kor. 5:10). Elke vleeslike Christen wat nie met die Heilige Gees vervul was nie, sal met leë hande voor die regterstoel staan, hoewel hy self gered sal word, maar asof deur vuur heen (1 Kor. 3:15). Daardie dag sal hy nie op posisionele heiligheid aanspraak kan maak indien sy aardse lewe nie onder die volle beheer van die Heilige Gees was nie. Só ‘n persoon kan nie deur menslike toewyding die vrug van die Gees voortbring nie, en om dié rede kan slegs aan geheiligde Christene gesê word: “Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie” (1 Kor. 15:58). God se Gees kan aan hulle krag gee om op die regte weg te volhard.
Die Korinthiërs het nie slegs meer tyd nodig gehad om na die volwasse man of vrou in Christus op te groei nie. Tyd alleen sal niks verander indien mense nie die geleentheid gebruik om hulleself te ondersoek en ‘n volle oorgawe aan die Here te maak nie. Die Korinthiërs het meer as genoeg tyd gehad om dit te doen, maar hulle het dit nagelaat. Baie van die Joodse gelowiges het ook nie die verloop van tyd tot hulle geestelike voordeel gebruik nie. Paulus het aan hulle geskryf: “Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie... Ons [moet] nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan” (Heb. 5:12; 6:1).
As ons nooit bewus word van die dieper lewe van oorwinning oor sonde en die vlees, en van die toerusting met krag uit die hoogte nie, sal ons as vleeslike Christene voortstrompel en nooit die seën van volkome heiligmaking verkry nie.
Baie min Christene leef heilig en oorwinnend onder die leiding van die Heilige Gees. Dit is veel makliker om na bonatuurlike ervarings te soek, of om in ‘n leunstoel terug te sit en te skuil agter die verskoning van posisionele heiligheid wat jy na bewering saam met jou redding gekry het. Sulke mense weet nie wat dit is om deur Jesus Christus en die krag van die Heilige Gees ‘n medewerker van God te wees nie.
Omdat hierdie krag in hulle lewe ontbreek, kom hulle later op die punt waarin hulle die leer van heiligmaking as ‘n tweede genadewerk verwerp. Dit is dan juis húlle wat in die krag van die vlees voortgaan om die Here te probeer dien. Dit is egter ‘n futiele oefening, want hulle kan nie regtig ander Christene stig en in die geloof opbou as hulle prediking nie in die betoning van Gees en krag is nie. Hulle moet eers met krag uit die hoogte toegerus word (Luk. 24:46-49). Vleeslike predikers bied kitsoplossings aan vir redding en heiligmaking, sonder enige klem op die kosteberekening en volle oorgawe wat die Here van ons verwag.
Ons moet nie navolgers van ander mense wees nie, want dan is die kans baie goed dat ons mislei gaan word. Doen liewer intensiewe Bybelstudie en laat die Heilige Gees toe om jou Leermeester te wees. Bestee baie tyd aan gebed, sodat dit stil kan word in jou hart om die Here se stem te kan verneem. Die Gees van God sal jou in die hele waarheid lei – nie net van redding nie, maar ook van ‘n rein, heilige, oorwinnende en vrugbare lewe in sy diens.
“Want dit is die wil van God: julle heiligmaking... Hy wat dit verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3,8).