Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Desember 2010)
Die toenemende wetteloosheid, barbaarse dade, sinnelose moorde en menslike lyding maak dit vir teoloë al hoe moeiliker om verklarings vir hierdie verskynsels aan te bied. Sommige van hulle bly by strak Calvinistiese verklarings waarin alles wat gebeur, na God se raadsbesluite herlei word. Ander is só geskok oor dit wat God na bewering doen, of toelaat om te gebeur, dat hulle sy bestaan bevraagteken en daarmee saam ook die geloofwaardigheid van die Bybel verwerp. Hierdie groep bied agnostiese, postmoderne verklarings aan wat volgens ‘n wetenskaplike wêreldbeeld bedink word, en waarin die bonatuurlike geen rol speel nie.
Daar is ook ‘n derde groep wat die beweging na postmoderne teologiese verval probeer teëwerk deur aanpassings in Calvinisme te maak om hierdie leerstelling meer aanvaarbaar te maak. Een van dié reddingsoperasies kom van prof. Adrio König, ‘n afgetrede professor in sistematiese teologie aan Unisa. Hy is dalk in ‘n ideale posisie om ‘n bydrae te lewer, want hy was aan Unisa lid van ‘n “oop” teologiese fakulteit wat nie per definisie Calvinisties is nie.
Adrio König se jongste uitlatings blyk uit ‘n artikel wat hy in Beeld van 13 Des. 2010 geskryf het: http://www.beeld.com/In-Diepte/Nuus/Jesus-huil-want-sy-Vader-gee-om-20101213 Die titel van die artikel is: “Jesus huil want sy Vader gee om” – na aanleiding van ‘n roudiens vir die vermoorde Potgieter-gesin van Lindley, waaronder ‘n klein dogtertjie, Willemientjie.
König verduidelik die tipies Calvinistiese sienswyse wat deur baie mense in verband met sulke tragedies gehuldig word: “Hoe kan Jesus en sy Vader oor iets huil? Beskik God dan nie alles nie? Het God dan nie die moorde toegelaat nie? Daar gebeur tog niks sonder sy beskikking nie. Hy is tog almagtig... Dan kon God mos die moorde gekeer het... Dit is nie nodig dat ons alles verstaan nie. Dit is nie nodig dat ons weet wat sy goeie doel is nie. Hy weet die beste al lyk dit vir ons hoe seer.”
Prof. König huldig egter ‘n dubbelsinnige standpunt waarin God volgens hom nie onheil oor mense beskik nie, maar nogtans moet hierdie tragedies as deel van sy strafmaatreëls gesien word: “God wil hê dat mense op ‘n sekere manier optree, maar dan is hulle ongehoorsaam en dwing hulle Hom om hulle te straf... Dit was God se werkswyse met Israel in die Ou Testament en is ‘n deurlopende lyn in die Nuwe Testament... God gee om... Maar ek lees nie in die Bybel dat God alles beskik of toelaat nie.... God gee om en sal sy kinders deur hulle nood dra... Ek lees in die Bybel dat ons God teleurstel, dat God téén die sonde is, dat God in sy wet sonde veroordeel. Daarom wonder ek of ‘Jesus huil vandag’ nie dalk ‘n treffende opskrif was nie.”
Die leerstelling van Calvinisme moet beslis die skuld kry vir mense se verwarde denke oor God se bestier van sake, en veral ook vir hulle onvermoë om die vinnige verspreiding van antichristelike invloede oral in die wêreld reg te kan verstaan.
Calviniste huldig in die algemeen ‘n onbybelse siening oor die soewereiniteit van God. Hulle gaan van die standpunt uit dat God nie werklik soewerein sou wees indien Hy nie sy goedkeuring verleen aan alles wat op aarde gebeur nie. Dit maak egter van Hom die outeur van sonde, want letterlik elke moord, elke verkragting, elke hongerdood en ook elke ramp of oorlog, kan in terme van hierdie persepsie net met sy goedkeuring of toelating plaasvind. Volgens dié mense kon Hy dit verhoed het, maar om een of ander rede doen Hy dit nie.
Hierdie siening is so rigied en wesenlik deel van Calvinisme dat dit as ‘n ononderhandelbare uitgangspunt van dié leer beskou word. Calviniste wat dit verwerp, breek heeltemal uit hulle teologiese drukgang weg en neig in baie gevalle daartoe om alle leerstellings te bevraagteken of te verwerp, naamlik die bestaan van God, die godheid van Jesus, die betekenis van sy kruisdood, sy opstanding en hemelvaart, die bestaan van die duiwel en die hel, ens.
Adrio König probeer nou die onmoontlike doen, naamlik om te beweer dat God nie alle onheile beskik nie, maar nogtans uit ‘n Calvinistiese oogpunt aan die bestier van sake staan. Dit verteenwoordig ‘n belangrike aanslag op gevestigde Calvinistiese denke, sonder om die alternatief daarvoor duidelik genoeg uit te spel. Indien hy nie bereid is om wesenlik van Calvinisme af weg te beweeg nie, sal hy nie by ‘n logiese en werkbare alternatief uitkom nie. Verskeie netelige kwessies in verband met Calvinisme moet eers opgelos word.
Die groot fout wat Calviniste maak, is om die Bybelse beginsel van die vrye wil van die mens te verwerp. Volgens hulle tas dit die soewereiniteit van God aan indien mense besluite kan neem en dinge kan doen wat in stryd met God se wil is. Dit is die rede waarom hulle in die hele heilsplan van God ‘n streep deur die mens se vrye wil trek. Hulle maak die volgende vyf basiese aannames, waarin die mens niks meer as ‘n passiewe ontvanger is nie:
1. Totale verdorwenheid: Die mens is geestelik só verdorwe dat hy nie eers ‘n wilsbesluit kan neem om ‘n gelowige te word nie. Die Here moet eers op eie inisiatief ‘n persoon se hart wederbaar sodat hy hom daarna tot God kan bekeer.
2. Onvoorwaardelike verkiesing: Die Here het eensydig, voor die grondlegging van die aarde, besluit wie Hy wil red en wie nie. Niemand neem self ‘n wilsbesluit hieroor nie. Diegene wat nie deur Hom uitverkies is nie, is voor hulle geboorte al tot die hel verdoem en het geen kans op redding nie. Hy sal hulle nie wederbaar nie.
3. Beperkte versoening: Christus het net vir die uitverkorenes gesterf, nie vir die hele wêreld nie. God het nie die hele wêreld lief nie en begeer nie die meerderheid se redding nie, daarom het Hy nie vir hulle saligheid voorsiening gemaak nie. Die bewandelaars van die breë weg gaan hel toe – of hulle nou wil of nie.
4. Onweerstaanbare genade: Die Heilige Gees sal op ‘n onweerstaanbare wyse oor die uitverkorenes vaardig word en hulle siele red. Hulle hoef nie self ‘n besluit tot dié effek te neem nie, want die Here sal sorg dat dit een of ander tyd gebeur.
5. Volharding van die heiliges: Die Here sal self die uitverkorenes bewaar sodat hulle nie kan terugval en uit sy hand geruk word nie. Selfs al val hulle weer in sonde, is dit reeds vergewe nog voordat dit gedoen is, en kan dit hulle nie uit die hemel hou nie.
Vir meer inligting oor hierdie leer se grondstellings, lees die volgende artikel oor Calvinisme: http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Davehunt.htm
Volgens Calviniste het God die hele saak van mense se versoening met Hom vooraf beplan en daardeur alle persone op aarde se lewens tot in die fynste besonderheid gepredestineer. Hulle kan niks doen wat teen sy raadsbesluit indruis nie, daarom moet ons die Here ook by alle rampe betrek wat oor mense kom.
Calviniste kyk ‘n baie belangrike feit in die Bybel mis, en dit is dat God aan die mens ‘n vrye wil gegee het om self te besluit watter pad hy wil loop. Sonder ‘n duidelike reg tot menslike besluitneming verval die rasionaal vir goddelike oordele oor sondaars. Hoe kan die Here mense veroordeel indien Hy self die moontlikheid vir redding van hulle weerhou het, en dus by implikasie vir hulle optrede en verlorenheid verantwoordelik is?
Die Here het nie van mense manipuleerbare robotte gemaak nie, maar wesens met ‘n vrye wil. Hy wil hê dat hulle Hom vrywillig moet liefhê, daarom kan almal self besluit of hulle die Here wil volg en dien. Diegene wat daarteen besluit, sal die gevolge van hulle rebellie teen God en die verwerping van sy genade moet dra.
Die uitnodiging tot die neem van ‘n vrye wilsbesluit om die Here te vrees, te dien en ook die ewige lewe te verkry, word dwarsdeur die Bybel aan mense gerig: “Kies dan die lewe, dat jy kan lewe” (Deut. 30:19); ... “Kies dan vir julle vandag wie julle wil dien” (Jos. 24:15; vgl. ook Matt. 11:6 en 23:37). In Openbaring 22:17 word dit baie duidelik gestel dat ‘n vrye wilsbesluit vir redding nodig is: “Laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”
Die ernstige implikasies daarvan word ook uitgespel indien mense sou verkies om nie die Here te dien nie. Dit lei onder meer na ‘n lewe onder die heerskappy van sonde, morele verduistering en wanorde wat die hele samelewing kan besmet, en uiteindelik na God se oordele wat vir die oortreders op die ewige dood sal uitloop.
Waarskuwings teen sonde word dwarsdeur die Bybel aan mense gerig. Die sonde van ons eerste ouers was om nie na God se opdragte te luister nie en voor die versoekings van ‘n “ander god” (die duiwel) te swig. As gevolg hiervan het hulle geestelik gesterf en ook biologies sterflike mense geword. Hierdie eienskappe is deur al hulle afstammelinge geërf en staan as die erfsonde bekend (Rom. 5:12). Deur die genade van die laaste Adam, Jesus Christus, kan hierdie toestand verander en mense geestelik lewend gemaak word (Rom. 5:17-18).
As gevolg van hulle vrye wil het alle mense ‘n ongedwonge keuse oor geloofsake en ook oor hulle morele ingesteldheid. Hulle kan in hulle natuurlike, verdorwe toestand voortleef en alle denkbare vorms van valse gelowe beoefen, of hulle kan hulleself tot die lewende God bekeer en deur Hom die enigste pad van die ewige lewe bewandel.
Die valse gelowe, asook ongeloof, word almal met die opponerende koninkryk van die duisternis verbind (vgl. 1 Kor. 10:19-20). Die duiwel is die god van hierdie wêreld wat die sinne van mense verblind sodat hulle nie die ware God en sy Seun sal aanbid en navolg nie (2 Kor. 4:4). In die praktyk neem baie mense die verkeerde besluite, daarom leef ons hoofsaaklik in ‘n bose wêreld waarin die duiwel weens sy menigte navolgers groot mag het.
Van die vroegste tye af het die meeste mense die duisternis liewer as die lig omdat hulle ‘n voorliefde vir sonde en losbandigheid het (Joh. 3:19). Die magsposisie wat Satan deur die optrede van ongeredde mense gekry het, word deur Christus erken, want Hy verwys na die duiwel as “die owerste van hierdie wêreld” (Joh. 14:30). In sy sendbrief sê Johannes dat die hele wêreld “in die mag van die Bose lê” (1 Joh. 5:19).
Christus het Homself vir ons sondes gegee, “sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld” (Gal. 1:4). Ons bly egter ná ons redding in die bose wêreld aan, daarom het ons daagliks die beskerming en bewaring van die Here nodig. Paulus verwys na die duiwel en sy gevalle engele as die “owerhede, magte en wêreldheersers” (Ef. 6:12). Ons is geestelik gesproke in ‘n operasionele gebied waarin ons teen die vyand van ons siele moet stryd voer, daarom moet ons die volle wapenrusting van God aantrek (Ef. 6:10-11).
Calviniste het in die algemeen baie min begrip vir die werking en invloed van hierdie opponerende koninkryk van die Bose. Dit is die rede waarom baie van hulle teoloë tot die slotsom gekom het dat daar nie so ‘n koninkryk is nie. Hierdie standpunt ontstel blykbaar nie hulle meer konserwatiewe kollegas nie, omdat hulle ook nie veel aandag aan demonologie in hulle teologie gee nie. Volgens hulle is ons nou in die duisendjarige vrederyk en is die duiwel in ‘n put gebind. Hy is dus nie regtig ‘n faktor om mee rekening te hou nie.
As gevolg hiervan kry die duiwel en sy misleide medewerkers omtrent nooit die skuld vir dinge wat in die wêreld verkeerd loop nie – die Here moet al die skuld kry, want alle wêreldsake is net in sy hand en Hy bepaal alles. As gevolg van hierdie Bybels vreemde teologie weet baie Calviniste nie meer wat om te glo, hoe om oor hulle ellendes te dink en wie om te blameer nie. Hulle het tot ‘n groot mate voeling met geestelike werklikhede verloor.
Terselfdertyd gaan baie van hulle ongeërg met hul lewens voort, want die Here het glo alles vooraf besluit en in elk geval kan niemand hulle uit sy hand ruk nie. Hulle besef nie dat hulle met hul vrye wil téén die Here se wil kan werk, sy Heilige Gees kan bedroef, weerstaan en selfs totaal in hulle lewens kan uitblus nie (vgl. Hand. 7:51; Ef. 4:30; 1 Thess. 5:19). Weens leerstellige dwalings kan hulle beslis van die genade verval (Gal. 5:4; 1 Tim. 4:1; Op. 2:4-5), terwyl hulle as gevolg van volhardende sonde ook van die lewende God afvallig kan raak en weer bose en ongelowige harte kry (Heb. 3:12-13).
Die loot wat nie deur toewyding in die wynstok bly nie, verval in onvrugbaarheid, verdroog mettertyd en beland uiteindelik in die vuur (Joh. 15:4-6). Die belofte dat niemand ons uit die Here se hand sal ruk nie, is voorwaardelik en geld net vir diegene wat aan die Here se voorwaardes voldoen, naamlik om na sy stem te luister en aan te hou om Hom te volg (Joh. 10:27-28). Die “Demasse” keer willens en wetens na die huidige, verdorwe wêreld terug en sal die prys vir hulle geloofsversaking moet betaal. Paulus verwys na sulke mense as geestelike skipbreukelinge (1 Tim. 1:19).
God het nie net ‘n selektiewe groepie mense lief nie, maar almal in die hele wêreld (Joh. 3:16). Hy “wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet. 3:9; vgl. 1 Tim. 2:3-4). Hy begeer almal se redding, maar laat hulle nogtans toe om self te kies. Die Here laat diegene wat verkeerde keuses maak, egter goed verstaan dat dit op rebellie teen Hom neerkom en dat hulle as gevolg daarvan in die oordeel sal kom. Dit is dus in almal se belang om tot bekering te kom:
“God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek” (Hand. 17:30-31).
Weens God se voorkennis weet Hy wie gered sal word, daarom kan Hy hulle roep (uitverkies of aanstel) om heilig te leef en sekere take in sy koninkryk te verrig. Hy kan ook die goddeloses gebruik om sy doel te bereik en dan hulle harte verder verhard nadat hulle aanvanklik self hulle harte teen Hom verhard en Hom uit eie keuse verwerp het.
Dink gerus maar weer indringend oor hierdie saak na. Dave Hunt het ’n goed nagevorste boek oor Calvinisme geskryf (What Love is This? Calvinism’s Misrepresentation of God) en as gevolg daarvan baie vrae deur Calviniste uitgelok. Een van die vrae was die volgende:
“Hoe kan ‘n nie-Calvinis 2 Thessalonicense 2:13 verklaar? Is dit nie absoluut duidelik dat diegene aan wie Paulus geskryf het, ‘verkies is tot saligheid’ nie, m.a.w. dat hulle vir die hemel voorbestem is?” Dave Hunt se antwoord was:
“Daardie vers lui: ‘God [het] julle van die begin af verkies tot saligheid in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid.’ Beteken dit dat hulle vir die hemel uitverkies is? Absoluut nie! Die duidelike boodskap van die Bybel, van Genesis tot Openbaring, is dat alle mense ‘verkies is tot saligheid’ deur God, wat ‘wil hê dat alle mense gered word’ (1 Tim. 2:4). Hy is ‘n ‘behouder van alle mense, insonderheid van die gelowiges’ (1 Tim. 4:10). Sy Seun het ‘Homself gegee as ‘n losprys vir almal’ (1 Tim. 2:6). Die feit dat iemand vir saligheid verkies is, beteken nie dat hy vir die hemel voorbestem is nie, maar dat hy ‘n sondaar is, en alle sondaars het die geleentheid om die evangelie te glo – wat die meeste van hulle weier om te doen.
“Christus het vir sy dissipels gesê: ‘Het Ek nie julle twaalf uitverkies nie, en een van julle is ‘n duiwel! En Hy het bedoel Judas Iskáriot... wat Hom sou verraai’ (Joh. 6:70-71). Die feit dat Judas een van dié is wat uitverkies is om ‘n dissipel te wees, was duidelik nie ‘n waarborg dat hy sy roeping sou vervul nie. Hy was moreel daarvoor verantwoordelik om Christus in die geloof te volg. As gevolg van sy eie keuse het hy dit nie gedoen nie en is nou in die hel.
“Dieselfde Bybelse waarheid word in Israel gedemonstreer: ‘Die Here jou God het jou uitverkies... om sy eiendomsvolk te wees’ (Deut. 7:6). Daardie ‘uitverkiesing’ het nie verseker dat elke fisiese afstammeling van Abraham, Isak en Jakob noodwendig as uitverkorenes sou leef nie. Ongelukkig het Israel as ‘n geheel nie hulle roeping vervul nie en in sonde geleef, daarom het God hulle uit hulle land verdryf.
“Uit hierdie en ander Skrifgedeeltes is dit duidelik dat verkiesing tot redding nie redding bring nie: ‘n persoon moet die evangelie glo om gered te kan word. Hierdie feit word deur die res van die vers verduidelik: ‘...in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid.’ Hoewel hulle ‘verkies is tot saligheid,’ was die middel vir hulle saligheid nie God se verkiesing nie, maar die individu se geloof in die waarheid.”
In die lig van bogenoemde feite is daar ‘n paar ernstige tekortkomings in Adrio König se verklaring van die betrokke plaasmoord: Die volgende vrae kan aan hom gestel word:
Indien God nie alles beskik of toelaat nie, die mens nie ‘n vrye wil het om self dinge te besluit nie, en die duiwel en sy medewerkers ook nie die skuld kry vir die betrokke moord nie, wie moet dan geblameer word? Hoe gaan ons ooit by die oorsaak van boosheid en sonde kom as ons nie eers basiese vrae oor oorsaak en gevolg kan beantwoord nie?
Indien die rol van die duiwel, wat ‘n mensemoordenaar, leuenaar en verleier is (Joh. 8:44), nie raakgesien word nie, wie sal dan die opdrag ernstig opneem om daagliks te bid dat die Here ons van die Bose sal bewaar, en wie sal erns daarmee maak om ons geestelike wapentuig teen die vyand op te neem en doeltreffend te gebruik? Die feit dat daar ‘n vyandige koninkryk van Satan is wat groot mag in die wêreld verkry het, maak dit gebiedend noodsaaklik dat ons op ‘n gereelde basis vir goddelike intervensie sal bid.
Ons is inderdaad by ‘n hewige stryd betrokke teen die verdorwe wêreld waarin ons as vreemdelinge vertoef. Ons moet ook die begeerlikhede van ons ou natuur en die versoekings van Satan weerstaan. Die wete dat God oppermagtig in die heelal is, is ons waarborg dat Hy kan en wil ingryp om omstandighede en ervarings vir ons te verander en ten goede te laat meewerk. Wat sal gebeur as ons in biddeloosheid verval en dan hierdie beskerming moet ontbeer? Sal Calvinistiese sienings oor predestinasie voldoende verklarings gee vir alles wat soms ook met Christene gebeur?
König maak ook ‘n aanvegbare stelling dat God se werkswyse dieselfde in die Ou en Nuwe Testamente is. In die Ou Testament het die Here dikwels sondaars gestraf en soms totale sondige gemeenskappe verdelg (vgl. die sondvloed en die vernietiging van Sodom en Gomorra). In die Nuwe Testament is ons egter in die tyd van genade – nie van oordele nie – daarom kon sondige gemeenskappe en regerings, valse kerke en ander bose belangegroepe, soms vir eeue lank voortgaan met hulle ongeregtigheid. Sommige het weens hulle eie morele verrotting ten gronde gegaan, maar ander bestaan nou nog.
In hierdie bedeling is God se oordele tot in die eindtyd uitgestel, wanneer die dag van die Here sal aanbreek – dan sal daar ‘n goddelike oordele en ‘n groot verdrukking wees soos daar van die grondlegging van die wêreld af nog nooit was nie (Matt. 24:21; Jes. 13:9-13; Op. 6 tot 19).
Gedurende hierdie dispensasie kry almal die geleentheid om presies te wys waar hulle staan en ook die maat van hulle ongeregtigheid vol te maak. Hierdie ongeregtige dade is hulle eie werke wat onder die aanstigting van die duiwel gedoen word, en die Here lê in die proses net sekere beperkings op hulle na aanleiding van die gebede van die heiliges. Andersins gaan hulle tot groot uiterstes om hulle bose karaktertrekke te openbaar. Dit verklaar waarom daar beslis ‘n tyd van oordeel gaan kom. Dié wat vuil is, gaan intussen vuiler word.
In hierdie bose wêreld moet ons die goeie stryd van die geloof stry, en alles doen wat nodig is om staande te bly teen die liste van die duiwel. Ons moet ook elke geleentheid gebruik om die lig van ‘n donker wêreld en die sout van ‘n bedorwe aarde te wees. Moenie só lewe dat jy eendag met leë hande voor die Here sal verskyn nie. Hy het dit nie vir jou voorbestem om ‘n onvrugbare lewe te lei nie, daarom gaan Hy vir jou vra waarom jy ‘n slegte dienskneg was. Verskonings gaan nie vir Hom aanvaarbaar wees nie, daarom moet ons nóú in die regte verhouding met die Here kom, met sy Gees vervul word en doen wat Hy van ons verwag.
Dit sou uiters tragies wees indien ons in geestelike fatalisme sou verval en passief terugsit terwyl die vermeende scenario van God se voorafbepaalde wêreld rondom ons afspeel. Dit sou veel beter wees om te besef dat ons in “die huidige goddelose wêreld” leef waaruit die Here ons wil red en ook wil gebruik om ander na die enigste goeie geestelike bestemming te begelei. As ons na die sondaars rondom ons kyk, dan sien ons nie gepredestineerde werke wat hulle sonder enige persoonlike keuse uitvoer nie, maar “die onvrugbare werke van die duisternis” wat doelbewus deur hulle gedoen en deur ons teëgestaan en bestraf moet word (Ef. 5:11). Hierdie mense het die duiwel as vader en is besig om sy wil te doen terwyl hulle lewe asof die Here nie bestaan nie (Joh. 8:44).
Die dag van afrekening kom vinnig nader waarin elkeen aan God vir sy lewe rekenskap sal moet gee. Dissipels van Christus sal voor sy regterstoel verskyn (Rom. 14:10-12; 2 Kor. 5:10), terwyl sondaars voor die groot wit troon sal verskyn (Op. 20:11-15).
Die groot verwarring wat daar in teologiese denke bestaan, is omdat gelowiges té veel van “die gebooie van mense” maak en té min van die Woord van God. Die Here Jesus het van Israel gesê: “Tevergeefs vereer hulle my deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Matt. 15:9). Hy het verder aan hulle verduidelik: “Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou” (Mark. 7:9).
Die moderne Christendom doen presies dieselfde – hulle hou aan oorgeërfde teologiese tradisies en leerstellings vas en verdedig dit selfs teen Bybelse uitsprake wat die teendeel bewys. Hulle herhaal dus die foute van die verlede omdat hulle navolgers van mense is, en sodoende verloor hulle al hoe meer voeling met die ware evangelie. Paulus het die vleeslike Korinthiërs teen hierdie tendens gewaarsku omdat hulle hulself eerder agter Paulus of Apollos as agter die Here Jesus geskaar het (1 Kor. 3:1-5).
Hierdie ingesteldheid is in ons tyd só sterk dat baie mense ernstig aanstoot neem indien jy aan hulle sou sê dat hulle denke en optrede nie gereformeerd of Calvinisties is nie, terwyl hulle veel meer verdraagsaam is indien jy sou beweer dat hulle siening in botsing met die Bybel is. Die “heilige kerkvaders” se integriteit moet bo verdenking bly. Die probleem is net dat hierdie manne nie volmaak was nie en dat daar gewoonlik aan hulle dwalings nog meer geloofwaardigheid as aan hulle goeie leerstellings gegee word.
Is ons nie veronderstel om in die eindtyd meer kennis van die Bybel as in vroeër tye te hê nie? Daniël het nie eers sy eie profesieë wat God hom oor die eindtyd gegee het, verstaan nie. Die Here het aan hom gesê dat die woorde verborge sou bly tot in die eindtyd, wanneer baie dit sal deursoek en die kennis sal vermeerder (Dan. 12:4,8-10).
Ons moet die Woord van die Here onder die leiding van die Heilige Gees bestudeer (Joh. 16:13) en nie deur Calvyn se bril daarna kyk nie. Die kerkhervormers het wél ‘n groot werk gedoen deur die juk van Katolieke oorheersing af te werp en die leer van redding deur genade in ere te herstel, maar dit was net die begin van ‘n proses van semper reformada wat deur die volgende geslagte voortgesit moes word. As ons by die ABC van hierdie proses vassteek, sal ons leerstellig stagneer en geen vordering in ons geestelike lewe maak nie.
Die kerkhervormers het bv. weinig oor die leer van heiligmaking verstaan, en dit was eers toe herlewingspredikers soos John Wesley, R.A. Torrey en Andrew Murray ‘n duidelike Bybelse uiteensetting hiervan gegee het, dat mense dit begin verstaan en aanvaar het.
Oor Bybelse profesieë kan ons nie by een van hierdie kerkvaders van vroeër eeue veel leer nie, want hulle het weinig insig hierin vertoon en dit gevolglik baie min verkondig. Wanneer hulle uitlatings hieroor gemaak het, was hulle gewoonlik verkeerd. Die meeste van hulle het gedink dat die pous die Antichris was en dat die kerkbedeling die koninkryksbedeling is waartydens die duiwel “vir ‘n duisend jaar” in ‘n put gebind is en die heiliges saam met Christus regeer. Hulle het meesal ook die idee van ‘n eindtydse herstel van Israel in die land van hulle vaders verwerp.
Ons het die voordeel van die letterlike vervulling van talle Bybelse profesieë in die eindtyd en kan dus onder die leiding van die Heilige Gees groot waarhede in verband met die profetiese woord verstaan. Ons hoef nie meer oor die herstel van Israel te wonder nie, want dit is besig om voor ons oë af te speel. Ons hoef ook nie meer oor die moontlikheid van ‘n letterlike, antichristelike wêreldregering te wonder nie, want ‘n nuwe wêreldorde met sy beplande wêreldregering, wêreldgodsdiens en wêreldekonomie is vinnig besig om gestalte aan te neem. Globalisme het in ons tyd ‘n sleutelwoord geword.
Die idee van ‘n alliansie van wêreldgodsdienste wat volgens Openbaring 17 saam met die Antichris sal regeer, is lankal ook nie meer vergesog nie. Multigodsdienstige denke en intergeloofsekumene is besig om die aanvoorwerk hiervoor te doen. Die meeste Westerse regerings wat vroeër Christelike grondwette gehad het, het reeds na die nuwe denkwyse oorgeskakel en die Christendom met ander gelowe gelykgestel. Die toneel is dus gereed vir die verskyning van ‘n multigodsdienstige wêreldleier wat deur alle mense aanvaar en ook as hulle gemeenskaplike messias aanbid sal word (Op. 13:3-4).
Daar is net een uitweg uit die huidige dilemma, en dit is ‘n terugkeer na die fundamentele aspekte van die Here se Woord. Die huidige sogenaamde hervormingsbewegings lei in die meeste gevalle weg van die Bybel af in die rigting van die humanistiese verering van die mens en sy wetenskaplike kennis. Die idee word gehuldig dat selfs die grootste misteries van die lewe deur hierdie kennis verklaar kan word, en as gevolg daarvan word Bybelse verklarings as onwetenskaplike mites verwerp. ‘n Verdere kenmerk van humanisme is sy verbintenis tot vryheid van spraak en geloofsoortuigings, wat mense ook weg van die duidelike riglyne van God se Woord af lei.
As gevolg van hierdie selfverheffing en valse selfverlossingsleer is die moderne mensdom besig om, geestelik en ideologies gesproke, ‘n moderne toring van Babel onder die banier van globalisme te bou. Die beweging word egter deur swak leierskap gekniehalter, want die meeste regeringshoofde kan nie eers hulle eie lande se probleme oplos nie. Die VN is ook magteloos, rigtingloos en feitlik leierloos.
As gevolg van die internasionale verwerping van die evangeliese Christendom is die wêreld godsdienstig en moreel in ‘n vrye val na totale immoraliteit en anargie. Die meeste regerings is direk by die eindtydse rebellie betrokke wat in Psalm 2:2-3 beskryf word: “Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde [Jesus Christus] en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!”
‘n Christelike lewens- en wêreldbeskouing staan in die pad van ‘n multigodsdienstige nuwe wêreldorde. Wanneer daar in die huidige tyd van swak leierskap skielik ‘n dinamiese leier met bonatuurlike magte op die toneel verskyn, sal almal hom halsoorkop aanvaar en navolg. Omdat hy as vredevors sal kom wat sal poog om die mensdom te verenig en in vrede te laat saamleef, sal hy sonder teëspraak aanvaar word.
Die Bybel noem die komende wêreldleier egter die Antichris (1 Joh. 2:18), die mens van sonde en die selfverklaarde God (2 Thess. 2:3-4). Die gees van die Antichris is nou al werksaam om die wêreld vir sy koms en magsoorname voor te berei (2 Thess. 2:7-8). Die huidige wetteloosheid, misdaad en die vestiging van ‘n internasionale sondekultuur is alles deel van die voorbereidings vir die koms van die Antichris.
Dit is teen verskynsels soos hierdie dat mense gewaarsku moet word. Christene vind dit moeilik om te midde van al die sonde en ongeregtigheid moedig te wees, geestelik staande te bly teen al die multigodsdienstige misleiding, en hulleself teen die verskerpte aanslae op hulle geloof én persoonlike veiligheid te beskerm. Baie van hulle verstaan nie die tyd waarin ons leef nie, en gaan geestelik onder. Die Here Jesus het oor die eindtyd gesê: “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:11-12).
Daar gaan binnekort groot en dramatiese openbarings van God én Satan se koninkryke plaasvind, en hiervoor moet ons geestelik voorbereid wees. Hoe kan ons egter voorbereid wees as ons oningelig is oor dit wat gaan gebeur? As ons dink dat alles gaan regkom en die Antichris gaan nie die wêreld oorneem nie, dan begryp ons nie die omvang en gevolge van die groot afval van die laaste dae nie.
Die Here Jesus gaan, soos in die tyd van Noag en Lot, eers die ware gelowiges beveilig en dan sy oordele oor ‘n onbekeerlike mensdom uitstort (Luk. 21:36). Maak dus gereed om voor die hemelse Bruidegom te verskyn, en besef terdeë dat ons vir hierdie ontmoeting vlekkeloos moet wees in heiligheid (Ef. 5:25-27; 1 Thess. 3:13).
Vir almal wat nie op hierdie ontmoeting voorbereid is nie, wag die ongekende misleiding en wandade van die Antichris. Wat ons nou in SA én die res van die wêreld beleef, is net ‘n voorspel tot groter probleme wat op pad is. God skep nie hierdie probleme nie, maar die ongelowiges vra deur hulle optrede dat dit oor hulle moet kom. Wanneer die Here Jesus self ook in hierdie tyd sy oordele oor die sondaars uitstort, sal hulle weet dat dit gebeur omdat hulle Hom verwerp het (Op. 6:15-17). Ons moet daagliks bid dat die Here ons en ons gesinne van die Bose sal bewaar.