Die Koning wat weer kom

Die dissipels wat wél vir Jesus tydens sy eerste koms as Messias en Koning erken het, het nie van die bedeling van wêreldevangelisasie geweet wat ná sy verwerping deur Israel sou aanbreek nie. In hierdie tyd sou die koninkryk van die hemel in ‘n verborge vorm op aarde funksioneer, terwyl Israel onder die nasies verstrooi en die troon van Dawid in ‘n vervalle toestand sou wees. Die dissipels het gemeen dat Jesus tydens sy eerste koms die troon van Dawid sou oprig en as heerser in die herstelde koninkryk van Israel sou regeer: “Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk van Israel weer oprig? En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie; maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:6-8; vgl. ook Luk. 24:46-49).

Die Here Jesus het nie ontken dat Hy weer die koninkryk van Israel sou oprig nie, maar het net gesê dat die tyd daarvoor nog nie aangebreek het nie. Eers moet die hele wêreld wat as gevolg van ongeloof en die heidense gelowe geestelik donker is, geëvangeliseer word. Die proklamering van Jesus se Messiasskap en verlossingswerk onder alle nasies is in ooreenstemming met ‘n profesie in Jesaja: “En nou sê die Here wat My van die moederskoot af geformeer het om sy Kneg te wees, om Jakob na Hom terug te bring en dat Israel by Hom versamel mag word – en Ek word geëer in die oë van die Here, en my God is my sterkte. Hy het gesê: Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde” (Jes. 49:5-6). Paulus verwys in Handelinge 13:46-48 ook na hierdie profesie as die regverdiging vir sy sendingopdrag na die nie-Joodse nasies.

Eers nadat die Nuwe Testamentiese boodskap van die aanvaarding van Jesus as die enigste Messias en Verlosser aan Israel én al die nasies verkondig is, en daar sodoende vir Hom ‘n geestelike koninkryk opgebou is, sal Hy as Koning terugkeer om sy koninkryk sigbaar op aarde te openbaar. Sy regeringsetel sal wel Jerusalem wees, maar sy koninkryk sal tot by die eindes van die aarde strek. Dit kan glad nie gebeur voordat die wêreld geëvangeliseer, die vyande van God se koninkryk verdelg, Satan gebind en die Koning van die konings ten aanskouing van almal na die aarde toe teruggekeer het nie.

Jesus het die verwagting van sy onmiddellike aanvaarding van die koningskap van Israel tydens sy eerste koms ook in ‘n gelykenis weerlê deur duidelik daarop te wys dat Hy eers ná ‘n lang afwesigheid as Koning sou terugkeer. Gedurende hierdie tyd moes sy dissipels die sake van sy koninkryk op aarde behartig:

“En terwyl hulle na hierdie dinge luister, vertel Hy daar nog ‘n gelykenis by, omdat Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn. Hy het dan gesê: ‘n Man van hoë geboorte het na ‘n ver land gereis om vir homself ‘n koningskap te ontvang en dan terug te kom. En nadat hy tien van sy diensknegte geroep het, gee hy hulle tien ponde en sê vir hulle: Dryf handel daarmee totdat ek kom. Maar sy medeburgers het hom gehaat en ‘n gesantskap agter hom aan gestuur om te sê: Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons moet wees nie. En toe hy terugkom, nadat hy die koningskap ontvang het, sê hy dat daardie diensknegte aan wie hy die geld gegee het, by hom geroep moes word, sodat hy kon weet wat elkeen met handel verdien het. En die eerste het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak. En hy sê vir hom: Mooi, so, goeie, dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede... Maar daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek koning oor hulle sou wees nie, bring hulle hier en slaan hulle voor my dood” (Luk. 19:11-17, 27).

Die volgorde van gebeurtenisse is duidelik: eers stel die Man van koninklike afkoms sy diensknegte aan om in sy afwesigheid na sy belange om te sien. Hy verskaf ook aan hulle die middele om hierdie werk mee te doen. Daarna vertrek hy na ‘n ver land waar Hy sy koninklike status aanvaar. Wanneer hy terugkeer, is sy eerste afspraak met sy diensknegte, vir wie Hy as mede-regeerders in sy koninkryk aanstel. Nadat hulle hul genadeloon ontvang het, wend Hy Homself tot sy vyande om hulle te oordeel en te verdelg.

Hierdie gelykenis was ‘n duidelike sinspeling op Herodes Archelaüs wat sy vader, Herodes die Grote, as koning van Judéa opgevolg en tien jaar lank hier regeer het. Herodes die Grote het ná die geboorte van Jesus die kindermoord gelas (Matt. 2:16) omdat hy Jesus na aanleiding van wat die wyse manne uit die Ooste oor die geboorte van die Koning van die Jode gesê het, as ‘n bedreiging vir sy eie koningskap beskou het (Matt. 2:1-2). Herodes die Grote is kort ná die gruweldaad van die kindermoord oorlede. Sy koninkryk is tussen drie van sy seuns verdeel. Herodes Archelaüs sou koning in Judéa word, Herodes Antipas viervors in Galilea en Herodes Filippus viervors in die Oos-Jordaangebied.

Keiser Augustus het hierdie testament in Rome bekragtig, ten spyte daarvan dat die Jode ‘n gesantskap agter die erfgename aan na Rome gestuur het om weens Archelaüs se besondere wreedheid teen sy aanstelling as koning beswaar te maak: “Sy medeburgers het hom gehaat en ‘n gesantskap agter hom aan gestuur om te sê: Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons moet wees nie” (Luk. 19:14). Met sy terugkeer het Archelaüs die manne laat ombring wat teen hom gerebelleer en sy koningskap teëgestaan het.

Die feit dat Archelaüs ‘n gevreesde man was, word in Mattheus 2:19-23 bevestig. Dit is die groot rede waarom Josef met Maria en die Kindjie, Jesus, nie in Judéa gevestig het toe hulle van Egipte af teruggekeer het nie, maar in Galilea: “Maar toe hy [Josef] hoor dat Archelaüs oor Judea koning was in die plek van sy vader Herodes, was hy bevrees om daarheen te gaan. En hy het ‘n goddelike waarskuwing in ‘n droom ontvang en na die streke van Galilea teruggekeer. En hy het gaan woon in stad met die naam van Nasaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is, dat Hy Nasarener genoem sou word” (Matt. 2:22-23).

Jesus verwys in hierdie gelykenis na die feit dat Herodes se seun, Archelaüs, nie die werklike koning van die Jode is wat volgens die profesieë bestem is om in Jerusalem te regeer nie, maar Hy self is hulle Koning. Hy is die man van hoë geboorte wat nogtans op ‘n uiters nederige wyse in ‘n stal in Betlehem gebore is: “En jy, Betlehem Efrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid” (Miga 5:1).

Jesus het nie tydens sy eerste koms as koning regeer nie, daarom sê Hy ook in die gelykenis dat Hy die man van hoë geboorte is wat na ‘n ver land gereis het om sy koningskap te ontvang. Archelaüs het na Italië gereis en daar is sy status nog van koning na etnarg (heerser) verlaag. Sy bewindstermyn was ook van korte duur. Jesus se reis na ‘n ver land dui op sy hemelvaart. Ná die versoeningswerk wat Hy tydens sy eerste koms as die lydende Kneg aan die kruis gedoen het, is Hy in die hemel uitermate tot die posisie van Koning verhoog en het Hy ‘n naam gekry wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elke knie sou buig (Fil. 2:8-11).

Wanneer Hy van die ver land af terugkom, sal Hy in krag en heerlikheid as Koning kom. Sy koms sal met trompetgeskal aangekondig word: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Op. 11:15). Hy sal sy voete op die Olyfberg in Jerusalem neersit en die troon van Dawid herstel: “Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand. 15:16-17).

Tydens die Here Jesus se afwesigheid, tussen sy eerste koms as nederige dienskneg en sy tweede koms as heersende Koning, het sy volgelinge ‘n duidelike opdrag om sy verborge koninkryk wêreldwyd uit te brei. Hulle moet sy getuies wees tot aan die eindes van die aarde, en vir hierdie groot taak het Hy die toerusting van die vervulling met die Heilige Gees aan hulle geskenk (Hand. 1:8).

In die gelykenis in Lukas 19 sê Hy dat Hy voor sy vertrek sy diensknegte geroep en aan elkeen ‘n pond gegee het met die opdrag: “Dryf handel daarmee totdat Ek kom.” Hierdie pond dui nie op redding nie, maar op ‘n goddelike werksvermoë. Die diensknegte behoort reeds aan hulle Heer – Hy het hulle met sy bloed gekoop, Hy stel hulle nou in sy diens en gee aan hulle die krag van die Heilige Gees waarsonder hulle nie hulle werk sal kan doen nie.

In die King James-vertaling van die Bybel word die opdrag tot diensbaarheid só gestel: “Occupy till I come.” Dit beteken: “Behartig die sake van my koninkryk totdat Ek kom.” Die Here Jesus het by ‘n ander geleentheid ook duidelik aan sy dissipels laat verstaan dat hulle gestuurdes is: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (Joh. 20:21). Geen dienskneg van die Here kan hierdie groot opdrag in ‘n vyandige wêreld uitvoer sonder dat hy of sy met goddelike krag uit die hoogte toegerus is nie.

Wanneer die Koning terugkom, is die eerste saak op sy agenda ‘n ontmoeting met sy diensknegte sodat hulle voor sy regterstoel rekenskap oor die uitvoering van hulle opdrag kan gee (2 Kor. 5:10; Rom. 14:12). Aan diegene wat getrou was, sal genadeloon toegeken word: “Kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:12). ‘n Deel van hierdie beloning sal wees dat die Here Jesus se diensknegte wat getrou bevind is, saam met Hom in sy koninkryk op aarde oor stede sal regeer.

Wanneer die Koning klaar sy diensknegte beloon het, sal Hy Homself in oordeel tot diegene wend wat sy koningskap verwerp het: “Maar daardie vyande van My wat nie wou hê dat ek koning oor hulle sou wees nie, bring hulle hier en slaan hulle voor My dood” (Luk. 19: 27). Volgens Openbaring 19:21 sal Christus se vyande gedood word met die swaard wat uit sy mond gaan. Hy sal net ‘n woord spreek wat tot hulle verdelging sal lei.

Koms van die Koning

Die getroue dissipels van Christus kan na sy skielike koms uitsien, wanneer Hy hulle sal kom haal en na die hemel wegruk om voor sy regterstoel te verskyn (1 Thess. 4:16-17; 2 Kor. 5:10). ‘n Ander toekoms wag egter op Israel omdat hulle, as ‘n volk, nog vir Jesus as Messias en Koning verwerp. Hulle sal die Messias eers aan die einde van die groot verdrukking aanvaar, omdat hulle deur hierdie swaar tyd van toetsing en beproewing moet gaan. Jeremia sê: “Dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jer. 30:7). Dieselfde lot wag ook op die ongeredde nasies.

Die Messias het Israel tydens sy eerste koms ook duidelik teen die valse messias en sy meelopers gewaarsku wat hulleself in die eindtyd aan die volk sal bied: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! [die Messias] en hulle sal baie mense mislei… daar sal valse messiasse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn – moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer – moet dit nie glo nie. Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (Matt. 24:4-5, 24-27).

Elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het, nl. die Joodse volk (Op. 1:7). In dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat oos van Jerusalem is (Sag. 14:4-5), dan sal die hele oorblyfsel van Israel gered en onder die vaandel van die Messias verenig word.

Israel sal die fout maak om ‘n messias te aanvaar wat op ‘n ander manier kom en ‘n ander soort vrede aanbied as wat die ware Messias aanbied. Jesus het die volgende waarskuwing aan die Jode gerig: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43). Die valse messias sal Israel se vyande saam met die volk van God in ‘n valse wêreldgodsdiens onder sy persoonlike leierskap verenig. Diegene wat nie wil saamwerk nie, sal geweldig vervolg en om die lewe gebring word.

Die valse messias sal ook ‘n koninkryk op aarde vestig in ‘n poging om die openbaring van God se koninkryk onder die leiding van die ware Messias te probeer voorkom. Tydens sy bewindstermyn sal die valse messias groot magte op aarde verkry. Johannes sê: “Aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:7). Hy sal wêreldwyd nagevolg, gevrees en aanbid word: “En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan... en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” (Op. 13:3-4).

Die koninkryk van Satan is terdeë daarvan bewus dat Jesus Christus na die aarde sal terugkom. Hy sal van sy heiliges én ‘n hemelse leër vergesel wees en sy voete op die Olyfberg in Jerusalem sit (Sag. 14:4-5). Dit sal die groot rede vir die wêreldwye mobilisering van militêre magte wees, sodat die Antichris sy sataniese wêreldryk teen die koms van Christus en die vestiging van sy hemelse koninkryk kan verdedig (Op. 16:13,14,16).

Johannes sê: “En ek het die dier [die Antichris] en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit [Christus], en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy hulle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit. En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp – die ou slang wat die duiwel en Satan is – en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie.” (Op. 19:19–20:3). Eers dan sal die koninkryk van die hemel sigbaar op aarde geopenbaar word.

Tans word die wêreld voor die keuse gestel om óf die nuwe wêreldorde en komende koninkryk van die Antichris te aanvaar, óf om ‘n teëhouer teen die idees van die Antichris te wees en voor te berei om die ware Koning uit die hemel te verwag, wat die Antichris sal verdelg en sy hemelse koninkryk op aarde sal vestig. Almal van ons het ‘n keuse tussen hierdie twee koninkryke. Hulle is totaal onversoenlik en die een kan net ten koste van die ander een bevorder word. Christene kan nooit die Antichris se idee van multigodsdienstige denke aanvaar nie, omdat geen kompromie met hierdie gelowe moontlik is nie. Jesus alleen is die ware Messias en poort na die koninkryk van die hemel. Hy het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh. 14:6).

Sy koninkryk het niks met die huidige, goddelose wêreld te doen wat in die mag van die Bose lê nie, maar is daarop ingestel om mense uit die duisternis te laat oorkom tot sy wonderbare lig (1 Pet. 2:9). Só versamel Christus vir Homself ‘n koninkryk wat binnekort in heerlikheid geopenbaar sal word. Wanneer Hy kom, kom Hy om die teëstanders wat sy koninkryk verwerp het, te verdelg en ook om sy eie diensknegte te beloon vir dit wat hulle in die uitbreiding van sy koninkryk gedoen het.

Johannes sê: “U toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf” (Op. 11:18). Jesaja het lank gelede al oor die koms van hierdie grote Koning geprofeteer: “Die heerlikheid van die Here sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien... Kyk, die Here sal kom as ‘n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig” (Jes. 40:5,10). Hy kom dus om te se:en én te oordeel.

Alle mense op aarde is in net twee groepe verdeel – die diensknegte van die Here wat aan Hom behoort, vir Hom werk en saam met Hom sal regeer, en die vyande van die Here wat téén sy koninkryk werk en deur Hom verdelg sal word. Die vyande van God se koninkryk is besig om al hoe meer mag in te palm en berei voor om die hele wêreld oor te neem en te regeer. Hulle sal ‘n kortstondige tyd van valse vrede onder die universele messias van alle gelowe hê, maar daarna sy ewige oordeel met hom deel.

Hulle lot word só in Openbaring beskryf: “As iemand die dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam. En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie – hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang” (Op. 14:9-11).

Alle ware Christene moet die ontluikende nuwe wêreldorde teëstaan omdat dit vyandig teenoor die Christendom is. Ons moet bereid wees om nou te ly sodat ons later saam met Christus in sy koninkryk verheerlik kan word: “As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën” (2 Tim. 2:12). Moenie soos die slegte dienskneg maak wat sy pond in ‘n doek toegedraai en weggebêre het nie. Staan uit vir die Here Jesus en bied jouself aan om vir Hom te werk. Is jy ‘n getroue dienskneg?

“Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel” (Matt. 24:45-47). Die slegte dienskneg wat sê: “My heer talm om te kom” en as gevolg daarvan sy geestelike visie verloor en in sonde begin leef, sal gepynig en ‘n deelgenoot van die geveinsdes gemaak word (Matt. 24:48-51). Lê dan alle laste en sondes af en hou jou oë op die Here Jesus gevestig. Moenie jou fokus op die dinge van sy ewige koninkryk verloor nie. Volhard tot die einde toe op die pad van die Here!