Daar is twee koninkryke in geestelike sfere – die koninkryk van God en die koninkryk van Satan:
Die koninkryk van God is onder die beheer van die Drie-enige God – God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees. God die Seun het Homself ontledig en in die gedaante van ‘n nederige dienskneg na die aarde toe gekom om aan die kruis versoening vir ‘n gevalle mensdom se sondes te doen. Ná sy opstanding uit die dood is Hy uitermate verhoog en het ‘n naam gekry wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elke knie sou buig (Fil. 2:5-11). Hy is nie alleen die Redder van die mensdom nie (Hand. 4:12), maar ook die Regter (Hand. 17:30-31) en komende Koning wat in krag en heerlikheid sal terugkeer. Die volgende is die belangrikste redes vir sy wederkoms en openbare verskyning:
· Om die Antichris en sy misleide volgelinge by die slag van Armageddon te vernietig (Op. 19:19-21).
· Om Satan vir ‘n duisend jaar lank in ‘n bodemlose put te laat bind (Op. 20:1-3).
· Om die nasies te oordeel (Matt. 25:31-46).
· Om die oorblyfsel van Israel te red (Sag. 12:10; 13:9).
· Om die troon van Dawid in Jerusalem te herstel (Hand. 15:16-17).
· Om sy koninkryk te openbaar deur sy duisendjarige vrederyk op aarde te vestig (Jer. 3:17; Op. 11:15).
· Om sy heiliges as mede-regeerders aan te stel (Op. 5:9-10; 20:4,6).
· Om die nasies in geregtigheid te regeer (Jes. 2:2-4).
Die koninkryk van Satan is onder die leiding van Satan self wat sy groot gevolg van gevalle engele, of demone, gebruik om die koninkryk van God te opponeer deur soveel as moontlik mense te mislei om te sondig en daardeur aan God ongehoorsaam te wees. Hy beplan om ‘n valse Christus op aarde te openbaar, wat in die Bybel as die Antichris (1 Joh. 2:18) en die dier (Op. 13:1) beskryf word. Satan sal aan hom sy krag gee, en sy troon en groot mag (Op. 13:2). Die Antichris sal om die volgende redes geopenbaar word:
· Om homself tot universele messias te verklaar, wat deur alle nasies aanbid sal word (Op. 13:4,8).
· Om ‘n valse vredevors te wees wat die hele wêreld onder sy leierskap sal verenig (Op. 6:2; 13:3).
· Om Satan se beheer na die politieke, godsdienstige én ekonomiese terreine uit te brei en sodoende ‘n sataniese nuwe wêreldorde in te stel (Op. 13:1-18).
· Om homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God te verklaar (2 Thess. 2:4).
· Om die god van die vestings (Lucifer) op aarde te verhoog en te vereer (Dan. 11:38).
· Om Israel te mislei deur voor te gee om hulle Messias te wees (Joh. 5:43), en daarna te probeer om hulle uit te wis nadat hulle hul verbond met hom verbreek het (Dan. 9:27; Matt. 24:15-22).
· Om alle Christene om die lewe te bring (Op. 6:9-10; 12:17).
· Om teen die ware Christus te veg wanneer Hy terugkom (Op. 19:19-20).
Beide hierdie koninkryke beplan om uit die geestelike sfeer na vore te tree en absolute beheer oor die wêreld uit te oefen deur ‘n wêreldregering in te stel – die een onder die leiding van Christus en die ander een onder die leiding van die Antichris. Aangesien God alle mense met ‘n vrye wil geskape het deur nie een vir die hemel of die hel te voorbestem nie, het almal van hulle die keuse om hulle eie geestelike bestemming te bepaal. Om die verkeerde keuse te maak, kom op rebellie teenoor God neer en plaas sulke mense onder God se oordeel (Joh. 3:18). Hy bied sy genade aan alle mense (Op 22:17), maar sal almal oordeel wat die evangelieboodskap verwerp deur die vergifnis van sonde en die ewige lewe wat deur Jesus Christus aan hulle gebied word, te weier (Op. 20:15).
Sedert die skepping van Adam en Eva, deur die eeue heen, moes mense kies of hulle die ware God wou dien, of een van die valse godsdienste wat deur Satan aan hulle gebied word (Rigt. 24:15; 1 Kor. 10:20). Nou, aan die eindes van die eeue, is ons baie naby aan die dag van afrekening. Die oordeel sal in die huis van God begin (1 Pet. 4:17), wanneer die gelowiges van alle eeue voor die regterstoel van Christus in die hemel sal verskyn (2 Kor. 5:10). Hierdie geleentheid sal deur die opstanding van die gelowiges voorafgegaan word, gevolg deur die wegraping (1 Thess. 4:16-17). Ná die wegraping sal die teruggevallenes, die naamchristene en al die ongelowiges, of hulle valse godsdienste beoefen het of nie, aan die misleiding en diktatorskap van die Antichris uitgelewer word (2 Thess. 2:9-12).
Omdat die wêreld baie naby aan die openbare verskyning van die verheerlikte Christus én van die Antichris is, word mense oral intensief beïnvloed om ‘n finale keuse tussen hierdie twee christusse te maak – die ware Christus en die valse christus. Hierdie situasie stem baie met die finale stadium van ‘n verkiesingsveldtog ooreen. Nou, meer as ooit tevore, moet ons die ware Christus en sy reddende genade aanvaar en ken, terwyl ons voorberei om rekenskap van ons lewens voor sy regterstoel te gee. Ons moet ook ten volle van die Antichris se planne bewus wees om mense te mislei en steun vir sy koninkryk te werf, wat ‘n sataniese nuwe wêreldorde sal wees. Hy én sy ideologie moet geheel en al verwerp word.
Wie het die beheer verkry in die stryd om jou siel? Jy is die een wat self ‘n finale besluit oor jou geestelike lojaliteit moet neem. Dit is tragies om te sien hoedat duisende gelowiges ‘n baie wankelrige verhouding met die Here Jesus het. Hulle leerstellige fondament is twyfelagtig, en as gevolg daarvan word hulle heen en weer geslinger deur elke wind van lering (Ef. 4:14). Indien hulle werklik ‘n persoonlike en intieme kennis van die Here Jesus gehad het, sou hulle hulself voor Hom verneder en heilige lewens gelei het terwyl hulle voorberei om Hom ná die wegraping voor sy regterstoel te ontmoet. In plaas hiervan is baie van hulle besig met die leerstellings van hulle kerke, en bevorder ‘n koninkryksteologie wat op ‘n mensgemaakte herlewing ingestel is. ‘n Groot aantal gelowiges verwerp die belofte van die wegraping en ontken ook die Bybelse waarskuwings dat daar ‘n letterlike Antichris en ‘n groot verdrukking sal wees (Matt. 24:21; 1 Joh. 2:18). Selfs al verwag hulle ook die koms van Christus, is hulle nie regtig daarvoor gereed nie. As gevolg van hulle swak kennis en verkeerde prioriteite is hulle kandidate vir die misleiding en groot afval van die laaste dae.
Verwysende na die tyd kort voor sy wederkoms, sê die Here Jesus: “Pas op dat niemand julle mislei nie... [want] baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei... hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Matt. 24:4,11,24). Johannes sê: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Joh. 4:1). Die Heilige Gees self “sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). Paulus het ook hierdie tye voorspel: “Weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars... mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Tim. 3:1-5). Nominale (ongeredde) Christene wat net ‘n gedaante van godsaligheid het (kerklidmaatskap sonder wedergeboorte) is hoofsaaklik vir die geestelike verval van die laaste dae verantwoordelik.
Dit is baie belangrik om die strategieë te verstaan wat deur die koninkryk van Satan gevolg word om sy eie belange te bevorder deur mense oral te mislei om ontrou teenoor die Here te wees, sy gesag te verwerp, ongehoorsaam aan sy bevele te wees en die evangelieboodskap te ignoreer. Satan se einddoel is om die Drie-enige God as die heerser van die heelal te vervang. Hy is ‘n nabootser wat homself as God voordoen, terwyl sy valse christus, die Antichris, vir Christus probeer vervang deur homself as die universele Christus van alle gelowe voor te doen. Die sataniese gees van dwaling boots die Heilige Gees na deur mens te bekragtig om ander gode te dien en wonderwerke deur middel van ‘n mistiese kragbron te doen.
In die nie-Christelike wêreld mislei Satan miljoene mense deur afgode te aanbid wat almal maskers is waaragter hyself skuil (1 Kor. 10:19-20). In die Christelike wêreld mislei hy Christene deur die beeld van God en die boodskap van die Bybel só verwronge voor te stel dat mense ‘n ander God deur ‘n ander Jesus aanbid. Dit gebeur onder die leiding van ‘n ander gees wat na aanleiding van die verkondiging van ‘n ander, verdraaide evangelie werksaam is (2 Kor. 11:4). Satan gebruik valse profete om sy vuilwerk te doen (2 Kor. 11:13-15). Hulle doen hulleself as hoogs toegewyde Christene voor, maar in werklikheid mislei hulle hul volgelinge om in die leuens van Satan te glo.
Sulke mense dien nie meer die ware God en sy Seun nie, maar jaag valse voorstellings van hulle na. As gevolg hiervan word daar ‘n valse, nominale Christendom in die wêreld gevestig. Hierdie mense se lewens is op valse fondamente gebou omdat hulle nie weergebore is nie en gevolglik nie ‘n verhouding met die Here Jesus het nie. Hulle regverdigmaking is op menslike werke gebaseer, asook op misleidende idees oor uitverkiesing en die beweerde saligmakende krag van die verbondsdoop. Omdat hulle slegs naamchristene is, gebruik hulle en hul predikers die naam van Christus net om hulleself én ander mense onder valse indrukke te bring, want hulle behoort nie regtig aan Hom nie (Matt. 7:22-23). Sulke predikers verkondig fabels ten einde mense se gehoor te streel (2 Tim. 4:3-4). As gevolg van hulle gebrek aan geestelike onderskeidingsvermoë identifiseer hulle heelhartig met vervalle Protestantisme, Rooms-Katolisisme en selfs die nie-Christelike gelowe. Hulle is geheel en al ekumenies ingestel.
Hulle is ontrou aan die ware Christus en huiwer nie om sy maagdelike geboorte, sy Godheid en die betekenis van sy plaasvervangende dood te verwerp nie, asook sy leerstelling dat niemand na die Vader kom behalwe deur Hom nie. Hulle is ook ontrou aan die Heilige Gees deurdat hulle hulself vir geestelike manifestasies oopstel wat nie in die Bybel geleer en onderskryf word nie. Hulle het ook ‘n voorliefde vir die koninkryksteologie wat op valse herlewings, tekens en wonders gebaseer is.
Omdat die Antichris aanvanklik sal voorgee om Christus vir die Christene te wees, asook Boeddha vir die Boeddhiste, die Imam Mahdi vir die Moslems en Krishna vir die Hindoes, sal sy eerste verskyning in die vorm van ‘n vredevors wees wat op ‘n wit perd ry (Op. 6:2). Eers nadat hy sy doel bereik het om die hele mensdom deur valse godsdienste te mislei (insluitende valse vorms van die Christendom), sal hy homself as ‘n duiwelbesete diktator openbaar wat alle teëstand deur geweld uit die weg sal ruim. Hy sal slegs gedurende die eerste 3½ jaar van die verdrukking ‘n vredevors wees, en dan in die tweede 3½ jaar ‘n magshonger diktator word wat erger as Nero, Stalin en Hitler gesamentlik, sal wees.
Ons moet almal ‘n duidelike keuse tussen die ware Christus en die Antichris maak. As ons sê dat ons aan die Here Jesus getrou is, dan moet ons ten nouste met sy dood en opstanding identifiseer. Dit vereis die totale verwerping van die wêreld en van sonde. Paulus sê dat hy die dinge van die wêreld as drek beskou om Christus as wins te verkry, “sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word” (Fil. 3:8-10). Hoeveel mense beskik oor hierdie soort kennis van Jesus Christus, wat hulle in staat stel om ten volle in sy dood en opstanding met Hom een te word? ‘n Toewyding van hierdie aard laat geen ruimte vir enige twyfel oor die maagdelike geboorte van Jesus (Matt. 1:23), sy Godheid (1 Joh. 5:20), sy ewige selfbestaan as die Logos wat die wêreld geskape het (Joh. 1:1-3; 8:58) die onfeilbaarheid van sy Woord (2 Tim. 3:16-17) en ook oor die belangrike leerstellings van regverdigmaking deur die geloof en heiligmaking deur die vervulling met die Heilige Gees nie. Ons moet gedurigdeur waak en bid as ons vir sy skielike koms gereed wil wees (Luk. 21:36). Om hierdie doel te kan verwesenlik, moet ons seker maak dat die olie van die Heilige Gees nooit in ons lewens ontbreek nie.
Diegene wat verwronge en valse idees oor die Christendom huldig, is volgelinge van ‘n ander Jesus (2 Kor. 11:4). Of hulle dit besef of nie, is hulle besig om die weg vir die verskyning van die groot eindtydse misleier, die Antichris, voor te berei. Ondersoek jouself of jy in die geloof is (2 Kor. 13:5). Slegs ware volgelinge van die Here Jesus is vir die wegraping gereed. Hulle sal nie eers die verskyning van die Antichris sien nie, want hulle sal dan reeds weg wees. Hulle sal sewe jaar later saam met Jesus Christus terugkeer na die aarde toe om in sy oorwinning oor die Antichris en sy misleide volgelinge te deel.
Alle mense in die wêreld word nou voorberei om óf die ware Christus óf die Antichris te ontmoet. Waarheen is jy op pad? Die groot meerderheid van die mensdom is duidelik op die breë pad en verwag die verskyning van die universele messias van alle gelowe. Johannes sê dat die hele wêreld verwonderd agter hom sal aangaan en hom ook sal aanbid (Op. 13:3-4). Voordat hierdie valse christus egter geopenbaar word, sal die ware gelowiges wat op die smal pad is, na hulle hemelse bestemming weggevoer word (Joh. 14:2-3). Petrus sê dat ons in Jesus Christus se voetstappe moet volg (1 Pet. 2:21). Dit sal ons daarvan vrywaar om navolgers van die valse christus te wees. Op watter pad is jy en wie is jou leidsman?