Koninkryksteologie

Prof. Johan Malan. Universiteid van die Noorde

Baie van die dwalings wat in Christelike kerke voorkom, ongelukkig ook in sekere evangeliese kerke, kan na die koninkryksteologie van die eindtyd herlei word. Predikers raak bekommerd oor die verskynsel van ‘n kwynende, halfhartige en passiewe Christendom omdat hulle eie aansien en inkomste ook daaronder ly.

In ‘n poging om hierdie situasie te verander, word baie van hierdie predikers deur ‘n misplaaste ywer aangevuur om die toekomstige openbaring van God se koninkryk op ‘n dramatiese en sigbare wyse nóú te laat realiseer. Die volgende metodes en hulpmiddels word deur hulle ingespan om “herlewing” en ’n transformasie na koninkrykstoestande te bevorder:

1. ‘n Buite-Bybelse ervaringsgodsdiens

In sommige van die moderne herlewingsbewegings (veral Word of Faith) word groot klem op manifestasies en gawes van die Heilige Gees gelê. Hoewel Jesus nie verloën word nie, word Hy subtiel op die agtergrond geskuif terwyl die klem hoofsaaklik op sintuiglik waarneembare gawes en werke van die Heilige Gees geplaas word. Hierdie manifestasies sluit die volgende in: Val in die gees, lag in die gees, die maak van ’n groot aantal dieregeluide, dronk word in die gees, braak in die gees, spoeg in die gees, dans in die gees, profeteer in die gees, en verskeie ander vreemde manifestasies.

‘n Valse herlewing van dié aard het vanaf gemeentes in Toronto, Brownsville en Pensacola na talle kerke en groepe oor die hele wêreld versprei. Rodney-Howard-Browne van Suid-Afrika het ‘n leidende rol hierin gespeel. Dit is ook deur die Alfa-kursus in verskeie kerke ingedra – onder meer die Anglikane.

Skielik het daar nuwe “lewe” in dooie kerke gekom. Byeenkomste het in vermaaklikheidsessies ontaard terwyl mense in groot getalle omval, onbeheersd begin lag en hulpeloos op die vloer rondkruip. Volgens hulle is dit ‘n bewys dat die koninkryk van God onder hulle neergedaal het. Die feit dat hulle met buite-Bybelse manifestasies besig is deurdat daar geen voorbeelde in die Bybel hiervan is nie, pla die leiers van hierdie “herlewingsbeweging” glad nie. Hulle sê dat God soewerein is en kan doen wat Hy wil. Volgens hulle is Hy nie eers aan sy eie Woord gebonde nie en kan dus dinge doen wat teenstrydig met sy Woord is.

Die ervarings wat mense by hierdie dienste het, al was hulle ook in ‘n semi-transtoestand, word aan wedergeboorte en vervulling met die Heilige Gees gekoppel. In die fase hierna word hulle deur ’n koninkryksvisie gemotiveer om as koningskinders te leef. Indien hulle groot bedrae geld vir die kerk gee, sal die Here hulle ryk en voorspoedig maak en hulle sal ook van probleme soos siektes en ander terugslae gevrywaar word. Wanneer die “gees” oor hulle kom, bv. gedurende ‘n lagbui in die kerk, sal hulle probleme soos mis voor die son verdwyn. Hoe sterker hulle geloof is, hoe meer sal die Here hulle op materiële gebied seën. Hulle skerp stygende inkomste en die luuksheid van hulle motors en huise is die sigbare bewyse van hierdie seën wat op hulle rus. Hulle is ook so “vry in die Here” dat hulle aan geen reëls gebonde is nie en feitlik kan doen net wat hulle wil. Sodoende word die deur wyd vir die hartstogte en begeerlikhede van die vlees oopgemaak.

Beoordeling. Die enigste vaste riglyn en finale gesag wat Christene oor leerstellige sake het, is die Woord van God. Ons opdrag is: “Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig… want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim. 4:2-4).

Mense wat nie by die Woord van God bly nie, wend hulle tot buite-Bybelse fabels (dit is mites of leuens). Daar is inderdaad ‘n menigte valse leraars in die eindtyd wat hulleself tot buite-Bybelse openbarings wend om ‘n populêre maar valse herlewingsbeweging op tou te sit. Die Here praat met hulle op ‘n buite-Bybelse manier deur drome, visioene, tale en soms deur ‘n hoorbare stem, terwyl die “gees” wat by  hulle byeenkomste vaardig is, in buite-Bybelse manifestasies spesialiseer. Dié gees “red” sondaars op ‘n buite-Bybelse manier deur hulle bloot te laat val en snaaks te laat optree. Die kruis-evangelie word in die proses heeltemal deur hierdie ervarings oorskadu en vervang.

Baie ander Christene val nou ook in dieselfde slaggat van buite-Bybelse openbarings, en maak dikwels daarop aanspraak dat die Here hulle deur drome en visioene lei. Dit is gewoonlik die begin van baie ernstige dwalings. Selfs al meen ‘n persoon dat die Here deur ‘n droom of visioen met hom gepraat het, dan mag hy dit nog steeds nie aan ander oorvertel en daardeur die dwaling laat posvat dat die Here nie meer primêr deur sy Woord met ons praat nie. Ons het net een duidelike en uitdruklike opdrag om God se wil aan mense bekend te maak, en dit is om sy Woord te verkondig – tydig en ontydig. In die ou tyd, voordat daar ‘n Bybel was, het die Here wél deur drome, visioene, ‘n hoorbare stem, en ook deur engele, tot mense gespreek, maar in hierdie laaste dae spreek Hy deur sy Seun (Heb. 1:1). Wat die Here deur sy Seun aan ons wil sê, is alles in sy Woord opgekrywe, daarom bevat dit die volle raad van God vir ons (Hand. 20:27). Ons mag niks hierby toevoeg nie.

Wat die werk van die Heilige Gees betref, is dit volgens die Bybel sy eerste taak om mense van hulle sonde te oortuig, en ook van die Here Jesus se geregtigheid, sodat hulle gered kan word (Joh. 16:8; 1 Kor. 12:3). Daarna lei Hy die gelowiges verder in die waarheid van die Woord (nie in vreemde ervarings nie) en maak hulle ook bekwaam om die Here te kan dien.

In die huidige, valse herlewing is daar egter geen sprake van ‘n duidelike sonde-oortuiging en sondebelydenis wat ‘n voorwaarde vir ‘n ware wedergeboorte is nie (1 Joh. 1:8-9). In plaas daarvan kom mense onder die beheer van vreemde geeste wat hulle in ’n transtoestand laat beland wat na lagbuie en tipiese simptome van dronkenskap en die maak van dieregeluide lei. God se Gees skep nie dierlike neigings en bedwelmdheid by mense nie, maar oortuig hulle op ‘n nugtere en verstaanbare wyse van hulle sonde en ongeregtigheid.

Verder leef ons nie nou in die oorvloedige en probleemvrye toestande van die komende koninkryk, wat eers ná Christus se wederkoms sal aanbreek nie. Ons is vreemdelinge en bywoners in ‘n goddelose wêreld, en moet met slegs basiese leefbare toestande tevrede wees (1 Tim. 6:8-12). Ons is nie nou konings nie, maar diensknegte en soldate vir Christus in ‘n vyandige wêreld.

Die mensgemaakte utopia wat deur hierdie valse koninkryksherlewing geskep word, asook die vryhede en oorvloed wat daarmee gepaard gaan, is besig om na totale bandeloosheid te lei – veral onder die jong geslag. Sonde-oortuiging, ingetoënheid, ware heiligheid en ‘n bereidwilligheid om vir Christus te ly, is eienskappe wat totaal by hulle afwesig is. In die plek hiervan word daar onder die verradderlike vaandel van die koninkryksteologie aan die vlees vrye teuels gegee.

2. Valse profete en apostels

Een van die populêre metodes in die koninkryksteologie is die gebruikmaking van profete en apostels met groot magte. Hulle spesialiseer in buite-Bybelse openbarings in assosiasie met ‘n buite-Bybelse (okkultiese) mag om tekens en wonders te kan doen. Die algemeenste tekens is genesingswonders, asook goudstof of olie wat op mense se hande, arms of hare verskyn.

Volgens hulle eie aanspraak word baie van die profete en apostels klein godjies, en eien hulleself die mag toe om selfs net deur hulle woorde wonderwerke te doen (“name it and claim it”). Hulle leer hul volgelinge om ook so te maak. Baie mense het ‘n blinde geloof in hierdie apostels en reis duisende kilometers met hulle siekteprobleme agter profete soos Bennie Hinn, Rick Joyner en T.B. Joshua aan.

Beoordeling. Daar is twee groot probleme met die eindtydse profete wat God se koninkryk probeer vestig: 1. Hulle word kultusleiers omdat mense hulle as persone met spesiale magte sien wat uit eie inisiatief wonderwerke kan doen. 2. Hulle buite-Bybelse openbarings is onverifieerbaar in die Bybel, en dus vir hulle ’n handige metode om die ergste denkbare dwalings onder hulle volgelinge in te dra. Omdat hulle na bewering wonderwerke kan doen, glo mense ook alles wat hulle sê. Die Here Jesus het ons ernstig teen hierdie soort profete gewaarsku, wat in die eindtyd in groot getalle na vore sal kom: “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei… hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Matt. 24:11, 24). Dit sal by uitstek die metode wees waardeur die valse profeet en sy meelopers die wêreld sal mislei om die Antichris in die plek van die ware Christus te aanvaar en te aanbid (Op. 19:20).

3. Transformasie-herlewing

Daar is ook ‘n groeiende beweging in die wêreld om die koninkryk van die Here deur middel van ’n rekonstruksionistiese transformasie te vestig. Sommige van die voorstanders hiervan is erg charismaties en vind aansluiting by die twee bewegings wat hierbo genoem is (bv. Peter Wagner), terwyl andere nie charismaties is nie. Die basiese uitgangspunt van hierdie beweging is dat die koninkryk van Satan eers van sy invloed en mag gestroop moet word sodat die struikelblokke teen die vestiging van God se koninkryk en die uitbreek van herlewing uit die weg geruim kan word.

Om dit te kan doen, moet Christene van verskillende kerke hande vat en kragte saamsnoer sodat suksesvolle strategiese geestelike oorlogvoering teen die vestings van Satan gedoen kan word. Dit behels massa-byeenkomste op stadions, ens. Eers daarna sal ’n transformasieproses na ‘n Christelike samelewing plaasvind omdat die vestings van sonde en ongeregtigheid afgebreek is. Bewegings wat hulleself hiervoor beywer is, onder meer, Peter Wagner se World Prayer Center, George Otis van die Sentinel-groep, Mike Bickle van die Kansas City Prophets, Bennie Mostert van Nupsa, Marches for Jesus en Turning the Tide. Bruce Wilkinson (tans met sy nuwe visie in SA) het ook sy gewig hierby ingegooi.

Die afbreek van bose vestings in ‘n stad of in ‘n land vereis gebedsmarse waarin vestings wat vooraf bepaal is, bestraf en deur simboliese gebare afgebreek word. Poortwagters bid dan by toegangsweë sodat die duiwels nie weer na die stad of land terugkeer nie. Hierdie geestelike reinigingsaksie het ook ‘n historiese dimensie deurdat die sondes wat die voorouers gedoen het, ook bely en die betrokke bloedlynvloeke verbreek word (in ‘n afsonderlike artikel word hierdie dwaling in meer besonderhede bespreek). Aanvullend tot die verbreking van bose vestings en bloedlynvloeke moet die inwoners van ‘n stad of land ook teenoor mekaar hul sondes van die hede en verlede bely sodat eenheid en versoening geskep kan word. Dit sal die koninkryk laat neerdaal.

Beoordeling: Die transformasiebeweging is op ‘n paar baie ernstige dwalings gebaseer. Ons het geen Bybelse opdrag of outoriteit om bose vestings in die lug neer te werp en sg. gebiedsdemone te bind nie. Slegs individue kan uit satansmag bevry word. Die ongeredde wêreld sal tot by die wederkoms in die mag van die Bose bly, want eers dán sal Satan van sy invloed en mag gestroop en in ‘n bodemlose put gebind word.

Die transformasiebeweging se sterk beklemtoning van duiweluitdrywing uit mense én uit dorpe of stede, neem die klem heeltemal van die vlees af weg wat tussen mense en ‘n Geesvervulde lewe staan. Indien hulle eerder op die kruisiging van hulle sondige natuur konsentreer en die Here vir vervulling met sy Gees vertrou, sal Christene nader aan die ideaal van herlewing kom.

Opvattings oor bloedlynvloeke is ook ‘n groot dwaling in die beweging, omdat dit op die idee berus dat die versoening tydens jou wedergeboorte onvolledig is. Volgens hulle word die sondes wat jy van jou vaders geërf het, nie by jou redding en regverdigmaking uitgewis nie, daarom kort daar nog ‘n sessie van innerlike reiniging en die verbreking van bloedlynvloeke. Volgens hulle het die Here nie ‘n volkome werk in jou lewe gedoen toe Hy jou siel gered het nie, omdat Hy jou nie van alle ongeregtighede gereinig het nie. Hulle voer dan sekere bevrydingsaksies uit wat aanvullend tot Christus se versoeningswerk by wedergeboorte is.

Ons moet dit duidelik stel dat die transformasiebeweging ‘n onbybelse metode is om die koninkryk van Christus voor sy wederkoms in dorpe, stede en lande te vestig. Daar is geen opdrag tot dié effek in die Bybel nie. ‘n Volledige transformasie na Christelike samelewings sal eers in die duisendjarige vrederyk plaasvind, soos in Jesaja 2:2-4, 11:9, 19:23-25 en in Jeremia 3:17 beskryf word. Sagaria sluit by hierdie profesieë oor Christelike volke en stede aan wanneer Hy sê:

So sê die Here van die leërskare: Nog sal volke aankom en die inwoners van baie stede. En die inwoners van die een stad sal gaan na die ander en sê: Kom, laat ons heengaan om die aangesig van die Here om genade te smeek en die Here van die leërskare te soek. Ek wil ook gaan! So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die Here om genade te smeek. So sê die Here van die leërskare: In dié dae [dit is in die komende vrederyk] sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is (Sag. 8:20-23).

Hierdie profesieë sal duidelik eers in die Messiasryk (die toekomstige koninkryk van Christus op aarde) vervul word, en kan op geen manier nóú deur ’n ekumeniese transformasiebeweging geskep word nie. Wat die huidige bedeling betref, sal die nasies in die verharding van hul bose harte voortgaan tot met die wederkoms van Christus. Dit is die rede waarom hulle maklik deur bose geeste mislei sal word om na Armagéddon op te trek en selfs teen Christus te veg (Op. 16:13-14).

In hulle sondige toestand sal die nasies tot die einde toe voortgaan om die Christendom te verwerp deur bv. Christelike wette en reëls af te skaf (Ps. 2) en Israel as God se volk te opponeer en ook hulle godgegewe land te verdeel (Joël 3:1-2). Die nasies sal ook as gevolg van hulle gebrek aan kennis oor God se wil teen Israel en Jerusalem veg en daardeur die vloek van Génesis 12:3 oor hulleself bring (Sag. 12:3 en 14:12-13).

Israel sal as volk ook in hulle geestelik verblinde toestand aanhou om die Messias te verwerp todat Hy sy voet op die Olyfberg neersit, wanneer Israel as ‘n volk tot verootmoediging en nasionale bekering sal kom en sal opsien na Hom vir wie hulle deurboor het (Sag. 12: 10-14). Eers daarna, in die Messiasryk, sal die geredde Israel se guns deur al die nasies gesoek word.

In die huidige situasie sal die stryd, vyandskap en sondigheid in die wêreld erger word (Op. 22:11), en geen transformasiebeweging sal enigsins daarin slaag om nou reeds Christelike koninkrykstoestande op aarde te skep nie. Daar moet nou, soos tydens die hele bedeling van die kerk, ‘n geestelike wapenrusting aangetrek word sodat ons kan staande bly teen die liste van die duiwel (Ef. 6:10-13). Hierdie wapenrusting is tot ons voordeel gegee om ons in die stryd teen die Bose staande te hou, en nie om die Bose se vestings in die lug neer te werp en sodoende ons stad of land uit satansmag te bevry nie. Vestings van sonde wat wél neergewerp kan word, is binne-in die hart en gemoed van die mens waar dit by verkeerde gedagtes begin (2 Kor. 10:3-5).

Mense moet nou soos brandhout uit die vuur geruk word, en hiervoor moet die ou-ou tyding van die Here Jesus se reddende genade aan hulle verkondig word. Hoe meer persoonlik hierdie gesprekke is, hoe beter. Ekumeniese massabyeenkomste op sportstadions, tussen mense wat nie eers oor die verlossingsleer saamstem nie, is van twyfelagtige waarde. Kompromieë met vormgodsdienstige politieke leiers sal ook nie die verlangde effek hê nie. Die Here se opdrag is dat ons heupe omgord en ons lampe aan die brand moet wees (ons verhouding met Hom moet absoluut reg wees) en dan moet ons uitgaan na die paaie en lanings om verlore skape op te soek en na die kudde van God in te bring. Dit is al oor en oor bewys dat geestelike gesprekke in ‘n persoonlike of kleingroepsverband baie meer doeltreffend as groot byeenkomste is. Vir laasgenoemde is daar ook plek, mits daar nie onbybelse koninkryksvisies aan dit gekoppel word nie, want dan lei dit na valse verwagtings en dwalings.

4. Die ekumeniese beweging

Een van die sterk motiverings in die kerklike wêreld is om ekumeniese eenheid te skep in ‘n poging om daardeur die koninkryk van God sigbaar te laat manifesteer. Die algemene siening is dat verdeeldheid tussen kerke in die weg van herlewing staan. In baie lande is daar reeds ekumeniese rade wat hulle daarvoor beywer om kerke te verenig, soos bv. die Suid-Afrikaanse Raad van kerke in ons eie land. Die meeste van hierdie streeksrade is by die Wêreldraad van Kerke (WRK) geaffilieer.

Een van die kenmerke van die ekumeniese beweging, veral binne die verband van die WRK, is leerstellige kompromie. Gemeenskaplikhede word só vaag gedefinieer dat alles en almal geakkommodeer kan word. Die WRK se siening is dat leerstellings verdeel, maar diens verenig. Kerke moet dus eerder hande vat om armoede, konflik, siektes en diskriminasie te beveg as om die evangelie van verlossing te verkondig.

Hierdie denkraamwerk van leerstellige kompromie het alreeds daartoe gelei dat Christelike ekumene in multigodsdienstige ekumene oorgegaan het. Daar word nou geglo dat alle gelowe op aarde dieselfde God aanbid en dus almal kan hande vat om vrede en eenheid in ons verdeelde en konflik-geteisterde wêreld te skep.

Beoordeling. Die SA Raad van kerke wat by die WRK geaffilieer is, is die toetreepunt tot die ekumeniese beweging in Suid-Afrika. In die WRK is daar reeds sterk elemente van multigodsdienstige denke gevestig, wat dit binne die raamwerk van wêreldekumene plaas. Daar is geen Bybelse regverdiging om eers net waarnemerstatus by ‘n ekumeniese liggaam te aanvaar nie. Ons mag onder geen omstandighede in dieselfde juk saam met hulle trek nie (2 Kor. 6:14-18). Die Rooms-Katolieke Kerk is met ‘n soortgelyke intergeloofsvirus besmet en werk hartlik saam om die weg vir die nuwe wêreldorde se universele alliansie van godsdienste te baan.

Die ekumeniese beweging het reeds heeltemal vervals geraak deurdat dit ontrou aan die Drie-enige God en sy Woord is. Dit is ‘n wegbereider vir die koms van die kosmiese christus van alle gelowe, nl. die Antichris. Die groot fout wat die WRK al in sy beginjaar in 1948 gemaak het, was om die Bybelse begrip van geestelike eenheid in Jesus Christus as ‘n verskoning vir strukturele eenheid te gebruik, soos uitgedruk deur sy credo: “Een kerk vir een wêreld.” Hierdeur is die klem van die vertikale, mens-God-verhouding af na die horisontale verhouding tussen mense en kerke verplaas.

Die gevolg hiervan was dat menslike (sekulêre) sake die oorhand in besprekings gekry het; daarom is die agendas van vergaderings toenemend deur politieke en sosio-ekonomiese kwessies oorheers. Dit het daartoe gelei dat rassisme, armoede en onderdrukking beveg is, terwyl die geestelik verdorwe toestand van die miljoene verlore mense nooit eers in ag geneem is nie. Geen leerstellige insig is getoon nie, en spoedig is godsdienstige universalisme aanvaar, wat die duiwelse dwaling is dat daar saligheid in alle gelowe is.

Uit ‘n Bybelse oogpunt het daar niks goeds uit die ekumeniese beweging gevloei nie – slegs geestelike afvalligheid en onverskoonbare kompromie tussen die Protestante en Katolieke, asook tussen die Christendom en die nie-Christelike gelowe. Uit ‘n vervalsde godsdienstige assosiasie van hierdie aard kan net die Antichris en sy komende nuwe wêreldorde voordeel trek.