Prof. Johan Malan, Middelburg, 28 Aug. 2008
Rusland is ten sterkste deur die Weste veroordeel vir sy onlangse inval in Georgië, ‘n daad waardeur hulle op ‘n onheilspellende wyse die Koue Oorlog hervat het. Amerika, Brittanje, Frankryk en Duitsland het vinnig gereageer en skerpbewoorde protes teen Rusland se skending van Georgië se gebiedsintegriteit aangeteken. Die probleem is vererger deurdat Rusland ná ‘n skietstaking net gedeeltelik uit Georgië onttrek het, asook deur hulle besluit om ‘n permanente teenwoordigheid in die twee wegbreekprovinsies, Suid-Ossetia en Abkhazië, te handhaaf. As regverdiging hiervoor het die Russiese president, Dmitry Medvedev, hierdie twee gebiede eensydig as onafhanklike state erken en die res van die węreld gevra om dieselfde te doen.
Medvedev het as Russiese leier ‘n totaal nuwe koers in węreldpolitiek ingeslaan toe hy op 26 Augustus in ‘n televisie-onderhoud met die BBC gesę het: “Ons is nie vir enigiets bang nie – selfs nie vir die moontlikheid van ‘n Koue Oorlog nie.” Waarom sou hy sulke drastiese standpunte inneem as daar nie vir Rusland geweldig baie op die spel is nie? Wat is die einddoel waarop die Russe afstuur en waarom is hulle bereid om op diplomatieke en militęre gebied só baie daarvoor op te offer? Daar is ‘n paar ontstellende antwoorde op hierdie vrae. Om die Koue Oorlog in die regte perspektief te kan stel, moet ons net weer kyk wat dit was en waarheen dit gelei het.
‘n Koue oorlog is nie ‘n direkte, verklaarde oorlog nie, maar nogtans ‘n hewige stryd wat van verskeie fronte af gevoer word. Hierdie term word gebruik om die toestand van konflik, spanning en kompetisie te beskryf wat tussen die middel-veertigerjare en die vroeë 1990’s tussen die Verenigde State en die Sowjet-Unie en hulle onderskeie bondgenote bestaan het.
Dwarsdeur hierdie tydperk was daar groot wedywering tussen die twee supermoondhede, soos gesien kan word in hulle groot militęre bondgenootskappe (NAVO en die Warskouverdraglande), die propagandaveldtog waarin Westerse vryhede (insluitend godsdiensvryheid) teen ateďstiese kommunisme verdedig is, spioenasie op mekaar, wapenontwikkeling, tegnologiese wedywering (bv. die ruimtewedloop), grootskaalse militęre besteding, die kernwedloop, asook verskeie oorloë tussen sg. ‘derde partye’ wat deur die supermoondhede bemagtig is. Voorbeelde van hierdie oorloë is die Koreaanse Oorlog, die Berlynse krisis, die Viëtnamese Oorlog, die Sowjet-Afghaanse Oorlog, verskeie oorloë tussen Amerikaans-gesteunde Israel en hulle Russies-gesteunde Arabiese vyande, asook talle Russies-gesteunde terroriste-oorloë in Afrika, Suid-Amerika en Suidoos-Asië. Die Kubaanse missielkrisis van 1962, waarin Rusland probeer het om missiele in Kuba te ontplooi wat op Amerikaanse teikens gerig is, het byna tot ‘n węreldoorlog gelei.
Die Koue Oorlog is in 1990 beëindig. Ronald Reagan was president van Amerika en hy het aansienlike diplomatieke, militęre en ekonomiese druk op Rusland uitgeoefen. Die Russiese leier, Mikhail Gorbachev, het deur middel van ‘n beleid van perestroika en glasnost hervormings ingestel wat die einde van ‘n rigiede kommunistiese diktatuur meegebring het en in 1991 tot die val van die Sowjet-Unie, asook die Kommunistiese Party, gelei het. Vyftien onafhanklike state het uit hierdie Unie ontstaan, waarvan die Russiese Federasie verreweg die grootste en sterkste is. Amerika was hierna die enigste supermoondheid in die węreld.
Oos-Europese lande wat vroeër deel van die Warskouse Verdrag met die Sowjet-Unie was, het vir ekonomiese hulp na die Weste gekyk om uit hulle armoede op te staan, en ook demokratiese hervormings ingestel om van kommunistiese diktature ontslae te raak. Die Berlynse muur het geval en Oos- en Wes-Duitsland is herenig. Die ystergordyn wat vrye Wes-Europa en Kommunistiese Oos-Europa tydens die Koue Oorlog geskei het, is afgetakel en Rusland se invloed het aansienlik gekwyn. Rusland was self ook verplig om met sy ernstige ekonomiese probleme vir finansiële hulp na die Weste te kyk.
Alles het daarop gedui dat spanning en konfrontasie in internasionale verhoudings besig was om skerp af te neem. Dit sou egter nie baie lank duur nie, want die enigste twee Russiese leiers wat regtig ten gunste van fundamentele hervormings was, was Mikhail Gorbachev en Boris Yeltsin. Weldra sou Rusland onder Vladimir Putin weer strategieë instel om sy verlore aansien as supermoondheid te probeer herwin. Eers is daar vreedsame metodes gebruik, maar nou skakel Rusland weer al hoe meer oor na hulle ou metodes van intimidasie en militęre geweld.
Putin het twee termyne lank, van Mei 2000 af tot in Mei 2008, as Russiese president gedien. Daarna was hy nie weer herkiesbaar nie. Die nuwe president, Medvedev, het egter dadelik vir Putin as eerste minister aangestel. Putin het sedert 2000 ongekende populariteit in Rusland geniet (tot meer as 80% openbare steun), hoofsaaklik omdat sy bewind met ‘n tydperk van groot vryhede vir die landsburgers, en ongekende ekonomiese groei saamgeval het. Hy het self ook ‘n skatryk man geword, met bates van miljarde dollars. Effektief beklee hy steeds die oppergesag in Rusland.
Ten spyte van die groter persoonlike vryhede, het Putin nooit volle persvryheid toegelaat nie. Hy het meedoënloos teen joernaliste opgetree wat sy persoonlike korrupsie asook die korrupsie van sy regering aan die lig gebring het. Sommige van hulle het op vreemde maniere gesterf. Putin het ook baie hard teen politieke teëstanders en rebelle in Rusland opgetree, soos duidelik uit die hantering van opstande in Chechnya geblyk het. Sy verhouding met die voormalige Sowjet-republieke se regerings is meesal ook nie goed nie, veral dié wat hulle tot Europa en die Weste gewend en by die Europese Gemeenskap en NAVO aangesluit het. Hy sien dit as ‘n groot bedreiging vir Rusland se magsuitbreiding. Hierdie oriëntasie weg van Rusland af het hom ook met voormalige kommunistiese lande in Oos-Europa in konflik gebring, veral Pole, omdat hulle met Amerikaanse hulp verdedigingstelsels teen Rusland oprig.
‘n Groter konfrontasie met die Weste is ook aan die ontwikkel. Die Russiese president waarsku dat sy land militęr kan reageer op die Amerikaanse missiel-skild in Europa. Medvedev sę die oprigting van missielafweerstelsels naby aan Rusland se grens “sal verdere spanning skep. Ons sal hierop moet reageer, en dié reaksie sal militęr wees.” Medvedev het hierdie verklaring op 26 Augustus aan die RIA-Novosti-nuusagentskap gemaak. Russiese amptenare het reeds oor ‘n militęre reaksie teen die Amerikaanse planne gewaarsku, en die uitlating deur die Russiese leier sal die reeds gespanne verhouding met die Weste verder laat versleg. Hierdie kommentaar het gevolg nadat Medvedev die twee gebiede in Georgië as onafhanklike state erken het en daardeur kritiek uit Amerika en Europa ontlok het.
Putin se droom van Rusland as ‘n herstelde supermoondheid laat hom noodwendig vir uitbreiding na die suide kyk. Aan die oostekant is Sjina en aan die westekant Europa; dit laat hom net met die moontlikheid van ‘n suidwaartse uitbreiding in die rigting van die Midde-Ooste. Noue bande met Iran, Sirië en ander Arabiese lande, asook die moontlikheid van groter beheer oor die Midde-Oosterse olievelde, gee verdere stukrag aan Rusland se suidwaartse uitbreiding. Georgië is egter een van die lande wat in Rusland se pad lę, daarom die onlangse poging tot die militęre onderwerping en anneksasie van dié land.
Hoewel Rusland onder groot internasionale druk uit dele van Georgië onttrek het, is dit beslis net tydelik. Hulle gaan nie toelaat dat Georgië ‘n Westerse bondgenoot word wat in Rusland se pad na die Midde-Ooste staan nie. Die een wegbreek-provinsie, Suid-Ossetia, het reeds gevra dat Rusland ‘n militęre basis in hulle gebied oprig. Verdere belangrike verwikkelings kan dus in hierdie gebied verwag word.
Volgens Esegiël 38 en 39 gaan Rusland in die eindtyd in ‘n bondgenootskap met verskeie Arabiese lande ‘n verrassingsaanval op Israel doen. Dit is juis uit hierdie oogpunt belangrik om Rusland se suidwaartse militęre opmars te beoordeel. Dit gaan dus vir hulle oor veel meer as net die inname en beheer van een klein republiek suid van hulle. Hiervoor alleen sal hulle nie hulle internasionale reputasie só erg skaad nie. Nee, hulle het ‘n baie groter en boser doel voor oë, en dit is om saam met radikale Islamitiese bondgenote soos Iran en Sirië teen Israel op te trek.
Iran het reeds by herhaling gedreig om Israel van die węreldkaart af uit te wis, omdat die Sionistiese staat as ‘n voorpos van Amerikaanse imperialisme in die Midde-Ooste gesien, en volgens Mahmoud Ahmadinejad gebruik word om verdeeldheid onder Islamitiese state te skep. Hierdie lande het al by herhaling teen Israel geveg, maar kan nie op hulle eie oorwin nie. Dit is waarom hulle nou alles probeer om Rusland se betrokkenheid te verkry. Vir Rusland is daar die aanloklike moontlikheid om ten koste van Amerika en Europa beheer oor die strategies en ekonomies belangrike Midde-Ooste te verkry. Hulle besef dat dié supermoondheid wat die Midde-Ooste beheer, ook die węreld van die toekoms sal beheer.
Iran se ontwikkeling van kerntegnologie gaan vinnig voort met die intensiewe hulp van Russiese wetenskaplikes en tegnici. Die kontrak vir die verdere ontwikkeling van hulle olie- en gasvelde is ook aan ‘n groot Russiese maatskappy toegeken. Verder is dit duidelik dat Rusland die Moslems se vyandigheid teen Israel deel. Hierdie haat kom ‘n lang pad uit die tyd van die tsaars meer as ‘n eeu gelede, en dit het veral in kommunistiese Rusland hoogty gevier.
Die verwerping van die uitverkore volk, saam met Rusland se lang geskiedenis van die vervolging van die Christendom, is die rede waarom die Here in Eseg. 38:3 en 39:2-4 sę dat Hy Rusland en ander vyandige volke na die berge van Israel sal laat optrek om daar met hulle in die gerig te tree. Ons is baie naby aan die vervulling van hierdie profesie. Rusland is reeds met sy eerste oefenlopie besig om suidwaarts op te ruk. Die hervatting van die Koue Oorlog gaan al hoe meer daartoe lei dat Rusland hulle nie langer aan die węreldmening sal steur nie. Putin se lang loopbaan in die KGB het ook aan hom baie ervaring gebied oor hoe om geheime komplotte met ewe bose bondgenote te smee ten einde sy drang na węreldoorheersing ten uitvoer te bring.
Dit is die breër prentjie wat ons in gedagte moet hou wanneer ons na daaglikse nuusgebeure uit Rusland en die Midde-Ooste luister. Moenie die fout maak om Putin as ‘n gematigde, vryheidsliewende man te sien wat kommunisme verwerp nie. By die bekendstelling van ‘n eietydse geskiedenisboek oor Rusland sedert die Tweede Węreldoorlog, het hy op ‘n konferensie die boek se sentiment gedeel om eer aan Josef Stalin as ‘n groot leier te bring. Hy het gesę dat Stalin wél wreed was, maar nogtans ‘n baie suksesvolle leier. Die Russe moet volgens hom trots op hulle geskiedenis wees. In elk geval, het hy bygevoeg, het Amerika veel groter wreedhede met die afgooi van kernbomme op Hirosjima en Nagasaki gepleeg.
Die węreld moet nie Rusland se bose rol in die geskiedenis onderskat nie, en beslis ook nie die ewe bose rol wat hulle volgens die Bybel in die eindtyd gaan speel nie. Hulle het reeds noue bande met radikale Islam gesmee, en hieruit kan niks goeds kom nie.