Die Here Jesus vergelyk sy begrafnis en opstanding uit die dood met die ondervinding van Jona: “Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Matt. 12:40). In Jona 1:17 staan daar: “...en Jona was drie dae en drie nagte in die ingewande van die vis.” Proff. Walvoord en Zuck (Bible Knowledge Commentary, bl. 1467) sê die volgende hieroor: “Die uitdrukking ‘drie dae en drie nagte’ dui nie noodwendig ‘n periode van 72 uur aan nie, omdat dit een dag en gedeeltes van twee ander dae kan wees.” Vergelyk in hierdie verband ook Ester 4:16 en 5:1, waar Ester ‘n vastydperk van drie dae en drie nagte beveel het, maar op die derde dag, voordat die dag verby was, het sy reeds haar doel hiermee bereik.
Sommige mense het steeds ‘n probleem daarmee dat Jesus nie drie volle dae en nagte (m.a.w. 72 uur) in die graf was nie, en wend pogings aan om sy kruisiging van die Vrydag af na die Woensdag te vervroeg. Die feit is egter dat die Jode inklusiewe tydsberekening beoefen waarin ‘n gedeelte van ‘n dag ook as ‘n volle dag beskou word. In hulle Bible Knowledge Commentary (bl. 47) sê proff. Walvoord en Zuck oor hierdie teks: “Since Jews reckoned part of a day as a full day, the ‘three days and three nights’ could permit a Friday crucifixion.” In ‘n addendum tot die Strong’s kommentaar word 41 gebeurtenisse saam met skrifverwysings gelys wat gedurende die week van Jesus se kruisiging gebeur het – dit is vanaf sy intog in Jerusalem tot met sy kruisiging en begrafnis. Dit bevestig bo alle twyfel sy kruisiging op ‘n Vrydag.
Volgens die Bybel, asook ander ondersteunende bronne, is Jesus die Vrydagmiddag kort voor die aanbreek van die Sabbat begrawe, en het vroeg op die eerste dag van die week (Sondag) opgestaan. Die dag waarop Hy gekruisig is (Vrydag) was dus die eerste dag, Saterdag (die Sabbat) was die tweede dag en Sondag (sy opstandingsdag) die derde dag. In die Joodse chronologie word só ‘n tydperk as “drie dae en drie nagte” beskryf, of bloot net as “drie dae.” Joodse dae strek vanaf sononder tot sononder die volgende dag. Die derde dag ná die kruisiging het dus die Saterdagaand teen sononder al begin.
Die Emmausgangers bevestig hierdie feite. Die dag toe Jesus opgestaan het (die Sondag) was hulle op pad na Emmaus (Luk. 24:13). Onbewus daarvan dat Jesus self by hulle aangesluit het, vertel hulle van die gebeure rondom sy kruisiging wat vroeg die Vrydagoggend begin het, en voeg by: “Ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos; maar nou is dit vandag, met dit alles, die derde dag vandat dit plaasgevind het. Maar sommige vroue uit ons het ons ook ontstel toe hulle vroeg by die graf was; en toe hulle sy liggaam nie kry nie, het hulle ook gekom en gesê dat hulle ‘n gesig gesien het van engele wat sê dat Hy lewe” (Luk. 24:21-23). Sondag was dus die derde dag sedert die kruisiging van Jesus, wat die vorige Vrydag plaasgevind het.
Op hierdie Sondagmiddag, die derde dag, toe die Emmausgangers met Jesus gepraat het, het Hy etlike ure vroeër reeds uit die graf opgestaan: “En op die eerste dag van die week kom Maria Magdalena vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was” (Joh. 20:1). Nadat Jesus met die Emmausgangers in gesprek was, nog steeds op die dag van sy opstanding, het Hy ook aan sy dissipels verskyn (Joh. 20:19).
Jesus was dus net ‘n gedeelte van die derde dag in die graf, net soos wat Hy slegs ‘n gedeelte van die voorafgaande Vrydag in die graf was. In ‘n Joodse verband word dit nietemin as drie dae en nagte beskryf, al is net gedeeltes daarvan ter sprake. Die Emmausgangers se gesprek skakel alle spekulasie oor ‘n vroeëre kruisigingsdatum uit. Indien Hy Woensdag (die vierde dag van die week) gekruisig en begrawe is, dan sou dit op die Sondag al die vyfde dag gewees het sedert dit gebeur het, maar hulle sê duidelik dat dit die derde dag was!
Volgens inklusiewe tydsberekening word ‘n gedeelte van ‘n dag as ‘n volle dag beskou, gevolglik kan ‘n week (bv. van Woensdagmiddag af tot die volgende Woensdagmiddag) ook as agt dae beskryf word omdat altwee Woensdae as volle dae getel word. Die loofhuttefees in Israel word vir ‘n week lank, van die 15de tot die 22ste dag van hulle sewende maand gevier: “Spreek met die kinders van Israel en sê: Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit sewe dae lank die huttefees vir die Here. Op die eerste dag moet daar ‘n heilige vierdag wees... Sewe dae lank moet julle aan die Here ‘n vuuroffer bring. Op die agtste dag moet daar vir julle ‘n heilige vierdag wees” (Lev. 23:34-36). Die laaste dag van hierdie week, naamlik die agtste dag, was die groot dag van die fees (vgl. Joh. 7:2,37).
In Levitukus 23 staan daar die volgende oor die fees van die 50ste dag: “Dan moet julle tel van die dag ná die Sabbat... sewe volle weke moet dit wees; tot die dag ná die sewende Sabbat moet julle vyftig dae tel” (Lev. 23:15-16). Hierdie 49 dae tussen ‘n Sondag en ‘n ander Sondag sewe weke later, word 50 dae genoem omdat die eerste en laaste Sondae beide as volle dae getel word. In die Nuwe Testament is hierdie twee feeste tussen die opstanding van Jesus op ‘n Sondag en die uitstorting van die Heilige Gees sewe weke later ook op ‘n Sondag, vervul. “Pinkster” beteken “Vyftigste” – dit is die fees van die vyftigste dag.
Die Ou Testamentiese fees van die eerste vrugte is op sy regte tyd in die Nuwe Testament vervul, naamlik op die twee Sondae waarop dit begin het en sewe weke later afgesluit is. Let op die duidelike bepalings: “...die dag ná die Sabbat.” Sondag is die eerste dag van ‘n nuwe week, of dispensasie, in God se raadsplan vir die mens. In hierdie bedeling word die opstanding van Jesus spontaan elke week op Sondae as die dag van die Here gevier. Die fees van die eerstelingsgerf in Levítikus 23 is die vroegste aanduiding in die Ou Testament van ‘n toekomstige Sondagviering as ‘n Christusfees. Op dié dag verkondig ons die boodskap: Hy het opgestaan, Hy leef! Jesus self het op die Sondag van sy opstanding die eerste preek van die nuwe bedeling gelewer, asook ‘n week later, weer op ‘n Sondag, die tweede een (Joh. 20:19-29). Daarna het die dissipels spontaan op Sondae bymekaargekom (vgl. Hand. 20:7 en 1 Kor. 16:1-2), terwyl die uitstorting van die Heilige Gees as die geestelike toerusting vir wêreldevangelisasie, ook op ‘n Sondag plaasgevind het.
Die kruisiging van die Here Jesus op Goeie Vrydag, sy opstanding drie dae later op ‘n Sondag, asook die uitstorting van die Heilige Gees op ‘n Sondag, is kerndatums op die Christelike kalender. Sy hemelvaart het op ‘n Donderdag, 40 dae ná sy opstanding en tien dae voor die uitstorting van die Heilige Gees, plaasgevind.
In Daniël 9:24-27 word daar ‘n duidelike profesie oor die tyd van die Messias se kruisiging gegee, waaruit dit blyk dat Hy aan die einde van die 69ste jaarweek gekruisig is – dit was op ‘n Vrydag. In hierdie profesie word van profetiese jare van 360 dae elk gebruik gemaak, waarin elke maand 30 dae het (vgl. Op. 11:2-3, waar 42 profetiese maande presies 1260 dae lank is).
Daar het 69 jaarweke (483 profetiese jare) verloop vandat koning Artasásta op 1 Nisan 445 v.C. aan Nehemia toestemming gegee het om Jerusalem te gaan herbou (Neh. 2:1-8), tot met die kruisiging van die Messias op 14 Nisan 32 n.C. Prof. J.M. Schepers van die Randse Afrikaanse Universiteit het in ‘n artikel (“Die kruisigingsdatum van Jesus eeue tevore geprofeteer”) daarop gewys dat 483 profetiese jare van 360 dae elk, ‘n totaal van 173 880 dae verteenwoordig. Wanneer dit deur 365¼ gedeel word, is dit gelyk aan 476,06 seisoensjare op ons Gregoriaanse kalender. Op hierdie kalender het die 69 jaarweke dus tussen 23 Maart 445 v.C. en Vrydag 11 April 32 n.C. verloop, en is beëindig op die Vrydag waarop Jesus gekruisig is.
Die vervulling van die Ou Testamentiese Pasga was met die kruisiging van die vlekkelose Lam van God wat in die volheid van die tyd mens geword het om vir ons sy lewe af te lê. Johannes die Doper het na Hom gewys en gesê: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Petrus het ook na die pryslose offer van hierdie Lam verwys toe hy gesê het: “…julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:18-19). “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7). Sonder bloedvergieting is daar geen vergifnis nie (Heb. 9:22).
Weens die tipologiese aard van die Pasga as ‘n heenwysing na die offer van die Lam van God, was dit duidelik dat hierdie fees tydens een van sy toekomstige vierings vervul sou word. Die Here Jesus is inderdaad op die dag van die pasgaviering gekruisig. Volgens Markus 14:1-2 wou die Jode só ‘n situasie vermy: “En die Pasga… sou oor twee dae wees; en die owerpriesters en die skrifgeleerdes het gesoek hoe hulle Hom met lis gevange kon neem en doodmaak. Maar hulle het gesê: Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien ‘n oproer onder die volk kom nie.”
Die Jode kon egter nie daarin slaag om die stiptelike vervulling van hierdie fees te voorkom nie, en Jesus is op Vrydag die 14de Nisan (11 April 32) gekruisig. Hy het op die negende uur (3 nm.) die asem uitgeblaas (Mark. 15:34-37), op presies dieselfde uur toe die lam tydens die eerste Pasga in Egipte geslag is. Pilatus was verwonderd dat Jesus so gou gesterf het, en het toestemming vir sy begrafnis verleen (Mark. 15:42-45). Dit is nog voor die Vrydagaand 6-uur afgehandel toe die Sabbat sou begin en niemand dan begrawe mag word nie (Luk. 23:52-54; Joh. 19:31).
Ons lees die volgende oor die kruisigingsdag in Markus: “En toe dit aand geword het, omdat dit die voorbereiding was, dit is die voorsabbat, kom daar ‘n vername raadslid… om na Pilatus in te gaan en die liggaam van Jesus te vra” (Mark. 15:42-43). Proff. John Walvoord en Roy Zuck sê die volgende oor dié teks in hulle kommentaar (Bible Knowledge Commentary, bl. 191): “Jesus se begrafnis het amptelik sy dood bevestig. Die uitdrukkings voorbereiding en voorsabbat is tegniese terms vir Vrydag wat op die dag voor die Sabbat dui, soos wat Markus aan sy nie-Joodse lesers verduidelik. Omdat daar geen werk op die Joodse Sabbat gedoen mag word nie, is al die voorbereidings daarvoor op Vrydae gedoen. Hierdie verwysing bevestig die feit dat Jesus op ‘n Vrydag gekruisig is.”
Vrydag (die Voorsabbat, of Dag van Voorbereiding) en Saterdag (die Sabbat) is die enigste twee dae in die Joodse week wat spesifieke name het. Die ander dae word bloot genommer, bv. die eerste dag van die week (Sondag), die tweede dag (Maandag), ens. Indien ‘n godsdienstige fees soos die Pasga op een of ander weeksdag buiten die Sabbat gevier word, word dit wel soos ‘n Sabbat gevier, maar nie self ‘n Sabbat genoem nie. Die Sabbat is die sewende dag van die week. Ons kan ook godsdienstige feeste, en selfs Geloftedag, soos Sondae vier, maar dit maak nie daarvan Sondae nie.
Jesus se kruisiging op die Dag van Voorbereiding blyk duidelik uit Johannes 19: “En dat die liggame nie op die Sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit voorbereiding was – want die dag van daardie Sabbat was groot – het die Jode Pliatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word... maar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy al dood was, het hulle sy bene nie gebreek nie. Maar een van die soldate het met ‘n spies in sy sy gesteek, en dadelik het daar bloed en water uitgekom” (Joh. 19:31-34). Die Sabbat wat direk op Christus se kruisiging gevolg het, word as ‘n groot dag beskryf omdat dit tegelyk die weeklikse Sabbat en die belangrike eerste dag van die fees van die ongesuurde brode was.
Lukas bevestig ook die feit van Jesus se begrafnis op die Dag van Voorbereiding: Jesus se liggaam “is in linne toegedraai en neergelê in ‘n graf wat uit ‘n rots gekap was, waar nog nooit iemand in gelê het nie. En dit was die dag van voorbereiding, en die Sabbat wou aanbreek” (Luk. 23:53-54). Die Sabbat wat op die punt was om teen sononder daardie aand aan te breek, was sonder enige twyfel die weeklikse Sabbat. Indien dit die Pasga was wat sou aanbreek, dan beteken dit dat Hy ‘n dag voor die Pasga-fees gekruisig is en dat die Pasga nie dag en datum vervul is nie. Hy is juis op die feesdag gekruisig toe die slag van die offerlam in Egipte en die begin van Israel se uittog uit die slawehuis herdenk is.
Christus is op Vrydag 11 April 32 n.C. gekruisig en het vroeg die Sondagoggend uit die graf opgestaan. Laat ons onwrikbaar aan die belydenis van sy soendood en opstanding vashou, ongeag op watter datums dit gebeur het. Dit is nogtans goed om konkrete historiese verwysingspunte vir hierdie belangrike gebeurtenisse te hê.
Ons moet nie die teken van Jona net tot die begrafnis en opstanding van Christus beperk nie, maar ook kyk na dit wat ná Jona se bevryding uit die buik van die vis gebeur het. Hy het ‘n boodskap van verlossing vir die heidense stad, Nineve, gehad. Hierdie mense het hulleself in sak en as bekeer van hulle verkeerde weë en die Here om genade gesmeek. As gevolg hiervan is die toorn van die Here van hulle afgewend (Jona 3:1-10). Die Here het nie berou gehad in die sin dat Hy ‘n verkeerde besluit oor Nineve se verwoesting herroep het nie, maar die inwoners se bekering het hulle begenadiging deur Hom verseker (Jona 3:10). Die inwoners se bekering het God se oordeel oor hierdie stad vir omtrent 150 jaar lank uitgestel. Later geslagte het weer in sonde en rebellie teenoor die Here verval, wat meegebring het dat die stad en sy inwoners in 612 v.C. verwoes is. Die Here het in ‘n boodskap deur die profeet Nahum aan hierdie stad gesê:
“Ek sal vuilgoed op jou gooi en jou aan minagting prysgee en van jou ‘n skouspel maak, sodat elkeen wat jou sien, van jou af sal wegvlug en sê: Verwoes is Nineve! Wie sal met haar medelye hê? ... Daar sal die vuur jou verteer, die swaard jou uitroei... Daar is geen herstel vir jou verbreking nie; jou wond is ongeneeslik” (Nahum 3:6,7,15,19).
Ná die dood en opstanding van Jesus Christus moet die boodskap van God se toorn oor die sondaars, én van sy reddende genade oor dié wat hulle van harte bekeer, verkondig word: “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom” (Joh. 3:36).
Wat is die voorwaarde om in God se guns te kom? Ons moet in die soendood van sy Seun aan die kruis glo, en ons volkome van ons sondige verlede bekeer. Dit is die boodskap wat aan die wêreld verkondig moet word. Net voor sy hemelvaart het Jesus het aan sy dissipels gesê: So is dit geskrywe en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies” (Luk. 24:46-47).
In die afgelope byna 2000 jaar was daar al verskeie gemeenskappe, en selfs lande, waar die evangelie van Christus aanvaar, Christelike grondwette ingestel en Christelike norme oor ‘n breë front in die samelewing ingestel en eerbiedig is. Soos in die geval van Nineve ná hulle nasionale bekering, het die seën van die Here kennelik oor dié gemeenskappe en volke gerus.
Hierdie goeie tye het egter nie voortgeduur nie – dit was nie omdat God ontrou geraak het nie, maar omdat die opkomende geslagte weer in sonde en openlike rebellie teen God verval het. Christelike grondwette is herroep en deur humanistiese grondwette vervang waarin alle godsdienste gelykgestel word. Daarmee saam is Christelike norme ook verwerp en het dit die deur wyd vir antichristelike gebruike soos leuens, korrupsie, materialisme, afgodediens, hoerery, aborsie, homoseksualiteit, dronkenskap, gewelddadigheid, en ‘n horde ander euwels oopgemaak. Dinge wat vroeër as ‘n skande beskou is, word nou openlik gedoen.
Wat anders kan ‘n verdorwe wêreld te wagte wees as die oordele van God? Almal wat hulleself nie grondig tot die Lam van God bekeer nie, sal die voorwerpe van sy toorn wees en deur Hom geoordeel word: “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ‘n dag bepaal het waarin Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek” (Hand. 17:30-31).
Glo jy met jou hele hart in die gekruisigde en verrese Here Jesus, en is die fondament van bekering uit dooi werke en van geloof in God reeds in jou lewe gelê? (Heb. 6:1). Indien wel, dan sal jy die uitstorting van God se toorn in die komende verdrukking ontvlug (Luk. 21:36). Die gelowiges in Thessalonika het hulleself “bekeer tot God om die lewende en waaragtige God te dien en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos” (1 Thess. 1:9-10).
Diegene wat ‘n valse, mensgemaakte vrede buite Christus nastreef, sal die wegraping misloop en onverwags deur die oordele van God oorval word: Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle... en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess. 5:3). Dié wat waarlik glo en as dissipels van Christus heilig leef, sal waak en bid sodat hulle waardig kan wees om die oordele van die komende verdrukking te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan (Luk. 21:36).
Ons ontvlugting is gebaseer op die verlossingswerk wat die Here Jesus op Goeie Vrydag aan die kruis gedoen het, daar waar Hy die straf wat vir ons die vrede aanbring, op Homself geneem het (Jes. 53:5). Laat ons op hierdie pad volhard, “want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:14). Laat ons nie, soos die inwoners van Nineve, ná ‘n tyd weer in goddeloosheid verval nie.