Daar is ‘n groot toename in die bou en gebruik van labirinte in die Weste, en dit vind saam met ‘n oplewing in ander mistiese praktyke soos joga en Oosterse meditasie plaas. In Amerika is daar al meer as ‘n duisend labirinte in meditasietuine, terreine vir retraites, en by kerke, hospitale en gevangenisse gebou. Die gewildheid van labirinte is ook besig om in Suid-Afrika en baie ander lande toe te neem.
Labirinte bestaan al vir omtrent 4000 jaar en word in verskeie kulture en godsdienste van die wêreld aangetref. Hulle kom in verskillende vorms voor, waarvan dié met sewe en elf sirkels onderskeidelik, die gewildste is. Die aantal sirkels is paadjies wat rondom ‘n middelpunt gaan. Wanneer ‘n persoon deur die labirint loop, beweeg hy in verskillende rigtings omdat hy telkens 180 grade moet draai wanneer hy ‘n nuwe sirkel betree. Die bewering word gemaak dat ‘n persoon elke keer wanneer hy van rigting verander, sy bewussyn van sy linker- na sy regterbrein verskuif, of andersom. Om hierdie rede word geglo dat ‘n staptog in ‘n labirint ‘n groter ontvanklikheid in jou bewussyn skep, en ook help om jou chakras (psigiese fokuspunte in die liggaam) te balanseer.
Daar is verskillende groottes labirinte, wat van 14 meter in deursnee wissel tot by ‘n kleintjie van net 60 sentimeter in die muur van die La Lucca-katedraal in Italië. By laasgenoemde labirint volg ‘n mens die paadjie met jou vinger sodat jy ‘n rustige gemoed kan verkry voordat jy in die katedraal ingaan. Labirinte was baie populêr in die Middeleeue. Gedurende die kruistogte is hulle gebruik om ‘n simboliese pelgrimsreis na die Heilige Land voor te stel, en die middelpunt (die einde van die reis) het Jerusalem voorgestel.
Baie mense maak die fout om te dink dat ‘n labirint en ‘n doolhof (of dwaaltuin) dieselfde is. Dit is nie. Doolhowe het meer as een ingang en uitgang, en is ontwerp om jou maklik te laat verdwaal. Hulle het ook doodlooppaadjies. Sulke dwaaltuine het dikwels hoë heinings wat jou uitsig versper sodat jy nie kan sien waar jy is nie. Om jou weg in só ‘n doolhof van paadjies te vind, laat jou baie dink en wonder omdat dit ‘n raaisel is wat opgelos moet word. Dit veroorsaak ook benoudheid wanneer jy jouself in ‘n verkeerde paadjie vasloop. Labirinte het egter presies die teenoorgestelde doel: dit is só ontwerp dat jy gehelp word om jou weg te vind. ‘n Labirint het net een paadjie wat na die middelpunt toe lei, en weer daarvandaan uit. Daar is nie doodlooppaadjies nie, daarom is dit nie op probleem-oplossing ingestel nie, maar op ‘n duidelike aanduiding van waar jy op jou reis is.
Een van die persone wat die meeste gedoen het om labirinte te laat herleef, is dr. Lauren Artress van die Grace Cathedral in San Francisco, Kalifornië. Sy het by die katedraal twee labirinte laat bou wat 24 uur per dag oop is, en waarop daar al meer as ‘n miljoen mense geloop het. In navolging hiervan is daar al talle ander labirinte gebou. Lauren is ook die stigter en direkteur van Veriditas, The Voice of the Labyrinth Movement, en sy het ‘n boek, Walking the sacred path, geskryf. Sy sê dat die meeste mense hulle geestelike bewussyn en verbinding met hulleself verloor het.
Op haar webblad (www.gracecathedral.org) sê Lauren: “Niemand weet wie die verskillende labirinte ontwerp het nie, maar ons weet uit ondervinding dat daar in elke ontwerp ‘n patroon vasgelê is wat rustigheid in ons innerlike wese bring, sodat ons uit ons eie wysheid kan put en ook uit wysheid wat ons van buite af probeer bereik. Of ons in die labirint loop en of ons dit in die sand teken, bly dit steeds ‘n kragtige hulpmiddel vir oordenking, meditasie, heroriëntering en ‘n dieper kennis van die Self.”
In ‘n artikel, The labyrinth: walking your spiritual journey (www.lessons4living.com/labyrinth.htm) word ons geestelike reis soos volg beskryf: “Ons is almal op pad, presies waar ons behoort te wees. Die labirint is ‘n voorbeeld van hierdie pad. Dit is ‘n antieke simbool van volkomenheid en onverdeeldheid. Dit verbind die beeld van die sirkel en spiraal met ‘n pad wat heen en weer loop. Die labirint stel ‘n reis na ons eie innerlike voor, en dan weer terug na die wêreld. Labirinte word al baie lank as hulpmiddels vir gebed en meditasie gebruik. Die labirint is ‘n beeld van die lewensreis. Dit is ‘n simbool wat ‘n geestelike ruimte skep waarin ons uit ons ego geneem word na dit wat diep binne-in ons is. Labirinte en doolhowe word dikwels met mekaar verwar. ‘n Doolhof het baie draaie en blinde gangetjies, en is soos ‘n moeilike probleem wat opgelos moet word. Dit is ‘n linkerbrein-taak wat logiese, analitiese denke verg om die paaie na binne en buite te kry. ‘n Labirint het egter net een pad: die pad na binne is ook die pad na buite. Dit is ‘n regterbrein-taak om hierdie pad te bewandel. ‘n Mens het intuïsie, kreatiwiteit en verbeeldingskrag hiervoor nodig, gepaard met ‘n passiewe toestand waarin jou verstand, of rasionele denke, moet wees. Die keuse is slegs of jy hierdie geestelike pad wil bewandel of nie. Op sy mees basiese vlak is die labirint ‘n beeld van die reis na die diepste sentrum van die Self en weer terug na die wêreld, met ‘n beter begrip van wie jy werklik is.
In ‘n artikel, The sacred labyrinth – an ancient meditation tool (www.angelfire.com) word die uiteindelike vereniging van die mensdom as een van die gevolge van hierdie gebruik beskryf: “Labirinte is waarlik heilige plekke. Die ontwerp daarvan is inherent kragtig. Die ruimte wat dit skep en die ervaring om daarin te loop is ook heilig en kragtig, en gee aan ons ‘n groter bewussyn van eenheid. Dit is ‘n hulpmiddel vir mense van alle gelowe om daar saam te kom en in ‘n gemeenskaplike geestelike ondervinding te deel.”
Dr. Lauren Artress bevestig die heiligheid van die labirint-ondervinding wanneer sy sê: “Die labirint is, in ‘n sekere sin, ‘n kerk sonder mure.”
Die bekende prediker en skrywer, Rick Warren, assosieer ook met hierdie gebruik. Op een van die programme van ‘n konferensie vir predikante (soos op die National Pastors Convention-webblad) is daar onder meer vir die volgende aktiwiteite voorsiening gemaak:
7:30 Labyrinth open.
8:30–9:15 Contemplative morning prayer exercises.
8:30–9:15 Stretching and Yoga.
Laasgenoemde twee aktiwiteite vind op dieselfde tye plaas, dus het konferensiegangers ‘n keuse of hulle wil mediteer of joga-ontspanningsoefeninge wil doen nadat hulle die labirint bewandel het.
Labirinte is van heidense oorsprong, maar is deur die Rooms-Katolieke kerk aanvaar en gepopulariseer met die behoud van die mistiese, heidense betekenis daarvan. Die Here het aan Israel bevel gegee om al die gode en aanbiddingsplekke van die heidene totaal te vernietig (Deut. 12:2-3). Hulle mag niks daarmee te doen hê nie. Moderne predikers veroorloof hulleself egter die reg om met vreemde gebruike uit die Ooste én uit die misleide Katolieke Kerk te eksperimenteer, en leer andere om dieselfde te doen. Mistiese (okkultiese) praktyke is hoogs nadelig omdat dit aan die duiwel plek in mense se lewens gee om hulle diep in hulle onderbewussyn met leuens te mislei en te verwar. Die gevolg hiervan is ‘n onbybelse godsbegrip, asook valse sienings oor jouself, oor verlossing en oor ander gelowe.