Evangeliese Leiers Verloën Christus

Die volgende artikel het onlangs in www.sacredsandwich.com verskyn:

Ongeag wat jy van Larry King dink, het hy beslis die vermoë om tot die basiese beginsels van die Christelike geloof deur te dring wanneer hy op sy CNN-program onderhoude met vooraanstaande Christene voer. Hy laat nooit die kans verbygaan om aan verkondigers van die Christelike geloof dieselfde reguit vraag te vra nie: “Jy glo dat Jesus Christus die enigste pad na die hemel toe is, en dat mense hel toe gaan as hulle nie in Hom glo nie – is dit reg?”

Die betrokke predikers word elke keer onkant betrap omdat hulle nie so ‘n reguit vraag verwag het nie. Dit is asof Larry (wat self ‘n agnostikus is) sy kruisbande span en hulle tussen die oë spoeg. Hierdie Christene sit dan daar soos diere wat deur die hoofligte van ‘n motor verblind is en nie weet of hulle regs of links moet beweeg om die impak van die vraag te vermy nie: “Wel... dit is ‘n moeilike vraag, Larry... jy sien...”

“Smiling Joel”

Onlangs het “Smiling” Joel Osteen tydens ‘n Larry King-onderhoud meer danspassies as Fred Astaire gemaak. Nadat Larry daarop gewys het dat daar Christen-leiers is wat volhou dat jy in Christus moet glo om hemel toe te gaan, het King aan Osteen gevra of Jode en Moslems wat nie vir Christus aanvaar nie, ook hemel toe sal gaan. Osteen het gesê: “Jy weet, ek is baie versigtig om te sê wie hemel toe sal gaan en wie nie. Ek weet nie...”

Weet hy regtig nie?

In reaksie op ontstelde ondersteuners van Smiling Joel se bediening, het hy ná die Larry King-program verskoning vir sy swak voorstelling van die evangelie gemaak. Dit was egter té laat want die skade was reeds gedoen. Die feit is dat miljoene Jode en Moslems na die program gekyk het en deur Osteen, as ‘n vooraanstaande Christen, verseker is dat hulle Christuslose godsdiens hulle in die hemel sal kry.

Rick Warren

Daar was ander bekende predikers ook wat meer as gewillig was om die evangelieboodskap vir die gehoor van Larry King te wysig. Rick Warren het Larry King se reguit vraag of agnostici en ateïste vir God aanvaarbaar is, ontwyk. In sy antwoord het hy te kenne gegee dat ongelowiges hulle openlike rebellie teen Christus kan voortsit en steeds op grond van hulle doelgerigte werke (purpose-driven works) deur ‘n generiese God aanvaar kan word.

In Hoofstuk 7 van sy boek, The Purpose-driven Life, het Warren ook só ‘n vae stelling gemaak toe hy net die eerste deel van Spreuke 16:4 aangehaal het: “Everyone has a wonderful purpose...” (“Almal het ‘n wonderlike doel...”). Hierin het hy ook, soos in die King-onderhoud, daarvan weggeskram om die hele Bybelse waarheid te verkondig, naamlik: “Alles het die Here gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.” Waarom verdoesel Warren hierdie waarheid deur die laaste gedeelte van die vers uit te laat?

Die vyande van God wat na hierdie program gekyk het, sal op grond van sulke vae antwoorde min rede hê om hulle lewens te verander en hulle tot Christus te bekeer.

Bang om aan die wêreld aanstoot te gee

My probleem met hierdie soort optrede is nie soseer dat Osteen en Warren persoonlike twyfel oor die waarheid van die evangelie het nie, maar dat hulle ‘n groeiende tendens onder Christenleiers navolg om nie veroordelend teenoor ongelowiges en die wêreld te wees nie. In hulle eie kerke praat hulle vryelik oor Jesus, maar in ander situasies daarbuite praat hulle net van ‘n algemene God (Warren noem hom die generiese God) ten einde konflik en vervolging deur andersdenkendes te voorkom. Wie is hierdie “algemene God” van alle gelowe?

As Christene behoort ons nie aan ‘n geheime godsdienstige klub waarin die basiese waarhede van die evangelie net vir lede bedoel is nie. Daar behoort nie een boodskap vir die kerk te wees en ‘n ander een vir mense buite die kerk nie. Vir alle beginners is die evangelie bedoel om goeie nuus te wees, maar dit beteken nie dat dit nie ook slegte nuus kan wees vir die ongelowiges wat weier om tot bekering te kom nie. Die toorn van God oor alle sondaars (Rom. 1:18) is ‘n feit wat ten volle begryp moet word indien die ongelowiges die goeie nuus van Christus se offer vir sy volgelinge wil verstaan. Dit is dus nodig dat ‘n prediker hierdie waarhede openlik en vrymoedig moet verkondig, in die hoop dat die Gees van God sondaars sal oortuig en hulle na die kruis toe sal dryf.

Waarom verskyn populêre predikers op die Larry King-program en kapituleer dan voor die aanslag teen hulle? Dit is moontlik as gevolg van die sterk negatiewe reaksie wat hulle van die wêreld af sal kry indien hulle duidelike stellings oor hulle geloof sou maak. John MacArthur het reaksies van hierdie aard gekry toe hy saam met ander godsdiensleiers aan ‘n Larry King-paneelbespreking deelgeneem het oor wat met ‘n persoon gebeur nadat hy gesterf het. MacArthur het telkens sy oortuiging baie duidelik gestel dat die saligheid in niemand anders as Jesus Christus is nie (Hand. 4:12). Hy het nie een keer te kenne gegee dat ‘n ortodokse Jood, ‘n Moslem of ‘n ateïs vir die Here aanvaarbaar sal wees nie. Die reaksie van Larry King en die ander persone op die paneel, wat ook ‘n rabbi en ‘n ateïs ingesluit het, was voorspelbaar. Volgens hulle siening is dit liefdeloos en onredelik van God om alle mense op grond van hulle sonde hel toe te stuur, en om geloof in ‘n goeie leermeester van 2000 jaar gelede ‘n voorwaarde vir redding te maak. Die uiteinde van die gesprek was dat MacArthur die negatiewe, slegte persoon op die paneel was – ook in die oë van die wêreld.

Die veroordeling van die wêreld omdat jy aan die algenoegsaamheid van die Bybel en die uitnemendheid van Christus vashou, is niks nuuts nie. Die barbaarse marteldood wat die apostels en baie van die Christene deur die eeue heen gesterf het, dien as bewyse vir hierdie wrede werklikheid. Dit word “vervolging” genoem, en is presies wat die Here Jesus gesê het sal gebeur as ons onwrikbaar in Hom glo. Hoe lafhartig is dit nie wanneer moderne Christene gedwing voel om die uniekheid van die evangelie af te water net omdat hulle nie deur ander mense verwerp of gekritiseer wil word nie. Watter soort geloof het ‘n mens indien negatiewe gevoelens vir jou erger as die dood is? Ons het werklik ‘n volk van swak, soutlose Christene geword wat meer op ons persoonlike aansien en beursies ingestel is as om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is (Judas 1:3).

Ek smeek julle, broeders en susters, moenie hierdie Christenleiers naboots wat die eer van die wêreld soek nie. Jy sal dalk nooit in ‘n situasie wees waarin jy jou geloof op CNN voor miljoene televisiekykers moet verdedig nie, maar daar is baie Larry Kings daarbuite wat net wag om jou sogenaamde onverdraagsaamheid te openbaar deur te vra of jy werklik glo dat Christus die enigste weg, waarheid en lewe is. Moenie verbaas wees wanneer dit gebeur nie, en jy dan skielik onder druk is om ter wille van goeie verhoudings kompromie te maak. Wanneer dit gebeur, doen dan soos wat Petrus voorskryf, en wees altyd bereid om jou geloof te verdedig en rekenskap te gee van die hoop wat in jou is, met sagmoedigheid en vrees (1 Pet. 3:15). Deur dit te doen sal jy nie net jou eie lewe red nie, maar, deur die Here se genade, mag ‘n ongelowige wat na jou vreeslose getuienis luister, homself vir redding na Christus toe wend. (Einde van artikel in www.sacredsandwich.com).

Voorloper van die kompromiemakers

Niemand minder nie as Billy Graham het etlike jare gelede reeds hierdie houding van ekumeniese kompromie tydens ‘n Larry King-onderhoud ingeneem, en daardeur aan ander ‘n voorbeeld gestel oor hoe om hulle populariteit op ‘n onbybelse manier te beskerm. In Dave Hunt se boek, Occult Invasion – the Subtle Seduction of the World and the Church, bl. 587-590 word skokkende aanhalings uit onderhoude met dr. Billy Graham aangehaal. Die volgende is ‘n uittreksel uit die program Larry King Live:

King: “Wat dink u van ander kerke... soos die Mormone, die Rooms-Katolieke en ander gelowe in die Christelike tradisie?”

Graham: “O, ek het ‘n wonderlike verhouding met almal van hulle... Ek is baie gemaklik met die Vatikaan. Ek het die pous verskeie kere gaan spreek... Ek hou baie van hom en ons stem oor omtrent alles saam.”

King: “Is u gemaklike met Judaïsme?”

Graham: “Baie gemaklik... Die Raad van Rabbi’s in New York het my verskeie kere uitgenooi om oor wyle rabbi Tannenbaum met hulle te praat, wat ‘n groot vriend van ons almal was. Hy het baie keer aan my raad en advies gegee en ek het voortdurend teologies, geestelik, en ook in ander opsigte, op sy insig vertrou.”

King: “U is ‘n bewonderaar van Hillary Clinton, nie waar nie?”

Graham: “Ja. Ek dink baie van Hillary… Ek hou baie van die Clintons.”

Verder haal Dave Hunt ook gedeeltes van ‘n onderhoud aan wat Robert Schuller met Billy Graham gevoer het (ibid, bl. 588-9). John MacArthur berig egter in sy nuusbrief van 15 Februarie 2001 meer volledig oor hierdie onderhoud. Die volgende is ‘n uittreksel hieruit:

Schuller: “Sê my, wat dink u is die toekoms van die Christendom?”

Graham “Ek dink dat almal wat Christus liefhet en ken, of hulle daarvan bewus is of nie, lede van die liggaam van Christus is... God roep mense uit die wêreld, ongeag of hulle uit die Moslem wêreld, die Boeddhistiese wêreld, die Christelike wêreld of die ongelowige wêreld kom... Hulle mag dalk nie eers die naam van Jesus ken nie, maar hulle weet in hul harte dat hulle iets nodig het wat hulle nie het nie. Hulle wend hulleself dan tot die enigste lig wat hulle het, en ek dink dat hulle gered is en eendag saam met ons in die hemel sal wees... God se genade is baie wyd.”

In ‘n eksklusiewe onderhoud met Parade, ‘n byvoegsel tot ‘n Sondagkoerant, het Billy Graham gesê: “In my bediening bly ek ten volle by die basiese beginsels van die Christendom. As ‘n Amerikaner respekteer ek egter ander paaie na God – en as ‘n Christen is dit my plig om hierdie mense lief te hê.”  Dave Hunt (ibid, bl. 589) se kommentaar hierop is soos volg: “Tensy Jesus verkeerd was toe Hy gesê het: ‘Ek is die weg... niemand kom na die Vader behalwe deur My nie’ (Joh. 14:6), is daar nie ‘ander paaie na God’ nie.”

‘n Nieu Seelander wat in 1957 onder Billy Graham se prediking tot bekering gekom het, was baie geskok en teleurgesteld toe hy jare later van hierdie nuwe beskouing van Graham kennis geneem het. Hy skryf: “Baie van wat ek nou gesien, gehoor en gelees het, is in botsing met dit wat ek 1957 beleef het. Iets het verander... Die Billy Graham Evangelistic Association het polities korrek geword. Hulle is bevriend met politici en regerings oor die hele wêreld, en ook welkome gaste by die Vatikaan! Die verval na ekumeniese goddeloosheid het slegs 40 jaar geneem” (aangehaal deur Dave Hunt, bl. 590).

Bly onwrikbaar by die volle waarheid van die Drie-enige God en sy Woord, al beteken dit ook verwerping deur die wêreld. Die Here Jesus het gesê: “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie... daarom haat die wêreld julle” (Joh. 15:18-19). Die aanvaarding deur die goddelose wêreld waarin ons leef, sou beteken dat ons noodwendig afvallig geraak het van die lydende Christus wat steeds deur die meerderheid mense in die wêreld verwerp word: “Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen” (Luk. 6:26). Jakobus sê: “Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God” (Jak. 4:4).