Letterlike Vervulling van Bybelse Profesieë

Johan Malan

Opsomming: Die letterlike vervulling van Bybelse profesieë oor die eindtyd skyn soos 'n lig op die Christen se pad.

Hoe dieper ons in die eindtyd beweeg, hoe minder word daar in feitlik alle kerke in die letterlike vervulling van Bybelse profesieë geglo. Terwyl die tekens van die tye rondom ons opsigtelik (en selfs dramaties) in vervulling gaan, druk teoloë hulle koppe dieper in die sand en sê: “Ons sien niks nie!” of: “Die Bybel is ‘n simboliese boek en moet nie letterlik opgeneem word nie.”

Die gevolg van hierdie negatiewe houding is ‘n skerp toename in skeptisisme en ongeloof in Bybelse uitsprake oor die eindtyd. Die meeste mense steur hulleself net eenvoudig nie aan profesieë nie omdat dit na bewering slegs abstrakte, historiese stellings is wat geen direkte relevansie vir ons tyd het nie.

Onder omstandighede soos dié is dit nodig dat die fundamentele waarheid en absolute betroubaarheid van die profetiese woord opnuut herbevestig word: Bybelse profesieë oor die eindtyd en die wederkoms van Christus sal tot in die fynste besonderhede nét so letterlik as dié tydens sy eerste koms vervul word. Dit skyn soos 'n lig op die Christen se pad in hierdie donker dae:

"En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn" (2 Pet. 1:19)

Die volgende twaalf profetiese temas is sleutelaspekte van gebeurtenisse wat volgens die Bybel in die eindtyd sal plaasvind:

1. Die herstel van Israel

‘n Groot deel van die Bybel word aan gebeurtenisse in die volk Israel gewy. Drie van die belangrike Bybelse temas in hierdie volk se bestaan is hulle roeping, hulle internasionale verstrooiing en hulle eindtydse herstel.

Die volk se roeping deur die Here en die beloftes van hulle vestiging in die Beloofde Land dateer terug na die tyd van Abraham, Isak en Jakob (Gen. 13:14-5; 28: 13). Hierdie beloftes is eers vervul nadat die volk Israel uit Egipte bevry is en deur die woestyn na die land getrek het wat die Here met ‘n eed aan hulle beloof het.

Hier het hulle dikwels van die weë van die Here afgewyk, die profete verwerp en vervolg, en uiteindelik ook die Seun van God verwerp en laat kruisig. Dit het tot Israel se internasionale verstrooiing gelei (Matt. 23: 34-39; Luk. 19:41-44). Gedurende hierdie tyd sou Israel as ballinge na alle nasies verstrooi raak en Jerusalem sou deur die nasies vertrap word totdat die tye van die nasies vervul is (Luk. 21:20-24).

Hierdie toestand, gekenmerk deur die verstrooiing van Israel en die vertrapping van Jerusalem deur die heidene, sou nie onbepaald voortduur nie, maar “totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Wanneer die tye van die nasies vervul is, dit is die tyd van wêreldevangelisasie wanneer die heidene in die koninkryk van God kan inkom, sal die volk Israel én die stad Jerusalem weer herstel word (Rom. 11:25-26). Die Here het dus nie as gevolg van Israel se ongehoorsaamheid sy verbond met hulle verbreek nie. Hy sál hulle in hul land herstel en die beloftes wat aan hulle voorvaders gemaak is, in volle vervulling laat gaan (Lev. 26:44-45; Rom. 11:1-2).

Net so letterlik as wat Israel uit die Egiptiese slawerny verlos en in hulle land gevestig is, en net so letterlik as wat hulle na alle uithoeke van die aarde verstrooi is nadat Jerusalem in die jaar 70 n.C. deur die Romeine verwoes is, word hulle nou weer ten aanskoue van die hele wêreld uit die nasies versamel en in hulle land gevestig – alles ooreenkomstig letterlike beloftes in die Bybel. Jeremia sê: “Hy wat Israel verstrooi het, sal hom vergader en hom bewaak soos ‘n herder sy kudde” (Jer. 31:10). Dit is dus die Here self wat die volk herstel:

"So spreek die Here Here: Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land" (Eseg. 37:21).

Die feit dat Bybelse Jerusalem (die Ou Stad) sedert die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967 weer in Joodse hande is en in Augustus 1980 tot Israel se ewige en onverdeelbare hoofstad verklaar is, is onweerlegbare bewyse daarvan dat ons baie naby aan die einde van die tye van die nasies is. Weldra sal die kerkdispensasie verby wees en die Here sy wedergebore kinders kom haal om hulle hemelse woning te betrek (Joh. 14:2-3).

Indien u die profesieë oor die herstel van Jerusalem en Joodse volk vergeestelik, dan glo u effektief nie wat die Here self oor hierdie volk se toekoms gesê het nie, en u ontneem uself ook van die belangrikste en mees eksakte teken van die eindtyd.

2. Die Russies-Arabiese inval in Israel

Omdat die herstel van Israel ‘n daad van God is, en hulle fisiese herstel net ‘n voorbereiding vir hulle geestelike herstel is (Eseg. 36:24-28), is dit te begrype dat Satan alle pogings sal aanwend om die herstelproses te ontwrig, die volk geestelik te verblind en hulle militêr deur hulle vyande te probeer vernietig. In die Ou Testament was daar dikwels sulke sameswerings teen Israel wat duidelik van sataniese aanhitsing getuig (Ps. 83:2-9).

Die groot oorloë waarin Israel in 1948, 1956, 1967, 1973 en 1982 teen sy Arabiese bure gewikkel was, asook die Palestyne en Hamas-terroriste se moorde en sabotasieveldtog die afgelope twee dekades, is besig om die toneel voor te berei vir die groot oorlog van Eségiël 38 en 39 – Die Russies-Arabiese inval in Israel.

Hierdie oorlog sal na verwagting tot die aanbreek van die sewe jaar lange verdrukking onder die bewind van die Antichris lei, en dispensasioneel dus geweldig belangrike implikasies hê. Die oorlogswolke wat so dikwels in die Midde-Ooste saampak, moet altyd met groot erns bejeën word omdat groot oorloë met dramatiese gevolge vir die hele wêreld hier gevoer gaan voer. Die Russies-Arabiese inval sal, soos die latere slag van Armagéddon, ‘n letterlike oorlog met ‘n skrikwekkende dodetol wees. Profesieë hieroor moet nie simbolies verklaar word nie. Die Midde-Oosterse konflik is baie werklik!

3. Die eerste opstanding en die wegraping

Die formele einde van die kerkbedeling op aarde sal met die opstanding van die regverdiges en hulle wegvoering na die hemel aanbreek (1 Thess. 4:16-17). Net die regverdiges sal uit hulle grafte opstaan, omdat die goddeloses eers ‘n duisend jaar later, ná die vrederyk, opgewek sal word om hulle oordeel na die poel van vuur te ontvang (Op. 20: 5, 11-15).

Die wegraping sal baie skielik en onverwags plaasvind – in ‘n oomblik, in ‘n oogwink (1 Kor. 15:51-52). Wanneer die hemelse bruidegom soos ‘n dief in die nag verskyn om sy bruidsgemeente na hemelse plekke weg te voer, sal al die ongereddes, vormgodsdienstiges en teruggevallenes agterbly (Matt. 25:1-13).

"In daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word…" (Luk. 17:34).

Groot veranderinge sal hierna op die aarde plaasvind omdat die ware kerk, as die tempel van die Heilige Gees, ‘n teëhouende rol teen die openbaring van die Antichris gespeel het (2 Thess. 2:6-10). Met hulle skielike wegname sal daar geen geestelike weerstand teen die sigbare openbaring en magsoorname van die Antichris wees nie.

4. Verskyning van ‘n persoonlike Antichris

Die veranderinge wat kort ná die wegraping sal intree, sal deur alle mense op aarde verwelkom word. ‘n Valse vredevors met wêreldhervormende vermoëns sal op die toneel verskyn. Hy en sy mederegeerder, die valse profeet, sal verbysterende wonderwerke kan doen (Op. 13: 2, 11-14) en selfs oorloë beëindig of afweer.

Die Antichris sal die internasionale gemeenskap deur bedrieglike diplomasie tot ‘n eenheid onder sy leierskap saambind. Ná al die eeue van konflik, oorloë, haat en bloedvergieting sal dit werklik lyk of vrede en eenheid op aarde uiteindelik aangebreek het. Dit sal egter ‘n valse, antichristelike vrede wees wat ‘n voorspel tot die grootste verdrukking van alle tye sal wees:

"Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie" (1 Thess. 5:3).

5. Die verdrukking van sewe jaar

Die sewe jaar lange verdrukking, wanneer die Antichris en die valse profeet oor die aarde sal regeer, sal ‘n letterlike tydperk wees wat in dae, maande én jare afgetel sal kan word. Dit is dus nie ‘n simboliese of allegoriese aanduiding van tyd nie.

Volgens Daniël 9:24-27 is daar ná die Babiloniese ballingskap sewentig jaarweke (70 X 7 jaar) van heilsgeskiedenis oor die volk Israel bepaal. Hierdie tydperk het begin met die opdrag om Jerusalem te herbou, en dit eindig met die nasionale bekering van Israel wanneer “ewige geregtigheid” vir dié volk sal aanbreek.

‘n Jaarweek is sewe jaar lank (Lev. 25:8). Sewentig jaarweke is dus 490 jaar. Daniël 9 se 490 profetiese jare van 360 dae elk het in 445 v.C. begin toe koning Artasásta opdrag vir die herbouing van Jerusalem gegee het (Neh. 2:1-8). Met die kruisiging van die Gesalfde (Christus) het presies 69 jaarweke verstryk (Dan. 9:25-26).

Op hierdie punt is die heilsgeskiedenis van Israel as volk onderbreek omdat hulle hul Messias, wat hulle die ewige geregtigheid van God kon binnelei, verwerp het. Dit het na hulle internasionale verstrooiing en ‘n lang tyd van sekulêre geskiedenis buite die heilsplan van God gelei. Dit het met die tye van die nasies saamgeval, want Jesus het sy dissipels met die evangelieboodskap na die ganse mensdom gestuur nadat Israel Hom verwerp het. Aan die einde van die tye van die nasies word Israel, hulle land én hulle stad Jerusalem weer herstel. Dan sal die 70ste jaarweek van heilsgeskiedenis verloop.

Daniël sê dat ‘n vors van ‘n volk wat sal kom (die Antichris, of valse Messias) vir een week lank (sewe jaar) met baie nasies ‘n sterk verbond sal sluit. In die middel van die week sal hy, wat Israel betref, die offerdiens in die herboude tempel verbied en homself in die tempel tot God verklaar (Dan. 9:27, 11:36; 2 Thess. 2:4).

Die sewe jaar lange verdrukking is dus duidelik in twee helftes van 3½ jaar elk verdeel. In die eerste 3½ jaar (42 maande of 1260 dae) sal daar ‘n valse vrede op aarde heers, en Israel sal dink dat die valse Messias die ware Messias is. Hulle sal dus saam met die ander nasies ook ‘n verbond met hom sluit (Joh. 5:43). Gedurende hierdie eerste 1260 dae sal twee spesiale getuies van die Here die volk teen hulle verbond met die valse Messias waarsku (Op. 11:3).

In die tweede helfte van die verdrukking, wat as die groot verdrukking beskryf word (Matt. 24:21), sal die Antichris ‘n militêre diktator en politieke alleenheerser in die wêreld wees (Op. 13:4-7). Israel sal hulle verbond met hom verbreek wanneer hy homself in die tempel tot God verklaar, en dan vir hulle lewe na die woestyn moet vlug (Matt. 24:15-21; Dan. 12:1, 11).

Wanneer die ware Messias aan die einde van die 70ste jaarweek tydens sy wederkoms sy voete op die Olyfberg sit, sal die hele oorblyfsel van Israel met Hom versoen word (Sag. 14:4-5; 12:10-14; 13:1, 9). Op daardie dag sal die 70 jaarweke van Israel se heilsgeskiedenis ná die Babiloniese ballingskap afgehandel wees, en ewige geregtigheid onder alle lede van die volk heers (Jer. 31: 34; 32:37-42; Sag. 8:23).

6. ‘n Alliansie van valse godsdienste

Aan die begin van die sewe jaar lange verdrukking sal daar ‘n alliansie van valse wêreldgodsdienste wees wat ten nouste met die Antichris sal saamwerk (Op. 17:1-6). Talle ongeredde lede van misleide, vormgodsdienstige ‘Christelike’ kerke sal ‘n deel van hierdie duistere komplot uitmaak en die Antichris voluit dien!

Die wêreldwye intergeloofsekumene wat die afgelope dekade so sterk na vore getree het, is die finale voorloper vir dié afvallige moederorganisasie. Drie van hierdie organisasies wat baie prominent is, is die multigodsdienstige Wêreldkonferensie vir Godsdiens en Vrede, die Parlement vir Wêreldgodsdienste, en die mees onlangse een, die Verenigde Godsdienste Organisasie.

Mense wat nou nog Bybelse profesieë oor ‘n alliansie van valse godsdienste wat die bruid van die Antichris sal wees, simbolies opneem, is totaal uit voeling met die Bybel en ook met die praktyk.

7. Herbouing van die tempel in Jerusalem

Die Here het Jerusalem uitverkies as die plek waar Hy Homself sou openbaar, waar Hy in die tempel aanbid sou word, waar Christus die prys vir ons sondes sou betaal, waar die Heilige Gees uitgestort sou word, waarheen Jesus Christus met sy wederkoms sal terugkeer, en van waar Christus in die vrederyk die wêreld sal regeer (1 Kon. 11:36; Jes. 2:2-4; Jer. 3:17; Sag. 14:4, 9).

Die Antichris, as die nabootser van Christus, wil baie graag in Jerusalem aanbid word en ook van dié stad af die wêreld regeer. Een van die metodes wat hy sal gebruik om in die plek van Jesus as Messias aanvaar te word, is om homself vir die ortodokse Jode aanvaarbaar te maak en deur hulle as die beloofde Messias aanvaar en vereer te word (Joh. 5:43).

Die Satan besef dat die ortodokse Jode baie graag die tempel in Jerusalem wil herbou, en gaan aan hulle deur die Antichris die lank verwagte toestemming gee om dit te doen. Hierdie stap sal ‘n deel van die Antichris se Messiaanse ooreenkoms met hulle wees: húlle aanvaar hom as die Messias, en hý waarborg hulle nasionale belange en gee aan hulle die reg om die tempel teenoor die Oospoort op die tempelberg te bou.

Met die bou van die derde tempel (die eerste was die tempel van Sálomo en die tweede die tempel van Heródes) sal die Antichris twee duidelike doelwitte hê. Die eerste daarvan is die bevestiging van Israel se voortgesette verwerping van Jesus as die Messias. Deur die bou van die tempel en die herinstelling van die offerdiens sal hulle opnuut en formeel die offer van Jesus as die Lam van God vir hulle sonde verwerp. Die tweede doel van die Antichris is dat hy binne-in die tempel as God aanbid wil word (2 Thess. 2:4). Dié godsdienstige verraad gaan ín die herboude tempel gepleeg word!

8. Die opbouing en verwoesting van Babilon

Die stad Babilon, wat die afgelope byna 20 jaar op die walle van die Eufraatrivier in die huidige Irak herbou word, is al verskeie kere in die geskiedenis verwoes. God se oordele word teen dié stad uitgespreek omdat dit die oorsprong van die valse godsdienste in die wêreld is.

Die stad is die eerste keer deur Nimrod gebou as die vesting van ‘n wêreldkoninkryk en ‘n wêreldgodsdiens wat in regstreekse opposisie teen die koninkryk van God is. Die bekende toring van Babel was ‘n uitdrukking van die rebellie, selfverheffing en selfvergoddeliking van die mens. As sodanig is die stad op ‘n besondere wyse in diens van die koninkryk van Satan, van waar die hele wêreld met sy bose leerstellings binnegedring is.

God se oordele het sedert die begin van Babilon oor hierdie stad gerus, en is dikwels voltrek. Satan se rebellie teen die koninkryk van God is egter nooit in die geskiedenis gestaak nie, daarom is hierdie stad telkens weer as ‘n simbool van sy koninkryk se mag en invloed herbou. Dit is teen hierdie agtergrond duidelik waarom die valse wêreldgodsdiens van die eindtyd in Openbaring 17 “Verborge Babilon” genoem word, terwyl die verwoesting van die herboude stad Babilon as die groot politieke, ekonomiese en godsdienstige vesting van Satan se koninkryk, in Openbaring 18 beskryf word.

Die profesieë oor die finale verwoesting van Babilon kom in die Ou én Nuwe Testamente voor. Dit sal só absoluut wees dat die stad daarna nooit weer herbou sal word nie (Jes. 13:19-22; Jer. 51:24-26, 61-64; Op. 16:18-21; Op. 18:1-24). Nog nooit in die geskiedenis is Babilon in een uur met vuur vernietig nie, en dit was ook nog nooit permanent onbewoond en verlate nie.

Dit alles dui onteenseglik daarop dat Babilon se finale verwoesting nog toekomstig is. Nog een keer in die geskiedenis gaan hierdie stad ‘n belangrike rol in die aktiwiteite van Satan se koninkryk speel. Tydens die eerste 3½ jaar van die verdrukking sal die stad tot ‘n handels- en vermaaklikheidsentrum sonder weerga opgebou word. Ook sal dit die hoofkwartier van die ontugtige vrou van Openbaring 17 wees, wat die moeder van al die valse godsdienste is. Sagaria 5:11 bevestig die feit dat hierdie vrou in die land Sínear (antieke Babilonië, m.a.w. moderne Irak) haar laaste tuiste sal vind.

Babilon is reeds weer gedeeltelik herbou. In September 1987 is die eerste deel van die herboude stad feestelik ingewy. Dit is duidelik dat die geskiedenis homself hier gaan herhaal. Babilon gaan onder die bewind van die Antichris weer die hoofsetel van sataniese wêreldryk en ‘n alliansie van valse godsdienste word. Wanneer die ware Christus met sy wederkoms die Antichris en sy hordes oordeel, sal die dier se koninkryk en hoofstad ook deur totale verwoesting in die gesig gestaar word (Op. 16:18-19; en 19:19-21).

Hierdie profesieë moet letterlik opgeneem word, soos wat dit in die Bybel bedoel en beskryf word. Babilon was ‘n letterlike stad wat eeue lank die wêreldgeskiedenis oorheers het. Babilon is nie Rome, New York of enige ander stad nie. Dit is ook nie ‘n abstrakte begrip nie. Verborge Babilon van Openbaring 17 is ‘n verwysing na die valse godsdienste wat van Babilon af na die nasies van die wêreld uitgegaan en hulleself in die heidense geloofsvorms verberg het. In die eindtyd sal die valse gelowe ekumeniese bande smee en hulleself in een moederorganisasie organiseer. Hulle sal op die dier (die Antichris) se rug ry en hartlik met hom saamwerk.

9. Die slag van Armagéddon

Hierdie slag verwys na die groot wêreldoorlog wat tydens die wederkoms van Christus in die Midde-Ooste sal woed. Onder demoniese beïnvloeding sal die nasies van die wêreld in Israel saamtrek (Op. 16: 13-14, 16). Die Antichris sal weet dat die ware Christus sewe jaar ná die begin van die antichristelike nuwe wêreldorde sal terugkeer om sy duisendjarige ryk op aarde te vestig, met Jerusalem as hoofstad. Dit sal die einde van die Antichris se ryk wees, daarom sal hy alle moontlike duiwelse magte inspan om die nasies van die aarde in Israel te mobiliseer vir ‘n oorlog teen Christus en sy leër (Op. 19:19).

Die Antichris sal in die slag van Armagéddon ook die oorblyfsel van Israel probeer uitwis omdat hulle almal op die dag van die ware Messias se wederkoms geestelik sal ontwaak en ‘n groot rol in die komende Messiasryk sal speel.

10. Die wederkoms van Christus

Profesieë oor die wederkoms van Christus moet ook letterlik opgeneem word. Net ná die hemelvaart van Jesus het engele aan die dissipels gesê: “Hierdie Jesus wat van van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het” (Hand. 1:11). Hy het sigbaar van die Olyfberg af na die hemel opgevaar, en sal met sy wederkoms sigbaar uit die hemel na die Olyfberg terugkeer (Sag. 14:4-5). Dan sal elke oog Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het, m.a.w. die Joodse volk (Op. 1:7). Israel moet dus terug wees in hulle land wanneer Jesus aan die einde van Daniël se sewentigste jaarweek sal terugkeer aarde toe.

Die sigbare koms van Jesus, wanneer elke oog Hom sal sien, moet nie verwar word met die wegraping wat sewe jaar vroeër plaasvind nie. Tydens die wegraping kom Hy soos ‘n dief in die nag, en nét sy bruidsgemeente sal Hom aanskou. By dié geleentheid kom Hy ook nie tot op die aarde nie, want die ware gelowiges sal “in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug” (1 Thess. 4:17).

11. Herstel van die troon van Dawid

Ná sy wederkoms sal die Here Jesus die troon van Dawid herstel en die wêreld daarvandaan regeer (Hand. 15:16-17). Die troon van Dawid was nie in die hemel nie, maar in Jerusalem. Reeds voor sy geboorte het ‘n engel uit die hemel aangekondig dat Jesus op die troon van Dawid sal regeer (Luk. 1:32). Dit het nog nie gebeur nie, maar dit sal ná sy wederkoms leterlik in vervulling gaan. Nét so letterlik as wat Israel na hul land teruggebring word in die laaste dae, en ook weer beheer oor die stad Jerusalem gekry het, sal die ware Messias in geregtigheid as die Koning van die Jode op die troon van Dawid regeer! Al die nasies sal met ‘n ysterstaf regeer word (Ps. 2:9; Op. 2:27). Só ‘n regering kan nét op aarde wees.

12. Die duisendjarige vrederyk

Hierdie is eweneens ‘n letterlike begrip. Wanneer die gebeure rondom die wederkoms van Christus in Openbaring 19 en 20 gelees word, is die volgende verwante sake baie duidelik:

·       Aan die einde van die groot verdrukking kom Jesus Christus terug aarde toe, vergesel van ‘n hemelse leër, om Homself as Koning aan die wêreld te openbaar, oor sy vyande wraak uit te oefen en die heerskappy van die Antichris te beëindig.

·       Heel eerste sal die Antichris en die valse profeet gevang en lewendig in die poel van vuur gegooi word. Die oordele van die Here sal ook hulle leërs tref wat in Israel ontplooi sal wees (Op. 19:20-21).

·       Hierna sal die duiwel gevang, gebind en in ‘n put toegesluit word waar hy ‘n duisend jaar moet bly. Dit sal bo hom verseël word sodat hy nie gedurende die duisend jaar die nasies kan verlei nie (Op. 20:1-3). Tans verlei hy wél die nasies en loop soos ‘n brullende leeu rond om te kyk wie hy kan verslind.

·       Direk hierna neem die duisendjarige vrederyk ‘n aanvang, waarin die verheerlikte heiliges wat deel aan die eerste opstanding gehad het, saam met Christus sal regeer (Op. 20:4-6). Sigbare vrede sal op aarde heers, omdat die verleier van die nasies gebind sal wees. Oorloë en revolusies sal onbekend wees, en geen land sal ‘n weermag nodig hê nie (Jes. 2:2-4).

·       Aan die einde van die vrederyk sal die duiwel ‘n kort tydjie ontbind word, dan sal daar onmiddellik weer aanhitsing vir ‘n groot oorlog plaasvind. Wanneer God ingryp om die rebelle te verdelg, sal die eindoordeel aanbreek. Dan sal al die sondaars van alle eeue tot die hel verdoem word (Op. 20:7-15).

Nie net die letterlike vervulling van profesieë tydens die eerste koms van Jesus nie, maar ook die huidige, letterlike herstel van Israel na hulle eie land ná byna 2000 jaar van internasionale ballingskap, is vaste bewyse van die letterlike vervulling van eindtydse profesieë.