Volkomenheid: Liggaam, Siel en Gees

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Mei 2011)

Die mens is ‘n unieke wese in God se skepping. Weens die gevolge van die sondeval moet hy eers tot ‘n dieper selfontdekking kom en ‘n tweede, geestelike geboorte ervaar voordat hy tot sy volle potensiaal kan ontwikkel. Só alleen sal hy aan die verwagtings van sy Maker kan voldoen. Drie grondliggende vrae moet gevra én beantwoord word: (1) Wat is die natuur van ‘n mens? (2) Wat is die hoë roeping van God wat hy moet nakom? en (3) Hoe moet hy verander word om aan sy goddelike doel te kan beantwoord?

Wat sy liggaam betref, is die mens deel van die natuurlike skepping wat deur ‘n siklus van geboorte, groei, volwassenheid, veroudering en sterfte gaan. Sy fisiese vermoëns om te kan oorleef, is swakker as dié van die meeste diere omdat sy krag, spoed, reuksintuig, sig, vermoë tot selfverdediging en liggaamlike beskutting teen  die elemente relatief swak is. Hy moet vindingrykheid aan die dag lê om in die natuurlike wêreld te kan oorleef, en hieruit blyk sy groot verstandelike vermoëns. Wat hy met sy liggaam doen, is die sigbare demonstrasie van besluite wat hy met sy gees (hart) en verstand neem. Die mens se fisiese lewensiklus is net die eerste fase van ‘n ewige bestaan wat hy ná afloop van hierdie fase in ‘n onverganklike liggaam sal voer.

Wat sy siel betref – dit is sy wil, verstand, emosies en selfbewussyn – is die mens ver bokant die diereryk verhewe. Hy word nie deur stereotiepe, oorerflike gedragspatrone gekenmerk nie, maar het die vermoë om kreatief te kan dink. Om hierdie rede word hy die denkende mens, Homo sapiens, genoem. Die swak ontwikkelde siel van die hoogste primate in die diereryk vergelyk nie eers naastenby met dié van die mens nie. Die mens is as gevolg van sy hoë verstandelike vermoëns ‘n kultuurskeppende wese waardeur voorsiening in sy veelvuldige sosiale, politieke, opvoedkundige en ekonomiese behoeftes gemaak word. Verbysterende tegnologiese vooruitgang is gemaak en daar is ook baie tale ontwikkel om kommunikasie moontlik te maak. ‘n Groot aantal volke, nasies en beskawings het in verskillende dele van die wêreld ontstaan, in ooreenstemming met elke groep se eie behoeftes en waardes. Ten spyte van al hierdie strukture en tradisies het elke individu nog ‘n sekere mate van vrye keuse, hoewel hy moreel en wetlik aanspreeklik vir sy dade teenoor ander lede van die gemeenskap is. ‘n Persoon mag nie radikaal buite die perke van sosiaal aanvaarbare gedrag beweeg nie. Hy is van morele waardes bewus en kan in terme hiervan tussen reg en verkeerd onderskei. Die hoogste en mees eerbare morele norme is egter nie dié wat deur die samelewing bepaal word nie, maar dié wat deur God in sy Woord bepaal is.

Wat sy gees betref, is die mens absoluut ‘n unieke wese omdat hy na die beeld van God geskape is. As gevolg van hierdie attribuut sal die mens ten spyte van die verganklikheid van sy fisiese liggaam vir ewig voortbestaan. Hy sal ná sy dood ‘n onverganklike opstandingsliggaam ontvang. Die mens se geestelike gelykvormigheid aan die beeld van sy Skepper het nie op God se natuurlike attribute soos almagtigheid, alwetendheid en alomteenwoordigheid betrekking nie, maar wel op sy morele attribute soos goedheid, liefde, regverdigheid en heiligheid. Ons is dus nie klein godjies nie, en word net beveel om ‘n onbesproke, goddelike karakter te openbaar. Die Here sê vir alle mense: “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet. 1:16). Die mens is dus nie net teenoor ander mense vir sy gedrag aanspreeklik nie, maar in die finale instansie teenoor God. Omdat God die hoogste gesagspersoon in die heelal is, en Hy deur sy skepsele verheerlik wil word, moet die mens se regte geestelike ingesteldheid die hoogste prioriteit van sy lewe wees. Sy geestelike oortuigings moet die raamwerk en beginsels bied waarbinne sy siel funksioneer en sy liggaam optree. Die eerbiediging van God se morele norme is die grondslag vir geregtigheid, terwyl die verbreking daarvan as sonde beskryf word. Diegene wat volgens die beginsels van God se geregtigheid leef, het vir ewig ‘n deel in sy koninkryk. Onbekeerlike sondaars bring egter die toorn van God oor hulleself. Op hulle wag ‘n smartlike toekoms in die koninkryk van die duisternis waar alle rebelle teen God hulle deur hul eie toedoen selfs nou reeds bevind.

‘n Groot ramp vir die hele mensdom het plaasgevind toe ons eerste ouers aan God ongehoorsaam was en na die duiwel geluister het (Gen. 2:17; 3:4-6). As gevolg van hierdie rebellie het hulle geestelik onmiddellik gesterf en ook fisies sterflike mense geword. Weens hulle toestand van geestelike doodsheid was hulle nie meer aan God se beeld van heiligheid gelykvormig nie en dus nie meer beelddraers van Hom nie. Onder die duiwel se beïnvloeding het hulle ‘n verdorwe, sondige natuur gekry wat ook deur al hulle nakomelinge geërf is (Rom. 5:12). Alhoewel die gevalle mens geestelik dood is, is hy steeds ‘n geestelike wese wat vir invloede op hierdie terrein vatbaar is. Die geestelike duisternis waarin hy verkeer, bring egter mee dat hy geen onderskeidingsvermoë het nie en dus eerder slegte as goeie invloede sal aanvaar. Hy is dus ‘n maklike prooi vir geestelike misleiding en vormgodsdiens.

In hierdie toestand is daar net een oplossing, en dit is om geestelik weergebore te word sodat God se beeld van heiligheid en geregtigheid in mense herstel kan word. Die gevalle mens moet dus geestelik lewend gemaak word, en dit kan slegs deur die Heilige Gees gedoen word. Die Here Jesus het vir Nikodémus gesê: “Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3). Soos wat ons geestelik almal deur Adam se sonde gesterf het, word ons deur die offer van Jesus Christus aan die kruis geestelik lewend gemaak wanneer ons tot bekering kom.

Die gees van die mens verteenwoordig die middelpunt of kern van sy bestaan, m.a.w. sy hart en sy diepste oortuigings. Wanneer veranderings hier intree, verander dit sy hele lewe. Met die sondeval het daar ‘n donker skaduwee oor die mens se gees en siel geval en aan hom ‘n verdorwe selfbeeld gegee. Omdat die Here nie meer op die troon van sy hart was nie, het die vlees (die eie-ek) daardie posisie ingeneem en het die mens die bepaler van sy eie lotgevalle geword. Die hartstogte en begeerlikhede van die vlees het die botoon in sy lewe begin voer en hy het vryelik daaraan uiting gegee. Sodoende het die sonde in sy lewe begin floreer. Die duiwel se versoekings het hierdie proses aangehelp en versnel, en sodoende het die sonde al hoe meer geword. Die mens se liggaam is ook in die diens van sy sondige hartstogte gestel, om daaraan uitvoering te gee. Spoedig het hy ‘n slaaf van die sonde geword.

Die gevolge van die sondeval het al hoe wyer uitgekring en na die vestiging van valse godsdienste en heidense kulture gelei, asook inhalige, oorlogsugtige volke wat mekaar wil oorheers of uitwis. Verskeie goddelose wêreldregerings het uit hierdie bose neigings voortgevloei, en dit het na afgodediens gelei, asook die uitbuiting en onderdrukking van andere.

Hierdie bose kringloop kan slegs verbreek word wanneer die hart, wat die beheersentrum van die mens is, ten goede deur die Here verander word. Hy moet deur die wedergeboorte radikaal verander word sodat God se beeld in sy lewe herstel kan word. Wanneer hierdie ervaring deur baie mense gedeel word, kan dit die begin van Christelike hervormings in die samelewing wees.

Die hoë roeping van God

Daar is vir elkeen van ons ‘n hoë roeping van God in Christus Jesus. Tydens ons redding word ons uit die duisternis van verlorenheid geroep na die wonderbare lig van die nuwe lewe in Christus. Daarna word ons aangespoor om met die Heilige Gees vervul te word en in heiligheid toe te neem totdat die beeld van die Here Jesus volkome in ons gestalte aanneem. Dit is ‘n werk wat die Here vir ons doen, maar ons moet dit ook aktief najaag en nastreef. Dit vereis ‘n gesindheid van selfverloëning en volle oorgawe van ons kant, asook die ywerige navolging van die lewe van Christus. Paulus sê:

“Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry... sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is. Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus” (Fil. 3:7-14).

Wanneer ek in ‘n lewe van toenemende gelykvormigheid aan God wil opgaan, moet ‘n kruis van selfverloëning opgeneem word waaraan ek vir die wêreld en die wêreld vir my gekruisig word (Gal. 6:14; Luk. 9:23). Ek moet volkome met die dood van die Here Jesus identifiseer, sodat ek ongehinderd deel aan sy opstandingslewe kan hê. Voordat die ou lewe (die vlees) gekruisig is, kan ek nie regtig deur die Gees wandel en die Here behaag nie, “want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17). Indien ek egter bereid is om saam met Christus te sterwe, sal ek ook saam met Hom kan lewe (Rom. 6:5). Dan is ek op ‘n pad van vervolmaking en ook waardig om tydens die wegraping deel aan die seën van die eerste opstanding te hê (Luk. 14:14; 1 Thess. 4:16-17). Dit is die hoë roeping waartoe die Here ons geroep het. Wanneer ons vordering op hierdie pad maak, sal ons ná die opstanding van die regverdiges met vrymoedigheid voor die regterstoel van Christus kan verskyn en as sy bruid saam met Hom in sy koninkryk regeer (2 Tim. 4:8; Rom. 8:17; Op. 20:6).

Die vraag is dus nie net of jy weergebore en geestelik lewend gemaak is nie, maar ook of jy sodanig deel aan die opstandingslewe van die Here Jesus het dat jy van die seën van volkome heiligmaking kan getuig? “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen” (1 Thess. 5:23-24). Om hierdie seën te kan verkry, moet ek saam met Christus sterwe sodat ek ook voluit, deur die krag van die Heilige Gees, saam met Hom kan lewe.

Daar moet ‘n innerlike vernuwingsproses plaasvind sodat ek God se wil kan ken en doen. Só alleen kan ek die beginsels van die ou natuur en die wêreld afsterf en aan die heilige natuur van God gelykvormig word: “Stel julle liggame as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom. 12:1-2). Paulus sê ook: “Dit is die wil van God: julle heiligmaking... hy wat dit verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3,8).

Ongelukkig gaan baie Christene voort om deur die vlees te lewe en werke te doen wat geen ewigheidswaarde het nie (1 Kor. 3:1-3). Hierdie werke sal voor die regterstoel van Christus soos hout, hooi en stoppels verbrand omdat dit nie deur die krag van die Gees gedoen is nie (1 Kor. 3:11-15). Laat ons erns daarvan maak om daagliks die hoë roeping na te streef waarmee Christus ons geroep het. Hy wil nie net ons siele van die verderf red nie, maar wil van ons bekwame dissipels maak, asook getroue lede van sy bruidsgemeente wat eendag waardig sal wees om saam met Hom te regeer.

Wanneer my gees deur die wedergeboorte lewend gemaak en met God se Gees vervul is, kan ek in die lig van sy teenwoordigheid wandel. Hierdie lig sal ook oor my siel skyn en meebring dat ek verligte oë van die verstand het om goed van kwaad te kan onderskei en ook die verborgenhede van God se verlossingsplan volkome te kan verstaan. Dit sal my in staat stel om in elke opsig in die lig te wandel. My liggaam sal dan nie meer in die diens van sonde wees nie, maar in die diens van God se geregtigheid. Wanneer ek myself deur verdere Bybelstudie en gebed in hierdie nuwe lewe verdiep, sal ek as “mens van God volkome wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:16-17).