Die Messiaanse Kerk in Israel

Prof. Johan Malan Mosselbaai (Jan. 2010)

Die Messiaanse kerk in Israel is wel nog klein, maar dit is die begin van groot dinge wat Israel se geestelike ontwaking betref. Die Messiaanse beweging onder Jode kan teruggevoer word na die tyd van die eerste dissipels van Jesus. Soos in Handelinge beskryf, was daar van die begin van die kerkgeskiedenis af ‘n klein maar dinamiese minderheidsgroep Messiaanse Jode, en dit sou deur die eeue heen voortduur. In die 19de eeu was daar volgens J. Gartenhaus in sy boek, Famous Hebrew Christians, ‘n groot oplewing in die aantal Jode wat vir Jesus as Messias aangeneem het. Wat die posisie in die 20ste eeu betref, sê ‘n Messiaanse Joodse predikant, eerw. E. Newman, dat daar onder die 16 miljoen Jode voor die Tweede Wêreldoorlog ten minste ‘n halfmiljoen was wat hulle geloof in Jesus as Messias bely het. In die laaste dekades van die 20ste eeu was daar veral in Amerika ‘n groot toename in die bekering van Jode wat Jesus as Messias aangeneem het. Selfs al is daar tans ook omtrent ‘n halfmiljoen bekeerde Jode in die wêreld, verteenwoordig dit slegs 3,8% van die totale Joodse bevolking van sowat 13 miljoen.

Hierdie Messiaanse Jode het deur die eeue heen die belangrike taak gehad om onder mede-Jode van die Messiasskap van Jesus te getuig. Hulle het baie verwerping en teëstand ervaar, maar daar was ook wonderlike deurbrake van Jode wie se oë en harte vir die evangelie oopgegaan het. Die Bybel plaas egter ook ‘n groot verantwoordelikheid op die Christelike kerk oral om by Joodse evangelisasie betrokke te wees. Paulus sê: “Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak. En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!” (Rom. 11:11-12).

Israel se geestelike val as gevolg van die verwerping van die Messias was nie permanent nie. Hulle verblinding het meegewerk om ’n wonderlike doel te bereik, naamlik die evangelisering van die ganse nie-Joodse wêreld. Hulle val is dus ons geestelike rykdom, en juis daarom is ons ook hulle skuldenaars. Ons moet dankbaar teenoor Israel wees omdat die saligheid wat in die eerste plek vir hulle bedoel was, as gevolg van hulle negatiewe reaksie aan ons gebied is. Ons is daardeur geestelik verryk, en nou moet ons medelye met Israel hê. Hulle moet in ons lewens kan sien wat hulle misgeloop het, en jaloers gemaak word op die manier waarop ons die Joodse Messias, Jesus, dien. Ons moenie veroordelend teenoor hulle wees nie. Onthou dat al die Bybelskrywers, behalwe Lukas, Jode was en dat Messiaanse Jode, veral Paulus, die eerste was om ons voorvaders in Europa te evangeliseer.

Ons moet ook nie die fout maak om Joodse evangelisasie af te skryf omdat die Here na bewering vir Israel ’n gees van blindheid en diepe slaap gegee het nie. Die Here verhard net mense se harte wat hulleself vooraf reeds verhard het, en sal ook slegs ’n sluier op mense plaas wat self weens hulle negatiewe houding nie wil sien nie. Alle mense is ten diepste vir hulle eie probleme en ellende verantwoordelik. Die sluier oor Israel is deur die Messias weggeneem (2 Kor. 4:14-16), daarom kan alle Jode hulleself tot Hom bekeer. Daar is dus geen hindernis in die weg van Joodse evangelisasie nie omdat die Heilige gees alle mense van hulle sonde oortuig, en ook van die geregtigheid van Christus (Joh. 16:8). Die kerkgeskiedenis lewer bewys van hierdie feite.

Die Here het ná die uitstorting van die Heilige Gees vir Petrus en verskeie ander apostels afgesonder om veral onder die Jode te arbei. Die eerste 5000 bekeerlinge van die Christelike kerk was Jode. Paulus sê ook dat “die evangelie van Christus ’n krag van God tot redding is, eerste vir die Jood en ook vir die Griek” (Rom. 1:16).

Joodse evangelisasie is ’n baie groot taak, want geweldige vooroordele moet oorkom word voordat ’n Jood vir Jesus as Messias sal aanneem. Die volgende is die vier grootste redes waarom Jode in die algemeen die Christendom verag:

1.    In die Middeleeue is hulle geweldig deur Katoliek-oorheerste lande in Europa vervolg en honderde duisende van hulle wreed om die lewe gebring. Hulle sê hulle het aan die hand van Christene gely.

2.    In Lutherse Duitsland is daar in die Tweede Wêreldoorlog ses miljoen Jode om die lewe gebring, volgens Joodse persepsies ook deur Christene.

3.    In baie van die vormgodsdienstige kerke is daar steeds sterk negatiewe sentimente teenoor Israel, en ondersteun baie van dié kerke eerder die vestiging van ’n Palestynse staat as die herstel van Israel in hulle godgegewe land.

4.    Die rabbi’s en ander skrifgeleerdes van Israel is nog altyd vyandig teenoor Jesus en verwerp summier sy aansprake as die Messias van Israel en Verlosser van die wêreld. Hulle hou aan ’n dooie vormgodsdiens vas en stel hulle hoop op die herbouing van die tempel en die herinstelling van die Ou Testamentiese offerdiens. Hulle neem aktief aan die veldtog van die diskreditering van Jesus van Nasaret deel en verhoog dus die negatiewe sentiment teenoor Hom onder die meeste Jode.

Dit is die taak van Messiaanse Jode én evangeliese Christene om hierdie diepgewortelde vooroordele verkeerd te bewys en die liefde van die Messias aan ortodokse én ongelowige Jode te bewys. Hoe meer Israel in isolasie kom en internasionaal verwerp word, hoe meer sal daar by hulle dankbaarheid en ontvanklikheid vir die bystand en hulp van evangeliese Christene en Messiaanse Jode wees. Die toestand is klaar besig om effens te verbeter.

Dit moet duidelik gestel word dat ons heel eerste verpligting teenoor die Messiaanse Jode is. Paulus sê: “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof” (Gal. 6:10). Ons moet hierdie beweging sterk ondersteun en help uitbou. Israel se hele toekoms is van hulle afhanklik, want die Here wil die hele volk voorberei en op die punt bring waar hulle waarlik weer sý volk sal wees. Dié wat weier om geestelik te herleef en Messiaans te word, sal in hulle sonde sterf, maar die oorblyfsel wat met die Messias versoen word, verteenwoordig die klein begin van die ware Israel van die toekoms.

Daar moet altyd onthou word dat die Here se uiteindelike doel met Israel se herstel in die land, die geestelike lewendmaking van die hele volk is. Ons moenie nou té begaan wees om politieke en ekonomiese stabiliteit in Israel te bevorder, of vrede in die Midde-Ooste te skep nie, want dit gaan eers gebeur nadat die Messias gekom het. Ons kán help waar die nood groot is, maar ons hoofdoel is om die Messiaanse beweging te help uitbou. Dit is op die volkome geestelike herstel van Israel gerig, soos uit die volgende profesie van Esegiël 36 blyk:

“Daarom, sê vir die huis van Israel: So spreek die Here Here: Ek doen dit nie om julle ontwil nie, o huis van Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat julle ontheilig het onder die nasies waar julle gekom het. En Ek sal my grote Naam heilig wat onder die nasies ontheilig is, wat julle onder hulle ontheilig het; en die nasies sal weet dat Ek die Here is, spreek die Here Here, as Ek My in julle voor hul oë as die Heilige laat ken. En Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My ‘n volk en Ek sal vir julle ‘n God wees” (Eseg. 36:22-28).

Kan u sien dat hierdie geestelike reiniging van die volk nog nie gebeur het nie? Daar was wél ’n klein begin in die Messiaanse beweging wat sedert die begin van die kerkbedeling bestaan het, maar die groot meerderheid Jode het nog nie geestelik ontwaak nie – veral nie die politieke en godsdienstige leiers van Israel nie. Noudat Israel fisies en staatkundig in hulle land herstel is, raak dit al hoe belangriker dat die Messiaanse beweging onder hulle uitgebou moet word. Hierdie taak moet met groter ywer verrig word, want baie meer Jode moet van die Here Jesus se Bybelse aansprake as Messias van Israel kennis neem, én ook oor die koms van die valse messias ingelig word. Hulle moet in die lig van tradisionele Joodse gebruike weet dat die hemelse Bruidegom sy aardse bruid in die geheim sal kom haal (Matt. 25:1-13).

Kennis van hierdie aard is van kardinale belang om die toekomstige groep van 144 000 Jode voor te berei om kort ná die wegraping die valse messias te weerstaan en die ware Messias as Verlosser aan te neem. Hulle sal die plek van die Messiaanse Jode inneem wat tevore deur die wegraping weggeneem is, en deur hulle dinamiese getuienis die Messiaanse beweging in Israel sterk laat toeneem. Saam met hulle sal daar volgens Openbaring 11:1-14 nog twee spesiale getuies met groot magte optree om van die ware Messias te getuig. Onder hulle prediking sal baie Jode én nie-Jode gered word.

Die misleiding van die valse messias sal egter só sterk en oortuigend wees, dat die meerderheid ongeredde Jode met hom ‘n verbond sal sluit en hom sal navolg. Die Here Jesus het lank gelede hierteen gewaarsku toe Hy aan die Joodse leiers gesê het: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43). Die misleide, ongeredde Jode sal eers in die middel van die verdrukking die ontnugterende ontdekking maak dat hulle nuutgevonde messias vals is wanneer hy homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar (2 Thess. 2:4). Dan sal hulle hul verbond met hom verbreek en volgens Mattheus 24:15-22 vir oorlewing na ‘n plek in die woestyn moet vlug. Eers dan sal hulle geestelike perspektief begin regkom en sal hulle volgens Hosea 6:1-2 na die ware Messias soek. Hulle sal dan besef dat al Israel se ellende die afgelope tweeduisend jaar aan die verwerping van hulle Messias uit die geslag van Dawid te wyte is.

Wanneer die oorblyfsel van die volk aan die einde van die verdrukking die ware Messias op die Olyfberg sien neerdaal, sal almal van hulle Hom aanneem en hartlik met Hom versoen word (Matt. 23:39). Hulle sal volgens Sagaria 12:10 aan sy voete ween en hulle grondig tot Hom bekeer. Eers dán sal die Messiaanse beweging sy volle en heerlike einddoel bereik.

Wil jy meewerk om hierdie hoogs eerbare doel te bereik? Word dan ‘n ondersteuner van die Messiaanse beweging in Israel én reg oor die wêreld. Aan die einde van hierdie wonderlike pad sal die Here van Israel sê: “En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtighede vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jer. 31:34).