Al die groot godsdienste in die węreld word deur sterk messiaanse verwagtings gekenmerk. In almal van hulle word daar na ‘n messias vooruitgekyk wat alle ongeregtigheid op aarde sal uitroei, bose mense sal doodmaak, lyding sal laat ophou, verdeeldheid deur ‘n nuwe eenheid sal oorbrug, en ‘n tyd van ongekende vrede en voorspoed op aarde sal inlui. Godsdienstige oortuigings word deur hierdie verwagting aangedryf, en mense is daarop ingestel om deur ‘n lewe van toewyding ‘n plek in hierdie toekomstige “vrederyk” te verseker.
Evangeliese Christene wat die Bybel letterlik opneem, verwag almal die wederkoms van Jesus Christus. Hy sal na die aarde terugkeer om sy vrederyk hier te vestig en saam met sy gelowiges op aarde te regeer (Op. 2:26-27; 5:9-10; 19:15). Voordat die vrederyk egter kan begin, sal Hy toelaat dat die boosheid op aarde tot volle verwerkliking kom. Die Antichris sal vir ‘n tydperk van sewe jaar beheer oor die węreld verkry (Op. 13:7), en in daardie tyd sal die oordele van God ook oor ‘n onbekeerlike mensdom uitgestort word. Hierdie sewe jaar (Dan. 9:27) word die verdrukking genoem en in twee helftes van 3˝ jaar, dit is 42 maande elk, verdeel. In die eerste helfte sal die Antichris die ruiter op ‘n wit perd wees (Op. 6:2), wat ‘n nuwe węreldorde van valse vrede en eenheid sal instel. In die tweede 3˝ jaar sal hy ‘n militęre skrikbewind voer en almal laat doodmaak wat weier om hom te aanbid (Op. 6:4,8; 13:4-7,15). Hierdie laaste 42 maande word as die groot verdrukking beskryf (Matt. 24:21; Op. 7:14).
Die Messias sal nie sy getroue dissipels saam met die ongelowige węreldlinge in die sewe jaar lange verdrukking straf deur hulle aan die skrikbewind van die Antichris uit te lewer nie. Hy het beloof dat hulle die komende tyd van oordele en straf oor die goddeloses deur middel van die wegraping sal vryspring (Luk. 21:36; 1 Thess. 4:16-17). Dit sal die bevestiging van ‘n Bybelse beginsel wees dat die Here nie die regverdige saam met die goddelose sal ombring nie (vgl. Gen. 18:23; 19:15-22).
Ná die sewe jaar van verdrukking sal die Messias met sy heiliges na die aarde terugkeer en sy voete op die Olyfberg in Jerusalem neersit (Sag. 14:4-5). ‘n Groot slagting van sy vyande sal tydens die oorlog van Armageddon plaasvind. By daardie geleentheid sal die Antichris en valse profeet gevang en lewend in die poel van vuur gegooi word (Op. 19:19-21; Sag. 14:12-13). Satan sal gevang en in ‘n bodemlose put gebind word (Op. 20:1-3).
Daarna sal die vrederyk van die Messias op aarde gevestig word. Omdat die duiwel gebind sal wees, sal hy die nasies nie in daardie tyd kan verlei nie (Op. 20:3). Hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose harte nie en gereeld na Jerusalem optrek om die Here daar te dien. In hierdie tyd sal daar geen oorloë en internasionale konflikte wees nie, en die geredde Israel sal die mees geëerde nasie op aarde wees (Jer. 3:17; Jes. 2:2-4; Sag. 8:20-23). Daar sal ook harmonie in die diereryk wees (Jes. 11:6-9) en die aarde sal groot opbrengste oplewer (Amos 9:13). Almal sal die Here ken, en geen afgode aanbid word nie (Sag. 13:2). Wat ‘n tyd om na uit te sien. Net die Here kan ons vir hierdie toekomstige koninkryk gereed en waardig maak.
Ortodokse Jode aanvaar nie vir Jesus as Messias nie, en aanvaar dus ook nie die Nuwe Testament as deel van die Bybel nie. Hulle het egter ‘n sterk messiasverwagting en kyk onder meer na aanleiding van Sagaria 14 uit vir ‘n spesiale gesant van God wat in ‘n tyd van groot oorloë tot hulle redding sal kom en al die anti-Joodse vyande verdelg. Volgens Sagaria 14 sal Hy op die Olyfberg verskyn, oorlog voer teen die nasies wat teen Jerusalem opgetrek het, hulle met vreeslike plae tref wat tot hulle onmiddellike verdelging sal lei, Jerusalem verhef en sy koningskap daar bevestig. Hy sal die troon van Dawid in Jerusalem herstel en dan van dié troon af regeer (Jes. 16:5). Verder sal Hy die tempel van Esegiël 40 tot 44 laat oprig, die offerdiens instel en die Wet van Moses (die Torah) internasionaal van toepassing maak.
Daar is ‘n baie groot gebrek in die Jode se messiasverwagting omdat hulle nie in die Ou Testament tussen die lydende en regerende Messias onderskei nie. Volgens profesieë soos dié in Jesaja 53 en Psalm 22 moet die Messias eers as ‘n nederige dienskneg kom om sy lewe vir die volk se sonde af te lę. Daarna, wanneer die volk met Hom versoen is, sal Hy as die triomferende Messias kom wat sy vyande sal verdelg en dan uit Jerusalem regeer. Dit is juis hulle gebrek aan insig oor die eerste fase van die Messias se koms as Verlosser, wat na hulle nasionale verwerping van Jesus as die lydende Messias gelei het.
Omdat hulle nog steeds nie ‘n Redder het nie, streef Israel na die herbouing van die tempel en die herinstelling van die offerdiens. Hulle stel steeds hulle hoop op wetsnakoming om van sondes gereinig te word. Die groot tragedie in verband met Israel en die ongeredde nasies is dat Satan gereed staan om ‘n valse messias aan alle mense te bied wat nie die ware Messias aanvaar het nie. Jesus het Israel ook hierteen gewaarsku toe hulle Hom as Messias verwerp het: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43).
Hierdie “ander messias” wat sal kom, sal die valse messias (die Antichris) wees. Ná die wegraping sal hy skielik op die toneel verskyn om alle mense op aarde met sy wonderwerke en bonatuurlike krag te verbyster. Hy sal daarop aanspraak maak om ‘n afstammeling van koning Dawid te wees, en sal op grond daarvan deur Israel aanvaar word. Hy sal veral deur Israel verwelkom word as hy hulle die reg gee om hulle tempel op die tempelberg te herbou. Groot sal hulle skok en verbasing egter wees as hy ná 3˝ jaar in die herboude tempel ingaan, homself daar tot God verklaar en ook ‘n afgodsbeeld van homself in die tempel laat oprig (2 Thess. 2:4; Op. 13:15). Hulle sal hulle verbond met hom verbreek en dan vinnig vir oorlewing uit Jerusalem moet vlug. Die volgende 3˝ jaar sal die donker dae van die groot verdrukking wees wanneer Israel voortvlugtend sal wees en iewers in die woestyn sal skuil (Matt. 24:15-21).
Aan die einde van die sewe jaar van verdrukking, wanneer die ware Messias kom, sal die oorblyfsel van Israel na die Olyfberg optrek en Hom daar as Messias aanvaar: Hulle sal opsien na Hom vir wie hulle tydens sy eerste koms deurboor het, en bitterlik oor Hom ween (Sag. 12:10). Eers dan, wanneer hulle met die ware Messias versoen is, sal die hele Israel gered wees (Rom. 11:25-26). Dan sal hulle die Messias die eerste keer weer sien nadat Hy tydens sy eerste koms deur hulle verwerp is. Hy het vir hulle gesę: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sę: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39).
Hierna sal die geredde Israel in die Messiasryk groot eer as God se volk ontvang: “In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die węreld vol vrugte sal maak” (Jes. 27:6). “In dié dag sal die Here van die leërskare wees tot ‘n sierlike kroon en ‘n pragtige krans vir die oorblyfsel van sy volk” (Jes. 28:5). “In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sę: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:23). Hierdie wonderlike tyd kan eers aanbreek nadat Israel as volk met hulle Messias versoen is en Hy uit Jerusalem regeer.
Daar is verskillende Islamitiese beskouings oor die komende węreldmessias, wat deur hulle die Imam Mahdi genoem word. Sommige Moslems, nl. die Sjiďete, verwag die herverskyning van ‘n voormalige Imam wat die verskillende faksies in die Moslemgeloof sal verenig, die ongelowiges sal vernietig en ‘n węreldwye regering van Allah in ooreenstemming met die Koran en Islam se Sharia-wette sal instel. Die meerderheid Soenniete verwag dat Jesus van Nasaret die węreldmessias sal wees – nie die Jesus van die Bybel nie, maar die vervalste “Jesus” van die Koran, wat net ‘n profeet is. Jesus word 97 keer in die Koran genoem.
Vasberade pogings word aangewend om Jesus in terme van Islamitiese konsepte te definieer, en Hom sodoende as een van Islam se groot profete voor te hou. Hierdie idees word in verskeie boekies gepropageer wat in Riyadh, Saoedi-Arabië, gedruk en węreldwyd deur talle Islamitiese propagandasentrums versprei word. Die volgende is voorbeelde van hierdie publikasies: We believe in Jesus deur Soliman H. Al-But’he, Qur’anic verses about Christianity deur Abdullah Al-Saeed en Jesus is coming deur A.H. Jacob.
In die boekie Jesus is coming verwerp A.H. Jacob die Bybel as die onfeilbare Woord van God: “Die Bybel is verdraai, verander en nie meer die Boek van God nie...” (bl. 22). Alle beskouings oor Jesus en die Antichris word gevolglik op die Koran gebaseer. Moslems beskou nie vir Jesus as God of die Seun van God nie (bl. 20,21) en verwerp ook die Bybelse weergawe van sy kruisiging: “Die Koran leer dat Jesus Christus nie gekruisig of deur die Jode doodgemaak is nie” (bl. 25). Volgens dié lering is iemand anders in Jesus se plek en onder sy naam gekruisig.
Die skrywer sę die volgende oor die Antichris: “Die valse messias sal ‘n jongman met growwe hare en ‘n uitpeuloog wees... Hy sal van die pad tussen Sirië en Irak af kom, en links en regs vernietiging en bloedvergieting saai” (bl. 9). In sy boekie wy die skrywer die meeste aandag aan die identiteit, leerstellings en wederkoms van Jesus Christus, wat volgens hom die groot wegbereider vir Mohammed was. Hy sę: “Die Messias, seun van Maria, sal in Damaskus na die aarde toe neerdaal. Jesus Christus sal die valse messias (die Antichris) soek, hom naby Jerusalem vang en doodmaak” (bl. 10).
“God se Boodskapper, Mohammed, het gesę dat Jesus, die seun van Maria, binnekort na ons mense (die Moslems) sal neerdaal. Hy sal die mensdom op ‘n regverdige wyse deur die wet van die Koran en die Soenna oordeel en regeer. Hy sal die kruis verbreek en ook die verkoop en eet van varkvleis verbied” (bl. 15).
“Jesus sal as ‘n volgeling van God se laaste Boodskapper, Mohammed, terugkeer om die ware godsdiens, naamlik Islam, te laat herleef... Hy kom terug om die węreld in geregtigheid deur God se finale openbaring aan die mensdom in die heilige Koran te regeer, wat in ooreenstemming met die godsdienstige tradisies van die profeet Mohammed sal wees. Hy sal die mensdom leer om God binne die verband van Islamitiese monoteďsme te dien – om Hom alleen te aanbid, in die voetspore van sy Boodskapper Mohammed te volg, en mense teen die ewige gevolge van politeďsme (die aanbidding van baie gode) te waarsku” (bl. 17,18).
“Jesus sal die valse leerstellings wat in sy naam verkondig word, vernietig, soos bv. dat daar ‘n drie-enige God is, wat ‘n politeďstiese geloof is. Hy sal die feit beklemtoon dat God Een is, ‘n absolute eenheid en nie ‘n saamgestelde eenheid nie. Jesus sal Homself nie in ‘n vader-seun-verhouding teenoor God stel nie. Hy sal eerder sy verhouding teenoor God as ‘n meester-slaaf-verhouding sien... Jesus sal ontken dat hy enige van God se attribute het. Hy het nooit daarop aanspraak gemaak dat Hy God is en ook nooit na homself as die seun van God verwys nie. Hy was net ‘n profeet en ‘n dankbare slaaf van God” (bl. 20,21).
“Tydens sy wederkoms sal hy verklaar dat hy ‘n slaaf van God is en ‘n volgeling van sy broeder, Profeet Mohammed, wat die laaste Boodskapper van God is. Jesus sal gebede op die regte manier opsę soos wat die Moslems dit doen, die armes help, gedurende die maand Ramadan vas, die Hajj-pelgrimstog na Mekka onderneem en die Umrah onderhou” (bl. 23). Hy sal die eet van varkvleis verbied en alle varke laat doodmaak (bl. 27-29).
“Jesus kom terug om die valse aanspraak dat die Jode Hom doodgemaak het, te weerlę, asook die oningeligte Christene wat hierdie Jode glo. Hy sal teen die Jode veg en die valse messias doodmaak. Die Jode sal die soldate en volgelinge van die valse messias wees. Tydens sy bewind sal die Jode ‘n baie sterk regering hę, maar net totdat Jesus Christus, die seun van Maria, neerdaal. Hy sal dan die valse messias opspoor en doodmaak. Daarna sal Jesus en sy Moslem-bondgenote teen die Jode veg totdat die oorblywendes van hulle tussen die klippe sal wegkruip... Hy sal ook die Christene doodmaak wat ‘n verering vir die kruis het. Wanneer beide hierdie groepe oorwin en onderwerp is, en die aarde van politeďsme en ongeloof gereinig is, sal daar vrede en harmonie tussen alle mense op aarde wees” (bl. 24).
Moslems sę ook dat Jesus 33 jaar op aarde geleef het, en vir die oorblywende sewe jaar van sy profetiese bediening van 40 jaar moet terugkeer. Hulle sal dus die Antichris as “Jesus” aanvaar!
Die Sjiďete het ‘n sterk verwagting op die koms van die 12de Imam as węreldmessias. Die leier van Iran, president Mahmoud Ahmadinejad, wat gedreig het om Israel van die węreldkaart uit te wis, het die rol as wegbereider vir die komende Imam aanvaar. Ahmadinejad sę dat die gety van die Islamitiese revolusie spoedig oor die hele węreld sal spoel. Hy glo dat die węreld op ‘n botsing van beskawings afstuur waarin Islam die enigste eerbare alternatief vir Westerse oorheersing is. Hy is daarvan oortuig dat Islam kan en sal wen. Ahmadinejad se oortuigings spruit voort uit sy geloof in die tweede koms van die 12de Imam. Volgens die Sjiďtiese weergawe van Islam het die 12de afstammeling van Mohammed, wat as die 12de Imam of die Mahdi bekend staan, in die jaar 941, meer as ‘n duisend jaar gelede, verdwyn en homself verborge gehou. Die Sjiďete glo dat hy sal terugkom wanneer die węreld vol onderdrukking en tirannie is. Hulle glo dat hy homself in die put Jamkaran in Iran skuilhou. Moslems pelgrims gooi geskrewe versoeke in die put in die hoop dat die Imam dit sal lees en tot hulle hulp sal kom.
Iran speel ‘n groot rol om die weg vir die verskyning van die Sjiďtiese Imam Mahdi voor te berei. Volgens die webblad van die Islamitiese Republiek van Iran se Uitsaaikorporasie sal die Mahdi binnekort sy triomfantelike verskyning by die Ka’aba in Mekka maak. Hy sal dadelik ‘n weermag op die been bring en Islam se vyande in ‘n reeks apokaliptiese veldslae vernietig. Een van sy heel grootste oorwinnings sal teen die Sionistiese vyand en sy bondgenote in Jerusalem wees.
Die Imam sal tot in Irak optrek en sy hoofkwartier in Kufa inrig, wat naby Babilon is. Die webblad berig ook dat die profeet Jesus, die seun van Maria, saam met die Mahdi sal verskyn en met hom sal saamwerk om onderdrukking in die węreld uit te roei en geregtigheid te laat seëvier. Daaglikse gebede word in Iran opgesę dat Allah die koms van die Mahdi sal verhaas.
Iran is ook besig om homself tot die tande toe te bewapen, want hulle wil ‘n groot rol in die vorming van die Mahdi se leër speel waarmee hy al sy vyande wil onderwerp. Iran, met sy bevolking van 70 miljoen, het ‘n groot Islamitiese Revolusionęre Wag wat baie goed opgelei is en oor moderne wapentuig beskik. Dit is ‘n spesiale eenheid bo en behalwe die land se weermag. Met hulle gevorderde missiele kan hulle presisie aanvalle doen en feitlik enige teiken in die Midde-Ooste vernietig. Hierdie eenheid sal tot die Imam Mahdi se beskikking gestel word om sy oorloë te voer.
Sjiďete glo dat die Imam Mahdi sewe jaar lank op aarde sal regeer voordat hy in ‘n finale oordeel die einde van die węreld sal meebring. Ahmadinejad se regering het reeds besluit om ‘n verbond met hom te sluit. Daar is diegene in Iran wat die Imam se verskyning binne die volgende twee jaar of so verwag. Ahmadinejad sę dat die land vir hierdie groot gebeurtenis voorbereid moet wees deur genoeg hotelle vir die groot aantal toeriste en pelgrims te bou wat Iran in daardie tyd sal besoek.
Volgens Esegiël 38 en 39 sal Iran (die voormalige Persië) inderdaad vir Israel aanval in ‘n poging om die land van die węreldkaart af uit te wis. Hierdie oorlog sal ‘n verenigde poging tussen Magog (’n antieke naam vir moderne Rusland), Iran, Turkye, Libië, Ethiopië en verskeie ander volke wees (Eseg. 38:2-8,15-16). Die Here sal egter skielik en onverwags in die oorlog ingryp en die vyandelike magte op die berge van Israel vernietig (Eseg. 38:22;39:1-5). Dit sal ‘n toneel van uiterste vernietiging wees, en die roofdiere en roofvoëls sal hulle in ‘n groot fees verlustig (Eseg. 39: 3-4). Israel sal die buit versamel en dit sal hulle 7 jaar neem om die wapens en verwoeste militęre toerusting te verbrand en op te smelt (Eseg. 39:9).
Die sewe jaar wat op die skielike beëindiging van hierdie oorlog volg, sal waarskynlik die sewe jaar wees waarin Israel en die nasies ‘n verbond met die Antichris sal sluit (Dan. 9:27). Hy sal op ‘n kritieke oomblik tydens of direk ná die vernietiging van die invalsmagte verskyn, en voorgee om ‘n spesiale gesant van God te wees wat gekom het om die mensdom van ‘n selfvernietigende kernoorlog te verlos. Israel sal ook uit die kake van die dood gered word.
Ná ‘n aanvanklike tyd van valse vrede sal hy as ‘n uiters gewelddadige man geopenbaar word wat die vrede van die aarde af sal wegneem (Op. 6:4). “Hy sal met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref... maar hy sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie” (Dan. 11:44-45). Sy einde word in Openbaring beskryf, en dit sal gebeur wanneer die ware Christus terugkeer (Op. 19:19-21; Sag. 14: 2-4,12-13).
Alle messiaanse verwagtings buite die ware Christus, wat die Seun van God en God self is wat in ‘n menslike liggaam geopenbaar is, is op die Antichris gerig. Al die misleide mense in die węreld sal ‘n verbond met die valse messias sluit omdat hulle nie die enigste ware Verlosser van ‘n verlore mensdom persoonlik ken nie (vgl. Joh. 5:43; Hand. 4:12). Daar is baie misleide voorlopers van die valse messias wat die weg vir sy spoedige openbaring baan. Sy regering van sewe jaar sal die węreld se komende uur van duisternis wees.