Die Koue Oorlog in die Midde-Ooste

Prof. Johan Malan Desember 20090

Die Midde-Ooste het ‘n ingewikkelde en dramatiese geskiedenis van volskaalse oorloë én laer intensiteit terroriste-oorloë, afgewissel deur tye van koue oorlog tussenin. Sedert Israel se herstel in 1948 was daar nooit regtig vrede in die Midde-Ooste nie, en is daar steeds geen vooruitsig op ‘n langtermyn vrede voordat die Messias kom nie. Wanneer ons dus vir die vrede van Jerusalem bid, moet ons hierdie realiteite in ag neem. Ons moet bid dat die benoudheid waaronder Israel kom, en nog in ‘n groter mate in die toekoms sál kom, tot hulle geestelike ontwaking en redding sal lei. Net die Messias alleen is die waarborg vir langtermyn vrede in mense se harte én ook met ander volke en groepe in die wêreld daarbuite.

Wanneer ons die idee van ‘n koue oorlog goed begryp, sal ons verstaan waarom daar met gereelde tussenposes ook volskaalse oorloë en terroriste-oorloë in Israel en die res van die Midde-Ooste uitbreek. Volgens ‘n artikel deur Daniel Pipes in The Jerusalem Post van 16 Junie 2009, is begrip vir die werklikheid van ‘n koue oorlog noodsaaklik om die huidige, gespanne situasie in die Midde-Ooste reg te kan verstaan. Hierdie koue oorlog is ná die verkiesings in Amerika, Israel en Iran besig om te eskaleer.

‘n Koue oorlog is ‘n konflik oor ideologiese verskille wat sonder regstreekse militêre aksies gevoer word, en ook sonder die verbreking van diplomatieke betrekkinge. Dit is in werklikheid ‘n verlengde dooiepunt in die stryd tussen die ideologieë, belange en beleidsrigtings van twee partye of lande, sonder om tot volskaalse oorlogvoering oor te gaan. Die spanning wat deur die onopgeloste probleme geskep word, lei na ‘n wapenopbou weens die moontlikheid van ‘n toekomstige oorlog. ‘n Klassieke voorbeeld van ‘n koue oorlog was dié tussen Amerika en Rusland tussen 1945 en 1991.

Die koue oorlog in die Midde-Ooste bevat al hierdie elemente. Die ideologieë van Sionisme en Islam is geheel en al in botsing met mekaar en totaal onversoenbaar. Die een groep het uit die diaspora na hulle ou tuisland teruggekeer en in 1948 die moderne Joodse staat gestig, aanvanklik met Tel Aviv en later Jerusalem as hoofstad. Die ander groep wil in die plek van moderne Israel ‘n Palestynse staat skep met Jerusalem as hoofstad. Die een groep se godsdienstig-politieke ideologie is op die Ou Testament van die Bybel gebaseer, en die ander groep se ideologie op die Koran. Daar is ten diepste twee godsdienstige ideologieë wat hulle in twee kampe verdeel. Die Jode wil hulle tempel op die Tempelberg bou, maar Islam het reeds drie moskees daar gebou. Albei groepe besef dat ‘n kompromie en langdurige vrede tussen hulle onmoontlik is, daarom is hulle tydens die koue oorlog baie sterk op wapenopbou en voorbereidings vir ‘n groot oorlog tussen hulle besig. Met die oog hierop probeer elke groep om vir hulleself soveel as moontlik bondgenote in die internasionale gemeenskap te kry.

Omdat die koue oorlog tussen Israel, die Palestyne en hulle talle Moslem-bondgenote in die Midde-Ooste so gespanne is, breek dit dikwels in ‘n Islamitiese terroristestryd en ook volskaalse oorloë uit. Islam het ‘n sterk godsdienstige beweegrede om by ‘n koue oorlog teen sy Christelike en Joodse vyande betrokke te wees, maar verbind hulleself daartoe om tydens die koue oorlog soveel as moontlik wapens vir ‘n volgende volskaalse oorlog op te gaar.

In sy boek, The great deception – Philistine, sê Ramon Bennett die volgende op bll. 100-101: “Dit was Mohammed self wat die grondslag vir Islam gelê het om ‘n geskiedenis op te bou van vrede met hulle vyande ten einde op ‘n later, meer geleë tyd, tot die aanval oor te gaan. In 628 het Mohammed ‘n vredesverdrag met die Kuraish-stam van Mekka gesluit vir die voorreg om by die Ka’aba te mag aanbid. (Die Kuraish-stam het Mohammed weens sy nuwe geloofsoortuigings verbied om by die Ka’aba in Mekka te aanbid). Twee jaar later, toe Mohammed genoeg volgelinge in Medina verkry het en aansienlik sterker was, het hy die Kuraish-stam aangeval en al die manlike lede daarvan om die lewe gebring. Hierdie vredesooreenkoms van Mohammed word as ‘n model gebruik om net ‘n tydelike vrede met jou vyande te sluit totdat jy sterk genoeg is om hulle in ‘n volskaalse oorlog uit te wis. In Islamitiese denke is dit dus geregverdig om ‘n tydelike vredesooreenkoms met jou vyande te sluit, mits dit die weg na ‘n uiteindelike oorwinning in ‘n volskaalse oorlog sal baan. Dit is dus net deel van ‘n langtermyn oorlogstrategie.”

In die lig hiervan is dit duidelik hoe futiel alle pogings deur Amerika, die VN, die Europese Parlement én Israel is om blywende vredesooreenkomste in die Midde-Ooste te probeer sluit. Die politieke en godsdienstige ideologieë van Israel en die Palestyne is totaal onversoenbaar en kan nie in ‘n aanvaarbare vredesooreenkoms binne die raamwerk van ‘n tweestaatoplossing geakkommodeer word nie. Die enigste opsie hier is om die koue oorlog te verleng, en te hoop dat Israel se vyande bang sal wees om oorlog te verklaar. Israel moet militêr baie sterk wees en hulle moet op Amerika se voortgesette militêre steun kan reken, sodat hulle vyande twee maal sal dink om hulle aan te val.

Ongelukkig lyk dit of die koue oorlog se dae in die Midde-Ooste getel is omdat die skaal besig is om in die guns van Islam te swaai. Israel verloor al hoe meer internasionale steun, en word ook nou deur Amerika onder druk geplaas om uit die Wesbankgebied te onttrek, en spesifiek ook uit Oos-Jerusalem, sodat daar vir ‘n Palestynse staat plek gemaak kan word. Intussen gaan Sirië en Iran voort om geweldige wapentuig vir ‘n volskaalse oorlog teen Israel op te bou – selfs ook kernwapens. Hulle bewapen ook vir Hamas in die Palestynse gebiede en vir Hizboellah in Libanon. Iran het al by verskeie geleenthede gedreig om ‘n uitwissingsoorlog teen Israel te voer. Noudat die radikale president Ahmadinejad in Iran vir vier jaar herkies is, word hierdie beplande oorlog teen Israel ‘n daadwerklike moontlikheid op die kort termyn.

Die Bybel verwys na twee groot oorloë wat in die eindtyd teen Israel gevoer gaan word. Die een is die Russies-Arabiese inval in Israel, soos in Eseg. 38 en 39 beskryf. Iran is een van die lande wat deur Esegiël genoem word, wat saam met Rusland sal poog om die Joodse staat te vernietig sodat die Palestyne die hele gebied kan okkupeer en beheer. Uit hierdie groot oorlog sal die Antichris waarskynlik as vredemaker na vore tree om die militêre situasie in die Midde-Ooste én die res van die wêreld deur ‘n tydelike vrede te beredder. Almal sal hom as vredemaker aanhang en dit sal die begin van ‘n nuwe wêreldorde van valse vrede en eenheid wees.

Die ander groot oorlog is die slag van Armageddon wat aan die einde van die verdrukking van sewe jaar onder die bewind van die Antichris sal plaasvind. Dit sal ‘n poging deur die Antichris en sy wêreldmagte wees om sy nuwe wêreldorde teen Jesus Christus en sy hemelse leër te verdedig. Die einde sal volgens Openbaring 19:19-21 en Sagaria 14:12-13 egter vinnig vir die Antichris en sy leërs aanbreek. Eers dan sal die ware en langdurige vrede op aarde aanbreek waarna almal van ons smag. Dan sal daar nie net vrede in Jerusalem en die Midde-Ooste wees nie, maar oral in die wêreld.

Volgens die Bybel is daar verskillende redes vir die groot vrede wat daar tydens die duisendjarige vrederyk op aarde sal heers:

1.    Daar sal net een godsdiens in die hele wêreld wees, en dit is die Christelike godsdiens. Die aarde sal wol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek (Jes. 11:9). Almal sal die aangesig van die Here Jesus soek en Hom om genade smeek (Jes. 2:3; Sag. 8:21-22). Die afgode en valse godsdienste sal uitgeroei en nooit weer aan hulle gedink word nie (Sag. 13:2).

2.    Die duiwel sal in ‘n put gebind en dit bo hom verseël word sodat hy die nasies nie kan verlei nie (Op. 20:1-3). As gevolg hiervan sal die nasies in hierdie tyd nie wandel na die verharding van hul bose hart nie, maar die Here soek en dien (Jer. 3:17).

3.    Alle nasies sal die Here Jesus as Koning en Verlosser dien, daarom sal daar geen politieke en ideologiese verskille tussen hulle wees nie. Die Jode sal besef dat hulle ‘n groot fout gemaak het om nie vir Jesus as Messias te aanvaar nie, en dan almal in aanbidding voor Hom neerbuig. Sagaria sê: “Hulle sal opsien na Hom vir wie hulle deurboor het en bitterlik oor Hom ween” (Sag. 12:10). Die oorblyfsel van die Arabiere én alle ander volke sal dit ook doen. Die gevolg hiervan sal nie godsdienstige afsydigheid en ‘n koue oorlog soos nou wees nie, maar hartlike, broederlike verhoudings: “In dié dag sal daar ‘n grootpad wees van Egipte na Assirië, en Assiriërs sal in Egipte kom en Egiptenaars in Assirië; en Egipte sal saam met Assirië die HERE dien. In dié dag sal Israel die derde wees naas Egipte en Assirië, ‘n seën in die midde van die aarde” (Jes. 19:23-24).

4.    Daar sal net een politieke bestel vir die hele wêreld wees, naamlik ‘n teokratiese regering met die Here Jesus wat as Koning regeer van die herstelde troon van Dawid af uit Jerusalem (Luk. 1:32; Hand. 15:16-17). Hy sal die Koning van die konings wees (Op. 19:16). Johannes sê ook: “Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van ons Here geword, en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers” (Op. 11:15). As gevolg hiervan sal daar geen vyandige nasies wees nie, en alle vorms van oorlogvoering sal heeltemal verdwyn: “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasies teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:4).

5.    Daar sal ook net een ekonomiese bestel vir die hele wêreld wees. Daar sal geen armoede en hongersnood wees nie, en die natuur sal tot sy volle potensiaal oeste oplewer wat baie groot sal wees. Amos 9:13 sê dat die ploeër die maaier sal inhaal. Die oes van die vorige jaar sal só groot wees dat nog nie klaar ingesamel sal wees wanneer dit weer ploegtyd is nie.

Behalwe vir die lewensbelangrike boodskap van verlossing moet ons die Messias ook met die oog op al hierdie toekomstige seëninge met groot oortuiging aan alle nasies verkondig. Daar is geen lewe of toekoms buite Hom nie – ook geen blywende vrede, voorspoed, veiligheid of ware blydskap nie. Die mens in sy gevalle toestand probeer om allerlei kompromieë te maak ten einde goeie verhoudings tussen strydende volke en ideologieë te skep, maar dit is alles tevergeefs. Ons as Christene ken egter die enigste werkbare oplossing, en dit is ons taak om dit met groter ywer onder alle nasies te verkondig.

Israel moet aan die ware Messias voorgestel word en geleer word hoe om Hom in gees en waarheid te dien. Hulle moet ook teen moontlike dwalings gewaarsku word. Dieselfde geld vir die Palestyne en ander Arabiere. Die boodskap van die Here Jesus se reddende genade is ook vir hulle bedoel. Hulle moet egter teen dwalings soos die ontluikende Palestynse teologie gewaarsku word waarin daar geen rol vir Israel in die vervulling Bybelse profesieë is nie.

In ander lande van die wêreld moet mense ook geleer word om die Bybel letterlik en dispensasioneel te verstaan. Die fisiese en geestelike herstel van Israel is een van die grondbeginsels van ‘n letterlike verstaan van die Bybel. Almal wat Israel ondersteun, seën en evangeliseer word verseker van die Here se ryke seën oor hulleself. Israel sy vyande verwerp by implikasie ook die Bybel en kan groot probleme verwag. Antichiliastiese kerke sal ook ernstig na hulle eie teologie moet kyk, omdat hulle profeties op ‘n dwaalspoor is indien hulle nie die herstel van Israel en die komende vrederyk op aarde glo en verkondig nie. Hulle verbeur groot seën as hulle nie Israel se groot rol in die wêreldgeskiedenis erken nie, en ook geen insig in hulle toekomstige rol as ‘n seën vir die hele aarde het nie. Jesaja 27:6 sê dat Israel die wêreld vir die Here vol vrugte sal maak, en Romeine 11:12 verwys na hulle geredde toestand in die vrederyk wanneer hulle die hele wêreld geestelik sal verryk.

Neem die Woord van die Here ernstig en letterlik op en seën sy volk Israel as jy self ook geseënd wil wees.