Prof Johan Malan, Mosselbaai (November 2010)
Die Here sê dat sy afvallige volk, Israel, eers in ‘n tyd van groot lewensgevaar en dreigende uitwissing deur hulle vyande, na Hom sal soek, en herstel sal word. In Hoséa 5:15 sê Hy: “In hulle nood sal hulle My soek.” Jeremia sê oor Israel se eindtydse nood: “Dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob, maar hy sal daaruit verlos word” (Jer. 30:7). Daniël sê dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos wat daar nog nooit in die geskiedenis van die volk bestaan het nie, maar in dié tyd sal Israel gered word (Dan. 12:1). Hy verbind hierdie tyd aan die optrede van die valse messias wat die tempel in Jerusalem sal ontheilig deur ‘n gruwelike afgodsbeeld van homself daarin te laat oprig: “En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel” (Dan. 11:31).
Daniël wys ook daarop dat die Antichris eers ‘n sewe jaar lange verbond met Israel en die nasies sal sluit, sodat hy in die proses almal van hulle kan mislei. Wanneer hy ná 3½ jaar van sy bewind as wêreldmessias sterk gevestig is, sal hy homself in die herboude tempel tot God verklaar, alle ander godsdienste afskaf en eis dat almal hom as God aanbid (2 Thess. 2:4). Israel sal ook verbied word om verder aan Jahweh te offer en in plaas daarvan sal hulle net die beeld van die Antichris moet aanbid. Wanneer Israel sal weier om die beeld te aanbid en sodoende hulle verbond met die valse messias verbreek, sal hy in woede op hulle toeslaan en ‘n Joodse volksmoord gelas. Daniël sê: “En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees” (Dan. 9:27). Die Here Jesus het ook verwys na hierdie groot aanslag deur die Antichris op Israel, asook die feit dat baie van hulle in daardie tyd sal sterf:
“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… dan moet die wat in Judéa is na die berge vlug; wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae. En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:15-22). Net ‘n goddelike ingryping sal hulle voortbestaan verseker.
Waarom gaan die Here hierdie groot benoudheid en dreigende uitwissing oor Israel toelaat? Omdat hulle as volk geestelik heeltemal verdorwe en totaal afvallig geraak het. Hulle steur hulle steeds nie aan die Messias wat God 2000 jaar gelede na hulle toe gestuur het nie. Deur die profeet Esegiël het die Here gesê: “Die huis van Israel het vir My skuim geword... Daarom, so sê die Here Here: Omdat julle almal skuim geword het, kyk, daarom sal Ek julle binne-in Jerusalem bymekaarmaak. Soos silwer en koper en yster en lood en tin binne-in ‘n smeltoond bymekaargemaak word om daarteen ‘n vuur aan te blaas en dit te smelt, so sal Ek julle bymekaarmaak in my toorn en in my grimmigheid en julle ingooi en smelt… en julle sal weet dat Ek, die Here, my grimmigheid oor julle uitgegiet het” (Eseg. 22:18-22).
Eers wanneer Israel besef dat hulle geen oorlewingskanse meer het nie en dat nog net die Here hulle kan red, sal hulle Hom soek. In Sagaria staan daar: “In die ganse land, spreek die Here – twee-derdes sal daarin uitgeroei word, sal sterwe, maar een-derde sal daarin oorbly. Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos ‘n mens silwer smelt en hulle toets soos ‘n mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die Here, my God!” (Sag. 13:8-9). Dit sal eers gebeur wanneer die Messias by die slag van Armagéddon sy voete op die Olyfberg sit en tot die redding van ‘n oorblyfsel in Israel kom. Dan sal hulle opsien na Hom vir wie hulle deurboor het, en bitterlik oor Hom ween (Sag. 12:10).
Dit is duidelik dat die groot oorloë van die eindtyd almal ook in verband staan met aspekte van Israel se herstel. In die Eerste Wêreldoorlog is die land van Turkse beheer bevry en het ‘n Britse mandaatgebied geword wat later aan Israel gegee is. In die Tweede Wêreldoorlog het die geweldige vervolging van Jode onder Hitler na die fisiese verlossing van die volk gelei, omdat hulle na hulle eie land gedryf is om daar ‘n heenkome te gaan soek. Aan die einde van die Derde Wêreldoorlog sal die hele Israel geestelik herleef om die volk van die Messias te word.
In die huidige tydperk tussen Israel se fisiese en geestelike herstel is hulle by ‘n lang reeks bloedige konfrontasies met vyandige buurnasies betrokke. Dit gebeur omdat hulle as volk nog nie met die Messias versoen is nie. Hy is hulle enigste Vredevors en sonder Hom sal hulle nie blywende vrede hê nie. Eers aan die einde van die Derde Wêreldoorlog sal die hele oorblyfsel van Israel geestelik verlos word en die Here Jesus op die dag van sy wederkoms as hulle Messias-Koning aanvaar. Jesaja sê sy regering sal wees “tot vrede sonder einde op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid” (Jes. 9:6).
Intussen gaan die oorloë en gerugte van dreigende oorloë in die Midde-Ooste voort. Sowel die konvensionele oorloë wat Israel se Moslem buurstate teen hulle voer, as die voortgaande terroristestryd wat die Palestyne binne-in Israel of van oorgrensbasisse af teen hulle voer, is godsdienstig gemotiveerd. Molsemkinders word al van jongs af op skool met ‘n revolusionêre gees van haat teenoor Israel vervul. Dit is by radikale Moslems ‘n ‘heilige’ missie om Israel van die aardbodem af te verdelg en in die plek van hulle land ‘n Islamitiese staat met Jerusalem as hoofstad te vestig. In hierdie ‘heilige’ oorlog (jihad) span hulle ten sterkste hulle kragte teen die God van Israel saam om sý heiligdomme vir hulle in besit te neem. Die psalmis sê: “o God, hou U nie stil nie, swyg nie en rus nie, o God! Want kyk, u vyande maak rumoer, en u haters steek die hoof op. Teen u volk smee hulle listig ‘n plan en hou onder mekaar raad teen u verborgenes. Hulle sê: Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie” (Ps. 83:2-5).
Verblind deur fanatieke haat vir Jode én Christene, gaan radikale Islamiete voort om vir ‘n groot oorlog teen Israel en sy ondersteuners voor te berei. Baie van hulle geld gaan in bewapening, en dit sluit selfs die ontwikkeling van kernwapens in. Hulle einddoelwit is die vestiging van ‘n magtige Moslemstaat in die plek van Israel, want hulle glo dat die eindtydse wêreld uit die Midde-Ooste beheer sal word. Hulle beplan om alle lande aan die Islamitiese sharia-wet te onderwerp sodat almal van hulle net die Koran as die grondslag van hulle staatsbestel en geloof sal eerbiedig.
President Ahmadinejad van Iran sê dat die gety van die Islamitiese revolusie spoedig oor die hele wêreld sal spoel. Hy glo dat die wêreld op ‘n botsing van beskawings afstuur waarin Islam die enigste eerbare alternatief vir Westerse oorheersing is. Hy is daarvan oortuig dat Islam kan en sal wen. ‘n Belangrike deel van Ahmadinejad se oortuigings spruit voort uit sy geloof in die koms van die 12de Imam. Volgens die Sjiïtiese weergawe van Islam sal die 12de afstammeling van Mohammed, ‘n imam wat in die Middeleeue geheimsinnig in Iran verdwyn het, terugkom wanneer die wêreld vol onderdrukking en tirannie is. Hy sal Islam se Imam Mahdi wees.
Ahmadinejad sê dat dit die Islamitiese revolusie se hoofdoel is om die weg vir die 12de Imam se herverskyning voor te berei. Iran se regering het ‘n kabinetsvergadering gehou waarin daar besluit is om ‘n verbond met die 12de Imam te sluit. Hulle argument is dat hulle oorloë en revolusie moet bevorder ten einde die koms van die 12de Imam te bespoedig. Hulle beplan ook om Iran se elite militêre eenheid, die Revolusionêre Wag, tot die Mahdi se beskikking te stel om sy oorloë te help voer. Verder glo hulle dat die Imam Mahdi saam met die Jesus van die Koran sal verskyn en met hom kragte sal verenig om Islam oral te laat seëvier.
Die groot meerderheid Moslems is egter Soenniete. Hulle glo nie in die koms van die Sjiïete se twaalfde Imam nie, maar net in die wederkoms van ‘n Jesus wat nie die seun van God is nie en ook nie aan die kruis vir die sondes van die wêreld gesterf het nie. Hulle verwys bloot na hom as die seun van Maria, en sê dat hy ‘n voorloper van sy broeder Mohammed was. Volgens hulle was Mohammed die Trooster wat Jesus aan sy dissipels beloof het. Hulle sê Jesus sal terugkom om die valse aanspraak dat die Jode Hom doodgemaak het, te weerlê, en sodoende die geloof van die misleide Christene tot niet maak. Hy sal teen die Jode en Christene veg en die valse messias doodmaak. Hierna sal hy die aarde van politeïsme en ongeloof reinig, alle varke laat doodmaak, Islam as die enigste ware godsdiens vestig en dan sal daar vrede en harmonie tussen alle mense op aarde wees. Moslems sê ook dat Jesus 33 jaar op aarde geleef het, en vir die oorblywende sewe jaar van sy profetiese bediening van 40 jaar moet terugkeer. Hulle sal dus die Antichris aanvaar omdat hy homself as “Jesus” sal voordoen en ‘n verbond van 7 jaar met baie nasies sal sluit. Groot oorloë sal in dié tyd gevoer word, waarin Islam hoop om die hele wêreld te oorwin.
Die volgende groot oorlog teen Israel sal die Russies/Arabiese inval wees, waarin Iran ‘n belangrike rol sal speel. Volgens Esegiël 38 en 39 gaan verskeie Arabiese lande onder die aanvoering van Rusland ‘n geweldige aanslag teen Israel loods om hierdie land tot ‘n val te bring en van die wêreldkaart af uit te wis. Gog in die land Magog (dit is die land noord van die Kaukasusgebergte, m.a.w. die moderne Rusland), sal saam met Moslemlande soos Persië (Iran), Togarma (Turkye), Kus (Ethiopië) en Put (Libië), asook verskeie ander lande, vir Israel aanval.
Die leierskapsrol van Rusland (Eseg. 38:7) is nie net aan hulle sterk weermag en gevorderde wapentuig te danke nie, maar is so beskik omdat die Here hulle wil straf. Hy sê: “Kyk, Ek het dit teen jou, o Gog” (Eseg. 39:1). Die rede vir die goddelike toorn teen hulle is omdat Rusland ‘n leidende rol speel in die aanstigting van Jodehaat en ook die vyande van Israel bewapen. Verder het Rusland ‘n groot rol gespeel om ateïsme in die wêreld te bevorder. As gevolg hiervan gaan die Here op die berge van Israel met hulle in die gerig tree (Eseg. 39:4).
Die Here sê dat Rusland met hake aan sy kakebene uit sy land getrek sal word om aan dié oorlog deel te neem. Hulle sal dus deur omstandighede gedwing word om hulle Arabiese en ander bondgenote te help. Die Here sê aan Gog: “Ná baie dae sal jy bevel ontvang; aan die einde van die dae sal jy ‘n land intrek wat van die swaard weer reggekom het, wat versamel is uit baie volke, op die berge van Israel... En jy sal optrek teen my volk Israel soos ‘n wolk om die land te oordek. Aan die einde van die dae sal dit wees” (Eseg. 38:8,16).
Onder die bondgenote van Rusland wat deur Esegiël genoem word, is daar Moslemstate wat hulleself lankal reeds tot die uitwissing van Israel verbind het. Hulle haat teen Israel het weer tot nuwe hoogtes opgevlam toe die Joodse staat vir Libanon ingeval het om vestings van die Hisboellah-terroriste, wat sterk deur Iran en Sirië gesteun word, uit te wis. Daarna het hulle ‘n groot vergeldingsaanval teen Hamas in Gasa gedoen. Rusland het die Jode oor hierdie dade van selfverdediging veroordeel en gaan dus voort om met Israel se vyande saam te werk.
Sirië en Iran het gemeen dat hulle deur middel van die duisende vuurpyle wat aan Hisboellah in Libanon verskaf is, vir Israel uit die noorde van hulle grondgebied sou verdryf. Tesame met offensiewe deur Hamas en die Islamitiese Jihad uit Gasa en die Wesbankgebied sou dit, volgens hulle, tot die val van die Joodse staat lei. Dit het nie gebeur nie, want die Here stry vir Israel (vgl. Ex. 14:25).
Nou smee radikale Islam grootskaalse wraakplanne teen Israel, asook teen lande soos Amerika en Engeland wat as vriende van Israel, en dus vyande van Islam, beskou word. Hierdie keer gaan hulle egter nie net deur terroristegroepe werk nie, maar ‘n volskaalse oorlog teen Israel voer om die Jodedom te probeer verdelg en die hele land te beset. Hiervoor is daar ‘n multinasionale invalsmag nodig wat van verskillende fronte af ‘n verrassingsaanval op Israel kan doen – uit die noorde, die ooste, die suide, én ook van Libië se kant af uit die weste, oor die Middellandse See.
Israel se vyande beplan om Rusland se betrokkenheid vir hierdie groot oorlog te verkry. Vir Rusland is daar die voordeel van belange in die Midde-Oosterse olievelde, asook seggenskap in ‘n baie strategiese wêrelddeel. Hulle sou ook die moontlikheid wou voorkom dat Sjina die Arabiere militêr help indien Rusland self sou weier om dit te doen. Hoewel teësinnig, sal Rusland volgens die Bybel instem om aan ‘n uitwissingsoorlog teen die Joodse staat deel te neem.
Die oorlog van Esegiël 38 en 39 kom onwrikbaar nader. Die Here gaan Homself op ‘n besondere manier deur die beëindiging van hierdie oorlog openbaar: “Ek sal jou teen my land laat aankom, sodat die nasies My kan ken as Ek My in jou, o Gog, voor hulle oë as die Heilige laat ken” (Eseg. 38:16). Die verdelging van hierdie invalsmagte word duidelik uitgespel: “Op die berge van Israel sal jy val, jy en al jou leërs en die volke wat saam met jou is... Op die oop veld sal jy val; want Ek het dit gesê, spreek die Here. En Ek sal ‘n vuur slinger in Magog” (Eseg. 39:4-6). Daar sal in dié tyd ook ‘n buitengewone groot aardbewing wees (Eseg. 38:19).
Rusland, Israel, én al die nasies sal God erken op grond van hierdie duidelike, bonatuurlike ingryping. Dit sal ‘n groot verandering meebring, want die meeste volke van die wêreld, ook Israel, het tot ‘n groot mate in ongeloof, sekularisme en humanisme verval en heg dus nie waarde aan God, sy Seun en sy Woord nie. Verskeie leidende nasies het die vroeëre erkenning van die Drie-enige God se oppergesag uit hulle grondwette weggelaat en ook Christelike onderwys as ‘n beleidsbeginsel geskrap (vgl. Ps. 2:2-3). Baie van dié lande het ‘n openlike bespotting van die Christendom gemaak deur dit met die heidense gelowe gelyk te stel. Suid-Afrika is ‘n voorbok in die bevordering van multigodsdienstige denke, terwyl baie van die plaaslike teoloë afbrekende standpunte oor die persoon en goddelike attribute van die Here Jesus huldig.
Met die bonatuurlike vernietiging van Israel se vyande sal die nasies erken dat die God van Israel en die Bybel die ware God is wat gevrees en gedien moet word. Dit sal die einde van ateïsme, agnostisisme en sekularisme meebring. Hulle sal egter só min van God af weet dat hulle die verkeerde persoon, nl. die Antichris, as wêreldmessias en gesant van God sal aanvaar. Die Antichris sal die nasies se skielike ontsag vir bonatuurlike tekens uitbuit en saam met die valse profeet vir ‘n skouspel van tekens en wonderwerke sorg. Johannes sê:
“Hy [die valse profeet] oefen al die mag van die eerste dier [die Antichris] uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. En hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen” (Op. 13:12-14). Die mensdom sal só verbysterd wees dat hulle die valse geloofsbriewe van die Antichris as “die Christus” en verlosser van die wêreld sonder teëspraak sal aanvaar.
Die valse aansprake van die Antichris en valse profeet sal só oortuigend wees dat selfs Israel mislei sal word om die verkeerde persoon as hulle Messias aan te neem. Die Here Jesus het vir hulle gesê: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5: 43). So ook sal die hele wêreld mislei word, verwonderd agter die dier aangaan en hom as die selfverklaarde wêreldmessias aanbid (Op 13:3-4).
Die Antichris sal deur sy tekens en wonderwerke krediet opeis vir die skielike beëindiging van die groot oorlog in Israel. Nie net sal Israel hom as gevolg hiervan as die beloofde Messias aanhang en navolg nie, maar al die nasies sal ook met dié wonderwerkende “vredevors” ‘n verbond sluit en hom as hulle leier erken. Daar sal openlik gesê word dat hy die mensdom uit ‘n dreigende wêreldoorlog verlos en daardeur nuwe hoop gegee het aan almal wat weens al hulle verskille en vyandigheid op selfvernietiging afgestuur het.
Die wêreld se skielike swaai na die algemene erkenning van God sal dus deur die duiwel se toedoen in grootskaalse misleiding eindig. Dit sal vir die hele sewe jaar van die Antichris se regering op aarde voortduur. Israel sal groot ekonomiese nut uit die militêre toerusting kry wat van die invalsmagte buitgemaak is. Esegiël sê: “Hulle sal daarmee vuurmaak sewe jaar lank” (Eseg. 39:9). Hulle sal dit dalk in die vuur gooi en opsmelt. Hierdie sewe jaar sal die sewentigste jaarweek van Daniël wees (Dan. 9:27), m.a.w. die tyd van verdrukking onder die bewind van die Antichris. Dié tydperk sal verloop tussen die wegraping en Christus se sigbare verskyning op die Olyfberg, wanneer elke oog Hom sal sien (Luk. 21:36; Sag. 14:4-5).
Die feit dat Israel én die hele wêreld volgens Openbaring 13:3 verwonderd agter die Antichris sal aangaan, sal tot ‘n valse vrede en eenheid lei wat 3½ jaar lank sal voortduur. Dit sal die eerste helfte van die Antichris se sewe jaar lange verbond met Israel en die nasies wees (Dan. 9:27). In hierdie tyd sal al die valse godsdienste, insluitende ‘n vervalste vorm van die Christendom, met mekaar hande vat en saam die Antichris as hulle gemeenskaplike messias erken en aanbid (Op. 13:8; 17:3-5). Dit sal gepaard gaan met die formele en wêreldwye verwerping van evangeliese Christene, wat hoegenaamd geen bande met die nie-Christelike gelowe kan aanknoop nie (Joh. 14:6; 2 Kor. 6:14-16). Die Christene wat in daardie tyd gered word (Op. 7:9,13-14), sal oral vervolg en doodgemaak word (Op. 6:9-11;20:4).
In die tweede helfte van die verdrukking sal die oorlog teen die koninkryk van God voortgaan. Die Antichris sal sy rebellie teen God tot nuwe hoogtes voer deur homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God te verklaar (2 Thess. 2:4) en almal laat teregstel wat weier om hom as God te aanbid (Op. 13:15). Volgens die Bybel sal die Antichris se skrikbewind in die tweede helfte van die verdrukking 3½ jaar (42 maande) lank duur (Op. 13:5-7). Die Antichris sal weet dat Jesus Christus aan die einde van daardie jaarweek na die aarde sal terugkeer om sy vyande te verdelg en ‘n oorblyfsel van Israel en die nasies te red (Matt. 24:29-30). Met die oog op hierdie ingryping sal Satan van sy demone na al die nasies van die aarde uitstuur om hulle aan te hits en vir ‘n oorlog in Armagéddon op te roep, waar hulle sal probeer voorkom dat Jesus Christus sý koninkryk op aarde in Israel vestig.
Johannes sê: “Ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God… En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon” (Op. 16:13-16). In Openbaring 19:19 sê Johannes: “En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër.”
Die groot konfrontasie sal op die dag van Christus se wederkoms plaasvind, maar dit sal ‘n slegte dag vir die vyande van die Koning van die konings wees, want die Antichris en die valse profeet sal lewendig in die poel van vuur gegooi word, en hulle leërs verdelg word wanneer Christus net ‘n woord spreek wat soos ‘n swaard uit sy mond sal gaan (Op. 19:21). Die kortstondige ryk van die Antichris sal hiermee beëindig en deur die duisendjarige vrederyk van Christus vervang word. Dan sal die koninkryke van die wêreld die eiendom van Christus word (Op. 11:15).
Dit is eers wanneer die Messias tot die redding van die oorblyfsel in Israel kom, dat hulle almal geestelik met Hom versoen sal word. Dan sal hulle al die seëninge van die Messias se koninkryk op aarde geniet en deur Hom gebruik word om die evangelie onder alle nasies te verkondig. Israel is geestelik egter nog baie ver van hierdie posisie af.
Wat is ons plig teenoor die ongeredde Israel, veral in die lig van die groot oorloë en benoudheid wat vir hulle én die hele ongeredde wêreld voorlê? Daar is net een manier om die oordele van God vry te spring, en dit is om die Here Jesus as Saligmaker aan te neem, want daar is geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees (Rom. 8:1). Hoe kan ons vir Israel tot geestelike seën wees as ons nie die Messias aan hulle verkondig nie?
Daar is selfs Christelike organisasies in Israel wat net daarop ingestel is om Israel te help en te ondersteun, maar wat glad nie vir Jesus as Messias aan hulle verkondig nie omdat dit aan ortodokse Jode aanstoot gee. Daar is ook ‘n bekende prediker in Amerika wat sê dat ortodokse Jode reeds ‘n verhouding met God het, en dus nie vir Jesus nodig het om gered te word nie. Sekere teoloë spreek Israel ook van die komende verdrukking onder die Antichris vry en sê dat die Joodse slagting in die Tweede Wêreldoorlog die groot verdrukking was. Op hierdie manier sal Israel nooit uit hulle geestelike misleiding gered word nie en in werklikheid in die arms van die komende valse messias gedryf word.
Israel moet in liefde, maar ook met groot beslistheid, gewaarsku word oor die donker geestelike pad waarop hulle nou is. Sonder die Messias wag daar net oordele en benoudheid op hulle. ‘n Messiaanse Jood, Arthur Katz, het gesê: “Ek is oortuig dat die eindtydse oordele van God baie naby is... Die gewig van ons Joodse ongeloof en onbetrokkenheid by God móét ons tot ‘n val bring... Ons is reeds onder God se veroordeling totdat ons dié Een ontvang wat ons veroordeling op Homself geneem het, naamlik die Messias van Israel – Jesus van Nasaret... Ek sou liewer verkeerd bewys wou word, maar ek glo dat die huidige geslag Jode vernietiging op ‘n wêreldwye skaal gaan ervaar wat veel erger as die Nazi-era sal wees... Ons gaan geweldig gehaat, vervolg en skielik verdryf word sodat ons sal moet vlug met net die klere aan ons lyf – sonder om te weet waarheen ons gaan. Ons gaan dubbel vir al ons sondes ly, maar die Here het ook gesê: ‘Ek sal herstel.’ Hoe belangrik dan om te glo dat die God wat oordele beloof en dit volvoer, ook dieselfde God is wat herstel beloof en dit sal vervul” (The Holocaust: Where was God?).
Israel sál uiteindelik geestelik herstel word, maar nie voordat nóg twee groot oorloë hulle tot op die randjie van uitwissing gedryf het nie – dit is die Russies/Arabiese inval in Israel en die slag van Armagéddon. Waarom moet mense tot sulke uiterstes gaan voordat hulle tot inkeer kom en erken dat hulle verkeerd was deur die Messias te verwerp en sonder Hom te probeer leef? Kom skuil by Hom, want net by Hom is daar vergifnis, herstel en ‘n hoopvolle toekoms. Sonder Hom stuur elke mens af op die tyd van die toorn van die Lam wat in die komende verdrukking oor ‘n ganse onbekeerde wêreld uitgestort gaan word. Jesus Christus is óf jou Redder en Koning saam met wie jy sal regeer, óf Hy sal jou Regter wees wat jou weens jou sonde sal veroordeel.