Prof. Johan Malan, Universiteit van die Noorde
Opsomming: Die millennium sal 'n letterlike duisendjarige vrederyk ná die wederkoms van Christus wees. Om dit te glo en te bely, vrywaar 'n Christen van verskeie teologiese dwalings.
Die Bybel leer duidelik 'n toekomstige, duisendjarige vrederyk van Christus, wanneer Hy van die herstelde troon van Dawid af uit Jerusalem die wêreld sal regeer. Hierdie komende dispensasie word die millennium genoem. Dit sal die sesde dispensasie in die heilsgeskiedenis van die mens wees, en deur die ewigheid in die nuwe hemel en op die nuwe aarde gevolg word. Hierdie tydperke in God se ewige raadsplan is die volgende:
1. Die bedeling van onskuld in die paradys.
2. Die bedeling van die gewete ná die sondeval.
3. Die bedeling van die wet in die Ou Testament.
4. Die bedeling van die kerk, of die Heilige Gees, in die Nuwe Testament.
5. Die bedeling van die Antichris se regering van sewe jaar ná die wegraping.
6. Die bedeling van die koninkryk (die 1000-jarige vrederyk) ná die wederkoms.
7. Die bedeling van volmaaktheid in die ewigheid in die nuwe hemel en op die nuwe aarde.
Die begin en die einde van ‘n bedeling gaan altyd met dramatiese gebeure en ‘n nuwe ontplooiing van God se raadsplan gepaard. Dit word ook deur verskerpte demoniese aktiwiteite gekenmerk omdat die duiwel dan op ‘n listige en verwoede wyse alles in die stryd werp om God se raadsplan te ontwrig of ongedaan te probeer maak.
Die belangrikste kenmerke van die sewe dispensasies is, in breë trekke, die volgende:
Die heel eerste bedeling waarin Adam en Eva in die paradys was, was die bedeling van onskuld. Hulle het geen kennis van goed en kwaad gehad nie, daarom was hulle nie eers van hulle naaktheid bewus nie. Die Here het aan hulle sekere opdragte gegee, wat ook ‘n verbod op die vrugte van die boom van die kennis van goed en kwaad ingesluit het. As hulle hiervan eet, sou hulle sekerlik sterwe (Gen. 2:17).
Satan het vir Adam en Eva egter op ‘n listige wyse verlei om God se opdrag te oortree en van die boom se vrugte te eet (Gen. 3:1-5). Hulle het hierdeur nie net van die onderskeid tussen goed en kwaad bewus geword nie, maar self slagoffers van die kwaad geword. Omdat hulle teen God gerebelleer en na die duiwel geluister het, het hulle ‘n sondige natuur gekry en geestelik gesterwe. Ook het hulle fisies sterflike mense geword. Die bedeling van onskuld is dus deur die sondeval beëindig, en Adam en Eva is uit die paradys weggedryf.
Vir ‘n lang tyd ná die sondeval het die mens d.m.v. die stem van sy gewete tussen goed en kwaad onderskei. Hy het geen ander voorskrifte gehad om na te volg nie. Verskeie mense het na aanleiding van hulle innerlike oortuigings geregtigheid nagestreef, en getuienis ontvang dat hulle God behaag het. Die Here het Homself ook aan hierdie mense geopenbaar en selfs met hulle gepraat. Baie van hulle het predikers van geregtigheid geword. Voorbeelde van sulke manne was Abel, Henog, Noag, Abraham, Isak, Jakob en Josef.
Aan die einde van die bedeling van die gewete, toe Israel in Sinai op die punt gestaan het om die wet van die Here te ontvang en sodoende ‘n nuwe dispensasie te betree, het Satan weer met al sy mag toegeslaan om die verdere ontplooiing van God se raadsplan te voorkom. Terwyl Moses op die berg was, het die duiwel die volk tot afgodediens verlei sodat hulle geestelik nie gereed was om die wet van die Here te ontvang nie. As gevolg van hierdie geweldige afvalligheid en rebellie teen God het Moses die kliptafels van die wet stukkend gegooi. Die Here het egter ná ernstige gebed deur Moses die volk hulle sonde vergewe en weer sy wette aan hulle gegee.
Hiermee het die bedeling van die wet aangebreek, waarin die onderskeid tussen goed en kwaad in baie meer detail uitgespel is. Nie net in die Tien Gebooie nie, maar ook deur ‘n groot aantal verordeninge het God aan sy volk opdragte gegee oor wat hulle móét doen en nié mag doen nie. Satan het volgehoue pogings aangewend om die volk ontrou aan God se wette te maak.
Dit word ook die bedeling van genade en die bedeling van die Heilige Gees genoem. Met die koms van Jesus as voorbereiding vir die aanbreek van die bedeling van genade, het die duiwel met groot woede toegeslaan om Jesus in onguns te bring, te probeer doodmaak, en ook om die apostels en die vroeë Christelike kerk deur geweld uit te roei. Sy planne het egter misluk en die bedeling van die kerk het gevestig geraak.
Ná die kruisdood, opstanding en hemelvaart van Jesus, is die Heilige Gees uitgestort om mense te wederbaar en in die hele waarheid te lei. Deurdat Hy hulle van sonde en geregtigheid oortuig, verkry hulle nog veel dieper insig in die onderskeid tussen goed en kwaad. Die kwaad sluit nie net sondige dade in nie, maar ook sondige gesindhede. Ten spyte van die dieper insig, leef ons in ‘n gebroke werklikheid waarin ons nog steeds net ten dele ken. Ons moet waak teen geestelike onkunde en aktief na die dinge van die Here soek. Ons moet toeneem in genade en kennis van ons Here Jesus, terwyl ons ook ‘n groter sensitiwiteit en afkeur vir die sonde ontwikkel.
Nou staan ons aan die einde van die bedeling van die kerk, en is dit weer eens ‘n tyd van groot afvalligheid en demoniese aktiwiteite. Satan werp alles in die stryd om die kerk te vervals en die maagde wat op die koms van die Bruidegom moet wag, aan die slaap te sus. Dit is nie sonder rede dat die Here sê dat ons moet vas staan teen die aanslae, en moet waak en bid om vir sy skielike koms gereed te wees nie.
Wanneer die teëhouer, naamlik die ware kerk van Christus, d.m.v. die wegraping uit die weg geruim is, sal die Antichris geopenbaar word (2 Thess. 2:6-12). Dit sal ‘n hele nuwe bedeling inlui waarin die massas deur die krag van die dwaling mislei sal word. Hulle sal ook verslaaf, verdruk en doodgemaak word. Die kwaad sal dan tot sy volle ontplooiing kom. In teenstelling hiermee sal die kerk wat weggeraap is, verheerlik word om die goeie ten volle te ken.
Aan die einde van die sewe jaar lange verdrukking, wanneer Satan sal weet dat die dae vir die Antichris se wêreldregering min geraak het, sal hy met dubbele woede toeslaan om mense dood te maak. Hy sal alle magte tot sy beskikking in die slag van Armagéddon teen die komende Christus monster. Dit sal egter vir hom geheel-en-al ‘n verlore stryd wees, want die Antichris en die valse profeet sal lewend in die hel gewerp word terwyl Satan ‘n duisend jaar lank in ‘n bodemlose put gebind sal word (Op. 19:19–20:3).
In die duisendjarige vrederyk sal die ware gelowiges van alle tye saam met Christus in sy koninkryk regeer (Op. 5:10; 20:6). As verheerlikte wesens sal hulle nie meer aan pyn, droefheid, ellende en die dood onderworpe wees nie, en ook nie meer deur ander vorms van onvolmaaktheid geteister en beperk word nie. Hulle sal ten volle ken, soos wat hulle ook ten volle geken is.
Aan die einde van die bedeling van die vrederyk sal Satan vir ‘n kort tydjie losgelaat word om sy laaste groot aanslag teen die koninkryk van God te loods. Dit sal na sy ewige verdoemenis in die poel van vuur lei (Op. 20:7-10).
In die ewigheid, in die nuwe hemel en op die nuwe aarde, sal daar nooit weer iets inkom wat verontreinigend of sondig is nie (Op. 21:27). Volmaakte vrede en vreugde sal heers wanneer die gelowiges vir altyd in die teenwoordigheid van God leef. Die poel van vuur sal ook vir ewig bestaan, waar Satan, sy demone, en alle misleides van alle eeue vir ewig die straf vir hulle rebellie teen God sal ondergaan (Op. 14:9-11; 20:15; Dan. 12:2).
Die bestaande verwarring onder baie Christene oor Bybelse dispensasies is die gevolg van die toepassing van hermeneutiese beginsels wat nie die ware betekenis van die profetiese woord tot sy reg laat kom nie. Mense wat die profetiese woord op ‘n letterlike, dispensasionele wyse verklaar, word chiliaste genoem. Dit is van die Griekse woord chilios afgelei wat duisend beteken, en verwys na diegene wat in ‘n letterlike, duisendjarige vrederyk op aarde glo wat ná die wederkoms van Jesus Christus sal aanbreek. ‘n Sinoniem vir die begrip chiliasme is millennialisme wat van die Latynse woord vir duisend, nl. mille, afgelei is. ‘n Persoon wat nie in ‘n letterlike duisendjarige ryk glo nie, word ‘n antichilias of ‘n amillennialis genoem. Sulke mense is geneig om deur middel van vergeesteliking aan verskeie begrippe in die Bybel ander betekenisse te gee.
As gevolg van hierdie omstredenheid word verskillende eksegetiese of verklarende beginsels vir Bybelse profesieë gebruik. Sommige daarvan wyk só ver van die grondbetekenis van die teks af dat dit die goddelike inspirasie van die Bybel in die gedrang bring. Die volgende is die vier algemeenste teologiese benaderings tot Bybelse profesieë:
Tot ongeveer die einde van die vierde eeu n.C. was historiese premillennialisme die mees algemene beskouing oor eindtydse gebeure. In terme hiervan is verwag dat daar in die eindtyd ‘n Antichris sal opstaan en dat die kerk deur die tyd van verdrukking sal moet gaan. Aan die einde van die verdrukking sal die gelowige ontslapenes opstaan en saam met die lewende gelowiges na die hemel weggevoer word. Hulle sal dan dadelik, tydens Christus se wederkoms, saam met Hom terugkeer aarde toe sodat Hy die groot verdrukking kan beëindig, die Antichris en sy hordes verdelg, die oorblyfsel van Israel red en sy duisendjarige vrederyk met Jerusalem as hoofstad vestig. Almal behalwe een van die vroeë kerkvaders wat oor die profesieë gskryf het, het hierdie siening gehuldig.
Om meer duidelikheid oor die millennium se futuristiese strekking te kry, sal vasgestel moet word wat die apostel Johannes self daaroor geleer het toe hy van Patmos af vrygelaat is en sy bediening in Klein Asië voortgesit het. Kerkvaders wat sy leerlinge was, gee duidelik hieroor uitsluitsel en laat blyk dat veel gesprek oor hierdie onderwerp gevoer is. Die volgende inligting is hoofsaaklik uit ds. W.H.M. Oosthuizen se boek As die seun van die mens kom (bl. 106-108) verkry:
Papias, die biskop van Smirna, was ‘n leerling van Johannes en het eerstehands van die outeur se eie beskouinge oor die boek Openbaring kennis geneem. Hierdie kerkvader se siening is baie belangrik omdat hy die skakel tussen die chiliastiese tradisie en die apostels is. Papias het geleer dat daar ná die opstanding van die dode ‘n koninkryk van Christus op aarde sal wees wat ‘n duisend jaar lank sal duur, en waarin Christus liggaamlik as Koning op die troon sal sit. Die aarde sal ‘n tyd van ongekende vrugbaarheid beleef, en te midde van groot voorspoed sal Christus met sy heiliges regeer. Justinus die Martelaar het vroeg in die tweede eeu hieroor geskryf: “’n Sekere man onder ons, wie se naam Johannes is, een van die apostels van Jesus, het geprofeteer in ‘n openbaring wat hy gehad het dat diegene wat in ons Here Jesus glo, ‘n duisend jaar lank in Jerusalem sal deurbring.” Justinus het gesê dat dit kettery was om anders as chiliasties te glo.
‘n Ander kerkvader, Polikarpus, wat een van die jongste leerlinge van die apostel Johannes was, was ‘n vroom Christen wat ook ‘n marteldood gesterf het. Op die gesag van Johannes het hy geleer dat die aarde gedurende die duisendjarige vrederyk baie vrugbaar sal wees.
Ook van belang is die beskouinge van Ireneüs wat uit die mond van sy leermeester, Polikarpus, gehoor het wat die standpunt van Johannes was. Hy leer dat die loon van die regverdiges daarin sal bestaan dat hulle tussen die dode sal opstaan wanneer die skepping vernuwe en vrugbaar gemaak word. Hy het die mening gehuldig dat elkeen van die ses skeppingsdae op ‘n duisend jaar dui en dat die wêreldgeskiedenis dus, nadat sesduisend jaar verloop het, deur die sewende dag opgevolg sal word wat ook ‘n duisend jaar sal duur. Hierdie laasgenoemde gedagte word by verskeie kerkvaders aangetref, onder andere Cyprianus, Barnabas en Laktantius. In dié verband verklaar die Schaff-Herzog Ensiklopedie:
Hierdie denkrigting vloei voort uit die aanname dat Bybelse stellings nie letterlik opgeneem moet word nie, maar allegories of geestelik. Dié interpretasie het sy oorsprong in die Alexandrynse teologiese skool in die derde en vierdie eeue gehad.
Origenes (geb. 185 n.C.) is die vader van die allegoriese interpretasie en het heelwat boeke oor die verstaan van die Bybel geskryf. Hy was egter sterk onder die invloed van die Griekse filosofie van Plato, en wou filosofies meeleef maar tóg ook Christen bly. Prof. F.J.M. Potgieter skryf soos volg oor hom:
In die lig van bogenoemde is dit ook glad nie snaaks dat Origenes nie alleen die vader van die allegorie is nie, maar ook van die antichiliasme. Die werklike bestaan was vir hom in die filosofies-geestelike gnosis (godsdienstige waarheidskennis) geleë waarheen elkeen moet vorder. Daar kan dus geen sprake van ‘n fisiese koningskap van Christus wees nie. Ons vind derhalwe hier ‘n baie bedenklike oorsprong van allegoriese interpretasie en van antichiliasme as sodanig!
Die opkoms van antichiliasme hang verder ook saam met die optrede van keiser Konstantyn, wat Christen-vervolging in die Romeinse Ryk vroeg in die vierde eeu afgeskaf en die kerk tot staatskerk verhef het. Die vrede en beskerming wat die Romeine gebied het, het die kerk se toekomsverwagting na die wederkoms van Christus en die vestiging van sy vrederyk aansienlik laat afneem. Dit het die idee laat posvat dat die duiwel nou gebind is en dat die kerkbedeling die vrederyk op aarde is.
Die persoon wat seker die meeste daartoe bygedra het om chiliasme te bestry, was die kerkvader Augustinus. Sy optrede was teen die einde van die vierde eeu n.C. Hy het geglo dat ten spyte van die ineenstorting van aardse ryke soos die eens magtige Romeinse Ryk, die koninkryk van God (die kerk) nie alleen staande sal bly nie, maar sal triomfeer en sy invloed onder alle nasies sal uitbrei. Dit het Augustinus tot die gevolgtrekking laat kom dat die kerkbedeling tussen die eerste en tweede koms van Christus, die koninkryksbedeling (vrederyk) is waartydens die kerk op aarde sal regeer. Hy het tipiese koninkryksmagte aan die kerk toegeskryf, asook sakramente met saligmakende krag, en sodoende die teologiese grondslag vir die Rooms-Katolieke Kerk gelê. Protestantse hervormers soos Luther en Calvyn is egter ook sterk deur sy antichiliastiese koninkryksteologie beïnvloed, en dié invloede bestaan vandag nog.
Teoloë wat hierdie siening huldig, glo nie in ‘n letterlike millennium nie, en is dus amillennialiste of antichiliaste. Hulle is sterk daarop ingestel om Bybelse begrippe te vergeestelik en dan ander betekenisse daarin te lees (vervangingsteologie). Na aanleiding hiervan kan Israel of Jerusalem die kerk word, die 144 000 geredde Jode van Openbaring 7 kan die gelowiges van alle tye word, die sewe jaar lange verdrukking kan met die kerkbedeling gelykgestel word, ens. Min dinge in die Bybel word letterlik verklaar.
Sedert die middel van die 16de eeu het ‘n nuwe siening oor die vervulling Bybelse profesieë posgevat, nl. postmillennialisme. In terme hiervan sal die wêreld gaandeweg as gevolg van evangelisasie ‘n beter plek word om in te bly, en sal die millennium van die kerkbedeling uiteindelik aanbreek. Aan die einde van die “goue eeu” van ‘n Christelike wêreld, sal Jesus Christus vir die finale oordeel terugkom. Volgens postmillennialiste sal daar nie ‘n verdere bedeling van die koninkryk van God op aarde, met Jerusalem as hoofstad, wees nie.
Die kerkhervorming, asook die opkoms van Europese koloniale moondhede (veral die vinnige uibreiding van die Britse ryk) het die idee by sommiges laat ontstaan dat sendelinge die evangelie oor die hele wêreld sou uitdra, en dat dit uiteindelik sou lei tot ‘n Christelike wêreld waarin daar reg en geregtigheid geskied. Christelike hervorming en rekonstruksionisme moet dus voortdurend plaasvind totdat hierdie ideaal bereik is.
Hierdie mense glo duidelik nie dat die wêreld geestelik en moreel ál hoe donkerder word, met relatief min wat na die smal weg oorkom, en uiteindelik op die groot verdrukking onder die bewind van die Antichris afstuur nie. Die wêreld moet beter word sodat die millennium voor die wederkoms van Christus kan aanbreek.
Verskeie postmillennialistiese groepe huldig nog steeds hierdie ideaal. Sommige van dié beweging se leiers tree tot die politiek toe in die hoop dat Here Christene in sleutelposisies sal plaas om die wêreld vir die koninkryk van God te kan oorneem. Ander bewegings en kerkgroepe wend hulle tot ‘n bonatuurlike magspel van tekens en wonders om sodoende die wêreld aan hulle voete te kry en ‘n groot herlewing tot stand te bring. Ander probeer om deur middel van strategiese geestelike oorlogvoering die vestings van Satan te verbreek en hom dan van die planeet aarde af te verdryf sodat hy die nasies nie meer kan verlei nie.
Al hierdie koninkryksgroepe kyk nie na ‘n toekomstige koninkryk wat eers met die wederkoms van Christus geopenbaar sal word nie, maar na een wat deur die kragtige bemiddeling van die kerk van Christus nóú geskep moet word. ‘n Verwagting van hierdie aard is duidelik uit voeling met die strekking van Bybelse profesieë.
J.N. Darby (geb. 1800 in Londen) was ‘n uitstaande teoloog wat die grondslag gelê het vir die hervestiging van dispensasionalisme in die kerk. In die boek When the Trumpet Sounds (bl. 127-8) sê prof. Floyd Elmore van Ohio, VSA, dat John Darby in die afgelope 150 jaar die grootste invloed op die studie van Bybelse profesieë gehad het. Hy was ‘n voortreflike dienskneg van God wat gebruik is om die regte vertolking van Bybelse profesieë te bevorder. Prof. Elmore sê: “Darby is the acknowledged father of systematised dispensationalism and a key modern developer of the pretribulational rapture.”
Verskeie skrywers het ook belangrike bydraes oor hierdie onderwerp gemaak, bv. Joseph Seis (The Apocalypse), Clarence Larkin (Dispensational Truth), Robert Gundry (The Church and the Tribulation), J. Barton Payne (The Imminent Appearing of Christ) John Walvoord (The Rapture Question, The Revelation of Jesus Christ en The Blessed Hope and the Tribulation). Gedurende die laaste twee dekades het talle nuwe boeke oor dié onderwerp verskyn, asook chiliastiese Bybelkommentare (bv. Walvoord & Zuck: The Bible Knowledge Commentary).
In dispensasionele teologie word die Bybel letterlik verklaar vanuit die perspektief van God se handelinge met die mens in opeenvolgende bedelings. Die kerkdispensasie word deur die wegraping afgesluit sodat die volgende bedeling (die verdrukking van sewe jaar tydens die Antichris se regering) kan aanbreek. Omdat die verdrukking ook met goddelike oordele gepaard gaan, sal die ware kerk van Christus voor die tyd weggeneem word omdat hulle nie vir God se toorn oor die sondaars bestem is nie. ‘n Voor-verdrukking-wegraping is dus ‘n noodsaaklike deel van moderne dispensasionele premillennialisme.
Die begrip “premillennialisme” bevat die betekenis dat Jesus Christus se wederkoms voor die millennium sal plaasvind, en trouens ‘n voorvereiste vir die aanbreek en openbaring van sy duisendjarige vrederyk (die millennium) is. Vir die eerlike Bybelstudent is dit in elk geval duidelik dat ons nie nou in die duisendjarige vrederyk is waarin die duiwel gebind is nie. Die duiwel loop tans rond soos ‘n brullende leeu om te kyk wie hy kan verslind (1 Pet. 5:8). As gevolg van sy sterk invloed oor die oorgrote meerderheid mense lê die hele wêreld in die mag van die Bose (1 Joh. 5:19). Ons bevind onsself dus in “die teenwoordige bose wêreld” (Gal. 1:4) waaruit die Here ons wil red.
Premillennialisme is tot die letterlike grondbetekenis van die Skrif verbind, behalwe waar dit uit die konteks baie duidelik is dat simboliese taal gebruik word. Voorbeelde van sulke simbole is die rooi draak met sewe koppe, wat in die Bybel self as die duiwel beskryf word. Simbole het dus meesal ‘n lettterlike teëbeeld, soos ook die Lam wat op Christus dui. Wanneer die Bybel egter oor Israel, die Antichris, die groot verdrukking, die valse profeet, die slag van Armagéddon, die wederkoms van Christus en die binding van Satan in ‘n put vir eenduisend jaar praat, is daar geen gronde hoegenaamd om hierdie begrippe simbolies of allegories te verklaar nie.
Die vier denkrigtings wat hierbo beskryf is, kan kortliks soos volg geëvalueer word:
Historiese premillennialisme het wel ‘n duidelike begrip van ‘n toekomstige vrederyk met ‘n herstelde Israel en Jerusalem as wêreldhoofstad, maar geen insig in die belofte van die wegraping van gelowiges as ‘n ontvlugting uit die rampgebied van goddelike oordele nie. Waarskynlik as gevolg van die gruwelike vervolging van die vroeë kerk, het hulle gemeen dat die kerk ook deur die tyd van verdrukking onder die Antichris sal moet gaan. Hulle het egter in gebreke gebly om te onderskei tussen God se oordele oor die goddeloses, en die vervolging van Christene ter wille van hulle geloof deur 'n wêreld wat in die mag van die Bose lê. In laasgenoemde geval is dit nie God wat mense oordeel of straf nie. In die groot verdrukking, egter, sal God (soos in die tyd van Noag en Lot) die ongelowiges straf en dus seker maak dat die gelowiges eers na ‘n plek van veiligheid weggeneem is voordat Hy sy oordele oor die goddeloses uitstort.
Daar is huidiglik ook mense wat gedeeltelik of ten volle die historiese premillennialisme aanhang deur te beweer dat die wegraping eers in die middel of aan die einde van die verdrukking sal plaasvind, of dat daar hoegenaamd geen wegraping sal wees nie.
In die Amillennialisme (antichiliasme) het die boodskap van die meeste Bybelse profesieë as gevolg van die vergeestelikingsbeginsel hulle letterlike betekenis verloor en dus grootliks afgewater of selfs irrelevant geraak. Antichiliasme is dus tot ‘n allegoriese of ‘n historiese verklaring van Bybelse profesieë verbind. Die meeste antichiliastiese ‘kenners’ het ook hulle eie weergawe van die vervulling van Bybelse profesieë. Sommige beweer dat die Romeinse keiser Nero in die eerste eeu die Antichris was, ander sê dat een van die pouse in dié rol pas, terwyl Hitler, Stalin en ander diktators ook al as die Antichris bestempel is. Dan is daar dié antichiliaste wat beweer dat daar nooit ‘n persoonlike Antichris was of sal wees nie, omdat dié begrip net as ‘n onpersoonlike element van boosheid gesien word. So ook word die volk Israel sy identiteit en land ontneem en word die begrip Israel op die Nuwe Testamentiese kerk toegepas. Gebeure in Israel spreek hulle dus nie aan nie.
‘n Antichiliastiese siening tas die geloofwaardigheid van die profetiese woord aan, en lei daartoe dat mense nie wederkomsgerig leef nie en hulle in die algemeen baie min aan die vervulling van die tekens van die tye steur. Die noodwendige gevolg hiervan is dat hulle as uitsiglose Christene ‘n ál meer materialistiese lewens- en wêreldbeskouing ontwikkel en hulleself feitlik uitsluitlik met sekulêre en verganklike dinge besig hou. Binne hierdie horisontalistiese perspektief word menseverhoudinge, broederliefde, asook moreel-etiese en politieke kwessies van oorheersende belang, en die mens-God-verhouding ál meer op die agtergrond geskuif.
Die postmillennialisme leer dat die wêreld al hoe beter word. Hulle glo dat die Here Jesus se wederkoms ná die huidige ‘vrederyk’ van die kerkbedeling sal plaasvind. Hulle is só behep met koninkryksteologie dat hulle nie skroom om die Bybel totaal buite sy dispensasionele konteks toe te pas ten einde nóú as konings te regeer, voorspoed op te eis en na willekeur tekens en wonders te doen nie. Die vrederyk moet nóú sigbaar word!
Volgens die moderne, dispensasionele premillennialisme (chiliasme) word geglo dat Jesus Christus éérs kom en dán volg die beloofde vrederyk. Chiliaste glo wat in die Bybel staan en kyk gevolglik na die vervulling van ‘n groot aantal Bybelse profesieë vooruit. Chiliasme is nougeset op die grondwaarhede van die Skrif ingestel, veral in die mate waartoe dit ons verhouding met die Here raak. Dit bevorder ‘n duidelike toekomsverwagting by Christene en bring mee dat die Here ‘n groter realitiet in hulle daaglikse lewe word. Hulle is daarop ingestel om wêreldgebeure in die lig van die profetiese woord te vertolk, en sodoende ‘n Bybelse patroon in kontemporêre gebeure te onderskei. Hulle besef die erns van die uur waarin ons leef, gedagtig daaraan dat die bedeling van die kerk na sy einde spoed.
In die lig van bogenoemde denkrigtings is dit belangrik dat elke Bybelstudent vir homself duidelikheid oor die korrekte sienswyse verkry. 'n Kardinale vraag in verband met die profesieë is: "Hoe lees ons die Bybel?" Wanneer ons die profetiese woord bestudeer, is hierdie vraag van deurslaggewende belang. Uit ‘n bestudering van die vervulling van Ou Testamentiese profesieë kan elke persoon vir homself besluit of hy met die letterlike verklaringsmetode saamstem, en of hy liewer op allegoriese wyse na ‘n meer verborge betekenis agter dit wat geskryf is, wil soek. Die twee belangrikste sienings oor die wederkoms, nl. die chiliasme (verwag ‘n duisendjarige vrederyk van Christus op die aarde ná die wederkoms) en die antichiliasme (geestelike koninkryk gedurende die bedeling van die kerk) kan met die letterlike en allegoriese verklaringsmetodes onderskeidelik, in verband gebring word.
Die letterlike, of normale wyse waarop ons die Bybel lees, leer ons inderdaad die dinge waaraan ons as chiliaste glo. Hamilton, wat self ‘n antichilias is, erken hierdie feit in sy boek The Basis of Millennial Faith, wanneer hy sê: “Ons moet eerlik erken dat ‘n letterlike interpretasie van Ou Testamentiese profesieë aan ons dieselfde beeld van ‘n aardse Messiaanse ryk bied as dit wat deur die chiliaste geleer word.” Hamilton erken dus dat die verskil tussen chiliasme en antichiliasme nie is of die Bybel ‘n duisendjarige koningskap van Christus leer nie, maar hoe die Skrif wat wél so ‘n koningskap leer, geïnterpreteer moet word – letterlik of allegories.
Verskeie verklaringsmetodes van die Bybel is deur die eeue heen gevolg. Daar is egter twee wat werklik van belang is, veral in die bestudering van profesieë, en dit is die allegoriese en grammaties-historiese metodes. Laasgenoemde is die letterlike verklaringsmetode.
In sy Dictionary of the Christian Church definieer McDonald allegorie soos volg: “Die gebruik van taal om ‘n dieper en verskillende betekenis oor te dra as dit wat basies gekonstateer word.”
‘n Allegoriese verklaring moet duidelik van ‘n simboliese verklaring onderskei word. Die Bybel maak dikwels, ook in profesieë, van simboliese taal gebruik. ‘n Simbool, wat in sigself nie altyd ‘n besondere betekenis het nie, word dan gebruik om ‘n bepaalde gedagte, persoon of gebeurtenis by die leser tuis te bring. Dit is dan uit die verband duidelik dat dit ‘n simbool is en ‘n ander verklaring moet hê, bv. die dier met die sewe koppe wat op die Antichris dui.
By ‘n allegoriese verklaring het die Skrifwoord self egter wél ‘n duidelike en voor die hand liggende verklaring, maar die leser besluit dat hy iets anders daarin wil lees en ken dan willekeurig ‘n geestelike of figuurlike betekenis daaraan toe. Hy verklaar byvoorbeeld “Israel” in die Nuwe Testament as “die kerk”, die 144 000 Jode van Openbaring 7 wat vroeg in die verdrukking gered gaan word, word vir hom al die miljoene gelowiges van alle tye, en die komende duisendjarige vrederyk word die veel langer kerkdispensasie waarin die duiwel volgens hom gebind is.
Die allegoriese verklaarder onderwerp homself dus nie aan die gesag van die Skrif om ‘n betekenis daaruit te haal nie (uitlegkunde of eksegese), maar kom met ‘n vooropgestelde idee wat dan in die Skrif ingelees word (inlegkunde). Dit word die vervangingsteologie genoem waarin die grondbetekenis van ‘n woord met ‘n ander betekenis vervang word.
Angus en Green praat in The Bible Handbook ook van hierdie gevaar wanneer hulle sê: “Daar is ‘n onbeperkte moontlikheid vir vrysinnige vertolkings wanneer hierdie beginsel erken word en die enigste basis vir Skrifverklaring in die gedagtes van die verklaarder gevind word. Geen egte Skrifverklaring kan op hierdie wyse gedoen word nie.”
In sy Protestant Biblical Interpretation voeg Bernard Ramm die volgende by: “Om te beweer dat die grondbetekenis van die Bybel ‘n sekondêre betekenis is, en dat die belangrikste metode van Skrifverklaring die vergeestelikingsmetode is, is om die deur vir feitlik onbeheerde spekulasie en verbeelding oop te maak. Om hierdie rede dring ons daarop aan dat beheer oor interpretasie deur die letterlike metode uitgeoefen word.”
Die allegoriese metode van interpretasie word byna nooit konsekwent toegepas nie, want dit berus by die interpreteerder om te besluit wanneer hy die normale betekenis van ‘n Skrifwoord wil aanvaar, en wanneer hy dit wil vergeestelik. Daar is dus geen beheer oor dit wat iemand uit die Bybel haal nie, en die Bybel self het nie meer beheer oor hoe dit gelees word nie. O.T. Allis erken die gevaar hiervan wanneer hy sê:
In sy gesaghebbende boek, Things to Come, gee Dwight Pentecost die volgende definisie van die letterlike metode van Skrifverklaring:
Wanneer ‘n woord ‘n logiese betekenis het in die verband waarin dit gebruik word, dan mag dit nie simbolies opgeneem en anders verklaar word nie: “When the plain sense of the word makes common sense, then seek no other sense.”
Die sterkste bewys vir die letterlike verklaring is waarskynlik die wyse waarop die Nuwe Testament van die Ou Testament gebruik maak. Mens kan maar net kyk na die Ou Testamentiese profesieë oor Christus wat in die Nuwe Testament vervul is, naamlik oor sy geboorte, sy lewe, sy werk en sy dood. Geen een van hierdie profesieë is anders as letterlik vervul nie.
Die Ou Testament gee meer as 300 uitdruklike voorspellings aangaande die eerste koms van Christus, sodat dit vir elke Fariseër en skrifgeleerde duidelik moes wees wie Jesus is. Tóg het hulle Jesus nie erken en aanvaar nie, maar die waarheid onderdruk en hulle eie mense mislei. Waarom het hulle dit gedoen?
Die ganse sisteem van die verdoeseling en versluiering van Bybelse profesieë deur middel van allegoriese interpretasie, is ‘n duidelike set van die Satan om mense te laat vergeet van die koms van ons groot geestelike Verlosser wat as Persoon van die hemel af sal kom om hier te regeer. Tydens sy eerste koms het mense die voorspellings oor sy koms geïgnoreer, en moes die bittere gevolge daarvan dra.
Die letterlike interpretasie beteken slegs dat ons die Bybel op normale wyse lees soos wat hy homself vir ons aanbied. Simboliese en figuurlike taal word verklaar, maar dan het daardie simbool nog steeds ‘n letterlike antitipe, of objek, waarop dit dui. Jesaja 11:1 sê bv. dat daar ‘n takkie uit die stomp van Isai uitspruit, en ‘n loot uit die wortels, wat vrugte dra. Die verklaring hiervan is natuurlik dat Jesus as ‘n letterlike, historiese figuur sou verskyn, en dat Hy die dinge sou doen wat duidelik in die res van die hoofstuk beskryf word.
Ons hoef nie eers verder as die boek Jesaja te gaan om hierdie punt te demonstreer nie. Die onderstaande profesieë van Jesaja verwys almal na Persoon en werke van die Here Jesus as die beloofde Messias. Alle profesieë wat op sy eerste koms betrekking het, is letterlik vervul. Ons kan daarop reken dat dié wat tydens en ná sy wederkoms vervul sal word, nét so letterlik bewaarheid sal word. Jesaja sê:
· Hy sal voor sy geboorte al geroep word om die Here se Dienskneg te wees (49:1).
· Hy sal uit 'n maagd gebore word (7:14).
· Hy sal ‘n afstammeling van Ísai wees en dus uit Dawid se geslag (11:1, 10).
· Die Heilige Gees sal op Hom rus (11:2; 42:1).
· Hy sal meegevoel met die swakkes hê (42:3).
· Hy sal sy opdrag in gehoorsaamheid aan God uitvoer (50:4-9).
· Hy sal Homself gewilliglik aan lyding oorgee (50:6; 53:7-8).
· Hy sal deur Israel verwerp word (49:7; 53:1, 3).
· Hy sal die sondes van die wêreld op Homself neem (53:4-6; 10-12).
· Hy sal die dood oorwin (53:10).
· Hy sal verhoog word (52:13; 53:12).
· Hy sal kom om Israel te vertroos en wraak te neem op die goddeloses (61:1-3).
· Hy sal God se heerlikheid openbaar (49:3).
· Hy sal Israel geestelik na die Here terugbring (49:5) en ook fisies in hulle land herstel (49:8).
· Hy sal op die troon van Dawid regeer (9:6).
· Hy sal blydskap vir Israel bring (9:2).
· Hy sal 'n nuwe verbond met Israel sluit (42:6; 49:8-9).
· Hy sal die lig van die hele wêreld wees (42:6; 49:6).
· Hy sal die nasies herstel en vestig (11:10).
· Hy sal deur die nasies aanbid en vereer word (49:7; 52:15).
· Hy sal die wêreld regeer (9:6).
· Hy sal in getrouheid en geregtigheid oordee (11:3-5; 42:1, 4).
Die letterlike verklaringsmetode negeer nie die groot geestelike waarhede in die Bybel nie, want alles wat geestelike betekenis het word op 'n normale wyse geestelik verstaan. Dit is juis die fisiese verwagting van dit wat kom, wat ons tot die grootste mate van geestelike paraatheid, toewyding aan Jesus Christus en vervulling met die Heilige Gees aanspoor.
Ons kennis van die profesieë verskans ons ook teen die Antichris se misleiding, wat nou al volstoom aan die werk is. Ons aktuele verwagting van dit wat gaan kom, bevry ons ook van ‘n onbybelse koninkryk-nou teologie wat op aansien, rykdom, sorgeloosheid en die ervaring van allerlei bonatuurlike tekens, manifestasies en wonderwerke gebaseer is.
Die Fariseërs het Jesus se geloofsbriewe tydens sy eerste koms verwerp. Die kerk as instituut sal ook aan die slaap gevang word, en sal die Here Jesus se geloofsbriewe tydens sy tweede koms verwerp. Die kerk sal deur sy eie toedoen geen ander keuse hê nie, want hy verwerp nou reeds al die duidelike tekens wat die wederkoms voorafgaan. Wie sal die verantwoordelikheid daarvoor aanvaar – miskien Origenes en sy allegoriese navolgers?
Binne die raamwerk van 'n chiliastiese n perspektief word die tyd uitgekoop om andere te waarsku om hulle saak met die Here reg te maak. ‘n Groter evangelisasie-ywer word op dié wyse gekweek, omdat die tyd vir die uitvoering van die groot opdrag min geword het. Dit maak jou nog meer aktief omdat jy besef dat jy ‘n vreemdeling en bywoner in ‘n verbygaande wêreld is. Verder spreek die profetiese woord jou aan om voortdurend in ‘n toestand van heiligheid en gereedheid vir die wederkoms te leef, en elke dag reikhalsend na die koms van die Bruidegom uit te sien.
Chiliasme was vir baie lank die oorheersende skrifbeskouing in die Protestantse wêreld totdat dit deur liberale en vrysinnige teologiese verklarings vervang is. Wyle oom Timo Kriel, wat baie boeke vir Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) in Afrikaans vertaal het, bevestig die feit dat die stigters van die Kweekskool op Stellenbosch almal chiliaste was. In ‘n voorwoord vir prof. J.S. Malan se boek, Die Laaste Nagwaak, sê hy onder meer die volgende hieroor:
'n Geesgenoot en produk van bogenoemde teoloë, dr. D.R. Snyman, wat ‘n NG predikant in Stellenbosch was, was 'n baie bekende chiliastiese skrywer wat verskeie artikels in die tydskrif Kyk, Hy kom! gepubliseer het. Op aandrang van die publiek is hierdie artikels later in 'n boek saamgevat en deur CUM uitgegee onder die titel: Die komende Christus en die komende krisis. Hierin word die tekens van die tye, die herstel van Israel, die wegraping, die verskyning van die Antichris en die duisendjarige vrederyk beskryf. In die voorwoord van sy boek skryf dr. Snyman:
Al hierdie werke het 'n chiliastiese (premillennialistiese) verwysingsraamwerk gehad. Ongelukkig is navorsing van dié aard deur die antichiliastiese siening wat veral uit die Vrye Universiteit in Holland hierheen oorgedra is, onderdruk. Die teologie in Europa is sterk deur die Jodehaat van die Tweede Wêreldoorlog beïnvloed. Dit het daartoe gelei dat Israel se profetiese toekoms as volk ontken en die kerk in die plek van Israel as "die Israel van die Nuwe Testament" gesien is. In ooreenstemming hiermee is ander profesieë, bv. dié oor die duisendjarige vrederyk, ook vergeestelik en van hulle letterlike betekenis beroof.
Hierdie wanopvattings oor die profesieë moet dringend reggestel word omdat ons in die laaste geslag voor die wederkoms van Christus leef. Ons kan dit hoegenaamd nie bekostig om in onkunde oor die inhoud en eise van die profetiese woord te leef nie. Dit kan ons duur te staan kom!
Dit is nou, soos nooit tevore nie, tyd om die profesieë van die Bybel met groot erns te benader en te lees. Die profetiese woord is baie vas, en ons moet daarop ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn (2 Pet. 1:19). Dit sal baie sake oor die komende oordele van God vir ons opklaar, en ook duidelike raad aan ons gee oor hoe ons hierdie oordele kan vryspring.
Hoewel die bedeling van die kerk ná die wegraping verby sal wees, kán mense in daardie tyd nog gered word en by informele byeenkomste die ware God aanbid. Die amptelike kerke sal egter almal by ‘n antichristelike ekumeniese alliansie betrek word, wat op die erkenning en aanbidding van die Antichris as wêreldmessias sal uitloop. Alle ernstige soekers na die waarheid sal uit dié strukture moet wegbly.
Dit is ons taak om toe te sien dat ons vir die wegraping en die ontvlugting uit God se oordele gereed is. Ons moet ook andere vermaan en help om hiervoor gereed te wees. Noag was ‘n prediker van geregtigheid wat sy goddelose tydgenote baie ernstig teen die komende oordele gewaarsku het, terwyl hy aan die ark gebou het. Dit was beslis nie sy skuld dat hulle agtergebly en gesterf het nie.
U sal baie baat by die bestudering van die profetiese woord vind. In die groot skatkamer van Bybelse profesieë sal u onnaspeurlike rykdomme van Christus se liefde en reddende genade ontdek, maar ook ernstige waarskuwings oor die donker nag van verskrikking wat vir almal wag wat hulle nie deur Jesus Christus tot die lewende God bekeer het nie.
In die volgende gedeelte van Openbaring 20 word die duisendjarige ryk ses keer genoem:
Wanneer die Here Jesus na die aarde terugkom, kom Hy as Koning van die konings en sal ‘n regering vir die hele wêreld instel met Jerusalem as hoofstad:
Daniël sê in sy profesie oor die eindtyd dat die Seun van die mens met sy koms soos ‘n rots sal wees wat die aardse koninkryke sal verbrysel en tot stof vermaal, en self in hulle plek sal regeer (Dan. 2:44-45). Sagaria sê: “En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sag. 14:9). Dieselfde belofte oor sy koningskap op aarde is voor Jesus se geboorte aan Maria gemaak:
Die troon van Dawid is nie in die hemel nie, maar op aarde. Jesus regeer nie nou in ‘n geestelike sin op die troon van Dawid nie, want dié troon is sedert die Babiloniese ballingskap van Israel al vervalle en in onbruik. Christus sal hierdie troon in Jerusalem eers met sy wederkoms herstel en dan daarvandaan regeer:
Die ouderlinge in die hemel [die verheerlikte kerk] weet dat hulle saam met die Here Jesus na die aarde sal terugkom en hier as konings in sy ryk sal heers. Hulle sê uitdruklik:
Dit is dus baie duidelik dat die openbaringsgebeure met ‘n sterk proklamering van Christus se koningskap gepaard gaan:
Wanneer Jesus, wat tans as Hoëpriester by die Vader se troon vir ons intree, na die aarde terugkom, sal Satan se mag en invloed op aarde verbreek en Christus se koninkryk ingestel word. Die duiwel sal dan nie meer die owerste en god van hierdie wêreld wees, in wie se mag die huidige verdorwe wêreld lê nie (Joh. 14: 30; 2 Kor. 4:4; Ef. 6: 12; 1 Joh. 5:19).
‘n Verdere bewys daarvan dat die duisendjarige koninkryk nie in die hemel is nie, is die feit dat daar nog inherente vleeslikheid en wanordelikheid onder die nasies sal wees, wat sal vereis dat hulle met ‘n streng hand regeer word. Hoewel die duiwel gebind sal wees en die mense nie tot openlike sondes sal kan verlei nie, sal hulle nog ‘n gevalle natuur hê wat gedissiplineer moet word. In Openbaring 12:5 en 19:15 word gesê dat Christus die nasies met ‘n ystersepter sal regeer. In hierdie toekomstige koninkryk sal sy getroue diensknegte saam met Hom regeer:
Gedurende die Messiasryk sal die Here Jesus se troon in Jerusalem die ontmoetingspunt tussen die hemel en aarde wees, en dus die sentrum van goddelike wysheid, gesag en ‘n regering van geregtigheid. Jesaja sê die volgende hieroor:
‘n Toestand soos hierdie, waarin daar geen oorloë gevoer, geen militêre opleiding ondergaan of enige wapens vervaardig word nie, het nog nooit op aarde bestaan nie. Dit kan dus slegs op die toekomstige vrederyk betrekking hê. Omdat die duiwel gedurende die duisend jaar van Christus se regering gebind sal wees sodat hy die nasies nie kan verlei nie, sal gewelddadigheid en oorlogvoering nie voorkom nie. Ander vorms van sonde sal ook verdwyn en die hele wêreld sal slegs die Christelike godsdiens erken en aanhang:
Jerusalem sal spontaan deur almal as hoofstad van die wêreld erken word, en daar sal geen vyandigheid en politieke spanning tussen individue of nasies bestaan nie:
Die enigste vorm van wangedrag wat wél sal voorkom, sal laksheid wees deurdat sommige nasies sal nalaat om die Here te eer en te dien soos hulle moet. Dit sal nog steeds ‘n geval wees van: “die gees is gewillig, maar die vlees is swak” (Matt. 26:41). Hulle sal as gevolg daarvan deur vermaninge en strafmaatreëls aangespreek word:
Daar sal in hierdie tyd dus ‘n oorblyfsel van die nasies op aarde wees. Hulle sal sterflike mense van vlees en bloed wees, en as gevolg van hulle gevalle natuur nog steeds gered moet word om waarlik aan die Here te behoort. Volgens Sagaria 14:16-17 sal hulle wél die groot verdrukking en die slag van Armagéddon oorleef, en hoewel hulle nie die nommer van die Antichris aanvaar het nie, behoort hulle ook nie aan Christus voordat hulle Hom daadwerklik as Verlosser aangeneem het nie.
Daar is aanduidings in die Bybel dat die relatief klein oorblyfsel van die nasies direk ná die wederkoms van Jesus almal saam met die oorblyfsel van Israel gered sal word. Sagaria sê dat met die wederkoms, die oorblyfsel van Israel rou sal bedryf wanneer hulle met die Messias versoen word (Sag. 12:10-14; 13:1, 9). Mattheus dui aan dat alle nasies in hierdie rou en verootmoediging sal deel:
Dit beteken dat die vrederyk met ‘n eerste geslag Christene sal begin. Omdat hierdie mense egter nog almal hulle Adamiese, sonde-geneigde natuur het, sal die opkomende geslagte [soos ook nou] ongered gebore word en dus weergebore moet word om kinders van God te word. Om hulle te evangeliseer, sal die taak van die geredde Israel wees, wat ook nog sterflike maar wedergebore mense sal wees. Hulle sal die evangelie na alle nasies uitdra:
Dit is uit Openbaring 20 duidelik dat daar gaandeweg ál hoe minder lede van die opkomende geslagte gered sal word. Wanneer die duiwel aan die einde van die vrederyk vir ‘n kort tydjie losgelaat word, sal miljoene mense dadelik in sy mag val (Op. 20:7-9).
Die leer oor die twee opstandings kom ook duidelik in verband met die duisendjarige vrederyk ter sprake. Slegs hulle wat deel het aan die eerste opstanding (Luk. 14:14; 1 Thess. 4:16), waarby ook ingereken moet word die ná-oes van die verdrukking, sal saam met Jesus Christus in sy ryk regeer. Die opstanding van die regverdiges móét dus voor die duisendjarige vrederyk plaasvind. Om hiervoor waardig te wees, is ‘n groot seën en iets om jou voor te beywer :
Die ander dode is die ongeredde menigte van alle eeue, en hulle sal nie herleef totdat die duisend jaar voleindig is nie (Op. 20:5). Hulle sal dan voor die groot wit troon verskyn om tot die ewige dood in die poel van vuur verdoem te word.
Die volgende is die belangrikste kenmerke van die toekomstige vrederyk op aarde:
· God sal in die Persoon van Jesus Christus op aarde regeer. ‘n Teokratiese wêreldregering sal dus gevestig word (Luk. 1:31-33; Op. 19:15; Jes. 11:5-16).
· Die troon van Christus sal in Jerusalem wees (Sag. 8:22; Jes. 2:2-3; 24:23). Sy regering sal deur geregtigheid gekenmerk word (Jes. 1:26-27; Jer. 23:5-6).
· Daar sal vrede wees. Nasies sal nie meer leer om oorlog te voer nie (Jes. 2:4; Miga 5:4).
· Satan sal gebind wees sodat hy die nasies nie kan verlei nie (Op. 20:1-4).
· Die geredde Israel sal hulle verbly in die Here en die hele wêreld evangeliseer (Jes. 12:3-6, 27:6, 40:9). Deur hulle evangelisasie sal hulle die wêreld vol vrugte maak (Jes. 27:6) en die Here sal geëer word (Jes. 28:5).
· Die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek (Hab. 2:14).
· Daar sal nie siekte wees nie: “Geen inwoner sal sê: ek is siek nie” (Jes. 33:24).
· Mense sal hoë ouderdomme bereik. ‘n Man van 100 jaar oud sal as ‘n kind beskou word (Jes. 65:20-23).
· Die natuur, wat as gevolg van die sondeval aan die nietigheid onderworpe is, sal gedeeltelik herstel word. Die hele skepping wag met reikhalsende verwagting op die openbaarmaking van die kinders van God (Rom. 8:19-22; Jes. 41:18-20).
· Tye van ekonomiese voorspoed sal aanbreek. Wanneer dit planttyd is, sal die vorige oes nog nie eers klaar ingesamel wees nie (Jes. 55:13; Amos 9:13-14; Joël 3:18).
· Daar sal ‘n ten volle ontwikkelde, ekonomies voorspoedige gemeenskap wees wat in die behoeftes van die Koning se onderdane sal voorsien (Jes. 65:21-23).
· Harmonie sal in die diereryk heers. Die leeu sal by die lam lê en gras vreet soos ‘n os, omdat die Here ‘n nuwe verbond met die diere en visse van die see sal sluit (Jes.11:6-9, 65:25; Hos. 2:17).
Uit Israel se oogpunt is dit om die volgende vier redes baie duidelik dat die vrederyk nog nie vir dié volk aangebreek het nie:
Eerstens: Volgens die profete sal die Messiasryk ongekende seëninge vir Israel bring. Die volk het geen een van hierdie seëninge die afgelope bykans 2 000 jaar beleef nie. Tydens hulle internasionale ballingskap was daar geen ander volk wat soveel aanhoudende smarte as die Jode ervaar het nie. Selfs in die 40 jaar voor die verwoesting van Jerusalem was die land Israel ‘n kookpot van onderlinge twiste, haat en opstande teen die Romeinse owerheid.
Tweedens: In die vrederyk sal die Messias benewens sy wêreldwye koningskap ook die Koning van die Jode wees. Die feit is dat die Jode nog nooit vir Jesus as hulle Koning en Messias erken het nie. Hulle het nog nie as volk die geopende oë gehad om vir Hom wat hulle deurboor het, as Messias te erken nie (Sag. 12:10). Indien Jesus reeds die koningskap op die troon van Dawid aanvaar het (Luk. 1:32; Hand. 15:16-17), dan is Hy as Koning van die Jode ‘n Koning sonder ‘n volk. Om profesieë só te verklaar, kom prakties daarop neer om die Bybel eenkant toe te skuif en jou eie teorieë te verkondig.
Derdens: In die vrederyk sal Jerusalem hoog en verhewe as die hoofstad van die wêreld wees. Die nasies sal hierheen toestroom om in die weë van die Here onderrig te word, en Israel sal deur hulle geëer word. Die afgelope byna 2 000 jaar was Jerusalem egter vertrap deur die nasies.
Vierdens: In die vrederyk sal Israel hulle doel as die volk van God verwesenlik en die hele wêreld evangeliseer. Tot dusver het hulle as volk nog nie die Messias aanvaar nie en kon dus nog nie sy lof onder die nasies verkondig nie.
Israel se posisie in die komende Messiasryk word dikwels in die Ou Testament beskryf en spesifiek met die dag van die Here in verband gebring. Dit sal ‘n tyd van seën, oorvloed, blydskap in die Here en vrede op aarde wees. Israel sal dan sy volle potensiaal as volk van God vervul en ‘n nasie wees waardeur die Here die hele aarde sal seën. Paulus het van Israel gesê:
Deur Israel se val, omdat hulle die Messias verwerp en laat kruisig het, is die versoening van God aan die nie-Joodse wêreld gebied. Wat ‘n geweldige seën is dit nie vir ons nie! Hoeveel te meer sal Israel dan nie in die vrederyk ‘n seën vir die wêreld wees wanneer hulle die verlossingswerk van die Messias onder alle nasies sal verkondig nie! Hulle sal dan hulle roeping as volk van God ten volle vervul. Die volgende is voorbeelde van beloftes oor Israel se herstel en heerlikheid in die komende Messiasryk:
Hierdie en baie ander seëninge sal die kenmerk van die Messias se duisendjarige vrederyk wees wanneer Hy op die troon van Dawid regeer. Sy verheerlikte kerk sal saam met Hom regeer en geregtigheid op aarde laat geskied. Israel sal ‘n leidende rol in wêreldsake speel en die Here se spesiale getuies onder die nasies wees.
Indien die dispensasies in die Bybel nie duidelik van mekaar onderskei word nie, kan dit tot groot teologiese verwarring en verkeerde sienings lei. Twee van die dispensasies wat dikwels saamgegooi word, is die huidige kerkbedeling en die toekomstige koninkryksbedeling van die duisendjarige vrederyk. Dit het ernstige gevolge:
· Die ontkenning van ‘n toekomstige vrederyk en die vereniging daarvan met die kerkdispensasie, lei na ‘n koninkryk-nou teologie waarin voorspoed, mag en ekumeniese bande nagestreef word. Mense wil as konings en groot profete regeer. Christelike én multigodsdienstige ekumene word beoefen, en ter wille van groter eenheid en mag word die eis van leerstellige suiwerheid goedsmoeds ingeboet.
· Die binding van Satan gedurende die vrederyk word na die huidige kerkdispensasie verskuif. Dit het twee gevolge: 1. Baie kerke het feitlik geen demonologie nie en bied net sielkundige berading teen die werke van Satan aan. 2. In ander kringe word gepoog om Satan en sy sogenaamde “gebiedsdemone” nóú al te bind sodat hulle hul gesag in dorpe, stede én in hele lande verloor. Dié metode is onbybels.
· Die vergeesteliking van Bybelse profesieë, en die ontkenning van beloftes soos dié oor die wegraping, lei tot geestelike uitsigloosheid onder die Christene omdat dit hulle toekomsverwagting oor die wederkoms omtrent heeltemal wegneem. Dit word deur sekulêre ideale en vooruitsigte in die huidige wêreld vervang, bv. sosio-ekonomiese transformasie, asook die eenheidsindroom van die nuwe wêreldorde.
Indien ons wél hierdie twee bedelings van mekaar onderskei, vrywaar ons onsself só van die probleme wat hierbo genoem word:
· Ons sal nie Satan se mag onderskat of wegredeneer deur te beweer dat hy nóú gebind is nie. Tydens die kerkbedeling loop hy rond soos ‘n brullende leeu om te soek wie hy kan verslind (1 Pet. 5:8). In die vrederyk sal hy volkome gebind wees (Op. 20:1-3). Die stryd teen die Bose in die huidige dispensasie maak dus ‘n wesenlike deel van ons praktiese Christenskap uit. Sy strategieë sluit die misleiding van Christelike kerke d.m.v. valse profete in (2 Kor. 11:13-15; Matt. 7:15-23; 24:11, 24).
· Ons sal realisties wees oor die feit dat ons in “die teenwoordige bose wêreld” leef (Gal. 1:4) waarin die Christene ‘n minderheidsgroep is, en dus vreemdelinge op geestelike gebied wat moet skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag (Fil. 2:15). Die meerderheid mense het die duisternis liewer as die lig omdat hulle werke boos is (Joh. 3:19). Hulle sinne word deur "die god van hierdie wêreld" verblind (2 Kor. 4:4).
· Ons sal nie die dwalinge van die koninkryk-nou teologie en die voorspoedsevangelie ten prooi val nie, omdat ons nie nou in die probleemvrye en oorvloedige toestand van die komende vrederyk leef en soos konings regeer nie.
· Ons sal nie die valse vredesinisiatiewe en ongekwalifiseerde eenheidsdenke van die huidige, antichristelike nuwe wêreldorde aanvaar nie, omdat ons in ‘n tyd van konflik en stryd leef. Die koninkryke van God en dié van Satan is onverenigbaar, daarom is groter polarisasie en spanning onafwendbaar.
Die volgende is ‘n vergelykende studie tussen die huidige kerkdispensasie en die toekomstige bedeling van die vrederyk op aarde:
|
Verborge koninkryk. Die koninkryk van die Here is tans verborge omdat dit nie deel van hierdie bose wêreld is nie. Dit is ‘n onsigbare, geestelike realiteit vir gelowiges. Jesus het gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie” (Joh. 18:36). Aan sy dissipels het Hy gesê: “Dit is aan julle gegee om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken” (Matt. 13:11). Paulus het gesê: “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan” (Hand. 14: 22). Ons is nie nou konings nie, maar soldate vir die kruis wat ‘n geestelike wapenrusting moet aantrek om staande te bly teen die liste van die duiwel (Ef. 6:10-12). Ons wag nog vir die openbaring van die hemelse koninkryk: “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam” (Fil. 3:20-21). In die geopenbaarde koninkryk van die hemel sal ons verheerlikte liggame hê, en dus in heerlikheid geopenbaar word (Kol. 3:4). |
Geopenbaarde koninkryk. ‘n Teokratiese wêreldregering sal ná Christus se wederkoms gevestig word. Die engel het aan Maria gesê: “Jy sal ‘n seun baar en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:31-33). Ná die kerkbedeling kom Jesus as Koning terug: “Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand. 15:16-17). Met sy wederkoms sal Hy die koningskap aanvaar: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Op. 11:15). “Hy sal die nasies met ‘n ysterstaf regeer” (Op. 19:15). |
|
Christus die Middelaar en Hoëpriester op sy Vader se troon. Tydens sy fisiese afwesigheid van die aarde af is Jesus ons Hoëpriester wat op die Vader se troon vir ons intree. “[Stefanus] was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God” (Hand. 7:55). Jesus het gaan sit aan die regterhand van die troon van die majesteit in die hemele (Heb. 8:1). Christus is ons Middelaar en Hoëpriester wat in hierdie bedeling net leef om mense te red en vir ons in te tree (Heb. 4:15; 7:24-27; 8:1). |
Die troon van Christus in Jerusalem. In die vrederyk sal Jesus op die troon van Dawid in Jerusalem regeer. “Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke” (Jes. 2:3-4). “So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en… om genade te smeek” (Sag. 8: 22). “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem” (Jer. 3:17). |
|
Satan beklee ‘n magsposisie op aarde. Die Here Jesus noem Satan “die owerste van hierdie wêreld” (Joh. 14:30). Paulus sê hy is “die god van hierdie wêreld” wat die sinne van die ongelowiges verblind (2 Kor. 4:4). Johannes sê dat die hele wêreld in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19). Hy sê ook dat die duiwel die hele wêreld verlei (Op. 12:9). Dit is waarom die Here Jesus ons wil uitred uit die teenwoordige bose wêreld (Gal. 1:4). Petrus sê: “Julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof” (1 Pet. 5:8-9). Dit is ‘n baie werklike stryd waarin ons teen hierdie bose vyand staan: “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Ef. 6:11-12). “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jak. 4:7). God is oppermagtig, maar Hy het Satan toegelaat om mense te mislei sodat hy én sy misleides wat ook vir God verwerp, geoordeel kan word. Baie mense is kinders van die duiwel (Joh. 8:44). |
Satan sal gebind wees. Hy sal glad nie die nasies tot sonde kan verlei en ook nie militêre oorloë kan aanhits nie. “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:4). “[Die nasies] sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17). Aan die einde van die vrederyk sal Satan losgelaat word en onmiddellik weer die nasies tot sonde en oorlogvoering aanhits: “En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal …en hy het die draak gegryp – die ou slang wat die duiwel en die Satan is – en hy het hom gebind duisend jaar lank… en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word… En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan… uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is… om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see… en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind. En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp” (Op. 20:1-3, 7-10). |
|
‘n Wêreld vol ongeregtigheid. In die huidige bedeling voer sonde en ongeregtigheid die botoon: “Wee hulle wat die ongeregtigheid nader trek met koorde van goddeloosheid, en die sonde soos met wa-toue… Wee hulle wat helde is om wyn te drink en wakker manne om sterk drank te meng; wat vir ‘n omkoopgeskenk die skuldige regverdig verklaar en die reg van die regverdige hom ontneem” (Jes. 5:18, 22-23). “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense” (Rom. 1:18). Nasies én individue is besig om die maat van hulle ongeregtigheid vol te maak sodat hulle geoordeel kan word. |
Christus sal ‘n regering van geregtigheid instel. Reg en geregtigheid sal oral op aarde geskied. Vir Israel sê die Here: “Ek sal jou weer regters gee soos vroeër en raadsmanne soos in die begin” (Jes. 1:26). Die Messias sal ‘n Regter wees wat die reg soek en gou is in geregtigheid (Jes. 16:5). “En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Jes. 2:3). Die inwoners van baie stede sal die Here om genade gaan smeek (Sag. 8:21). |
|
Vreemdelinge en bywoners. Weens die boosheid op aarde is die regverdiges tans soos vreemdelinge: “Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel” (1 Pet. 2:11). Die geloofshelde en martelare het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was (Heb. 11:13). Hulle is vervolg en doodgemaak, maar met die oog op die opstanding en die toekomstige openbaring van die koninkryk het hulle getrou aan die Here gebly (Heb. 11:35-40). Hulle loon is nog toekomstig. |
Regeer as konings. In die vrederyk sal die gelowiges wat in die eerste opstanding opgewek is, saam met Christus as konings regeer (Op. 20:6). Hulle sal die Lam toesing: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5: 9-10). Hulle sal die nasies met ‘n ysterstaf regeer (Op. 2:26-27). In die bedeling wat kom is daar geen sprake van die vervolging van gelowiges nie – hulle sal as konings regeer! |
|
Valse vrede, haat en konflik heers op aarde. Daar is geen ware en bestendige vrede nie. Konflikte en oorloë is aan die orde van die dag. Die werkers van ongeregtigheid spreek van vrede met hulle naaste, maar daar is kwaad in hulle hart (Ps. 28:3). Hulle sê: Vrede, vrede! terwyl daar geen vrede is nie (Jer. 6:14). “Julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie omdat julle nie bid nie” (Jak. 4:2). Ons kan vrede in ons harte hê, maar sal stryd in die wêreld hê (Matt. 10:34). |
‘n Sigbare vrede sal op aarde heers. ‘n Sigbare, uiterlike vrede sal tussen mense en volke heers, sodat geen oorlogvoering sal plaasvind nie: Christus sal die Vredevors wees, “tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig” (Jes. 9:5-6). Hy sal “die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand” (Ps. 46:10; vgl. ook Hos. 2:17). |
|
Israel as volk geestelik verblind en vervolg. Die meerderheid Jode verwerp Jesus as die beloofde Messias en het as gevolg hiervan in ballingskap onder die nasies gegaan, waar hulle erg vervolg is: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak… en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat” (Matt. 23:37-38). “[Julle] sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk 21:24). Tans het Israel as volk nog skille oor hulle oë en aanvaar dus nie vir Jesus as Messias nie. Dit is waarom hulle nie vrede het en ook in aansien oner die nasies is nie. |
Israel ten volle in hulle land herstel. Alle lede van die volk sal gered wees en die Messias voluit dien. Hulle sal die lof van Jesus oral verkondig en groot seëninge geniet: “Juig en jubel, o inwoners van Sion! Want die Heilige van Israel is groot in julle midde” (Jes. 12:6). “In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak” (Jes. 27:6). “In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:23). Hulle sal dan die belangrikste verkondigers van die Messias se lof op aarde wees, en sal oral op die hande gedra word. |
|
Geestelike duisternis en onkunde op aarde. Die meeste mense leef in geestelike duisternis, onkunde, sonde en rebellie teen God: “En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig, want hulle werke was boos” (Joh. 3:19). “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Matt. 7:13-14). |
Die Here word oral geken. Die valse godsdienste sal nie bestaan nie, en almal op aarde sal die Here ken en eer: “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Hab. 2:14). Oor Israel sê die Here: “En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here. Want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hul sonde nie meer dink nie” (Jer. 31:34). |
|
Siekte is algemeen. Siekte, pyn en lyding tref alle mense: “En daar is in Jerusalem ‘n bad wat… Betésda genoem word. Daarin het ‘n groot menigte siekes gelê, blindes en kreupeles en lammes, wat op die roering van die water gewag het” (Joh. 5:2-3). Benoudhede, swakhede en liggaamlike teistering was ook Paulus se se deel en hy moes leer om daarmee saam te leef (2 Kor. 12:7-10). Nie almal word genees nie. |
Geen siekte. Mense sal nie siek word nie. Indien wél, sal daar genesing wees. “Geen inwoner sal sê: Ek is siek nie” (Jes. 33:24). “En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie… en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees” (Eseg. 47:12). Almal sal hierin deel en niemand sal siek bly nie. |
|
Kort lewensverwagting. ‘n Mens se lewe in dié bedeling is kort: “Die dae van ons jare – daarin is 70 jaar, of as ons baie sterk is, 80 jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby en ons vlieg daarheen” (Ps. 90:10). |
Hoë ouderdomme. ‘n Honderdjarige sal in daardie tyd nog as ‘n seun beskou word: “Want ‘n seun sal sterwe honderd jaar oud… want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome” (Jes. 65:20, 22). Mense sal honderde jare oud word. |
|
Disharmonie in die diereryk. Die diere is vyandig op mekaar omdat die een deur die ander verslind word. Hulle is voortdurend op die vlug vir vyande. As ‘n jong leeu onder die troppe klienvee deurtrek, dan vertrap en verskeur hy sonder dat iemand red (Miga 5:7). “En Paulus het ‘n klomp droë hout bymekaargemaak en op die vuur gesit, en ‘n adder het weens die hitte uitgekom en aan sy hand vasgebyt” (Hand. 28:3). Roofdiere moet beheer word. Volgens Openbaring 6:8 sal hulle in die komende groot verdrukking baie mense aanval en doodmaak. |
Harmonie in die diereryk. Volgens Hosea 2:17 sal die Here ‘n nuwe verbond met die diere sluit en hulle natuur verander. “Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ‘n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ‘n adder… Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie” (Jes. 11:6-9; kyk ook Jes. 65:25). |
|
Natuurrampe. Die natuur is as gevolg van die sondeval aan uitputting, uiterste toestande en onvolkomenheid onderworpe. Droogtes, oorstromings, aardbewings, ens. kom voor. “Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe.. in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” (Rom. 8:20-21). |
Harmonieuse skepping. Die natuur sal na volkomenheid herstel word: “Ek sal riviere op die kaal heuwels oopmaak en fonteine in die laagtes; Ek sal die woestyn ‘n waterplas maak en die dor land waterbronne. Ek sal in die woestyn gee die seder, die akasia en die mirt en die wilde olyfboom; Ek sal in die woestyn plant die sipres, die plataan en die denneboom, dié almal” (Jes. 41:18-19). |
|
Misoeste en teëspoed is algemeen. Dorings, distels en uiterste klimaatstoestande lei dikwels tot misoeste: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, en die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in die Here” (Hab. 3:17-18). Dit is ‘n tyd van toetsing en konflik. |
Voorspoed en goeie oeste. Oeste sal konstant wees, met geen droogtes, skadelike onkruid en plae wat verwoes nie: “Kyk, die dae kom, spreek die Here, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees” (Amos 9:13). “Vir ‘n doringboom sal ‘n sipres opgaan; vir ‘n distel sal ‘n mirteboom opgaan” (Jes. 55:13). |
Laat ons voortgaan om die ware millennium te verwag wat ná die koms van die Koning, Jesus Christus, sal aanbreek. Slegs Hý kan die oorblyfsel van Israel en die nasies red (Sag. 12:10; Matt. 24:30), die duiwel in 'n put laat bind (Op. 20:1-3), die troon van Dawid herstel (Hand. 15:16-17) en toestande van vrede en harmonie op aarde skep. As ons bereid is om nou te ly en ons bediening te midde van groot teëstand te vervul (Joh. 16:33), sal ons saam met Christus in sy koninkryk regeer (Rom. 8:17).
Die misleiers en valse profete wat probeer om vóór die koms van die Koning 'n mensgemaakte Utopia op aarde te skep, is besig om 'n humanistiese droom te probeer verwesenlik. Daar is tans toestande op aarde wat ons net eenvoudig nie kan verander voordat Jesus weer kom nie! Dit is waarom ons 'n wonderlike toekomsverwagting in verband met sy wederkoms het. Ons sal nie alleen die komende groot verdrukking ontvlug nie (Luk. 21:36), maar sewe jaar later terugkom om saam met Christus in sy vrederyk op aarde te regeer (Op. 5:9-10).