Boodskap van die Blink Môrester

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (April 2010)

In ‘n profetiese sin is dit nag in die węreld omdat die meeste mense hulleself in groot geestelike en morele verduistering bevind. Die vervalle mensdom verkies dit só omdat hulle die duisternis en sonde van Satan se koninkryk liewer het as die lig van God se koninkryk (Joh. 3:19). Die mensdom nader nou die koudste en donkerste deel van die nag voordat die nuwe dag van God se geopenbaarde koninkryk oor die donker, probleembelaaide en terminaal siek węreld sal aanbreek. Dit is beslis nie meer lank voordat ons die blink Môrester in die lug sal sien verskyn nie (Op. 22:16). Feitlik al die mense is vas aan die slaap gedurende die vierde nagwaak wanneer die môrester verskyn om die koms van ‘n nuwe dag aan te kondig. Net diegene wat geestelik wakker is, sal Hom sien en weggevoer word, die Here tegemoet in die lug (1 Thess. 4:16-17).

Ons moet nie die donker toestande van die verdorwe węreld aanvaar en daarby probeer aanpas nie, maar ‘n ingesteldheid op die spoedige koms van die Here Jesus hę. Saam met die psalmis moet ons kan sę: “My siel wag op die Here meer as wagters op die môre” (Ps. 130:6). Die tragedie is dat diegene wat nie op die Here wag nie, slegs die uitgiet van God se toorn in die groot verdrukking kan verwag. Vir hulle het die wagter nie goeie nuus nie. “Die wagter sę: Die môre kom, en ook die nag” (Jes. 21:12). Die môre van ewige vreugde sal aanbreek vir die getroues wat die Messias verwag het, maar die ongelowiges sal deur die duisternis van goddelike oordele oorval word. Die nag sal vir hulle nóg donkerder word.

Die Here Jesus sal eers in die geheim kom as die hemelse Bruidegom om sy bruid weg te  neem, en ná die sewe jaar van verdrukking in die openbaar kom as die Koning van die konings om die ongelowige węreld te oordeel en sy troon in Jerusalem op te rig. Ons leef in die verwagting op sy geheime koms wanneer Hy sal kom “om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo” (2 Thess. 1:10). Ons sal sy lof besing: “U het my roukleed losgemaak en my met vreugde omgord... U omring my met vrolike gesange van bevryding... Versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand vir ewig” (Ps. 30:12; 32:7; 16:11).

As ons die Here Jesus liefhet en verwag, sal ons heiligmaking ernstig nastreef en gereed maak om sonder vlek of rimpel voor Hom te verskyn (Ef. 5:25-27). Ons sal onsself van die węreld en węreldse dinge losmaak, “want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam” (Fil. 3:20-21). Strek u uself na die vervulling van dié belofte uit?

“Elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:3). Die getroue, wederkomsgerigte Christen staar homself nie blind teen sy donker tydsomstandighede nie, want dan sal hy in sy liefde verkoel, sy ywer vir die hemelse Bruidegom verloor, en nie meer waaksaam en biddend wees nie.

Ons moet leef soos mense wat die Onsienlike sien. Abraham het in ‘n vreemde land in tente gewoon, maar hy het ‘n vergesig van sy ewige tuiste gehad, “want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is” (Heb. 11:9-10). Ons is ook reisigers in ‘n vreemde węreld wat in die mag van die Bose lę (1 Joh. 5:19), en ons moet nooit die visie van ons wonderlike eindbestemming verloor nie, maar dit altyd in die verte sien en begroet.

Christene wat die verwagting van die toekomstige openbaring van Jesus Christus se koninkryk verloor, pas byna onbewustelik aan by “die teenwoordige bose węreld” waaruit die Here Jesus gekom het om ons te red (Gal. 1:4). Baie van hulle probeer om nog selfs voor die koms van die Koning ‘n sigbare koninkryk op te rig en hulle permanent hier te vestig. In die proses maak hulle onbeskaamd van węreldse metodes gebruik om in eenheid, vrede en harmonie met ‘n goddelose węreld te leef.

Christene wat hierdie ingesteldheid het, maak op soveel materiële en geestelike seëninge op aarde aanspraak dat hulle nalaat om skatte in die hemel bymekaar te maak. Hulle verwagting het totaal węrelds geraak, en in terme van węreldse prestasies en sukses sę hulle: “Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie.” Vir hierdie visielose en węreldse gelowiges sę Christus: “Jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Op. 3:17). Hulle wag nie meer vir ‘n toekomstige koninkryk nie, maar is besig om hier en nou hulle eie koninkryk op te rig. Paulus waarsku hulle ook: “As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense” (1 Kor. 15:19).

Laat ons weer al die wonderlike beloftes oor die Here Jesus se wederkoms lees en ons geloof daarin herbevestig. Kom ons verdiep ons in hierdie groot waarhede en strek onsself opnuut uit na die nuwe dag wat net Hy alleen, as die Son van geregtigheid, oor ‘n donker węreld kan laat aanbreek. Selfs nou, wanneer dit donker en mistroostig rondom ons is, is die Here Jesus deur sy Heilige Gees in ons harte teenwoordig. Sy Gees verkondig die toekomstige dinge aan ons (Joh. 16:13) en herinner ons aan Christus se belofte dat Hy vir ons ‘n woning in die hemel gaan berei het, waarheen Hy ons by sy wederkoms sal wegvoer (Joh. 14:1-3). Dit is die boodskap en belofte van die blink Môrester.

Mense is inderdaad geestelik beklaenswaardig, arm en blind as hulle berus by die beperkte seëninge wat ons tydens ons vreemdelingskap op aarde ontvang. Wat het geword van hulle visie van die onuitspreeklike heerlikheid in die hemel wat die Here aan sy getroue dissipels beloof het? Paulus het hierdie visie deurentyd behou en het geskryf van dié wonderlike dinge “wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet” (1 Kor. 2:9).

Dit is slegs wanneer ons ‘n lewe van volgehoue toewyding onder die beheer en leiding  van die Heilige Gees lei dat ons ‘n duidelike, Bybelse perspektief op die toekoms sal hę. Dit sal die lig van ons getuienis net nog helderder laat skyn onder die krom en verdraaide geslag węreldlinge saam met wie ons die lewensweg bewandel. Ons moenie veroordelend teenoor hulle staan nie, maar ook nie kompromie met hulle węreldse oriëntasie en waardes maak nie. Ons moet hulle uitnooi na die wonderlike toekoms waarheen ons op pad is deur hulle aan Christus voor te stel.

Die Here Jesus is die Messias van Israel, die Verlosser van die węreld, en die Bruidegom van sy bruid wat nog steeds onder alle nasies versamel word: “Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink Môrester. En die Gees en die bruid sę: Kom!” (Op 22:16-17). Wink jy vir die blink Môrester sodat Hy ook in jou hart kan opgaan en sy wederkoms en toekomstige seëninge aan jou verkondig? (2 Pet. 1:19).

Die Here Jesus is die enigste deur na God se koninkryk, Hy is die Koning wat daaroor sal regeer en in Hom is alle beloftes oor deelgenootskap aan dié uitnemende koninkryk ja en amen (2 Kor. 1:20). Hy is die hemelse Bruidegom wat saam met sy verheerlikte bruid oor sy koninkryk sal heers. Voordat dit kan gebeur, moet die eerste opstanding plaasvind wanneer al die regverdiges verheerlikte liggame sal kry (1 Kor. 15:51-52; 1 Thess. 4:116-17; Op. 20:6). Ons sal dan nooit weer deur sonde en ongeregtigheid aangetas kan word nie, maar sal skyn soos ligte in die Here se ewige en onverganklike koninkryk. (Dan. 12:3; Op. 21:2-7).