NG Siening oor Gays

Prof. J.S. Malan, Middelburg (Augustus 2007)

Die NG Kerk het met sy sinodale aanvaarding van ‘n Gay oriëntasie binne kerklike verband (lidmate sowel as leraars) skokgolwe deur die hele land gestuur. Hiermee word toestemming gegee dat ‘n persoon met ‘n gay oriëntasie ‘n belydende lidmaat én ‘n geordende leraar kan word. Dit beteken dat homoseksualiteit nie een van die sondes is waarvan die Here jou hoef te verlos wanneer jy gered word nie. Hiermee word daar ‘n streep deur die volgende Bybelse uitsprake getrek:

“As ‘n man met ‘n manspersoon gemeenskap het soos ‘n mens met ‘n vrou het, het hulle altwee iets gruweliks gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word” (Lev. 20:13). In die Nuwe Testament word die oordeel oor onbekeerlike sondaars nie dadelik uitgevoer nie, maar dit staan steeds vas.

“Hulle [het] die waarheid van God verruil vir die leuen, daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so ook het die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang” (Rom. 1:25-27).

Hierdie is een van baie sondes waarvan die Here ‘n sondaar vergewe én verlos wanneer hy of sy tot bekering kom en ‘n deelgenoot van die Here se koninkryk word: “Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God” (1 Kor. 6:10-11). Daar ís genade vir volkome verlossing.

Net so min as wat ‘n persoon in sy oriëntasie én in die praktyk ‘n afgodedienaar kan bly nadat hy tot bekering gekom het, kan gays met hulle immorele ingesteldheid en al, belydende lidmate en predikante word. Hulle móét verlos, gereinig en geheilig word. Honderde voormalige gays het in Amerika van hul volkome verlossing van hierdie onnatuurlike neigings en dade getuig, en handhaaf nou normale, heteroseksuele verhoudings.

Die Here het mense as mans of vroue gemaak, en beslis nie as gays nie. Dit is ‘n groot aanklag teen ons Skepper om te beweer dat mense só verwronge gebore word. In die genetika is daar nog nooit gay gene in enige mens gekry nie. Hierdie immorele gewoonte is deel van aangeleerde gedrag. Ons word wel almal as sondaars gebore (die erfsonde van Adam), maar nie met ‘n seksueel verwarde natuur wat indruis teen dit wat God vir mans en vrouens bedoel het nie.

Die NG Kerk probeer om hulle aanvaarding van dié gruwel te versag deur te sê dat hulle ‘n gay oriëntasie onder predikante aanvaar, maar nie gay praktyke soos gay huwelike nie. Die sondige ingesteldheid word dus aanvaar, maar daar mag net tot op ‘n sekere punt uiting daaraan gegee word. Dink net aan al die gruweldade wat heimlik gepleeg sal word – selfs ook openlik!

Wat gewone lidmate betref, word die keuse aan gemeentes oorgelaat of hulle ook gay huwelike wil erken. Hierdie kompromis-besluit is net ‘n tussenstadium na die uiteindelike volle erkenning van gay huwelike.

Die groot probleem wat die NG Kerk het, is om by die duidelike uitsprake teen ‘n gay ingesteldheid verby te kom. Paulus sê ook vir Timótheus dat sodomie met die gesonde leer van die Bybel in stryd is (1 Tim. 1:10). Om uit hierdie probleemsituasie weg te kom, word die Skrifgesag al hoe meer aangeval, soos bv. uitsprake oor Jesus se maagdelike geboorte, godheid en opstanding uit die dode. Die verbod op vroue-predikers word ook geïgnoreer. Só word God se Woord kragteloos gemaak en deur liberale, humanistiese denke vervang.

Predikers wat dít doen, erken daardeur hulle eie geestelike bankrotskap. Hulle glo nie regtig dat die Here die ou dinge kan laat verbygaan en alles nuut maak nie (2 Kor. 5:17), daarom verkondig hulle nie meer bekering en wedergeboorte nie. Dit is die rede waarom harte en lewens nie verander word en daar nie geestelike genesing van krank harte plaasvind nie.

Daar word net gesê dat die gays kerk toe moet kom omdat die Here hulle ook liefhet. Die Here het wel alle sondaars lief omdat Hy hulle wil red, maar Hy haat die sonde. Sondaars wat sy liefde en reddende genade versmaai deur nie hulle sonde te bely en verlossing daarvan te soek nie, verkeer onder die oordele van God. “Die siel wat sondig, moet sterwe” (Eseg. 18:4).

Dit is goed om gays en ander sondaars kerk toe te nooi, sodat hulle hul sondes kan bely en laat staan (Spr. 18:13). Wanneer hulle sonde egter oorgesien en as ‘n siekte of oorgeërfde neiging beskou word, en hulle word net so ongered as lidmate aangeneem en as predikante opgelei, dan word daar van die kerk ‘n rowerspelonk gemaak. Ons lees van die vroeë Christelike kerk: “Die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is” (Hand. 2:47). Vandag word baie mense in hulle ongeredde, sondige toestand bygevoeg.

Die Here Jesus het gewaarsku dat die eindtyd weer soos die dae van Noag en lot sal wees (Luk. 17:26-36). Dit was tye toe goddelike wraak oor verharde sondaars uitgestort is. Proff. Walvoord en Zuck (The Bible Knowledge Commentary) sê die volgende oor Gen. 19, waarin die vernietiging van Sodom en Gomorra  beskryf word: “This chapter records God’s judgement on a morally bankrupt Canaanite civilization, but it also provides a severe warning against other becoming like them.”

Die hele wêreld is besig om in die geweldskultuur van Noag se tyd te verval, asook in die uiterste immoraliteit van Sodom. Selfs in Israel, wat behoort te weet dat die verwoeste stede van Sodom en Gomorra vlak langs hulle onder die Dooie See lê, was daar onlangs groot gay optogte in al hulle groot stede. Amerika loop egter voor in die ry, en Suid-Afrika is nie ver agter hulle nie. Spoedig sal die Here sy kinders kom haal, dan sal sy oordele oor ‘n eindtydse wêreld uitgestort word wat ook in ‘n toestand van rebellie teen Hom is. Onder hulle sal miljoene misleide lidmate van baie kerke wees.

Dvd oor teologiese verval

Die kanse is baie gering dat verdere gesprekvoering oor die posisie van gays in die NG Kerk tot ‘n terugkeer na Bybelse standaarde sal lei. Hierdie besluit moet teen die agtergrond van groot en verreikeinde teologiese verval in die kerk beoordeel word. Die verval het reeds die vlak bereik dat daar onder teoloë ‘n byna algemene ontkenning van Christus se maagdelike geboorte, godheid, opstanding uit die dood en hemelvaart is. Die bestaan van die duiwel en die hel word ook toenemend ontken.

Om te besef wat die omvang van die verval is, is dit nodig dat u na die dvd, Nuwe Strominge in die Teologie kyk, wat teen R120 (posvry) bestel kan word by:

WTL Multimedia Produksies

Posbus 88

1716 Florida Hills

E-pos: sarelwtl@telkomsa.net

Sel: 082 689 7603

Daar is in Pretoria ‘n aksiegroep van NG predikante en slegs enkele teoloë gevorm om teen die nuwe strominge in die teologie beswaar te maak. Hulle sê egter in hulle heel eerste verklaring dat hulle nie fundamentaliste nie. Hulle staan dus nie onwrikbaar by al die fundamentele Bybelse waarhede nie, en het dit eintlik net teen die omvang wat die proses van verval binne die Nuwe Hervorming besig is om aan te neem. Hulle vergeestelik nog steeds groot dele van die Bybel, bv. die profesieë oor die eindtyd, en verkondig dit dus nie korrek nie.