Daar is ‘n sterk strewe by węreldleiers dat alle lande onder die gesag van ‘n enkele węreldregering verenig moet word sodat konformisme verseker en demokratiese hervormings binne die raamwerk van ‘n internasionale handves vir menseregte ingestel kan word. Hoewel die proses van internasionalisering geleidelik plaasvind, volg dit ‘n koers wat radikaal van die Bybelse beginsel van onafhanklike en selfbeskikkende volke af wegbeweeg na 'n nuwe orde waarin 'n węreldregering beheer oor alle volke sal verkry.
Die huidige internasionaliseringsbeweging is nie die eerste poging deur die gevalle mens om ‘n węreldregering te vorm waardeur hy sy eie mag op alle mense kan afdwing nie. Daar was volgens die Bybel reeds ses sulke regerings. In al ses hierdie węreldryke het die leiers hulle politieke, godsdienstige én ekonomiese mag op al hulle onderdane afgedwing en daardeur hulle vryheid van keuse heeltemal weggeneem. Dit sal ook die geval in die sewende węreldryk wees.
1. Die eerste węreldryk was die Babiloniese ryk van Nimrod met sy hoofstad, Babilon, teenaan die Eufraatrivier in die huidige Irak. Hierdie ryk het ander volke aan sy gesag onderwerp, hulle ekonomieë beheer en eenheidshervormings soos die verpligte gebruik van dieselfde taal ingestel. Babilon was ook die tuiste van valse godsdienste waar die songod, die hemelgodin en sowat 70 mindere gode vereer is.
2. Die tweede węreldryk was die Assiriese ryk wat ook in die gebied van die huidige Irak en Sirië gevestig was. Die onderwerping en onderdrukking van volke is ook hier beoefen, en afgodediens oral verpligtend gemaak. Hulle vyandskap teen die koninkryk van God blyk verder uit die feit dat hulle die tienstammeryk van Israel in die agtste eeu v.C. verower en baie lede van dié volk as ballinge na Assirië weggevoer het.
3. Die derde węreldryk was die herstelde Babiloniese ryk van Nebukadnésar. Hulle het die Assiriërs onderwerp en ook teen God se volk te velde getrek deur Jerusalem in te val, te verwoes, en duisende Jode as ballinge na Babel weg te voer. Die verpligte aanbidding van Nebukadnésar se afgodsbeeld is goed bekend, asook die feit dat persone wat sou weier om dit te doen, summiere teregstelling deur verbranding in die gesig gestaar het.
4. Die vierde węreldryk was die Medo-Persiese ryk wat die Babiloniërs oorwin en onderwerp het. In dié ryk is ‘n onbuigbare, diktatoriale regeringstelsel gevolg en deur middel van die onherroeplike wette van die Meders en Perse regeer. Vyandskap teen God se volk het na ‘n gepoogde Joodse volksmoord gelei.
5. Die vyfde węreldryk was die Griekse ryk wat diep by die aanbidding van afgode betrokke was en ook die Jode by hulle politeďsme probeer indwing het. Hulle krygsvernuf was gevrees omdat hulle vinnig en doeltreffend met hulle snelontplooiingstaakmagte toegeslaan het.
6. Die sesde węreldryk was die Romeinse ryk waarin verskeie keisers hulleself openlik vergoddelik en die aanbidding van mense geëis het. Keiser Nero het besluit om die volk Israel uit te wis en het vir dié doel ‘n groot taakmag na Israel gestuur. Hierdie taak is eers ná Nero se dood uitgevoer toe Jerusalem in die jaar 70 n.C. verwoes, meer as ‘n miljoen Jode om die lewe gebring en duisende as krygsgevangenes weggevoer is.
7. Die sewende węreldryk sal die eindtydse ryk van die Antichris wees, wat sewe jaar lank oor die węreld sal regeer. Hy sal al die slegste eienskappe van die vorige węreldryke in sy ryk laat herleef; hy sal ‘n militęre diktatuur instel, homself vergoddelik, mense laat teregstel wat sou weier om hom of sy beeld te aanbid, en ook ‘n Joodse volksmoord gelas wanneer Israel hulle verbond met hom verbreek.
Waarheen gaan hierdie vorm van godsdienseenheid lei? Na die verpligte aanbidding van die Antichris as God. Dit sal die eindproduk wees van die tyd van groot geestelike verval en kompromie waarin ons nou is. Paulus sę: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:3-4). Hierna sal alle mense verplig word om hom as God te aanbid, en dit net ten koste van hulle eie lewe kan weier. Openbaring 13:5 sę dat almal wat weier om die dier se beeld te aanbid, gedood sal word.
Diegene wat wél die Antichris en sy beeld aanbid, sal deur die Here tot die ewige poel van vuur veroordeel word: Hulle sal “gepynig word met vuur en swawel... hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang” (Op. 14:10-11). Dit is die afskrikwekkende eindpunt van die huidige ideologie van godsdiensgelykheid wat die fondament van die antichristelike nuwe węreldorde is.
Die verskyning en węreldwye aanbidding van die Antichris gaan volgens die Bybel beslis gebeur. Is daar dan enige sin in om dit te weerstaan of te probeer keer? Beslis! Ons is by ‘n toenemende stryd tussen die koninkryk van die lig en die koninkryk van die duisternis betrokke:
· Dit is ‘n godsdienstige stryd waarin die duiwel ons probeer vervreem van die aanbidding van die ware Christus en van die suiwer verkondiging van sy Woord. In die plek hiervan moet ons alle godsdienste gelykwaardig erken en uiteindelik daartoe oorgaan om die god van alle gelowe te aanbid. Paulus noem hom die god van hierdie węreld wat die sinne van mense verblind sodat die verligting van die evangelie van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie (2 Kor. 4:4). Sy christus vir alle gelowe sal die Antichris wees.
· Ons is ook by ‘n ideologiese stryd betrokke waarin Bybelse moraliteit en ‘n Christelike lewens- en węreldbeskouing teen ‘n humanistiese, antichristelike lewens- en węreldbeskouing verdedig moet word. In hierdie stryd gaan dit om die behoud van Christelike waardes in die gesin en die samelewing, asook Christelike onderwys vir ons kinders. Dit gaan ook oor die propagering van ‘n Christelike regeringstelsel, asook ‘n Christelike regstelsel waarin gepaste strawwe aan misdadigers opgelę word, insluitende die doodstraf vir moordenaars, gewapende rowers en verkragters.
Die evangeliese Christendom is egter ‘n klein minderheid – nóg kleiner as wat ons in ‘n stadium gedink het dat ons is. Ons het nie die vermoë om landsbeleid te bepaal en die afdraande-koers na die duiwel se multigodsdienstige nuwe węreldorde te stuit nie. Ons moet egter sorg dat ons in ons eie lewe onbeweeglik op die Rots, Jesus Christus, geanker bly. Ons moenie met die meerderheid kompromie maak en saam met hulle die stroom afdryf nie. Ons moet by ons geloofsoortuigings en die Woord van die Here bly, al raak dit ook hoe onpopulęr en onaanvaarbaar in die vervallende, eindtydse samelewing wat besig is om die knie voor Baäl te buig. Die Here Jesus sę vir sy getroue dissipels: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Op. 2:25-26).
Die stryd sal nóg hewiger raak en die ideologiese en geestelike aanslag op die evangeliese Christendom nóg groter. Indien ons egter tot die einde toe teëhouers teen die opmars van die Antichris bly, en waak en bid sodat ons onder uiters moeilike omstandighede getrou aan die Here Jesus bly, sal ons waardig wees om die komende verdrukking te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan (Luk. 21:36).
Ná die sewe jaar lange verdrukking sal ons saam met Christus terugkom aarde en in sy groot oorwinning deel wanneer die duiwelse driemanskap geoordeel en van al hulle mag gestroop sal word: “En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand... En... ‘n engel uit die hemel... het die draak gegryp – die ou slang wat die duiwel en Satan is – en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie” (Op. 19:20; 20:1-3).
Hierna sal ons saam met Jesus Christus vir ‘n duisend jaar oor die aarde regeer, met Jerusalem as die hoofstad van ‘n Christelike nuwe węreldorde. Omdat die duiwel gebind sal wees sodat hy die nasies nie kan verlei nie, sal daar vrede op aarde heers. Jeremia sę: “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17).
Is dit nie oor en oor die moeite werd om in hierdie moeilike tye getrou aan die Here Jesus te bly, sodat ons mede-erfgename van sy ewige koninkryk kan wees en eendag saam met Hom daarin regeer nie? As ons saam met Hom ly, sal ons ook saam met Hom verheerlik word en saam met Hom regeer (Rom. 8:17; 2 Tim. 2:12). Is jy bereid om vir Christus te ly? Paulus sę dat dit ter wille van Christus genadiglik aan ons gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly (Fil. 1:29).
Baie mense begryp nie dat die beloftes oor die openbaring van Christus se koninkryk eers ná sy wederkoms vervul sal word nie. Hulle eis daardie seëninge nou op en verwag groot herlewings waarin die koninkryk nog voor Christus se wederkoms deur middel van groot profete en apostels geopenbaar gaan word. Al die Christene moet volgens hulle ryk en voorspoedig wees, glad nie siek wees of ly nie, maar hulle moet invloedryke mense wees wat oor die aarde regeer en ook na willekeur groot wonderwerke kan doen. Hulle meen dat hulle selfs die mag het om Satan van die planeet aarde af te verdryf. In die proses raak hulle só behep met tekens en wonders dat hulle in werklikheid ‘n ander Jesus begin verkondig – die een wat jou bemagtig om wonderwerke te kan doen. Hierdeur mislei hulle mense, want die Here Jesus het self gesę: “Daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Matt. 24:24).
Ons is nou in die tyd van die groot afval, waarin ons net moet hou wat ons het totdat Christus kom. Omdat ons in ‘n verskerpende stryd teen bose magte is, moet ons die volle wapenrusting van God aantrek sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel. Een van die listige strategieë wat hy in hierdie tyd gebruik, is om alle mense ten gunste van intergeloofsdenke te beďnvloed sodat hulle van die ware Christus afvallig kan word en wegbereiders vir die kosmiese christus van alle gelowe kan word.
Vir diegene wat getrou bly tot die einde, sal die Here Jesus sę: “Omdat jy my Woord bewaar en my Naam nie verloën het nie, sal Ek jou ook bewaar uit die uur van beproewing wat oor die hele węreld kom” (Op. 3:8-11). Laat ons volhard want die oorwinning sal heerlik wees!
In hierdie tyd van groot afvalligheid moet ons opnuut die Here Jesus in sy uniekheid, godheid en heerlikheid bely:
· Ek glo dat Jesus deur die Heilige Gees in die maagd Maria verwek is (Matt. 1:20) en dat Hy daarom die Seun van God is. Die engel Gabriël het vir Maria gesę dat die Kind wat gebore sou word, groot sou wees en die Seun van die Allerhoogste genoem sou word (Luk. 1:32). Tydens sy geboorte uit die geslag van Dawid het Hy net vir ‘n tyd sy hemelse heerlikheid afgelę maar nie van sy essensiële godheid afstand gedoen nie.
· Ek glo dat Jesus Here en God is. Johannes sę: “Hy is die waaragtige God en die ewige lewe” (1 Joh. 5:20). Paulus sę: “Hy is die grote God en ons Verlosser (Tit. 2:13), en Thomas het in verwondering uitgeroep: “My Here en my God” (Joh. 20:28).
· Ek glo dat Jesus ‘n ewige selfbestaan as God het. Toe Hy as mens gebore is, het Hy net tydelik Homself ontledig en die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem (Fil. 2:7). As God bestaan Hy van alle ewigheid af, daarom kon Hy sę: “Voordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:58). Hy is die ewige EK IS (Ex. 3:14), wat ook vir die Jode gesę het: “As julle nie glo dat dit Ek Is nie, sal julle in jul sondes sterwe” (Joh. 8:24).
· Ek glo dat Jesus een met die Vader en die Heilige Gees is. Hy het self gesę: “Ek en die Vader is een” (Joh. 10:30). Johannes het gesę: “Daar is drie wat getuig in die hemel: Die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een” (1 Joh. 5:7). Ek glo dat Jesus die Woord is wat beide God én mens is. “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God... En die Woord het vlees geword en onder ons gewoon” (Joh. 1:1,14).
· Ek glo dat Jesus die skepper van die węreld is: “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Joh. 1:3). Paulus sę: “Hy is die Beeld van die onsienlike God... want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op aarde is... Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand” (Kol. 1:15-17).
· Ek glo dat Jesus ook die herskepper is omdat Hy verlore sondaars wat Hom as Verlosser aanneem, geestelik lewend maak deur hulle te wederbaar. Ons is lewend vir God deur Christus Jesus, onse Here (Rom. 6:11). By sy koms vir die gemeente sal Hy ook aan alle gelowiges onverganklike opstandingsliggame gee (1 Kor. 15:22; Fil. 3:20-21). Ná die eindoordeel sal Hy ook ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep, daarom sę Hy: “Kyk, Ek maak alle dinge nuut” (Op. 21:5).
· Ek glo dat Jesus se offer aan die kruis ‘n losprys vir die sondes van die hele mensdom was, en dat dit die enigste moontlikheid tot versoening met God bied (Joh. 1:29; Ef. 1:7). Die saligheid is in niemand anders nie, want daar is geen ander naam onder die hemel gegee waardeur ons gered moet word nie (Hand. 4:12). Ek glo ook dat Jesus Christus ná sy kruisdood uit die dode opgestaan en na die hemel opgevaar het om vir ons in te tree en vir ons plek te gaan berei (Joh. 14:2-3; Heb. 7:25).
· Ek glo dat Jesus Christus weer kom om ons te kom haal en die ewige heerlikheid van sy koninkryk deelagtig te maak. Dan sal ons by die bruilofsmaal van die Lam saam met Hom Nagmaal hou om opnuut sy kruisdood in herinnering te roep en lof en eer aan Hom te gee omdat Hy ons siele uit genade gered het. Die ouderlinge sal die Lam in diepe erkentlikheid vir sy versoeningswerk aan die kruis toesing: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:9-10). As ons nou saam met Christus die kruisweg bewandel deur onsself te verloën, ons kruis op te neem en Hom in ‘n vyandige węreld te volg, sal ons eendag in sy ryk saam met Hom regeer.
Indien ons sou nalaat om die Here Jesus só te ken en te bely, loop ons gevaar om van Hom net een van baie messiasse van menslike oorsprong te maak, van sy godheid te stroop, die betekenis van sy kruisdood af te maak, en dan verder mislei te word om ‘n valse christus in sy plek te aanvaar. Hy het vir die Jode gesę: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43). In die nuwe węreldorde waarin alle gelowe gelykgestel word, word die godheid en unieke posisie van die Here Jesus inderdaad ontken. Hy word met Boeddha, Krishna en ander nie-Christelike messiasse gelykgestel, en dit baan die weg vir die Antichris om ook in die naam van Christus te kom en homself as die christus van alle gelowe voor te doen. Ons sal hierdie tydsgees van kompromie, wat ook sterk in Suid-Afrika aan die werk is, moet teëstaan as ons aan die ware Christus getrou wil bly. Hy het belowe dat Hy diegene wat die opmars van die Antichris teëstaan, sal wegneem van die węreld af, “en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thess. 2:8-12).
Baie mense het al die krag van die dwaling ontvang om Satan se leuens te glo omdat hulle die kennis van die waarheid in hulle lewe verwerp het. Daardeur het hulle aan die god van hierdie węreld, Satan, die geleentheid gegee om hulle sinne te verblind, “sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Kor. 4:4). Wanneer Jesus Christus die ware kerk weggeneem het, sal die ongelowige węreld in verwondering agter die universele messias van alle gelowe aangaan en ook bereid wees om Hom as God te aanbid (2 Thess. 2:4; Op. 13:3-4). Dan sal Satan se multigodsdienstige nuwe węreldorde ten volle geopenbaar wees.