Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Desember 2011)
Die Here Jesus het na die lang tydperk van Jerusalem se oorheersing deur nie-Joodse nasies verwys toe Hy kort voor sy verwerping en kruisiging deur Israel, gesę het die Joodse volk sal “deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Dit is belangrik om die begrip “die tye van die nasies” reg te verstaan, want die beëindiging van hierdie tydperk gaan deur ᾿n dramatiese ingryping van Christus meegebring word, wat die herstel van die troon van Dawid en die koninkryk van Israel insluit.
Eerstens moet die term “nasies” wat gebruik word, gedefinieer word. Die Bybel tref ᾿n duidelike onderskeid tussen Israel en die nie-Joodse volke. Hierdie volke word in Hebreeus beskryf as goyim (ekv. goy) en in Grieks as ethne (ekv. ethnos). Dit beteken “etniese groepe”, “volke” of “nasies”, asook “heidene”, omdat alle volke buite Israel in Ou Testamentiese tye heidene was wat nie die ware God van Israel geken het nie en as gevolg daarvan vyandig teenoor Israel was.
Die Here Jesus kondig nie deur die profesie in Lukas 21:24 die begin van die tye van die nasies aan nie, maar wel die verdere voortsetting en beëindiging daarvan. Die begin van Israel se oorheersing deur heidense nasies was tydens die Babiloniese ballingskap van Juda, en duur nog steeds voort. In die tyd van Christus se aardse bediening was Israel aan die Romeinse Ryk onderdanig, daarom het ᾿n heidense Romeinse goewerneur in Jerusalem die gesag gevoer.
In sy Reference Bible (bl. 1345) sę C.I. Scofield: “Die tye van die nasies is daardie lang tydperk wat begin het met die Babiloniese ballingskap van Juda tydens Nebukadnésar se bewind, en wat beëindig sal word deur die vernietiging van die nasies se politieke mag oor die węreld deur die wederkoms van die Here Jesus in heerlikheid (Op. 19:11-21). Dit sal volgens Daniël gebeur wanneer ᾿n klip sonder die toedoen van mensehande sal losraak en die beeld van aardse regerings sal tref en vernietig (Dan. 2:34-35, 44). Totdat daardie tyd aanbreek, sal Jerusalem polities aan die oorheersing deur die nasies onderhewig wees (Luk. 21:24).”
Dwight Pentecost stem saam met hierdie stelling: “Met die inval van Nebukadnésar het ᾿n belangrike profetiese tydperk aangebreek, nl. die tye van die nasies (Luk. 21:24). Die tye van die nasies is daardie lang tydperk waarin die land wat God in ᾿n verbond aan Abraham en sy afstammelinge gegee het, deur heidense magte beset word, en waarin daar op die troon van Dawid geen regmatige opvolger in die Dawidiese lyn is nie. Die tye van die nasies wat met Nebukadnésar se inname van Jerusalem in 605 v.C. begin het, sal voortduur totdat die Messias terugkeer. Christus sal dan die nasies onderwerp, die land Israel van heidense oorheersing bevry, die volk Israel geestelik herstel deur ᾿n nuwe verbond met hulle te sluit en daardeur die seëninge van sy millennium-koninkryk aan hulle verleen” (Daniel, In: Bible Knowledge Commentary, bl. 1329; reds. John Walvoord & Roy Zuck).
Die gebeurtenisse wat in Daniël 1 beskryf word, is die begin van Israel se Babiloniese ballingskap en derhalwe ᾿n belangrike keerpunt in die geskiedenis van Israel as die onafhanklike verbondsvolk van God in hulle eie land met Jerusalem as hulle hoofstad. Hier begin die tye van die nie-Joodse nasies, waarin heidense koninkryke oor Israel heers, heidense kulturele en godsdienstige gebruike op hulle afgedwing word, en waarin tyd volgens nie-Joodse kalenders, dikwels in terme van die regeringstermyne van heidense konings, bereken word.
Ná die val van Jerusalem en die beëindiging van Israel se koninklike dinastie sou die koningshuis van Dawid nie meer die verteenwoordiger van God se koninkryk op aarde wees nie en sou heidense konings die septer in die Midde-Ooste én die res van die węreld swaai. Selfs ná Israel se herstel uit die Babiloniese ballingskap was hulle aan die oorhoofse gesag van heidense węreldryke onderworpe, terwyl die tye van die nasies sy verdere loop geneem het. In die hele Nuwe Testamentiese tydperk is Jerusalem deur die nasies vertrap (Luk. 21:24).
God se koninkryk sal eers weer as ᾿n sigbare werklikheid op aarde gesien kan word wanneer Israel en Jerusalem ten volle herstel is en Jesus Christus op die troon van Dawid regeer. Voor die geboorte van Jesus het die engel aan Maria gesę dat haar Seun “groot sal wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:32). Tydens sy eerste koms was Jesus die lydende Messias wat sy lewe vir die sondes van die hele węreld afgelę het, maar met sy wederkoms sal Hy as Koning kom wat ook die vervalle troon van Dawid sal herstel (Hand. 15:16-17).
Alle pogings deur koninkryksteoloë om God se koninkryk sonder ᾿n ten volle herstelde Israel en Jerusalem sigbaar op aarde te manifesteer, is misleidend en onbybels, en kan net deur die Antichris gebruik word om ᾿n humanistiese en multigodsdienstige koninkryk op aarde te vestig waarin Israel glad nie die leidende rol speel nie. Die ware kinders van God is steeds vreemdelinge en bywoners in ᾿n węreld wat in die mag van die Bose lę. Die doel met die evangelie is om mense uit “die teenwoordige bose węreld” te red (Gal. 1:4), en nie om van die hele węreld ᾿n Christelike węreld te maak en sodoende sigbare gestalte aan God se koninkryk te probeer gee nie. Dit sal eers gebeur wanneer die Koning kom, want Hy alleen kan die troon van Dawid in Jerusalem herstel.
Ons leef in ᾿n baie belangrike tyd van die węreldgeskiedenis, waarin Jerusalem en Israel toenemend in afwagting op die koms van die Koning herstel word. Jerusalem is in Junie 1967 ten volle uit Jordaniese beheer bevry en in Augustus 1980 tot Israel se ewige en onverdeelbare hoofstad verklaar. Sedert Augustus 1980 het Jerusalem vir die eerste keer weer die status geniet wat dit voor die Babiloniese ballingskap gehad het – die hoofstad van ᾿n onafhanklike Israel, maar nog steeds sonder ᾿n koning. Sedert die Babiloniese ballingskap was daar nooit weer ᾿n opvolger van Dawid op die koninklike troon in Jerusalem nie, en sal daar ook nie een wees voordat die Messias weer kom nie. Dit is veral op die godsdienstige terrein duidelik dat die vertrapping van Jerusalem nog steeds voortduur omdat die Tempelberg beheer en vertrap word deur heidense volke wat hulle valse gode in die hart van Jerusalem aanbid. Hierdie situasie sal slegs verander wanneer Israel se Messias-Koning kom, want Hy sal die politieke magte van die nie-Jode vernietig (Op. 19:19-20) en ook “die name van die afgode uit die land uitroei, sodat aan hulle nie meer gedink sal word nie” (Sag. 13:2).
Ons nader nou die oomblik wanneer Dawid se troon herstel sal word en Jerusalem nog veel meer as in die glorieryke dae van Dawid en Salomo die middelpunt van węreldgebeure sal wees. ᾿n Voorvereiste hiervoor is dat dit wat geestelik met Israel verkeerd gegaan het, eers reggestel moet word. Die volk moet hulle bekeer deur die Messias as Verlosser aan te neem sodat die Here aan hulle nuwe harte kan gee (Eseg. 36:24-28). Omdat Israel as volk steeds weier om die Here Jesus as Messias te erken, gaan die gedeeltelik herstelde Jerusalem in die komende verdrukking weer aan heidense beheer oorgegee word. Dit sal soortgelyk aan die Babiloniese ballingskap van Israel wees – hoewel korter maar in ’n baie erger graad.
Jesus het Israel gewaarsku dat Israel ᾿n valse messias sou aanvaar (Joh. 5:43), dat hierdie misleier die tempel in Jerusalem sal ontheilig (Matt. 24:15), en dat Jerusalem deur sy vyande ingeneem en byna deur hulle verwoes sal word (Sag. 14:2). Baie Jode sal weer eens vir oorlewing uit die stad moet vlug (Matt. 24:15-21). Aan die einde van die verdrukking sal Jesus as Messias skielik op die Olyfberg neerdaal, die oorblyfsel van Israel red, die vyandelike magte verdelg en sy koninkryk in Jerusalem vestig (Sag. 14:4-9).
Eers op daardie tydstip sal die tye van die nasies verby wees en Israel in sy posisie as hoof van die nasies herstel word. Tye van verkwikking sal dan vir hulle aanbreek voor die aangesig van die Here (Hand. 3:19).
Israel het van die begin af die roeping gehad om God se geheiligde verteenwoordigers op aarde te wees (Deut. 26:18-19). Indien hulle aan hierdie roeping getrou sou wees, sou God hulle die leidende nasie in die węreld maak: “As jy dan goed luister na die stem van die Here jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die Here jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde. ... En al die volke van die aarde sal sien dat die Naam van die Here oor jou uitgeroep is, en hulle sal vir jou vrees. ... En die Here sal jou die kop en nie die stert maak nie, en jy sal net boontoe en nie ondertoe gaan nie as jy luister na die gebooie van die Here jou God” (Deut. 28:1, 10, 13).
Die teendeel is egter ook waar: indien Israel nie hulle roeping vervul nie en na die vlak van die heidense volke en hulle afgodediens daal, sal groot ellendes oor hulle kom: “Maar as jy nie luister na die stem van die Here jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal. ... Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim; en jy sal laer en laer afsak. ... En hulle sal jou in benoudheid bring in al jou poorte totdat jou hoë en versterkte mure val waarop jy in jou hele land vertrou het; ja, hulle sal jou in benoudheid bring in al jou poorte in jou hele land wat die Here jou God jou gegee het. ... En die Here sal jou verstrooi onder al die volke, van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde; en daar sal jy ander gode, hout en klip, dien, wat jy en jou vaders nie geken het nie” (Deut. 28:15, 43, 52, 64).
Israel het sy koningshuis tydens die Babiloniese ballingskap verloor, en daarmee saam ook sy onafhanklike bestaan in die land Israel. Selfs nadat hulle sewentig jaar later in hulle land herstel is, is hulle koningshuis nie herstel nie en was hulle steeds aan die oppergesag van heidense volke onderhorig. Tydens die eerste koms van die Messias, wat die enigste regmatige opvolger van die koningskap van Dawid is, het Israel weens hulle ongeloof hulle kanse verbeur om geestelik en polities volkome herstel te word as die onafhanklike en leidende volk van God in die węreld. Inteendeel, nog erger dinge as die Babiloniese ballingskap van sewentig jaar sou oor hulle kom, want hulle sou oorgegee word aan internasionale verstrooiing wat byna tweeduisend jaar lank sou duur.
Die Messias het gesę dat Jerusalem verwoes sou word (Matt. 23:37-38; Luk. 19:41-44), en bygevoeg dat die stad deur leërs omsingel sou word, dat die inwoners sou val deur die skerpte van die swaard, en dat Jerusalem deur die nasies vertrap sou word totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:20-24).
Net so duidelik as wat die profesieë oor Israel se verstrooiing en die verdere verloop van die tye van die nasies is, is ook die talle profesieë oor Israel se eindtydse herstel en die beëindiging van die periode van nie-Joodse oorheersing. Dit kan egter slegs aanbreek wanneer die Messias wat tweeduisend jaar gelede deur Israel verwerp is, terugkeer en die hele oorblyfsel van die volk met Hom versoen word. Hy het dit self in die vooruitsig gestel toe Hy sy hemelvaart en die eerste eeu se verwoesting van Jerusalem aangekondig het: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sę: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39).
Sy wederkoms sal na die nasionale versoening tussen Israel en die Messias lei: “Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ᾿n mens rouklaag oor ᾿n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ᾿n mens bitterlik ween oor ᾿n eersgebore kind. ... In dié dag sal daar ᾿n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid” (Sag. 12:10; 13;1; vgl. Eseg. 36:22-28).
Wanneer dit gebeur, sal die tye van die nasies formeel verby wees en die hele węreld deur Christus regeer word vanaf die herstelde troon van Dawid uit Jerusalem (Hand. 15:16-17). Die geestelik herstelde Israel sal vir die hele węreld tot seën wees (Rom. 11:12, 26) en hulle sal die węreld vol vrugte maak vir die koninkryk van die Messias (Jes. 27:6).
Die Bybel ondersteun glad nie die vervangingsteologie wat so algemeen verkondig word nie, want dit berus op die veronderstelling dat God sy verbond met Israel verbreek het weens hulle sondes, en dat die kerk hulle daarna vervang het as die “geestelike Israel” van die Nuwe Testament. Hierdie teologiese uitgangspunt is totaal in botsing met die Bybel, want God se verbond met die fisiese nasate van Abraham, Isak en Jakob is onvernietigbaar:
“Maar ook dan, as hulle in die land van hul vyande is, verwerp Ek hulle nie en het Ek van hulle geen afsku, sodat Ek ᾿n einde aan hulle sou maak en my verbond met hulle sou verbreek nie; want Ek is die Here hulle God. Maar Ek sal tot hulle beswil dink aan die verbond van die voorvaders wat Ek uit Egipteland voor die oë van die nasies uitgelei het om vir hulle ᾿n God te wees. Ek is die Here” (Lev. 26:44-45).
Die beloftes van die Here oor Israel staan vas: “Ek sal julle bymekaarmaak uit die volke en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, en Ek sal aan julle die land Israel gee” (Eseg. 11:17). Israel word egter in ᾿n ongeredde toestand herstel, daarom wag daar ook in hulle land vir hulle ᾿n tyd van benoudheid en geestelike loutering wat op die groot verdrukking sal uitloop (Eseg. 22:18-22; Jer. 30:7). Die oorblyfsel uit die tyd van benoudheid sal geestelik herstel word op die dag van die Messias se wederkoms (Sag. 13:8-9).
Daarna sal Israel aan die doel beantwoord waarvoor die Here hulle aanvanklik geroep het. Almal van hulle sal die Messias van harte dien en daar sal geen afvalliges meer onder hulle wees nie (Jer. 31:31-34). Al die nie-Jode sal hulle guns soek en hulle dien (Sag. 8:23). “Want die nasie en die koninkryk wat jou nie sal dien nie, sal ondergaan, en dié nasies sal sekerlik verwoes word. ... En die seuns van hulle wat jou verdruk het, sal gebukkend na jou toe trek; en almal wat jou verag het, sal hulle neerbuig by jou voetsole; en hulle sal jou noem: Stad van die Here, Sion van die Heilige van Israel” (Jes. 60:12, 14).
Gedurende die tye van die nasies bied die Here in sy genade vir al die volke en nasies van die węreld die geleentheid om in die koninkryk van die hemel in te kom deur Jesus Christus as Verlosser te aanvaar. In hierdie hele tyd sou ongehoorsame Israel in ᾿n verstrooide toestand wees en hulle stad Jerusalem vertrap word deur die nasies. Individuele Jode kon egter nog altyd gered word, maar weens hulle minderheidsposisie sou dit nie die lotgevalle van die hele volk verander nie. Die gedeeltelike geestelike verharding van die volk sou voortduur “totdat die volheid van die heidene ingegaan het” (Rom. 11:25).
Die grootste deel van die oes onder die heidene sal tydens die wegraping ingesamel word, omdat Christene nie vir God se oordele oor die ongelowiges bestem is nie (Luk. 21:36; 1 Thess. 1:10). Tydens die daaropvolgende verdrukking sal daar egter ook ᾿n groot aantal persone uit alle nasies (ook uit Israel) gered word (Op. 7:1-17), en dan eers sal Jesus Christus as die Koning van die konings kom om die koninkryke van alle nasies oor te neem (Op. 11:15; Dan. 2:34-35, 44-45).
Die huidige, gedeeltelike herstel van Israel en Jerusalem is vir ons ᾿n vaste aanduiding dat die tye van die nasies haas verby is. Eers sal die Here die nasies oordeel wat die reddende genade van sy Seun verwerp het, en daarna sy vrederyk instel vir die oorblyfsel van Israel en die nasies wat die oordele oorleef het en almal met Hom versoen sal word (Matt. 24:29-30).
“En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sag. 14:9).