Prof. Johan Malan. Universiteit van die Noorde
Daar is verskeie groepe Christene in die land wat hulleself as deel van Israel sien en as gevolg daarvan onder die Ou Testamentiese wet plaas. Hulle vier ook die sabbat op Saterdae. Neem hulle nie die ernstige waarskuwings hieroor in ag nie? “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:4). Waarom wil hulle nie Jesus Christus se opstandingsdag op ’n Sondag vier nie? Is hierdie dag van oorwinning oor die dood en die hel nie vir hulle belangrik nie? Is sy kruisiging en opstanding uit die dode nie juis vir ons die toetreepunt tot die rus (sabbat) van die Here nie? Hoe redeneer hulle nog op ’n tipies wettiese, Ou Testamentiese manier? Die Ou Testament is reeds vervul, daarom beoefen ons sy voorskrifte op hulle vervulde, Nuwe Testamentiese manier. Die hele Ou Testamentiese wet is in die Nuwe Testamentiese wet van die liefde vervul: liefde tot God en liefde tot ons naaste. Niks kan hierby gevoeg word nie, anders as net die kruisiging en opstanding van die Messias, in wie die wet vervul is. Sy liefde, wat deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort is (Rom. 5:5), plaas ons op ’n hoër vlak as die wet, omdat dit nie alleen ons uiterlike handelinge bepaal nie, maar ook ons innerlike hartsgesindhede. Hy wat die Here en sy naaste liefhet, het die hele wet én die profete vervul (Matt. 22:37-40; Gal. 5:14; Rom. 13:9-10).
Dit is totaal teenstrydig met Nuwe Testamentiese beginsels om by die liefde en reddende genade van die Here Jesus, asook die leiding deur sy Heilige Gees, nog aan skaduagtige Ou Testamentiese wette en feesdae vas te hou. Die Nuwe Testament sê uitdruklik dat die Joodse feeste en sabatte “’n skaduwee van die toekomstige dinge is; maar die liggaam behoort aan Christus” (Kol. 2:16-17). Ons leef in die tyd waarin al die Ou Testamentiese offers, feeste en wette finaal in Christus vervul is. Wanneer ons die Here Jesus waarlik ken, liefhet en dien, sou dit ’n ernstige aantasting van sy genadewerk wees as ons dit nie as genoegsaam beskou nie, maar ook nog OT wetlike voorskrifte oor bv. feesdae wil onderhou (Gal. 4: 9-10). Dan verkies ons die Ou Testamentiese skaduwee bo die Nuwe Testamentiese werklikheid, en val as gevolg daarvan in geestlike armoede.
Die ernstige wanopvatting dat lede van die nie-Joodse volke ná hulle bekering Jode of Israeliete word, moet ook aangespreek word. Volgens Romeine 11:17-24 word nie-Jode in die stam van die Olyfboom ingeënt as hulle gered word. Hulle kry dan deel aan die vettigheid van die wortel en stam van die boom – nie van sy takke (die volk Israel) nie. Dit maak van hierdie olyfboom iets veel meer as net die Joodse volk.
Die olyfboom is ’n skepping van God. Sy wortel wat in die verborge, onsigbare, geestelike sfeer werksaam is, is die Verlosser van die mensdom, Jesus Christus, wat self ook God is. Die boom wat uit die wortel groei, is ’n geslag mense wat deur God geroep is om sy koninkryk op aarde te vestig. Hulle is Abraham, Isak en Jakob; en ná Jakob in die volk Israel, die stam van Juda; en in hierdie stam die koninklike linie van Dawid, uit wie se nakomelinge die Messias na die vlees gebore is.
Volgens Openbaring 22:16 is Jesus die wortel en geslag van Dawid. As die wortel van Dawid (en van die olyfboom) is Hy die oorsprong, of Here, van Dawid. As die geslag van Dawid is Hy die Seun van Dawid wat mens geword het om Homself vir ons sondes te offer.
Aan die eerste aartsvader, Abraham, is dit duidelik gestel dat die Messias wat uit sy nageslag gebore sou word, God se koninkryk onder alle nasies sou vestig (Gen. 12:3). “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet (waardeur ons nie gered kan word nie)... sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus” (Gal 3:13-14; vgl. Jes. 49:5-6). Die opdrag tot wêreldevangelisasie het egter eers ná die koms van die Messias gekom. Voor die tyd, in OT tye, het God sy koninkryk in en deur Israel uitgebrei, sodat hulle die takke van die olyfboom geword het.
Deur die verwerping van die Messias het Israel die maat van hulle vaders se ongeloof vol gemaak (Matt. 23: 29-39). Die verwerping van die Messias, wat die wortel van die olyfboom is, het daartoe gelei dat Israel as volk (die mak takke) afgekap is en verdroog het. Takke van wilde olyfbome (die heidennasies) is in hulle plek in die stam van die olyfboom ingeënt omdat hulle die Messias as Verlosser aanvaar het.
Die inenting in die olyfboom staan in verband met geestelike lewendmaking – niks minder en niks meer nie. ’n Ongeredde Griek wat tot bekering kom, word deel van die olyfboom omdat hy dan ’n geredde Griek is. Hy word nie ’n Jood (een van die mak takke) nie. So ook is net Messiaanse Jode deel van die boom, omdat hulle in die wortel en stam (die Messias) is. Wanneer hulle weens ongeloof afgekap word, bly hulle steeds Jode – net ongelowige Jode. Die olyfboom verander dus nie iemand se etniese identiteit nie. Gelowiges uit elke volk en stam en nasie sal eendag voor die Here staan (Op. 5:9-10; 7:9) – nie as Jode of Israeliete nie.
Die mak takke van die olyfboom (die Jode) sal in die eindtyd weer in die olyfboom ingeënt word, daarom weet ons dat ’n oorblyfsel van Israel as volk gered sal word wanneer die Messias kom (Rom. 11:25-26). Nie-Joodse Christene moet dié belofte aanvaar en ongeredde Jode evangeliseer deur hulle van die Messias te vertel.
Ons opdrag is nie om soos Israel te word nie (die verdroogte mak takke van die Olyfboom) en saam met hulle ortodokse feeste en sabatte te hou waarin die Here Jesus nie erken en vereer word nie. Ons vier die godsdienstige feeste as vervulde Messiaanse feeste, met ander woorde met ’n duidelike Nuwe Testamentiese inslag, anders verloën ons Christus.
Om dus in die olyfboom ingeënt te wees, is om in Christus (die Messias) te wees. Hy is die wortel van die boom. Dit beteken hoegenaamd nie om in die volk Israel opgeneem te word en nou “die Joodse wortels van ons geloof” te ondersoek nie. Dit is nie ons opdrag nie. Die olyfboom is vir ons dieselfde as die wynstok (Christus) van Johannes 15 waarin ons as lote geënt is. Ons moet in Hóm bly, sodat ons veel vrug kan dra (Joh. 15:4).
Ons kyk slegs na die Ou Testamentiese geskiedenis, beloftes, offers en feeste omdat ons daarin heenwysings na die Lam van God en sy genadewerk sien. Ons opdrag is om die Messias beter te leer ken, sodat ons Israel jaloers kan maak oor iets wat hulle nie het nie (Rom. 11:11). Ons kan dit nie doen as ons soos hulle wil word nie.
Hoe goed ken jy die Here Jesus in al sy verskillende hoedanighede en attribute? Om Hom werklik goed te ken, moet jy, soos Paulus, eers ’n keuse maak tussen dit wat die wêreld aan jou bied en die nuwe lewe wat die Messias aan jou bied, “sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word” (Fil. 3:10). Hierna jaag ek na die volmaaktheid of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is” (Fil. 3:12). My geestelike selfverwesenliking is net in Hom.
Wanneer die Messias gekom en ’n oes vir sy koninkryk onder Israel en alle nasies ingesamel is, sal daar een olyfboom wees, soos wat daar net een kudde (Joh. 10: 16) en een liggaam (Ef. 3:6; Gal. 3:29) is. Hierin sal daar egter ’n verskeidenheid gelowiges uit alle nasies, tale en stamme op aarde wees.