Bibleguidance is ‘n interkerklike Christelike bediening wat daarop ingestel is om die basiese feite oor die evangeliese Christendom te publiseer en te bevorder. Die tydelose waarhede van die Bybel word bespreek, asook eietydse onderwerpe en tendense op die godsdienstige terrein. Baie aandag word aan die vervulling van Bybelse profesieë gewy. Omdat dit ons doel is om ‘n gesonde onderskeidingsvermoë te bevorder, streef ons daarna om ‘n duidelike onderskeid tussen ware en valse vertolkings van die Bybel te maak. Skrif word in die lig van ander skrifuitsprake vertolk. Ons hoofdoelwit is om die Here Jesus Christus te verheerlik. Wanneer Hy verhoog word, sal Hy mense na Homself toe trek.
Die redakteur en skrywer van die meeste artikels en boeke, Johan Malan, is sedert 1978 professor in antropologie aan die Universiteit van Limpopo in Suid-Afrika. As die seun van ‘n voormalige NG sendeling in Suid-Afrika en Swaziland, wyle ds. J.S. Malan, het Johan van jongs af deeglike Bybelse onderrig in die huis ontvang – ook in die letterlike, premillennialistiese vertolking van Bybelse profesieë oor die eindtyd. Hy het besef dat die vergeestelikingsteologie groot skade aan die betekenis van profesieë oor die herstel van die volk Israel, die wederkoms van Jesus Christus en die opkoms van ‘n antichristelike nuwe wêreldorde berokken. As gevolg hiervan het baie Christene nie ‘n duidelike toekomsverwagting nie, en is nie toegerus om in ‘n tyd van groot geestelike verval staande te bly nie.
Hierdie toedrag van sake het Johan ná sy bekering en wedergeboorte in 1972 gemotiveer om ‘n intensiewe studie van die Bybelse eskatologie te maak en kennis hieroor te versprei. Hy gebruik net die Bybel as feitelike en leerstellige bron, en verkondig nie ‘n bepaalde kerk se standpunte nie. Sy eerste boek oor Openbaring, Die Uur van Duisternis, is in ses tale uitgegee – Afrikaans, Engels, Portugees, Swahili, Estnies en Russies. Hy het ook twee verdere boeke oor Openbaring geskryf, wat beide aanlyn op sy webblad gepubliseer is, naamlik Die Dag van die Here (‘n kommentaar) en Openbaring vir ons tyd . Johan het ‘n tyd lank in Israel navorsing gedoen en benewens verskeie artikels in tydskrifte, ook ‘n boek oor Israel geskryf wat in vier tale verskyn het.
Die naam van sy Christelike bediening is Basuin Publikasies wat deur sy vrou, Wilma, geadministreer word. Hulle gee ‘n tweemaandelikse Christelike aktualiteitstydskrif, Die Basuin, uit. Die webmeester van Bibleguidance is ‘n vriend van die Malans, Gerald Vos. Hy en sy vrou, Helene, bly op Burgersdorp in die Oos Kaap waar hulle ook evangelisasiewerk doen. Vroeër het hulle in Israel, Mpumalanga en Mosambiek evangelisasie en welsynswerk gedoen. Inligting oor hulle uitreike kan in die Shema gedeelte van Bibleguidance verkry word.