Prof. Johan Malan, Universiteit van die Noorde
Een van God se attribute wat in ons tyd al hoe minder verkondig word, is sy toorn oor sondaars. God haat sonde en Hy sal by die groot eindoordeel alle sondaars wat geweier het om hulleself te bekeer, tot die ewige poel van vuur veroordeel.
Sondaars leef in ‘n toestand van rebellie teen God omdat hulle sy wette oortree, sy insettinge verbreek en sy waarskuwings verwerp. Hierdeur verloën hulle God se oppergesag, leef volgens hulle eie bose begeerlikhede en wek nog verder sy toorn op deur valse gode te aanbid. Die Here het aan elkeen van ons ‘n vrye wil gegee om self te besluit wie ons wil dien, want Hy wil hê dat mense Hom vrywillig sal liefhê. Van diegene wat weier om aan die waarheid gehoorsaam te wees deur hulle Skepper te dien en lief te hê, sal daar rekenskap geëis word. Hierdie mense sal agterkom dat dit “vreeslik is om te val in die hande van die lewende God” (Heb. 10:31).
Die Here het, veral in Ou Testamentiese tye, dikwels sy oordele oor groepe sondaars en boosdoeners uitgestort. Hierdeur het Hy aan dié mense en almal wat ná hulle sou leef, ‘n duidelike waarskuwing gerig dat daar ‘n baie duur prys te betaal is om God en sy gebooie te verwerp en daardeur die pad van die lewe te verlaat. Die grootste oordele kom egter direk ná die kerkbedeling, en die eindoordeel ‘n duisend jaar later ná die vrederyk. Ons lees van die volgende 14 oordele in die Bybel:
God se soewereiniteit en opperheerskappy vereis dat Hy alle mense wat sy wette en reëls verbreek en sy heilige Naam ontheilig, sal straf. Die eerste mense wat op grond van hulle vrye wil en onder die aanstigting van Satan teen God gerebelleer het, was Adam en Eva. Hulle het ‘n duur prys betaal deur van die verbode boom se vrugte te eet, want die Here het gesê: “…die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Gen. 2:17). Adam en Eva het nie net fisies sterflike mense geword nie, maar hulle het ook dadelik geestelik geterf as gevolg van die sonde. Sonde is ‘n bewuste oortreding van ‘n bekende wet van God, en die loon van die sonde is die dood (Rom. 6:23). Adam en Eva se sonde was nie, soos sommige mense dink, ‘n geringe oortreding omdat hulle slegs ‘n verbode vruggie geëet het nie. Hulle het daardeur God se gesagsposisie geminag en in die proses na ‘n ander god, die duiwel, geluister.
Daardeur is die geestelike beeld van God in Adam en Eva, wat hulle aan God verbind en aan hulle ‘n rein, goddelike natuur gegee het, vernietig. In die plek daarvan het hulle die sonde-geneigde natuur van die ander god, Satan, deelagtig geword. Dit sou deur al hulle nageslagte oorgeërf word, daarom noem ons dit die erfsonde. Adam en Eva het egter hulle gewete behou, op grond waarvan hulle tussen goed en kwaad kon onderskei. Die Here het die pad vir kommunikasie met Hom deur middel van gebed en offers oopgehou. Daardeur kon die gevalle mens sy hand na die boom van die lewe uitstrek en sodoende weer die geestelike lewe terugkry wat hulle verloor het.
Uiteindelik sou al die offers in die eenmalige offer van die Messias vervul word, wat die tweede Adam is deur wie almal wat glo, kan leef tot in ewigheid. Dit sou egter ‘n voortdurende stryd tussen die geregtigheid van die ware God en die ongeregtigheid van die god van hierdie wêreld wees. Die Here het vir Kain gesê: “Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie – die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers” (Gen. 4:7). Diegene wat volhardend die pad van die sonde verkies, en daardeur die genade van die Here versmaai, sou noodwendig sy oordele vir hulle op die hals haal.
Vroeg in die geskiedenis van die nasies het die Here deur die sondvloed ‘n einde aan ‘n bose en ongelowige geslag mense gebring. In Génesis 6 lees ons dat alle mense op aarde, met die uitsondering van slegs Noag en sy gesin, in totale immoraliteit verval het en dat al die versinsels van hulle harte altyddeur net sleg was. Hulle het ‘n gewelds- en sondekultuur gevestig. Van vers 11 af lees ons: “Die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld… En God sê vir Noag… Kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg. Maak vir jou ‘n ark van goferhout.” Hieruit is dit baie duidelik dat God se toorn net oor sondaars uitgestort word – die regverdiges word nooit saam met die sondaars geoordeel nie omdat God se toorn nie vir hulle bestem is nie.
Die oordeel van die sondvloed hou ‘n ernstige en direkte waarskuwing vir alle sondaars in, veral vir die eindtydse wêreldgemeenskap wat volgens die Here Jesus baie ooreenkomste met die sondaars in Noag se tyd sal hê. Wanneer die Seun van die mens kom, sal die oordele van God die sondaars net so skielik as in Noag se tyd oorval (Luk. 17:26-27). Die morele verdorwenheid en gewelddadigheid van die huidige geslag mense herinner sterk aan die geestelike rebellie van daardie vroeë dae in die menslike geskiedenis. Weer eens wag daar vir die sondaars verskriklike oordele, maar die ware gelowiges sal nie saam met hulle geoordeel word nie.
Die gevalle mensdom wat nie na God wou luister en sy geregtigheid nastreef nie, het onder die aanhitsing van Satan alternatiewe magsbasisse opgebou om die hele mensdom te beheer en aan die duiwel dienstig te maak. Die gevolg hiervan was die antieke Babiloniese wêreldryk van Nimrod, waarin ‘n valse godsdiens saam met absolute menslike mag verskans is. Die gevolg hiervan was dat die mens nie meer ‘n vrye keuse sou hê wie hy wou aanbid nie.
Die Here se oordeel het oor hierdie onderneming gerus, omdat dit ‘n wêreldstaat was wat sy orde van vrye en onafhanklike volke bedreig het. “En die Here sê: Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie. Kom, laat Ons neerdaal en hulle taal daar verwar… So het die Here hulle dan daarvandaan oor die hele aarde verstrooi; en hulle het opgehou om die stad te bou” (Gen. 11:6-8). Alle wêreldryke, of gepoogde wêreldryke, haal die oordele van God oor hulleself omdat hulle die grense tussen die nasies verwyder en hulle by ‘n wêreldryk inlyf waarin hulle vryheid van keuse weggeneem sal word. Die huidige nuwe wêreldorde met sy sterk ingesteldheid op ‘n VN gebaseerde wêreldregering skep ‘n magsbasis vir die komende Antichris wat, soos Nimrod van ouds, ‘n geweldenaar sal wees wat ook ‘n Babiloniese wêreldryk in opposisie teen die koninkryk van God sal opbou. Die Here sal dit ook oordeel en tot ‘n val bring wanneer Hy in die groot verdrukking sy toorn oor die rebelse nasies van die eindtyd sal uitstort.
In hierdie twee stede, asook in omliggende dorpe in die Jordaanstreek, het morele verval ook uiterste afmetings aangeneem. Aggressiewe homoseksualisme het hoogty gevier, tot só ‘n mate dat die mans selfs die engele wat Lot besoek het, wou sodomiseer. Hierdie engele het God se oordele kom aankondig, en daarop aangedring dat Lot en sy gesin gou moes vlug sodat hulle lewens gespaar kon word. Weer eens was daar ontvlugting vir die gelowiges, maar vir die sondaars was die einde vinnig en skrikwekkend. In Génesis 19:24 is die graf-opskrif van hierdie twee stede: “En die Here het swael en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën.”
Die groot sonde van hierdie mense is dat hulle hul liggame misbruik deur perverse dade te doen wat teen die mens se natuur indruis, asook teen sy Skepper wat hom nie so gemaak het nie: “Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand” (Rom. 1:26-27).
In Lukas 17:28-30 word daar ‘n parallel tussen Lot se tyd en die eindtyd aangedui: “Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot… net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word.” Die sodomiete en sondaars van ons tyd stuur net so seker op God se oordele af soos daardie verdorwe mense in antieke tye. In 1 Korinthiërs 6:10 word dit ook bevestig dat geen sodomiete die koninkryk van God sal sien nie. Trouens, die sondaars in ons tyd gaan ‘n swaarder oordeel ontvang, omdat hulle die waarskuwing van Jesus Christus en sy apostels in die Bybel verontagsaam het. Besef die moderne, goddelose stede en gemeenskappe wat ook die evangelie van Christus verwerp het, wat op hulle wag? Die Here Jesus sê: “Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir die land van Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad” (Matt. 10: 15). Daar sal vir hulle geen verontskuldiging wees nie.
Die Here het vir Abraham gesê: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word 400 jaar lank. Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees” (Gen. 15:13-14). Aan die einde van Israel se vreemdelingskap het die Here die Egiptenare deur middel van tien plae geoordeel en sy volk uitgelei. In die laaste nag toe die Here se strafgerigte aan die Egiptenaars voltrek is, moes die Israeliete skuiling neem onder die bloed van die paaslam wat aan hulle deurposte gestryk is. Die Here het vir hulle gesê: “As Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie” (Ex. 12:13). Ook hier was die volk van God nie die voorwerp van sy toorn nie, en het sy plae hulle nie getref nie.
Die oordeel oor Egipte was die bevestiging van God se belofte in Génesis 12:3 dat Hy die vyande van Israel swaar sou straf. Die Here het vir Abraham gesê: “Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek.” Dit is ‘n waarskuwing aan Israel se vyande deur die eeue heen, en veral ook nou in die eindtyd, om nie hierdie volk te probeer uitwis of hulle goddelike mandaat oor die land Israel te ontken, te verander of nietig te probeer verklaar nie. Joël sê dat die Here tydens die eindtydse herstel van Israel die nasies sal oordeel wat Israel verstrooi en hulle land verdeel het (Joël 3:1-2).
Volgens Romeine 6:23 is die straf van die sonde die dood. Dieselfde beginsel is in die Ou Testament al bevestig: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Eseg. 18:4). God se regverdigheid en die onveranderlikheid van sy Woord vereis dat Hy die sonde moet straf. Op Gólgota het Jesus Christus die straf van God vir die sonde van die hele wêreld op Homself geneem. “Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom” (Jes. 53:5). Die oomblik toe die donker wolk van die wêreld se sonde op Jesus gelê is, was Hy ook van sy Vader verlate. Hy het die doodstraf wat God oor sondaars bepaal het, ten volle uitgedien en daarna triomfantelik uit die dood opgestaan. Nou bied Hy vergifnis van sonde en ‘n nuwe lewe aan alle berouvolle sondaars wat Hom as hulle Verlosser aanneem. Die feit dat die Here Jesus die straf vir ons sonde betaal het, beteken dat ons nie in die oordeel sal kom nie: “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (Rom. 8:1; vgl. Joh. 5:24). Om dieselfde rede sal gelowiges ook die komende oordeel van die groot verdrukking ontvlug.
Israel is dikwels voor hulle internasionale ballingskap in die eerste eeu deur die profete en ook deur middel van kleiner oordele en strafmaatreëls van God gewaarsku, maar hulle het nie daarop ag geslaan nie. Die Christendom word gemaan om uit Israel se foute te leer, sodat ons nie ook die guns van die Here verbeur en die voorwerpe van sy toorn word nie. Verskeie van die kleiner oordele wat Israel getref het, word in 1 Korinthiërs 10:1-11 genoem. Die Here het die volwasse geslag wat Egipte verlaat het, weens hulle ongeloof in die woestyn laat omkom. Baie van hulle sondes word genoem. Hulle het rondom ‘n goue kalf gedans en 3 000 van hulle het in God se straf omgekom. Nog 23 000 het gesterf toe die Here Israel oor hulle hoerery en afgodediens in Moab gestraf het. By ‘n ander geleentheid het die Here giftige slange onder die volk ingestuur toe hulle teen Hom én teen Moses gemurmureer het en ook ongelukkig oor hulle omstandighede in die woestyn was.
Jerusalem en sy inwoners, wat die kern van die Joodse volk is, is in die jaar 70 n.C. deur God geoordeel omdat hulle uiteindelik ook die Messias verwerp het. In Mattheus sê Hy vir vir hulle: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak… en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat” (Matt. 23:37-38). In Lukas sê Hy: “Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie” (Luk. 19: 43-44). Swaar strawwe het op Israel se ongeloof gevolg.
Ook uit hierdie oordeel, wat na die internasionale verstrooiing van Israel gelei het, was daar ontvlugting vir die gelowiges: “En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is, Dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan… Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word” (Luk. 21:20-22). Goddelike wraak is oor Israel en hulle hoofstad uitgestort, maar voor die tyd het die Messiaanse Jode na Pella oorkant die Jordaan gevlug. Hulle het nie in die oordeel van die ongelowige Jode gekom nie.
Die eerste oordeel ná die kerkbedeling sal die regterstoel-oordeel vir die ware kerk wees. Eers daarna sal die Here die sondaars in die groot verdrukking oordeel: “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?” (1 Pet. 4:17-18).
Direk ná die wegraping gaan al die Christene voor die regterstoel van Christus verskyn. Dit gaan ‘n oordeel oor hulle werke ná bekering wees, en genadeloon sal aan die oorwinnaars toegeken word. Hier gaan dus nie ‘n véroordeling plaasvind nie, maar ‘n béoordeling. In Romeine 14:10-12 sê Paulus aan die gemeente: “Ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word… So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.” In 1 Korinthiërs 3 van vers 8 af lees ons: “Elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang… maar elkeen moet oppas hoe hy op [die fondament Jesus Christus] bou… As iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels, elkeen se werk sal aan die lig kom… hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.” Christene het ‘n ernstige opdrag om werke te doen wat by die bekering pas, sodat hulle nie eendag met leë hande voor die Here sal verskyn nie.
Die dag van die Here sal met die wegname van die gemeente en die openbaring van die Antichris begin. Ná 3½ jaar van valse vrede onder die leiding van die Antichris sal daar tydens die oorblywende 3½ jaar van sy bewind ‘n groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af nog nooit was nie en ook nooit daarna sal wees nie. Die Here Jesus het gesê dat as hierdie tyd van verdrukking nie verkort word nie, geen mens op aarde dit sou oorleef nie (Matt. 24:21-22). Dit sal, soos in die dae van Noag en Lot, ‘n tyd van goddelike wraak oor die sondaars wees. Jesaja (13:9) praat ook oor hierdie tyd: “Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ‘n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg.” Die Here voeg hierby: “En Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid” (Jes. 13:11). Dit sal dus ‘n tyd van die grootskaalse verdelging van sondaars wees wat die Drie-enige God, sy Woord en sy geregtigheid verwerp en sy volgelinge verdruk en doodgemaak het.
Ontsettende plae sal in hierdie tyd oor die aarde uitgegiet word. Die Here Jesus het gesê: “En daar sal tekens wees aan die son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom, want die kragte van die hemele sal geskud word” (Luk. 21:25-26). Mense sal in hierdie tyd van ongekende natuurrampe na die berge vlug en tot die rotse uitroep: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17). Min mense sal hierdie tyd van verskrikking oorleef (Jes. 24:5-6).
Die Antichris se huwelik met die valse wêreldgodsdienste sal in nabootsing van die verhouding tussen Jesus Christus en sy bruidsgemeente geskied. Godsdienstige Babilon, die bruid van die Antichris, gaan egter nie ‘n lang en gelukkige huwelik hê nie. Sy sal net vir 3½ jaar op die dier se rug ry, en groot voorregte en aansien in sy koninkryk geniet voordat sy afgegooi en doodgemaak sal word. Johannes beskryf haar teregstelling só: “...ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit... En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand. Want God het dit in hulle harte gegee om sy bedoeling uit te voer” (Op. 17:1,16-17).
Wanneer die Antichris homself in die middel van die verdrukking tot God verklaar, sal hy nie meer as universele messias vir ‘n alliansie van wêreldgodsdienste beskikbaar wees nie. Alle gelowe sal dan verbied en hulle aanbiddingsplekke verwoes of vir iets anders gebruik word. Die enigste opsie wat daar dán aan al die misleide aanhangers van die valse gelowe gebied sal word, sal wees om die dier as god te aanbid en voor sy beeld neer te buig. Diegene wat weier om dit te doen, sal volgens Openbaring 13:15 tereggestel word.
Die Antichris se bruid kan dus reg uit die staanspoor ‘n min dae-kalender hou waarop die dae van haar kortstondige glorie afgemerk word – 1260 dae van haar huweliksdag af tot by haar vernedering tot slawerny of openbare teregstelling. Wat ‘n duur prys is dit nie wat sy moet betaal om guns in die dier se oë te vind nie! Sy moet haar gewete verkrag, haar rug op die lewende God en sy Seun, Jesus Christus, draai, bereid wees om gruwelik misbruik te word, en boonop nog ‘n verbond met die dood sluit – dit alles vir ‘n spreekwoordelike pot lensiesop! Dit is die pad van die dood wat Esau en Judas Iskariot ook bewandel het.
Aan die einde van die groot verdrukking sal die finale ondergang van die herboude Babilon skielik aanbreek. Johannes stel dit in Openbaring 18 só:
“En ná hierdie dinge het ek ‘n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag… En hy het met ‘n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon en dit het geword ‘n woonplek van duiwels en ‘n versamelplek van allerhande onreine geeste... haar plae [sal] op een dag kom: dood en droefheid en honger; en met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel. En die konings van die aarde wat met haar gehoereer en weelderig geleef het, sal oor haar ween en oor haar weeklaag wanneer hulle die rook van haar verbranding sien, terwyl hulle ver weg staan uit vrees vir haar pyniging en sê: Wee, wee jou, o groot stad Babilon, o sterk stad, want in een uur het jou oordeel gekom! … En elke stuurman en die hele menigte op die skepe, en die matrose en almal wat die see bevaar, het ver weg gaan staan en het uitgeroep toe hulle die rook van haar verbranding sien… En een sterk engel het ‘n klip opgetel soos ‘n groot meulsteen en dit in die see gegooi en gesê: So, met ‘n vaart, sal Babilon, die groot stad, neergegooi word en nooit meer gevind word nie… want deur jou towery is al die nasies verlei. En die bloed van profete en heiliges is in haar gevind.”
Uit hierdie gedeelte is dit duidelik dat daar nie van ‘n geleidelike verval en agteruitgang van die stad oor eeue heen gepraat word nie. Die vernietiging van Babilon sal in een uur plaasvind. Soos in die geval van Sodom en Gomorra, sal dit deur vuur verteer word. Dit sal met ‘n groot aardbewing en aanhoudende donderslae en weerlig gepaard gaan, soos in Openbaring 16 beskryf: “En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ‘n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie – so ‘n geweldige groot aardbewing… En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn” (Op. 16:18-19).
Die Antichris se laaste groot teiken sal Christus self en sy hemelse leërmag op die dag van sy wederkoms wees. Hy sal besef dat Jesus se koms die einde van sy koninkryk sal beteken, daarom sal hy alles in die stryd werp om teen die ware Messias te veg. Dit sal ‘n totaal futiele poging wees, omdat Jesus die Koning van die konings is, wat alle mag in die hemel én op aarde het. Die Antichris sal deur hierdie konfrontasie sy eie ondergang sowel as dié van sy volgelinge bewerkstellig. Dit sal nie ‘n lang en hewige stryd wees nie, maar ‘n oombliklike verdelging van die vyandelike magte wat dit sal waag om teen Christus te veg. Daniël sê hierdie magtige koning wat ‘n skrikbewind op aarde gevoer het, “sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie” (Dan. 11:45).
Johannes beskryf hierdie oordeel só: "En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees" (Op. 19:19-21).
Hierdie oordeel sal ná die wederkoms van Jesus Christus plaasvind, net voor die instelling van sy duisendjarige vrederyk op aarde. Direk ná sy koms sal Hy eers met die oorblyfsel van Israel versoen word. Sagaria 12:10 sê dat die oorlewende Jode sal opsien na Hom vir wie hulle deurboor het, en bitterlik oor Hom sal ween. Die hele oorblyfsel van Israel sal dan gered word. Van dié wonderlike dag sê die Here: “Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die Here, my God!” (Sag. 13:9). Daarna sal Christus Homself tot die oorblyfsel van die nie-Joodse nasies wend en hulle as individue in twee groepe verdeel: die gereddes en ongereddes. In Mattheus 25 lees ons die volgende hieroor:
“Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei… Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom… Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringste van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen. Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele” (Matt. 25:31-41).
Die uitdrukking “hierdie broeders van My” verwys duidelik na ‘n derde groep wat nie onder die bokke en skape is nie. Die enigste moontlike groep wat dit kan wees, is die Jode, want hulle is die biologiese broers van Jesus. In die groot benoudheid en vervolging van die verdrukking sal die Jode ‘n baie moeilike tyd hê (Matt. 25:15-21), want die magte van die Antichris sal probeer om Israel heeltemal uit te wis. Lede van nie-Joodse nasies wat in hierdie tyd uit hulle pad sal gaan om Jode te help, sal daardeur te kenne gee dat hulle die Antichris se opdragte verwerp, en dat hulle deur die liefde van die ware Christus gemotiveer word om ‘n helpende hand na die voortvlugtende Jode uit te reik. Dit sal baie gevaarlik wees om hulp van hierdie aard te verleen, omdat die Antichris dit as verraad sal beskou om die Jode wat hom verwerp het, op enige manier te help en te ondersteun.
Die werke van hierdie nie-Jode sal hulle nie red nie, maar sal ‘n bewys van hulle redding wees. Hulle sal saam met Jesus Christus in sy koninkryk regeer, terwyl die verlorenes wat saam die Antichris die Jode vervolg het, veroordeel sal word.
Al die verlore siele van alle eeue sal tydens die tweede opstanding aan die einde van die duisendjarige vrederyk opgewek word om tot die ewige poel van vuur verdoem te word. Johannes sê: “Ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke…. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Op. 20:11-15).
Die boek van die lewe is die rekord van alle geredde mense. Die feit dat hierdie mense se name nie daarin verskyn nie, is ‘n bewys van hulle ongeredde toestand. Die stelling in Openbaring 20:5-6 dat hulle nie aan die eerste opstanding deel gehad het nie, is reeds ‘n konkrete aanduiding dat hulle ongered is. Hulle word verder ook nog na aanleiding van hulle sondige dade geoordeel wat in die ander boeke opgeskryf is. Johannes 5:24 sê dat die kinders van die Here die ewige lewe het en nie in die oordeel kom nie, omdat hulle oorgegaan het uit die dood in die lewe. Romeine 8:1 bevestig ook die feit dat daar geen veroordeling vir hulle is nie, daarom sal diegene wat in die vrederyk gered word, ook nie voor die groot wit troon verskyn waar net sondaars veroordeel sal word nie.
Die miljoene verlore siele gaan ‘n grusame, ewige toekoms in die brandende poel van vuur tegemoet. Hulle het God nie gevrees nie, ten spyte van die feit dat Hy die een is wat hulle liggaam én siel vir ewig in die hel kan verderwe. In daardie plek van verskrikking sal hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie (Mark. 9:44). Volgens Openbaring 14:11 wag daar nimmer-eindigende smarte op hulle omdat die rook van hulle pyniging vir ewig sal opstyg. Daniël sê dat hulle smaadheid vir ewig afgryslik sal wees (Dan. 12:2).
Dit is die gevolge van God se toorn oor die sondaars. Daar ís egter ‘n alternatief wat uit God se genade en liefde aan almal gebied word: “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Rom. 6:23). Daar is slegs twee eindbestemmings vir die mens – óf die hemel óf die hel. Die Here Jesus het gesê dat as jy nie weergebore is nie, jy die koninkryk van God nie sal sien nie (Joh. 3:3). Al wat dan vir jou oorbly is ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer (Heb. 10:27). Die keuse is joune. Ons is in die doodsnikke van die genade-bedeling waarin verlore sondaars hulle nog tot God kan bekeer. Daarna volg die oordele van God in die groot verdrukking, wanneer miljoene verharde sondaars wat hulleself aan die kant van die Antichris geskaar het, in die skrikwekkende en wêreldwye oordele van God sal sterf.