In die mistiese gelowe van die Ooste – veral Hindoeïsme, Boeddhisme en Sjintoïsme – is daar ten spyte van politeïsme en die afwesigheid van die idee van ‘n enkele skeppergod tóg ook ‘n baie sterk messiaanse verwagting. Op die leer van reïnkarnasie en vergoddeliking het daar by hulle in verskillende tye meesters van wysheid verskyn wat as groot leiers nagevolg en ná hulle dood as gode vereer is. Hulle wag op die herverskyning van só ‘n meester om die wêreld uit sy ellende te verlos deur alle mense na hoër vlakke van geestelike verligting te lei.
Hindoes glo in die eenheid van alle dinge. Hierdie totaliteit word Brahman genoem. Alle mense is deel van God. Geestelike verligting word deur goeie dade verkry, en sodoende bou ‘n mens jou karma op. Persone met ‘n goeie karma sal deur reinkarnasie later op hoër vlakke gebore word.
In Hindoeïsme is daar ‘n groot aantal gode wat aanbid word, en ook verskeie godsdiensleiers, of opgevare meesters van wysheid (avatars), wat deur reïnkarnasie verskeie lewensiklusse gehad en na ‘n hoë vlak van goddelikheid uitgestyg het. Hoewel die Hindoes nie monoteïsties is nie, is daar in hulle panteon ‘n drietal gode wat bo al die ander uitstaan – dit is Brahma, Vishnu en Siva. Brahma word as die skeppergod beskou. Vishnu word as verlosser aanbid en is tweede in rang ná Brahma. Derdens is daar Siva, wat met reproduksie en vrugbaarheid verbind word.
Een van die besondere avatars in Hindoeïsme is Krishna, wat die agtste inkarnasie van die god Vishnu was. Daar word beweer dat Jesus ‘n inkarnasie van Krishna was en ‘n baie soortgelyke lewe gelei het. Die verwagting word gekoester dat daar ‘n nuwe inkarnasie sal wees van die avatar wat in verskillende tye van die geskiedenis as Vishnu, Krishna en Jesus bekend was. Enige van hierdie name kan vir hom gebruik word, maar hy sal ook as die Kalki Avatar (die Wit Perd Avatar) bekend staan omdat hy op ‘n wit perd sal ry.
Kalki Avatar sal die finale oorwinning oor boosheid op aarde behaal en ook die apokaliptiese slang vernietig. Hy sal die mensdom vernuwe en ‘n rein, eerbare lewenswyse vir almal moontlik maak. Die verwagting van alle gelowe sal in hom vervul word, omdat hy vir alle mense die verwagte wêreldmessias sal wees.
Op die webblad van Near-Death Experiences and the Afterlife (www.near-death.com/) is ‘n artikel geplaas met die titel: Jesus as a reincarnation of Krishna. Hierin word beweer dat daar ‘n baie groot ooreenstemming tussen Jesus en Krishna is, en dit word as ‘n bewys aangevoer waarom Jesus as ‘n inkarnasie van Krishna beskou moet word. Sommige van die ooreenkomste wat in dié artikel bespreek word, is die volgende:
· Krishna is bonatuurlik in die maagd Devaki (die Heilige) verwek en as ‘n heilige inkarnasie gebore.
· Hy is gebore in ‘n tyd toe sy familie op reis was om hulle jaarlikse belasting te gaan betaal.
· Hoewel Krishna uit ‘n koninklike familie gebore is, was sy pa ‘n arm skrynwerker.
· By sy geboorte was daar engele, wyse manne en herders, en geskenke is aan hom gegee.
· Hy is deur ‘n tiran vervolg wat gevrees het dat Krishna ‘n bedreiging vir sy koninkryk sou inhou, en in ‘n aanslag op Krishna se lewe het die tiran duisende kinders laat doodmaak.
· Krishna is in die Ganges-rivier gedoop.
· Sy sending was die redding van die mensdom.
· Hy het wonderwerke gedoen, soos die opwekking van dooies en die genesing van dowes en blindes.
· Krishna het gelykenisse gebruik om die mense oor mededeelsaamheid en liefde te leer.
· Hy het ‘n eenvoudige lewenswyse gevolg en die armes liefgehad.
· Krishna is tussen twee diewe aan ‘n boom gekruisig.
· Hy het na die hel neergedaal, liggaamlik opgestaan en ten aanskoue van baie mense hemel toe opgevaar.
· Hy is die tweede persoon in die drie-eenheid en het homself “die opstanding” en “die weg na die Vader” genoem.
· Sy dissipels het aan hom die titel “Jezeus” gegee, wat “suiwer essensie” beteken.
· Krishna sal weer kom, op ‘n wit perd ry en veg teen die prins van boosheid wat die aarde sal probeer verwoes.
Dit wat die eindtydse Krishna sal doen, naamlik om Jesus na te boots en te beweer dat hy ‘n nuwe inkarnasie van Jesus is, is presies wat die Antichris sal doen. Jesus het oor die tyd kort voor sy wederkoms gesê: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! En hulle sal baie mense mislei” (Matt. 24:4-5).
Boeddha beteken Die Verligte Een. Die eerste Boeddha, Gautama (566-486 v.C.), het aangehou mediteer totdat hy geestelike verligting ontvang het. Daar word beweer dat hy ‘n soortgelyke lewe as dié van Jesus gelei het en ook in ‘n stryd met ‘n duiwelsfiguur gewikkel was. In ‘n artikel in World Religions, Vol. 2, sê dr. Young Oon Kim dat Boeddhiste in ‘n persoonlike duiwel glo, wat hulle Mara noem – die god van onheil, sonde, vernietiging en die dood. Hy beheer begeerlikheid en die dood, en dit gaan steeds voort soos wat mense hulleself deur begeerlikheid voortplant en uiteindelik as gevolg van Mara se invloed sterf. Eers verblind hy die mense deur sensuele begeerlikhede aan te blaas, en daarna vernietig hy hulle.
Boeddha en Mara het volgens tradisie verskeie ontmoetings gehad. By een geleentheid het Mara vir Boeddha aangeraai om koning oor ‘n magtige koninkryk te word waarin almal in vrede saamleef. Hy het Boeddha ook daaraan herinner dat hy die Himalajas in goud kon verander sodat almal ryk kan wees. Boeddha se antwoord hierop was dat net een mens se begeerte na rykdom só onversadigbaar is dat selfs twee sulke goue berge nie daaraan sou kon voldoen nie.
Mara kon nie vir Boeddha onderwerp nie, maar het meer sukses met sy volgelinge gehad. Hy het konflikte onder hulle geskep, ook oor Boeddha se uitsprake. Hy het homself as ‘n monnik of ‘n non vermom en só sy leuens verkondig wat tot sonde en hoogmoed gelei het. Mara kon selfs in die gedaante van Gautama Boeddha verskyn om Boeddhiste te mislei en te laat dwaal.
Mara het baie diensknegte en demone wat sy verleidingswerk doen. As gevolg van hulle werke is daar tien plae wat die huidige tydperk kenmerk, naamlik oorloë, vuur, geen vrede dag en nag nie, skeiding tussen mans en vrouens, die verstrooiing van hulle kinders, die teenwoordigheid van bose mense, doodsbeendere wat nie begrawe is nie, klere sonder iemand om dit te dra, rys sonder iemand om dit te eet, en die onvervulde verlange na ‘n jaar van vrede.
Boeddhiste kyk ook vooruit na ‘n tydperk van vrede, harmonie en voorspoed wanneer die vyfde Boeddha, dit is die Maitreya Boeddha, sal verskyn om oor die hele wêreld te heers. Vier Boeddhas het reeds verskyn, en wanneer die vyfde een kom, sal ‘n koninkryk van geregtigheid en vrede onder sy heerskappy ingestel word.
Die huidige menslike geslag sal egter aanhou om te versleg terwyl onreg, wreedheid en vleeslike begeertes toeneem en geregtigheid verdwyn. Hierdie verval sal vir 2500 jaar (sedert die tyd van die eerste Boeddha) voortduur totdat die nuwe Boeddha kom. Daarna sal daar volmaakte geregtigheid heers. In die toekomstige “goue eeu” sal daar nie moord, diefstal, owerspel, dronkenskap en armoede wees nie, en mense sal nie meer in modderhutte woon nie. Die stede sal verlig wees en daar sal baie parke en tuine wees. ‘n Toestand van hemel op aarde sal dan heers.
In die Boeddhistiese eskatologie word daar duidelik tussen Gautama en Maitreya onderskei, want hulle is nie dieselfde persoon nie. Gautama was die eerste Boeddha en Maitreya sal die vyfde Boeddha wees. Boeddha het nie aan sy volgelinge beloof om weer terug te kom nie, maar gesê dat Maitreya sal kom en veel groter sukses en aanhang as hy sal geniet. Hy sal die oorgang na die nuwe era van kosmiese geluk en wysheid inlui. Volgens Gautama Boeddha sal Maitreya die ten volle verligte een wees, vol van wysheid en kennis, ‘n volmaakte leidsman en opvoeder, ‘n leermeester oor die godewêreld, die mensewêreld, die heelal en alle lewende wesens. Hy sal die hoër lewe van reinheid en geestelike verligting in al sy volheid bekend maak, en die hoof van ‘n orde van duisende monnike wees.
In die verlede was Boeddhisme hoofsaaklik op persoonlike geluk en tevredenheid ingestel, wat bevryding van wêreldse sorge en begeertes ingesluit het. In die lig van Maitreya se koms beklemtoon Boeddhiste nou ook die waardes van ‘n regverdige en voorspoedige samelewing. In hierdie opsig vul Gautama Boeddha en Maitreya Boeddha mekaar aan. Die eerste een beklemtoon individuele volmaaktheid en die tweede een, wat nog moet kom, daag mense uit om die messiaanse era van geregtigheid en materiële oorvloed vir almal te verhaas.
Sjintoïsme is die tradisionele godsdiens van Japan, waarin verskeie natuurgode (Kami) vereer word. Die eerste twee gode, Izanagi en Izanami, het die Japannese eilande geskep. Een van hulle dogters, Amaterasu (die Songodin), is die stammoeder van Japan se koninklike familie. In die Sjinto-geloof word alle mense as kinders van Kami beskou. Die lewe is vir hulle heilig, hulle het die natuur lief en aanbid verskeie voorwerpe in die natuur.
Geloof in die inherente goddelikheid van alle mense lei daartoe dat die Sjinto-geloof aansluiting by Boeddhisme en Hindoeïsme vind. Daar word selfs pogings aangewend om dit met dié gelowe én die Christendom te assosieer en sodoende die idee van ‘n gemeenskaplike messias vir alle mense te bevorder. In ‘n boek, Messiah, the desire of all nations, sê E.A. Gordon dat die idee in Japan en Sjina posvat dat daar ‘n noue verband tussen Boeddhisme, Sjintoïsme en die Christendom is. Die skrywer kom tot die gevolgtrekking dat dié gelowe basies dieselfde is, maar net op verskillende maniere manifesteer. Almal verkondig geestelike ontwaking, selfdissipline, eenvoud van lewe, liefde en die ontwikkeling van goeie eienskappe.
Die Oosterse gelowe leen hulleself ook tot die ontwikkeling van mistiese kragte. Hierdie kragte (bv. van selfgenesing en waarsêery) is okkulties van aard en word aan sjamanisme verbind. ‘n Sjamaan is ‘n toordokter of ‘n priester in gelowe waarin okkultiese kragte gemanipuleer word. As gevolg van Sjintoïsme se mistiese filosofie, is hulle vir invloede na verskillende kante toe oop. In sy boek, The Princess of the Dragon Palace: A New Shinto Sect is Born, sê Ben-Ami Shillony onder meer:
“Die godsdienstige toneel in Japan is vol verrassings. Tydens ‘n onlangse besoek het ek die geleentheid gehad om vir ‘n paar dae by lede van ‘n nuwe Sjinto-sekte tuis te gaan. Hulle bevraagteken die geldigheid van die koninklike familie, eis die feministiese oorheersing van die samelewing, verbind Susa-no-o met Jehova, en vereer ‘n beeld van Jesus Christus in een van hulle Sjinto-tempels. Hierdie groep is in Osaka gevestig en staan onder die leiding van ‘n sjamanes, Fujita Himiko. Op 35-jarige ouderdom het sy ‘n sterk begeerte gehad om haarself aan godsdiens toe te wy en het by die sjugendo-sekte van esoteriese Boeddhisme aangesluit. Later het sy in Indië ‘n studie van Tibettaanse Boeddhisme (Lamanisme) gemaak. In Oktober 1973 het sy in ‘n Sjinto-tempel ‘n sterk mistiese ervaring gehad toe die godin Ryugu Otohime van haar liggaam besit geneem en een met haar geword het. In die proses het sy self Ryugu Otohime geword – ‘n antieke godin wat nou weer in ‘n lewende liggaam woon. Sy het daarna ‘n studie van Sjintoïsme en sjamanisme gemaak en word as die leidster van ‘n nuwe Sjinto-groep erken.”
Dit is duidelik dat die Sjinto-geloof, net soos Boeddhisme en Hindoeïsme, ‘n sterk ingesteldheid op geestelike verligting, selfvergoddeliking en geestesbesetting het. Hulle verwag almal ‘n godsdienstige leier wat hoog op die leer van goddelikheid uitgestyg het, wat die vermoë sal hê om wonderwerke te doen, die bose te oorwin en vrede en geregtigheid op aarde te laat geskied. Wanneer só ‘n persoon op die toneel verskyn, sal alle misleides op aarde hom aanneem en hulle eie messiaanse titels aan hom toeskryf.
Dit is opvallend dat die Nuwe Era Beweging, wat op die verskyning van ‘n wêreldmessias vir alle gelowe ingestel is, sterk op die Oosterse godsdienste leun om die idee van ‘n verenigde mensdom wat geestelike verligting ontvang het, te bevorder. Verskillende godsdienstige titels word aan dieselfde persoon toegeskryf.
In die Nuwe Era Beweging se intergeloofsgebed vir wêreldvrede word onder meer gesê: “May Christ return to Earth.” Sundial House verduidelik dié strofe soos volg: “Hierdie uitdrukking is ‘n triomfantelike uitroep deur alle mense op aarde dat die Wêreldleraar, die Avatar wat die volgende ontplooiing van goddelikheid op aarde sal laat plaasvind, in ons kritieke tyd moet kom. Die woord Christus dui op veel meer as die leier van die Christelike kerk. Hy is die Wêreldleraar wat ook in die Ooste as Heer Maitreya, die Bodhisattva en die Imam Mahdi bekend staan.”
Hoe word die Jesus van die Christendom aan al hierdie ander gelowe verbind? In die Aquarian Gospel of Jesus the Christ wat deur die Nuwe Era Beweging uitgegee word, word die sg. vermiste jare van Jesus tussen sy ouderdomme van 12 en 30 beskryf. Die bewering word gemaak dat Hy in hierdie tyd in Indië, Nepal, Tibet, Egipte en Griekeland was voordat Hy met sy openbare bediening in Israel begin het. Daar word verduidelik hoedat Hy in Indië ‘n studie van die Vedas (die heilige geskrifte van die Hindoes) gemaak en in Nepal in die Himalajas Homself in die Boeddhistiese geskrifte verdiep het. Hy is daar as ‘n reïnkarnasie van Boeddha beskou en het ook die titel Issa (Seun van God) gekry. In ‘n Egiptiese tempel in Heliopolis (die Stad van die Son) het Hy die amp van die Christus verwerf en was daarna vir sy bediening in Israel gereed.
Hierdie is duidelik ‘n valse Christus, wat die kosmiese Christus van alle gelowe is. Die drie oppergode in die Nuwe Era Beweging is: (1) die universele God van alle gelowe, (2) die kosmiese Christus, en (3) Lucifer. In sy boek, Reflections on the Christ, het die hoof van Planetary Citizens, David Spangler, ‘n hoofstuk met die titel, Lucifer, Christ and God ingesluit. Hierin word aan Lucifer ‘n belangrike rol in die bewussynsontwikkeling van die mens toegeskryf:
“Toe die mens die pad van selfverwesenliking ingeslaan het, het hy met ‘n kreatiewe avontuur begin… Hy kan sê dat hy die volle verantwoordelikheid aanvaar het vir wie en wat hy is. In hierdie opsig is hy vry. Lucifer is die wese wat die mens help om hierdie punt te bereik. Hy is die engel van menslike evolusie. Hy is ook die mens se innerlike lig. Lucifer is die gees van lig in die mikrokosmos. God is die gees van lig in die makrokosmos, en Christus is die brug tussen hierdie twee, wat vryheid van manifestasie aan die mens verleen.”
Lucifer is die werklike mag agter die Nuwe Era Beweging en die nie-Christelike gelowe (1 Kor. 10:19-22). Gewoonlik gebruik hy die name van ander gode om homself te verbloem, maar in hierdie laaste dae maak hy toenemend sy werklike identiteit bekend.
Die Antichris sal die gemeenskaplike, valse wêreldmessias van al die godsdienste wees. Hy sal namens alle gelowe op aarde kom om die mensdom te verenig en in harmonie te laat saamleef. Wanneer hy hierdie valse eenheid gevestig het en die hele wêreld hom hiervoor sal bewonder, sal hy tot die volgende stap oorgaan om almal te dwing om vir hom én sy vader, Lucifer, te aanbid: “En die hele wêreld het verwonderd agter die dier [die Antichris] aangegaan. En hulle het die draak [Lucifer] aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk?” (Op. 13:3-4). Saam met David Spangler en die hele Nuwe Era Beweging sal al die misleides op aarde vir Lucifer as die god van hierdie wêreld aanbid (vgl. 2 Kor. 4:4), asook vir die Antichris wat as Lucifer se spesiale gesant vir sy rol as wêreldleier bemagtig sal word (Op. 13:2).
Wat ‘n futiele oefening sal dit nie wees nie! Die verenigde mensdom sal nog sê: “Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle... en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess. 5:3). Die skrikbewind van die dier en die draak sal van korte duur wees, want wanneer die ware Christus kom, sal hulle albei verdelg word. Johannes sê:
“En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit [Christus], en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand... En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp – die ou slang wat die duiwel en Satan is – en hy het hom gebind duisend jaar lank” (Op. 19:19-20; 20:1-2).
Dit is die tragiese uiteinde van alle menslike en duiwelse pogings om buite die Bybel se Drie-enige God na ander gode te soek om die mensdom uit sy dilemma van sonde, ellende, vyandigheid, gewelddadigheid, begeerlikheid en magsbeheptheid te red deur ‘n Luciferiese nuwe wêreldorde in te stel. Daar is geen ware lewe buite die Seun van God nie (1 Joh. 5:12).