Die Laaste Twaalf Uitsprake van die Bybel

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Augustus 2011)

Die Bybel is n uiters belangrike boek omdat dit unieke inligting bevat oor God en sy koninkryk, die stryd teen die opponerende koninkryk van die duisternis, die ontstaan van die mens, sy verval in sonde, sy geestelike herstel en ewige toekoms, asook God se vernuwende werk en einddoel met sy skepping. Die Bybel begin in Génesis met n duidelike stelling oor die ontstaan van alle dinge, en dit eindig in Openbaring met die voltrekking van God se oordele oor die koninkryk van die duisternis en die skep van n nuwe hemel en aarde. Die gelowiges van alle tye sal vir ewig in die seëninge van die nuwe skepping deel.

In die laaste twaalf verse van Openbaring 22 word daar twaalf basiese stellings gemaak oor Jesus Christus, die integriteit van sy Woord, ons verhouding met Hom, die absolute sekerheid van sy wederkoms, asook die ewige straf wat op sondaars wag. In die lig van alles wat in Openbaring én in die hele Bybel gesê word, is daar sekere uiters belange sake wat in die laaste deel van die Bybel se laaste hoofstuk beklemtoon word. Dit lui só:

10.  “En hy het vir my gesê: Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie, want die tyd is naby.

11.  Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.

12.  En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.

13.  Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste.

14.  Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.

15.  Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.

16.  Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.

17.  En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.

18.  Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is.

19.  En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.

20.  Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!

21.  Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen” (Op. 22:10-21).

Die twaalf belangrike stellings in hierdie gedeelte is die volgende:

1. Verkondig die profesieë

“Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie, want die tyd is naby” (v. 10). Die boek Openbaring, en ook alle ander Bybelse profesieë, mag nie as onverstaanbare beeldspraak beskryf, vermy, en daardeur vir mense geslote gehou word nie. Onkunde oor die profetiese woord sal mense beroof van n verwysingsraamwerk om die vervulling van die tekens van die tye te verklaar, en gevolglik ook ontneem van n Bybelse toekomsverwagting. Die gevolg hiervan sal wees dat gelowiges maklik hulle uitsig op die hemel en die ewige lewe verloor, en dan al hulle aandag daaraan wy om korttermyn, aardse ideale na te jaag. Hierdie oorwegend sekulêre uitkyk op die lewe sal veroorsaak dat hulle geestelik verarm raak en nalaat om skatte in die hemel bymekaar te maak deur dinge te doen wat ewigheidswaarde het.

Verder het mense sonder n wederkomsverwagting ook nie n Bybelse perspektief op dinge wat in die wêreld gebeur nie, en weet hulle nie waarheen dit gaan lei nie. Hulle verval gevolglik maklik ulle vervalHin wanhoop wanneer dit sleg begin gaan op aarde, in plaas daarvan om te waak en te bid sodat hulle die goddelike toorn wat aan die kom is, kan ontvlug (Luk. 21:36; 1 Thess. 1:10). Daar is goeie redes waarom ons die wederkoms van Jesus Christus moet verkondig en in die lig daarvan moet leef. Dit is belangrik om te weet dat Hy ons kom haal.

2. Heiligmaking te midde van groter geestelike polarisasie

“Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word” (v. 11). Die Here verwag van almal van ons om duidelike keuses in die lewe te maak. Die eerste keuse op die pad van ons geestelike ontwaking het betrekking op n besluit om Jesus Christus as ons Verlosser aan te neem. Daarna moet ons die pad van heiligmaking bewandel en voortdurend keuses maak wat daartoe sal lei dat ons toeneem in regverdigheid en heiligheid. Volgens die Bybel gaan die meerderheid mense nie die regte keuses maak nie, en gevolglik op die pad van sonde volhard (Matt. 7:13-14; Joh. 3:19). Hierdie uiteenlopende reaksies sal na n proses van geestelike polarisasie in die wêreld lei, wat in die eindtyd groter afmetings sal aanneem namate die boosheid in intensiteit toeneem (1 Tim. 4:1; 2 Tim. 3:1-5).

In die post-moderne wêreld is daar groter druk ter wille van eenheid en konformiteit aan die heersende, humanistiese sienings. Hierdie druk word hoofsaaklik op die minderheidsgroep evangeliese Christene toegepas, sodat hulle van hul Bybelse beginsels sal afsien en by die meerderheid inval. Ongelukkig is daar Christene wat onder hierdie druk swig en in hulle liefde vir die Here Jesus verkoel wanneer die ongeregtigheid toeneem (Matt. 24:12). In plaas van om meer heilig te word, word hulle meer soos die verdorwe, materialistiese wêreld. Ons moet egter nie aan hierdie druk toegee nie, en veel eerder die proses van polarisasie as onafwendbaar beskou. Daar kan nie n versoeningsbrug tussen die smal pad en die breë pad gebou word nie.

Ons moet onthou dat, om meer regverdig en heilig te word, vereis dat ons sal toeneem in die genade en kennis van Jesus Christus (2 Pet. 3:18). Baie Christene is so besig om sekulêre belange na te jaag en in die proses in rykdom en wêreldse kennis toe te neem, dat hulle glad nie in die kennis van Christus toeneem nie. Indien hulle hierdie belangrike verpligting nalaat, sal hulle nie regtig n standpunt teenoor die verdorwe wêreld kan inneem nie, maar gaandeweg al hoe meer soos die wêreld begin word.

3. ’n Tyd van beloning en afrekening

“Kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (v. 12). Alle mense moet besef dat hulle hele lewenswandel (al die werke wat hulle gedoen het) in die hemel opgeskryf is, en dat hulle ewige toekoms in die lig daarvan bepaal sal word. Wat die regverdiges betref, is al hulle sondes wat hulle gedoen het, en wat hulle bely en laat staan het, vergewe, uitgewis en nie meer op hulle rekord nie (1 Joh. 1:9; Jer. 31:34). Die kwaliteit van hulle Christenskap sal egter bepaal word volgens die werke wat hulle ná hulle bekering gedoen het (1 Kor. 3:11-15). Werke wat nie ewigheidswaarde het nie, sal nie die vuurtoets van Christus se regterstoel-oordeeel deurstaan nie, daarom is dit moontlik dat sommige Christene as mislukte dissipels, met leë hande, voor die Here sal verskyn. Hulle het nie onder die leiding van die Heilige Gees werke gedoen wat by die bekering pas nie, omdat hulle nie heiligmaking as n saak van erns nagestreef het nie.

Wat die goddeloses betref, sal hulle ooreenkomstig hulle bose werke veroordeel en in die poel van vuur gewerp word (Op. 20:11-15). Alle sondes, ook dit wat hulle in die geheim gedoen het, sal geopenbaar word en teen hulle getuig. Hulle het nooit na die kruis gegaan waar hulle sonde vergewe en uitgewis kon word nie, daarom sal dit hulle uiteindelik na die verderf sleep.

4. Die voorrang en ewige selfbestaan van Jesus Christus

“Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste” (v. 13). Ons moet nooit die fout maak om Christus as n sterflike mens te sien wat net n beperkte aardse bestaan gehad het nie. Hy is die begin van die skepping van God, Hy onderhou dit en sal uiteindelik alles nuut maak. Paulus sê: “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele Skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemel en op die aarde is ... . Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand” (Kol. 1:15-17). Jesus Christus het n ewige selfbestaan en word nie deur die verganklikheid van die skepping geraak nie. Hy het die aarde geskape, Hy het dit uit n verwoeste toestand herskep, Hy onderhou dit steeds en sal dit eendag in n volmaakte toestand herskep.

As ons aan Christus behoort, word ons lede van sy onverganklike liggaam (1 Kor. 12:27). Ons het n duidelike opdrag om in Hom te bly (Joh. 15:4) en nooit enige fase of gedeelte van ons lewe buite Hom te bedink of te lei nie. Hy het ons uit die duisternis tot sy wonderbare lig oorgebring toe Hy ons siele gered het (1 Pet. 2:9). Daarna woon Hy in ons harte deur die Heilige Gees (Joh. 14:23). Tydens die opstanding van die regverdiges sal Hy aan ons onverganklike, nuwe liggame gee en sal ons vir altyd in sy heerlike teenwoordigheid lewe (1 Thess. 4:16-18; 1 Kor. 15:51-53).

As die Alfa en die Oméga is Jesus Christus die begin, die middelpunt en die eindbestemming van alle dinge. Hy is die bepalende norm en bring skeiding tussen dié wat vir Hom en dié wat teen Hom is (Luk. 9:50). Alles wat werklik goed is, vloei voort uit Hom en sy geregtigheid voort, terwyl alle boosheid in opposisie teen Hom is en deur Hom gestraf gaan word – dit is waarom die Bybel sê: “Die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (19:10). Die gelowiges wat in Hom is, word geseën, en buite Hom is al die ongelowiges wat geoordeel gaan word. Ons leef dus geestelik en moreel in n wêreld wat óf Christelik óf antichristelik is. Mense se val in sonde en verlorenheid, of hulle opstanding in n nuwe lewe, staan in verband met hulle verhouding teenoor Hom (vgl. Luk. 2:34). Hy is vir almal die Alfa en die Oméga, daarom sal die laaste woorde van seën of veroordeling in die menslike dispensasie uit sy mond kom.

5. Gehoorsaamheid aan sy opdragte

“Salig is die wat sy gebooie doen” (v. 14). In verskeie ander vertalings word hierdie teks soos volg vertaal: “Salig is die wat hulle klere was” (NIV, RSV, AB, NAB). Dit vind noue aansluiting by dit wat van die martelare gesê word in Openbaring 7:14: “... hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam.” Wanneer die begrip “gebooie” gebruik word, moet dit Nuwe Testamenties vertolk word met die oog daarop om God se wil ten opsigte van die Here Jesus te doen (Matt. 7:21). Dit behels onder meer om met Christus versoen te word en reiniging deur sy bloed te verkry (Ef. 1:7; 1 Pet. 1:18-19).

Hierdie vers bevat die laaste van sewe saligsprekinge in die boek Openbaring, wat almal in samehang met mekaar aanvaar moet word: “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby” (1:3). “Salig is van nou af die dode wat in Christus sterwe. ... En hulle werke volg met hulle” (14:13). “Salig is hy wat waak en sy klere bewaar” (16:15). “Salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam” (19:9). “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding (20:6). “Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar” (22:7). “Salig is die wat sy gebooie doen [wat hulle klere was]” (22:14). Hierdie saligsprekinge plaas n verpligting op ons om aan hulle eise te voldoen as ons die seën daarvan wil beërf. Almal van hulle is op ons verhouding met Christus gerig, want hierdie laaste boek van die Bybel is “Die Openbaring van Jesus Christus” (Op. 1:1).

6. Die bevestiging van die ewige verderf

“Buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen” (v. 15). Soos wat daar groot seën op die getroue dissipels van Christus wag, is daar ook groot oordele wat op die goddeloses wag. Hulle grootste sonde is dat hulle die Here Jesus as Verlosser verwerp het omdat hulle nooit die knie voor Hom gebuig het om hulle sonde teenoor Hom te bely en volle vergifnis, asook die ewige lewe, by Hom te verkry nie. Reeds van Ou Testamentiese tye af word die oordeel wat op die sondaars wag, beskryf as “groot smaadheid, vir ewig afgryslik” (Dan. 12:2).

In Openbaring 20:5 word die tweede opstanding beskryf, wat sal lei tot die sondaars se oordeel voor die groot wit troon: “En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Op. 20:15). Onder die verlorenes sal ook miljoene vormgodsdienstiges wees uit kerke wat net in naam Christelik was – hulle het slegs ’n uiterlike gedaante van godsaligheid gehad, sonder veranderde harte. Sulke mense sal tevergeefs op hulle kerklidmaatskap en “goeie lewe” aanspraak maak (Matt. 7:21-23) omdat dit, sonder wedergeboorte, niemand se siel kan red nie (vgl. Joh. 3:3). Ons moet in gebed die knie voor die Here Jesus buig, ons sonde en verlorenheid teenoor Hom bely en Hom as ons persoonlike Saligmaker aanneem – dan alleen sal ons die getuienis van die Heilige Gees in ons harte verkry dat ons kinders van God is (Rom. 8:16).

7. Jesus Christus is God én mens

“Ek is die wortel en die geslag van Dawid” (v. 16a). Ons moet Christus nie net as die biologiese Seun van Dawid sien nie – Hy is ook Dawid se Here wat van altyd af bestaan. Die ‘wortel’ van Dawid bevestig Jesus se godheid – Hy is die oorsprong of Here van Dawid! Deur die ‘geslag’ van Dawid word sy mensheid aangedui – Hy is die Seun van Dawid. Die Joodse leiers kon hierdie groot waarheid nie begryp nie, daarom het Jesus vir hulle gevra: “Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy? Hulle antwoord Hom: Dawid s’n. Hy sê vir hulle: Hoe is dit dan dat Dawid Hom in die gees Here noem? ... As Dawid Hom dan Here noem, hoe is Hy sy seun? En niemand kon Hom ’n woord antwoord nie” (Matt. 22:41-46).

Jesus Christus is die beloofde Messias wat in die huis van Dawid uit die stam van Juda gebore is, die saad van Abraham deur wie al die nasies geseën sou word (Gen. 22:18). Terselfdertyd is Hy egter die God van Abraham, Isak en Jakob, en het Hy vir die Joodse leiers gesê: “Voordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:58; Die NKJV stel dit nog duideliker: “... before Abraham was, I AM”). Paulus sê dat Christus na die vlees uit Israel gebore is, “Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid!” (Rom. 9:4-5). Hy is volmaak God én volmaak mens omdat Hy die Seun van God én die Seun van Dawid is. Die engel het vir Maria gesê: “Jy sal swanger word en n Seun baar, en moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:31-32).

8. Hy is die Blink Môrester

Die Here Jesus sê ook: “Ek is ... die blink môrester” (v. 16b). Hy is self die belofte van n helder nuwe dag wat oor hierdie donker wêreld gaan aanbreek. Petrus voeg hierby: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte” (2 Pet. 1:19). Die môrester is by uitstek die simbool van hoop – die verwagting van ’n nuwe dag wat weldra sal aanbreek. In Jesus Christus het ons ’n hoopvolle toekoms. Ons kan verby die spanning van die huidige lewe kyk na die strale van ’n helder nuwe dag wat met sy wederkoms oor hierdie donker wêreld sal aanbreek. Deur die tekens van sy koms kan ons ook in die ontwrigtende omstandighede van die huidige tyd sy naderende voetstappe herken.

Diegene sonder ’n Christelike toekomsverwagting is nie in staat om wêreldgebeure geestelik te vertolk nie, en word maklik deur al die slegte nuus en donker vooruitsigte tot wanhoop gedryf. As die Môrester in jou hart is, sal jy nie die slagoffer van donker gedagtes wees nie. Jy sal vir seker weet waarheen jy op pad is en jouself doelgerig hierop voorberei. Ons moet daarna streef om na gees, siel én liggaam onberispelik in heiligheid te wees by die wederkoms van onse Here Jesus Christus (1 Thess. 5:23-24).

9. Net die Seun van God bied aan ons die water van die lewe

“Die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (v. 17). Die Here Jesus is die enigste water van die lewe vir n geestelik sterwende wêreld, daarom het Hy gesê: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink ...” (Joh. 7:37). “Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet” (Op. 21:6). Hy het ook gesê: “Elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie” (Joh. 4:14).

Alle mense moet vir redding na die Here Jesus gelei word, want daar is geen moontlikheid vir redding buite Hom nie (Hand. 4:12). Die uitnodiging vir redding moet baie duidelik en oorredend gedoen word, want elke mens het n vrye wil en kan die aanbod van die hand wys as hy of sy nie duidelik verstaan waaroor dit gaan nie. Die Here dwing niemand nie, en het ook nie net sekere mense vir redding uitverkies nie, daarom sê Hy: “... laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.” Mense wat nie van hierdie vriendelike en gratis aanbod gebruik maak nie, het ’n donker, gevaarlike en onbekende toekoms buite die Here.

In die eerste eeu het Christus vir die inwoners van Jerusalem gesê: “Ek wou julle bymekaarmaak ... en julle wou nie!” (Matt. 23:37). Benewens hulle voortgesette geestelike misleiding en onkunde, was die vernietiging van Jerusalem en die internasionale verstrooiing van die Jode die gevolg van hulle verwerping van die Messias – hulle het ’n geestelike droogte bo die fontein van lewende water verkies.

Dit is steeds gebiedend noodsaaklik dat hierdie lewensbelangrike boodskap na almal op aarde moet uitgaan. ’n Oproep tot bekering gaan van die Gees en die bruid af uit. Die Heilige Gees spreek deur die Woord en ook deur die boodskappe, persoonlike gesprekke en geskrifte van alle ware gelowiges. Ons Christene wat lede van die bruidsgemeente van die Here Jesus is, is deur die Heilige Gees bemagtig om die boodskap van redding aan alle mense op aarde te verkondig (Hand. 1:8). Die verantwoordelikheid rus op die hoorders om op hierdie boodskap te reageer, want dit is nie net in hulle eie geestelike belang nie, maar ook tot die eer van die Here om seker te maak dat hulle Christus se dissipels is en nie sy vyande nie.

10. ’n Waarskuwing teen die aantasting van God se Woord

Die heel laaste en baie ernstige waarskuwing wat in die Bybel opgeteken is, is teen die aantasting van die Bybel as God se Woord: “As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe” (v. 18-19). Die hele raad van God aan die mensdom is in die Bybel vervat (vgl. Hand. 20:27), en Openbaring was die laaste, letterlik-geïnspireerde, boodskap wat God aan almal op aarde gerig het.

Ons mag niks by wyse van buite-Bybelse boodskappe by God se Woord voeg nie, daarom is dit aanmatigend en totaal misleidend wanneer mense beweer dat die Here verdere boodskappe aan hulle gerig het deur middel van drome, visioene, vreemde tale, hoorbare stemme, die raadpleging van gestorwenes of gesprekke met engele. Die Here het wel sommige van hierdie kommunikasiemetodes gebruik voordat die Bybel klaar geskryf was (vgl. Heb. 1:1), maar noudat ons ook die volle, Nuwe Testamentiese openbaring van Jesus Christus het, mag ons niks daarby voeg nie.

Daar mag ook niks uit die Bybel weggelaat word deur bv. aspekte van die boodskap daarvan te ontken nie. Daar is baie mense wat nie die Here Jesus se maagdelike geboorte aanvaar nie, en ook nie sy godheid, opstanding uit die dood, Hemelvaart, of sy fisiese wederkoms na die aarde aan die einde van die kerkdispensasie nie. Sulke mense ontken ook die letterlike vervulling van ander eindtydse profesieë soos die wegraping, die volle herstel van Israel as ’n Messiaanse staat, die opkoms van die Antichris na ’n posisie van wêreldleierskap, en die uitgiet van God se toorn gedurende die sewe jaar van die verdrukking. Hierdie gebeure word baie duidelik in die boek Openbaring beskryf, asook in ander profetiese boeke van die Bybel, maar word nie ernstig opgeneem deur die skeptici en agnostici nie.

Wat sal met mense gebeur wat hulleself aan die sonde van ongeloof skuldig maak, deur God se Woord te verwerp en gedurig na redes te soek waarom hulle nie in die Bybel hoef te glo nie? God se oordele sal oor hulle kom. Selfs al was hulle gered maar het dan later in ernstige dwalings verval, sal hulle name uit die boek van die lewe uitgewis word. Sulke voormalige gelowiges verval heeltemal uit die genade, soos die Galásiërs wat die wet bo die kruisboodskap verkies en die twee probeer vermeng het (Gal. 5:4; Rom. 10:4), diegene onder die Hebreërs wat in ongeloof verval het omdat hulle na ’n lewe van sonde teruggekeer het wat in stryd met die geregtigheid van Christus was (Heb. 3:12), asook alle misleide gelowiges wat na valse voorstellings van die Woord van God luister en dan hulle geloof daarin stel (1 Tim. 4:1).

As ons egter op die weg van die waarheid volhard en ons nie aan hierdie sondes skuldig maak nie, sal ons name nooit uitgewis word uit die boek van die lewe nie (Op. 3:5); maar dan moet daar ook van ons gesê kan word: “Jy het my Woord bewaar en my Naam nie verloën nie” (Op. 3:8). Die Bybel in die oorspronklike tale is die enigste betroubare bron van inligting oor God en die mens, asook die redding en heiliging van verlore mense. “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:16-17).

Verskillende vertalings van die Bybel moet versigtig geëvalueer word, want baie van hulle het swakhede en foute in. Doen ’n vergelykende studie en gebruik verklarende woordeboeke. Let ook op die vertolking van die Woord in preke en Christelike boeke. Baie van die predikers en skrywers verdraai die Woord en wyk van die gesonde leer van die Bybel af sodat hulle ’n meer sosiaalaanvaarbare boodskap kan verkondig (2 Tim. 4:3-4). Hulle is ook besig om by te voeg en weg te laat, en sal deur dieselfde Woord wat hulle verander en verdraai het, geoordeel word.

11. ’n Finale bevestiging dat Christus gou kom

“Ja, Ek kom gou” (v. 20). Dit is belangrik om te begryp dat alle Christene van alle tye ’n korttermyn wederkomsverwagting behoort te hê, sodat hulle altyd ’n ewigheidsperspektief op hulle lewe kan hê. Dit sal hulle help om hulle prioriteite reg te kan bepaal sodat hulle beter voorbereid kan wees op die ewige lewe. Sonder hierdie verwagting sal hulle swak gemotiveerd wees om werke te doen wat by die bekering pas, en om daardeur skatte in die hemel bymekaar te maak (Matt. 6:20).

Neem verder in ag dat die Here dikwels binne die raamwerk van die groter prentjie van die menslike geskiedenis op aarde met ons praat. In hierdie verband is ’n duisend jaar soos ons dit ervaar, vir Hom soos ’n dag (vgl. 2 Pet. 3:8). Die heilsgeskiedenis van die mens sedert Adam verloop duidelik in ’n week van millennia waarin elke dag omtrent 1 000 jaar voorstel: twee dae van Adam tot by Abraham, twee dae van Abraham tot by Christus, twee dae van kerkgeskiedenis tussen Christus se eerste en tweede koms, gevolg deur die sewende dag van die vrederyk op aarde. Die kerkbedeling het vroeg op die vyfde dag van hierdie week begin en behoort vroeg in die sewende dag (enige tyd nou) afgesluit te word.

Volgens Hoséa 6:1-2 sou Israel vir twee dae (van omtrent 2 000 jaar) van die Here af verstrooid wees weens ongeloof, en dan op die derde dag (in die Messias se vrederyk) met Hom versoen wees en voor sy aangesig lewe in hulle land. Die hele oorblyfsel in Israel sal aan die einde van die komende verdrukking gered word (Jer. 30:7; 31:31-38; Eseg. 36:22-28; Sag. 12:10–13:1; Rom. 11:25-26). Die Here Jesus verwys ook na die “twee dae” van die kerkbedeling waartydens mense van satansmag en geestelike kwale verlos sal word (Luk. 13:32), gevolg deur die derde dag wanneer Hy sy bestemming as Koning sal bereik.

12. Die versekering dat sy genade met ons sal wees

“Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal!” (v. 21). Ons moet die belofte in die geloof aanneem dat die Here Jesus in elke behoefte van ons wil voorsien na die rykdom van sy genade (Ef. 2:7; Fil. 4:19). Ons is egter nie nou in die vrederyk nie, en dus nie bestem om in hierdie bedeling soos konings in oorvloed te leef nie. Ons is bywoners en vreemdelinge in ’n wêreld wat in die mag van die Bose lê (1 Pet. 2:11; 1 Joh. 5:19), daarom moet ons vergenoeg wees as daar in ons basiese behoeftes voorsien word (1 Tim. 6:8). Enigiets meer as dit kom op gierigheid neer. Die basiese behoeftes van alle mense is nie dieselfde nie, daarom moet ons nie ander se voorbeeld nastreef nie, maar slegs ons eie situasie in oënskou neem wanneer ons vir seëninge bid.

Hou vas aan die belofte dat die Here jou nie sal begewe of verlaat nie (Heb. 13:5), maar onthou ook dat daar ’n moontlikheid is dat jy dalk van Hom afvallig en vervreemd kan raak (Joh. 15:6; Op. 2:4-5). Waak teen afdwalinge en afvalligheid en streef daarna om ’n oorwinnaar te wees in die stryd van die lewe. As jy tot die Here nader, sal Hy tot jou nader (Jak. 4:8). Tree tot sy genadetroon toe in die gebed in jou binnekamer, dan sal jy ervaar dat Hy jou daar buite in die openbaar, tussen die sondaars, staande sal hou (Matt. 6:6).

Bid die Here Jesus se genade op jou hele lewe af, en ook op die lewens van ander vir wie jy intree. Glo dat sy genade onder alle omstandighede vir jou genoeg is, ook op ’n siekbed (2 Kor. 12:7-10). Selfs in ’n wêreld waarin die sonde en ongeregtigheid elke dag besig is om meer te word, is die Here se genade nog steeds meer oorvloedig as al die probleme en sal jy nooit nodig hê om voor die aanslag van sonde te swig nie (Rom. 5:20). “Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal!”