Charles. H. Spurgeon
Opsomming: Daar word duidelik na twee opstandings in die Bybel verwys – die opstanding van die regverdiges en, ‘n duisend jaar later, die opstanding van die goddeloses.
Ek het een keer ‘n baie ongelukkige ondervinding gehad om te luister hoe ‘n vriend van my oor die eerste opstanding preek. Hy het gesê dit beteken: “Salig en heilig is hy wat weergebore is en sodoende ‘n opstanding uit dooie werke beleef het deur die opstanding van Jesus Christus.”
Ek het die hele tyd gewens ek kon die probleem aan hom stel hoe hy hierdie figuurlike interpretasie kan versoen met die letterlike feit dat die res van die dode nie herleef totdat die duisend jaar voleindig is nie. Indien die eerste opstanding waarvan hier gepraat word, ‘n figuurlike of geestelike opstanding is, dan moet die daaropvolgende opstanding van die dode ook figuurlik of sinnebeeldig wees. Niemand sal hiermee saamstem nie.
Wanneer u ‘n hoofstuk in die Bybel lees, kan u nie sê dat een gedeelte simbolies en die ander letterlik geïnterpreteer moet word nie. Broeders en susters, die Heilige Gees gooi nie feite en beeldspraak saam nie. ‘n Tipologiese boek in die Bybel het direkte aanduidings dat dit só bedoel is. Wanneer daar ‘n letterlike gedeelte in ‘n simboliese of allegoriese hoofstuk is, word dit altyd aan iets anders gekoppel wat baie duidelik letterlik is, sodat u nie sonder om teen logiese denke in te druis, ‘n simboliese betekenis daaraan kan heg nie.
Die feit dat indien ons Openbaring 20 met ‘n onbevooroordeelde gemoed lees en geen vooropgestelde dogma het wat ons wil bewys nie, kan ons nie anders as om te erken dat daar van twee opstandings gepraat word nie. Die een groep is die regverdiges wat die Here saam met Hom sal bring (1 Thess. 4:14), en die ander is die goddeloses wat in hulle sondes gesterf het en ná hulle opstanding tot die ewige straf veroordeel sal word.
In die volgende gedeelte word daar drie voorregte aan die eerste opstanding gekoppel: (1) “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; (2) oor hulle het die tweede dood geen mag nie; (3) hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Op. 20:6).
Die eerste voorreg is die voorrang van opstanding. Oor hierdie punt is die Bybel baie duidelik, omdat dit onweerlegbare getuienis aanbied dat die heiliges eerste opgewek sal word. Kom ons kyk na wat die apostel Paulus hieroor in sy brief aan die Korinthiërs skryf:
Daar was reeds ‘n tydsgaping van bykans 2000 jaar tussen “die eersteling Christus” en “daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.” Waarom dan nie ‘n duisend jaar tussen “die eerste opstanding” en “die einde” nie? Paulus skryf hier slegs van die opstanding van hulle wat aan Christus behoort. In ‘n ander skrifgedeelte is ‘n nóg duideliker uitspraak hieroor:
Hierin word hoegenaamd niks van die opstanding van die goddeloses gesê nie – daar word slegs gesê dat die wat in Christus gesterf het, eerste sal opstaan. Aangesien ‘n eerste opstanding egter ook ‘n tweede impliseer, en aangesien ons weet dat die regverdiges én onregverdiges opgewek móét word, kan ons die logiese gevolgtrekking maak dat die goddeloses tydens die tweede opstanding opgewek sal word, nadat die tydsverloop tussen die twee opstandings verstreke is.
Let ook op die volgende gedeelte uit Filippense 3:
Wat bedoel Paulus hiermee? Elkeen sal tog opstaan – dit word deur alle Christelike kerke geglo. Wat is dan hierdie opstanding waarvoor Paulus homself beywer en alles inspan om dit te verkry? Dit kan tog nie die algemene opstanding wees nie, want daaraan sou hy in elk geval deel hê. Dit moes ‘n heel besondere opstanding wees waaraan slegs diegene deel sal hê wat Christus geken het en die krag van sy opstanding, en wat aan sy dood gelykvormig geword het. Ek dink u kan nie hierdie gedeelte interpreteer sonder om te erken dat daar eers ‘n opstanding van die regverdiges is voordat die opstanding van die onregverdiges plaasvind nie.
In Lukas 20 vind u ‘n stelling wat ek as ‘n duidelike bewys aanvaar dat daar wél ‘n spesiale opstanding is. Die Sadduseërs het ‘n probleem gestel met betrekking tot die verhouding tussen mans en vrouens in die hiernamaalse lewe, waarop Jesus geantwoord het:
Hieruit blyk dit dat daar ‘n bepaalde standaard van waardigheid vir hierdie opstanding vereis word. Sien u dit nie raak nie? ‘n Duidelike onderskeid word getref deur “kinders van die opstanding” genoem te word. U vind ook ‘n belofte aan hierdie mense in Lukas 14:14: “…en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie; want dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges.” Daar sou geen noodsaaklikheid voor gewees het om te sê “in die opstanding van die regverdiges” indien daar net een, algemene opstanding was nie.
Ek wil u na nog een ander skrifgedeelte in Johannes 6 verwys, wat hieroor handel:
In hierdie verse praat die Here Jesus vier keer van sy gelowige volgelinge, en beloof aan hulle ‘n opstanding. Is daar vir die kinders van God enige vreugde of wonder hierin geleë, tensy dit aan hulle ‘n spesiale seën toesê? Almal sal uiteindelik opstaan, en tóg word dit hier as die voorreg van die gereddes genoem! Dit is dan tog seker ‘n verskillende en heel besondere opstanding hierdie. Dit is ook waarop die Christenmartelare hulle hoop stel. Die apostel sê dat hulle in hulle lyding en beproewings “geen bevryding wou aanneem nie, om ‘n beter opstanding te kan verkry” (Heb. 11:35). Hoe kan dit dan ‘n beter opstanding wees, tensy daar ‘n duidelike onderskeid tussen die opstanding van die heiliges en dié van die sondaars is? Die een is ‘n glansryke opstanding en die ander een ‘n opstanding van verskrikking, en dit is in ooreenstemming met die onderskeid wat die Here van die begin af tussen die kinders van God en die kinders van die toorn gestel het.
Die volgende voorreg wat aan die godvresendes toegesê word, is dat die tweede dood geen mag oor hulle het nie. Hierdie is ook ‘n letterlike dood. Dit is nie minder letterlik omdat die grootste verskrikking daarvan geestelik van aard is nie, want ‘n geestelike dood is net so letterlik as ‘n liggaamlike dood. Die ewige geestelike dood sal ook met onafgebroke liggaamlike pyniging in die vlamme van die hel gepaard gaan. Die dood wat oor die goddeloses gaan kom, kan die regverdiges hoegenaamd nie raak nie. Dit is die groot voorreg van die eerste opstanding, dat Christus daardeur iets baie wonderliks aan ons wil gee: “…dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is” (1 Joh. 3:2).
Ons weet nog nie wat die volle omvang van die majesteit en vreugde sal wees waarmee die Here ons sal beklee nie. Ons weet egter wel dat die veroordeling van die tweede dood geen mag sal hê oor hulle wat tydens die eerste opstanding opgewek word nie. Hoe kan dit ook? Hoe kan veroordeling kom oor enigeen behalwe die sondaars? Die heiliges is nie aan sonde skuldig nie. Hulle het ook, soos die ander, gesondig en was van nature kinders van die toorn, maar hulle sonde is vergewe en weggeneem. Hulle dra as gewastes in die bloed van die Lam die Verlosser se kleed van geregtigheid, daarom het die tweede dood geen mag oor hulle nie.
Begryp u die wonder van hierdie situasie? Selfs as ons deur die vlamme van die hel moes loop, sal hulle niks meer mag hê om ons te verteer as toe die heilige Israeliete met gemak oor die kole van Nebukadnésar se sewe maal verhitte vuuroond gestap het nie. Die dood en die hel het geen mag oor ons nie, omdat ons meer as oorwinnaars is deur Hom wat ons liefhet. Ons het oorgegaan uit die dood in die lewe (Joh. 5:24).
Daar is nog ‘n ander rede waarom die tweede dood geen mag oor die gelowiges het nie: wanneer die prins van hierdie wêreld teen ons opstaan, sal ons soos Jesus kan sê dat hy niks aan ons het nie (Joh. 14:30). Wanneer ons opgewek word, sal ons volkome vry van die besoedeling van sonde wees, en geen bose neigings in ons hê nie. Ons sal so rein en smetteloos wees soos Adam voor die sondeval. Ons sal selfs beter as Adam wees, omdat ons só in waarheid en geregtigheid bevestig sal wees dat ons nooit sal kan sondig nie, en dus ook nie versoek sal kan word nie.
Broeders en susters, hef op julle aangesigte, bied weerstand teen die sonde, verwerp alle vertwyfeling en vee die trane van julle oë af. Daar kom dae waarvan engele nog nie die gelyke gesien het nie, maar julle sal dit sien. Dan sal julle al die swaarkry en vervolging nie eers meer kan onthou nie!
Die derde voorreg is dat die gelowiges saam met Christus sal regeer, ‘n duisend jaar lank. Die vroeë kerk het geglo dat die sewende duisend jaar van menslike geskiedenis ‘n sabbat sal wees. Daar sal sesduisend jaar van swoeg en swaarkry wees, soos die ses dae van moeitevolle arbeid in die week, dan volg die sewende duisend jaar van rus.
Daar is in Openbaring 20:6 ‘n duidelike belofte dat die heiliges saam met Christus sal regeer vir ‘n duisend jaar, en ek glo dat hierdie regering op die aarde sal wees. Daar is baie skrifgedeeltes wat op hierdie belofte betrekking het:
U kan dit interpreteer dat die ootmoediges baie meer van die dinge van hierdie wêreld sal geniet as die sondaars, en dat hulle ‘n oorvloed van vrede sal hê. Dan sal u egter ‘n baie skraal betekenis aan die belofte heg. Indien u glo dat die ootmoediges nog hierdie wêreld sal besit, en dat hulle hulself hier in die vreugde en vrede van die Messias se regering sal verbly, heg u ‘n baie voller en goddelike betekenis aan die teks.
Dit is so dat God se beloftes altyd ‘n wyer betekenis het as dit wat ons daaraan heg. Indien ons dit koppel aan die bietjie wat die ootmoediges nou beërf, laat ons nie aan die belofte reg geskied nie; maar as ons glo dat hulle daardie heerlikheid nog hier sal beleef, dan interpreteer ons dit op ‘n wyse wat aan God waardig is.
Die ootmoediges beërf nie die aarde op enige noemenswaardige wyse op die oomblik nie, daarom moet ons vir die vervulling van hierdie belofte na ‘n toekomstige bedeling kyk. Laat ek ook die woorde van Christus aanhaal, voordat jy dalk dink dat die belofte slegs op die Ou Testamentiese bedeling betrekking het: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Matt. 5:5). Hoe? Waar? Wanneer? Sekerlik nie nou nie, ook nie in die dae van Christus of die apostels nie.
Wat het die sagmoediges beërf? Verdrukking, vlamme, pynbanke en tronke. Hulle materiële erfenis was inderdaad niks nie. Hulle was verlate, bedroef en gefolter, hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle. Indien die ootmoediges ooit die aarde moet beërf, sal dit sekerlik in ‘n toekomstige bedeling wees omdat hulle dit dusver nog nie beërf het nie.
Kom ons kyk in hierdie verband ook na Openbaring 5:9-10: “Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.” Ek weet nie of daar iemand is wat die geloofwaardigheid van hierdie woorde in twyfel trek nie, maar die Heilige Gees het sekerlik daarmee bedoel dat die Christene nog op aarde sal regeer.
Daar is baie skrifgedeeltes wat die belofte van Christus se regering op aarde bevestig: “Want die Here van die leërskare sal regeer op die berg Sion en in Jerusalem, en voor sy oudstes sal daar heerlikheid wees” (Jes. 24: 23). Ook in Sagaria staan daar: “Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U! … En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sag. 14:5, 9).
Niks minder nie as die oorwinning en heerlikheid op dieselfde terrein waar ons die stryd gevoer het, sal aan die betekenis van God se Woord reg laat geskied. Ek sien met vreugde daarna uit dat indien ek sterf voordat Christus kom, Hy my sal opwek om te deel in sy heerlikheid voor die oë van die mense, en om saam met Hom te regeer vir ‘n duisend jaar.
Hierdie leerstelling wat ek aan u verkondig, is nie onprakties nie. Wanneer die apostel die gelowiges tot geduld, arbeidsaamheid, hoop, volharding en heiligheid aanspoor, sê hy gewoonlik ook iets oor die wederkoms van Christus: “Wees dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here” (Jak. 5:7). “Julle moet ook geduldig wees; versterk julle harte, want die wederkoms van die Here is naby” (Jak. 5:8). “Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie” (1 Kor. 4:5). “Hou as herders toesig oor die kudde van God… En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang” (1 Pet. 5:2-4).
Laat ons wat God vrees en in die Here Jesus glo, hierdie beloftes as ‘n venster neem waardeur ons kan kyk. Wanneer ons huis donker is en ons in ellendige omstandighede verkeer, laat ons met verwagting vooruitsien na die dag wanneer Christus ons in die eerste opstanding sal sal opwek en ons saam met Hom sal regeer, terwyl ons in sy heerlikheid sal deel en sal weet dat die tweede dood geen mag oor ons het nie.
Ek wil nou ook kortliks verwys na die opstanding, oordeel en verdoemenis wat op die onregverdiges wag.
Sondaar, jy het gehoor dat ons van die opstanding van die regverdiges praat. Vir jou het die woord ‘opstanding’ geen musiek nie, want daar is nie vreugde in jou gemoed as jy hoor dat die dode gaan opstaan nie. Nogtans wil ek jou verseker dat jy wél opgewek sal word. Nie alleen jou siel nie, maar ook jou liggaam sal lewe. Daardie oë wat so vol wellus was, sal tonele van verskrikking aanskou; daardie ore wat geluister het na die versoekings van die Bose, sal die gerammel van oordeel hoor; en daardie voete wat jou na die vermaaklikheidsplekke geneem het, sal kragteloos onder jou word wanneer Christus op die troon sit. Hy is in staat om jou liggaam én siel in die hel te werp.
Wanneer die boeke geopen word, sal elke daad, elke woord en elke gedagte van jou hardop gelees word. Al die begeerlikhede en moordgedagtes wat jy in jou hart gekoester het en miskien nooit uitvoering aan gegee het nie, sal op daardie dag as getuienis teen jou gebring word. Naakte vrees en verskrikking sal jou aangryp, soos vir Belsásar toe hy die skrif aan die muur gesien het; sy gelaatskleur het verander, sy gedagtes het hom verskrik, die gewrigte van sy heupe het losgeraak en sy knieë het teen mekaar geslaan (Dan. 5:6). So sal dit ook met jou gaan.
Ná die dood kom die oordeel en ná die oordeel die verdoemenis. Manne en vroue, julle wat God nie vrees nie en geen geloof in Jesus het nie, ek kan nie eers ‘n volledige denkbeeld vorm van die skrikwekkende bestemming wat op julle wag nie. Ek bid dat julle die feit hiervan ten minste sal besef, en dat die Here sal gee dat julle nooit hierdie plek van afgryse sal beleef nie. Vlug daarvan weg terwyl jy nog in die tyd van genade leef. Ek smeek jou, dink aan die einde – dink! dink! Hierdie mag die laaste waarskuwing wees wat jy ooit sal ontvang, omdat jy dalk nie gespaar mag word om weer ‘n plek van aanbidding te betree nie.
Ek verhoog Christus, die gekruisigde, nou voor jou. Elkeen wat in Hom glo, sal nie sterwe nie, maar het die ewige lewe. Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, word die Seun van die mens vandag verhoog. Kyk na sy wonde en die doringkroon op sy hoof. Kyk na die spykers in sy hande en voete. Sien jy Hom? Luister terwyl Hy sê: “Waarom het jy My verlaat?”
Die verlossende genade van Christus word vryelik aan jou verkondig. Glo in die Here Jesus en jy sal gered word. Vertrou op Hom, en die verskrikking van die komende oordele sal geen mag oor jou hê nie, maar die belofte van die eerste opstanding sal vir jou vervul word.