Prof. Johan Malan, Mosselbaai (26 Jan. 2011)
Die groot internasionale belang by die skepping van ‘n Palestynse staat in die tradisionele grondgebied van Israel stuur in die nabye toekoms op ‘n hoogtepunt af. Belangrike wêreldmoondhede sowel as internasionale organisasies is regstreeks met die vestiging van só ‘n staat gemoeid, en verhef hierdie saak sodoende tot ‘n sleutelfaktor in pogings om vrede te skep en ‘n nuwe magsbalans in die Midde-Ooste én die hele wêreld te vind.
Ernstige vrese word egter ook uitgespreek dat die bevordering van die ontluikende Palestina se belange nie slegs tot die nadeel van Israel sal strek nie, maar selfs die voortbestaan daarvan sal bedreig. Uit ‘n Bybelse oogpunt sal ‘n toekomstige wêreld sonder ‘n fisies en geestelik herstelde Israel ‘n bose wêreld wees wat aan die Antichris ‘n geleentheid vir sy wêreldregering sal bied. Dié nuwe wêreld sal totaal anti-Joods en anti-Christelik wees.
Hierdie vrese word bevestig deur die feit dat die bose magte waardeur die “Palestynse Plan” voortgedryf word, uitgebreid en daarop ingestel is om die politieke, ekonomiese en godsdienstige landskap van die wêreld permanent te verander. Hierdie magte sal ‘n invloed op wêreldgebeure ver buite die Midde-Ooste hê, asook ‘n sterk potensiaal om die grondslag vir ‘n totaal nuwe wêreldorde te wees. Alle lande neig reeds daartoe om besluite te neem en beleidsrigtings te aanvaar waardeur hervormings aan die gang gesit word wat die wêreld sal verander en ook hulle eie toekoms op ‘n onheilspellende manier sal bepaal.
Ons sal eers die oorsprong van die naam “Palestina” ondersoek ten einde die regmatigheid te bepaal van die huidige proses vir die vestiging van so ‘n staat. Die verdere implikasies van hierdie drastiese stap sal dan oorweeg word.
Die volgende is ‘n verkorte uittreksel uit die Wikipedia-artikel getiteld “Palestina”:
Die naam “Palestina” is verwant aan die antieke woord wat “Filistyne” of die “Land van die Filistyne” beteken. Die Hebreeuse woord Peleshet, wat in Engels vertaal word as Philistia (Afrikaans Filistea), word gebruik om na die suidelike kusgebied te verwys wat deur die Filistyne bewoon is. Dit was wes van die koninkryk van Juda geleë.
In die vyfde eeu voor Christus het Herodotus in antieke Grieks geskryf oor die distrik Sirië wat Palaistinê genoem is, waarvan Palaestina en Palestina afgelei is.
“Palaestina” is algemeen gebruik om na die kusgebied te verwys, en kort daarna ook na die hele binnelandse gebied wes van die Jordaanrivier. Hierdie uitbreiding het plaasgevind toe die Romeinse owerhede ná die onderdrukking van die Bar Kochba opstand in die tweede eeu ná Christus die “Provincia Judea” hernoem het na “Syria Palaestina” ten einde van die naam Judéa ontslae te raak.
Gedurende die Bisantynse periode het die hele gebied (Sirië Palestina, Samaria en Galilea) as Palestina bekend gestaan. Die Bisantyne het ook die suidelike gebied wat die Negev, Sinai en die weskus van die Arabiese Skiereiland ingesluit het, hernoem na “Palaestina Salutaris.”
Die Arabiese woord vir Palestina is Philistine. Toe die Arabiere Groter Sirië in die sewende eeu oorgeneem het, is benamings wat deur die Bisantynse administrasie voor hulle gebruik is, meesal behou.
Die gebruik van die naam “Palestina” (Palestine in Engels) het meer algemeen inslag gevind ná die Europese Renaissance. Hierdie naam is egter nie in die tyd van die Ottoman-ryk (1517 tot 1917) gebruik nie. Christene in Europa het meesal na die gebied as die Heilige Land verwys. Ná die val van die Ottoman-ryk het die Britte weer die naam “Palestina” amptelik laat herleef en toegepas op die gebied wat onder Britse mandaat geplaas is.
Daar word ook ander name gebruik om na hierdie gebied of gedeeltes daarvan te verwys, insluitend Kanaän, Groter Israel, Groter Sirië, die Heilige Land, Judéa, Israel, die koninkryk van Israel, die land van Israel (Eretz Yisrael of Ha’aretz), en Sion. Die gebeure van die vier Evangelies van die Bybel het feitlik almal in hierdie land afgespeel, daarom staan dit in die Christelike tradisie bekend as die Heilige Land. Volgens die Bybelse geskiedenis is die verenigde koninkryk van Israel in 1020 v.C. gestig deur die Israelitiese stamme van wie Saul die eerste koning was. In 1000 voor Christus is Jerusalem tot die hoofstad van koning Dawid se koninkryk verklaar. Die eerste tempel is in die tyd van koning Salomo gebou.
Aan die einde van die 19de eeu het Joodse immigrasie na die land begin. Die Eerste Alija (Joodse immigrasie na Israel) was die eerste groot groep van die Sionistiese Alija. Jode wat in hierdie tyd na Palestina gemigreer het, het hoofsaaklik uit Oos-Europa en Jemen gekom. Hierdie alija het in 1881-82 begin en tot in 1903 voortgeduur. ‘n Geskatte 25 000 tot 35 000 Jode het gedurende die Eerste Alija geïmmigreer. Hierdie alija het die grondslag vir Joodse vestiging in Israel gelê, en verskeie nedersettings is gevestig, bv. Rishon LeZion, Rosh Pina, Zikhro Ya’aqov en Gedera. Tel Aviv is gevestig op grond wat by Bedoeïene noord van Jaffa gekoop is.
Die Tweede Alija het tussen 1904 en 1914 plaasgevind, toe omtrent 40 000 Jode geïmmigreer het, meesal uit Rusland en Pole, maar sommige ook van Jemen af. Immigrante uit die Tweede Alija was hoofsaaklik idealiste wat geïnspireer is deur revolusionêre idees wat toe in die Russiese Ryk geheers het, en hulle wou gemeenskaplike landbounedersettings in Palestina vestig. Hulle het gevolglik met die kibboetsbeweging begin. Die eerste kibboets, Degania, is in 1909 gevestig. Tel Aviv is ook in daardie tyd gevestig, hoewel die stigters daarvan nie noodwendig van die nuwe immigrante was nie. Die Tweede Alija was grootliks verantwoordelik vir die herlewing van die Hebreeuse taal en die algemene gebruik daarvan as omgangstaal vir Jode in Israel.
Die beheer van die Ottoman-ryk oor die gebied oos van die Middellandse See het voortgeduur tot met die Eerste Wêreldoorlog, toe hulle besluit het om aan die kant van Duitsland te veg. Gedurende die oorlog is die Ottoman-Turke deur die Britse Ryk uit die meeste van hierdie gebiede verdryf en het die Ottoman-ryk ontbind.
In terme van die Sykes-Picot-ooreenkoms van 1916 is dit in die vooruitsig gestel dat die grootste deel van Palestina ná die bevryding daarvan uit Ottoman-beheer ‘n internasionale sone sou word wat onder Franse of Britse beheer sou staan. Kort daarna het die Britse minister van buitelandse sake, Arthur Balfour, die Balfour-deklarasie van 1917 uitgevaardig waarin die belofte gemaak is om ‘n nasionale tuiste vir die Jode in Palestina te skep. ‘n Britse militêre mag onder die beheer van genl. Allenby het Jerusalem op 9 Desember 1917 ingeneem en ná die neerlaag van die Turkse magte beheer oor die hele Palestina oorgeneem.
Groot Brittanje het Palestina tussen 1920 en 1948 namens die Volkebond geadministreer, en hierdie tydperk het as die Britse Mandaat bekend gestaan. Die mandaat het ook ‘n groot gebied oos van die Jordaanrivier ingesluit, wat as Transjordanië bekend was.
Klein groepies Arabiere (Moslems sowel as Christene) het saam met die klein Joodse gemeenskappe in Palestina gewoon. In daardie tyd het die Arabiere in Palestina geen nasionale identiteit as ‘n bepaalde volk gehad nie, en gevolglik met nabygeleë lande soos Sirië geïdentifiseer. Nie almal van hulle was tevrede met die mandaat wat aan Brittanje toegeken is nie, en het verkies om liewer by Sirië ingelyf te word. In Februarie 1919 het verskeie Moslem- en Christengroepe van Jaffa en Jerusalem ‘n voorstel aangeneem om inlywing by Sirië te soek en weerstand teen Sionisme te bied. In April 1920 het gewelddadige Arabiese opstande teen Jode in Jerusalem plaasgevind, wat as die 1920 Palestynse Opstand bekend staan. Die opstand het gevolg op stygende spanning in die verhouding tussen Jode en Arabiere weens die implikasies van Joodse immigrasie. Die halfhartige reaksie deur die Britse militêre administrasie het nie daarin geslaag om die opstand te onderdruk nie, en dit het vir vier dae lank voortgeduur. As gevolg hiervan het die vertroue tussen die Britte, Jode en Arabiere baie versleg. Een van die gevolge hiervan was dat die Joodse gemeenskap stappe gedoen het om ‘n outonome sekuriteitsinfrastruktuur daar te stel wat parallel met dié van die Britse administrasie kon funksioneer.
Palestina en Transjordanië is onder verskillende wetlike en administratiewe reëlings ingelyf by die Mandaat vir Palestina wat op 29 September 1923 deur die Volkebond aan Groot Brittanje toegeken is. Selfs nog voordat die Mandaat in 1923 wetlik ingestel is, is daar reeds in Britse terminologie na die gebied wes van die Jordaanrivier verwys as “Palestina” en na die gedeelte oos van die Jordaan as “Transjordanië”.
Op ‘n seël wat die Britse Mandaat in 1927 oor Ragel se graf uitgereik het, word die woord “Palestina” in Engels, Arabies én Hebreeus aangedui. By die Hebreeuse woord is ook ‘n akroniem ingesluit wat dui op Eretz Yisrael (die Land van Israel).
Die eerste verwysing na Palestyne, sonder om hulle as Arabiere te kwalifiseer, kom voor in ‘n klagskrif wat op 26 Julie 1928 deur ‘n komitee van Moslems en Christene by die Britse owerhede ingedien is.
Die land is onder die Britse Mandaat ekonomies en kultureel ontwikkel. Reeds in 1919 het die Joodse gemeenskap ‘n sentrale Hebreeuse skoolstelsel gevestig, en in die jaar daarna die Vergadering van Afgevaardigdes, die Joodse Nasionale Raad en die Histadrut Arbeidsfederasie. ‘n Tegniese universiteit is in 1924 gevestig, en die Hebreeuse Universiteit van Jerusalem in 1925.
Wat Arabiese instellings betref, is die kantoor van die Mufti van Jerusalem wat beperkte jurisdiksie oor ‘n klein gebied gehad het, deur die Britte omskep in die kantoor van die Groot Mufti van Palestina. Hierbenewens is daar ook ‘n Moslem Opperraad gestig wat met verskeie funksies beklee is, bv. die administrasie van godsdienstige erflatings, asook die aanstelling van godsdienstige regters en plaaslike mufti’s. Gedurende die opstand van die laat dertigerjare is die Arabiese Hoëkomitee ingestel as ‘n sentrale politieke liggaam vir die Arabiese gemeenskap in Palestina.
In die jare 1936-1939 het die Arabiere deelgeneem aan opstande en protes teen die Britse beheer en ook teen grootskaalse Joodse immigrasie. Die opstand het nie in sy doel geslaag nie, maar nogtans word dit gesien as die begin van ‘n Arabiese Palestynse identiteit. Dit het gelei na die uitreiking van die Witskrif van 1939, waarin die Britse doelstelling vir die skepping van ‘n nasionale tuiste vir die Jode in Palestina, soos vervat in die Balfour-deklarasie, veroordeel is.
Toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, het die Joodse gemeenskap hulle by Brittanje geskaar. Soos in die grootste deel van die Arabiese wêreld, was daar geen eenstemmigheid onder die Palestynse Arabiere oor hulle lojaliteit in die oorlog nie. Sommige van hulle, insluitend die Groot Mufti van Jerusalem, het hulle by Duitsland geskaar en troepe gestuur om die Waffen SS in Bosnië by te staan. Omtrent 6 000 Palestynse Arabiere en 30 000 Palestynse Jode het by die Britse magte aangesluit.
In die jare ná die Tweede Wêreldoorlog het die Britse beheer baie verswak. Die wêreldmening het teen Brittanje gedraai as gevolg van hulle beleid om Joodse immigrasie te beperk deur nie toe te laat dat groot getalle oorlewendes uit die Joodse slagting (Eng. Holocaust) na Palestina kom nie. Hierdie immigrante is weggewys na interneringskampe in Siprus, of selfs na Duitsland teruggestuur soos in die geval van Eksodus 1947.
Vroeg in 1947 het die Britse Regering sy begeerte aangekondig om die Mandaat te beëindig. Hulle het die Algemene Raad van die Verenigde Nasies gevra om voorstelle te maak oor die toekoms van hierdie land. Die Britse Administrasie het egter geweier om verantwoordelikheid te aanvaar vir die implementering van ‘n oplossing wat nie vir beide die Joodse en Arabiese gemeenskappe aanvaarbaar was nie, of om toe te laat dat ander owerhede beheer oor openbare veiligheid oorneem voor die verstryking van sy mandaat op 15 Mei 1948.
Op 29 November 1947 het die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering met 33 teen 13 stemme, met 10 lande wat buite stemming gebly het, besluit ten gunste van ‘n plan om die gebied in aparte Joodse en Arabiese state te verdeel, onder gemeenskaplike ekonomiese beheer, met die groter Jerusalem-gebied (waarby Betlehem ingesluit was) onder internasionale beheer. Sionistiese leiers, insluitend die Joodse Agentskap, het die plan aanvaar, terwyl Palestynse Arabiese leiers dit verwerp het en alle onafhanklike Arabiese Moslemlande ook daarteen gestem het. Feitlik onmiddellik daarna het sektariese geweld uitgebreek, verder versprei, en honderde Arabiere, Jode sowel as Britte het in die volgende paar maande gesterf.
Die vinnige opeenvolging van gebeure het na burgeroorlog gelei. Arabiese vrywilligers van die Arabiese Bevrydingsmag het van buite af gekom om die Palestyne te help veg, maar die April-Mei offensief deur die Joodse Jishuv-magte het die Arabiese magte verslaan en die Palestynse gemeenskap het in duie gestort. Tussen 300 000 en 350 000 Palestyne is deur die geweld ontwortel of van hulle huise af verdryf.
Op 14 Mei het die Joodse Agentskap die onafhanklikheid van die staat Israel verklaar. Aangrensende Arabiese state het tussenbeide getree om die Palestynse Arabiese bevolking te ondersteun en hulle versplintering te voorkom. Transjordanië (wat later Jordanië geword het) het beheer geneem oor Palestynse gebiede wat vir ‘n toekomstige Arabiese staat bestem was, terwyl Siriese, Irakse en Egiptiese magte vir Israel, sonder sukses, aangeval het. Die grootste gevegte het plaasgevind tussen Israelse en Jordaniese magte om die beheer oor Jerusalem.
Op 11 Junie is ‘n vredesooreenkoms deur alle partye aanvaar. Israel het die tyd van kalmte gebruik om sy weermag aansienlik te versterk. Gedurende die eerste ses maande van 1949 het onderhandelings tussen die strydende partye na ‘n wapenstilstand en die bepaling van Israel se grense gelei. Geen Palestynse Arabiese staat is egter gevestig nie. Jordanië het die Arabiese gebiede geannekseer wat onder die Palestynse mandaat beheer is, naamlik Samaria en Judéa wat as die Wesbankgebied bekend is, asook Oos-Jerusalem, terwyl die Gasastrook onder Egiptiese administrasie gekom het.
Op dieselfde dag toe die staat Israel gevestig is, het die Arabiese Bond aangekondig dat dit ‘n enkele Arabiese administrasie vir die hele Palestina sou instel, en het ook ‘n aanval op die staat Israel gedoen. Hierdie Palestynse regering is op 1 Oktober 1948 in Gasa gevestig, en die Arabiese Bond het daardeur ook probeer om Transjordanië se beheer oor die Palestynse gebiede te beperk. Die voormalige mufti van Jerusalem, Haj Amin al-Husseini, is as president aangestel. Hierdie regering is deur Egipte, Sirië, Libanon, Irak, Saoedi-Arabië en Jemen erken, maar nie deur Transjordanië en al die nie-Arabiese lande nie. Dit was weinig meer as ‘n Egiptiese protektoraat en het geringe invloed en min fondse gehad. Ná die Arabies-Israelse oorlog van 1948 is die gebied wat in die internasionale sone van Jerusalem aan die Palestynse Arabiere toegeken is, deur Israel en naburige Arabiese state beset in terme van die wapenstilstandsooreenkoms van 1949. Palestynse Arabiere wat in die Gasastrook of Egipte gewoon het, is tot in 1959 van Palestynse paspoorte voorsien, toe die Egiptiese president, Gamal Abdul Nasser, ‘n dekreet uitgevaardig het om die Palestynse regering te ontbind.
In 1950 is Transjordanië se naam verander na die koninkryk van Jordanië, om amptelik die Palestynse gebiede in te sluit wat in 1949 deur Koning Abdullah geannekseer is.
Gedurende die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967 het Israel die Wesbankgebied en Oos-Jerusalem van Jordanië verower en die Gasastrook van Egipte af.
Van 1960 af is die benaming “Palestyne” gereeld in ‘n politieke verband gebruik. Die Palestynse Bevrydingsorganisasie het sedert 1974 as ‘n nie-lid waarnemerstatus in die VN geniet, en verteenwoordig nog steeds die “Palestyne” daar.
Volgens Palestynse skattings is daar 2.4 miljoen Wesbank-Palestyne wat hoofsaaklik in vier gemeenskappe woon in Hebron, Ramalla, Nablus en Jérigo. In 2005 het Israel sy weermag uit Gasa onttrek en alle Joodse nedersettings in dié gebied ontruim. Dit was in terme van Ariel Sharon se plan vir ‘n eensydige onttrekking uit Gasa en die oordra van die beheer oor die gebied na die Palestynse Owerheid. As gevolg van die magstryd tussen Hamas en Fatah, asook die uitslag van plaaslike verkiesings, is die Gasastrook sedert 2006 deur Hamas beheer. Selfs ná hierdie onttrekking het die VN, menseregte-organisasies en verskeie internasionale liggame nog steeds vir Israel as ‘n besettingsmag in Gasa beskou omdat Israel beheer uitoefen oor Gasa se lugruim en waterbronne, en ook nie die vrye beweging van goedere na en van Gasa toelaat nie. (Einde van verkorte uittreksel uit die Wikipedia-artikel).
Dit is uit die oorsig hierbo baie duidelik dat die naam “Palestina” van Filistia afgelei is, die land van die antieke Filistyne. Dit was in die suidelike kusgebiede van Israel geleë, min of meer in die gebied van die huidige Gasastrook. Die Filistyne het in die laat vyfde eeu as ‘n aanduibare groep van die toneel verdwyn. Die toepassing van die term “Palestina” op die hele gebied wes van die Jordaanrivier was ‘n foutiewe en propagandistiese besluit deur die Romeine in ‘n poging om Israel se nasionale belange te ondermyn deur hulle van die regte op hulle grondgebied te ontneem.
Jerusalem is in 70 n.C. deur die Romeinse Ryk vernietig en 97 000 van die oorlewende inwoners is krygsgevange geneem. Dit was die begin van die wêreldwye verstrooiing van die Jode (die Diaspora). Ten spyte van hulle verpletterende neerlaag het die oorblywende Jode later weer probeer om hulle land terug te kry. Slegs 62 jaar ná die vernietiging van Jerusalem, in 132 n.C., het hulle in die Bar Kochba-rebellie die wapen teen hulle Romeinse onderdrukkers opgeneem. Tydens hierdie opstand wat 3½ jaar lank geduur het, het 580 000 Jode gesterf. Feitlik al die oorlewende Jode is uit hulle land verdryf. Die Romeine het selfs ‘n ploegskaar oor die verwoeste berg Sion getrek, en daardeur ‘n profesie in Miga 3:12 vervul. Jerusalem is afgebreek en verlate agtergelaat.
Die daaropvolgende verandering van die gebiedsnaam van die “Provinsie van Judéa” na “Siriese Palestina” was ‘n doelbewuste poging deur die Romeine in die tweede eeu ná Christus om Israel van hulle nasionale erfenis te vervreem en hulle naam in die Midde-Ooste uit te wis. Name soos Kanaän, Israel en Judéa wat vir eeue lank sterk gevestig was (in die geval van Kanaän vir meer as twee millennia) is oor die hoof gesien ten gunste van Palestina, die land van die uitgestorwe Filistyne. Palestina is verder ook nog verkeerdelik aan Sirië verbind.
Die Romeinse haatveldtog teen Israel, sowel as die gepoogde volksmoord teen hulle, is van harte deur al die omliggende nasies goedgekeur en hulle het spontaan begin om die naam Palestina te gebruik wanneer hulle na die land van die onderworpe of verstrooide Israeliete verwys het. Hierdie naam is algemeen gebruik tot en met die herstel van Israel in 1948. Dit was egter net die naam van ‘n gebied en nie van ‘n spesifieke volk wat na hulleself as Palestyne verwys het nie. Arabiere van Egiptiese, Siriese, Libanese en Transjordaniese herkoms het in die gebied rondgetrek, terwyl verspreide Joodse gesinne ook daar gewoon het. Dit was eers in 1928 dat sekere Arabiere wat in Palestina gewoon het, begin het om na hulleself as Palestyne te verwys. As gevolg van hierdie kunsmatig geskepte naam is daar selfs Palestynse geleerdes wat die geldigheid van die naam Palestina bevraagteken. Dave Hunt sê:
“So onlangs soos in die 1950’s het Arabiere geweier om Palestyne genoem te word. Een van die plaaslike Arabiese leiers wat in 1937 voor die Britse Peel-kommissie getuig het, het gesê: ‘Daar is nie so ‘n land soos Palestina nie. Palestina is ‘n term wat deur die Sioniste geskep is.’ Professor Philip Hitti, ‘n Arabiese historikus, het in 1946 só voor ‘n Anglo-Amerikaanse komitee van ondersoek getuig: ‘Daar is nie so-iets soos Palestina in die geskiedenis nie – absoluut nie!’ Ahmed Shukairy het in 1956 aan die VN se Veiligheidsraad verklaar: ‘Dit is algemene kennis dat Palestina niks anders is nie as Suidelike Sirië.’ Agt jaar later het Shukairy ‘n stigterslid en voorsitter van die Palestynse Bevrydingsorganisasie geword. Hy was egter nie ‘n ‘Palestyn’ nie – soos Arafat is hy in Egipte gebore” (The Islamic Threat to Israel, Part 1 – 2005.01.14).
Ná die 1956-oorlog teen Egipte het die politieke en militêre situasie in Israel spoedig weer kritiek geraak. Die onophoudelike vyandigheid van oorkant Israel se grense af het gespanne verhoudings met hulle buurlande geskep. Die Arabiere het geweier om vrede met Israel te sluit of om die nuwe staat te erken. Grensvoorvalle was aan die orde van die dag. Al Israel se pogings om die plofbare toestand te ontlont, het misluk.
Gedurende hierdie fase wat na die Sesdaagse Oorlog van 1967 gelei het, het daar ook ‘n interne bedreiging onder die Arabiere binne-in Israel ontstaan. Hulle het politieke voordele daarin gesien om hulleself as Palestyne te identifiseer wat daarna behoort te streef om hulle sogenaamde antieke tuisland weer terug te wen. Hulle het gevolglik begin om hulleself te verenig onder die banier van ‘n verontregte Palestynse volk wat dan ook deur verskeie Moslemleiers opgeroep is om te veg teen die Sionistiese en imperialistiese magte wat hulle land “onwettig” beset. Baie Arabiere uit buurlande is versoek om by die Palestyne aan te sluit en saam met hulle teen die Sionistiese besetting te veg. Hierdie nuwelinge het ook oornag Palestyne geword.
Die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PBO) is gestig en hulle het ‘n hoogs revolusionêre konstitusie aanvaar. Die volgende artikels, of dele van artikels, toon duidelik hierdie revolusionêre benadering aan:
Artikel 7. Dit is ‘n nasionale plig om individuele Palestyne op ‘n revolusionêre Arabiese manier groot te maak. Alle bronne van inligting en onderwys moet gebruik word om die Palestyn geestelik én materieel so deeglik as moontlik van sy land bewus te maak. Hy moet op ‘n gewapende stryd voorberei word en bereid wees om sy besittings én sy lewe op te offer om sy tuisland terug te wen deur die bevryding daarvan moontlik te maak.
Artikel 8. Die fase in hul geskiedenis waarin die Palestyne hulleself nou bevind, is dié van die nasionale stryd vir die bevryding van Palestina. Die konflikte tussen die Palestynse nasionale magte is sekondêr en moet gestaak word ter wille van die basiese konflik wat daar bestaan tussen die magte van Sionisme en imperialisme aan die een kant, en die Palestynse en Arabiese mense aan die ander kant. Die Palestynse bevolking – ongeag of hulle in hul nasionale tuisland of in verstrooiing in ander lande is – is individueel én in hulle organisasies die nasionale front vir die herwinning van Palestina en sy bevryding deur ‘n gewapende stryd.
Artikel 9. ‘n Gewapende stryd is die enigste manier waarop Palestina bevry kan word. Dit is die oorkoepelende strategie en nie slegs ‘n taktiese fase nie. Die Palestynse Arabiese mense bevestig hulle vasberadenheid en onwrikbare besluit om met die gewapende stryd voort te gaan, en om hulle vir ‘n gewapende populêre revolusie vir die bevryding van hulle land te beywer, asook vir hulle terugkeer daarheen.
Artikel 15. Die bevryding van Palestina, uit ‘n Arabiese oogpunt, is ‘n nasionale plig waardeur gepoog word om die Sionistiese en imperialistiese aggressie teen die Arabiese tuisland af te weer, en wat ook op die uitskakeling van Sionisme in Palestina gerig is.
Artikel 22. Sionisme is as ‘n politieke beweging ten nouste met internasionale imperialisme geassosieer, en as sodanig is dit antagonisties teenoor alle optredes vir die bevryding van progressiewe bewegings in die wêreld. Dit is rassisties en fanaties van aard, aggressief, ekspansionisties en kolonialisties in sy doelstellings, en Fascisties in sy metodes. Israel is die instrument van die Sionistiese beweging, en ‘n geografiese basis vir wêreldimperialisme wat strategies binne-in die Arabiese tuisland geplaas is om die hoop van die Arabiese nasie vir bevryding, eenheid en vooruitgang te beveg. Israel is ‘n konstante bron van bedreiging vir vrede in die Midde-Ooste én ook in die hele wêreld. Omdat die bevryding van Palestina die Sionistiese en imperialistiese teenwoordigheid sal vernietig en tot vrede in die Midde-Ooste sal bydra, verwag die Palestynse volk die ondersteuning van alle progressiewe en vreedsame magte in die wêreld. Daar word by hulle aangedring om, afgesien van hulle affiliasies en gelowe, hulp aan die Palestyne te bied in hulle regverdige stryd vir die bevryding van hulle tuisland.
Artikel 23. Die eise van veiligheid en vrede, sowel as die eise van reg en geregtigheid, eis van alle state dat hulle Sionisme as ‘n onwettige beweging sal beskou, om sy bestaan onwettig te verklaar en al sy aktiwiteite te verban.
Jodehaat blyk baie duidelik uit hierdie stellings, asook die feit dat daar geen toekoms van enige aard vir Jode in Palestina voorsien word nie. Volgens die Palestyne beslaan hulle land die hele gebied tussen die Middellandse See en die Jordaanrivier, terwyl dit in die noorde aan Libanon grens en in die suide aan Egipte. Hulle maak konstitusioneel geen voorsiening vir ’n sogenaamde tweestaatoplossing nie, daarom word daar nie erkenning aan Israel gegee nie.
Enige latere besluite om Israel te erken en vredesverdrae met hulle te sluit, word geregverdig in terme van ’n langtermyn strategie om hulle uiteindelik uit die hele land te verdryf. Die voormalige PBO-leier, Jasser Arafat, het gesê: “We will take Israel piece by piece by peace.”
Palestynisme het sinoniem met Jodehaat en die totale uitwissing van Israel geword, ongeag of dit bereik word deur vredesooreenkomste wat groot toegewings van Israel afdwing, ‘n terroristestryd, ‘n volskaalse oorlog, of ‘n kombinasie van hierdie metodes. Die revolusionêre doelwitte van die Palestyne is spoedig deur al die Moslemlande, veral in die Midde-Ooste, aanvaar, ondersteun en gefinansier. Die vestiging van ‘n Palestynse staat met Jerusalem as hoofstad het die visie van alle Moslems geword, omdat hulle dit as ‘n beheersentrum vir ‘n toekomstige Islamitiese wêreldstaat sien.
Soos wat die tyd aangaan, is Jodehaat besig om wêreldwyd toe te neem. (Die skrywer van hierdie artikel verkies om nie die term antisemitisme te gebruik nie, omdat die Arabiere ook Semitiese volke is, en hulle is nie teen hulleself gekant nie. Hierdie term is in die 1930’s deur Hitler gepopulariseer toe Israel die enigste belangrike Semitiese volk was). Die Jode word steeds as die werklike aggressors bestempel, wat die oorsaak vir al die probleme en oorlogvoering in die Midde-Ooste is.
Selfs die voormalige vriende van Israel, soos Amerika en Engeland, is geleidelik besig om die rug op die Joodse staat te draai deur meer en meer steun aan die Palestyne te gee. Hulle dring aan op ‘n tweestaatoplossing wat onder andere vereis dat Israel na pre-1967 grense onttrek. Dit beteken dat groot dele van Samaria en Judéa, insluitend Oos-Jerusalem (die hele Wesbankgebied) na die Palestyne oorgedra moet word.
John Haupt sê: “Dit moet die Here eindeloos bedroef dat die Joodse staat reeds soveel van hulle erfenis aan die Arabiere weggegee het. Christene is ook gegrief en selfs vererg wanneer hulle sien dat Bybelse plekke soos Betlehem, Betánië, Hebron en Jérigo in Palestynse hande is. God het Israel gehelp om in die Sesdaagse Oorlog in 1967 te oorwin sodat hulle hul hele erfenis kon terugkry, maar hulle voormalige en huidige leiers is deur hulle sogenaamde vriende bedrieg om te glo dat hulle grond vir vrede kan verruil. Saam is hulle nou besig om ‘n aparte Palestynse staat binne die geografiese grense van Israel te vestig. Hulle hoop dat dit die Arabiese wêreld finaal tevrede sal stel, maar dwase denke van hierdie aard kom op selfmoord neer” (The End of the Matter: A Christian Perspective on the Middle East, bl. 65).
Baie druk is op Israel uitgeoefen om hierdie toegewings te maak.
Nou, aan die begin van 2011, is voorbereidings vir die vestiging van ‘n Palestynse staat voor die einde van hierdie jaar in ‘n gevorderde stadium. Die Palestynse Owerheid word nie ontmoedig deur die feit dat hulle onderhandelings met Israel ‘n dooiepunt bereik het nie, en maak na bewering nou planne vir ‘n eensydige onafhanklikheidsverklaring. Hulle het die internasionale diplomatieke klimaat beoordeel en is vol vertroue dat al die groot moondhede hulle stap sal ondersteun.
In ‘n artikel, America, Russia implicitly recognize Palestinian State (Israel Today, Jan. 19, 2011), skryf Ryan Jones:
“Die VSA en Rusland volg die voorbeeld van ‘n groeiende aantal Suid-Amerikaanse lande deur stappe te doen om openlike erkenning aan ‘n Palestynse Arabiese staat op die antieke Joodse grondgebied van Judéa en Samaria te gee. Die Russiese president, Dimitry Medvedev, het tydens sy besoek aan die Palestynse Owerheid aan die pers in Jérigo gesê dat Rusland reeds ‘n Palestynse staat erken het toe Jasser Arafat in 1988 die eerste keer onafhanklikheid verklaar het. ‘Ons het die vestiging van ‘n onafhanklike Palestynse staat met Oos-Jerusalem as hoofstad sedert die vorige eeu ondersteun, en ons ondersteun dit nog steeds,’ het Medvedev gesê.
“Palestynse amptenare het Medvedev se opmerkings as histories bestempel en Rusland van harte bedank omdat hulle hul by die koor van stemme gevoeg het wat ‘n Palestynse staat sal erken sonder ‘n vredesooreenkoms met Israel. Die Russiese leier se verklaring was ‘’n historiese gebeurtenis waarop die Palestyne vir ‘n baie lang tyd trots sal wees,’ het die hoof Palestynse onderhandelaar, Saeb Erekat, gesê. Medvedev se besoek was ook besonders omdat dit die eerste keer was dat die leier van so ‘n groot wêreldmoondheid slegs die Palestynse Owerheid besoek het sonder om eers in Israel te toer en met dié land se leiers te onderhandel. Medvedev het betekenis aan sy woorde gegee deur die Palestynse Owerheid as ‘n soewereine staat te behandel.
“Ure later het die Obama-administrasie die Palestyne toegelaat om vir die eerste keer hulle vlag oor die Palestynse Owerheid se diplomatieke sending in Washington te hys, en daardeur hulle sending in ‘n nasionale ambassade te omskep. Republikeinse beamptes was ontsteld oor hierdie gebeurtenis. Verteenwoordiger Ileana Ros-Lehtinen (Republikein, Florida) het opgemerk dat ‘die hys van hierdie vlag in Washington DC deel is van die Palestynse leierskap se plan om deur manipulasie internasionale aanvaarding en diplomatieke steun vir ‘n Palestynse staat te kry wat nog nie geskep is nie, terwyl hulle weier om direk met Israel te onderhandel of om die bestaan van Israel as ‘n demokratiese, Joodse staat te erken.’ Ileana, wat hoof van die Huis se Komitee vir Buitelandse Sake is, sê dat die Palestyne glo hulle kan aanhou om toegewings te verkry sonder om aan internasionale verpligtings te voldoen, en dat Obama besig is om in hulle hand te speel.” (Einde van aanhaling).
Die Palestynse minister van buitelandse sake, Riyad al-Maliki, het in Januarie 2011 gesê dat die meerderheid van die internasionale gemeenskap ‘n onafhanklike staat teen September sal ondersteun. Hy het aan ‘n groep Palestynse joernaliste gesê dat die Spaanse minister van buitelandse sake hom verseker het dat die Europese Unie hulle erkenning vir Palestina aan die begin van September 2011 sal aankondig. Palestynse leiers is met ‘n groot internasionale diplomatieke veldtog besig om wêreldleiers aan te moedig om hulle as ‘n onafhanklike nasie met pre-1967 grense te erken.
Volgens die Jerusalem Post van 23 Januarie 2011 het die Palestynse hoofonderhandelaar, Saeb Erekat, bevestig dat ‘n Palestynse staat gou geskep gaan word. Hy het gesê: “’n Palestynse staat kom, met 1967-grense en Oos-Jerusalem as hoofstad. Israel kan dit nie meer keer nie.”
President Obama en sy administrasie ondersteun hierdie inisiatief sterk agter die skerms. Volgens berigte het mnr. Obama persoonlik aan koning Abdullah van Saoedi-Arabië belowe dat Israel gedwing sal word om Judéa, Samaria en Oos-Jerusalem voor die einde van sy bewindstermyn aan die Palestyne oor te dra.
Mahmoud Abbas het egter gesê dat die Palestynse Owerheid nie ‘n eensydige onafhanklikheidsverklaring sal doen nie. In ‘n onderhoud met Al-Jazeera het hy gewaarsku dat indien daar nie teen September enige vordering gemaak is nie, daar gevaarlike gevolge kan wees wat na ‘n Intifada (Palestynse opstand) kan lei.
Die roeping van Israel het by Abraham begin, wat die stigter van Israel is. God het aan hom gesê: “Slaan tog jou oë op en kyk van die plek waar jy staan, na die noorde en suide, na die ooste en weste; want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid” (Gen. 13:14-15). Hierdie belofte oor die land is later aan Isak en Jakob bevestig (Gen. 26:3; 28:13).
In ‘n baie besondere sin is hulle die uitverkore volk van God. Hy het hulle geroep om ‘n heilige volk te wees en hulle na die Beloofde Land gelei. Dit is dieselfde, onveranderlike Verbondsgod van Abraham, Isak en Jakob wat Israel in die eindtyd in die land van hulle vaders sal herstel. Let daarop hoe uitdruklik Israel se eienaarskap oor die land in die volgende Skrifgedeelte gestel word:
“Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste... En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My ‘n volk en Ek sal vir julle ‘n God wees” (Eseg. 36:24-28).
Die land waarheen Israel ná hulle lang ballingskap terugkeer, word steeds deur God Israel genoem en nie Palestina nie: “So spreek die Here HERE: Ek sal julle bymekaarmaak uit die volke en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, en Ek sal aan julle die land Israel gee” (Eseg. 11:17).
Hou in gedagte dat “Israel” dié belangrike onderwerp van die Bybel is. Die woord ‘Israel’ kom 2 565 keer in 2 293 verse voor. Meer as genoeg profesieë is in Israel se unieke geskiedenis vervul om te bewys dat die God van Israel (203 keer) die ware God is” (Dave Hunt: Judgement Day Approaching, 15 Feb. 2010). In verband met die Palestynse eise ten opsigte van die land, sê Dave Hunt:
“Die land waarheen God vir Abraham gebring het en wat Hy aan hom en sy nageslag gegee het, is ‘Kanaän’ genoem (Gen. 12:5; 6:8; 13:7-17, ens.). Daar was nie so ‘n land soos Palestina nie en ook nie ‘n Palestynse volk nie. Die vroeë inwoners van die land was die Keniete, Kenissiete, Kadmoniete, Hetiete, Feresiete, Refaïete, Amoriete, Kanaäniete, Girgasiete en Jebusiete. God het nooit ‘n land wat Palestina genoem is, aan Abraham en sy nageslag belowe nie. Die enigste land wat Hy beloof het, was Kanaän: ‘En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou... die hele land Kanaän as ‘n ewige besitting gee’ (Gen. 17:8). ... Selfs al was daar ‘n land Palestina waarin Palestyne gewoon het, kon die Arabiere onmoontlik nie van hulle afgestam het nie. Hulle maak aanspraak op afkoms vanaf Ismael, en hy was beslis nie ‘n Palestyn nie. Sy vader Abraham het uit Ur van die Chaldeërs gekom en sy moeder was Hagar, ‘n Egiptenaar. Nie een van hulle was ‘n oorspronklike inwoner van Kanaän nie, en nie eers vaagweg verwant aan só ‘n volk nie. Die land was reeds bewoon toe Abraham, sy vrou Sara en haar diensmeisie, Hagar, daar aangekom het” (The Islamic Threat to Israel, Part 1 – 14 Jan. 2005).
Israel se goddelike mandaat oor die land impliseer sekerlik dat God die nasies sal oordeel wat weier om Israel se Bybelse reg op die land te erken, en wat hulle daaraan skuldig maak om Israel te vervolg, van sy Godgegewe erfenis te verdryf, of wat probeer om die land tussen Israel en sy Arabiese vyande te verdeel. God sê: “Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ‘n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het” (Joël 3:1-2).
Dave Hunt sê: “In Sagaria 12:2-3 verklaar God: ‘Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot ‘n beker van bedwelming, en ook teen Juda sal dit wees tydens die beleëring teen Jerusalem. En in dié dag maak Ek Jerusalem tot ‘n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word’. Dit is ‘n verbasende profesie, want Jerusalem was in daardie stadium in puin, maar nogtans sou dit vir die hele wêreld ‘n struikelblok word, en al die volke sal teen die stad vergader word. Daar was wel baie oorloë in die verlede, maar dit is nou die eerste keer in die geskiedenis dat ‘n groot aantal vyande van oor die hele wêreld teen Israel saamspan... Daar is geen twyfel oor die uitkoms van hierdie stryd nie, maar albei kante sal ‘n duur prys betaal: Israel sal kwaai gestraf word vir hulle rebellie, maar hulle vyande sal vernietig word. Net soos wat die Bybel voorspel het, is Jerusalem ‘n struikelblok vir alle volke in die hele wêreld. Meer as 60 000 individuele stemme is in die VN teen Israel uitgebring. Hierdie klein volkie wat maar ‘n duisendste van die wêreldbevolking verteenwoordig, neem ‘n derde van die VN se tyd in beslag – inderdaad ‘n struikelblok! ... Die Bybel verklaar dat alle volke in die laaste dae teen Israel sal optrek, maar dat hulle in die slag van Armageddon vernietig sal word: ‘Want Ek sal al die nasies [en dit sluit Amerika in] versamel om oorlog te voer teen Jerusalem, en die stad sal ingeneem word... En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies’ (Sag. 14:2-3) ... Daar is nie ‘n meer paslike plek én manier om die nasies te vernietig wat Israel misbruik en vertrap het nie, want hulle sal in die gees van Satan kom om eens en vir altyd Hitler se ‘finale oplossing vir die Joodse probleem’ uit te voer.” (Judgement Day Approaching, 15 Feb. 2010).
Dit is duidelik dat die opbouende konflik tussen Israel en die Palestyne ‘n baie sterk godsdienstige basis het. Satan is die teëstander van God en opponeer God op elke moontlike manier. Hy wil heerskappy oor die heelal voer en ook as die God van hierdie wêreld aanbid word (vgl. 2 Kor. 4:4). Om dit te kan doen, het hy ‘n valse monoteïstiese godsdiens nodig wat onder die beheer van een God staan. Hierdie “God” het die volle samewerking nodig van profete wat ‘n valse vrede verkondig, maar terselfdertyd nie sal huiwer om militêre geweld en die ergste vorms van marteling te gebruik om alle mense aan die eise van hulle God te onderwerp nie. Islam is só ‘n monoteïstiese godsdiens en sy hartland is bie goed in die Midde-Ooste geposisioneer om so ‘n rol te kan vervul.
Islam bied aan die wêreld ‘n ander Skepper-God, Allah, wat dit baie duidelik stel dat hy nie ‘n seun het waardeur hy homself aan die wêreld openbaar nie – net ‘n profeet, Mohammed. Die bevele van hierdie ‘ander God’ is nie in die Bybel opgeteken nie, maar in die Koran. Die belangrikste metode waardeur hierdie godsdiens versprei word, is om die Koran se weergawe van Allah se handelinge met die mensdom te verkondig, asook sy eise vir dienstigheid en aanbidding. In die proses word daar ‘n baie sterk standpunt teen die Bybel-gebaseerde monoteïstiese geloof van die Jode en Christene ingeneem.
Islam beskou alle nie-Moslems as ongelowiges en het dikwels in die geskiedenis van intimidasie, geweld en militêre metodes gebruik gemaak om ongelowiges oral op aarde aan die gesag van Allah te onderwerp. Selfs sogenaamde gematigde Moslems verdedig die Koran, waarin geweld teen Jode en Christene aangemoedig word. Betrokkenheid by ‘n heilige oorlog (jihad) word as ‘n verhewe doel gesien om Allah se gesag op ongelowiges af te dwing, en ook om hulle vir hul afwykende gedrag en godslastering te straf.
Vir die meeste van die Palestyne en hulle radikale ondersteuners – veral in Libanon, Sirië en Iran – is dit ten volle geregverdig om ‘n heilige uitwissingsoorlog teen Israel en hulle Christelike ondersteuners te voer. Hierdie veldtog is nie alleen daarop gerig om alle opposisie uit te wis nie, maar ook om op God se heiligdomme beslag te lê en hulle aan Allah toe te wy. Dit beteken dat Israel uitgewis en hulle belangrikste heiligdom, die Tempelberg, slegs aan die diens van Allah toegewy moet word. Israel weet wat die bedoelings van hulle bose vyande is:
“o God, hou U nie stil nie, swyg nie en rus nie, o God! Want kyk, u vyande maak rumoer, en u haters steek die hoof op. Teen u volk smee hulle listig ‘n plan en hou onder mekaar raad teen u verborgenes. Hulle sê: Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie. Want hulle het van harte saam raad gehou; teen U sluit hulle ‘n verbond: die tente van Edom en die Ismaeliete, Moab en die Hagareners, Gebal en Ammon, en Amalek, Filistia saam met die inwoners van Tirus. Ook het Assur by hulle aangesluit... [hulle] sê: Laat ons die woninge van God vir ons in besit neem! My God, maak hulle soos strooi, soos stoppels voor die wind” (Ps. 83:2-9, 13-14).
As ‘n alternatiewe godsdiens wat daarop ingestel is om Judaïsme en die Christendom te vervang, het Islam homself daaraan toegewy om Israel deur ‘n Palestynse volk te vervang, om Jerusalem te verander van die Joodse hoofstad na die hoofstad van ‘n Islamitiese wêreldstaat, en om te verseker dat die tempel van die Jode nie gebou word nie sodat die hele Tempelberg deur hoë profiel moskees beset kan word. Daar is verskeie radikale groepe in Israel wat die vlamme van ‘n Islamitiese revolusie aanblaas. Die volgende is net een voorbeeld daarvan. Scott Shiloh (Arutz Sheva, 16 Nov. 2005) sê:
“Moslem radikaliste gebruik die Tempelberg as ‘n fokuspunt om die vestiging van ‘n wêreldwye Moslemstaat met Jerusalem as hoofstad te beplan en te verkondig. Een van die revolusionêre groepe wat op die Tempelberg aktief is, is Hizab Altahrir (Die Islamitiese Bevrydingsparty). Hulle huldig ‘n ideologie wat soortgelyk aan dié van Al Qaeda is, en het reeds ‘n netwerk in die meeste Europese lande gevestig. Die bevordering van Islamitiese propaganda en ‘n vaste verbintenis tot ‘n jihad is bo-aan hulle politieke agenda. Die groep beywer hom vir die onderwerping van die hele wêreld aan die Islamitiese wet (sharia), asook die vernietiging van alle nie-Islamitiese nasies en godsdienste. Die Islamitiese Bevrydingsparty het Europa vir die aktiewe verspreiding van sy ideologie geteiken...
“Sjeik Riyad Salah, die hoof van die Islamitiese Beweging in Israel, verkondig ook aktief die beginsels van ‘n Islamitiese revolusie. ‘Ons staan voor die poorte van ‘n Islamitiese revolusie,’ sê hy aan die Arabiere van Israel. ‘Die wêreldwye magte van boosheid sal in ‘n Islamitiese revolusie uitgeskakel en deur ‘n Islamitiese wêreldstaat vervang word, met Jerusalem as hoofstad’... Salah se organisasie het bygedra tot pogings om Arabiese moskees op die Tempelberg te restoureer, en ook om Joodse oudhede op die Tempelberg te vernietig. Duisende van die jong Arabiere in die Palestynse gebiede neem deel aan die party se jeugbeweging onder die opruiende slagspreuk van Byeenkomste om Revolusie te Verkondig. Hierdie beweging het onlangs naby die Rotskoepel op die Tempelberg ‘n banier gespan met die volgende woorde: Revolusie is ‘n opdrag van Allah. Die jeuggroep is deur ander partylede begroet met die woorde: Volgende jaar in Jerusalem, onder die beheer van die Islamitiese Revolusie.”
Israel, Jerusalem, en meer spesifiek die Tempelberg en die Olyfberg, is bestem om ‘n baie belangrike rol in Joodse, Christelike, sowel as Islamitiese eskatologie te speel. Die Jode verwag dat die Messias sy voete op die Olyfberg sal sit gedurende ‘n groot oorlog teen Israel (Sag. 14:1-5). Christene weet dat hierdie profesie vervul sal word tydens die wederkoms van Jesus, wat nie slegs die Messias van Israel is nie maar ook die Verlosser van die hele wêreld. Moslems verwag dat ‘n ‘ander Jesus’ - hy sal nie die seun van God wees nie, maar net die seun van Maria - sy verskyning in Jerusalem sal maak. Hy sal in die voetspore van sy ’broeder’ Mohammed volg deur die wêreld te Islamiseer. Uit ‘n Bybelse oogpunt sal hy die Antichris wees.
Jack Kelley van m www.gracethrufaith.com sê: “Soos wat daar meer besonderhede oor die Islamitiese eskatologie bekend word, ontdek studente van Bybelse profesieë ‘n treffende ooreenkoms tussen die Moslem messias, die Al Mahdi, en die persoon wat deur Christene as die Antichris beskryf word. Albei van hulle sal in ‘n tyd van groot onrus op aarde op die toneel verskyn, albei van hulle sal die begeerte uitspreek om die vrede op aarde te herstel, albei sal sewe jaar lank regeer, albei sal aan die hoof van ‘n wêreldregering en ‘n wêreldgodsdiens staan, albei sal op ‘n bonatuurlike oorsprong aanspraak maak, en albei se bewindstermyne sal eindig in ‘n groot oorlog tussen goed en kwaad wat na ‘n oordeel oor die aarde sal lei.”
Kelley brei verder op die Openbaring van die Antichris uit in terme van profesieë in Openbaring 6: “En toe Hy die tweede seël oopgemaak het, hoor ek die tweede lewende wese sê: Kom kyk! En ‘n ander perd, ‘n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en ‘n groot swaard is aan hom gegee” (Op. 6:3-4). Dit is die oomblik wanneer die Antichris homself tot militêre geweld sal wend om sy gesag oor menslike regerings te vestig en die hele wêreld te dwing om net sy geloof te beoefen. Volgens Moslem profesieë sal hierdie geloof Islam wees, en die Koran hou bekering of die dood as die enigste twee alternatiewe aan ongelowiges voor. Huidige studies dui daarop dat Europa reeds diep in die post-Christelike era is, en dat die meeste mense gereed is om die groeiende Moslem invloed te aanvaar. In ander dele van die wêreld sal Islam teëgestaan word, en dit sal na baie bloedvergieting lei.”
In die lig van hierdie belangrike geloofsvorms word die Midde-Oosterse konflik tussen Israel, die Palestyne en ander Moslemnasies na ‘n vlak verskuif waar dit die potensiaal het om die wêreld soos wat ons dit ken, radikaal te verander. Daar kom twee wesenlik verskillende, Jerusalem-gebaseerde nuwe wêreldordes – die een antichristelik en die ander een Christelik. Die valse messias sal sewe jaar lank oor die eerste ryk regeer. Hy sal Israel mislei en misbruik, en uiteindelik probeer om hulle uit te wis wanneer hulle hul verbond met hom beëindig. Hy sal aan die hoof van die herstelde Romeinse Ryk staan en die besluit bevestig wat sy vroeë voorgangers in antieke tye geneem het om God se land van Israel na Palestina te verander, en ook om ten nouste met Israel se vyande te assosieer. Hy sal al sy mag tot misleiding gebruik om Israel by sy multigodsdienstige nuwe wêreldorde te betrek, en wanneer hulle uiteindelik tot hulle sinne kom en hom verwerp, sal hy ‘n volksmoord teen hulle gelas.
Die daaropvolgende nuwe wêreldorde sal Christelik wees en kort ná die wederkoms van Christus gevestig word (Jes. 2:2-4; Jer. 3:17; Sag. 8:22-23; Hand. 15:16-17; Op. 19:15-16). In hierdie bedeling van die koninkryk sal die geestelik herstelde oorblyfsel in Israel ‘n belangrike rol vervul (Jes. 27:6; 28:5; 62:1-7). ‘n Oorblyfsel van die nasies sal ook gered word wanneer die ware Messias kom, en hulle sal Hom in die millennium saam met Israel dien (Jes. 19:18-25).
Volgens Thomas Ice in sy artikel Christian Palestinianism, is daar ‘n ander groot gevaar waardeur Israel bedreig word, en dit word Christelike Palestynisme genoem. Dit is ‘n Christelike beweging wat homself téén Israel en ten gunste van die Palestyne uitspreek. Hierdie liberale teologiese denkrigting is ‘n teenvoeter vir Christelike Sionisme, wat daarop ingestel is om Israel se regte uit die Bybel te beklemtoon en hulle vir die volle herstel van Israel in ‘n onverdeelde land te beywer. Christelike Palestynisme propageer ‘n antichiliastiese en anti-Joodse teologie waarin die herstelde Israel geen rol speel nie, en die Palestyne as die regmatige en wettige eienaars van die hele Palestina beskou word, sonder enige staat van Israel in die Midde-Ooste. Dit is dus ‘n soort bevrydingsteologie vir die Palestyne. Baie van die Palestynse Christene het hierdie polities-georiënteerde bevrydingsteologie aanvaar en beoefen dit ter wille van hulle nasionale voortbestaan. Dit is sterk anti-dispensasioneel. Baie van die Palestynse Christene lees nie eers die Ou Testament nie, weens die sentrale rol wat Israel gedurende die dispensasie van die wet gespeel het. Sommige van hulle lees daaruit, maar slegs selektief. Hulle erken geen verband tussen Bybelse Israel, die huidige Jode en die moderne staat van Israel nie.
Daar is ‘n baie groot gevaar verbonde aan Palestynisme in die teologie. ‘n Egiptiese skrywer, Bat Ye’or, sluit in haar boek, Eurabia, wat oor die Islamisering van Europa handel, ‘n hoofstuk in oor die Islamisering van die Christendom. Volgens haar baan Palestynisme die weg na die Islamisering van die kerk. Dit is ‘n vorm van vervangingsteologie waarin Israel deur die Palestyne vervang word. In die proses word die vier Evangelies van hulle Joodse verband losgemaak en aan die Palestyne gekoppel om die Nuwe Testament vir Islam meer aanvaarbaar te maak. Daar word van Jesus ‘n Palestynse Verlosser gemaak.
‘n Britse Jodin, Melanie Phillips, het in 2006 ‘n boek getiteld Londonistan gepubliseer, waarin sy die Engelse waarsku dat Islam besig is om hulle land en kultuur oor te neem, hoofsaaklik omdat die kerk begin het om pro-Islamities en in stryd met die historiese Christendom te raak. Sy beskryf die opkoms van Palestynisme só: “Toe Arabiese Christene begin het om die Bybel te herinterpreteer sodat die Jode nie ‘n geldige aanspraak op die land Israel het nie, het dit in die Anglikaanse Kerk na die vervangingsteologie aanleiding gegee. Hulle het toe besluit dat die Palestyne die oorspronklike bewoners van die land Israel is, en dat hulle die ware ‘Israel’ is.”
In hierdie nuwe vorm van vervangingsteologie word Israel nie net met die kerk vervang nie, maar spesifiek ook met Palestynse Christene. In die proses word die Bybel van baie van sy basiese uitsprake oor Israel beroof en geleidelik in terme van die Koran geherinterpreteer. Donald Wagner (Dying in the Land of Promise: Palestine and Palestinian Christianity from Pentecost to 2000; London, 2003) beweer verkeerdelik dat omtrent die helfte van die bevolking van Israel in die tyd van Jesus nie Jode was nie, en op grond hiervan maak hy die aanname dat Arabiese Christene die biologiese afstammelinge van die vroeë kerk van Handelinge 2 in Jerusalem is. Die kerkvader Eusebius bevestig egter in sy boek oor die kerkgeskiedenis dat die vroeë kerk feitlik 100% Joods was.
Hank Hanegraaff van die Christian Research Institute het ook dispensasionalisme en die herstel van Israel verwerp en verkondig nou Palestynisme. Hy beskuldig Israel dat hulle die etniese uitwissing van die Palestyne beoog, en beskryf ondersteuners van Israel as rassiste. Dit is egter duidelik dat die Bybel die fisiese én geestelike herstel van Israel in hulle eie land leer. Persone wat hierteen beswaar maak, open die deur na die vervangingsteologie en die toenemende aanvaarding van Islamitiese standpunte.
Christelike kerke sal moet besluit of hulle die Bybel letterlik glo. Indien wel, is hulle daartoe verbind om Israel te aanvaar as ‘n volk in eie reg, aan wie alleen die belofte gemaak is om die hele land van Israel vir altyd te bewoon. Hulle ongeloof het wél na die Diaspora gelei, maar die Here bring hulle nou terug om hulle ook geestelik te herstel en ‘n seën vir die hele wêreld te maak (Rom. 11:1-32).
Israel se toekoms is nie in die hande van die ortodokse Jode wat steeds die Messias verwerp nie, maar in die hande van die Messiaanse Jode wat vir Jesus as Messias aanvaar het en dien. Hoewel hulle ‘n klein minderheidsgroep is, voorspel die Bybel groot en wonderlike dinge vir hulle. Ons moet hulle ondersteun sodat hulle getuienis aan ongeredde Israeli’s duidelik en ondubbelsinnig sal uitgaan. Volgens die Bybel sal die hele oorblyfsel van Israel uiteindelik vir Jesus as Messias aanneem. Moenie jouself by die vyande van Israel voeg nie, want volgens Genesis 12:3 rus die oordele van die Here op sulke mense.
Verskeie Westerse leiers is slagoffers van Islam se valse propaganda wat dit as ‘n vreedsame geloof beskryf. In sy nuusbrief, The Berean Call van November 2006 (bl. 3-4), sê Dave Hunt die volgende:
“Die pous se jammerlike verskoning aan Moslems omdat hy deur die waarheid aanstoot aan hulle gegee het, is ‘n verdere voorbeeld van hoe die Weste voortgaan om deur Moslem dreigemente geïntimideer te word om op ‘n skynheilige wyse die skokkende waarhede oor Islam te ontken. Moslems behoort hulle te skaam omdat hulle ‘god’ loon in die paradys belowe aan mense wat onskuldige vrouens en kinders vermoor.
“‘n Mens sal ver moet soek om enige plek in die wêreld terrorisme te kry waarvoor Islam en Moslems nie verantwoordelik is nie. Nogtans gaan hulle met hul verskriklike leuens voort om Islam aan vrede te verbind en terselfdertyd almal wat die waarheid oor hulle vertel, te dreig: ‘As jy dit sou waag om Islam te kritiseer deur dit as ‘n godsdiens van geweld voor te stel, sal ons jou doodmaak om te bewys dat dit ‘n godsdiens van vrede is!’
“Die skandalige feit dat Westerse leiers soos Bush, Blair, Chirac, Billy Graham en die pous voortgaan om na aanleiding van sulke dreigemente vir Islam as ‘n godsdiens van vrede te prys, is ernstige verraad teen hulle eie verantwoordelikheid. Hierdie oorgawe aan Islam se afpersing sal noodwendig na die volledige Islamisering van die Westerse wêreld lei, en die gevolglike verlies aan die vryhede wat vir ons so belangrik is. In Europa, en veral in Engeland, het Islamisering reeds die punt bereik waarin dit nie meer gestuit kan word nie, en Amerika is nie ver agter hulle nie...
“Ons is betrokke by ‘n oorlog tot die dood toe – nie teen terroriste en ekstremiste wat, soos president Bush sê, ‘n vreedsame geloof gekaap het nie, maar teen Islam self. Dit is ‘n feit wat die Weste weier om te erken. Die ‘polities korrekte’ leuens wat so populêr in die Weste is, moet verwerp word. Ons is besig om hierdie oorlog te verloor, en sal aanhou om dit verloor totdat die Weste die waarheid erken dat terrorisme wat deur Moslem ekstremiste gepleeg word, nie ons werklike vyand is nie, maar die gewelddadige godsdiens van Islam...
“Die Koran, wat Mohammed volgens sy eie aanspraak deur bemiddeling van die engel Gabriël van Allah af ontvang het, het meer as 100 verse in waardeur die gebruik van geweld beveel word om mense dood te maak en die wêreld oor te neem. Een daarvan is: ‘Maak die afgodedienaars dood [dit is almal wat vir Allah as die enigste god en Mohammed as sy profeet verwerp] waar julle hulle ook al kry... beleër hulle en lê vir hulle hinderlae’ (Sura 9:5).” (Einde van aanhaling)
Nie net die Palestyne nie, maar ook verskeie Arabiese lande, word deur ernstige binnelandse onrus geteister as gevolg van politieke spanning en ‘n magstryd, verkiesingsbedrog, godsdienstige verskille (veral tussen die Soennie en Sjiïtiese faksies van Islam), korrupsie in regerings, ekonomiese probleme soos armoede en werkloosheid, ens. Lande soos Egipte, Tunisië, Libanon en Irak verkeer in ernstige wanorde wat aan anargie grens. Een van Israel se gevaarlike vyande, Hisboellah, is besig om hulle politieke posisie te versterk deur beheer oor Libanon te verkry. Dit is ‘n onheilspellende verwikkeling omdat hulle as frontorganisasie optree vir Sirië en Iran in hulle voortgesette stryd teen Israel.
Die Palestynse Owerheid het in die afgelope tyd nog verder onder sy eie mense van sy skrale geloofwaardigheid verloor as gevolg van die uitlek van die Palestina-dokumente aan Al-Jazeera. Uit hierdie dokumente is dit duidelik dat die lotgevalle van die vier tot vyf miljoen Palestynse vlugtelinge nie ernstig deur die Palestynse Owerheid in oorweging geneem word nie. Ander kompromieë wat hulle met Israel maak, is ook vir hulle eie mense onaanvaarbaar. Die kloof tussen die Hamas- en Fatah-faksies van die Palestynse Owerheid is besig om te verdiep as gevolg van die klaarblyklike onvermoë van voorsitter Mahmoud Abbas om werklike vordering in die rigting van Palestynse onafhanklikheid te maak. Hoe gaan die Palestyne hierdie politieke dooiepunt oplos? Dit lyk of intervensie van buite af onafwendbaar is.
Die Palestynse dokumente toon sonder enige twyfel aan dat Amerika ‘n swak onderhandelaar in die Israeli/Palestynse konflik is. Die Obama-administrasie word nou as selfs swakker as die vorige Bush-administrasie beskou. Obama doen niks om die Palestynse eise teë te staan nie, maar hy doen ook nie veel om dit aktief te bevorder nie. Dit mag net wees dat Amerika se rol sal afneem en dat die Arabiere hulle vir hulp na Rusland sal wend om hulle oogmerk te verwesenlik.
Een baie sekere gevolg van die onlangse gebeure is dat die Palestynse konflik nuwe prominensie in die oë van die wêreld gekry het, daarom sal voorbereidings vir Palestina se onafhanklikheid in die toekoms ernstiger nagestreef word. Die rolspelers sal dalk verander, en heel waarskynlik sal dit ook gebeur, maar die Palestynse droom sal lewendig gehou word. Daar is selfs tekens dat die proses nuwe dryfkrag kry, selfs tot dié mate dat daar radikale leiers is wat die tweestaatoplossing verwerp ten gunste van ‘n eenstaatoplossing. Stemme gaan op vir ‘n onverdeelde Palestina waarin daar geen staat van Israel is nie, maar waarin Jode welkom sal wees om aan te bly. Die grense van die nuwe staat sal egter vir die vyf miljoen Palestynse vlugtelinge oopgegooi word, en dit is nie moeilik om te raai wat die ekonomiese en politieke gevolge van so ‘n verwikkeling sal wees nie. Hou in gedagte dat daar steeds sewe tot agt miljoen Jode verspreid in die res van die wêreld woon, en hulle het sekerlik die reg om na hulle antieke tuisland terug te keer.
Daar is goeie redes waarom die Israeli/Palestina konflik ‘n prominente plek op die wêreldverhoog inneem. Gebeure wat met die opkomende nuwe wêreldorde in verband staan, fokus baie sterk op Palestina, Israel, en meer spesifiek die stad Jerusalem. Ten spyte van die feit dat die Palestyne nie histories belangrik is en ook nie etnies ‘n duidelik omskrewe en hegte volk is nie, bevind hulle hulself in dié gebied waar die toekoms van die wêreld bepaal gaan word. Hulle eise vir nasieskap word deur die magte van die duisternis gebruik om invloed te verkry in die land en stad wat deur God bestem is om die middelpunt van die Messias se wêreldregering te wees.
Dit is ‘n verbysterende feit dat die magte van die duisternis reeds sodanig deel van die moderne wêreld geword het, dat nie net Islam nie, maar ook Rooms-Katolisisme, vervalle Protestantisme, sowel as die VN, die EU en feitlik alle politieke leiers in die wêreld die saak van die Palestyne steun. Dit vereis die verdeling van die land Israel, die geleidelike verswakking van Israel se posisie, en uiteindelik hulle verdwyning van die wêreldtoneel af. Geen wonder nie dat die God van Israel spoedig in hierdie ernstige konflik tussenbeide sal tree om dié nasies te oordeel wat Israel verwerp en vervolg het en daardeur ook die God en Messias van Israel, asook sy Woord, geminag het.
Die onvermoë van die huidige leierskap van die Palestynse Owerheid verhoog die moontlikheid van eksterne intervensie in die finale bereddering van hulle saak, wat as van kritieke belang beskou word vir die toekoms van Islam as ‘n wêreldgodsdiens en ‘n toekomstige wêreldmag wat uit die Midde-Ooste beheer sal word – en meer spesifiek vanuit Jerusalem.