Die Palestynse Gevaar vir Israel

Prof. Johan Malan, Middelburg (Junie 2009)

Daar is verskillende terreine waarop Israel se voortbestaan deur die Palestyne bedreig word. Die volgende is die belangrikste:

1. Israel se gebiedsintegriteit word deur die tweestaatoplossing bedreig: Die groot internasionale ondersteuning vir ‘n onafhanklike Israel en Palestina langs mekaar is gebou op die voorwaarde dat Israel belangrike gedeeltes van sy grondgebied moet afstaan wat hy onbetwisbaar in die 1967-oorlog herower het, en wat ook histories én volgens ‘n duidelike Bybelse mandaat sedert Ou Testamentiese tye aan Israel behoort. Nou word hulle egter deur die hele wêreld gedwing om tot in die hartland van Judéa en Samaria grond aan die Palestyne af te staan. Dit sluit onder andere die besette Wesbankgebied in wat van Oos-Jerusalem af noordoos tot teenaan die Jordaanrivier strek. Die Palestyne staan baie sterk daarop dat hulle beheer oor Oos-Jerusalem wil hê om dit die hoofstad van hulle staat te maak. Dit sluit ook die Tempelberg én die Olyfberg in wat vir Israel groot historiese, godsdienstige, politieke én profetiese betekenis het. In die ou deel van Jerusalem moet die troon van Dawid herstel word wanneer die Messias gekom het. Dit is baie belangrik dat die land Israel én die stad Jerusalem met die oog op hulle verdere herstel onder volle Joodse beheer sal bly en nie verdeel word nie. Dit raak ook die integriteit van Bybelse beloftes, daarom mag Christene wat die Here se beloftes ernstig opneem, nie kompromie maak deur van Israel te verwag om van hulle Bybelse regte op hulle volle grondgebied afstand te doen sodat ‘n ander, vyandige staat daar gevestig kan word nie.

Die huidige eerste minister van Israel, Benjamin Netanjahu, is baie meer konserwatief as sy voorgangers deurdat hy dusver weier om Jerusalem te verdeel en Joodse setlaars uit die Wesbankgebied te verwyder. Ons moet vir hom bid dat hy sterk sal staan en nie belangrike dele van Israel se godgegewe grondgebied aan die Palestyne afstaan nie. Netanjahu is nogtans bereid om ‘n Palestynse staat te erken wat gedemilitariseer is en ook volle erkenning aan Israel gee. Hy wil egter nie van al die gebiede afstand doen wat in die 1967-oorlog verower is nie.

Die feit dat Israel in elk geval tussen die Jode en Palestyne verdeel gaan word, is ‘n ernstige aantasting van Israel se goddelike mandaat oor die hele land. Die Here gaan die nasies oordeel wat Israel vervolg en tot die verdeling van hulle land gedwing het. Hy sê: “Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ‘n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het” (Joël 3:1-2). Hierdie oordeel gaan by die slag van Armageddon voltrek word, en ons kan verwag dat die toestand in die Midde-Ooste voor daardie tyd nog aansienlik gaan versleg. Dit beteken dat Israel se gebiedsintegriteit nog meer bedreig en geskend gaan word.

2. Die Palestyne beoog om Israel demografies te verswelg: Daar is tans 7.2 miljoen mense in Israel, waarvan 5.4 miljoen Jode, 1.5 miljoen Arabiere en die res van ander volke is. In die Wesbankgebied is daar egter nog 2.8 miljoen Arabiere en in Gaza 1.4 miljoen. Dit beteken dat daar in Israel en die Palestynse gebiede saam 5.4 miljoen Jode en 5.7 miljoen Palestyne is. Hierbenewens is daar in Jordanië, Egipte, Sirië, Saoedi-Arabië en Libanon nog 4.5 miljoen sogenaamde Palestynse vlugtelinge wat na Palestynse gebiede in Israel wil terugkeer. Israel sal dan demografies heeltemal deur die Palestyne verswelg en feitlik uitgedruk en oorgeneem word. Om begryplike redes weier die Joodse regering die terugkeer van hierdie mense.

Die feit is dat die Palestyne ‘n kunsmatig geskepte volk is. Jasser Arafat, voormalige leier van die Palestynse Bevrydingsorganisasie, het ná die herstel van Israel in 1948 talle Arabiere uit veral Egipte, Jordanië en Libanon genooi om in Palestina te kom vestig en te help om die jong Joodse staat te beveg. Aarafat was self ‘n Egiptenaar. Die groot meerderheid Palestyne is dus immigrante uit naburige Arabiese lande, wat onregmatig grond kom beset het wat sedert Ou Testamentiese tye aan Israel behoort. Tydens Israel se internasionale ballingskap die afgelope byna 2000 jaar was daar net klein groepies Arabiere wat in Israel rondgetrek, ‘n sukkelbestaan gevoer en feitlik niks opgebou het het. Die groot getalle het eers ná Israel se herstel ingekom, maar baie van hulle het na kampe in veral Jordanië gevlug wanneer hulle in oorloë teen Israel gewikkel was. Indien al die vlugtelinge na Israel sou terugkom, sal dit soos ‘n Trojaanse perd wees wat Israel van binne af sal bedreig en deur hulle getalle oorweldig.

3. Israel word deur ‘n militante Palestynse regering en terroristegroepe bedreig: Israel het nie gewone bure met wie hulle ooreenkomste kan sluit en in vrede saamleef nie. Die Palestynse regering was aanvanklik deur die Palestynse Bevrydingsorganisasie se Fatah-party onder die leierskap van Jasser Arafat gevorm. Hulle was, en is, ideologies en godsdienstig erg teen Israel gekant, en verkies konfrontasie en oorlog bo onderhandelings. Dit was eers ná verskeie nederlae én die dood van Arafat dat die effens meer gematigde Mahmoud Abbas beheer oor Fatah verkry het en bereid was om Israel onder sekere omstandighede te erken.

Die meerderheid Palestyne, veral die meer militante jeugdiges, het hierdie gematigde houding verwerp en in massas by die Hamas-terroristegroep aangesluit wat hoofsaaklik in Gasa gevestig is. “Hamas” is ‘n akroniem vir “Islamitiese Weerstandsbeweging” en hulle groot doel is om alle Palestynse gebiede, wat volgens hulle die hele Israel insluit, deur geweld van Joodse oorheersing te bevry. In 2006 het Hamas in ‘n verkiesing teen Fatah gewen en daarna moes hulle militêre offisiere leer hoe om ‘n land te regeer. Hulle het ‘n koalisie met Fatah probeer vorm, maar dit het tot bloedige botsings gelei waarin Fatah-amptenare uit Gasa verdryf is. In 2007 het Hamas in ‘n staatsgreep volle beheer oor die regering van Gasa oorgeneem en daarna duisende vuurpyle vir ‘n uitwissingsoorlog teen Israel ingesmokkel. Sirië en Iran het hulle militêr en finansieel ondersteun. Ander terroristegroepe soos Hizboellah en die Islamitiese Jihad, ondersteun hulle ook. Hamas het hulle aanvalle aansienlik verskerp en in die laaste paar maande voor Israel se inval in Gasa tot 600 vuurpyle per week op Joodse teikens in die suide van Israel afgevuur.

Hierdie bedreiging neem eerder toe as wat dit afneem. Hamas weier om Israel as ‘n onafhanklike staat in sy eie reg te erken. Hulle weier ook om aan Israel se eis te voldoen om ‘n gedemilitariseerde staat te vorm wat homself met siviele sake besig hou, eerder as met voorbereidings vir ‘n volgende oorlog. Die Palestyne, saam met hulle ewe radikale bondgenote in Sirië, Libanon en Iran, gaan dus voort om Israel te bedreig en ‘n uitwissingsoorlog teen hulle te beplan. Hoe kan daar met hulle saamgewerk word?

4. Israel word godsdienstig deur die Palestynse geloof bedreig: Die Moslemgeloof self hou ‘n baie ernstige bedreiging vir Israel in, omdat die Sioniste én die Christene as die vyande van Islam beskou word. Die Koran beveel die voer van ‘n heilige oorlog (jihad) teen ongelowiges aan, omdat dit ‘n erkende metode is om die gesag van Allah deur middel van Moslem-soldate oral op aarde te laat geld. Daar is dus ‘n baie diep godsdienstige en ideologiese motief om teen Israel te veg en die hele land deel van ‘n Palestynse staat te maak. Moslems word deur die Koran beïnvloed om selfs hulle lewe in die heilige oorlog op te offer in ruil vir groot seëninge in die hiernamaals. Die idee van martelaarskap in die jihad wat namens Allah gevoer word, is dus ‘n wesenlike deel van die stryd. Dit word as die hoogste vorm van selfopoffering beskou om as ‘n martelaar vir Allah te sterf. Elkeen wat hom- of haarself bereid verklaar om in ‘n selfmoord-bomaanval te sterf, word geprys. In die Koran word daar aan elke martelaar groot loon in die paradys beloof.

5. Israel word ook godsdienstig deur Christelike Palestynisme bedreig. Daar is ‘n ander groot gevaar waardeur Israel bedreig word, en dit word Christelike Palestynisme genoem. Dit is ‘n Christelike beweging wat homself téén Israel en ten gunste van die Palestyne uitspreek. Hierdie liberale teologiese denkrigting is ‘n teenvoeter vir Christelike Sionisme, wat daarop ingestel is om Israel se regte uit die Bybel te beklemtoon en hulle vir die volle herstel van Israel in ‘n onverdeelde land te beywer. Christelike Palestynisme propageer ‘n antichiliastiese en anti-Joodse teologie waarin die herstelde Israel geen rol speel nie en die Palestyne as die regmatige en wettige eienaars van die hele Palestina beskou word, sonder enige staat van Israel in die Midde-Ooste. Dit is dus ‘n soort bevrydingsteologie vir die Palestyne. Baie van die Palestynse Christene het hierdie polities-georiënteerde bevrydingsteologie aanvaar en beoefen dit ter wille van hulle nasionale voortbestaan. Dit is sterk anti-dispensasioneel. Baie van die Palestynse Christene lees nie eers die Ou Testament nie, weens die sentrale rol wat Israel gedurende die dispensasie van die wet gespeel het. Sommige van hulle lees daaruit, maar slegs selektief. Hulle erken geen verband tussen Bybelse Israel, die huidige Jode en die moderne staat van Israel nie.

Daar is ‘n baie groot gevaar aan Palestynisme in die teologie verbonde. ‘n Egiptiese skrywer, Bat Ye’or, het in haar boek, Eurabia, wat oor die Islamisering van Europa handel, ‘n hoofstuk in oor die Islamisering van die Christendom. Volgens haar baan Palestynisme die weg na die Islamisering van die kerk. Dit is ‘n vorm van vervangingsteologie waarin Israel deur die Palestyne vervang word. In die proses word die vier Evangelies van hulle Joodse verband losgemaak en aan die Palestyne gekoppel om die Nuwe Testament vir Islam meer aanvaarbaar te maak. Daar word van Jesus ‘n Palestynse Verlosser gemaak.

‘n Britse Jodin, Melanie Phillips, het in 2006 ‘n boek getiteld Londonistan gepubliseer, waarin sy die Engelse waarsku dat Islam besig is om hulle land en kultuur oor te neem, hoofsaaklik omdat die kerk begin het om pro-Islamities en in stryd met die historiese Christendom te raak. Sy beskryf die opkoms van Palestynisme só: “Toe Arabiese Christene begin het om die Bybel te herinterpreteer sodat die Jode nie ‘n geldige aanspraak op die land Israel het nie, het dit in die Anglikaanse Kerk na die vervangingsteologie aanleiding gegee. Hulle het toe besluit dat die Palestyne die oorspronklike bewoners van die land Israel is, en dat hulle die ware ‘Israel’ is.”

In hierdie nuwe vorm van vervangingsteologie word Israel nie net met die kerk vervang nie, maar spesifiek ook met Palestynse Christene. In die proses word die Bybel van baie van sy basiese uitsprake oor Israel beroof en geleidelik in terme van die Koran geherinterpreteer. Donald Wagner (Dying in the Land of Promise: Palestine and Palestinian Christianity from Pentecost to 2000; London, 2003) beweer verkeerdelik dat omtrent die helfte van die bevolking van Israel in die tyd van Jesus nie Jode was nie, en op grond hiervan maak hy die aanname dat Arabiese Christene die biologiese afstammelinge van die vroeë kerk van Handelinge 2 in Jerusalem is. Die kerkvader Eusebius bevestig egter in sy boek oor die kerkgeskiedenis dat die vroeë kerk feitlik 100% Joods was.

Hank Hanegraaf van die Christian Research Institute het ook dispensasionalisme en die herstel van Israel verwerp en verkondig nou Palestynisme. Hy beskuldig Israel dat hulle die etniese uitwissing van die Palestyne beoog, en beskryf ondersteuners van Israel as rassiste. Dit is egter duidelik dat die Bybel die fisiese én geestelike herstel van Israel in hulle eie land leer. Persone wat hierteen beswaar maak, open die deur na die vervangingsteologie en die toenemende aanvaarding van Islamitiese standpunte. (Inligting in hierdie afdeling kom uit Thomas Ice se artikel Christian Palestinianism).

Kerke in Suid-Afrika sal ook moet besluit of hulle die Bybel letterlik glo. Indien wel, is hulle daartoe verbind om Israel as ‘n volk in eie reg te aanvaar, aan wie alleen die belofte gemaak is om die hele land van Israel vir altyd te bewoon. Hulle ongeloof het wél na die diaspora gelei, maar die Here bring hulle nou terug om hulle ook geestelik te herstel en ‘n seën vir die hele wêreld te maak (Rom. 11:1-32).

Israel se toekoms is nie in die hande van die ortodokse Jode wat steeds die Messias verwerp nie, maar in die hande van die Messiaanse Jode wat vir Jesus as Messias aanvaar het en dien. Hoewel hulle ‘n klein minderheidsgroep is, voorspel die Bybel groot en wonderlike dinge vir hulle. Ons moet hulle ondersteun sodat hulle getuienis aan ongeredde Israeli’s duidelik en ondubbelsinnig sal uitgaan. Volgens die Bybel sal die hele oorblyfsel van Israel uiteindelik vir Jesus as Messias aanneem. Moenie jouself by die vyande van Israel voeg nie, want volgens Genesis 12:3 rus die oordele van die Here op sulke mense.

Ons het aan u vyf fronte genoem vanwaar daar uit Palestynse gemeenskappe en hulle ondersteuners aanvalle op Israel geloods word, gepaard met ‘n stroom van negatiewe propaganda waarin die Jode as boosdoeners voorgestel word. Hierdie strategieë is eerstens die meedoënlose aanvalle op Israel se gebiedsintegriteit waardeur hulle voortbestaan in die land bedreig word; tweedens die beplande immigrasie van Palestynse vlugtelinge uit naburige Arabiese lande, sodat die Palestyne ‘n groot meerderheid teen Israel kan vorm; derdens die aanhoudende pogings deur die Palestynse owerheid én terroristegroepe om ‘n uitwissingsoorlog teen Israel te voer; vierdens die heilige oorlog waartoe die Koran alle Moslems teen Israel oproep en hulle beweeg om ook selfmoordaanvalle op die vyande van Allah te doen; en vyfdens die verwerping van Israel se eindtydse herstel deur ‘n anti-Israelse vorm van vervangingsteologie waarin Israel se posisie en regte aan die Palestyne volk oorgedra en openlike kompromie met Islam gemaak word. Wat die evangeliese Christene betref, is Israel se vyande en kritici is ook ons vyande en kritici, daarom kan ons glad nie met hulle of hulle onbybelse idees en doelstellings assosieer nie. Hulle moet tot bekering opgeroep word.

Indien ons die Bybel volgens sy letterlike, sigwaarde lees en verstaan, sal ons die vervangingsteologie waarin ander volke of groepe verkeerdelik die plek van Israel inneem, geheel en al verwerp. Om die woord van die waarheid reg te sny sal ons help om teologies en profeties die regte perspektief te verkry waarin ons vry sal wees om volle, Bybelse erkenning aan die herstel van Israel te gee. Dit sal ook van ons geestelike én materiële bondgenote in die herstelproses van Israel maak, en daartoe verbind om ernstig en volhardend vir die liggaam van die Messias in Israel te bid. Ons sal dan besef dat hierdie groep ware gelowiges wat ‘n klein begin te midde van groot vooroordeel teen hulle gemaak het, in hulleself die belofte van ‘n nuwe geestelike begin in die Messias vir die hele Israel omdra. Hulle bestaan is die eerste paaiement in die vervulling van talle beloftes oor ‘n nuwe bedeling vir die hele wêreld waarin die geredde Israel tot ons almal se voordeel die lig van die Messias helder sal laat skyn. Is u besig om Israel te seën en u gewig by die Messiaanse beweging in Israel in te gooi? Dit is die beste manier om die ortodokse Jode volgens Romeine 11:11-12 jaloers te maak op die ryke seëninge van die God van Abraham, Isak en Jakob in die Messias. Dit sal ook van u ‘n geseënde medewerker in die herstel van Israel maak.