
Op 13 November 2006 het die Siries-Arabiese Nuusagentskap in ‘n artikel, Amerikaanse priester sê daar kan geen vrede sonder Sirië wees nie,die volgende gesê:
“Die Amerikaanse Protestantse prediker, Rick Warren, het tydens sy besoek aan Sirië gesê dat daar geen vrede in die streek sonder Sirië kan wees nie. Hy het opgemerk dat 80% van die Amerikaanse publiek hulle regering se ingryping in Irak verwerp en ook die Amerikaanse beleid vir die Midde-Ooste as verkeerd beskou.
“Sirië se godsdienstige leier, die groot mufti, sjeik Badr al-Din Hassoun, het in Damaskus met Rick Warren ‘n onderhoud gevoer en hulle het oor die belangrikheid daarvan saamgestem dat ‘n botsing tussen twee beskawings voorkom moet word deur ‘n kultuur van vriendskap, vrede en goeie naasbestaan te bevorder. Die mufti het vir Warren gevra om die werklike beeld van Sirië aan die Amerikaners oor te dra, naamlik dié van ‘n land wat hom vir vriendskap en geregtigheid beywer. Die Amerikaanse regering het volgens die mufti hierdie goeie beeld van Sirië verdraai.
“Rick Warren het sy bewondering vir Sirië uitgespreek en gesê dat hy ‘n groot moontlikheid vir vreedsame naasbestaan tussen Christene en Moslems sien. Hy het onderneem om hierdie siening aan sy kerk en landgenote oor te dra.”
Warren en sy afvaardiging het ook ‘n onderhoud met die Siriese president, Bashar al-Assad, gevoer om die verhouding tussen die VSA en Sirië met hom te bespreek.
Bron: http://www.sana.org/eng/21/2006/11/13/85205.htm
Die benadering wat Rick Warren op sy sending na Damaskus gevolg het, is ‘n ontstellende houding wat deur ‘n sogenaamde evangeliese leier ingeneem word. Dit beklemtoon sy koninkryk-nou doelstelling om nog voor die wederkoms van Christus ‘n mensgemaakte vrede op aarde te vestig. Warren het dit vooraf al in sy PEACE-pan duidelik gemaak dat Moslems ook die leiers kan wees van gemeenskappe wat getransformeer moet word. Hy voer dit nou een stap verder deur vreedsame betrekkings met Islam na te streef en blindelings die beweerde goeie bedoelings van ‘n radikale Islamitiese staat, wat vir jare lank terroriste teen Israel en die Weste geherberg en gefinansier het, te aanvaar. Sirië bevorder nie eers vrede in die Islamitiese wêreld nie, want hulle gaan steeds doelbewus voort om die regering en inwoners van hulle buurstaat, Libanon, te ondermyn.
Rick Warren onderskryf die valse bedoelings van Islam ten volle deurdat hy homself bereid verklaar het om die groot mufti se boodskap dat Sirië ‘n kultuur van vriendskap, vrede en goeie naasbestaan bevorder, aan Amerikaners oor te dra. Warren is egter nie die enigste leierspersoon in die Weste wat die slagoffer van Islam se valse propaganda is nie. In sy nuusbrief, The Berean Call van November 2006 (bl. 3-4), sê Dave Hunt die volgende:
“Die pous se jammerlike verskoning aan Moslems omdat hy deur die waarheid aanstoot aan hulle gegee het, is ‘n verdere voorbeeld van hoe die Weste voortgaan om deur Moslem dreigemente geïntimideer te word om op ‘n skynheilige wyse die skokkende waarhede oor Islam te ontken. Moslems behoort hulleself te skaam omdat hulle ‘god’ loon in die paradys belowe aan mense wat onskuldige vrouens en kinders vermoor.
“‘n Mens sal ver moet soek om enige plek in die wêreld terrorisme te kry waarvoor Islam en Moslems nie verantwoordelik is nie. Nogtans gaan hulle met hul verskriklike leuens voort om Islam aan vrede te verbind en terselfdertyd almal wat die waarheid oor hulle vertel, te dreig: ‘As jy dit sou waag om Islam te kritiseer deur dit as ‘n godsdiens van geweld voor te stel, sal ons jou doodmaak om te bewys dat dit ‘n godsdiens van vrede is!’
Die skandalige feit dat Westerse leiers soos Bush, Blair, Chirac, Billy Graham en die pous voortgaan om na aanleiding van sulke dreigemente vir Islam as ‘n godsdiens van vrede te prys, is ernstige verraad teen hulle eie verantwoordelikheid. Hierdie oorgawe aan Islam se afpersing sal noodwendig na die volledige Islamisering van die Westerse wêreld lei, en die gevolglike verlies aan die vryhede wat vir ons so belangrik is. In Europa, en veral in Engeland, het Islamisering reeds die punt bereik waarin dit nie meer gestuit kan word nie, en Amerika is nie ver agter hulle nie...
“Ons is betrokke by ‘n oorlog tot die dood toe – nie teen terroriste en ekstremiste wat, soos president Bush sê, ‘n vreedsame geloof gekaap het nie, maar teen Islam self. Dit is ‘n feit wat die Weste weier om te erken. Die ‘polities korrekte’ leuens wat so populêr in die Weste is, moet verwerp word. Ons is besig om hierdie oorlog te verloor, en sal aanhou om dit verloor totdat die Weste die waarheid erken dat terrorisme wat deur Moslem ekstremiste gepleeg word, nie ons werklike vyand is nie, maar die gewelddadige godsdiens van Islam...
“Die Koran, wat Mohammed volgens sy eie aanspraak deur bemiddeling van die engel Gabriël van Allah af ontvang het, het meer as 100 verse in waardeur die gebruik van geweld beveel word om mense dood te maak en die wêreld oor te neem. Een daarvan is: ‘Maak die afgodedienaars dood [dit is almal wat vir Allah as die enigste god en Mohammed as sy profeet verwerp] waar julle hulle ook al kry... beleër hulle en lê vir hulle hinderlae’ (Sura 9:5).” (Einde van aanhaling)
Die Islamitiese geloof het die vermoë om mense te radikaliseer deur geweld te regverdig om die Koran op ‘ongelowiges’ af te dwing. Ons moet nie mislei word deur die valse fronte van vrede en vriendskap wat hulle aan hul vyande voorhou nie, want hulle doen dit om tyd te wen om hulself vir ‘n militêre stryd te bewapen wat hulle as onafwendbaar beskou. Indien Islam hoegenaamd enige verbintenis het om vreedsame naasbestaan te bevorder, dan het hulle nou die geleentheid om vrede tussen die Soennie en Sjiïete te skep, wat binne die verband van hulle eie godsdiens in ‘n gewelddadige konflik betrokke is – veral in Irak.
Rick Warren se vredesamesprekings met Islam sal waarskynlik deur miljoene mense verwelkom word wat deur ekumeniese en intergeloofsdenke beïnvloed is, asook Islam se propaganda dat die Moslems bondgenote van die Weste in die nastreef van wêreldvrede wil wees. Daar sal geen vrede op aarde wees voordat die Vredevors gekom het nie, want Hy sal die vestings van misleiding op aarde vernietig. Jesus is nie ‘n menslike profeet van Allah, soos wat Islam beweer nie, maar God die Seun wat gelyk aan en een met God die Vader en God die Heilige Gees is.
Islam verwerp die godheid van Jesus geheel en al, daarom verwerp hulle ook die enigste Vredevors. Watter sin maak dit om aan te neem dat Christene met hulle hande kan vat om vrede op aarde te skep? Watter soort vrede sal dit wees? Islam is duidelik daarop ingestel om die Weste te mislei en te demoraliseer sodat hulle die stryd gewonne moet gee en ophou om Islam teë te gaan. Dit sal aan Islam die geleentheid bied om ongehinderd voort te gaan om die wil van Allah en sy profeet Mohammed op die hele wêreld af te dwing – nie slegs deur godsdienstige propaganda nie, maar ook deur geweld, intimidasie en ondermyning.
Toe Rick Warren en sy span op pad na Damaskus toe vertrek het, het hulle duidelik nie ‘n tyd van verposing gehad om vas te stel watter plek Jesus Christus in hulle pogings sal hê om vrede met Sirië te sluit nie. Warren is immers ‘n Christelike godsdiensleier wie se eerste en belangrikste taak dit is om die vrede te verkondig wat Christus alleen aan ‘n sondige en verlore mensdom kan gee op voorwaarde dat hulle hul bose weë laat vaar, tot bekering kom en Hom as die enigste Verlosser van die wêreld aanvaar (Hand. 4:12). Hy het gesê: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie” (Joh. 14:27). Hoe kan ‘n predikant vrede met die godsdienstige en politieke leiers van ‘n heidense volk bespreek sonder enige verwysing na die Vredevors wat sy bloed ook vir die versoening van Siriërs se sonde aan die kruis gestort het?