Die Stryd van die Ware Kerk
Deur. E.H. Broadbent
Opsomming: Hierdie artikel is ‘n oorsig van Edmund H. Broadbent se boek
The Pilgrim Church – Tracing the pathway of the forgotten saints from Pentecost
to the 20th century.
Ná die eerste en tweede eeue van kerkgeskiedenis het valse leerstellings onder
sekere groepe Christene ontstaan. Dit het tot die vestiging van ‘n valse kerk
aanleiding gegee waardeur die ware Christene vir eeue lank hewig vervolg is.
In sy boek oor die Pelgrimkerk beskryf Edmund Broadbent die vervolging van die
heiliges deur valse kerke – hoofsaaklik die Rooms-Katolieke Kerk, maar sedert
die 1520’s ook Protestantse staatskerke wat siviele mag verkry en die voorbeeld
van die Katolieke Kerk nagevolg het. Uit hierdie studie is dit duidelik dat
die valse kerk kompromie met die wêreld gemaak en die totalitêre mag aanvaar
het wat die wêreldse owerhede daaraan gebied het. Hierdie mag is misbruik om
die ware Christene te vervolg wat nie die gesag en valse leerstellings van die
staatskerk wou erken en aanvaar nie.
Die belangrikste dwalings van die Rooms-Katolieke Kerk, waarvan sommige later
deur die groot Protestantse kerke nagevolg is, is die volgende:
1. Die kerk alleen
kan verlossing aan mense bied deur die beoefening van ‘n sakramentele godsdiens.
Deur middel van sakramente soos die doop en Nagmaal word die ontvangers deelgenote
van die Here se genade. Die doop en redding word aan mekaar gelykgestel, en
daardeur is die dwaling van doopsaligheid (baptismal regeneration) gevestig.
Hierdie onbybelse interpretasie van die doop is as regverdiging gebruik om die
Bybelse doop van die gelowiges te vervang met die doop van suigelinge wat glad
nie kan glo nie. Daar is geredeneer dat aangesien die doop ingestel is om ‘n
persoon se sondes weg te was, dit so gou as moontlik ná geboorte bedien moet
word. Deur die aanvaarding en beoefening van hierdie dwaling is die Bybelse
leerstelling van regverdigmaking deur geloof verwerp. Die gevolg hiervan was
dat ‘n ongeredde naamchristendom oor ‘n wye front sy beslag gekry het. Mense
is sonder bekering in die koninkryk van die hemel “ingedoop”. Dit het tot ‘n
uiterlike gedaante van godsaligheid sonder innerlike geestelike lewe gelei.
2. ‘n Onbybelse
onderskeid word tussen ‘n spesiale groep ‘heilige manne’ en leke wat geen of
min godsdienstige status het nie, gemaak. Die kerk word deur spesiaal geordende
priesters, biskoppe en kardinale oorheers wat onder die beheer van ‘n ‘onfeilbare’
pous staan. Hierdie ampsdraers, en veral die pous, beskou hulleself as Christus
se gesalfde verteenwoordigers op aarde. Hulle maak daarop aanspraak dat hulle
die gesag het om die poorte van die hemel vir mense oop of toe te maak, en is
só verwaand dat hulle ook oor sake van lewe en dood uitspraak lewer. In die
Rooms-Katolieke Kerk beoefen hulle die sewe sakramente van doop, aanneming,
Nagmaal, boetedoening, salwing, ordening en huweliksbevestiging. Hulle is die
middelaars tussen die leke en God, omdat niemand volgens hulle gered kan word
indien ‘n ampsdraer van die kerk hom of haar nie doop nie. Vir hulle is daar
geen redding buite die kerk nie. Baie van hierdie dwalings word in sekere Protestantse
kerke voortgesit deurdat hulle verhewe posisies aan leraars toeskryf en ook
reddingskrag aan die doop van suigelinge verbind.
3. Die vestiging
van ‘n onbybelse vorm van kerkregering met wetgewende en uitvoerende magte.
Deur met siviele owerhede saam te werk en hulle ook te manipuleer, word die
valse kerk ‘n staatskerk. Christus is nie die hoof van hierdie kerk nie.
Die noue band tussen die kerk en die staat het die onderdrukking en vervolging
van die ware gelowiges moontlik gemaak, en ook ‘n tydperk van totale kompromie
met die wêreld ingelui. Verskeie dwalings is in die kerk gevestig en dit het
tot die vinnige opgang van die valse kerk aanleiding gegee. Deur die mag wat
die kerk bekom het, asook sy noue assosiasie met politieke owerhede, het die
kerk spoedig begin om die ware gelowiges te vervolg en weens beweerde kettery
tereg te stel omdat hulle geweier het om sy leerstellings te aanvaar, sy magstruktuur
te erken en daarby aan te sluit. Met sy politieke rugsteuning en miltêre mag
het die valse kerk ‘n gevreesde instrument in die hande van Satan geword in
sy onophoudelike pogings om die evangeliese Christendom te probeer uitwis. Hierdie
kerk het die waarheid van God se Woord teëgestaan, miljoene gelowiges om die
lewe gebring wat hierdie waarhede bely het, godsdienstige, opvoedkundige en
kulturele vooruitgang onderdruk, en sodoende die genadelose meesters van die
donker Middeleeue geword.
Hierdie opsomming van Broadbent se boek (waarin die aanhalings ook vertaal
is) fokus hoofsaaklik op die stryd van die Pelgrimkerk om die ware leer oor
die saligheid te beskerm en te handhaaf. In die Rooms-Katolieke Kerk is regverdigmaking
deur geloof met die suigelingsdoop vervang. In die ware kerk word regverdigmaking
deur geloof sterk beklemtoon deurdat daarop aangedring word dat alle mense hulle
sonde moet bely en die Here Jesus as hulle persoonlike Saligmaker aanneem. Slegs
ná die ondervinding van redding, of wedergeboorte, word hulle op grond van Christus
se opdrag in Markus 16:16 as gelowiges gedoop.
Die Pelgrimkerk het baie mense herdoop wat reeds aan die onbybelse doop van
suigelinge in die valse kerk onderwerp was. As gevolg hiervan is hulle in latere
eeue Anabaptiste genoem (‘hulle wat herdoop’). Verskillende groepe in die ware
kerk het verskillende name gehad, soos bv. die Donatise of Waldene, maar almal
van hulle het die doop van die gelowiges beoefen. Ná die Hervorming is hulle
ook deur die Calviniste en Lutherane vervolg wat Augustinus en die Roomse Kerk
se instelling van die suigelingsdoop as ‘n manier van redding aanvaar het.
Veranderde sienings oor die doop
Die gebruik om gelowiges ná die belydenis van hulle geloof in Jesus Christus
te doop, soos dit in die Nuwe Testament bepaal word, was die enigste manier
van doop in die eerste eeu. In die daaropvolgende eeue het die ware Christene
die doop van die gelowiges in stand gehou, terwyl misleidende lerings oor die
doop geleidelik sedert die tweede eeu ná Christus onder afvallige groepe gevestig
geraak het.
“Die eerste duidelike verwysing na die doop van suigelinge is in die
geskrifte van Tertulianus in 197 n.C., waarin hy die nuwe gebruik om dooies en
suigelinge te doop, veroordeel het. Die weg vir hierdie verandering is deur leringe
berei wat van die Nuwe Testament afgewyk het, want vroeg in die tweede eeu is
die dwaling van doopsaligheid al verkondig” (Broadbent 1999:32).
In die derde eeu het kerke in Armenië (Klein Asië) wat getrou aan die evangelie
van Jesus Christus gebly het, hulleself van die wêreldse kerke wat deur hulle
“Rooms” genoem is, onderskei. Die Armeense Christene het selfs geweier om die
term kerk aan die afvalliges te koppel, omdat hulle dit verbeur het “deur
hulle assosiasie met die staat, deur die toelating van ongelowiges in hulle
midde as gevolg van die suigelingsdoop, deur die bediening van Nagmaal aan ongelowiges,
en deur die beoefening van verskeie ander booshede” (Broadbent 1999:65;
beklemtoning bygevoeg).
Die rol van Konstantyn
Die amptelike erkenning van die Christelike kerk vroeg in die vierde eeue deur
keiser Konstantyn het die weg na die spoedige vervalsing van die kerk gebaan:
“Konstantyn self, wat die keiserlike waardigheid as hoofpriester van
die heidense gelowe behou het, het die rol as arbiter van die Christelike kerke
aanvaar. Die kerk en die staat het ten nouste geassosieer geraak, en dit was nie
lank voordat die mag van die staat tot die beskikking van die kerkleiers was om
hulle beslissings af te dwing nie. Sodoende het die vervolgdes spoedig die vervolgers
geword. In latere tye het dié kerke wat getrou aan die Woord van God gebly het
en deur die dominante kerk as ketters en sektes vervolg is, dikwels in geskrifte
hulle totale afkeur van die vereniging van kerk en staat in die tyd van
Konstantyn en Sylvester, die toenmalige biskop in Rome, uitgespreek” (Broadbent
1999:43-44; beklemtoning bygevoeg).
Konstantyn het by die valse kerk aangesluit en ook hulle siening oor doopsaligheid
aanvaar. Hy het die onderwerp dat die doop ‘n persoon se sondes wegwas, met
kerkleiers bespreek. Hy het hulle gevra wat van sondes word wat ná ‘n persoon
se doop begaan is. Hulle kon hom nie hierop ‘n bevredigende antwoord gee nie,
gevolglik het hy besluit om sy doop tot kort voor sy dood uit te stel.
Die kerk se verbintenis met die staat het verreikende gevolge gehad. Die
kerk het vals en geestelik kragteloos geraak en met die korrupte Romeinse leiers
saamgewerk om die beskawing te ondermyn:
“Terwyl die kerk afgesonderd en onafhanklik gebly het, was dit ‘n kragtige
getuie vir Christus in die wêreld, en het dit gereeld bekeerlinge in sy geledere
opgeneem. Nadat dit egter deur die aanvaarding van menslike beheer in die plek
van die Heilige Gees se leiding verswak is, is dit skielik in vennootskap met
die staat gebring en het besoedel en vervals geraak. Spoedig het die leraars net
so skaamteloos soos die hoë staatsamptenare vir mag en hoogs betaalde poste gekompeteer.
In die gemeentes het ‘n goddelose element die materiële voordele van die belydenis
van Christenskap oorheers, en dit het die suiwerheid van die vervolgde kerke in
wêreldsgesindheid laat verander. As gevolg hiervan was die kerk magteloos om die
verval van die beskaafde wêreld na korrupsie te stuit” (Broadbent 1999:46).
Die dwalings van Augustinus
Augustinus (354-430) het ‘n baie groot rol gespeel om geloofwaardigheid aan
die dwalings van die ontluikende Rooms-Katolieke Kerk te verleen. Meer as ‘n
millennium later is hy ook in baie van sy dwalings deur die vooraanstaande Protestantse
hervormers nagevolg:
“Een van die prominentste godsdienstige figure van die geskiedenis het
in hierdie tyd geleef. Augustinus, wie se leerstellings ‘n onuitwisbare invloed
in al die daaropvolgende eeue uitgeoefen het, het in die tyd geleef toe die westelike
Romeinse Ryk begin verkrummel het… Dit was juis die val van die westelike ryk
wat hom beïnvloed het om sy bekende boek, Die Stad van God, te skryf. Sy
beskouing oor wat die Stad van God is [nl. die Kerk], het egter die grondslag
gevorm van dwalings wat tot onuitspreeklike ellende gelei het. Die grootheid van
sy naam het die nadelige gevolge van die dwalings wat hy verkondig het, geweldig
in omvang laat toeneem. Hy, meer as enigiemand anders, het die leerstelling
geformuleer dat redding slegs in die kerk verkry kan word, deur middel van sakramente
[insluitende doopsaligheid]. Om redding uit die hande van die Saligmaker te neem
en dit in die hande van mense te plaas, om menslike middelaars tussen die Saligmaker
en sondaars te stel, is presies die teenoorgestelde van die evangelieboodskap.
Christus het gesê: ‘Kom na My toe,’ en geen priester of kerk het die reg om hierby
in te meng nie.
“In sy ywer vir die eenheid van die kerk en eerlike afkeer van uiteenlopende
leerstellings en verskille in vorm, het Augustinus sig verloor van die onvernietigbare
geestelike eenheid van die ware kerk as die liggaam van Christus waardeur almal
wat deur die wedergeboorte deelgenote van die lewe van God is, saamgevoeg word.
Hy het gevolglik nie die praktiese moontlikheid van die bestaan van verskillende
kerke in verskillende plekke en tye erken nie, waarvan elkeen sy direkte verhouding
met die Here handhaaf en ook in assosiasie met mekaar bestaan… Sy uiterlike
beskouing van die kerk as ‘n wêreldse organisasie het daartoe gelei dat hy na
uiterlike, materiële metodes gesoek het om dit in stand te hou en sigbare eenheid
af te dwing…
“Só ‘n leerstelling deur só ‘n gesaghebbende persoon het die metodes
van vervolging aangemoedig en geregverdig waardeur pouslike Rome die wreedhede
van heidense Rome geëwenaar het. Sodoende het ‘n man met sterk oortuigings
en sagte meegevoel van die beginsels van die Skrif afgewyk… en betrokke geraak
by die vestiging van ‘n uitgebreide en genadelose stelsel van vervolging” (Broadbent
1999:47-50; beklemtoning bygevoeg).
Die kerk het as gevolg hiervan spoedig in ‘n heidense instelling ontaard: “Die
belydende kerk het die heidendom opgeneem deur die geleidelike aanvaarding van
die aanbidding van die maagd Maria en die wêreld in sy geledere ingebring
deur die beoefening van die doop van suigelinge” (Broadbent 1999:76; beklemtoning
bygevoeg).
Die Armeense gelowiges
Dwarsdeur die Donker Eeue het die ware kerk van Christus “verkies om liewer
sleg behandel te word saam met die volk van God as om ‘n tyd lank die genot
van die sonde te hê” (Heb. 11:25). Die Armeense boek getiteld Die Sleutel
van die Waarheid, wat tussen die sewende en negende eeue geskryf is, beskryf
die geloof en gebruike van die ware gelowiges van daardie tyd. Oor die doop
word die volgende gesê:
“Onse Here vra eers vir bekering en geloof en gee daarna die doop. Ons
moet Hóm navolg en nie agter die misleidende argumente van mense aangaan wat die
ongelowiges, redeloses en onbekeerdes doop nie. Wanneer ‘n kind gebore word, moet
die ouderlinge van die kerk geestelike onderrig aan die ouers gee, sodat hulle
die kind in die vrese van die Here en in die geloof kan opvoed. Dit moet met gebed
en skriflesing gepaard gaan, en die kind moet ook ‘n naam kry. Wanneer ‘n persoon
gedoop word, moet dit op sy of haar opregte versoek wees. Die doop moet in riviere
plaasvind, of in ander water in die opelug. Die een wat gedoop word, moet, op
sy knieë in die water en met groot liefde en trane, sy geloof voor die teenwoordige
gemeentelede bely. Die een wat die doop waarneem, moet ‘n onbesproke karakter
hê. Tydens die geleentheid moet daar ook skriflesing en gebed wees” (Broadbent
1999:74-75).
Die gevaar van vervolging was altyd baie groot in die ware kerk, en die ouderlinge
moes hulleself hiertoe bereid verklaar voordat hulle bevestig is:
“Die ordening van ‘n ouderling vereis groot voorsorg sodat voorkom kan
word dat ‘n onwaardige persoon gekies word. Daar moet vasgestel word of hy volmaakte
wysheid, liefde (die belangrikste gawe), sagmoedigheid, nederigheid, opregtheid,
moed, bedaardheid en welsprekendheid het. Wanneer daar hande op hom gelê word,
wat met gebed en die lees van gepaste dele uit die Skrif gepaard moet gaan, moet
aan hom gevra word: ‘Kan jy die beker drink wat Ek drink, en gedoop word met die
doop waarmee Ek gedoop word?’ Die antwoord wat van hom verwag is, toon die groot
gevare en verantwoordelikhede wat sulke manne aanvaar het. Nie een van hulle kon
dit op homself neem sonder ‘n ongeveinsde liefde en die bereidwilligheid om tot
die uiterste toe te ly terwyl hy Christus navolg en sy kudde versorg nie.
“Die antwoord was: ‘…ek neem op myself kastyding, tronkstraf, marteling,
beskuldigings, kruise, houe, vervolging en al die versoekings van die wêreld wat
ons Here en Middelaar, asook sy ware kerk op aarde, op hulle geneem het, en aanvaar
dit in liefde. Ek, as ‘n onwaardige dienskneg van Jesus Christus, neem gewilliglik
en met groot liefde al hierdie dinge op my tot die uur van my dood.’ Ná die lees
van verskeie skrifgedeeltes is hy met opregte vertroue aan die Here opgedra, terwyl
een van die ouderlinge wat die plegtigheid waarneem, só tot die Here gebid het:
‘In nederigheid versoek en bid ons U om hierdie man, wat tot U nader om u genade
en heilige gesag af te bid, met u groot genade te beklee… Maak hom onberispelik
rein van alle bose gedagtes.. Open sy verstand om u Woord te verstaan’” (Broadbent
1999:75).
Die Waldene
Die Pelgrimkerk het in baie lande en onder verskillende name bestaan. Een van
die bekende groepe was die Waldene wat in die 12de eeu in Italië
ontstaan en later ook na Suid-Frankryk versprei het.
“Die leerstellings en gebruike van die broeders wat as die Waldene bekend
was, en ook onder ander name, was van só ‘n aard dat hulle nie die vrug van enige
pogings was om die Roomse en Griekse kerke te hervorm en na Bybelse weë terug
te bring nie. Hulle het geen invloede van hierdie kerke getoon nie, maar was inteendeel
die voortsetting van ‘n baie ou tradisie wat uit ‘n heel ander bron afkomstig
was, naamlik die Bybelse leerstellings en gebruike van die vroeë Christelike kerk.
Hulle bestaan was die bewys daarvan dat daar altyd manne en vroue van geloof was,
mense wat met geestelike krag en begrip ‘n tradisie in die kerk in stand gehou
het wat baie na aan dié van die apostels se tyd was, en ver verwyderd van dit
wat in die dominante kerke ontwikkel het.
“Hulle het naas die Bybel geen spesiale geloofsbelydenis of reëls gehad
nie. Geen oorheersing deur enige persoon, hoe uitnemend ook al, is toegelaat om
die gesag van die Skrif ter syde te stel nie. Nogtans het hierdie gelowiges deur
die eeue heen dieselfde waarhede bely en dieselfde gebruike nagevolg. Hulle het
Christus se woorde in die Evangelies as die hoogste openbaring aanvaar… Om Christus
na te volg en sy woord te bewaar, was hulle hoogste doel en strewe. Volgens hulle
is die werking van Christus se Gees in ‘n persoon doeltreffend tot dié mate waartoe
hy die woorde van Christus eerbiedig... Dit is net Christus wat aan ons die vermoë
kan gee om sy Woord te verstaan. As enigiemand Hom liefhet, sal hy sy Woord bewaar.
Sekere basiese waarhede is as noodsaaklik beskou, maar in ander sake waaroor daar
twyfel of verskillende menings bestaan het, is groot vryheid van oortuiging toegelaat.
Hulle het geglo dat die innerlike getuienis van die inwonende Gees van God van
groot belang is, omdat die grootste waarhede van die hart af na die verstand toe
kom – nie dat nuwe openbarings gegee word nie, maar ‘n duideliker verstaan van
die Woord” (Broadbent 1999:119).
“In sake van die kerkorde het hulle eenvoud gehandhaaf, en daar was niks
onder hulle wat in die kerk van Rome ontwikkel het nie. Nogtans het die kerke
en die ouderlinge hulle verantwoordelikheid met die grootste erns aanvaar. In
gevalle van dissipline, die aanstelling van ouderlinge en ander sake, het die
hele gemeente in samewerking met die ouderlinge deelgeneem. Die Nagmaal was vir
alle gelowiges. Hulle het dit beskou as ‘n herinnering aan die Here se liggaam
wat vir ons gegee is, en terselfdertyd ‘n sterk vermaning om hulleself as gebroke
en uitgegiet in sy diens aan te bied. Wat die doop betref… het hulle gesê dat
suigelinge nie deur die doop gered word nie, omdat die Here Jesus gesê het: ‘Hy
wat glo en hom laat doop, sal gered word,’ maar ‘n klein kindjie kan nog nie glo
nie… Hulle het nie die aanspraak van die groot [Roomse] kerk aanvaar dat die kerk
die daad van verlossing kon toeken of weerhou nie, en hulle het ook nie geglo
dat redding deur enige sakramente plaasgevind het nie, maar slegs deur geloof
in Christsus” (Broadbent 1999:120).
Die Verenigde Broeders (United Brethren)
‘n Ander groep onder die ware heiliges was die Verenigde Broeders. Hulle is
in verskillende plekke geweldig vervolg, maar het later weer gehergroepeer:
“In 1463, in die berge van Reichenau, en weer in 1467 in Lhota, was daar
algemene byeenkomste van broeders, waar daar ook baie persone van aansien bymekaargekom
het om opnuut oor die beginsels van die kerk te besin. Een van die eerste dinge
wat hulle gedoen het was om al die teenwoordiges te doop, want die doop van die
gelowiges deur onderdompeling was algemeen onder die Waldene en ook die meeste
broeders in verskillende dele, hoewel dit ‘n tyd lank weens die felle vervolging
onderbreek is. Hulle het ook uitdruklik hulle afskeiding van die Kerk van
Rome verklaar” (Broadbent 1999:149; beklemtoning bygevoeg).
Luther se kompromie
Die leerstellige kompromie deur vooraanstaande hervormers soos Luther het nie
die probleme wat die ware kerk met Rome gehad het, opgelos nie. Deur sommige
van hierdie dwalings voort te sit, het die ware gelowiges ‘n verdere vorm van
verwerping en vervolging ervaar – nou nie net van Rome nie, maar ook van die
staatskerke wat uit die Hervorming voortgekom het.
“Luther het deur sy kragtige stellings ‘n weg deur die gekonsekreerde
voorregte en misbruike van die Roomse Kerk gebaan, sodat hervorming moontlik geword
het. Hy het Christus aan ontelbare sondaars voorgestel as die Verlosser na wie
toe elke mens genooi word om sonder die bemiddeling van priesters, heiliges, kerke
of sakramente te kom… In plaas daarvan om in die weg van die Woord te volhard,
het Luther egter ‘n kerk opgebou waarin sekere misbruike hervorm is, maar wat
in baie ander opsigte weer ‘n voortsetting van die ou stelsel was. Menigtes van
dié wat na hom vir leiding opgesien het, het die vorm aanvaar waarin hy die Lutherse
Kerk gegiet het. Baie ander het weer in die Katolieke Kerk aangebly toe hulle
gesien het dat hy nie voortgaan op die weg van ‘n terugkeer na die Woord, waarvoor
hulle gewag het nie. Die hoop onder die ware broeders het ook mettertyd weggekwyn
toe hulle hulself vasgevang gevind het tussen twee kerklike stelsels wat beide
bereid was om eenvormigheid in gewetesake af te dwing – deur die swaard.
“Luther het die goddelike vorm van kerke begryp, en dit was nie sonder
‘n innerlike tweestryd dat hy die Nuwe Testamentiese leer oor onafhanklike gemeentes
van ware gelowiges verwerp het ten gunste van ‘n nasionale of staatskerk-stelsel
wat deur uiterlike omstandighede op hom afgedwing is nie. Die onversoenbare verskil
tussen hierdie twee ideale was die basiese rede vir die konflik. Die doop en
Nagmaal het só ‘n groot rol in die stryd gespeel omdat hierdie gebruike in die
ware kerk die kloof tussen die kerk en die wêreld gevorm het, terwyl dit in die
staatskerk gebruik is om die kloof na die wêreld te oorbrug omdat die suigelingsdoop
en die vrye gebruik van die Nagmaal deur almal nie op die persoonlike geloof van
die ontvangers gebaseer was nie.
“Verder plaas die magte wat aan geordende ampsdraers toegeken word om
hierdie sakramente te bedien, die volk onder ‘n dwingelandy wat sake van die geloof
en gewete betref. Wanneer hierdie magte in assosiasie met die staat of siviele
regering optree, is onafhanklike kerke onmoontlik en godsdiens ‘n saak van nasionaliteit.
‘n Nasionale kerk is baie omvattend en kan ‘n verskeidenheid sienswyses insluit.
Dit kan ongelowiges aanneem, veel goddeloosheid kondoneer en selfs sy predikante
toelaat om ongeloof in die Bybel uit te spreek. Wanneer dit in sy mag is, sal
dit nie diegene duld wat gelowiges doop en die Nagmaal net onder mekaar as gelowiges
gebruik nie, want hierdie dinge tas die grondbeginsel van die staatskerk aan –
nie dat die ritusse self die basiese punt van dispuut is nie, maar wel die kerkkwessie”
(Broadbent 1999:164-165; beklemtoning bygevoeg).
Zwingli en die staatskerk
Zwingly was ‘n ander bekende hervormer wat voor die druk van kompromie met
die verwronge teologiese konsepte van Augustinus en Rome geswig het:
“Zwingli het sy grootste hervormingstaak onder Duitssprekendes in Switserland
verrig. In die stad en kanton van Zurich het hy groot invloed en gesag gehad.
In 1523 het hy die staatskerk in Zurich ingestel, met ‘n Opperraad wat die verantwoordelikheid
gehad het om uitspraak oor sake rakende die kerkleer te maak. Hierdie magte is
reg uit die staanspoor teen die broeders [van die Pelgrimkerk] gebruik. ‘n Gelowige,
ene Muller, is voor die raad gedaag. Sy versoek was: ‘Moenie my gewete onderdruk
nie, want geloof is ‘n vrye gawe van God se genade, en niemand behoort daarmee
in te meng nie… Ek smeek u, diensknegte van God, laat my toe om self my geloof
te beoefen.’ Hierdie versoek is nie toegestaan nie. Die nuwe staatskerk het die
beginsel van die ou staatskerk [Rooms-Katoliek] aanvaar dat dit ‘n reg het om
deur tronkstraf en selfs die dood teen ‘ketters’ op te tree.
“In sy vroeër jare het Zwingli noue verhoudings met die broeders gehad.
Hy het die onderwerp van die doop in ernstige oorweging geneem en gesê dat daar
geen skriftuurlike gronde vir die doop van suigelinge was nie. Soos wat hy egter
die hervormingsbeweging op die grondslag van die staatskerk laat ontwikkel het,
terwyl hy op siviele magte gesteun het om sy besluite uit te voer, het hy noodwendig
van die broeders vervreem geraak” (Broadbent 1999:184-185).
(Ter ondersteuning van hierdie stelling oor Zwingli se leerstellige posisie
en sy aanvaarding van die staatskerk, haal L. Verduin in sy boek The Reformers
and their Stepchildren, 1964 vir Zwingli soos volg aan: “Niks grief
my meer as die feit dat ek tans kinders moet doop nie, want ek weet dat dit
nie gedoen behoort te word nie. Indien ek egter sou ophou om dit te doen, vrees
ek dat ek my salaris sal verloor. Ek vind dit nêrens in die Bybel dat suigelinge
gedoop moet word nie… ‘n Mens moet egter suigelinge doop ten einde nie aanstoot
aan andere te gee nie.”)
Die Anabaptiste
Een van die grootste groeperinge in die ware kerk was die Anabaptiste – later
is daar slegs na hulle as die Baptiste verwys.
“In omtrent 1524 in Duitsland het verskeie van die kerke van die broeders
wat reeds van die vroegste tye af in baie lande bestaan het, herhaal wat in 1467
in Lhota gedoen is. Hulle het hulleself tot onafhanklike gemeentes van gelowiges
verklaar, asook hulle vaste voorneme om as kerk van Christus slegs die Bybelse
leer te eerbiedig. Soos vroeër in Lhota, het almal wat nog nie as gelowiges gedoop
is nie, hulleself deur onderdompeling laat doop. Hierdie gebruik het tot ‘n nuwe
naam aanleiding gegee wat deur hulleself verwerp is, omdat dit ‘n neerhalende
konnotasie gehad het as sou hulle ‘n nuwe sekte gestig het. Die nuwe naam was
Anabaptise – hulle wat herdoop” (Broadbent 1999:171).
Die Anabaptise is geweldig deur die siviele owerhede vervolg wat in medewerking
met die Rooms-Katolieke en Protestantse staatskerke teen hulle opgetree het:
“Die algemene herlewing wat deur die Renaissance in die hand gewerk is,
het veroorsaak dat baie van die groepe Christene wat weens die vervolging tot
geheime byeenkomste beperk is, weer na vore gekom het. ‘n Kerklike bevel wat in
Lyons teen een van die broeders uitgereik is, het gelui: ‘Uit die as van Waldo
het verskeie nuwe lote verrys, en dit is nodig om as ‘n voorbeeld geweldige swaar
strawwe op hulle te lê. Baie gelowiges het ook uit die valleie van Switserland
gekom. Hulle het mekaar broers en susters genoem, en het goed geweet
dat hulle nie ‘n nuwe beweging stig nie, maar die voorsetting is van die getuienis
van hulle wat eeue lank as ‘ketters’ vervolg is, soos wat die geskiedenis van
die martelate bewys” (Broadbent 1999:172).
“In 1527, onder die leiding van Michael Sattler en andere, is ‘n konferensie
in Baden gehou waarop besluit is dat gelowiges gedoop moet word, dat die Nagmaal
ter herinnering aan sy dood gevier moet word, dat dissipline in die kerke gehandhaaf
moet word, dat lidmate van die kerk nie gemeenskap met die wêreld moet hê nie,
dat dit die plig van herders is om die gemeente te leer en te vermaan, ens… Sattler
was in baie distrikte aktief in die verkondiging van die Woord, en het in die
lente van 1527 van Strasburg na Wurttemberg gegaan. Hy is in Rottenburg in hegtenis
geneem en weens sy leerstellings ter dood veroordeel. In ooreenstemming met die
uitspraak van die hof is hy in verskillende dele van die dorp skaamteloos vermink,
daarna na die poort geneem en die oorblyfsels van sy liggaam in die vuur gegooi.
Sy vrou en ander Christen-vroue is verdrink, terwyl ‘n aantal van die broeders
wat in die gevangenis was, onthoof is. (verdrinking, gevolg deur verbranding,
was dikwels die lot van broeders en susters wat die doop van die gelowiges ondergaan
het.) Hierdie was die eerste van ‘n hele reeks teregstellings van dié aard in
Rottenburg” (Broadbent 1999:181-182).
“Hans Leupold, ‘n ouderling van die kerk, is in 1528 in Augsburg by ‘n
byeenkoms in hegtenis geneem en saam met 87 ander gelowiges onthoof. Hy het ‘n
lied in die tronk geskryf wat by die versameling van die broeders ingesluit is.
Baie van hierdie Baptiste se liedere is in die tronk geskryf, en verwoord die
diep gevoelens van lyding en liefde vir die Here wat hulle ervaar het. Die liedere
is vinnig tussen die lydende gelowiges versprei, en hulle het baie vertroosting
en bemoediging daaruit geput” (Broadbent 1999:182).
Die veldtog teen dr. Hubmeyer was die uitdrukking van nog meer haat teen die
broeders:
“Hoewel die broeders versigtig was om net die Woord as maatstaf te neem
en nie gewilliglik onder die oorheersing deur mense te staan nie, het hulle met
dank die leierskap van ouderlinge aanvaar wat gawes van die Heilige Gees gehad
het om hulle hiervoor te bekwaam. Een só ‘n man was dr. Balthazar Hubmeyer. Hy
is gedoop en later, toe hy naby Zurich gebly het, uit die land verban. Hy het
toe sy preek-bediening in Duitsland en Morawië voortgesit… Later, tydens hernude
vervolging, het hy en sy vrou voor oprukkende Oostensykse magte gevlug. Hy het
al sy besittings verloor en na Zurich uitgewyk, waar hy spoedig deur Zwingli se
party opgespoor en in die tronk gegooi is” (Broadbent 1999:173-175).
Pogings is in Europa aangewend om die beweging van die ware broeders uit te
wis en ook hulle historiese rekords te vernietig. Sodoende wou die staatskerke
seker maak dat net hulle eie (positiewe) rol in die kerkgeskiedenis beskryf
word, waarin al die gruweldade wat hulle gepleeg het, verswyg word.
“Daar word dikwels gemeen dat Europa ná die Hervorming tussen Protestante
en Rooms-Katolieke verdeel was. In só ‘n verdeling word die groot groep Christene
wat nie aan een van hierdie twee groepe behoort het nie, oor die hoof gesien.
Hulle het volgens Nuwe Testamentiese voorskrifte as onafhanklike kerke en gemeentes
byeengekom en nie, soos die ander kerke, op siviele magte vir ondersteuning staatgemaak
nie. Hulle was só baie dat beide die staatskerk-partye gevrees het dat hulle eie
voortbestaan daardeur bedreig kon word. Die rede waarom só ‘n belangrike beweging
só ‘n klein rol in die geskiedenis van daardie tyd vervul, kan toegeskryf word
aan die meedoënlose gebruik van geweld deur die staat en die groot kerke – Katoliek
én Protestant – wat byna daarin geslaag het om hulle uit te roei. Die enkele oorlewendes
is óf na ander lande verdryf óf het as verswakte en relatief onbelangrike groepies
bly voortbestaan. Die vervolgers het ook die literatuur van die broeders vernietig,
en hulle geskiedenis só geskryf dat hulle as sektes met neerhalende name voorgestel
is” (Broadbent 1999:181).
Ondersteuning tydens die vurige vervolging
Drakoniese wette is aanvaar om die Pelgrimkerk te probeer vernietig. Keiser
Charles V het die gesagspersone in sy ryksgebied gelas “dat alle persone wat
weer gedoop is of wat andere doop, mans of vrouens, vanaf ‘n ouderdom dat hulle
kan verstaan, geoordeel moes word en dat hulle lewens deur vuur of die swaard
beëindig moes word.” Hy het ook gelas dat almal wat nagelaat het om hulle kinders
(babas) in die staatskerke te laat doop, volgens dieselfde wet geoordeel moes
word (Broadbent 1999:182).
Hierdie barbaarse veldtog teen die ware gelowiges het egter ook ‘n paar evangeliese
predikers van die staatskerke teen die vervolging en sinnelose moorde op Anabaptiste
laat protesteer. Pastor Johann Odenbach het onder meer die volgende aan die
regters van die gevangenes in Alzey gesê:
“Julle as [geestelik] onkundige mense behoort eerlik en opreg tot die
ware Regter vir sy goddelike hulp, wysheid en genade te bid. Dan sal julle nie
ligtelik julle hande met onskuldige bloed bevlek nie, selfs al beveel sy koninklike
majesteit of al die prinse van die wêreld julle om só te oordeel. Hierdie arme
gevangenes, met hulle doop, het nie só diep teen God gesondig dat Hy hulle siele
daaroor sal verdelg nie, en hulle het ook nie só krimineel teen die regering en
die mensdom opgetree dat hulle met hul lewens moet boet nie. Die regte doop, óf
die tweede doop, het nie die mag om ‘n persoon te kan red óf te verdoem nie. Ons
moet die doop toelaat om net ‘n teken te wees waardeur ons erken dat ons Christene
is, dood vir die wêreld, vyande van die duiwel, gekruisigde mense wat nie tydelike
nie maar ewige seëninge soek, gelowiges wat onophoudelik teen die vlees, die sonde
en die duiwel stry en ‘n Christelike lewe ly. Nie baie van julle regters sal weet
wat om van die regte of verkeerde doop te sê indien julle geboei en onder marteling
uitgevra word nie. Moet julle dan op grond daarvan ter dood veroordeel word? Nee!
… Daarom, liewe vriende, moenie regspraak opeis wat net aan God toekom nie, sodat
sy toorn nie dalk ontvlam en julle erger as al die sodomiete en boosdoeners op
aarde verteer word nie” (Broadbent 1999:183).
Die gevolg van hierdie sterk protes-aksie was dat daardie regters geweier het
om oor geloofsake uitspraak te lewer.
Vinnige uitbreiding gedurende die 19de eeu
Die vervolging van die ware broeders wat die doop van die gelowiges beoefen
het, het in die 19de eeu voortgeduur toe baie owerhede teen groepe
opgetree het wat deur die staatskerke as sektes bestempel is. In Duitsland het
Johann Oncken (1800-1884) en sy gemeente nie verdrukking vrygespring
nie:
“Uit persoonlike Bybelstudie het Oncken geleidelik tot die oortuiging
gekom dat die Nuwe Testament die doop van gelowiges deur onderdompeling leer.
Terwyl hy aan sy bekeerlinge en vriende gedink het, het die gedagte by hom opgekom
dat hulle volgens die Nuwe Testamentiese patroon in gemeentes versamel moet word,
waaronder hy vestaan het dat net gelowiges wat deur onderdompeling gedoop is,
as lidmate kwalifiseer… Die siviele owerhede in Hamburg het besluit dat hulle
nie hierdie nuwe sekte in hule stad sou duld nie, en dit het tot boetes en tronkstraf
vir Oncken en andere gelei” (Broadbent 1999:349-350).
Groter godsdienstige verdraagsaamheid het egter mettertyd ingetree, wat daartoe
gelei het dat die onafhanklike evangeliese gemeentes vinnig uitgebrei het:
“Oncken en Köbner het begin om kort kursusse in Bybelstudie aan jong
manne te gee om hulle voor te berei om predikers in die gemeentes te wees wat
oral ontstaan het. Dit was die vroeë begin van die latere Hamburgse Baptiste Kollege
wat ‘n vier jaar kursus vir voornemende leraars aangebied het. Hierdie groeiende
beweging is in verskeie lande gevestig waarheen dit uitgebrei is, jaarlike konferensies
is vir afgevaardigdes gehou en ‘n aantal komitees van broeders aangestel om na
verskeie sake om te sien. Groot finansiële hulp is uit Amerika ontvang. Oncken
is as sendeling van die Amerikaanse Baptiste-vereniging aangestel en sodoende
in staat gestel om wyd te reis… Gemeentes van Duitse Baptiste is onder die groot
Duitse gemeenskap van Rusland gevestig. Hulle het kontak gemaak met ouer groepe
Russiese gelowiges wat ook die doop van die gelowiges beoefen het. Baie van hulle
is deur die Duitse Baptisekerk geabsorbeer” (Broadbent 1999:350).
Vroeg in die 19de eeu was daar mense wat die belangrikheid daarvan
besef het om na Bybelse leerstellings terug te keer – nie net wat ‘n mens se
persoonlike saligheid en jou gedrag betref nie, maar ook wat die vorm en getuienis
van kerke betref. ‘n Ernstige poging is aangewend om hierdie oortuigings in
werking te stel. Een van die prominente manne uit hierdie tyd, wat die belangrikheid
van ‘n letterlike gehoorsaamheid aan die Bybel besef het, was George Müller.
Gedurende sy studies om ‘n sendeling te word, het hy tot die gevolgtrekking
gekom dat die Woord van God die gelowige se enigste standaard en die Heilige
Gees sy enigste leermeester is (Broadbent 1999:357, 370).
Müller het die sendinggenootskap verlaat: “Hy het gesien dat dit nie volgens
die Bybel reg is om in ‘n Lutherse of Anglikaasne kerk georden te word nie,
en ook dat enige gevestigde kerk ‘n mengsel tussen die wêreld en die ware kerk
is, en dus beginsels bevat wat van die Bybel afwyk” (Broadbent 1999:370). ‘n
Tyd later is sy lewe nog meer met die Bybel in ooreenstemming gebring: “Terwyl
hy op ‘n dag na ‘n gesprek tussen drie Christen-dames geluister het, het hy
besef dat alhoewel hy nog altyd ‘n groot voorstander van die suigelingsdoop
was, hy nog nooit die saak biddend in die Bybel ondersoek het nie. Hy het homself
voorgeneem om ‘n studie hieroor te doen, en tot die oortuiging gekom dat net
die doop van gelowiges deur onderdompeling die leer van die Bybel is. Baie besware
oor die uitvoering hiervan het in sy gedagtes opgekom, maar omdat hy geglo het
dat dit die Here se wil is dat hy letterlik op sy opdragte moet reageer, het
hy homself laat doop” (Broadbent 1999:371). George Müller het egter gewaarsku
teen die neiging by sommige gelowiges om lidmate van staatskerke wat nie gedoop
is nie, te veroordeel (Broadbent 1999:374-375). Wanneer ons ons geloof in die
Here Jesus bely, moet ons daarteen waak om sekere gebruike of instellings meer
te beklemtoon as wat die Bybel dit doen.
‘n Ander, baie bekende prediker in die 19de eeu was Charles
Spurgeon, wat ‘n groot werk vir die Here in Engeland gedoen het. Hy het
met soveel geestelike krag gepreek dat groot getalle mense na sy dienste gestroom
het. In sy prediking het Spurgeon streng by die Skrif gebly.
“Hy was sterk daarvan oortuig dat die leer van doopsaligheid ‘n hindernis
in die verkondiging van die evangelie is, en het die moedige stap geneem om ‘n
boodskap hieroor te bring en dit ook te publiseer. Verskeie Protestantse en Evangeliese
groepe wat die suigelingsdoop beoefen, het hom skerp hieroor gekritiseer. As gevolg
van hierdie konflik het hy ‘n jaar later uit die Evangeliese Alliansie bedank.
Omdat die hoër kritiek, in terme waarvan Skrifgesag afgetakel is, geleidelik in
die Baptise Unie posgevat het, het Spurgeon homself ook hieruit onttrek” (Broadbent
1999:399).
Die 20ste eeu
Die 20tste eeu was ‘n tydperk van die vinnige uitbreiding van Bybel-gebaseerde
kerke en bewegings in die wêreld. Dit was egter ook ‘n tyd waarin die geloof
van baie mense as gevolg van humanistiese ideologieë ondermyn is:
“Dié kerke wat die Bybel hulle gids en maatstaf maak, en ernstig daarna
streef om volgens hierdie reël te leef, is volkome vry van die rasionalisme en
ander ideologieë, net soos wat hulle altyd van ritualisme vry was. Hulle vorm
‘n bolwerk teen ongeloof en bied ‘n tuiste aan siele wat ‘n plek soek waar hulle
in gehoorsaamheid teenoor God kan optree saam met mense wat ook soos hulle voel.
Hulle toename en verspreiding na baie lande, asook die feit dat nuwe kerke en
gemeentes gevestig word in dele waar die Bybel versprei word, is van die grootste
belang.
“Dit kan ook voorsien word dat terwyl verskeie denominasies verder van
die geloof af wegdryf, daar Christene onder hulle sal wees wat verplig sal voel
om te doen wat so baie ander voor hulle gedoen het – dit is om gemeentes van gelowiges
te vorm sodat die waarheid van God se Woord en die boodskap van sy reddende genade
deur hulle na ander uitgedra kan word” (Broadbent 1999:400-401).
In sy voorwoord van die herdrukte weergawe van Broadbent se boek, sê Dave Hunt
die volgende oor die huidige situasie:
“Ons leef in ‘n tyd van ekumenisme en die vestiging van ‘n onbybelse
eenheid wat ‘n verloëning is van die afskeiding van dwalings waarvoor so baie
lede van die Pelgrimkerk gely en gesterf het. Die leiers van sekere evangeliese
kerke en bewegings maak óf die bewering dat die Rooms-Katolieke Kerk se verlossingsleer
verander het, óf dat dit nog altyd Bybels was ten spyte van uitsprake (deur die
eeue heen en ook vandag) tot die teendeel, en ook die feit van die vervolging
van diegene wat aan Bybelse waarhede glo. Hierdie verdrukking gaan steeds voort
in Latyns-Amerika, dele van Europa en ander plekke waar Rome sterk genoeg is om
sy wil af te dwing.”
Bron
Broadbent. E.H., 1931 (herdruk in 1999) : The Pilgrim Church – Tracing the
pathway of the forgotten saints from Pentecost to the 20th century.
Grand Rapids, Michigan: Gospel Folio Press.
As ‘n epiloog tot die opsomming van Edmund Broadbent se boek bied ons aan u
aanvullende inligting wat sy gevolgtrekkings bevestig en versterk:
Dave Hunt se standpunt
Die Pelgrimkerk het kragtig gestry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges
oorgelewer is (Juda v. 3). Hulle aandrang op die doop van die gelowiges was
ten nouste aan hulle Bybelse leer oor verlossing gekoppel, wat voortspruit uit
die opdrag dat alle mense weergebore moet word (Joh. 3:3). Slegs ná sy wedergeboorte
kan die gelowige gedoop word (Mark. 16:16). Die suigelingsdoop van die Rooms-Katolieke
Kerk (soos oorgeneem van Augustinus en ander misleide kerkvaders) het redding
en ewige sekerheid aan suigelinge toegesê, en sodoende die kritieke faktor van
geloof in die Here Jesus vir redding ter syde geskuif. Die sakrament van die
suigelingsdoop is sedert sy instelling duidelik as ‘n reddingsmiddel in die
valse kerk gesien. Dit is dus belangrik om die leerstellige agtergrond van ‘n
bepaalde vorm van doop te ondersoek voordat dit aanvaar of verwerp word.
Dave Hunt, wat die voorwoord vir Broadbent se boek geskryf het, maak die volgende,
baie tersaaklike opmerkings in sy nuusbrief, The Berean Call, van Augustus
2001:
“Die meeste evangeliese Christene is onkundig oor die hoeveelheid Rooms-Katolisisme
wat deur Lutherse en Calvinistiese kerke in die Hervorming ingedra is. Ek werk
tans aan ‘n boek oor Calvinisme, waarvan een van die hoofstukke getiteld is: Die
verbasende Katolieke verband van Calvinisme.
“Luther was ‘n Augustynse monnik en Calvyn ‘n toegewyde Rooms-Katoliek
wat deeglik in die leerstellings van Augustinus onderlê is. Dit is verstommend
dat hierdie twee leidende hervormers vir Augustinus bewonder en hom tot hulle
dood toe nagevolg het. Dit is selfs nog meer verstommend dat evangeliese leiers
vandag nog steeds so ‘n hoë agting vir Luther, Calvyn en Augustinus het.
“Augustinus word deur die Rooms-Katolieke Kerk as een van die grootste
“heiliges” vereer, omdat hy verantwoordelik was vir die meeste van dit wat Rome
vandag nog verkondig en beoefen. In sy “Institute van die Christelike Geloof”
haal Calvyn vir Augustinus meer as 400 keer aan, dikwels met die uitdrukking:
“op gesag van Augustinus…”
“Beide Luther en Calvyn het geleer dat die doop van babas (selfs wanneer
dit deur ‘n goddelose, ongelowige, Katolieke priester gedoen is) vergifnis van
sonde meegebring en van iemand ‘n kind van God gemaak het. Dit is waarom Lutherane
en Calviniste die Anabaptiste, wat waarlik weergebore was en hulle as gelowiges
laat doop het, verag, vervolg en selfs laat doodmaak het. Die Lutherane, Calviniste
en Katolieke kan nie meer vandag sulke gelowiges op die brandstapel tereg stel
nie, maar hulle verag en vervolg nog steeds sulke mense.
“Onlangs het ‘n man in New York aan my ‘n ekskommunikasie-brief [verbanningsbevel]
gewys wat die Missouri-sinode van die Lutherse Kerk aan hom geskryf het nadat
hy die evangelie van Jesus Christus aangeneem en hom as ‘n gelowige laat doop
het. Hy is nie net deur die kerkleiers vervolg nie, maar ook deur sy familie en
vriende.
“Die Bybel is baie duidelik oor die voorwaarde vir die waterdoop: “…wat
verhinder my om gedoop te word?” Die antwoord hierop is: “As u glo met u hele
hart, is dit geoorloof” (Hand. 8:35-39). Dit is duidelik dat geloof in Christus
(iets wat onmoontlik en dus onnodig vir ‘n baba is) ‘n voorvereiste vir die doop
is.
“Selfs die verse wat altyd aangehaal word om die valse leerstelling van
doopsaligheid te regverdig (“Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word” – Mark.
16:16) vereis geloof in die evangelie voordat ‘n persoon gedoop word. Die
feit dat babas nie die evangelie kan glo nie, openbaar die dwaling van die kinderdoop,
waarvan daar nie een enkele voorbeeld in die hele Bybel is nie. Kinders wat sterf,
gaan hemel toe, maar dié wat oud genoeg word om die evangelie te verstaan, moet
óf vir Christus aanvaar óf Hom verwerp.
“Die twee algemeenste gedeeltes wat deur die ondersteuners van die kinderdoop
gebruik word om die doop van babas te regverdig, is die redding en doop van Cornelius
se huis (Hand. 10) asook die tronkbewaarder en sy gesin van Fillippi (Hand. 16).
Dit word aangeneem dat daar in elke geval klein kindertjies en selfs babas
was wat gedoop is. In beide gevalle is hierdie aanname egter ongegrond en strydig
met die feite.
“In Handelinge 10:44-47 het dié “wat die woord gehoor het”, geglo en
is gered. Hieruit is dit duidelik dat daar nie babas was nie – indien daar was,
is hulle nie gedoop nie – omdat babas nie die evangelie kon verstaan en daarin
glo nie. Almal wat deur Petrus gedoop is, het die evangelie aangeneem en geglo.
Verder word die leer van doopsaligheid heeltemal uitgesluit deur die feit dat
hierdie nuwe bekeerlinge “die Heilige Gees ontvang het” nog voordat hulle
gedoop is (Hand. 10:47). Die doop het hulle dus nie gered nie.
“Uit Handelinge 16:30-33 is dit eweneens duidelik dat daar nie babas
teenwoordig was nie, en nog minder gedoop is. Deur Paulus se woorde aan die tronkbewaarder:
“Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin” (v.
31), word duidelik geïmpliseer dat daar redding was vir almal in die huis wat,
soos die gesinshoof, in die Here Jesus Christus geglo het.
“Die stelling in die volgende vers dat Paulus en Silas “aan hom die woord
van die Here verkondig [het] en aan almal wat in sy huis was”, is ‘n bewys dat
daar geen babas teenwoordig was nie. ‘n Mens preek nie die evangelie aan babas
nie. Almal in die huis was dus oud genoeg om die evangelie te hoor, te verstaan
en in die geloof daarop te reageer voordat hulle as gelowiges gedoop is.
“Calvyn het selfs geleer dat indien jy aan die kinderdoop glo, dit aan
jou sekerheid gee dat jy een van die uitverkorenes is, en dat die kinders van
die uitverkorenes nie eers gedoop hoef te word nie omdat hulle reeds kinders van
God is… Dit is ‘n ernstige saak hierdie. Waarom moet die Calvinistiese jongeling,
wanneer hy oud genoeg is om te verstaan, voor die keuse gestel word om die evangelie
te glo? Hy word dan van sy geboorte af al as een van die uitverkorenes beskou!
Aanneming as lidmate van die gemeente is vir hulle bloot ‘n bevestiging van dit
wat die kinderdoop, of die geboorte in ‘n Calvinistiese gesin, reeds bewerkstellig
het.
“Inderdaad – watter behoefte is daar hoegenaamd om die evangelie aan
enigeen te verkondig omdat die uitverkorenes sonder dit gered word, en
die nie-uitverkorenes dit in hulle totale verdorwe toestand glad nie kan verstaan
of glo nie? Hierdie leerstelling van die Lutherane en Calviniste is ‘n dodelike
dwaling waardeur miljoene mense mislei word om te dink dat hulle op pad hemel
toe is, terwyl hulle in werklikheid op die hel afstuur. Hierdie leer moet geopenbaar
en weerstaan word, net so seker en duidelik as die valse evangelie van die Rooms-Katolieke,
waaraan dit nou verwant is.”
‘n Gevallestudie uit ensiklopedieë
Een van die bekendste gevalle van die vermoording van ‘n evangeliese Christen
deur ‘n Protestantse staatskerk is die moord op dr. Michael Servet, ‘n Spaanse
medikus en kampvegter vir suiwer evangeliese beginsels. Sy groot oortreding
was dat hy dit durf waag het om homself teen die dwalings van Calvyn uit te
spreek – onder meer teen die leer van doopsaligheid wat aan kinderbesprinkeling
gekoppel was, en ook teen die negatiewe gevolge daarvan om 'n staatskerk te
wees. In sy boek het hy gesê dat die verlossingswerk van Christus heeltemal
deur hierdie dwalings oorskadu word. In die gebeure rondom sy dood kom die vervolgingswaansin
van 'n afvallige Protestantse kerk, soos in Edmund Broadbent se boek beskryf,
duidelik na vore: Twee internasionale ensiklopedieë stel die saak só:
“Michael Servetus… found that the expression of his opinions, which finally
came to include a denial of infant baptism and of original sin, was as obnoxious
to the Protestants as to the Catholics… On August 13, 1553, he was arrested in
Geneva by the magistrates on a charge of blasphemy and heresy. They consulted
the magistrates of all the Protestant Swiss cantons, who referred the matter to
their divines. The latter unanimously declared for punishment, Calvin being especially
urgent and emphatic on the necessity for putting Servetus to death. Indeed, Calvin
had indicated earlier that if Servetus came to Geneva, he would do his best to
prevent him from leaving alive. As Servetus refused to retract his opinions, he
was condemned to death for heresy. He was burned at the stake on October 27, 1553.”
(Servetus, Michael, in: The Encyclopedia Americana: International Edition,
1992. Volume 24 p. 584).
“Michael Servetus, Spanish physician and theologian whose unorthodox
teachings led to his condemnation as a heretic by both Protestants and Roman Catholics
and to his execution by Calvinists from Geneva… In [his] book, Servetus argued
that both God the Father and Christ His Son had been dishonoured by the Constantinian
promulgation of the Nicene Creed, thus obscuring the redemptive role of Christ
and bringing about the fall of the church. Servetus felt he could restore the
church by separating it from the state and by using only those theological formulations
that could be proved from Scripture and the pre-Constantinian fathers… [Servetus
was] tried for heresy from August 14 to October 25, 1553. Calvin played a prominent
part in the trial and pressed for execution, although by beheading rather than
by fire. Despite his intense biblicism and his wholly Christocentric view of the
universe, Servetus was found guilty of heresy, mainly on his views of the Trinity
and baptism. He was burned alive at Champel on October 27. His execution produced
a Protestant controversy on imposing the death penalty for heresy [and] drew severe
criticism upon John Calvin…” (Servetus, Michael, in: The New Encyclopaedia
Britannica, 1990. Volume 10, p. 654).
Volgens Foxe's Book of Martyrs het Calvyn ná die gebeure steeds sy aandeel
in die teregstelling van Servet geregverdig en dit dus nie as 'n sonde bely
nie.