Die volgende is briewe wat ná die dood van pous Johannes Paulus II per epos tussen dr. Opal Reddin in Springfield, VSA, en ‘n sendeling, Terry Peretti, van die Assemblies of God (AG) in Rome, gestuur is. Beide van hulle het ingestem dat hierdie briewe gepubliseer mag word.
Groete, Terry en Marsha: Gedurende die afgelope paar dae was julle meer as gewoonlik in my gedagtes en gebede. Die tsunami van bewondering en verheerliking vir die pous deur al die media in die VSA én ook die meeste van die evangeliese Christene, insluitende sommige van die Assemblies of God, het my baie bedroef. Die mees betreurenswaardige aspek is die gedagte dat Johannes Paulus II voor die Regverdige Regter in die hemel te staan gaan kom.
Gister het ek in die kerk oor die verdediging van die evangelie gepraat. Met Paulus as voorbeeld, het ek ‘n Bybelse definisie van die ware evangelie gegee, en daarna aangetoon hoedat ‘n “ander evangelie” van redding op grond van die werke van die wet nie net die vroeë kerk bedreig het nie (Gal. 1 en 2), maar ook vir ons vandag. In ‘n moderne toepassing van hierdie waarskuwing het ek John Lindell aangehaal, wat gesê het: “As julle familie of vriende in die Rooms-Katolieke Kerk (RKK) het, moet julle baie vriendelik teenoor hulle wees, maar julle moet aan hulle vertel dat hulle nie die ware evangelie het, waarsonder niemand gered kan word nie.” Ek het jou ook aangehaal: “Onder die voormalige Katolieke in ons gemeentes hier in Italië, het ons nog nie een teëgekom wat gesê het dat hy of sy die evangelie verstaan het terwyl hulle in die Katolieke Kerk was nie.”
Ek het hulle uitgedaag dat hulle moedig soos Martin Luther moes wees, wat sy lewe op die spel geplaas het em verlossing te verkry en die ware evangelie weer aan die mense te bring. Die Here het my gelei om dit te sê. Daar was ‘n goeie reaksie hierop, deur studente sowel as lede van die fakulteit. Sover ek weet, is John Lindell en ek die enigste twee predikers in die Assemblies of God wat openlik oor die dwaalleer van die Rooms-Katolieke Kerk praat. Ek het in ‘n geloofwaardige bron, wat ek ongelukkig nie meer het nie, gelees dat alle Christelike kweekskole ‘n paar dekades gelede die Rooms-Katolieke Kerk as ‘n valse kultus beskou het. So ver ek weet, is CBC die enigste van ons Christelike kolleges wat in die afgelope dekade nog ‘n kursus gehad het waarin die RKK se dwalings aangetoon word.
Jy hoef nie ‘n lang antwoord op my brief te stuur nie. Ek wil graag net weet watter invloed die onlangse gebeure op ons gemeentes daar het. Mag die Here voortgaan om julle in sy diens te versterk.
Ter wille van die oes, Opal.
Goeiedag, Opal. Ja, daar is jammerlike onkunde en ook misleiding oor die pous en Katolisisme onder baie van ons broeders. Ek was in St. Peter’s drie dae voordat die pous dood is en het ook by die liggaam van Johannes XXIII verbygegaan. Ek neem altyd spesiale gaste aan Rome na St. Peter’s om die dooie pouse in hulle glaskiste te sien. Johannes XXIII is opgegrawe nadat hy van 1964 tot in 2000 begrawe was. Ek het omtrent twintig mense gesien wat voor sy lyk gekniel en gebid het. Ek het ‘n vrou gehoor wat in Italiaans gebid en oor ‘n selfoon met iemand gepraat en vir haar gesê het: “Moenie bekommerd wees nie, ek het tot pous Johannes gebid. Hy sal jou gebede verhoor en jou gesond maak.”
Pous Johannes Paulus II het meer as enige ander mens in ons leeftyd gedoen om afgodediens en die raadpleging van geeste te bevorder. In al die nuusberigte is daar nooit enige verwysing na sterfte en ‘n persoonlike ontmoeting met Jesus Christus daarna nie. Johannes Paulus II het in sy boek, Crossing the Threshold of Hope, geleer dat die vaevuur die demonstrasie van God se liefde is. Die mees opsigtelike verskil tussen ons evangelies is dat die Katolieke Kerk leer dat die vaevuur ons van sonde reinig, terwyl die Bybel leer dat slegs die bloed van Jesus Christus ons van ons sonde kan reinig. Die bloed van die kruis is sentraal in ons geloof en prediking. Paulus sou die pous “anatema” genoem het (Gal. 1:8-9), en ek doen dit ook. Nogtans was ek baie jammer vir die sterwende pous. Ek het gewens dat ek naby genoeg kon kom om die vrede wat ons in Jesus het, met hom te deel. Met al die heerlikheid waarmee sy amp omring is, kan ‘n gewone sterfling soos ek nooit naby genoeg kom om ‘n persoonlike gesprek met hom te voer nie.
Wat die broeders in Rome betref, sien hulle al hierdie gebeurtenisse as ‘n voorspel vir die kroning van die Antichris. Dit sal op ‘n soortgelyke manier gebeur: verering deur die wêreldmedia vir een wat heilig lyk, maar leerstellings van duiwels verkondig. Hier sal Vrydag 200 staatshoofde wees en motorverkeer sal totaal verbied wees. Die vier miljoen inwoners van Rome sal Vrydag almal te voet wees vir die hele dag. Die geestelike atmosfeer in die stad is in hierdie tyd só intimiderend dat dit amper voel of jy daarvan kan versmoor. Die druk om ‘n dooie man te vereer, is oorweldigend. Oral sien jy sy beeld of foto. Mense het al begin om hom te aanbid, en noem hom "Giovanni Paolo Magno" (Johannes Paulus die Grote). Daar is geen twyfel dat hy tot ‘n heilige verklaar sal word nie. Mense sal dan aangemoedig word om die dooie pous te aanbid, soos wat hulle pous Johannes XXIII aanbid. Die aanbidding van die geeste van dooies is afgodediens en lei na ‘n oopstelling vir demone.
Mattheus 24:24 verwys na valse christusse wat selfs die uitverkorenes mislei. Dit is sekerlik vandag die geval. Evangeliese Christene in Italië word egter nie mislei nie. Hulle sien die korrupsie, vuilspel en heidense gebruike van die Katolieke Kerk raak. Hulle leef elke dag daarmee saam. Buitelandse gelowiges word makliker mislei. Soos wat tyd verloop, sal die waarheid meer en meer aan die lig kom. Die ware kerk wat in die bloed van die Lam gewas is, moet heiliger word en sterker staan. Broederlike liefde in Hom wat my deur sy bloed gered het.
Terry Peretti, Rome.
Ek is baie dank aan jou verskuldig, Terry, vir die tyd wat jy geneem het om jou gevoelens met my te deel. Die inligting in jou brief is baie waardevol. Ek het die vrymoedigheid geneem om dit vir John Lindell te gee, en ek hoop nie jy gee om nie. Hy waardeer dit baie en sal dit vanaand met sy gemeente deel. Hy is die enigste predikant in hierdie omgewing wat ‘n openbare standpunt vir die volle waarheid inneem. Groot getalle mense besoek sy gemeente, selfs wanneer John aspekte van die Woord verkondig wat baie mense ongemaklik en party selfs kwaad maak.
Daar is sekere predikers hier wat beswaar maak as ek sê dat Johannes Paulus II nie ‘n heilige man was nie, en nie gereed om hemel toe te gaan nie. Baie van ons mense het dringend nodig om die waarheid oor die Roomse stelsel te hoor – nie om daardeur mense te veroordeel nie, maar om hulle te help om tussen die ware evangelie en misleiding te kan onderskei.
Op Larry King Live van 2 April, het Larry vir Billy Graham gevra of die pous volgens sy mening by die Here is. Billy het geantwoord dat hy meer seker van die pous se redding as van sy eie is! Ek prys die Here vir die voorreg wat ek gehad het om duisende mense uit die Roomse misleiding te kon lei.
Vir die oes. Opal.
Opal. Deel asb. my gedagtes met enigeen wat jy wil. Ek is jammer dat selfs Billy Graham oor hierdie saak mislei is. Hy is nooit toegelaat om ‘n veldtog in Italië te hou nie. As gevolg van sy verkeerde begrip van die Katolieke Kerk, het die evangeliese Christene in Italië hom weggewys. Hulle wou Billy Graham in 1970 nie toelaat om die Katolieke en evangeliese Christene vir ‘n veldtog saam te bring nie, as gevolg van die verwarring wat hierdeur veroorsaak sal word. Dit gaan weer terug na die vraag: glo ons in Jesus wat ons sondes was met sy bloed, of in die pous wat belowe dat ons sondes deur die vlamme van die vaevuur weggebrand sal word? Die boodskappe is verskillend. Elke man van God het ‘n blinde kant, en hierdie is Billy Graham se blinde kant. Die tragiese ding is die verwarring wat daar heers.
Is die pous gered? Hoe kan dit wees? Kan ‘n man gered wees as hy die dooies aanbid? Kan ‘n man gered wees as hy Maria meer as vir God aanbid? Kan ‘n man gered wees as hy Maria as ‘n mede-verlosser beskou? Kan ‘n man gered wees as hy sê dat enigeen hemel toe kan gaan, ongeag of hy in Jesus glo of nie? Dit is presies wat hierdie pous verkondig het, en dit is in ooreenstemming met Hoofstuk 1, Artikel 18, van die Tweede Vatikaanse Konsilie. Volgens hierdie leerstuk maak dit nie saak wat jy glo nie, want dit is innerlike goedheid wat tel, asook die vlamme van die vaevuur wat jou van sonde reinig. Kan ‘n man gered wees wat 450 persone tot heiliges verklaar het, en miljoene mense aangemoedig het om hierdie heiliges te aanbid? Kan ‘n man gered wees wat twee ekumeniese gebedsbyeenkomste in Assissi gehou het, waar hy saam met Boeddhiste, Moslems, Shintoïste en animiste gebid het? Ek het gesien toe die pous een van hierdie byeenkomste gelei het, waarin die naam van Jesus nie een keer genoem is nie. Ek het toegekyk toe die pous in die jaar 2000 die heilige deur oopgemaak het, met twee Hindoe-priesters agter hom wat wierook gebrand het. Op navraag het wagte by die Vatikaan bevestig dat dit Hindoe-priesters was.
Wat die evangeliese kerk in Italië betref: hulle is oor baie sake verdeeld, maar hulle staan verenig oor hulle gemeenskaplike liefde vir die Here Jesus, hulle vaste oortuiging dat die regverdige uit die geloof sal leef, asook hulle bewussyn van die verraderlike misleiding van die Rooms-Katolieke Kerk. Wat die bediening betref, praat ons nooit oor die Katolieke Kerk van die kansel af nie. Ons verkondig die waarheid van die Woord van God, en die Heilige Gees doen die res. Die Here Jesus bou sy gemeente, en die poorte van die hel sal die nie oorweldig nie.
Die ware Christene is daarvan oortuig dat wat ons vandag aanskou, ‘n voorloper vir die kroning van die Antichris is. Volgens ons Bybelse verwagting beteken dit dat ons naby aan die einde van die bedeling is, en dat Jesus ons spoedig sal kom haal en wegneem. Groot demoniese mag sal aan ‘n ekumeniese godsdienstige beweging gegee word, soos wat ons al vandag op TV sien. Terwyl hierdie dinge gebeur, kry die ware kerk ‘n hernude salwing van die Heilige Gees, en groter vrymoedigheid om vir die waarheid uit te staan. Die begrafnis van die pous het opnuut die feit beklemtoon dat hy tot ‘n heilige verklaar en aanbid sal word as iemand wat ook vir kerk intree. Hierdeur word die woorde van Jesus geloën toe Hy gesê het: “Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Terwyl ek aan die groot geestelike misleiding in hierdie stad gedink het, is ek deur die Here se woorde aan Elia bemoedig: “Ek het vir Myself seweduisend manne laat oorbly wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie.” Dié wat die wysheid van God het, sal die waarheid verstaan. Verdrukking sal van die ekumeniese beweging af kom, maar dit sal net die ware kerk reinig en versterk. Jou broer in Hom wat ons met sy bloed gewas het.
Terry Peretti, Rome.