Jesus Christus in Bybelse Profesieë

Johan Malan (Junie 2009)

Die geestelike en leerstellige waarde van verskeie artikels wat deesdae oor Israel en die tekens van die tye geskryf word, is uiters laag. Skrywers gee meesal net ‘n oorsig van sekulêre nuusberigte, maar bied nie ‘n gebalanseerde Bybelse perspektief daaroor aan nie.

Dit is opvallend dat selfs Christelike analiste oor die toestand in die Midde-Ooste baie min insig in Israel se eindtydse posisie toon. Obama word nou geblameer dat hy Israel isoleer en in die steek laat. Is dit hy wat dit doen, of is dit die Here wat dit so beskik? Volgens Esegiël 22:18-22, Jeremia 30:7 en Sagaria 14:2 gaan die Here Israel in baie groot benoudheid bring omdat hulle geestelik skuim in sy oë geword het deur sy Woord te onteer en die Messias te verwerp. In die lig hiervan moet ons hulle internasionale verstrooiing die afgelope 2000 jaar verstaan, asook die Joodse slagting van Wêreldoorlog II (die Holocaust). Of gaan ons slegs die Romeinse Ryk, die Nazi’s en ander nasies vir hierdie menslike tragedie blameer? Hierdie nasies is skuldig, ja, maar Israel is nog meer skuldig en aandadig aan hulle groot probleme. Het Jesus nie gesê dat  Jerusalem verwoes en vertrap sou word omdat hulle nie vir Hom as Messias wou aanvaar nie (vgl. Matt. 23:37-38)? In die addendum hieronder verduidelik ‘n Messiaanse Jood, Arthur Katz, die volle implikasies van Israel se sonde en ongeloof.

Wat Israel se toekoms betref, maak dit hoegenaamd nie saak wat Obama, die pous, die EU, Iran of Rusland oor Israel doen of sê nie. As hulle Israel nie vervolg en isoleer nie, sal die Here ander groepe of nasies toelaat om dit te doen. Die feit is dat Israel weens hulle voortgesette geestelike afvalligheid in die tyd van benoudheid vir Jakob móét kom.

Waarom is daar so min mense wat die moed het om Israel oor die werklike redes vir hulle probleme in te lig? Waarom word hulle eie geestelike bankrotskap nie aangespreek nie? Waarom is selfs organisasies soos die Internasionale Christenambassade besig om net goeie verhoudings met ongeredde Israel aan te knoop sonder om uitdruklik die Messias aan hulle te verkondig? Waarom verloën predikers soos John Hagee vir Jesus as Messias van die Jode, deur te beweer dat hulle nie vir Jesus hoef aan te neem om gered te word nie? Waarom hardloop al die Christene agter hom aan en gee net geld vir Israel, maar niks van die evangelie  wat hulle enigste hoop is nie?

Wanneer sal dit met Israel beter gaan – wanneer Amerika hulle weer militêr help en bystaan, of wanneer hulle die Messias aangeneem het? Sal hulle ooit die Messias soek as hulle nie in groot nood kom nie (gvgl. Hos. 5:15 en 6:1-2)?

Amerika en ander lande se onredelike behandeling van Israel kan sekerlik nie goedgepraat word nie. Ons moet egter duidelik aantoon dat die huidige Joodse, Amerikaanse, Russiese, Arabiese én Europese perspektiewe op die Midde-Ooste uit ‘n Bybelse oogpunt almal totaal verkeerd is. Of die media ter wille van die groot lande se politieke en strategiese belange die berigte oor die Midde-Ooste verdraai of nie, die feit is dat nie een van hulle naastenby die diep geestelike kern van die eskalerende probleme openbaar nie. Sommige van hulle weet iets van die Islamitiese jihad, maar het min begrip vir die enigste Christelike oplossing en verweer hierteen.

Dit is opvallend dat die naam Jesus Christus al hoe meer uit mense se denke begin verdwyn – ook uit baie Christene se gesprekke en geskrifte. Daar word nog soms na God en God se volk verwys, asook na die Christendom en die Bybel, maar baie selde na Jesus Christus as die enigste Koning en Verlosser van Israel én die hele wêreld. Dit is tog Hý wat tot ‘n val en opstanding van baie in Israel én die res van die wêreld gekom het, dit is Hý wat sy kerk by die Bema gaan oordeel, en dit is Hý wat Israel en die ongelowige nasies in die verdrukking gaan werp. Sonder Hom kan al hierdie gebeure glad nie verstaan word nie, daarom is “die getuienis van Jesus die gees van die profesie” (Op. 19:10). In Hom kan die oordele vrygespring word, maar buite Hom sal die oordele van God alle ongelowiges tref.

Al die detail oor hoe die nasies teen Israel draai, hoe Israel homself geestelik verder verhard en die lewe vir die Messiaanse Jode wat in Jesus glo, baie moeilik maak, en hoe verskeie tekens daarop dui dat die wegraping en die verdrukking baie naby is, is almal van sekondêre belang. Ons moet daarteen waak om nie té veel by hierdie detail betrokke te raak nie. Ons weet reeds genoeg om te kan konkludeer dat die wegraping en die openbaring van die Antichris baie naby is, en dus ook die tyd van God se oordele oor ‘n bose wêreld.

In die lig hiervan moet ons ‘n bepaalde boodskap in die wêreld uitstuur. Die ware kerk van Christus moet tot groter heiligheid en toewyding aan die Here opgeroep word as voorbereiding vir ons verskyning voor die regterstoel van Christus. Ongeredde mense, insluitend die groot aantal naamchristene, moet tot bekering opgeroep word (Ef. 5:14). Israel moet uit die oogpunt van Ou Testamentiese profesieë oor die identiteit van hulle Messias ingelig word, asook oor die verskriklike alternatief van ‘n verbond met die komende valse messias indien hulle nie met Jesus van Nasaret versoen raak nie. Dit gaan steeds alles oor die Messias, of oor die valse messias wat aanvaar sal word deur almal wat nie die ware Messias dien nie.

Dit is duidelik ‘n futiele oefening om elke keer ‘n groot verwagting te skep as daar gebeure van moontlike profetiese betekenis in Israel, Gasa, Libanon, Amerika, Rusland, Georgië of Iran plaasvind, en dan te spekuleer dat die oorlog van Esegiël 38 en 39 enige oomblik kan uitbreek. Selfs al gebeur dit ook, gaan nie een van hierdie argumente mense na die Here Jesus toe trek nie, en ook nie tot die redding van Israel bydra nie. Ons moet op webwerwe, in boeke en in artikels inligting aanbied waarin Jesus Christus die sentrale tema is – wie Hy is, wat Hy van ons verwag, en hoe Hy in die eindtyd geopenbaar gaan word. In sy program vir die eindtyd gaan Hy eers die ware gelowiges uit die rampgebied van goddelike oordele verwyder (Luk. 21:36; Joh. 14:1-3; 1 Thess. 1:10) en hulle werke op sy regterstoel beoordeel (2 Kor. 5:10), daarna gaan Hy die ongeredde wêreld in die verdrukking oordeel (Op. 6:12-17) - en dan die wêreld in sy duisendjarige vrederyk geestelik, moreel, polities én ekonomies radikaal verander (Jes. 2:2-4; Jer. 3:17). Alles moet regstreeks na Hom herlei word – die seën én die oordele.

Hoe minder daar aan die Here Jesus gedink en oor Hom gepraat word, hoe minder glo mense aan sy belofte van ‘n voorverdrukking wegraping (Luk. 21:36); hoe minder hulle van sy regterstoel oordeel af weet, hoe minder sal hulle vir sy skielike koms gereed wees (1 Kor. 3:9-15). Baie mense raak só intens by ‘n studie van die tekens van die tye betrokke, en selfs by moontlike datums vir Jesus se koms, dat hulle eintlik glad nie by ons verhouding met Hom (heiligmaking) uitkom en ‘n besluit neem om vir Hom te werk terwyl dit dag is nie – die nag van God se oordele kom wanneer niemand kan werk nie.

Ek glo sekerlik dat Israel en baie ander tekens profeties belangrik is, maar hierdie kennis moet tot dieper geestelike insigte lei en veral tot die verheerliking en verhoging van die Here Jesus – ook tot vrees vir die komende dag van sy toorn wat oor al die sondaars, vleeslikes, agnostici en onheiliges uitgestort gaan word. Sy oordele moet as deel van die groter prentjie oorweeg word, anders sal mense dink dat die wêreld van die toekoms net deur die huidige geslag wêreldleiers en hulle militêre optredes bepaal gaan word. Mens kry hulle eintlik jammer as jy na hulle besluite luister en na hulle maneuvers kyk, want hulle het nie ‘n idee wat op hulle wag nie. Hulle weet nie dat hulle in Israel versamel gaan word om daar deur die Here geoordeel te word nie (Joël 3:2; Sag. 14:2,12).

Israel is profeties een van die mees oningeligte nasies ter wêreld met betrekking tot gebeure aan die einde van die kerkbedeling. Die oorgrote meerderheid sal as gevolg van hierdie onkunde tot ‘n val kom en die voortou neem om met die Antichris ‘n verbond te sluit onder die valse oortuiging dat hy die ware Messias is (Dan. 9:27; Joh. 5:43). Ek is bevrees dat ons Christene nie regtig uitvoering aan die Here Jesus se basiese opdrag gegee het nie, nl.: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees in Jerusalem, Judéa, Samaria, en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8; my beklemtoning). Baie van die Christene in Jerusalem is bang om dit te doen, uit vrees dat hulle aan die ortodokse Jode aanstoot sal gee. In die res van die wêreld word mense op ‘n maklike manier sonder die duidelike vermelding van Jesus Christus en sy eis van geloof en bekering, salig gespreek. Hierdie lae standaard is ‘n teken dat sulke evangeliste nie met die Heilige Gees vervul is nie, en dus ook nie die krag en vrymoedigheid het om te doen wat hulle moet doen nie.

Die eindtydse mens het vervlak in sy denke en beoordeel alle dinge volgens sekulêre, humanistiese kriteria. Selfs Christene begin om by hierdie denkpatroon in te val en is in die meeste gevalle nie in staat om die geestelike perspektief op wêreldgebeure reg te bepaal en te beskryf nie. Baie van hulle besef nie eers hulle eie geestelike armoede en blindheid nie, daarom moes die Here Jesus vir een van die gemeentes in Openbaring sê, “Jy sê: ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie, en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Op. 3:17).

Ons sal van ons verhouding met die Here Jesus erns moet maak as ons verligte oë van die verstand wil hê om geestelike dinge reg te kan beoordeel, en ook die korrekte Bybelse perspektief op Israel en die tekens van die tye wil hê.

Addendum: Israel se geestelike blindheid

Ernstige Bybelstudente is verplig om ‘n verklaring vir die verskriklike lyding van Israel te gee – die groot ellende en lewensverlies tydens die beleg en verwoesting van Jerusalem in die eerste eeu, die vervolging van Jode onder die nasies deur die eeue heen, die onbeskryflike menseslagting van sesmiljoen Jode gedurende die Tweede Wêreldoorlog, asook die grootste verdrukking van alle tye wat in die komende groot verdrukking op hulle wag. Die vraag oor die werklike oorsaak vir hierdie haas onbeskryflike lyding word deur ‘n Messiaanse Jood, Arthur Katz, beantwoord. Die volgende is vertaalde aanhalings uit sy boek, The Holocaust – Where was God? An Inquiry into the Biblical Roots of Tragedy, gepubliseer in 1998. Die aanhalings word gebruik met die toestemming van Art Katz Ministries (www.artkatzministries.org).

 “Die Joodse slagting laat baie vrae ontstaan. Waarom het God nie te midde van die onbeskryflike lyding ingegryp nie? Waar was God wat daarop aanspraak maak dat Hy alomteenwoordig is, almagtig, en dat Hy alles weet? Het Hy nie die afgryslike tragedie gesien waarin sy verbondsvolk sistematies en op die mees dierlike en wreedste wyse uitgewis is nie? Hoe kon die lankverwagte Messias waarvan die Christene praat, reeds gekom het en nogtans die grootskaalse vermoording van sy eie mense toelaat? Waar is die genade van die Nuwe Testamentiese God, indien so iets in moderne tye deur die bemiddeling van ‘n ‘Christelike’ nasie – Lutherse Duitsland – kon plaasvind? Waarom was God stil?” (bl. 6-7).

“Ek moet óf met baie skrywers saamstem dat God dood is, óf ek moet die getuienis van die Skrifte aanvaar dat God se stiltes in direkte verhouding tot ons sondes is. Uit hierdie oogpunt gesien, moet die Joodse slagting as ‘n oordeel beskou word. Dit was nie ‘n afwykende, onverklaarbare historiese gebeurtenis nie, maar ‘n geval dat die grootte van ons lyding in direkte verhouding tot die grootte van ons sonde is. Die oordele van God het oor ons gekom omdat ons ‘n volk is wat die kennis van die Here verwerp het, nie in ooreenstemming met sy verbonde leef nie, en nie ons plig as sy getuies nakom nie. Volgens die Bybel kom hierdie oordele veral in die laaste dae oor ons, in die tydperk kort voor die vestiging van die Messiaanse koninkryk” (bl. 7).

“Dit is merkwaardig hoedat die vertolking van die Joodse slagting as ‘n oordeel van God op ‘n besondere wyse vir God as God verduidelik, en ook by ons die vrees vir die Here as Regter inskerp. Hierdie vrees vir die Here ontbreek pynlik in die bewussyn van die moderne mens. Ons groei op sonder om hoegenaamd ‘n sin vir die ontsag en vrees vir die Here te ontwikkel. Hierdie gebrek moet met die Joodse slagting in verband gebring word” (bl. 7-8).

“Ons Jode het geen perspektief op God as Regter nie. Ons het gevolglik ‘n hoë prys vir ons gebrek aan die verstaan van God betaal – in oordeel sowel as in genade, in gestrengheid sowel as in goedheid. Ons is nie eers bewus van God se handelinge met Israel (in die verlede, hede en toekoms) nie, en neem gevolglik nie van die mees betekenisvolle openbarings van God in die Skrif kennis nie. Daar is iets omtrent God in oordeel wat Hom openbaar soos wat Hy op geen ander manier geken kan word nie. Tóg is dit die een attribuut van God waarvan ons feitlik instinktief wegskram. Ons kan nie die God van genade, liefde en regverdigheid met die God wat oordele en lyding oor mense bring, versoen nie. Indien óns God sulke dinge doen, dan word juis dit wat vir ons pynlik en onaanvaarbaar is en wat dreig om ons godsdienssin te vernietig, een van die mees kosbare openbarings van God. Is dit nie in hierdie oënskynlike weerspreking, as ons dit goed deurdink, dat die diepste openbaring van God gevind kan word nie?” (bl. 9).

“Ons kan nie die Joodse slagting uit God se oogpunt verstaan nie, omdat ons dit nie in die lig van die ewigheid beoordeel nie. Slegs ‘n ewigheidsoorweging maak hierdie ramp enigsins verstaanbaar. Dit is alleen in die hoop om die ewige vuur van God se oordele te kan vryspring, dat betekenis aan hierdie vuur verleen word. Indien die een vuur ons iets van die ander een leer en help om ons daarvan te red, dan maak dit baie sin. Indien ons die ewigheid uit ons beredenerings weglaat, dan het ons ook ‘n verwronge beeld van die huidige werklikheid” (bl. 9-10).

“Dit sou geen oordrywing wees om te sê dat ons beste segspersone wat verplig was om ‘n verklaring vir die mees vernietigende ervaring in ons geskiedenis te gee, min of geen pogings aanwend om dit in die lig van die Bybel te verklaar nie. Ons het as ‘n volk van die Bybel vervreem geraak” (bl. 27).

“Rampe as goddelike oordele is die Here se voorlaaste voorsiening om mense se aandag op die noodsaaklikheid van bekering te vestig. Indien ons sou nalaat om rampe só te vertolk en God se hand daarin te sien, sal ons daartoe oorgaan om al die blaam op ander mense te plaas. Ons sal dan die Duitsers en Hitler as die skuldige partye aandui. Dit is nie te sê dat hulle onskuldig is nie, maar ons sou dan nalaat om die groter prent te sien. Uiteindelik gaan diegene wat ander mense blameer, daartoe oor om God te blameer. As ons nie onsself as die skuldige party in die oordele sien wat oor ons gekom het nie, sal ons noodwendig op die punt kom waar ons vir God daarvoor sal blameer. Hy sal dan deur ons beskuldig en veroordeel word omdat Hy nie tot ons hulp gekom het nie! Dit is in ons eie belang om die tragedies van die verlede reg te vertolk. Ons sal dwase wees as ons dit nie doen nie, want dan verbeur ons die voordeel om uit vorige ervarings te kan voorsien wat weer sal gebeur as ons nie daarop ag slaan en onsself bekeer nie... Die Here strek Homself in sy genade na ons uit en stuur ook boodskappers na ons toe. Ons het hierdie boodskappers in die verlede egter verwerp. In ons selfvoldaanheid vind ons altyd weer maniere om weer van ons rampe te herstel. Ons skuif altyd die blaam van onsself af weg en sien nie gebeure in die lig van ons nasionale sondes nie” (bl. 79-81).

“Ek het die oortuiging dat die eindtydse oordele baie naby is, en dat net die hand van die Here dit nog terughou. Die gewig van ons Joodse ongeloof en onbetrokkenheid by God móét ons tot ‘n val bring. As Hy sy hand van ons af wegneem, sal ons in ‘n kort oomblik in vernietiging en ondergang wegsink. Ons is reeds onder God se veroordeling totdat ons dié Een ontvang wat ons veroordeling op Homself geneem het, naamlik die Messias van Israel – Jesus van Nasaret. In die voortgesette verwerping van God se genadegawe verkeer alle Israeli’s onder die swaard van veroordeling, tot op dié oomblik wanneer God sy hand wegneem en die oordele nie langer sal weerhou nie. Ek sou liewer verkeerd bewys wou word, maar ek glo dat die huidige geslag Jode vernietiging op ‘n wêreldwye skaal gaan ervaar, wat veel erger as die Nazi-era sal wees” (bl. 89).

“Ons gaan geweldig gehaat, vervolg en skielik verdryf word sodat ons sal moet vlug met net die klere aan ons lyf – sonder om te weet waarheen ons gaan. Ons gaan dubbel vir al ons sondes ly, maar die Here het ook gesê: ‘Ek sal herstel’. Hoe belangrik dan om te glo dat die God wat oordele beloof en dit volvoer, ook dieselfde God is wat herstel beloof en dit sal vervul... As ons nie in God se oordele as die vervulling van sy woord glo nie, vernietig ons ook alle hoop om in sy toekomstige ingryping te glo. Die scenario vir die laaste dae is die herstel van Israel deur die grenslose genade van God wat onverdiend aan ons geskenk word” (bl. 90).

In die lig van dit wat Arthur Katz heeltemal tereg gesê het, is elke Christen daartoe verbind om die Bybels korrekte pad vir Israel se verdere herstel aan hulle voor te hou. Indien hulle nie teen die komende valse messias en die groot verdrukking gewaarsku word nie, hoe sal hulle ooit die vermoë hê om hierdie situasie reg te kan verstaan en in daardie tyd die regte besluite te neem? Hulle kan nie gered word sonder om die Messias, Jesus, in die geloof aan te neem nie, en kan nie in die seën deel wat Hy aan die gelowige oorblyfsel in Israel, asook aan die hele wêreld tydens sy komende vrederyk, beloof het nie.