Die Rooms Katolieke leer en die Bybel

 

Inleiding

 

Hoe verskil die doktrine, ideologieë, gebruike, leer en aanbidding van die Rooms Katolieke Kerk van die van die Bybel, die Woord van God? Hieronder volg `n bespreking van die belangrikste van hierdie geskilpunte wat sal aantoon wat die Rooms Katolieke standpunt daaroor is teenoor die van die Bybel. 

 

1.       Die Outoriteit van die Bybel. 

2.       Die Rol van die Pous.

3.       Die Rol van die Kerk.

4.       Die Rol van die Priestersamp.

5.       Die Rol van die Sakramente.

6.       Die Rol van die vagevuur (“purgatory”).

7.       Die Rol van Aanbidding (“worship”)

8.       Die Rol van Ekumenisme.

 

Nota : Die afkorting RKK wat oral in die bespreking voorkom, staan vir Rooms

          Katolieke Kerk. 

 

1.       Die Outoriteit van die Bybel

 

Die RKK raai die gewone kerkganger af om die Bybel op hul eie te bestudeer, aangesien hulle foute kan begaan deur dit verkeerd te interpreteer. Hulle moet liewer steun op priesterlike leiding, omdat die RKK alleen die vermoë het om die Skrif korrek te interpreteer. Hulle beskou Kerktradisie as baie belangrik omdat dit dieselfde outoriteit as die Geskrewe Woord het. 

 

Die Bybel se standpunt hieroor is reëlreg die teenoorgestelde. In die Bybel word die gelowige opdrag gegee om die Bybel te lees en te bestudeer ten einde dwaling te voorkom. In Handelinge 17:11 word die gelowiges in Berea aangeprys omdat hulle alles wat hulle gehoor het teenoor die Skrif getoets het.  In 2 Timoteus 2:15 sê Paulus dat elke gelowige hard moet studeer sodat God hulle kan prys omdat hulle die Woord reg interpreteer. Die Bybel gee verder die gelowige opdrag om op die leiding en onderrig van die Heilige Gees staat te maak ten einde die Bybel te verstaan, nie op die van mense of ‘n organisasie nie (1 Johannes 2:27; Johannes 14:26; 16:13-15).

 

Oor Kerktradisie het Jesus self soos volg opgemerk: “Hierdie mense eer My met die mond maar hulle harte is vêr van My. Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings / tradisies van mense as gebooie van God voor te hou nie” (Matteus 15:8 & 9 lees ook Kolosense 2:8). Die hele Bybel, Ou en Nuwe Testamente, is Goddelik geinspireerde literatuur.   (2 Timoteus 3:16)

 

Die Bybel kan in agt kategorië ingedeel word. 

 

Die Ou Testament

1.       Genesis - Deuteronomium : die Wet

2.       Joshua - Ester: die Geskiedenis van God se volk, Israel (Hulle geskiedenis begin eintlik al by Abraham in Genesis 12.  Hierdie boeke is belangrik omdat hulle geskryf is sodat ons daaruit kan leer (Romeine 15:4; 1 Korintiërs 10:11).

3.       Job - Hooglied van Salomo: die Wysheidsliteratuur

4.       Jesaja - Maleagie: die Profete (Sommige Psalms bevat ook profesie).

Die Nuwe Testament

5.       Matteus - Johannes: die Evangelie van Jesus Christus.

6.       Die Handelinge van die Apostels: Die stigting van die kerk van Jesus Christus.

7.       Romeine - Judas: die Briewe van die Apostels. (Alle kerkleer en doktrine moet op die briewe van die Apostels gebaseer word. Ons moet die res van die Skrif lees en bestudeer deur die “bril” van hierdie Geskrifte, omdat: 

          (a)     Jesus het aan die Apostels die geestelike sleutels gegee waarmee hulle doktrine moes bepaal. Dit wat hulle as doktrine bepaal het is bindend / toegelaat / luo (in Grieks) in die hemel en op aarde en dit wat hulle nie as doktrine beskou het nie, is verbied / nie bindend / dao (in Grieks) in die hemel en op aarde (Matteus 16:19; 18:18; Johannes 20:23). ‘n Voorbeeld in die Skrif waar die Apostels van hierdie “sleutels” gebruik gemaak het, is in Handelinge 15:28 & 29, toe hulle saam met die Heilige Gees besluit het watter bepalings in die Wet van Moses bindend vir die nie-Joodse (“gentile”) gelowiges moet wees.

          (b)     Hulle briewe is die fondament van die Kerk met Jesus self as die Hoeksteen (Efesiërs 2:20-22).

          (c)     Jesus het hulle persoonlik gekies om Sy Kerk hier op aarde te vestig (1 Korintiers 2:9&10; 4:1 en 2 Korintiers 5:19&20).

          (d)     Jesus het hulle persoonlik geleer en onderrig - ook vir Paulus (Lukas 24:44&45; Galasiers 1:1, 11&12).

8.       Openbaring: Profesie oor die laaste dae (eindtyd)

 

Nota: As jy die Bybel ken, maar dit nie as die finale outoriteit in jou lewe

          beskou nie, kan jy net so wel nou ophou lees.  Indien jy nie die

          Bybel ken nie omdat jy nog nooit die geleentheid gebied was om

          vir jouself uit te vind wat daarin staan nie, maar graag wil, sal jy

          dalk verder wil lees en deur die waarheid van God se wonderlike

          Woord, verlig en vrygemaak word!

 

2.       Die Rol van die Pous

 

Die RKK sê onder andere die volgende van die Pous: 

 

(a)     dat hy die verteenwoordiger, (“vicar”) in plek van Christus hier op aarde is. 

(b)     dat hy die opvolger van die Apostel Petrus is.

(c)     dat hy onfeilbaar is, dit wil sê nie ‘n fout kan begaan nie.

(d)     dat hy die Heilige vader; oorhoofse leier (Pontifex Maximus) en hoogste leermeester is. 

 

 

(a)     Die Verteenwoordiger in plek van Christus

 

Volgens die Bybel word hierdie rol tans deur die Heilige Gees vervul. Hy is nou hier in plek van Jesus, Wie aan die regterhand van God sit vanwaar Hy eendag sal terugkeer na die aarde (Johannes 16:7; 14:16&17; Handelinge 2:33; Romeine 8:34; Hebreërs 1:3; 10:12; 12:2; 1 Petrus 3:22).

 

Die Pous woon in ‘n paleis en dra ‘n duursame ampsgewaad, terwyl Jesus, Wie hy sê hy hier op aarde verteenwoordig, gesê het: “Jakkalse het gate en voëls het neste maar die Seun van die mens het nie eens ‘n rusplek vir sy kop nie” (Lukas 9:58).

 

(b)     Die opvolger van Petrus

 

Die RKK sê dat Petrus die eerste Pous van die Kerk was en dat die outoriteit wat aan hom gegee is ononderbroke oorgedra word aan die Pouse van die RKK. Hierdie outoriteit sluit in beheer oor die oop en toesluit van die poorte van die hemel, omdat die sleutels aan hom gegee is asook die magte van sy rol as die “rots” waarop die Kerk gebou is. 

 


Nêrens in die Bybel staan daar dat Petrus die eerste Pous was nie. Indien dit waar sou wees, waarom het die Apostel Jakobus voorgesit by die eerste Kerkraadsvergadering in Handelinge 15 en nie Petrus nie? Wat die “sleutels” van die hemelpoort aan betref, sê die Bybel duidelike dat Jesus Christus hulle hou omdat “Hy oopsluit wat niemand kan toesluit nie, en toesluit was niemand kan oopsluit nie” (Openbaring 3:7). Die “sleutels” wat aan die Apostels gegee is, is geestelike sleutels waarmee doktrine bepaal moes word soos ons reeds gesien het. Ten opsigte van die Rots waarop die Kerk gebou is, is die Bybel baie duidelike oor die feit dat Jesus Christus die Rots is (Psalm 144:1; Jesaja 30:29; 1 Korintiërs 10:4; Efesiërs 2:20 en 1 Petrus 2:4-8). Petrus se naam is Grieks is “Petros” wat klein klippie of stukkie steen beteken, terwyl die woord vir rots in Grieks “Petra” is wat na ‘n groot rots blok (“boulder”) verwys. God het nie Sy Kerk op ‘n klein klippie gebou nie, maar op die Rots, Jesus Christus. Hyself is die Hoof van sy liggaam, die Kerk en niemand anders nie  (Efesiërs 1:10 & 22; 4:15 en 5:23; Kolossense 1:18 en 2:19).

 

(c)     Die Pous se onfeilbaarheid

 

Die RKK sê dat wanneer die Pous vanuit die “stoel van Petrus” praat, hy nie ‘n fout kan maak nie en wat hy vanuit hierdie posisie dekreet, nooit verander mag word nie - dit is onherroeplik. 

 

Die Bybel sê dat die Here Jesus Christus die enigste onfeilbare, sondelose mens is wat ooit geleef het. “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel, sodat ons deur ons eenheid met Hom deur God vrygespreek kon word” (2 Korintiërs 5:21 - lees ook Hebreërs 4:15 en 7:26; 1 Petrus 2:22 en 3:18).

 

Van alle ander mense sê die Bybel: “Almal het gesondig en het nie deel aan die heerlikheid van God nie” (Romeine 3:23).

 

(d)     Die verskillende titels van die Pous

 

Heilige Vader: Die Bybel sê : “Moet niemand op aarde as “vader” aanspreek nie, want Een is julle Vader, die Vader in die hemel” (Matteus 23:9).

 

Pontifex Maximus, wat beteken “hoof brugbouer”. Die Bybel sê dat Jesus Christus die enigste weg / brug is waarlangs ‘n mens by God die Vader kan uitkom (Johannes 14:6).

 

Hoof leermeesterDie Bybel sê: “Moet niemand hier op aarde leermeester noem nie, want Een is julle leermeester, en julle is almal broers.” (Matteus 23:8). Die Heilige Gees vervul ook hierdie taak (1 Johannes 2:27)

 

Slotsom: Dit is duidelike dat die rol van die Pous in die RKK totaal onbybels is, omdat dit radikaal verskil van dit wat die Bybel leer oor Kerk leierskap. 

 

 

3.       Die Rol van die Kerk

 

Die RKK meen dat sy die enigste ware Kerk op aarde is en dat mense alleenlik deur haar tot redding kan kom. 

 

Die Bybel leer dat redding op geen ander wyse verkry kan word as deur geloof in die Here Jesus Christus nie: “Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie” (Handelinge 4:12 - lees ook Johannes 3:16; 14:6; Romeine 3:24; 5:1 en 9-11; Fillipense 3:9).

 

“Kerk” is ‘n kollektiewe naam vir die universele liggaam van ware gelowiges (Efesiërs 2:13-22; 4:3-6; 1 Korintiërs 12:12 & 13).

 

Hierdie Kerk wat bestaan uit alle ware geredde en wedergebore gelowiges oor die hele wêreld is die liggaam van Christus en is deur God self gestig op Pinksterdag in Jerusalem 2000 jaar gelede (Handeling 2). Soos ons reeds gesien het is die leerstellings van die Apostels die fondasie en Jesus Christus self die Hoeksteen en Hoof. Hierdie is die enigste ware Kerk op aarde. Hoewel al die lede nie geografies bymekaar kan wees nie, word hulle as ‘n eenheid saamgesmee deur die Heilige Gees en aan mekaar verbind deur hul geloof en kennis van Jesus Christus (Efesiërs 4:3-6; 13; 15 & 16).  

 

4.       Die Priestersamp

 

In die RKK is die priesterklas geskei / apart van die gewone kerkganger (soos dit was in die Ou Testament Tabernakel en Tempel aanbidding). 

 

Priesters word spesiaal bevestig / ingewy in hulle amp; hulle mag nooit trou nie en hulle moet selebaat / in seksuele onthouding, lewe. 

 


Die Nuwe Testament praat nie van ‘n priesterklas wat afgeskei / apart van die gewone kerklidmaat funksioneer nie. In teendeel, die Nuwe Testament sê dat alle gelowiges broers is (hoewel hul funksies en verantwoordelikheid binne die liggaam verskil) en dat Jesus alleen almal se Leier / Hoof is (Matteus 23:8-10). Die Nuwe Testament sê ook dat alle gelowiges priesters is wie geestelike offers aan God bring (1 Petrus 2:5). Hierdie geestelike offers sluit onder andere in: 

 

-        diens en aanbidding                            -        Romeine 12:1

-        ‘n gebroke en belydende hart               -        Psalm 51:19

-        gehoorsaamheid                                 -        1 Samuel 15:22

-        liefde en lojaliteit                                  -        Hosea 6:6

-        dank en lofprysing                               -        Hebreërs 13:15

-        gebed                                       -        Openbaring 5:8; 8:3

 

(Laasgenoemde tekste verwys nie na letterlike wierook, soos dit in die RKK bedryf word nie, omdat die gebruik van die wierookaltar in die tempel vervul is in Jesus Christus se rol as ewige Hoë Priester, wie vir die gelowiges intree by God die Vader (Hebreërs 2:17; 3:1; 5:5&10; 6:20; 7:16 & 17, 24 & 25; 8:1 & 2). Om dieselfde rede is daar ook geen nut meer vir ‘n aparte priestersamp nie). 

 

Wat betref die wyding / bevestiging van priesters in hul amp, sê die RKK dat die ontvanger tydens die geleentheid ‘n spesiale goddelike salwing ontvang.  Dit maak dat `n gewyde priester sy amp effektief kan be-oefen, ongeag die feit of hy moreel geskik daarvoor is of nie. Geen persoonlike sonde kan hom ongeskik maak vir sy dienste as priester nie, omdat hy hierdie goddelike salwing met sy inhuldiging ontvang het. 

 

In die Bybel is die bevestiging van leiers en ouderlinge in die Kerk ‘n erkende praktyk waartydens bekwame manne afgesonder word vir hierdie diens  (Markus 3:14; Handelinge 14:23; Titus 1:5; 1 Timoteus 2:7; 4:14).

 

Anders as in die RKK is daar sekere maatstawwe wat geld vir hierdie leiers: 

 

(a)     hulle moet aan sekere morele en Bybelse vereistes voldoen

(1 Timoteus 3:1-7; 2 Timoteus 2:2&24; Titus 1:6-9; 2:7).

(b)     hulle gedrag en optrede moet oop wees vir ondersoek en korrigering (1 Timoteus 5:19&20). ‘n Voorbeeld hiervan kom voor in Galasiërs 2:11-14 toe Petrus openlik deur Paulus tereggewys is weens sy geveinsde optrede in Antiogië. 

(c)     hulle moet op alle vlakke ‘n voorbeeld stel aan die kudde van God

          (1 Petrus 5:3).

 

Wat betref die selibate lewenstyl van priesters is dit ‘n feit dat die RKK hulle verplig om ongetroud te bly en selibaat te lewe. In die Bybel word predikers en leiers nêrens verbied om te trou nie. In teendeel, meeste van Jesus se apostels was getroud (Matteus 8:14; 1 Korintiërs 9:5 - Lees ook Hebreërs 13:4). Die huwelik is `n heilige instelling wat deur God self ingestel is. Nêrens in die Bybel kom die gedagte voor dat selibaatheid as ‘n hoër geestelike staat beskou word eerder as om getroud te wees nie. Inteendeel, Paulus noem die verbod om te trou “’n doktrine van duiwels

(1 Timoteus 4:1-3) en hy gebruik die instelling van die huwelik as ‘n tipe om die verhouding tussen Christus en Sy Bruid, die Kerk te beskryf (Efesiërs 5:25-28).

 

Wanneer ‘n persoon self uit eie beweging besluit om weens sy bediening nie te trou nie, sal God hom die genade gee om selibaat te lewe, maar daar word op niemand so `n verpligting geplaas nie. Die immoraliteit wat onder RKK priesters voorkom, wat die resultaat is van hierdie verbod op die natuurlike staat van die huwelik, is alom bekend. In hulle geval is die term selibaat nie sinoniem met kuisheid nie. 

 

Gevolgtrekking: Dit is duidelike dat die rol van priesters in die RKK totaal onbybels is, omdat dit die teenoorgestelde is as wat die Nuwe Testament leer omtrent kerkleierskap en priesters.

 

5.       Die Rol van die Sakramente

 

Die RKK leer dat die sakramente ‘n essensiële rol speel in die redding van ‘n siel. Hulle word nie as bloot simbole beskou nie, maar as instrumente waardeur genade tot redding verkry word. 

 

Die Bybel leer: “Julle is inderdaad uit genade gered deur geloof in Jesus Christus. Hierdie redding kom nie uit julself nie dit is ‘n gawe van God (Effesiërs 2:8; Kolosense 1:13&14).

 

 

Die sewe sakramente, ook genoem “deure tot saligheid” is: 

 

a        Die doop

b        Voorstelling (as lidmaat van die Kerk)

c        Die Heilige Nagmaal

d        Skuldbelydenis en boetedoening

e        Salwing van siekes

f         Geestelike ordes en werke van verdienstelikheid

g        Die huwelik

 

(a)     Die Doop

 

Die RKK leer dat die doop (besprinkeling van babas) die erfsonde van Adam afwas; dat dit `n persoon wederbaar; hom ‘n kind van God en ‘n lidmaat van die Kerk (RKK) maak. 

 

Die Bybel leer dat die mens slegs deur die bloed van die Here Jesus Christus gereinig word van alle sonde, (Johannes 1:29, 1 Johannes 1:7 & 9) en dat dit deur die krag van die Heilige Gees is dat hy wederbaar word, ‘n kind van God en lidmaat van die Liggaam van Christus (die ware Kerk) word (Johannes 3:3-8; Johannes 1:12; 1 Korintiërs 12:13; Galasiërs 3:26 & 27; Efesiërs 1:5).

 

Bybelse doop volg nadat `n persoon tot redding gekom het en dit is slegs ‘n uiterlike teken / simbool van `n innerlike geestelike reiniging wat reeds tydens wedergeboorte plaasgevind het (Titus 3:5). Dit is ook `n daad waardeur die gelowige wys dat hy homself met Jesus Christus in sy dood en opstanding identifiseer (Romeine 6:1-4; Galasiërs 3:27; Kolosense 2:12 & 13 en 3:1-4).

 

(b)     Voorstelling

 

Die RKK leer dat die genade wat `n persoon met sy doop ontvang het, voltooi / bevestig word wanneer die Biskop met sy voorstelling as lidmaat verklaar dat hy nou die Heilige Gees ontvang het.  Die persoon word tydens die geleentheid ook ingelei in die pligte en voorregte van Christen dissipelskap. 

Die Bybel leer dat ‘n gelowige die Heilige Gees as geskenk ontvang wanneer hy tot wedergeboorte kom. In Handelinge 2:38 sê Petrus: “Bely jul sondes, laat julle doop in die naam van Jesus Christus vir die vergifnis van jul sondes en julle sal die Heilige Gees as geskenk ontvang”. Verder ook het dissipelskap niks met sakramente te doen nie. Voordat Jesus opgevaar het na die hemel het Hy onder andere hierdie opdrag aan sy dissipels gegee “Gaan dan na die nasies toe en maak mense my dissipels...” (Matteus 28:19). Al wat dissipelskap is, is die onderrig, versterking en aanmoediging van diegene wat reeds deur hulle geloof in die Here Jesus, gered is. (Handelinge 14:21&22; 2 Timoteus 3:16 en 4:2)

 

(c)     Skuldbelydenis en boetedoening

 

Die RKK leer dat sondes wat na ‘n persoon se doop gepleeg is, deur ‘n priester kwytgeskeld kan word nadat skuldbelydenis aan hom gedoen en die voorgeskrewe boetedoening verrig is. 

 

Die Bybel leer dat die bloed van Christus ons reinig van alle sonde en ongeregtigheid, en dat slegs Hy ons kan red van die straf van die sonde  (Romeine 6:23; 1 Johannes 1:9; 2:1 en 2). “Hy is vanweë ons oortredinge oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word” (Romeine 4:25 lees ook Handelinge 5:29-32; 13:38 & 39 en Johannes 1:29).

 

Belydenis van sonde word aan God gedoen en nie aan `n mens nie, en om self die boete vir ons sondes te wil betaal is om die voltooide werk van Christus aan die kruis te ontken. Ons word geregverdig en met God versoen alleenlik deur Jesus Christus en die vergifnis / kwytskelding van sonde is `n outoriteit waaroor Hy alleen beskik (Matteus 9:6; Romeine 5:1 & 2; 8:1 & 2; Kolosense 1:13 & 14).

 

(d)     Saligheid deur Werke

 

Die RKK leer dat ‘n persoon sy saligheid / redding kan verdien deur goeie werke te doen. Gehoorsaamheid aan die leerstellings van die Kerk en deelname aan die sakramente word ook as werke beskou. Werke van verdienste kan geestelik of materieel van aard wees en kan die gewer of ontvanger of beide tot voordeel wees. Indien genoegsaam, kan hierdie werke vir ‘n persoon algehele bevryding van die pyne van die vagevuur (“purgatory”) gee. 

 

Die Bybel leer dat ons gered word uit genade deur geloof en nie deur werke nie (Efesiers 2:8-10). Redding is ‘n gawe van God wat nie uit eie verdienste verkry kan word nie. Die gelowige doen goeie werke omdat hy gered is en nie om gered te word nie (Jakobus 2:17). Al wat werke kan doen is om ‘n gelowige se belonings eendag in die hemel te beinvloed, maar dit kan nooit sy redding bepaal nie (1 Korintiers 3:14).

 

Goeie werke is ‘n vrug van die Heilige Gees wat ‘n integrale deel word van die wedergebore gelowige se nuwe natuur (Galasiërs 5:22 & 23).

 

(c)     Die huwelik

 

Die RKK maak van die huwelik `n sakrament waardeur die Kerk regsbevoegdheid oor sy lidmate verkry.  Hulle sê dat hierdie sakrament slegs deur God aanvaar word wanneer dit deur `n priester bedien is. 

 

Volgens die Bybel is die huwelik deur God ingestel reeds vanaf die begin van die mens se bestaan op aarde (Genesis 2:24). Die huweliksinstelling / eenheid word deur God geheilig en word deur Hom gebruik om sy verhouding met sy volk Israel en Jesus se verhouding met sy Bruid, die Kerk, te vergelyk (Jesaja 54:5 & 6; Efesiers 5:31 & 32). ‘n Huwelikspaar bevestig hul eenheid as man en vrou teenoor God en nie teenoor mense of `n instelling nie. 

 

(f)      Salwing van siekes

 

In die RKK word ‘n godsdienstige plegtigheid (“the last rites”) deur ‘n priester waargeneem om ‘n sterwende by te staan met sy oorgang van hierdie lewe tot die vagevuur (“purgatory”). Die persoon ontvang ook vergifnis van sondes en die sekerheid dat hy die vure van die hel sal vryspring. 

 

In die Bybel word gebede en salwing van siekes gedoen met die oog op die herstel van hul gesondheid (Jakobus 5:14&15), maar indien `n gelowige sterwend is, word sy oorgang vanaf hierdie lewe na die Paradys deur God self voorberei, deurdat Hy sy Heilige Gees as waarborg aan sy kind gee (2 Korintiërs 1:22; Efesiers 4:30). Vergifnis van sonde en die sekerheid dat ‘n persoon die vure van die hel sal vryspring, word alleenlik verkry deur geloof in die Here Jesus Christus (Romeine 8:1; 1 Johannes 1:9).

 

(g)     Die heilige nagmaal

 

Die RKK leer dat die sakrament van die Nagmaal (“the Eucharist”) die werklike liggaam en bloed van Jesus Christus is en dat dit saam met sy siel en godheid agter die skyn van brood en wyn verskuil is. Transubstansiasie, die gedaante verandering van die brood en wyn na die liggaam en bloed van Christus, vind plaas wanneer ‘n priester die seën uitspreek tydens die mis.  (“Holy Mass”) Die RKK baseer hierdie vals doktrine op Johannes 6:48-58, waarin Jesus praat van die “eet” van sy vlees en die “drink” van sy bloed.  Indien hierdie binne konteks gelees word, is dit baie duidelik dat Jesus hier die taal van analogie (beeldspraak) gebruik. Hy verwys na Homself as die “Brood van die Lewe” / die “Lewende Brood” menende die Een deur Wie ons die ewige lewe ontvang. Indien hierdie uitspraak van Jesus letterlike vertolk sou word soos die RKK doen, kom die hele ritueel van die verering van die Nagmaalkoekie (“the Eucharist Wafer”) wat dan geëet word, neer op afgodery en kannibalisme. In die Bybel in beide Testamente, word die kinders van God verbied om bloed te eet (Deuteronomium 12:16 en Handelinge 15:20). (Terloops, die “Eucharist Wafer” het sy oorsprong by die Egiptiese aanbidding van die songod Osirus en dit is ook waar die idee van transubstansiasie vandaan kom). 

 

Nee, die Here Jesus is nie in die “Eucharist” teenwoordig nie, omdat Hy sit aan die regterhand van God, soos vroeër genoem. Die elemente van brood en wyn is bloot simbole om ons te herinner aan wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het. Die nagmaal is, soos die Paasfees ‘n fees van herinnering / herdenking / nagedagtenis (Eksodus 12:17; Lukas 22:19; Matteus 26:26-30; 1 Korintiërs 11:24-26).

 

Die RKK leer ook dat die offer van die mis (“Holy Mass”) identies is met die offer van Jesus aan die kruis, en dat dit herhaal en herspeel word elke keer wanneer ‘n priester die mis aanbied by die altaar. 

 

Die Nuwe Testament maak geen melding van ‘n altaar in die Kerk van Christus nie. Die kruis van Golgota was die ekwivalent van die bronsaltaar by die tempel, wat deur Jesus vervul is toe Hy Homself aan die kruis as offer gegee het. 

 

Aan die kruis het Jesus gesê : “Dit is volbring / It is finished “ (Johannes 19:30). Hy het een maal vir altyd die offer gebring om nooit weer herhaal te word nie (Hebreërs 9:12, 25 & 26; 10:10, 12, 14 & 18; 1 Petrus 3:18). Die prys vir die sonde is ten volle betaal (Kolosense 2:14). 

 

Ander onbybelse en bygelowige valshede wat die RKK saam met die vals doktrine van die Nagmaal huldig is die volgende: 

 

(a)     Mense word aangeraai om te vas voordat hulle nagmaal gebruik.  Volgens die Bybel was Jesus en sy dissipels besig om die Paasmaaltyd te eet toe Hy die Nagmaal ingestel het (Matteus 26:26-30). (Terloops, verskeie ander voorgeskrewe vastye en feesdae word in die RKK ingestel as deel van hul godsdiensbeoefening, en dit tel ook as ‘n werk van verdienste. In die Bybel word vas nie as ‘n godsdienstige praktyk beskou nie, maar word slegs genoem in tye van spesiale nood. Byvoorbeeld, wanneer daar spesiaal gebid word vir iemand wat duiwelbesete is (Matteus 17:15-21). Paulus noem al hierdie “verpligtinge” - “leerstellings van mense” (Kolosense 2:20-23) en ‘n “Slawejuk” (Galasiërs 5:1 & 4).

 

(b)     Slegs die priester wat die Nagmaal bedien neem die wyn namens die res van die gemeente.  Volgens die Bybel, het Jesus, toe Hy die nagmaal ingestel het tydens die Paasmaaltyd, die glas geneem en gesê “Drink almal daaruit” (Matteus 26:27).

 

(c)     Die deelnemers is nie veronderstel om die brood met hul hande te neem of dit te kou nie. Die priester plaas die “wafer” in die ontvanger se mond, waarna dit op die tong opgelos moet word.  Volgens die Bybel het Jesus die brood geneem, dit gebreek, vir die ander aangegee en gesê: “Neem en eet almal daarvan” (Matteus 26:26) Lees weer Kolosense 2:20-23.

 

Gevolgtrekking

 

Volgens die Nuwe Testament (die Evangelies, Handelinge en briewe van die Apostels) het die Here Jesus slegs twee ordinansies vir gelowiges in sy ware Kerk ingestel nl. die doop, nadat ‘n persoon tot redding gekom het en die Nagmaal, as ‘n herinneringsfees aan wat Jesus aan die kruis gedoen het.  Daar is geen reddende genade in sakramente, rituele, simbole of elemente nie, maar alleenlik in die Persoon wie hulle verteenwoordig, nl die Here Jesus Christus. “Hy bring verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.” (Handelinge 4:12).

 

6.       Die Rol van die Vagevuur (“Purgatory”)

 

Die RKK leer dat die vagevuur `n plek is waarheen `n persoon gaan om boete te doen vir sy eie sondes, totdat hy goed genoeg is om hemel toe te gaan.  Baie middele word aangewend in ‘n poging om `n siel se verblyf in die vagevuur te verkort, byvoorbeeld:

 

-        gebede wat oor en oor herhaal word (volgens die Bybel moet gelowiges nie ‘n ydele herhaling van woorde gebruik wanneer hulle bid nie. - Matteus 6:7).

-        die betaling aan `n priester om `n bepaalde aantal misse te bedien.

-        die gee van aalmoese.

-        sekere aflatings (“indulgences”) ens. 

 

In die Bybel word daar geen melding van so ‘n plek gemaak nie.  (Die idee het sy oorsprong in Buddhisme, wat ook die leer van tydelike straf verkondig).  Die Bybel leer dat die bloed van Christus van alle sonde en ongeregtigheid reinig (Romeine 1:17; 4:23-25; 8:1; 2 Korintiërs 5:21; Kolosense 2:13; Hebreërs 1:3 en 9:12; 1 Johannes 1:9). Versoening vir sonde is vir alle mense gedoen, maar dit is net `n realiteit vir diegene wie op die Here Jesus Christus alleen vertrou vir vergifnis en redding. Daar is nie vir die mens ‘n tweede kans op versoening na die dood nie. “Die mens is bestem om net eenmaal te sterf en daarna kom die oordeel.” (Hebreërs 9:27). Die gelowige daarteenoor sterf nie, maar “gaan slaap”, waarna hy onmiddelik by Jesus in die Paradys teenwoordig is (Lukas 23:43; 2 Korintiërs 5:8).

 

7.       Die Rol wat aanbidding (“worship”) speel

 

Die RKK aanbid of vereer, soos hulle dit graag sou wou noem, ‘n wye spektrum van voorwerpe naas die Drie-enige God, byvoorbeeld :

 

-        Christus in die “Eucharist” en die offer van die “Mass”.

-        die Maagd Maria

-        die Apostels veral Petrus

-        afgestorwe heiliges.

-        “relics” soos die “Rosary” en “Scapula”.

-        beelde of standbeelde van persone of goddelike / hemelse wesens, en so meer. Hulle buig in aanbidding / verering voor hierdie voorwerpe, terwyl die Bybel leer dat ons slegs voor God, en Hom alleen, in aanbidding mag buig, anders kom dit neer op afgodery (Eksodus 20:4 & 5; Deuteronomium 4:15 - 19).

 

Kom ons ondersoek die voorwerpe van aanbidding wat nog nie behandel is nie, nl die aanbidding van Maria en afgestorwe heiliges; die “Rosary” en “Scapula”. Ons sal ook kortliks kyk na verskillende metodes / vorme van aanbidding wat in die RKK voorkom. 

 

(A)     Die aanbidding van Maria

 

Maria, die moeder van Jesus kan nie verantwoordelik gehou word vir die ere plek wat die RKK aan haar gegee het nie. In die Bybel word sy voorgestel as ‘n nederige, Godvresende Joodse meisie met die naam Mirriam wie deur God gekies is om fisies geboorte te skenk aan die Messias van Israel, die Redder van die wêreld (Lees Hoofstukke 1 & 2 van Matteus en Lukas). Die laaste keer dat ‘n mens van haar lees in die Bybel is in Handelinge 1:14, toe sy een van die gelowiges was wat gewag en gebid het vir die uitstorting van die Heilige Gees, soos Jesus belowe het net voor Sy hemelvaart (Handelinge 1:8).

 

Kom ons kyk na verskeie doktrines wat die RKK oor Maria leer teenoor dit wat die Bybel daarvan sê:  

 

(a)     Die RKK noem haar die “Geseënde Maagd” (“the Blessed Virgin”).  Die Bybel toon duidelik dat Maria nie `n maagd gebly het na die geboorte van Jesus nie, maar dat sy ook ander kinders gehad het  (Matteus 1:25; 13:55 & 56; Johannes 2:12; Handelinge 1:14; 1 Korintiërs 9:5; Galasiërs 1:19). Die persone wat in hierdie gedeeltes genoem word was nie Jesus se neefs en niggies, soos die RKK te kenne wil geen nie, maar hulle was Sy broers en susters.

 

(b)     Die RKK noem Maria ons “Mede Verlosser” (“Co-Redeemer”) en die enigste persoon deur wie ‘n mens na Jesus kan gaan. 

          Die Bybel leer dat die Here Jesus Christus die enigste Verlosser van die mens is (1 Johannes 4:14; Handelinge 4:12) en dat die gelowige direk toegang tot Hom het deur die Heilige Gees (1 Johannes 3:24; 4:13).

 

(c)     Die RKK sê dat Maria ons “Mede Middelaar” (“Co-Mediatrix”) tot God is. 

          Die Bybel leer dat daar maar een Middelaar tussen God en die mens is, en dit is die Here Jesus Christus (1 Timoteus 2:5; Hebreërs 8:6; 9:15).  Hy alleen is ons Advokaat / Voorspraak by die Vader en die enigste Een Wie versoening tussen God en die mens bring, omdat Hy die prys vir ons sondes betaal het (Romeine 3:25 & 26; 5:10; 8:34; 2 Korintiërs 5:18; Kolosense 1:20; 1 Johannes 2:1 & 2; Hebreers 7:25; 9:24).

 

(d)     Die RKK leer dat Maria ons Voorbidder (“Intercessor”) by God is, en dat ons weens haar voorbidding, genade van God ontvang.

          Die Bybel leer, soos ons by die vorige punt gesien het, dat die Here Jesus Christus ons Voorspraak by God die Vader is. Hy is die Een wat vir ons pleit en intree by die Vader, nie Maria nie. Die genade wat ons van God ontvang is ‘n geskenk wat Hy ons gee weens ons geloof in Jesus Christus (Efesiërs 2:8).

(e)     Die RKK noem Maria “die Moeder van God” (“Mother of God”). 

Die Bybel noem haar die moeder van Jesus / die Messias. Hoewel dit waar is dat Jesus God is (Johannes 1:1), was Maria se enigste rol in God se verlossingsplan om fisies geboorte aan die Messias te skenk, Wie binne haar deur die Heilige Gees verwek is (Matteus 1:18&20).  Nêrens in die Bybel word sy ooit as die Moeder van God aangespreek nie. 

 

(f)      Die RKK noem Maria die “weg / ingang na die hemel” (“gate to heaven”) 

          Die Bybel leer dat Jesus Christus die enigste “Weg” na die Vader is  (Johannes 14:6). Jesus self sê in Johannes 10:9 “Ek is die Deur / Ingang.  As iemand deur My ingaan sal hy gered word. ”Jesus is ook die enigste toegang tot die hemel omdat Hy alleen die “Sleutels van die hemelpoort” hou (Jesaja 22:22; Openbaring 3:7).

 

(g)     Die RKK sê dat Maria ons Redding (“Salvation”) ons Lewe (“Life”) ons Hoop (“hope”) en ons Helper (“helper”) is. 

          Die Bybel leer dat die Here Jesus hierdie titels hou. Hy is: 

          -        ons Redder                      -        1 Johannes 4:14

          -        ons Lewe en                    -        Kolosense 3:4

          -        Ewige Lewe                     -        1 Johannes 1:1 & 2 en 1Johannes

                                                                    5:11-13; Johannes 20:31

          -        ons Hoop                         -        Kolosense 1:27

          -        ons Helper                       -        Hebreërs 13:6

          Meeste van die tyd word die karaktereienskappe van Jesus deur die RKK aan Maria toegedig. 

 

(h)     Die RKK verkondig die leer dat Maria “onbevlek bevrug” is (“was immaculately conceived”) wat beteken dat sy sonder die erfsonde en die gevolge van die sondeval gebore is. 

          Die Bybel leer dat daar slegs een Mens is wat sondeloos ontvang en gebore is en Wie self sondeloos en regverdig is en dit is die Here Jesus Christus (2 Korintiërs 5:21; Hebreërs 4:15; 1 Petrus 2:22; 1 Johannes 3:5). Van alle ander mense sê die Bybel: “Almal het gesondig - daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie” (Romeine 3:10 & 23; 5:12). Maria self sê in Lukas 1:46 & 47 “Ek besing die grootheid van die Here en my siel juig oor God my Verlosser”.  Met hierdie standpunt erken Maria dat sy ‘n sondaar is wie `n Verlosser nodig het, net soos enige ander mens wat uit Adam gebore is. 

 

(i)      Die RKK verkondig die leer van Maria se “hemelvaart” (“assumption into heaven”). Hulle sê dat haar liggaam nie agteruitgang of verrotting gesmaak het nie en dat sy drie dae na haar dood opgeneem is in die hemel. 

          Die Bybel leer van slegs Een Persoon wie gesterf het maar wie se liggaam nie verrotting gesmaak het nie en dit is die van die Here Jesus Christus. Hy is op die derde dag uit die dood opgewek en het veertig dae later met Sy verheerlikte liggaam opgevaar na die hemel (Matteus 28:1-10; Markus 16:2-20; Lukas 24:1-9 & 51; Johannes 20:1-18 en Handelinge 1:9-11).

          Die Here Jesus self sê in Johannes 3:13: “Niemand op die aarde was al in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die Mens.” (Lees ook 1 Korintiërs 15:45-47; Efesiërs 4:9 & 10).

 

(j)       Die RKK noem Maria die “Koningin van die hemel” (“queen of heaven”).     

         

          Die Bybel leer dat die Here Jesus Christus ewig koning is oor die hemel en die aarde. “Aan Sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”  (Lukas 1:32 & 33). “Hy is Koning van die konings en Here van die heersers.” (Openbaring 17:14; 19:16). Hy is ewig God wie mens geword het en “aan Wie alle mag in die hemel en op aarde gegee is.” (Matteus 28:18; Fillipense 2:9-11; Kolosense 1:18). Die titel “Koningin van die hemel” word deur menige vroulike afgode soos Dianna, Ishtar, Asterod, Athena, Astarte, Isis ens. gehou. Met die stigting van die RKK gedurende die 4de Eeu NC het die titel bloot na Maria oorgegaan. 

 

Gevolgtrekking

 

Nie teenstaande die feit dat Maria, die moeder van Jesus, “geseënd onder die vroue” genoem word (Lukas 1:42) word ons nêrens opdrag gegee om haar te vereer of te aanbid, soos die RKK doen, nie. Om dit te doen is nie net godslasterlik nie, dit is ook nodeloos en vrugteloos. Soos enige ander afgestorwe gelowige in Christus, wie getrou aan God gebly het, is sy op hierdie oomblik in die Paradys. Nêrens in die Bybel word vir ons gesê dat diegene in die Paradys enige kennis het oor wat op die aarde aangaan nie.  So ook het Maria, net soos enige ander afgestorwene, geen goddelike / bonatuurlike magte nie. 

 

Dit is baie duidelik uit die voorafgaande dat die Maria van die RKK nie die Mirriam van die Bybel is nie. 

 

(B)     Die aanbidding van heiliges (“Saints”)

 

Die RKK beskou “heiliges” as `n spesiale klas Christen wie alreeds `n uitnemende staat van heiligheid bereik het. Hulle is die geestelike “adelstand” in die hemel wie se name opgeneem word in `n spesiale katalogus wat op gesag van die Pous opgestel word. Daar word geglo dat hulle voorbidding vir ons spesiale krag het omdat hulle nader aan God is. 

 

In die Nuwe Testament beteken “heiligheid” “afgesonder vir God / afgesonder van die wêreld” (2 Korintiërs 1:21; 6:17; 1 Petrus 2:9-11) en die woord “heiliges” (saints) verwys na gewone gelowiges wie wedergebore, geheilig en vrygespreek is deur hul geloof in Jesus Christus. 

Om tot dooies te bid is nie net nodeloos nie, dit is ook ‘n groot sonde (Deutoronomium 18:10 & 11; Jesaja 8:19). Dit is ‘n sonde omdat die gelowige in Christus opdrag het om tot God te bid in die Naam van Jesus Christus deur die krag van die Heilige Gees (Johannes 16:23; Romeine 8:26; Judas vers 20). Dit is nodeloos, soos ons reeds gesien het, omdat dooies nie kennis het oor wat op die aarde aangaan nie en geen goddelike magte het nie (Sien onder andere Prediker 9:5 & 6). 

 

(C)     Die “Rosary” (Gebedskrale / “Prayer beads”)

 

Die RKK se idee van “gebed” bestaan uit ‘n eindelose herhaling van ‘n paar vasgestelde gebede, wat gedeeltelik tot God gerig word maar hoofsaaklik tot die “Maagd Maria”. Die krale help met die aftel van gebede wat op so ‘n vasgestelde gebeslys voorkom. Daar word geglo dat die “Rosary” deur Maria aan Saint Dominic gegee is en dat wanneer dit geseën is, dit doeltreffend is om menige aflatings (“indulgences”) te verseker. (Die waarheid is, dat verskeie heidense sektes, bv. Boeddhiste en Moslems, ook van krale gebruik maak wanneer hulle hul menige gebede moet opsê en dit is waar vandaan die RKK die gebruik oorgeneem het).

 

Die Bybel leer, dat die gelowige se gebede tot God nie `n meganiese herhaling van woorde moet wees nie; (Matteus 6:7 & 8) dat die gelowige moet bid volgens die wil van God; (1 Johannes 5:14) en, dat die Heilige Gees die gelowige in sy gebed bystaan en nie die tel van krale nie (Romeine 8:26 en Judas vers 20).

 

(D)     Die Scapula” (“Gelukbringer”)

 

Die “Scapula” is `n gelukbringer in die vorm van `n amulet wat aan die liggaam gedra word ten einde bose invloede af te weer en om te verseker dat die siel van diegene wie dit dra, gered word. 

 

Volgens die Bybel word `n mens se siel alleenlik uit genade en geloof in Jesus Christus gered. “Julle word sonder dat julle dit verdien op grond van God se genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.”  (Romeine 3:24 lees ook Romeine 5:1; 1 Korintiërs 1:30 en Efesiërs 2:8). Die Bybel sê ook dat Jesus Christus die Hoof is van alle magte en kragte in die heelal. “Hy sit nou aan die regterhand van God nadat Hy die engele en alle kragte en magte aan Hom onderwerp het en die hemel ingevaar het.” (1 Petrus 3:22; Kolosense 2:10 & 15). God gee aan sy kinders geestelike wapens waarmee hulle bose magte / “bose geeste in die lug” mee kan afweer. God se wapenrusting is: die waarheid; geloof; verlossing; vryspraak; die Evangelie van vrede; liefde en gebed (Efesiërs 6:12-18; 1 Tessalonisense 5:8). Die “Scapula” is ‘n produk van ongelooflike heidense bygeloof wat geen bevryding vir die arme persoon wie dit dra kan gee nie.    

 

 

 

(E)     Aanbiddings Metodes / “Forms of worship”

 

Die RKK maak baie van groot en luisterryke plekke en metodes van aanbidding, byvoorbeeld, fyn uitgewerke kledingstukke vir elke amp; Ou Testamentiese rituele, soos die brand van wierook en heilige water; (alles deel van die Wet van Moses wat deur die Here Jesus vervul is - Lukas 24:44); die maak van die teken van die kruis; luisteryke optogte; pelgrimstogte na heilige plekke (“shrines”); lang latynse gebede en godsdiensoefeninge (rituele) en so meer. (Baie van hierdie voorwerpe en aanbiddingsmetodes is in die Kerk ingebring as plaasvervangers vir die heidense gebruike wat aan die orde van die dag was gedurende die 4de Eeu NC toe die Rooms Katolieke Kerk gestig is.) 

 

Om die geloofwaardigheid van hul relieks, heilige plekke en vals doktrines te ondersteun, getuig die RKK van vele tekens en wonderwerke, waarvan die bekendstes die verskyning van Maria op sekere plekke is.  In die Ou Testament het God baie keer wonderwerke gebruik wanneer Hy met sy volk gehandel het. In die Nuwe Testament gebruik die Heilige Gees tekens en wonders om die Waarheid van die Evangelie te bekragtig, en indien hulle voorkom sal hulle altyd volg op die prediking van die Woord van God en dit nooit vervang of vooruitgaan nie (Markus 16:20; Handelinge 14:3). In Matteus 16:4 sê Jesus: “`n Slegte en afvallige geslag wil ‘n teken (wonderwerk) hê”.  Paulus bevestig hierdie stelling van Jesus deur in 2 Korintiërs5:7 te sê : “Ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.” 

 

Die Bybel stel dit baie duidelike dat God “in Gees en Waarheid” aanbid wil word (Johannes 4:23 & 24). Onbybelse aanbidding sal altyd lei tot vals aanbidding en wanneer Jesus met krag en majesteit terugkom, sal Hy alle afgode, nie net dié van die heidene nie, maar ook dié in die Kerk, totaal vernietig en uitroei!. 

 

8.       Die Rol van ekumenisme (Intergeloof skakeling)

 


Die aanvanklike doelwit van die Ekumeniese Beweging, onder leiding van die RKK, was om alle sogenaamde Christen groepe onder een universele liggaam, die Wêreldraad van Kerke, wat in 1948 gestig is, te verenig. Die uiteindelike doelwit is egter om ‘n Een-wêreld-Godsdiens onder leiding van die Pous, daar te stel. Wat die Ekumeniese Beweging sover daarin geslaag het om te doen, is om meeste denominasies terug te bring na Rome. Protestante; Baptiste; Pinkster- en Charismatiese groepe en selfs Evangeliese groepe sluit nou aan by die Ekumeniese Beweging. 

 

Sedert die 2de Vatikaan Vergadering (“Vatican Council”) gehou in 1963, is die ekumeniese dialoog / intergeloof skakeling uitgebrei om ook nie-Christen godsdiens groepe, soos Judaiste; Boeddhiste; Hindoes, Moslems; Sangomas ens in te sluit. Die oogmerk nou is om alle godsdiensgroepe in `n Eenwêreld Godsdiens onder leiding van die Pous te verenig. (Dit is te verstane dat die RKK tuis voel binne hierdie heidense godsdienste, omdat meeste van hul relieks, beelde, gebruike en rituele dieselfde is. Hulle is dieselfde omdat die oorsprong daarvan dieselfde is nl. “Babilon”, die moeder van alle vals godsdienste op aarde Openbaring 17:5).

 

Ware konserwatiewe, Bybelvaste, evangeliese gelowiges wie hierdie vals eenheid teëstaan en weier om die Evangelie van Jesus Christus te verander om dit meer aanvaarbaar vir alle gelowe te maak, word fundamentele sektes genoem. Hierdie gelowiges sal ongetwyfeld in die toekoms ge-oormerk word vir vervolging, net soos dit was gedurende die Middel Eeue, toe die Bybel op die lys van verbode literatuur geplaas is. Ten spyte van die martelkamers van die Jesuiete en die bloedbaddens van die kruistogte en die Inkwisisie, toe enige een wie nie Rooms Katoliek was nie gemartel en doodgemaak is, is die RKK veral “skuldig aan die bloed van die heiliges, die ware gelowiges wie nie Jesus se Naam sal verloën nie en wie vashou aan die Waarheid van sy Woord.” (Openbaring 17:6).

 


Ware Bybelse eenheid verwys na eenheid in die Heilige Gees en eenheid in geloof en kennis van die Here Jesus Christus (Efesiër 4:3-6; 13, 15 & 16).

 


Dit is nie ‘n eenheid wat bestaan in ‘n mensgemaakte godsdiensstruktuur wat voortgebring is deur sosiale en humanistiese behoeftes en doelstellings nie.  God sê in 2 Korintiërs 6:14-16: “Moenie saam met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Wat se ooreenkoms is daar tussen reg en onreg; hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis; hoe kan ‘n gelowige dieselfde belange hê as `n ongelowige of hoe kan daar ooreenkoms bestaan tussen die tempel van God en afgode?”. 

In Jakobus 4:4 sê Hy: “Weet julle nie dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie?  Wie `n vriend van die wêreld wil wees wys daardeur dat hy ‘n vyand van God is.” So ook is enige persoon wie die Here Jesus Christus en sy Woord, die Bybel, verwerp `n vyand van God.   

 

Daar is dus geen plek vir dialoog op ‘n gelyke geestelike vlak tussen ware Christene met ongelowiges en heidene nie, anders as om teenoor hulle te getuig sodat hulle ook tot kennis van die Waarheid en redding in die Here Jesus Christus kan kom (1 Timoteus 2:4; 2 Petrus 3:9; Esegiel 18:23).

 

Ter Afsluiting

 

Dit blyk duidelik uit die doktrines en gebruike van die Rooms Katolieke leer dat die RKK nie Christelik is nie, maar sy oorsprong en wortels het in die heidendom en die okkulte. Die RKK gee egter voor om Christelik te wees, deurdat hulle heidense doktrines opgedis word in Bybelse en Christelike termenologie en Christen name gegee word aan hul heidense gode en beelde.  Wanneer die Bybel tog as basis vir ‘n doktrine gebruik word, word dit buite konteks en verdraaid aangehaal in ‘n poging om die Bybel binne hul vals ideologie te laat inpas. (byvoorbeeld die leer van die Nagmaal wat geneem is uit Johannes 6, soos vroeër verduidelik). Die Bybel is duidelik hieromtrent. In 1 Korintiërs 4:6 staan daar... “Moenie die perke wat God gestel het oorskry nie” en in Matteus 15:9 “Moenie die leerstellings van mense as gebooie (doktrines) van God voorhou nie.” (Lees ook 2 Korintiërs 11:14 & 15).

 

‘n Mens kan nie die Bybel en die Rooms Katolieke leer gelyktydig glo nie, omdat hul doktrines radikaal van mekaar verskil. ‘n Mens moet die Bybel glo en Katolisisme verwerp, omdat die Bybel die Woord van God en nie die van mense is nie en omdat God alleen betroubaar is en elke mens ‘n leuenaar (2 Timoteus 3:16 en Romeine 3:4). Indien ‘n persoon egter nie die waarheid van God se Woord wil glo nie, maar verkies om sy vertroue in die doktrines en tradisies van mense te plaas, sê die Bybel is so `n persoon nie ‘n kind van God nie (Johannes 8:47). As iemand nie ‘n kind van God is nie, is sy naam nie opgeskryf in die Boek van die lewe nie en diegene wie se name nie in die Boek van die lewe staan nie sal die ewigheid in die “poel van vuur” deurbring (Openbaring 20:15). 

 

Stel vir jouself ondersoek in na wat die RKK en ander vals kerke leer en maak seker van jou redding. Indien jy in hierdie vals kerk vasgevang is, maar jou hart tog reg is met God, luister dan na die boodskap wat die Here Jesus Christus vir jou het: “Gaan uit haar uit sodat jy nie aan haar sondes deel kry en die plae wat oor haar gaan kom, jou ook tref nie.” (Openbaring 18:4).