Johan Malan
Opsomming: Rabbi Leopold Cohn het die [vir hom] verbysterende ontdekking gemaak dat Jesus die beloofde Messias van Israel is, en vreesloos van Hom getuig.
Rabbi Leopold Cohn is in die vorige eeu in Berezna in Oos-Hongarye gebore. Ná sy godsdienstige bevestiging (Bar Mitzvah) op 13-jarige ouderdom het hy besluit om homself as 'n rabbi te bekwaam en 'n geestelike leier vir sy mense te word. Gedurende sy studentejare het die brandende probleem van die Jode se verstrooiing (diaspora) en die lang wag op die beloofde Messias aan hom geknaag. Tydens sy bediening as rabbi het hy baie tyd aan gebed en navorsing hieroor bestee. 'n Deel van sy oggendgebed was 'n herhaling van Artikel 12 van die Joodse geloofsbelydenis: "Ek glo met 'n volkome geloof in die koms van die Messias; en alhoewel Hy vertoef, sal ek Hom daagliks verwag."
Die gereelde uitspreek van hierdie woorde het die begeerte van sy hart na die vervulling van God se beloftes en die spoedige herstel van die verstrooide Israel só in sy binneste laat opvlam dat hy nie langer met formele gebede tevrede was nie. Snags het hy op die kaal vloer gesit om die verwoesting van die tempel te betreur en God te smeek om die koms van die Messias te verhaas.
Vrae soos: "Waarom vertoef die Messias?" en: "Wanneer sal Hy dan kom?" het dikwels die jong rabbi se gedagtes geteister. Op 'n dag het hy die volgende aanhaling in die Talmoed gekry: "Die wêreld sal sesduisend jaar bestaan. Daar sal tweeduisend jaar van wanorde wees, tweeduisend jaar onder die Wet en tweeduisend jaar van die Messias se tyd."
Met opgewonde belangstelling het hy hom tot die geskrifte van Rashi, 'n vooraanstaande Joodse verklaarder, gewend, maar dit het nie veel gehelp nie: "Ná die tweeduisend jaar sal die Messias kom en die goddelose koninkryke vernietig." Dit het die oplossing van sy probleem nog moeiliker gemaak, want volgens die Talmoed se berekening moes die Messias lankal reeds gekom het. In plaas daarvan het die internasionale verstrooiing van Israel aangebreek, wat een van die bitterste feite van die geskiedenis is om van rekenskap te gee.
"Kan dit moontlik wees," het Leopold Cohn homself afgevra, "dat die bestemde tyd vir die koms van die Messias verbygegaan het sonder die vervulling van die belofte?" Erg verward het hy besluit om die oorspronklike profesieë in die Ou Testament te raadpleeg. In Daniël 9 het daar vir hom 'n lig begin opgaan, en hy het 'n rykdom van verborge waarhede ontdek. Uit Daniël 9:24 kon hy aflei dat die profesie oor die 70 jaarweke van Israel 'n tydperk van 490 jaar voorstel.
Gewoond aan die ingewikkelde en dikwels abstrakte redenasies van die Talmoed (die heilige boek van die Jode met godsdienstige oorlewerings, kommentaar en etiese beskouings) was die rabbi deur die duidelike stellings in God se Woord bekoor. Hy het spoedig die betroubaarheid van die Talmoed in twyfel getrek omdat dit in belangrike opsigte van die Heilige Skrifte verskil. Sy gebed tot die Here was: "Open my oë dat ek die wonders in u wet kan sien."
Die Nuwe Testament was tot in daardie stadium nog vir Cohn 'n geslote boek, en hy het nie daarin na antwoorde gesoek nie. Hy het in dié tyd die hulp van 'n ouer rabbi in 'n naburige dorp oor sy twyfel in verband met die Talmoed gesoek. Hierdie rabbi het hom egter uitgeskel en 'n stortvloed beledigings en lasterlike uitlatings oor hom uitgespreek. Hy het bygevoeg: "Het jy dan onderneem om die ondeurgrondelike bloot te lê? Jy is nog skaars uit die dop en jy het al klaar die vermetelheid om beswaar teen die leer van die Talmoed te maak! Is die leer van ons meesters nie meer goed genoeg vir jou nie? Jy praat presies soos die Amerikaanse afvalliges wat glo dat ons Messias reeds gekom het. Wees gewaarsku dat as jy met hierdie lasterlike gedagtes aanhou, jy met skande daarvan sal afkom en van jou pos onthef sal word. Miskien sal jy dan ook by daardie afvalliges in Amerika aansluit."
Teleurgestel en verpletterd het die rabbi afskeid geneem, maar die gedagte het by hom posgevat: Amerika, die land van vryheid. Daar kon hy sy navorsing voortsit.
In Maart 1892 het rabbi Cohn in Amerika aangekom en spoedig met Messiaanse Jode kontak gemaak. Hy het 'n Hebreeuse Nuwe Testament gekry, en by die lees van die eerste sin daarvan het hy diep binnekant geweet dat die einde van sy soektog aangebreek het: "Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham."
Ná die lees van die Evangelies het hy vir die eerste keer die beeld van die lydende Messias in Jesaja 53 verstaan. Hoewel dit aanvanklik baie sielswroeginge vir hom meegebring het, het hy besef dat Jeshua, die Messias, die Een in wie Israel verheerlik sal word, dieselfde is as die Jesus wat deur die Christene aanbid word. Hy het sy lewe aan die Here Jesus gewy en gesê dat hy Hom sou dien, ongeag wat dit kos.
Die koste was inderdaad hoog. Die Jode het hom as 'n verraaier bestempel en daar is selfs planne beraam om hom dood te maak. Vriende het hom gehelp om na Skotland te vlug waar hy sy studies voortgesit het. In 1893 was hy terug in New York en het evangelisasiewerk onder sy eie mense gedoen. Dit was moeilike dae: die koskas was dikwels leeg en hy het ook sy vrou se juwele verkoop om die huur van 'n eenvoudige saaltjie te betaal waar hy dienste gehou het.
Van sy grootste beproewings het egter van valse broeders gekom wat voorgegee het om eensgesind met hom te wees. Een middag moes hy 'n Nuwe Testament aflewer by 'n huis waar dit bestel is. Toe hy daar aankom, het 'n sterk man hom aangeval, met die vuis geslaan, op hom getrap, sy ore gegryp en sy kop herhaaldelik teen die vloer gestamp met die woorde (in Hebreeus): "Hierdie ore wat van Sinai gehoor het dat ons geen vreemde gode mag hê nie, en nou na die Christene se afgode luister, moet afgeruk word."
Cohn het met 'n bebloede gesig huis toe gegaan, maar dit was die bloed van een wat vir die waarheid gely het. Jesus het self gesê dat 'n leerling nie hoërs as sy meester is nie, en as hulle Jesus geslaan en vervolg het, sal hulle dit met ons ook doen.
Deur sy toegewyde diens het eerw. Cohn 'n aansienlike Joodse Christelike gemeente opgebou. Daar was groot waardering en erkenning vir sy werk om 'n oorblyfsel in Israel te help versamel, en in 1930 het die Wheaton Kollege in Illinois 'n eredoktorsgraad in die teologie aan hom toegeken.
Leopold Cohn was 'n onverskrokke soldaat vir die kruis en een van die groot gawes van Jesus Christus aan sy kerk op aarde.