Reaksies in Tye van Benoudheid

Bykans onleefbare toestande sal in die komende groot verdrukking as gevolg van ongekende natuurrampe op aarde geskep word. In reaksie hierop sal baie mense deur vrees en wanhoop beetgepak word. Sommige van hulle sal in wetteloosheid en gewelddadigheid verval, en hulle ook tot vermaak en drankmisbruik wend in ‘n poging om hulle groot probleme te probeer vergeet. Ander sal deur hulle sorge oorweldig word en aan hartaanvalle sterf.

Die Here Jesus sê die volgende oor toestande op aarde nét voor sy wederkoms: “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk met groot krag en heerlikheid. En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is... Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie... Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:25-28,34,36).

Die benoudheid wat oor die nasies sal kom, sal wees as gevolg van die vreeslike oordele wat oor ‘n sondige mensdom uitgestort sal word. Christus sê: “Daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees, en hongersnode en pessiektes; en daar sal verskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom” (Luk. 21:11). Hierdie oordele sal eers in hulle volle omvang tydens die komende verdrukking van sewe jaar uitgestort word. Dié rampe sal nie afgeweer en mense ook nie teen die geweld daarvan beskerm kan word nie, daarom sal die nasies “radeloos” wees en individue “se harte sal beswyk van vrees.” In hierdie tyd sal die ontwrigte mensdom ook op groot skaal teen mekaar veg: “Julle sal hoor van oorloë en opstande” (Luk. 21:9).

Dit is duidelik dat daar voor die verdrukking al ‘n geleidelike opbou na hierdie toestande sal plaasvind. Christene moenie hieroor ontmoedig raak nie, want dit is tekens van hulle naderende verlossing deur middel van die wegraping (Luk. 21:28,36).

Die reaksie van Christene

Hoe reageer kinders van die Here op moeilike omstandighede? Hulle hef hulle hoofde op en kyk na bo. Hulle vestig dus hulle hoop op Christus om in te gryp en hulle lot te verander. In hierdie eindtydse situasie bid ons spesifiek ook, benewens voorsiening in ons daaglikse behoeftes, dat die Here ons sal kom haal en só die oordele sal laat ontvlug.

Persoonlike heiligheid is egter noodsaaklik as ons tot die Here se heilige teenwoordigheid wil toetree en by die wegraping met Hom verenig wil word, want elkeen wat die hoop op sy verskyning het, “reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:3). Ons moet elke las aflê én die sonde wat ons so maklik omring (Heb. 12:1). Ons moet ook teen Satan se aanvalle en versoekings waak en gedurig bid. Wanneer ons dit doen, sal ons geloof versterk word en sal ons oorwinnend kan leef.

Baie Christene laat na om na die vervulling met die Heilige Gees te soek en die Here daarvoor te vertrou. Die gevolg is dat hulle kleingelowiges is wat maklik vreesbevange raak (Mark. 4:40), twyfel of die Here vir hulle sal sorg (Matt. 6:30), en ook maklik aan dwalings glo omdat hulle geestelik onvolwasse is (Ef. 4:13-14). Sulke kleingelowiges verstaan nie die dieper waarhede van die Woord nie (Heb. 5:12-14) en hulle word tot ‘n groot mate deur vleeslike gesindhede oorheers (1 Kor. 3:1-3). As gevolg hiervan is die geestelike koninkryk van die Here, asook sy spoedige wederkoms, nie vir hulle ‘n groot werklikheid nie.

Vleeslike Christene se harte word deur wisselende omstandighede beïnvloed omdat die sorge van die lewe en die genietinge van die wêreld hulle maklik van die Here af wegtrek. Ons moet waak en bid en ons vertroue volkome in die Here stel – dan alleen sal ons geestelik sterk staan en waardig wees om die komende verdrukking te ontvlug.

Die reaksie van ongelowiges

Die toename in rampe en oordele laat wêreldlinge heel anders reageer. Hulle het nie ‘n geestelike anker in hul lewe nie en word maklik die slagoffers van ongetemde emosies soos vrees, wanhoop en aggressie. Hulle gaan sit ook maklik op moedverloor se vlakte – sonder God en sonder hoop in die wêreld. Baie van hulle neem hul toevlug tot drank en dwelms om die aaklige werklikheid van hulle omstandighede te probeer vergeet.

Paulus brei verder oor hulle reaksies uit: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Tim. 3:1-5).

Ons is reeds in die begin van hierdie swaar tye wat ‘n aanloop na die komende verdrukking is. Dit is vir almal duidelik dat Mammon miljoene mense in die greep van geldgierigheid vasgevang het en hulle oë daardeur vir die onsigbare koninkryk van die Here verblind. Ons kan nie die Here én vir Mammon dien nie! Ons sien ook hoedat mense in onheilige en perverte lewenspatrone verval waarin hulle die natuurlike liefde tussen mans en vrouens, en ook tussen ouers en kinders, verwerp en minag. Die plek daarvan word deur gay-verhoudings ingeneem, en ook deur die molestering en mishandeling van kinders. Ander vorms van gewelddadigheid neem ook baie toe.

Dit is net evangeliese Christene wat die Bybel onvoorwaardelik glo, en hulle weet dat toestande op aarde nog aansienlik gaan versleg. Die Here Jesus het gesê dat daar ‘n verdrukking kom soos wat daar sedert die begin van die wêreld nog nie was nie en ook nooit weer daarna sal voorkom nie (Matt. 24:21). Hy bevestig ook die feit dat hierdie verdrukking net voor sy wederkoms sal plaasvind (Matt. 24:29-30). Min mense sal dit oorleef.

Die wêreldlinge, asook die vormgodsdienstiges wat net ‘n gedaante van godsaligheid het, ontken die feit van die komende verdrukking onder die bewind van die Antichris. In dié tyd sal die oordele van die dag van die Here oor die goddelose mense uitgestort word (vgl. Jes. 13:9-13; 24:1-6; Op. 6:12-17). Hulle is met ‘n aardse koninkryk besig en wil gladnie die feit aanvaar dat dit vernietig gaan word nie. Hulle sal nog sê “Vrede en veiligheid!” dan oorval ‘n skielike verderf hulle (1 Thess. 5:3).

Dit is opvallend dat baie van hierdie moreel en geestelik verdorwe mense nog boonop ‘n gedaante van godsaligheid het. Hulle behoort dus aan kerke wat hulle nie oor hulle sondes aanspreek nie, en ook nie die werklikheid van God se oordele oor ‘n verdorwe wêreld aan hulle verkondig nie. Hierdie kerke doen presies dieselfde wat Israel se valse profete gedoen het: “Hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklike manier deur te sê: Vrede, vrede! – terwyl daar geen vrede is nie” (Jer. 6:14). Hulle verkondig ‘n valse vrede.

Dieselfde misleiding gaan ook na die Afrikanervolk uit, en dit streel hulle gehoor om te verneem dat daar nie ‘n verdrukking kom nie, maar tye van voorspoed, vrede en politieke stabiliteit in die huidige bedeling voor die wederkoms van Christus. In die meeste van die Afrikaanse kerke word daar moeite gedoen om die leerstellings oor die herstel van Israel in hulle eie land, die wegraping voor die verdrukking, die verskyning van ‘n persoonlike Antichris, ‘n verdrukking van sewe jaar en ‘n letterlike slag van Armageddon wat deur die duisendjarige vrederyk gevolg sal word, te ontken en teë te staan.

Daar is selfs gemeentes wat Bybelstudies en reekse dienste oor Openbaring hou, met die spesifieke doel om Openbaring as ‘n troosboek voor te hou. Hulle beweer dat al die oordele wat in Openbaring beskryf is, in die eerste twee eeue vervul is, en dat ons sedertdien in die duisendjarige vrederyk leef waarin Satan gebind is. Hulle beweer ook dat Armageddon net ‘n geestelike stryd iewers in die lug sal wees, gevolglik wag die kerk nou vir die Koning om te kom en dan sal Hy “alle gelowiges” in sy ewige koninkryk inlei.

Omdat hulle die opkoms van ‘n letterlike Antichris ontken, sal hulle maklik sy sjarme en bonatuurlike magte ten prooi val wanneer hy as ‘n vredevors op die toneel verskyn en homself as die gemeenskaplike messias van alle gelowe op aarde voordoen. Dit sal sy hoofdoel wees om die mensdom in ‘n nuwe wêreldorde te verenig, waarvan hy die hoof sal wees. Hy sal aan almal wat ‘n verbond met hom sluit, vrede beloof, asook ekonomiese voorspoed en ‘n vrye toevoer van olie uit die Midde-Ooste. Sy voorstelle sal só opspraakwekkend en universeel aanvaarbaar wees dat al die miljoene mense wat voor sy verskyning spoorloos tydens die wegraping verdwyn het, gou vergete sal wees.

Die groot ontnugtering vir almal wat agtergebly het, sal 3½ jaar later aanbreek wanneer die Antichris homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar (2 Thess. 2:4) en almal se aanbidding opeis. Dié wat weier om dit te doen, sal in die openbaar tereggestel word (Op. 13:15). Dan sal ‘n skielike verderf almal tref wat verwonderd agter die dier aangeloop en hom ook met uitroepe van “Vrede, vrede!” aanbid het (Op. 13:3-4).

Die enigste oplossing vir dié ernstige dilemma is om geestelik te ontwaak sodat Christus oor jou kan skyn (Ef. 5:14). Net Hy kan jou siel deur sy Heilige Gees wederbaar om van jou ‘n nuwe mens te maak. Dit is ook sy opdrag dat jy ná jou redding met die Heilige Gees vervul moet word (Ef. 5:18) sodat jy ‘n oorwinnende geestelike lewe kan lei.

In hierdie laaste dae moet ons des te meer waak en bid sodat ons nie geestelik aan die slaap raak nie. Moenie jouself aan die versoekings en ongeregtigheid van die wêreld blootstel en sodoende van die Here af wegdryf nie. Hy het gewaarsku dat die liefde van baie van sy dissipels in die laaste dae sal verkoel wanneer die ongeregtigheid toeneem (Matt. 24:12). Hy het ook teen bekommernis en wêreldse vermaak gewaarsku (Luk. 21:34).

In ‘n tyd van dreigende oordele nét voor die verwoesting van Jerusalem en die Babiloniese ballingskap van Israel, het die Here vir Barug gesê: “Kyk, wat Ek gebou het, breek Ek self af; en wat Ek geplant het, ruk Ek self uit; en dit betref die hele aarde. En sou jý vir jou groot dinge soek? Soek dit nie; want kyk, Ek bring onheil oor alle vlees, spreek die Here” (Jer. 45:4-5). Ons is in ‘n soortgelyke maar baie ernstiger situasie. Die hele wêreld stuur op ‘n tyd van verdrukking en goddelike oordele af soos wat daar nog nooit was nie. Dit is nie nou die tyd om groot aardse belange na te streef en Mammon te dien nie, maar om jou op ‘n toekoms in die hemel voor te berei, skatte daar bymekaar te maak en ongeredde mense teen die naderende oordele te waarsku.

Ons stuur nou op oestyd af wanneer die Here die koring en die onkruid finaal van mekaar gaan skei. Die koring sal in die hemel versamel word en die onkruid met vuur verbrand word. Die toorn van die Here rus oor alle ongereddes (Joh. 3:18-19). Hulle sal al hoe meer rede kry om in benoudheid te verval as hulle nie hul saak met die Here regmaak nie.

Profetiese woord

Hoe kan Christene verseker dat hulle nie, soos die wêreldlinge, ‘n valse hoop nastreef of in vrees en benoudheid verval wanneer dit skielik baie sleg begin gaan nie? Hulle kan dit voorkom deur ‘n onwrikbare geloof in die Here Jesus en om ook met vaste treë in die lig van die profetiese woord te wandel. Petrus sê: “Ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn” (2 Pet. 1:19). Ware Christene behoort nie in die duister oor hulle tydsomstandighede te wees nie, omdat hulle die Bybelse profesieë het wat lig op die saak werp. Ons behoort te weet wat die redes vir ‘n verslegtende wêreld is, naamlik ‘n wêreldwye rebellie teen die Drie-enige God as voorbereiding vir die verskyning van die Antichris. Die algemene verwerping van ‘n Christelike moraliteit is vir die grootskaalse toename in sonde en ongeregtigheid verantwoordelik. Hierdie toestande sal nie verbeter nie, maar verder versleg.

As ons op die verslegtende toestande fokus en dalk self ook aan die ongeregtigheid deelneem, sal ons beslis in ons liefde vir die Here Jesus verkoel. Ons ingesteldheid moet egter in die teenoorgestelde rigting wees. Die Here Jesus het na ‘n geestelike en morele polarisasieproses in die eindtyd verwys toe Hy gesê het: “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word” (Op. 22:11). Ons moet dus hoegenaamd nie deelgenote van hierdie verdorwe wêreld word nie, maar onsself meer en meer daarvan distansieer.

Dit is ook nie nodig om deur die wêreld en sy sondes afgetrek te word nie, want “waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword” (Rom. 5:20). “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het” (Gal. 5:1) en ervaar hoedat Hy jou elke dag meer as ‘n oorwinnaar in hierdie verdorwe wêreld kan maak. Hou jou oë gevestig op Hom wat die Leidsman en Voleinder van jou geloof is (Heb. 12:1-2).

Ons wandel nou in die geloof en nie deur aanskouing nie, want ons is net geestelik van die teenwoordigheid van die Here Jesus deur die Heilige Gees bewus. Daar kom egter ‘n tyd wanneer ons Hom van aangesig tot aangesig sal sien, dan sal geloof oorgaan in aanskouing. Dit sal tydens die wegraping gebeur, daarom verwys Paulus na die salige hoop van ons verwagting van Christus se verskyning (Titus 2:13). Dit is die goeie nuus in ‘n andersins donker toneel van eindtydse profesieë. Koester jy hierdie salige hoop dat die Here Jesus ons kom haal, of is jy dalk onder diegene wat jouself met donker gedagtes besig hou omdat jy op die koms van die Antichris ingestel is. Dan sal jou hart beslis beswaar word deur ‘n negatiewe toekomsverwagting en ook deur die sorge van die lewe.

Werk aan jou geloofsverhouding met die Here Jesus. Vra Hom om jou op te bou in die allerheiligste geloof (Judas 1:20) en anker jou voetstappe in sy Woord sodat jy as mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus (2 Tim. 3:16-17).

Waak daarteen dat jy nie in hierdie tyd van groot aanvegtinge deur die sielevyand deel van die probleem van ‘n teruggevalle Christendom word nie, maar wees eerder onder diegene wat onbeweeglik vas staan op die Rots, Jesus Christus, sodat jy ook vir ander kan bid en hulle geestelik kan ondersteun en bemoedig.