Johan Malan, Universiteit van die Noorde
Opsomming: Jerusalem is 'n rotsstad wat met gekapte klip gebou is. Hierdie boustyl vind noue aansluiting by die Messias, omdat Hy die Rots is wat in Jerusalem vir ons geklief is.
Die Ou Stad van Jerusalem (die berg Sion en die Tempelberg), sowel as die onmiddellike omgewing daarvan, is ten nouste met die verlossingswerk en wêreldhervormende boodskap van Jesus, die Messias, die Seun van Dawid, geassosieer. Die Olyfberg sal die toneel van sy spoedige wederkoms wees (Sag. 14:4-5), waarna die troon van Dawid op die berg Sion herstel (Amos 9:11-12; Hand. 15:16-17) en 'n nuwe tempel op die Tempelberg gebou sal word (Eseg. 40–44).
By nadere ondersoek word dit gou duidelik dat daar 'n baie meer intieme verband tussen Jesus en Jerusalem is as wat algemeen besef word: selfs elke gebou in die stad getuig van Hom as die Rots wat vir ons geklief is. Die eeue oue tradisie om in Jerusalem met gekapte klip te bou, verleen 'n unieke voorkoms aan die stad en verbind dit aan sy werklike eienaar en Koning. Hy is nie alleen as die Lam van God en die Koning van die konings bekend nie, maar ook as die Rots, Fondament en Hoeksteen. Die laasgenoemde drie titels is nou met mekaar geassosieer omdat dit Jesus as die Hoeksteen van Israel en sy hoofstad aandui, maar ook as die Fondament van elke gelowige persoon op aarde:
"Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met 'n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots. En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met 'n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot" (Matt. 7:24-27).
Jesus is self die Rots waarop Hy sy kerk bou, soos Hy beloof het (Matt. 16:16-18). Dit is duidelik dat net die lewe van 'n weergebore persoon op die Rots, Jesus, gebou is. Hierdie assosiasie verleen aan só 'n persoon vastigheid en krisisbestandheid sodat hy teen die storms van die lewe staande kan bly. Mense wat nie aan die Rots geanker is nie, het nie die geestelike vermoë om die aanslae teen hulle te oorleef of af te weer nie.
"Want niemand kan 'n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus" (1 Kor 3:11).
Daar is geen fondament anders as Jesus, die Rots wat vir ons geklief is nie. Om jou lewe op ander fondamente te bou, is om op sand te bou en vir seker onder te gaan wanneer die storms in al hulle felheid op jou toeslaan. Selfs al gaan jy volgens jou eie oordeel suksesvol deur die lewe sonder hulp van buite, sal jy nie voor die storm van God se eindoordeel staande kan bly nie. Dan jy in die verderf beland as jou lewe nie op die Rots gebou is nie!
"Die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword. Elkeen wat op dié steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel" (Luk 20:17-18).
Volgens Efésiërs 2:20 en 1 Petrus 2:6-7 is Jesus self die hoeksteen van die gebou van God waarin ons tot eer van God as lewende stene ingebou word. Dit is die vervulling van beloftes wat in Jesaja 28:16 en Psalm 118:22 gemaak is. Vir dié wat nie in Hom glo nie, is Hy 'n Rots van struikeling, omdat Hy hulle sal veroordeel en in die hel verderf. Daar is geen middeweg tussen hierdie twee attribute van Hom nie – Jesus is óf die hoeksteen waarop jou lewe berus, óf Hy sal vir jou 'n Rots van struikeling wees wat jou in die dag van oordeel sal vernietig.
Die gebeure rondom die uittog van Israel uit Egipte is ryk aan tipologie wat na die Here Jesus se verlossingswerk heenwys:
· Die lam wat geslag is sodat Israel onder sy bloed skuiling kon neem, wys heen na Jesus as die vlekkelose Lam van God wat sy bloed vir ons sondes gestort het (Joh 1:36; 1 Pet 1:18-19).
· Die manna in die woestyn dui op Jesus as die Brood van die Lewe wat uit die hemel neergedaal het om aan ons die lewe te gee (Joh 6:47-51).
· Die koperslang aan die kruis, waarna die volk moes kyk om van die dodelike gif van die slange genees te word, is 'n tipe van Jesus wat aan 'n kruis opgehang moes word sodat daar deur sy wonde vir ons genesing van die sonde-gif van die slang (Satan) kon kom (Joh 3:14-15).
· Die rots wat geklief is sodat 'n waterstroom vir die dorstige volk daaruit kon vloei, is 'n direkte heenwysing van die Rots van die Eeue, Jesus Christus, wat geklief is sodat sy volk die water van die lewe kon kry (1 Kor 10:4).
Daar moet in meer besonderhede na die tipologie van Jesus as die Rots gekyk word wat vir ons geklief is. Paulus sê die Israeliete in die woestyn "het gedrink uit 'n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus" (1 Kor 10:4).
In die woestyn het die volk gesmag na water, en die Here het vir Moses gesê: "Kyk, Ek sal daar voor jou by die rots op Horeb staan; dan moet jy die rots slaan, en daar sal water uit kom, dat die volk kan drink" (Ex 17:6).
Die slaan van die rots dui profeties op die kruisiging van die Messias deur die Joodse volk. Hy sou aan 'n kruishout vasgeslaan en sy liggaam vir ons sondes gebreek word. Die gevolg hiervan sou wees dat 'n fontein van lewende water sou ontspring wat die geestelike dors van die hele wêreld kan les. Jesus het gesê:
"As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie" (Joh 7:37-39).
Dit is dus duidelik dat by die gebeure op Horeb 'n tipologiese uitbeelding van die Drie-eenheid plaasgevind het. Die Vader was daar, want Hy het aan Moses gesê: "Ek sal daar voor jou by die rots op Horeb staan" (Ex 17:6). Die rots wat geklief moes word, stel Christus voor (1 Kor 10:4), en die water wat uit die gekliefde rots gevloei het, stel die Heilige Gees voor (Joh 7:38-39). Dit was dus die wil en plan van die Vader om sy Seun te gee om ter wille van ons geslaan te word, sodat die Heilige Gees hierdie heilswerk aan 'n dorstige en sterwende mensdom kan bedien.
Waarom was dit só 'n groot oortreding in die oë van die Here toe Moses by 'n later geleentheid weer hierdie rots geslaan het? Juis omdat die rots 'n tipe van die Messias is, en Hy net eenmalig vir die sondes van sy volk geslaan is. Net soos die paaslam slegs een maal tydens die uittog uit Egipte geslag is, en nooit weer daarna by Pasga-vieringe nie, moes die rots ook net een maal geslaan word:
"Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit 'n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree. Want so 'n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaar is, en wat hoër as die hemele geword het; wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het" (Heb 7:24-27).
Moses het dus die tweede maal toe die volk by Horeb kom, opdrag gekry om net met die rots te praat en hom nie weer te slaan nie:
"En die Here het met Moses gespreek en gesê: Neem die staf en laat die vergadering byeenkom, jy en jou broer Aäron, en spreek julle die rots aan voor hulle oë; dan sal hy sy water gee. So moet jy dan vir hulle water uit die rots laat vloei... Daarop tel Moses sy hand op en hy slaan die rots twee maal met sy staf; en daar het baie water uitgekom" (Num 20:7-11).
Dit was 'n groot en baie ernstige oortreding in die oë van die Here – sodanig dat Moses en Aäron nie die volk die Beloofde Land kon binnelei nie:
"Toe sê die Here vir Moses en Aäron: Omdat julle in My nie geglo het om My voor die oë van die kinders van Israel te heilig nie, daarom sal julle hierdie vergadering nie in die land inbring wat Ek aan hulle gegee het nie" (Num 20:12).
In die Nuwe Testament leer ons ook dat niemand ooit daaraan moet dink om die Here twee maal te kruisig nie (Heb 6:6). Hy is een maal gekruisig, en nou kan ons net in gebed met Hom praat om die water van die lewe te ontvang. "As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?" (Luk 11:13).
Met die kruisiging van Jesus is die Ewige Rots vir jou en my geklief. Dit is betekenisvol dat Jesus buitekant Jerusalem in die steengroewe van Salomo gekruisg is, waar die klippe vir die bou van die tempel uitgekap is. 'n Groot gedeelte van die berg is vir boumateriaal uitgekap, tot op 'n plek waar die rotse bros geraak en nie meer as bouklip geskik was nie. Daar was ook gate in die grond, wat van ver af soos die oë, neus en mondopening van 'n skedel lyk. Dit kan vandag nog gesien word, en verleen aan die bergwand die voorkoms van 'n skedel.
Die naam skedelkoppie is waarskynlik van hierdie bergwand se voorkoms afgelei. 'n Ander verklaring vir die naam is dat dit van die skedels afgelei is wat in die Romeinse tyd hier rondgelê het. Die Romeine het omtrent 200 misdadigers per jaar hier gekruisig, en hulle net so onbegrawe in die ou steengroewe noord van die stad laat lê.
Die klip vir die tempel van Salomo wat hier gekap is, het 'n besondere tipologiese heenwysing na die Rots van die Eeu wat later in dieselfde steengroewe geklief is, sodat elkeen van ons tot tempels van die lewende God opgebou kan word.
"En die koning het bevel gegee om groot klippe, kosbare klippe uit te breek om die fondament van die huis met gekapte klippe te lê. En die bouers van Salomo... het dit gekap... en die klippe bewerk om die huis te bou... En toe die huis gebou is, is dit opgetrek van klippe, kant en klaar uit die breekplek: hamers en koubeitels, enige ystergereedskap, is nie gehoor by die huis toe dit gebou is nie" (1 Kon 5:17-18 en 6:7).
Toe Jesus in die steengroewe van Salomo vir ons geklief is, het Hy 'n volmaakte en volkome werk gedoen. Daar hoef niks bygesit of weggeneem te word nie. Op die tempelterrein was dit totaal verbode om verder aan die hoeksteen of enige ander bouklippe te kap. Dit moes presies in die regte formaat van die steengroewe af kom.
Ons moet ook na Jesus toe gaan, daar by die kruis waar Hy vir ons geklief is, sodat ons tot lewende stene omskep en gevorm kan word wat geskik is om in die tempel van God ingebou te word. 'n Klip wat nie eers in die steengroewe voorberei en gevorm is nie, was onbruikbaar vir bouwerk. So ook kan geen persoon wat nie eers by die kruis was, in die koninkryk van God aangewend word nie – hy is nutteloos. Die uitnodiging na die steengroewe van God by Gólgota staan egter nog steeds:
"Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus. Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion 'n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie" (1 Pet 2:4-6).
Jesus is as hoeksteen egter deur die bouers (geestelike leiers) van die volk Israel verwerp: "Die steen wat die bouers verwerp het, het 'n hoeksteen geword. Dit het van die HERE gekom; dit is wonderbaar in ons oë" (Ps 118: 22-23).
Omdat Israel geweier het om hulle volkshuishouding op die rots Jesus Christus te bou, en 'n wettiese vormgodsdiens bó Hom verkies het, het hulle in werklikheid op sand gebou. Dit is waarom hulle nie teen die aanslae van die Romeinse Ryk bestand was nie, en as 'n volk tot 'n val gekom het.
Die hoeksteen wat hulle verwerp het, het egter die kosbare hoeksteen van die kerk van die Here op aarde geword. Baie individuele Jode het Hom in hierdie hoedanigheid aanvaar en ook hulle lewens op Hom gebou, maar die ortodokse en agnostiese volksleiers verwerp Hom nog steeds. Dit is die rede waarom hulle nog altyd die wind van voor kry, en nou al meer as 25 jaar sukkel om 'n hoeksteen van 4½ ton op die tempelberg te lê waar die tempel herbou moet word. Selfs wanneer hulle uiteindelik hierin slaag, sal dit onder die leiding van die valse messias wees, wat ook hierdie derde tempel sal ontheilig en homself daarin tot God sal verklaar (Dan 11:31, 36-37; 2 Thess 2:3-4).
Waarom gaan hulle nie terug na die steengroewe van Salomo waar die hoeksteen vir die eerste tempel uitgekap is nie? Hier sal hulle besliste aanduidings van die ware Hoeksteen kry wat die Vader aan sy volk voorsien het. Etlike duisende Christenpelgrims lê jaarliks hier besoek af, onder andere as 'n teken aan Israel oor wie die Hoeksteen is wat deur hulle leiers verwerp is, en nog steeds verwerp word. Hier naby sal hulle die leë graf vind, wat ook uit soliede rots gekap is.
Daar is geen plaasvervanger vir die ware en enigste hoeksteen wat die Vader gegee het om die lewens van individue én volkere op te bou nie. Sy koninkryk op aarde word net op hierdie hoeksteen gebou. Vir almal wat Hom verwerp, word Hy 'n rots van struikeling wat hulle in die komende oordeel vir ewig sal vernietig.
Die bepalings oor die bou van die tempel met gekapte klippe, het sekerlik daartoe aanleiding gegee dat die inwoners van Jerusalem ook hierdie tradisie nagevolg het.
Ná die volk se terugkeer uit die Babiloniese ballingskap het hulle oor die herbouing van die tempel in Jerusalem gesê: "Aan die koning word bekend gemaak dat ons na die provinsie Juda, na die huis van die grote God, gegaan het; en dit word van groot klippe gebou" (Esra 5:8). Hierdie boumateriaal is ook deur die inwoners van Jerusalem vir hulle woonhuise gebruik: "...met gekapte klip sal ons bou" (Jes 9:9; kyk ook Amos 5:11).
Die stad Jerusalem sal in 1996 sy 3000ste bestaansjaar vier sedert dit in 1004 v.C. deur Dawid van die Jebusiete verower is. Ná al die jare is dit nog steeds gebruiklik om net met klip te bou. Dit maak van Jerusalem absoluut 'n unieke stad in die wêreld, omdat al die gebou van klip gebou is. Daar is 'n munisipale regulasie tot dié effek in Jerusalem. Geen bakstene mag gebruik word nie. Geboue mag wél van beton gebou word, maar dan moet dit met gekapte klipteëls toegemessel word. Die aansig van só 'n gebou is dan nog steeds dié van klip. Meesal word van rowwe, gekapte klipteëls gebruik gemaak – slegs in enkele gevalle het die klipteëls 'n gladde afwerking buite. Selfs al die terasse in Jerusalem word ook net van gekapte klip gebou.
Baie mense merk die uniekheid van Jerusalem as rotsstad dadelik op omdat die gryswit kalkklip wat oral gebruik word, baie opvallend is. Die simboliek daarvan as die stad van die Messias wat die gekliefde rots is, word egter nie altyd begryp nie.
Dawid, die eerste Israelse koning van hierdie stad, het die Here in die besonder ook as sy rots en sy Verlosser geken (vgl Ps 19:15). Terwyl hy vir Saul gevlug het, het hy dikwels in grotte vertoef en daar skuiling gevind. Hy het ondervind dat die Here vir hom 'n rotsvesting is, en trouens ook vir sy hele volk. Omdat die rotswande hom omring en beskut het, het hy vir die Here gesê: "Wees vir my 'n rots om in te vlug, 'n baie vaste huis om my te verlos. Want U is my rots en my bergvesting" (Ps 31:3-4; kyk ook Ps 18:3).
'n Persoon wat sy klipwoning in Jerusalem betree, behoort daardeur ook aan die Here herinner te word: "Wees vir my 'n rots om in te woon, om gedurig in te gaan; U wat bevel gegee het om my te verlos" (Ps 71:3). Ons moet ook skuiling vind in die Here, want in Hom leef ons, beweeg ons en is ons.
In die komende Messiasryk op aarde sal die rotsstad, Jerusalem, die hoofstad van die Here se rotskoninkryk wees. Hierdie simboliek kom uit Daniël 2, waar Jesus tydens sy wederkoms met 'n rots vergelyk word wat al die aardse koninkryke sal verbrysel en self in hulle plek sal regeer:
"U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande 'n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het 'n groot rots geword wat die hele aarde gevul het" (Dan 2:34-35).
Die verklaring van hierdie droom van Nebukadnésar dui onteenseglik op die koms van die Messiaryk:
"Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel 'n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar 'n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan – net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande 'n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het" (Dan 2:44-45).
Dan sal gebeur wat in Openbaring 11:15 beskry word:
"En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid."
Hierdie Rots sal groot word en die hele aarde oordek. Hy sal nie net Koning oor Israel wees nie, maar oor die hele wêreld. Sy troon sal in Jerusalem wees, daar waar sy liggaam eens gebreek is sodat Hy vir ons 'n kosbare hoeksteen kon word. Hy is nou in die hemel, maar Hy sal spoedig op die Olyfberg sy verskyning maak om sy koninkryk sigbaar op aarde te openbaar:
"Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen" (Hand 15:16-17).
As ons by die God van Israel skuiling gesoek het en ons lewens op die rots gebou het, is ons veilig vir tyd en ewigheid. Ons kom nie in die oordeel nie, want ons het oorgegaan uit die dood in die lewe (Joh 5:24); daarom kan kan ons ook sing:
Ewige Rots geklief vir my,
laat my veilig by U bly!
Nie alle mense het hierdie blye versekering nie, en hulle het alle rede om te vrees oor wat die toekoms vir hulle inhou. Donker wolke is besig om rondom 'n goddelose wêreld saam te pak, en weldra sal miljoene mense vir ewig ten gronde gaan omdat hulle lewens nie op die Rots gebou was nie.