Die Barmhartige Samaritaan

Johan Malan

Opsomming: Drie duidelike boodskappe kom deur hierdie gelykenis tot ons, nl. oor barmhartigheidsdiens, oor die redding van siele en oor die wederkoms van Christus.

Skriflesing: Lukas 10:25-37

Die ongelukkige reisiger in hierdie gelykenis was alleen in ‘n eensame gebied tussen Jerusalem en Jerigo op reis. Dit was ‘n kronkelende pad wat binne 30 kilometer sowat 900 meter van Jerusalem af na die Jordaanvallei gedaal het. Omdat die pad deur die talle klowe gekronkel het, was die reisiger dikwels uit sig van ander reisigers. Dit was gevolglik maklik vir rowers om hulle langs die pad skuil te hou, reisigers van die pad af te sleep en te beroof.

Die man in die gelykenis is deur die rowers oorval, byna doodgeslaan en van al sy besittings beroof. Hulle het die verwonde man wat nie eers kon opstaan om verder te loop nie, net so langs die pad laat lê.

Die betekenis van die gelykenis kan op drie terreine toegepas word, naamlik (1) barmhartigheidsdiens teenoor mense in nood, (2) die geestelike uitredding en versorging van Satan se slagoffers, en (3) die verband tussen die eerste en tweede koms van die Here Jesus.

Barmhartigheidsdiens

Die beroofde en verwonde man was ver van sy huis en familie af toe hy hulp dringend nodig gehad het. Daar waar hy was, was hy van die eerste vreemdeling wat sou verbykom, se hulp afhanklik. Sy lewe was in groot gevaar, en sonder hulp sou hy nie oorleef het nie.

Volgens die gelykenis rus daar ‘n morele plig op enigeen wat naby aan ‘n noodlydende is, om ‘n helpende hand uit te steek, hom medies en materieel te versorg en sodoende sy lewe te red. Hy moet ook gehelp word om uit die gevaarsituasie te kom. Dit maak nie saak of hy ‘n lid van ‘n ander volk is, of selfs jou vyand nie – as jy “naby” is moet jy help!

Dit is opvallend dat dit ‘n vreemdeling is wat hierdie man gehelp het. Sy eie volksgenote het hulle nie aan hom gesteur nie, maar anderkant toe gekyk en verbygeloop. Hulle het net aan hulleself gedink.

‘n Duidelike beginsel van barmhartigheidsdiens aan mense wat swaarkry en ly, word hierdeur vir ons bepaal. Ons moet onthou dat alle mense, ook die ongereddes, na die beeld van God geskape is. Die Here Jesus identifiseer met hulle sorge en probleme. Hy verwag van sy dissipels om hulle te besoek, te help en te versorg sover hulle kan; daarom sê Hy: “Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie. Ek was ‘n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie” (Matt. 25:42-43). Julle was soos daardie priester en leviet wat weggekyk en gesê het: “Ek het niks met daardie man en sy probleme te doen nie – hy kan toesien!”

Geestelike versorging

Jesus het hierdie gelykenis ook gebruik om sy eie rol as die  redder en verlosser van ‘n verloregaande mensdom te beskryf. Hy was ‘n uitgeworpene in sy eie volk, soos wat die Samaritane ook uitgeworpenes was. Hulle was vroeër Jode wat met heidennasies vermeng geraak het, en dus nie meer as Jode geag of aanvaar is nie. Daar is op hulle neergesien. Jesus is as Messias verwerp, en die volksleiers het Hom uitgestoot en probeer doodmaak.

Ten spyte hiervan was Jesus die een wat Hom oor diegene wat geestelik beklaenswaardig, arm, blind en naak was, ontferm het. Die skrifgeleerdes en Fariseërs kon niks vir die geestelike nood van hulle eie volk doen nie – hulle het anderkant toe gekyk en verbygeloop. Die Here Jesus het hulle egter gehelp, daarom het Hy gesê: “Die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was” (Luk. 19:10).

In die geestelike toepassing van hierdie gelykenis is ons almal reisigers wat tussen Jerigo en Jerusalem op reis is. Langs hierdie pad is daar rowers wat ons inwag. Hulle is daarop ingestel om ons geestelik van ons erfenis te beroof en ons dood te maak. Die rowers beeld die duiwel en sy demone uit.

Die slagoffers van Satan lê langs die lewenspad en sal in hulle sonde sterf as iemand hulle nie help nie. Hulle eie geestelike leiers is belangeloos oor hulle probleem – hulle kan of wil hulle nie help nie. Die barmhartige Samaritaan, Jesus, kom egter verby en help die sterwendes. Hy sit olie en wyn op hulle wonde.

Die wyn dui op sy bloed wat Hy vir ons redding gestort het: “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7). Die olie dui op die Heilige Gees. Hy wederbaar, vervul, versterk, vertroos en salf ons.

Die Here Jesus rig hierdie man op en sit hom weer op die pad sodat hy met sy nuwe lewe kan voortgaan. Hierna is die persoon egter nooit weer alleen nie, omdat hy ‘n Vriend het wat hom op die lewenspad vergesel. Die Samaritaan sit die man op sy pakdier en vervoer hom na ‘n herberg toe. Só dra die Here ons dag ná dag (Ps. 68:20). By die herberg betaal die Samaritaan die man se verblyf. Hierdeur sê die Here vir ons dat Hy nie net red nie, maar ook in elke behoefte van ons voorsien na die rykdom van sy genade.

Hy kom weer!

Daar is ook ‘n profetiese toepassing in hierdie gelykenis. Die Here Jesus het na die aarde gekom om sterwende sondaars op die lewenspad op te soek en te red. Die versorging van die verwonde man in die herberg dui daarop dat die Here al ons behoeftes vir die voortsetting van ons geestelike lewe vir sy rekening neem.

Die barmhartige Samaritaan betaal aan die herbergier twee pennings, wat die prys vir twee dae se verblyf in die herberg is. Daarna vertrek hy en sê vir die herbergier dat as daar nog enige verdere koste is wat hy met die gas het, hy dit sal betaal wanneer hy terugkom. Dit dui daarop dat hy ná twee dae weer sou terugkom.

Volgens 2 Petrus 3:8 is een dag vir die Here soos ‘n duisend jaar. Naastenby tweeduisend jaar ná sy eerste koms om voorsiening vir die redding van sondaars te maak, kom Hy weer terug. Dan bring Hy sy loon met Hom om elkeen te vergoed wat insette en uitgawes in die versorging van sy volgelinge aangegaan het. Hy sê: “Kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:12).

Ons weet dat daardie twee dae, of tweeduisend jaar, tussen sy eerste en tweede koms nou verstreke is. Ons lewe in die tyd waarin die Bruidegom talm om te kom, omdat daar nog baie mense op die lewenspad is wat deur die groot Berower oorval is, en dringend hulp nodig het.

Gaan uit op die paaie en lanings en soek hierdie geestelik sterwende mense op, sodat die huis van die Here vol kan word. Jy sal loon ontvang as jy nie net aan jouself dink nie, maar ‘n helpende hand na ‘n mensdom in sy nood uitreik: “Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel” (Matt. 24:46-47).