Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Feb. 2010)
Israel se tradisionele godsdiens is rondom die tempeldiens gebou en kan nie tot sy reg kom sonder dat daar ‘n ten volle funksionerende tempel in Jerusalem is nie. Moderne Israel is op die drumpel van die herlewing van hulle Ou Testamentiese tempelkultuur en die terugkeer na hierdie gebruike sal verreikende gevolge vir die hele Joodse volk hê – insluitend hulle regeringsvorm. Die volgende hervormings word deur die leiers van die tempelprojek in die vooruitsig gestel:
· Die mag van die Sanhedrin moet uitgebrei word sodat hulle die volk in samewerking met ‘n koning kan regeer. Hierdie koning moet God se oppergesag erken en die volk deur middel van sy eie amptenare én die Sanhedrin regeer. Die Here moet deur die bemiddeling van ‘n hoëpriester geraadpleeg word voordat belangrike besluite geneem word. Daar moet dus ‘n teokratiese regering wees. Israel het tans ‘n sekulêre, demokratiese regering wat nie deur ortodokse leiers erken word nie.
· Die wortels van die Joodse kultuur moet na die tempeldiens herlei word, daarom móét daar ‘n tempel in die voorgeskrewe plek op die Tempelberg in Jerusalem wees. Die eindtydse herstel van Israel in hulle eie land word nie as volledig beskou voordat die tempel as die hoogste politieke, godsdienstige én kulturele instelling herbou en in bedryf gestel is nie. Die tempel word as die hart van Bybelse Jerusalem én die hele volk beskou.
· Volgens die ortodokse Joodse geloof kan daar geen versoening tussen God en die mens wees sonder dat daar gereelde offers in die tempel vir die vergifnis van die volk se sondes gebring word nie: “Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie” (Heb. 9:22; Lev. 17:11). Ortodokse Jode wat nie die finale offer van die Messias as die Lam van God aanvaar nie (vgl. Joh. 1:29; Heb. 10:1-18), sien vir hulleself geen alternatief as om na die Ou Testamentiese (OT) offerdiens terug te keer nie. Jode wat nie hierdie siening met hulle deel nie, word as afvalliges en selfs vyande van Israel beskou.
· ‘n Nuwe vorm van internasionale verhoudings word deur die tempeldiens en sy geassosieerde teokratiese regeringsvorm in die vooruitsig gestel. Jesaja 2:2-4 word dikwels ter ondersteuning van hierdie visie aangehaal, omdat Jerusalem in dié gedeelte as ‘n wêreldhoofstad beskryf word waarin ‘n regering van geregtigheid vir alle nasies gevestig sal wees. God sal regeer en dit sal daartoe lei dat alle vyandigheid tussen nasies gestaak word. Die bou van die sogenaamde “Derde Tempel” word met die koms van die Messias geassosieer en Hy sal Israel tot ‘n seën vir alle nasies maak.
Voorbereidings vir die herbouing van die tempel is in ‘n gevorderde stadium, en dit lei na groot verwagtings vir die spoedige koms van die Messias. Die volgende is die belangrikste verwikkelings in die herlewing van die tempelkultuur:
Die Sanhedrin is ‘n tradisionele Joodse raad van godsdiensleiers wat in Bybelse tye die hoogste regsplegende liggaam binne die raamwerk van die Torah in Israel was. Op 13 Oktober 2004, ná byna twee millennia, is daar weer ‘n Sanhedrin in moderne Israel saamgestel. Hierdie liggaam geniet egter nie amptelike status in die land nie en word net deur ortodokse Jode erken. Die nuwe Sanhedrin bestaan uit 71 vooraanstaande rabbi’s en ander Joodse geleerdes.
Die stigters van die moderne Sanhedrin sê hulle doen net hulle plig (mitzvah) om só ‘n raad saam te stel. Maimonides, ‘n twaalfde eeuse Joodse geleerde, het die stappe beskryf wat tot die instelling van ‘n Sanhedrin sal lei. Gedurende die tyd van die tweede tempel (die tempel van Herodes in die eerste eeu) was daar ‘n Sanhedrin wat in Joodse regspraak uit ‘n godsdienstige oogpunt, met die hoogste gesag beklee was. Die 71 lede van die Raad het in ‘n spesiale vertrek op die tempelterrein in die vorm van ‘n halwe sirkel gesit.
Op byeenkomste van die huidige Sanhedrin word onder andere die moontlikheid van die herbouing van die tempel in Jerusalem bespreek. Hulle probeer om die presiese plek vir die bou van die derde tempel te bepaal. Dit is baie moeilik omdat daar nie op dié terrein argeologiese opgrawings gedoen mag word nie, aangesien die Tempelberg onder die beheer van ‘n Moslem-komitee is.
Nadat Israel die Tempelberg in 1967 van Jordanië herower het, het hulle dié terrein aan Moslem-beheer afgestaan weens die teenwoordigheid van moskees wat druk besoek word. Vir Moslems is dit die derde heiligste plek ná Mekka en Medina. Jerusalem word egter nie in die Koran genoem nie, en Moslems gebruik die teenwoordigheid van die Palestyne in Israel net om die Joodse volk te ondermyn en van hulle regte op die land en die stad Jerusalem te beroof. Dit is die rede vir die sterk weerstand van die Moslems teen die herbouing van die Joodse tempel, asook opgrawings op die Tempelberg om die fondasies van die vorige tempel bloot te lê. Die nuwe Sanhedrin het ‘n komitee bestaande uit professore, argeoloë en geestelikes gevorm om die saak van die tempel se ligging en toekomstige herbouing te ondersoek en aan die volle Raad verslag te doen.
Rabbi Chaim Richman, een van die uitvoerende raadslede, het gesê dit is paslik dat die nuwe Sanhedrin met besinning oor die tempel begin, omdat die tempel van groot belang vir die kulturele en godsdienstige identiteit van die Joodse volk is. Hy het dit betreur dat die Joodse regering uit sekere gedeeltes van Israel se grondgebied onttrek en sodoende van Israel se droom van volle herstel afgesien het. Die Sanhedrin soek egter na maniere om die wortels van die Joodse geloof te versterk en Israel weer as die uitverkore volk rondom die tempeldiens en die Torah te verenig.
Die Sanhedrin erken glad nie die huidige demokratiese regering van Israel nie, en het dit vir hulleself ten doel gestel om vir die land ‘n koning te kies. Dit plaas hierdie ortodokse leiers op ‘n gevaarlike pad, omdat die valse messias homself as ‘n afstammeling van koning Dawid sal voordoen en op Israel se koninklike troon aanspraak sal maak.
Hulle terugkeer na die eise van die Torah het die Raad vroeg in 2007 daartoe gelei om briewe aan alle regerings te skryf waarin hulle aandui dat die wêreld op ‘n rampspoedige koers is. Hulle stel voor dat die tempel na aanleiding van Jesaja 2:2-4 in Jerusalem herbou word sodat God se teenwoordigheid weer ervaar kan word om vrede op aarde te verseker.
Om begryplike redes sal die Sanhedrin baie bly wees wanneer die valse messias op die toneel verskyn, want hy sal homself as die ware Messias voordoen en tot hulle harte spreek deur aan Israel die reg te gee om die tempel te bou. Groot ontnugtering sal egter hierop volg.
Rabbi Chaim Richman van die Sanhedrin is ook hoof van die Tempelinstituut in Jerusalem. Hierdie Instituut is besig met die versameling en vervaardiging van meubelstukke, altare, spesiale toerusting en kledingstukke vir priesters, wat vir die hervatting van die tempeldiens nodig is. Hulle het reeds ‘n goue kandelaar en koper waskom laat maak, asook ‘n goue kroon vir die hoëpriester. Die kleed en mus van die hoëpriester is gereed, en tans word daar uitrustings vir 120 van die gewone priesters gemaak.
Al hierdie items moet nog gereinig word deur dit met spesiaal voorbereide reinigingswater te besprinkel (vgl. Num. 19:1-9). Hiervoor is dit nodig om eers ‘n rooi vers te vind waaraan geen haar van ‘n ander kleur is nie. Die vers moet dan geslag en verbrand word, sodat daar telkens ‘n bietjie van die as vir die bereiding van heilige water gebruik kan word. Die probleem is egter dat die oorblyfsels van die vorige rooi vers se as eers gevind moet word en ter wille van kontinuïteit bo-op die huidige vers gesit moet word wanneer dit ritueel verbrand word.
Argeoloë soek steeds na ‘n houer met as uit die tyd van die tweede tempel, asook na die ark van die getuienis (die verbondsark) wat op ‘n onbekende plek versteek is. Indien die as van die vorige rooi vers nie betyds gevind word nie, en daar ook nie in Israel ‘n rooi vers gebore word wat aan die voorskrifte van die wet voldoen nie, kan die tempeltoerusting nie gereinig word nie. Chaim Richman sê:
“Die tempeltoerusting is in ‘n toestand van onreinheid vervaardig, omdat almal van ons tans onrein is. Ons sal ook onrein bly totdat ons ‘n rooi vers kry waarvan die as op die wyse wat deur die Torah voorgeskryf is, vir reinigingseremonies gebruik kan word. Indien geen rooi vers gevind kan word nie, beteken dit dat die hoëpriester op die Groot Versoendag die Allerheiligste in ‘n toestand van onreinheid sal betree.”
Watter groot voordeel het ons nie in die Nuwe Testament nie, om deur die bloed van die Lam gereinig te word wanneer ons deur die geskeurde voorhangsel na die genadetroon van die Here toetree. Ons het nie aardse priesters as middelaars nodig nie, omdat ons ‘n groot Hoëpriester het wat vir ons die weg berei het (Heb. 10:19-22).
Verskeie Jode uit die stam van Levi word as priesters in spesiale priesterskole in Jerusalem en New York opgelei. Daar is 613 Ou Testamentiese wette waarvan hulle kennis moet dra. In Julie 2007 is daar ‘n groot konferensie vir priesters en Leviete in Jerusalem gehou. Jode met die van Cohen stam almal af van die heel eerste priester, Aäron, en mag dus as priesters opgelei word.
Die moderne Sanhedrin is só sterk op versoening met God deur middel van Israel se OT offerdiens ingestel, dat hulle in November 2009 volgens Bybelse voorskrifte met die oprigting van ‘n brandofferaltaar begin het. Dit is intussen voltooi en uitnodigings is aan Jode oral in die wêreld gestuur om tydens die komende Paasfees op 29 en 30 Maart 2010 (rabbynse datum) in Jerusalem te wees wanneer die paaslam geslag en offers op die nuwe altaar gebring sal word. Genoeg lammers word gekoop sodat almal teenwoordig van die vleis van ‘n paaslam kan eet, presies soos wat in Exodus 12 voorgeskryf word.
Dit sal ‘n belangrike gebeurtenis wees, omdat Israel se offerdiens hierdeur sal herleef nog voordat die tempel herbou is. Daar word gehoop dat die Here se seën hierdeur verkry sal word en dat Hy dit vir die Sanhedrin moontlik sal maak om spoedig die tempel te kan herbou.
‘n Ander belangrike gebeurtenis op godsdienstige gebied is die herbouing, sedert 2005, van die beroemde Hurva-sinagoge in Jerusalem. Hierdie sinagoge is nou voltooi en sal op 15 Maart 2010 ingewy word. Op 16 Maart sal planne vir die bou van die Derde Tempel bekendgemaak word – twee weke voor vanjaar se Pasgavieringe en die hernude slag van die paaslam.
‘n 18de eeuse rabbi, Vilna Gaon, het geprofeteer dat wanneer die Hurva-sinagoge die derde keer herbou is, die oprigting van die derde tempel sal begin. Die laaste vernietiging daarvan was deur die Jordaniese weermag tydens Israel se onafhanklikheidsoorlog in 1948. Dit het lank in puin gelê, maar is nou weer herbou. Is dit profeties belangrik? Op die webblad www.Haaretz.com is daar ‘n artikel: “If the Vilna Gaon was right, the 3rd Temple is on its way.”
Met al die gebeurtenisse wat in Maart 2010 gaan plaasvind, is daar onder ortodokse Jode groot verwagting dat die Messias gaan kom en die herbouing van die tempel binnekort sal begin.
‘n Ander Joodse rabbi, Judah Ben Samuel, het geprofeteer dat tien jubeljaarsiklusse van 50 jaar elk (vgl. Lev. 25:8-13) vanaf die besetting van Jerusalem deur die Turke sou verloop. In ‘n artikel, “The prophecy of Jubilees by Rabbi Judah Ben Samuel” (www.wopular.com/prophecy-jubilees-rabbi-judah-ben-samuel) het G. Nicoletta op 2 Jan. 2010 onder meer die volgende gesê:
“Rabbi Judah Ben Samuel was ‘n vooraanstaande kenner van die Talmoed in Duitsland. Kort voor sy dood in 1217 het hy geprofeteer dat die Ottomaanse Turke vir agt jubeljaartydperke oor Jerusalem sou regeer – dit is 400 jaar (8X50). Die Ottomaanse Turke het in 1517, presies 300 jaar ná die rabbi se dood, beheer oor Jerusalem oorgeneem. In ooreenstemming met hierdie profesie het hulle 400 jaar later, in 1917, beheer oor die stad verloor. Dit was in die Eerste Wêreldoorlog toe genl. Allenby van Brittanje Jerusalem tydens die Joodse fees van Hanukkah verower het sonder om ‘n skoot te skiet. Die Joodse feestyd waarmee sy inname saamgeval het, asook die feit dat hy geen weerstand ervaar het nie, maak daarvan ‘n baie belangrike historiese gebeurtenis... Die rabbi het voortgegaan en gesê dat Jerusalem ná die agt jubeljaartydperke ‘n niemandsland sou wees tydens die negende siklus van 50 jaar. So was dit ook van 1917 af tot met die Sesdaagse Oorlog in 1967. Volgens die rabbi se profesie sou Jerusalem tydens die tiende jubeljaartydperk onder Israel se beheer staan en dan sou die Messiaanse eindtyd begin. Dit sal tot in 2017 strek.”
Hoewel daar meningsverskille oor die rabbi se profesieë is, is daar groot waardering vir die akkuraatheid daarvan tot op datum. Die beëindiging van 400 jaar van Turkse beheer oor Jerusalem is ‘n bekende historiese feit. Dit is absoluut merkwaardig dat hy daarna ‘n vyftig jaar tydperk voorsien het wanneer Jerusalem ‘n niemandsland sou wees, gevolg deur 50 jaar van Joodse beheer oor die stad voor die koms van die Messias. Sedert 1917 was Palestina ‘n Britse mandaatgebied waartydens die land nie aan enige spesifieke volk behoort het nie. In 1948, tydens die onafhanklikheid van Israel, was Bybelse Jerusalem (die oostelike deel van die stad) nominaal onder Jordaniese beheer terwyl daar ‘n eskalerende konflik was oor wie die regmatige eienaars daarvan is.
Tydens die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967 is die ou deel van die stad saam met die Wesbankgebied deur Israel herower en was die hele Jerusalem vir die eerste keer sedert die Babiloniese Ballingskap weer onder Joodse beheer. Dit het 50 jaar van toutrekkery oor die eienaarskap van Jerusalem en groot dele van Israel beëindig. Volgens die rabbi se profesie sou 50 jaar van Joodse beheer oor die stad hierop volg voordat die Messiasryk na verwagting in 2017 sal begin.
Bybelstudente weet dat Daniël se 70ste jaarweek (die verdrukking van 7 jaar) eers moet verloop voordat die Messiasryk sal begin. Dit maak 2010 vir Jode én Christene van groot profetiese betekenis. Dit sal nog gesien moet word of die res van die rabbi se profesieë net so merkwaardig as die ander vervul sal word. Ons wil nie by datumbepaling betrokke raak nie, en volg bloot hierdie gebeure met belangstelling en ‘n verhoogde verwagting op die koms van die Here Jesus.
Die laaste jaarweek voor Christus se koms sal met die bewind van die valse messias saamval, wanneer die hele wêreld geestelik deur hom mislei sal word (Op. 23:3-4). Hy sal die aanhangers van alle gelowe mislei om hom as hulle gemeenskaplike messias te aanbid en na te volg. Ons sal veral moet kyk hoedat die Jode deur die gees van dwaling vir hierdie komende tyd van godsdiensgelykheid en godsdienseenheid voorberei word.
Die opspraakwekkende nuus vanaf die Sanhedrin uit Jerusalem is dat die derde tempel ‘n huis van gebed sal wees vir al die monoteïstiese gelowe, waarvan Judaïsme, die Christendom en Islam die belangrikste is. Die Here se woorde in Jesaja 56:7 word as regverdiging hiervoor aangehaal: “...want my huis sal ‘n huis van gebed genoem word vir al die volke.” Hierdie stelling word verkeerdelik op ‘n multigodsdienstige manier vertolk om ook erkenning aan die groot nie-Bybelse gelowe soos Islam te gee.
Daar is ‘n Joodse webtuiste wat die idee van “God se heilige berg” vir alle gelowe aktief bevorder, naamlik www.godsholymountain.org/ Volgens huidige beplanning sal die tempeldiens met godsdienstige aktiwiteite in nabygeleë moskees en Rooms-Katolieke aanbiddingsplekke verenig word. Die uitvoerende direkteur van die Tempelinstituut, Jehuda Glick, sê dat daar op die koms van die Messias gewag word, want net Hy kan aan Israel toestemming verleen om die tempel te bou.
Die multigodsdienstige denke wat ten grondslag lê van die veldtog vir die herbouing van die tempel in Jerusalem, is presies in ooreenstemming met dit wat die Bybel oor die tempel van die komende verdrukking sê. Volgens Johannes sal daar in die eindtyd ‘n valse messias op die toneel verskyn wat deur alle gelowe nagevolg en aanbid sal word: “En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan... en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer? ... En aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:2-7).
Die belofte in Haggai 2:9 word ook oor die herboude tempel aangehaal: “Die toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as die vroeëre... en op hierdie plek sal Ek vrede gee, spreek die Here van die leërskare.” Hierdie belofte word deur die Sanhedrin aan alle nasies voorgehou, maar sonder dat hulle van hul eie geloofsvorms afstand hoef te doen.
Die Antichris sal nie net deur Israel as hulle Messias-Koning erken word nie (vgl. Joh. 5:43), maar ook deur al die nasies van die wêreld. Hierdie valse vredevors sal internasionaal aanvaar en deur middel van formele verbonde as godsdienstige en politieke wêreldleier erken word. Die verbond met hom sal geldig wees vir ‘n tydperk van sewe jaar, wat in Israel as ‘n jaarweek bekend is. “Hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees” (Dan 9:27).
Alle nasies sal aan die begin van die jaarweek toegelaat word om met hulle eie godsdiens voort te gaan, op voorwaarde dat almal van hulle die nuwe wêreldleier as hulle gemeenskaplike messias erken, aanbid en navolg. Die Antichris sal dus die Messias vir die Jode wees, Christus vir die misleide Christene, Krishna vir die Hindoes, die vyfde Boeddha vir die Boeddhiste en die Imam Mahdi vir die Moslems.
Al die groot godsdienste sal hulle agter hierdie selfverklaarde God-mens skaar – insluitend die vervalste Christelike kerke wat ná die wegraping nog feitlik op volle sterkte sal funksioneer. Dit is dié kerke wat voor die tyd reeds die maagdelike geboorte, godheid en opstanding van die ware Christus ontken en saam met baie ander fundamentele Christelike leerstellings verwerp het. As gevolg van hulle geestelike verraad teen die evangeliese Christendom sal hulle ywerige navolgers van die valse christus van alle gelowe wees en hulleself ten volle in sy wêreldwye sonde-kultuur uitleef. Die Bybel beskryf hierdie valse christus in terme van sy werklike karakter as “die Antichris” (1 Joh. 2: 18) en “die mens van sonde” (2 Thess. 2:3).
Die Antichris sal só sterk deur sy neiging tot selfvergoddeliking aangevuur word, dat hy homself in die middel van die jaarweek in die herboude tempel in Jerusalem tot God sal verklaar. Hy sal homself nog verder bo alle godsdienste verhef om nie net ‘n messias vir hulle te wees nie, maar God self. Paulus beskryf hom as “die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:4).
Hy sal dus ná 3½ jaar nie net die daaglikse slagoffers en spysoffers in die herboude tempel verbied nie, maar ook alle ander godsdienste afskaf en selfs hulle aanbiddingsplekke laat afbreek of verbrand. Die dier en die konings wat saam met hom oor die wêreld regeer, “sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand” (Op. 17:16).
Dit sal die einde wees van die Antichris se assosiasie met die alliansie van wêreldgodsdienste, wat deur Johannes as “die moeder van die hoere” beskryf word – dit is ‘n ekumeniese liggaam, of moederorganisasie, vir al die afvalliges (Op 17:5). Hierna sal die Antichris nie langer hulle gemeenskaplike messias wees nie, maar hy (en ook ‘n beeld van hom) sal as die enigste God deur almal van hulle aanbid moet word.
‘n Streng eis van aanbidding sal nie net aan die Jode gestel word nie, maar aan die aanhangers van alle gelowe: hulle sal óf die Antichris en sy afgodsbeeld in die Allerheiligste van die tempel as God moet aanbid, óf aan summiere teregstelling onderwerp word. Die valse profeet sal die aanbidding van Satan en sy valse christus wêreldwyd afdwing, en ook oor die okkultiese mag beskik om die dier se beeld te laat praat sodat alle teëstanders uitgewis kan word: “En dit is hom gegee om ‘n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie” (Op. 13:15).
Die Here Jesus het na hierdie situasie verwys, wanneer die Antichris die tempel met sy gruwelike afgodsbeeld sal verontreinig. Jode wat sou weier om die knie voor die beeld te buig en die nuwe wêreldleier as God te aanbid, sal baie haastig moet vlug vir hulle lewe:
“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting [die valse messias en sy beeld] waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… dan moet die wat in Judéa is na die berge vlug… Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:15-22).
Daniël het lank gelede reeds na hierdie eindtydse diktator verwys en gesê: “Deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel (die afgodsbeeld van die dier) opstel... En dié koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en groot hou bo enige god... [hy sal] met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref” (Dan. 11:31,36,44).
Israel se voortgesette nasionale verwerping van Jesus se godheid en Messiasskap baan die weg vir die sluiting van ‘n verbond met die Antichris. Die ware Messias het hulle lank gelede al teen die selfvernietigende aanvaarding van die valse messias en sy demoniese beleid gewaarsku: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43). Hulle sal ‘n verbond met die dood sluit omdat hierdie “ander messias” van die duiwel af sal uitgaan, en een van sy verborge doelwitte sal ‘n Joodse volksmoord wees. Die internasionale gemeenskap sal die sluiting van verbonde met die nuwe wêreldleier verwelkom en ondersteun, omdat hulle deur sy ekumeniese denke en valse vredesaanbod mislei sal word.
Israel se huidige ingesteldheid om ‘n tempel te bou wat ‘n aanbiddingsplek vir alle nasies sal wees, is deel van die multigodsdienstige misleiding waaraan alle mense én gelowe tans onderwerp word. Dit sal tot ‘n verbond met die Antichris lei en hy sal aan Israel die reg verleen om so ‘n tempel te bou waarin alle gelowe welkom sal wees. Hierdie tempel sal aan die Antichris die ideale geleentheid bied om homself valslik as die universele “god van hierdie wêreld” te openbaar (vgl. 2 Kor. 4:4) en as gevolg daarvan op die aanbidding van alle mense op aarde aan te dring. In elk geval sal die ortodokse sentimente van die meeste Jode hom goed pas, want die meerderheid Israeli’s wil juis die tempel bou omdat hulle steeds die ware Messias en sy offer aan die kruis verwerp. Hulle wil weer Ou Testamentiese offers vir die versoening van hulle sondes bring. Dit is hierdie offers wat die Antichris sal verbied wanneer hy homself in die tempel tot God verklaar.
Ons is op die drumpel van die wegraping en die openbaring van die valse christus van alle gelowe. Israel (behalwe vir die klein groepie Messiaanse Jode) berei die weg vir hom voor, so ook al die vervalste Christelike kerke wat aan die ware Christus ontrou geraak het. Die nie-Christelike gelowe is lankal reeds wegbereiders vir die komende valse messias. Kort nadat die Antichris se teëhouer (die ware kerk as die tempel van die Heilige Gees) uit die weg geruim is, sal hy geopenbaar word (2 Thess. 2:6-8). Dan sal die Joodse tempel wat uit die voor-Christelike era dateer, herbou word as die simbool van ‘n Christusverwerpende nuwe wêreldorde onder leiding van die Antichris.
Dit is opvallend dat huidige verwikkelings die ortodokse sentimente in Israel versterk, en hierdie ingesteldheid sal daartoe lei dat Israel se leiers weer eens amptelik vir Jesus as die beloofde Messias sal verwerp. Dit getuig van ongelooflike geestelike blindheid, veral in die lig van die volk se 2000 jaar lange verstrooiing en vervolging onder die nasies. Dit is ‘n onbetwisbare historiese feit dat Jerusalem en die tweede tempel tot op die grond afgebreek en die Jode oor die aarde verstrooi is omdat hulle Jesus as Messias verwerp het. Jesus het aan lede van die vorige Sanhedrin in Jerusalem gesê:
“Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat! Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:37-39).
Die verwoesting van Jerusalem én die tempel was dus die direkte gevolg van die verwerping van die Here Jesus. Jerusalem se godsdienstige leierskap het hulleself tot die voortsetting van die tempeldiens verbind, en dit het daartoe gelei dat die eenmalige offer van die Lam van God vir die sondes van Israel én die hele wêreld (Joh. 1:29) nie aanvaar is nie. Omdat die ware Hoeksteen deur die bouers van die volk verwerp is, het die nasionale lewe van Israel tot ‘n val gekom: “Die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword. Elkeen wat op dié steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel” (Luk. 20:17-18; vgl. 1 Pet. 2:6-7). Paulus sê: “Jesus Christus self is die hoeksteen” (Ef. 2:20).
In die lig van hierdie feite was die voortbestaan van die tweede tempel gedoem: “En Jesus het uitgegaan en van die tempel vertrek, en sy dissipels het nader gekom om Hom die geboue van die tempel te wys. En Jesus sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie” (Matt. 24:1-2). Dit sou die direkte gevolg wees van die feit dat die Sanhedrin en die groot meerderheid van die Joodse volk nie opgemerk het dat God hulle in die Persoon van Jesus Christus besoek het nie (Luk. 19:41-44). Die voortsetting van die ou verbond het derhalwe in die duidelike teken van die verwerping van die nuwe verbond onder die Messias gestaan.
Die Jode het hierdie keuse duidelik gemaak toe hulle voor die Romeinse goewerneur, Pontius Pilatus, vir Jesus verwerp het en tot hulle eie ondergang besluit het om die gevolge daarvan te dra: “Laat sy bloed op ons en ons kinders kom!” (Matt. 27:25). Hoe hét Israel nie as gevolg van hierdie tragiese besluit gely nie! En nog is dit nie die einde van hulle lyding nie, want hulle is nog net so sterk teen die Messiasskap van Jesus gekant. Die noodwendige gevolg hiervan sal wees dat die moderne Sanhedrin ‘n ander persoon (die Antichris) as Messias-Koning sal aanvaar (Joh. 5:43) wanneer hy, soos hulle meen, tot hulle redding kom en ook aan hulle die reg sal gee om die tempel in Jerusalem te herbou.
Dit is presies wat hierdie valse messias sal doen, want die hervatting van die tempeldiens sal verseker dat die Joodse leiers steeds die eenmalige offer van die ware Messias aan die kruis sal verwerp. Verder sal die Antichris ook ‘n ander doel met die herboude tempel hê, en dit is om homself daarin tot God te verklaar (2 Thess. 2:4). Die hele idee van die herbouing van die tempel sal dus geweldige antichristelike gevolge hê.
Die Antichris se ontheiliging van die tempel in die middel van die verdrukking van sewe jaar wanneer hy sal voorgee om God te wees, sal tot groot ontnugtering van die Jode lei. Hulle sal hulle verbond met die valse messias verbreek en dan inderhaas uit Jerusalem moet vlug (Matt. 24:15-22). Aan die einde van die groot verdrukking sal die oorblyfsel van Israel die ware Messias op die Olyfberg sien kom (Sag. 14:4-5). Dan sal hulle aan Hom sê: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39).
Dit is ‘n baie gevaarlike en moeilike pad wat die moderne Sanhedrin, asook ander leiers van Israel, vir hierdie volk gekies het. Dit gaan baie van hulle se lewe kos, maar uiteindelik sal Sagaria 12:10 ‘n heerlike werklikheid word wanneer ‘n oorblyfsel in Israel sal opsien na Hom vir wie hulle deurboor het, en bitterlik oor Hom sal ween. Dan eers sal die hele volk besef hoe dwaas dit was om die tempeldiens bo die offer van die Messias aan die kruis te verkies (Heb. 7:26-28).