Die Krag van God teenoor die Krag van Sonde

Prof. Johan Malan

Die verhaal van Simson word in Rigters 13 tot 16 beskryf. In hierdie verhaal word die krag van God én die krag van sonde op ‘n dramatiese wyse as sigbare werklikhede beskryf. In die Ou Testament was dit gebruiklik om uiterlik waarneembare demonstrasies van die geestelike stryd tussen God en Satan se koninkryke te gee, sodat almal die realiteit van dié stryd goed kon begryp. Ons moet geestelike lesse hieruit leer en dit op ons eie lewens toepas.

Een van die groot lesse wat ons uit Simson se lewe moet leer, is dat ‘n persoon wat in ‘n stadium as ‘n gesalfde van die Here die krag van die Heilige Gees in sy lewe gehad het, hierdie krag as gevolg van volhardende sonde heeltemal kan verloor en as ‘n slaaf van die sonde in die mag van die duiwel beland. So ‘n teruggevallene kán egter na die Here toe terugkom en geestelik herstel word. Met Simson het dieselfde gebeur as wat eeue later deur die Here Jesus in ‘n gelykenis oor die verlore seun vertel is. Ná ‘n tyd van groot afvalligheid het die seun die moed bymekaargeskraap om na sy vaderhuis terug te keer waar hy volkome vergewe en as seun en erfgenaam herstel is.

Simson was ‘n gesalfde van die Here en het as ‘n rigter vir Israel opgetree. As ‘n Nasireër (‘n Toegewyde) was hy van sy geboorte af spesifiek aan die Here en sy diens toegewy. Hierdie gelofte het behels dat hy die Here sou vrees, geen wyn of sterk drank sou drink nie, en as ‘n uiterlike teken van toewyding nooit sy hare sou laat skeer nie (Num. 6:2-5; Rigt. 13:5).

Die krag van God

Die Heilige Gees het oor Simson vaardig geword en aan hom bonatuurlike fisiese krag verleen om teen diere sowel as mense te veg en te oorwin. Hy was waarskynlik ‘n man van gemiddelde liggaamsbou, sodat almal in verbasing gestaan het oor wat hy vermag het. Sonder hierdie buitengewone krag wat by tye aan hom verleen is, was hy “swak soos al die mense” (vgl. Rigt. 16:17). Wanneer die Heilige Gees oor Simson vaardig geword het, kon hy dinge doen wat geen mens nog ooit kon doen nie:

     Hy het ‘n brullende leeu met sy kaal hande beetgepak en middeldeur geskeur.

     Hy het 300 jakkalse gevang, hulle sterte aanmekaar vasgebind met brandende fakkels daaraan, en hulle deur die landerye en miedens van die Filistyne gejaag om dit aan die brand te steek.

     Hy het ‘n duisend Filistyne wat gekom het om hom dood te maak, met ‘n eselskakebeen doodgeslaan.

     In ‘n Filistynse stad waar Simson se vyande hom gevange probeer neem het, het hy middernag opgestaan, die groot deure van die stadspoort met deurposte, grendels en al uit die muur geruk, dit op sy skouers weggedra en bo-op ‘n berg neergegooi.

     Hy het dikwels sterk, nuwe toue waarmee hy gebind is, soos garingdrade verbreek en losgekom.

     Hy het met sy twee hande die groot pilare waarop ‘n baie groot tempel se dak gerus het, omgestoot sodat die dak en galerye ingetuimel en 3000 Filistyne gesterf het.

Tydens die jare van Israel se oorheersing deur die Filistyne het die Here hierdie groot krag aan Simson verleen om aan Israel te toon dat hulle sonder sy ingryping en krag nie in staat sou wees om hulleself uit die heerskappy van die vyand te verlos nie. Die vyande van Israel was almal heidense volke wat afgode gedien het, daarom was hulle ook vyande van God. Die Filistyne se hoofgod was Dagon, en hulle het ‘n groot tempel opgerig waar hy aanbid is. Dagon het al die eer gekry wanneer die Filistyne oorwinnings oor Israel behaal het.

Israel was die enigste volk van God in ‘n heidenwêreld, en wanneer Israel God behaag en in sy weë gewandel het, het Hy in die stryd teen hulle vyande tussenbeide getree en hulle gehelp om te oorwin. Hierdie oorwinnings is gewoonlik deur ‘n klein groep soldate behaal (soos in die geval van Gideon en sy 300 manskappe); deur die bekragtiging van een man (soos in die geval van Simson, en ook Dawid in sy geveg teen Goliat); deur die ingryping van ‘n engel van die Here (soos in die tyd van Hiskia toe die engel van God 185 000 Assiriërs wat Jerusalem beleër het, omgebring het); deur Israel se vyande met bonatuurlike plae te tref (soos in die geval van Israel se uittog uit Egipte); deur die mure van ‘n heidense stad soos Jérigo te laat instort; of deur verwarring onder Israel se vyande te skep, sodat hulle gevlug en mekaar doodgemaak het (vgl. Ex. 23:27;  dit sal volgens Sagaria 14:12-13 weer tydens Jerusalem se eindtydse beleëring gebeur). Die krag van die Here was altyd tot die beskikking van sy volk om hulle uit die mag van die vyand te verlos, en Hy sal dit weer in die toekoms teen die Antichris en sy leërs gebruik (Op. 19:19-21).

Die krag van sonde

Die duiwel beskik ook oor groot magte en hy span dit in om onophoudelik teen God se volk, óf teen individuele gelowiges, stryd te voer. Hy vervul mense met haat, vyandskap, magsug, geldgierigheid, wellus en talle ander sondige neigings, en gee ook aan hulle allerlei bose planne om uitvoering daaraan te gee. Dit lei na voortdurende stryd tussen die magte van die lig en die magte van die duisternis. In Ou Testamentiese tye is hierdie stryd gevoer teen Israel, wat die enigste verteenwoordigers van God se koninkryk op aarde was.

Satan het nie slegs sy bose magte in heidense volke gevestig nie, maar ook deurgaans gepoog om Israel van God afvallig te maak. Hy het geweet as Israel volhardend begin sonde doen en ook die knie voor afgode buig, sou hulle die guns en beskerming van die Here verbeur. Hulle sou dan ‘n maklike teiken vir die vyand wees. Bileam se raad aan die heidense koning Balak van die Moabiete, was dat hy nie vir Israel, as God se volk, militêr moes probeer oorwin nie, want die Here help hulle. Hulle moes Israel liewer deur ‘n valse vriendskap probeer verlei om ‘n Baälfees by te woon en daar aan afgodsoffers deel te neem. Hierdeur sou hulle die Here se toorn opwek sodat sy beskutting van hulle sou wyk, en dit sou van hulle ‘n maklike prooi vir die vyand maak (Num. 22–25; 2 Pet. 2:15; Op. 2:14). Dit is presies wat gebeur het.

In Simson se geval het die Filistyne gou agtergekom dat hulle magteloos was teen sy bonatuurlike krag, en solank hy oor dié krag beskik het, sou hulle hom nooit kon oorwin nie. Toe het hulle alles ingespan om die geheim van sy krag te wete te kom sodat hulle hom daarvan kon beroof.  Die duiwel het eers ‘n pad met Simson geloop en hom ‘n liefde vir vreemde vroue gegee – tot só ‘n mate dat hy selfs ‘n prostituut in Gasa besoek het (Rigt. 16:1). Uiteindelik het hy by Delila beland en die Filistyne (aangehits deur die duiwel) het haar gebruik om die geheim van Simson se krag te wete te kom. Hulle was vasberade om hom van sy bonatuurlike vermoëns te beroof en van hom ‘n magtelose slaaf in hulle gevangenis te maak.

Simson het baie goed geweet dat die Filistyne vasberade was om hom te vang en weerwraak te neem vir al die skade wat hy hulle aangedoen het. Hy het al verskeie pogings deur hulle gefnuik om hom gevange te neem en te bind. Ten spyte van sy sukses om alle fisiese magte wat teen hom gebruik is te oorkom, het hy vir Delila se sjarme en haar aanhoudende geneul geswig en sy geheim aan haar bekend gemaak. Hierdeur het hy, onder die krag van misleiding, die geheim van die enigste wapen wat hy gehad het, aan die vyand geopenbaar. Hulle het sy hare afgeskeer en sodoende, met sy volle samewerking, Simson se Nasireërgelofte teenoor die Here verbreek.

Die geestelike neerlaag en ontrouheid van Simson het onmiddellike, tragiese gevolge gehad en duidelik die krag van sonde in ‘n mens se lewe gedemonstreer. Die heel eerste gevolg van sy moedswillige sonde was dat die Here hom verlaat het: “...hy het nie geweet dat die Here van hom gewyk het nie” (Rigt. 16:20). Simson was nie meer aan die Here toegewy nie en die Here het sy Gees van hom onttrek. Omdat Simson nie met sy sonde gebreek het nie, het hy deur sy optrede aan die sonde die geleentheid gegee om volle beheer oor hom te kry en hom te breek. Dit het soos volg gebeur:

     Hy het sy krag verloor. Toe die Here deur sy Gees vir Simson verlaat het, het hy geen krag gehad om teen die pogings van sy vyande wat heerskappy oor hom wou voer, weerstand te bied nie. Hulle het hom maklik en gou oorweldig die oomblik toe hy sy krag verloor het.

     Hy het sy vryheid verloor. Simson het ‘n slaaf van sy vyande geword. Hulle het hom met koperkettings gebind en in die gevangenis toegesluit waar hy ‘n meul moes maal.

     Hy het sy sig verloor. Simson se oë is uitgesteek en hy moes as ‘n blinde man sy vyande dien. Hulle het hom rondgelei en voor hulle afgod die spot met hom gedryf.

     Hy het sy lewe verloor. Hoewel Simson kort voor sy dood geestelik herstel is en weerwraak op sy vyande geneem het, het hy weens sy sonde voortydig gesterf (vgl. Pred. 7:17).

Geestelike toepassing

In Nuwe Testamentiese tye is daar ‘n nog meer intense stryd tussen God en Satan se  koninkryke aan die gang. Dit gaan egter nie gepaard met ‘n fisiese stryd teen ‘n bepaalde volk, bv. Israel nie, maar is hoofsaaklik ‘n geestelike stryd teen die duiwel en sy magte: “Ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Ef. 6:12). Ons is dus nie van groot fisiese krag afhanklik soos wat Simson gehad het nie, maar ons moet geestelik kragtig word in die Here en die krag van sy sterkte. Ons het ‘n geestelike wapenrusting nodig (Ef. 6:10-11; 2 Kor. 10:3-5). Die Here Jesus het gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees” (Hand. 1:8).

Ongelukkig is baie Christene nie met krag uit die hoogte toegerus nie omdat hulle nog nie met die Heilige Gees vervul is nie. Sulke vleeslike Christene (vgl. 1 Kor. 3:1-3) is kragteloos in die diens van die Here en kan ook nie teen die begeerlikhede van die vlees weerstand bied nie. Jakobus 1:15 sê: “...die begeerlikheid baar sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.” Sulke mense moet die ernstige les in Simson se lewe ter harte neem: Breek met sonde, of die sonde sal jou breek!

In die gelykenis van die verlore seun is die tragiese gevolge van geestelike veragtering weens ‘n  doelbewuste lewe van sonde baie duidelik (Luk. 15:11-32). Die verlore seun het aanvanklik in sy vaderhuis gewoon, maar het sy rug op daardie lewe gedraai en verkies om ‘n lewe van sonde in die wêreld te gaan lei. Partytjies en slegte vrouens was vir hom meer begeerlik. Nadat sy lewe van sonde hom finansieel geruïneer het, het sy vriende hom verlaat en moes hy as ‘n armlastige en verhongerde man werk op ‘n plaas gaan soek om varke op te pas. Hy het toe tot besinning gekom en besef wat hy alles verloor het.

Hierdie seun het ten volle besef dat hy deur sy eie dwaasheid sy erfenis verbeur het, alles verloor het en ‘n uitgeworpene in die samelewing was. Hy het egter sy vader as ‘n liefdevolle en vergewensgesinde man geken, en besluit om terug te gaan huis toe. Hy het ‘n hernude stap van bekering gedoen: “Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge” (Luk. 15:18-19).

‘n Groot wonder het in hierdie jongman se lewe gebeur, want hy het vir ’n tweede keer geestelik lewend geword. Tydens sy omswerwinge in die wêreld was hy dood en verlore (Luk. 15:32). Hy was nie fisies dood en verlore nie, maar wel geestelik. As gevolg van sy terugkeer na sy vader het hy “weer lewendig geword” (Luk. 15:24, 32). Dit impliseer duidelik dat hy aanvanklik gelewe het, toe geestelik gesterf het as gevolg van sy sondes en afdwalinge, maar daarna is hy herstel en het weer gelewe (die Griekse woord anazao beteken om jou lewe te herwin, te herleef, of Eng. to recover life; live again; revive). Hoewel hy homself wou verneder tot op die vlak van ‘n arbeider wat geen erfenis het nie, het sy vader hom ten volle as seun en erfgenaam herstel.

Dit is presies wat met Simson gebeur het, en ook met baie ander mense wat uit die genade verval en later weer na die Here teruggekeer het. Baie mense kan ook duidelik met die verskillende gevolge van Simson se geestelike verval identifiseer, want dieselfde gebeur steeds met ‘n afvallige wat weer onder die heerskappy van die sonde beland:

     Hy verloor sy krag. Wanneer ‘n persoon terugval, verloor hy die krag van die Heilige Gees in sy lewe. Dit beteken dat hy nie meer teen versoekings en sonde weerstand kan bied nie. Die hartstogte en begeerlikhede van die vlees verkry beheer oor sy lewe. Eers is hy net ‘n teruggevalle Christen (1 Kor. 3:1-3; Gal. 5:16-17), maar later kan die Heilige Gees hom heeltemal verlaat, dan kry hy ‘n bose en ongelowige hart (Heb. 3:12-13). Sulke mense kan geen weerstand teen sonde bied nie.

     Hy verloor sy vryheid. Só ‘n persoon het nie vasgestaan in die vryheid waarmee Christus hom vrygekoop het nie, en is nou weer onder ‘n juk van diensbaarheid aan die sonde (Gal. 5:1). Mettertyd word hy ‘n magtelose slaaf van die sonde. Dit maak nie saak of dit tabak, drank, dwelmmiddels, dobbel, diefstal, geldgierigheid, leuens, gewelddadigheid, magsug, hoerery of ander vorms van seksuele losbandigheid is nie – hy is ‘n slaaf daarvan en doen dit oor en oor. Uit sy eie krag kan hy nie daarvan vrykom nie.

     Hy verloor sy sig. Die duiwel en die sonde verblind ‘n persoon heeltemal vir die waarheid, sodat hy dit glad nie kan sien nie. Satan is die god van hierdie wêreld wat mense se sinne verblind sodat hulle nie die waarhede van Christus se evangelie kan sien nie (2 Kor. 4:4). Hulle verloor alle geestelike insig en onderskeidingsvermoë en word blinde volgelinge van die duiwel.

     Hy verloor sy lewe. Die loon van die sonde is die dood (Rom. 6:23). Jakobus sê dat sonde die dood voortbring (Jak. 1:15). Behalwe dat die sonde na die ewige dood lei, kan dit jou ook fisies ‘n vroeë dood laat sterf. Baie mense verwoes hulle liggame deur sonde en leef só roekeloos dat hulle op ‘n vroeë graf afstuur. “Wees nie alte goddeloos, en wees nie dwaas nie: waarom sou jy sterwe voor jou tyd?” (Pred. 7:17).

Simson het ook voor sy tyd gesterf omdat hy homself deur sy dwase optrede in die hande van sy vyande oorgegee het. Gelukkig vir hom het hy, soos die verlore seun, tyd gehad om oor sy sonde en afdwalings te dink en homself kort voor sy dood uit daardie haglike toestand tot die Here te bekeer. Vir baie afvalliges kom die dood egter vinnig en gaan hulle ongered die ewigheid in.

Word jy deur bande van sonde en ongeregtigheid gebind? Dan is jy ‘n slaaf van die sonde. “Want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword” (2 Pet. 2:19). Kom na die Here Jesus toe, want Hy is magtig om te verlos. “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Joh. 8:36). Hy sal jou volkome herstel en opnuut deur sy Heilige Gees versterk met krag uit die hoogte (Luk. 24:49).

Ons moet as Christene steeds duidelike keuses maak of ons ons liggame aan die mag van die sonde sal onderwerp, of aan die heerskappy van die Heilige Gees: “Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God” (Rom. 6:12-13).

As ons toewyding aan die Here in stand gehou word, sal die vyand van ons siele ons nooit as buit kan wegvoer om ons te verblind, te verslaaf en dood te maak nie. Die Here wil ons help om as oorwinnaars uit die stryd te tree, maar dan moet ons die erns besef van die stryd waarin ons is, en daagliks bid dat die Here ons van die Bose sal bewaar. Diegene wat die vyand onderskat en kompromie begin maak, bedroef die Heilige Gees en sal hulleself op hierdie pad met baie smarte deurboor. Sommige van hulle blus selfs die Heilige Gees uit deur hulle optrede (1 Thess. 5:19) en bevind hulle op ‘n verkeerde pad wat vorentoe al hoe donkerder word. Draai om voordat dit te laat is!

Tipes van Israel

Afgesien van die belangrike geestelike lesse wat ons uit hierdie gedeelte kan leer, is Simson en die verlore seun ook tipes van die volk Israel. Hulle was as gesalfdes van die Here aanvanklik in die Vaderhuis. Hulle was sy erfgename en is vir groot dinge in die koninkryk van God bestem. Hulle harte was egter nie volkome met die Here nie omdat hulle vir sonde plek gemaak het. Hulle verdeelde harte het na ‘n fase van groot afvalligheid gelei waarin hulle ‘n lang tydperk weg van die Vaderhuis af in die wêreld deurgebring het. Ná die donker tyd van afdwalinge is albei van hulle dramaties gered en volkome in die Vaderhuis herstel.

Israel is aanvanklik deur die Here geroep en geestelik toegerus om sy spesiale getuies in ‘n ongelowige wêreld te wees. Hulle was egter oor baie jare heen ongehoorsaam aan die Here en het ook sy profete verwerp en vervolg. Uiteindelik het hulle die maat van hulle sondes volgemaak toe hulle ook die Messias verwerp het. Hy het vir die volksleiers gesê: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat” (Matt. 23:37-38). Dit sou nogtans nie ‘n permanente verwydering tussen hulle teweegbring nie, want die Messias het aangedui dat hulle Hom tydens sy wederkoms sal aanvaar en in die Naam van die Here begroet. Hy het gesê: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39).

In die tussentyd sou hulle egter, soos Simson en die verlore seun, ver van die Vaderhuis af in ‘n vyandige heidenwêreld wees waar hulle baie swaar sou kry. Die Here Jesus het gesê: “Julle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Ons is nou in die tyd waarin die vertrapping van Jerusalem in fases beëindig word. Die stad se fisiese en staatkundige vertrapping is reeds beëindig en dit moet nog net geestelik herstel word. Israel moet geestelik ontwaak om aan sy roeping as volk van God te kan voldoen.

Hierdie volk is tans in groot benoudheid, omring deur vyandige volke wat sy ondergang soek. Te midde hiervan begin Israel se Westerse bondgenote hom al hoe meer die rug toekeer, en dit laat aan hulle nog net een opsie, naamlik om vir hulp na die Here toe te gaan. Hulle is nou amper op die punt waar die verlore seun was toe hy gesê het: “Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u” (Luk. 15:18). Simson was in dieselfde situasie. Omring deur sy vyande wat met hom gespot en sy ondergang gesoek het, het hy tot God geroep en gesê: “Here, Here, dink tog aan my en versterk my tog net hierdie keer, o God” (Rigt. 16:28). Die Gees van God het toe weer oor hom vaardig geword en hy het ‘n groot oorwinning oor die vyand behaal.

Wanneer Israel as volk tydens die Messias se wederkoms geestelik lewend gemaak word, sal hulle lang swerftogte in die wêreld vir altyd verby wees. Soos die verlore seun volkome vergewe en herstel is, sal die Here ook met Israel doen: “En hulle sal My tot ‘n eiendom wees, sê die Here van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelye hê soos ‘n man medelye het met sy seun wat hom dien” (Mal. 3:17).

Jerusalem en sy inwoners wat 2000 jaar gelede die Messias verwerp het, sal Hom ná hulle eindtydse herstel van harte dien: “Kyk, Ek laat vir die stad genesing en gesondmaking tot stand kom en sal hulle gesond maak en aan hulle openbaar ‘n oorvloed van duursame vrede. En Ek sal die lot van Juda en die lot van Israel verander en hulle bou soos tevore. En Ek sal hulle reinig van al hulle ongeregtigheid waarmee hulle teen My gesondig het, en vergewe al hulle ongeregtighede waarmee hulle teen My gesondig en teen My oortree het. En die stad sal vir My wees ‘n vreugdevolle roem, ‘n lof en ‘n sieraad by al die nasies van die aarde wat sal hoor van al die goeie wat Ek aan hulle doen; en hulle sal bewe en ontroer word oor al die goeie en oor al die vrede wat Ek daaraan bewys” (Jer. 33:6-9; vgl. Sag. 8:20-23).

Die kerk van Christus het ‘n duidelike opdrag om Israel geestelik by te staan en op ‘n ontmoeting met die Messias voor te berei, sodat al die wonderlike beloftes oor Jerusalem en sy inwoners vervul kan word: “O julle wat die Here herinner aan sy beloftes – moenie rus en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde” (Jes. 62:6-7).

Dit is die boodskap wat ons ook aan geestelik afvalliges in die hele wêreld moet uitdra: Daar is vergifnis, herstel en reiniging in die Naam van die Here Jesus. Hy is nie net die Messias van Israel nie, maar ook die Verlosser en Koning van die hele wêreld!