Sterfbed-ondervindings

In die voorwoord van sy boek, Voices from the Edge of Eternity, sê John Meyers: “Die dood is ‘n onderwerp wat niemand ligtelik kan opneem nie. Daarvoor is dit té finaal. Skoonheid, eer, rykdom, aardse mag, menslike hoop en drome – alles word deur die finaliteit van die dood beëindig. Die mens word met toe hande gebore, maar hy sterf met hulle wyd oop. Wanneer hy met sy lewe begin, wil hy graag alles toe-eien; wanneer hy die wêreld verlaat, verloor hy alles wat hy gehad het. Dit is egter nie so seer die dood self nie, as die verborgenheid oor dit wat agter daardie toe deur is, wat die mensdom van die vroegste tye af gekwel het... Die getuienis van hierdie boek is dat duisende mans en vroue – gelowiges én ongelowiges – wat op die rand van die ewigheid te staan gekom het, vasgevang in die lewe se mees dramatiese ondervinding, baie duidelik anderkant die graf gesien het. Wat hulle gesien en ervaar het, bevestig nie alleen die mens se onsterflikheid nie, maar beantwoord ook baie van die vrae waarmee denkende mense vandag nog steeds worstel. Ek verwys na sulke onderwerpe soos die betroubaarheid van die Bybelse beskrywing van lewe ná die dood... Die lees van hierdie boek sal die hoop bevestig – daardie heerlike bewussyn van ons uiteindelike doel en bestemming. Net dit kan die greep van materialisme verbreek, wat dreig om ons geslag in die doolhof van ‘n geestelik leë en doellose bestaan in te trek.”

Die volgende is ‘n aantal verkorte uittreksels uit hierdie boek, wat in 1968 deur die skrywer gepubliseer is. Meer biografiese besonderhede oor bekende persone is bygevoeg, asook ‘n bespreking van die groot betekenis van Christus se versoeningsdood aan die kruis.

Bitter verwyte van die deïs, Voltaire

Die Franse skrywer en filosoof, Voltaire (1694-1778), was ‘n deïs omdat sy geloof in die bestaan van ‘n opperwese op rede gebaseer is en nie op openbaring nie. Hy het die Christelike geloof sterk teëgestaan, beweer dat die Evangelies uit mense se verbeelding gekom het en dat Jesus dus nooit bestaan het nie. Voltaire het met God gespot en gesê dat hy ‘n komediant is wat voor ‘n gehoor optree wat té bang is om te lag. Vir hom was godsdiens ‘n sosiale verskynsel en hy was ten gunste van godsdiensvryheid in ‘n multigodsdienstige samelewing. Hy het gesê dat net een godsdiens na despotisme sal lei; wanneer daar twee godsdienste is, sal mense mekaar se kele afsny; maar wanneer daar baie gelowe is, sal mense gelukkig wees en in vrede saamleef. Wat hom betref, was die Christendom ‘n verdwynende verskynsel. Hy het gesê: “’n Honderd jaar ná my tyd sal daar nie meer ‘n Bybel op aarde wees nie, behalwe een wat dalk deur ‘n persoon ontdek sal word wat na oudhede soek.” Hy is 228 jaar gelede in 1778 dood.

Toe Voltaire die beroerte gehad het waardeur hy besef het dat die einde vir hom aangebreek het, is hy deur berou oormeester. Hy het ‘n priester laat roep en wou met die kerk versoen word. Sy agnostiese aanhangers het hulle na sy kamer gehaas om dié versoening te probeer voorkom, maar dit het net na hulle eie smaad gelei. Hy het hulle vervloek omdat hulle teenwoordigheid sy ellende vererger het. Hy het hard uitgeroep: “Weg hier! Dit is julle wat vir my huidige toestand verantwoordelik is. Watter verdorwe eer is dit nie wat julle vir my gebring het nie!”

Voltaire is deur sulke sielswroegings geteister dat hy sy tande in ‘n magtelose woede-uitbarsting teen God en die mens gekners het. By tye het hy gesmeek: “O Christus, O Here Jesus!” en dan weer: “Ek moet sterf, van God en die mens verlate!” Namate sy einde nader gekom het, het sy toestand só verskriklik geword dat sy agnostiese vriende bang was om naby sy bed te kom. Hulle het die deur bewaak sodat ander mense nie moes sien hoe grusaam die dood van ‘n vyand van God is nie. Selfs sy verpleegster kon nie meer die toneel van verskrikking verduur nie. Dit was die einde van ‘n man wat ‘n hoë intelligensie, die beste opleiding, groot rykdom en baie aardse eer gehad het – maar sonder God.

Charles Darwin het die leuen van evolusie verwerp

Dit mag baie studente van evolusie verbaas om te verneem dat Charles Darwin aan die einde van sy lewe die misleidende teorie van evolusie verwerp en na geloof in die Bybel teruggekeer het, insluitende die Bybelse weergawe van die skepping. Die volgende is die woorde van Lady Hope van Northfield, Engeland, ‘n wonderlike Christendame wat dikwels by Darwin besoek afgelê het voordat hy dood is:

Dit was op een van daardie wonderlike herfs-agtermiddae wat ons soms in Engeland het, toe ek gevra is om Charles Darwin te besoek. Hy het op sy bed gesit, deur kussings ondersteun, en uitgekyk oor ‘n verruklike toneel van woude en koringlande wat in die strale van die ondergaande son gehul was. Sy gelaat het opgehelder toe ek in die kamer instap. In sy hande het hy ‘n oop Bybel gehad wat hy voortdurend besig was om te bestudeer.

“Wat is jy nou besig om te lees,” het ek gevra. “Hebreërs,” antwoord hy. “Ek noem dit die Koninklike Boek.” Daarna het hy sy vingers op sekere gedeeltes gelê en kommentaar daaroor gelewer. Ek het na sy vroeëre standpunt oor die geskiedenis van die skepping verwys, en hoedat mense in die lig daarvan die skeppingsverhaal in Genesis heeltemal anders vertolk. Hy het ongemaklik voorgekom, sy vingers senuweeagtig heen en weer beweeg en ‘n uitdrukking van pyn op sy gesig gehad toe hy gesê het: “Ek was ‘n jongman met onvaste idees (unformed ideas). Ek het dinge bevraagteken, voorstelle oor ‘n teorie gemaak en die hele tyd oor alles gewonder. Tot my groot verbasing het my idees soos ‘n veldbrand posgevat en versprei. Mense het ‘n godsdiens daarvan gemaak.”

Daarna het hy ‘n rukkie stilgebly en toe ‘n paar opmerkings oor God se heiligheid en die uitnemendheid van die Boek gemaak. Terwyl hy met ontsag na die Bybel kyk wat hy nog al die tyd vasgehou het, het hy gesê: “Ek het ‘n somerhuis in die tuin waarin omtrent dertig mense kan sit. Ek wil graag hê dat jy daar moet praat. Ek weet dat jy Bybelklasse in verskillende dorpies gee. Ek wil graag hê dat die bediendes, sommige van die huurders en ‘n paar bure môremiddag daar saamkom. Sal jy met hulle praat?”

“Waaroor moet ek praat?” het ek gevra. “Oor Jesus Christus,” het hy op ‘n duidelike en besliste manier gesê, “en oor sy verlossing. Is dit nie die beste tema nie? Dan wil ek hê dat julle ‘n paar liedere moet sing. Jy kan op jou klein instrument begelei, nie waar nie?” Ek sal nooit sy helder gesigsuitdrukking vergeet toe hy dit gesê het nie, en hy het ook bygevoeg: “As julle die byeenkoms drie-uur die middag hou, sal my venster oop wees en julle kan weet dat ek ook sal saamsing.”

Dr. Oswald Smith het soos volg op hierdie gebeurtenis kommentaar gelewer: “Was daar ooit ‘n meer dramatiese toneel? Die hart van ‘n tragedie word hier aan ons geopenbaar! Darwin, ‘n entoesias vir die Bybel, wat van die grootsheid van die Boek praat, herinner ons ook aan die moderne evolusionêre ontwikkeling in die teologie met sy skeptiese kritiek waardeur die Bybelse geloof van miljoene mense vernietig is. Darwin, met ‘n uitdrukking van pyn op sy gesig, bejammer dit deur te sê: ‘Ek was jonk en het onvaste idees gehad.’ Wat ‘n oorweldigende kritiek! Die onvaste idees van die jongman, Darwin, is die grondslag van die moderne teologie!”

Darwin het die duisternis van geestelike misleiding ontvlug toe daar nog tyd was om hom daarvan te bekeer!

Die sterfbed van David Hume

David Hume, die deïstiese filosoof en historikus, het ‘n boek, Natural Religion, gepubliseer waarin hy tot groot uiterstes gegaan het om die Christendom in diskrediet te bring. Hy het baie van sy tyd in Frankryk deurgebring, waar daar talle geesgenote was wat net so verdorwe en vuil soos hy was. Hy het op 65-jarige ouderdom in Edinburg gesterf. In sy boek, Die Christendom en Ongeloof, beskryf E.P. Goodwin hom as oneerlik, onbetaamlik en ‘n voorstander van immoraliteit.

‘n Huishoudster van David Hume beskryf die laaste dae voor sy dood: “Wanneer mnr. Hume se vriende by hom was, was hy opgewek en het hom nie oor sy naderende lot bekommer nie. Wanneer hy alleen was, was dit egter ‘n heel ander storie – dan was hy glad nie kalm en bedaard nie. Sy geestelike ontsteltenis en wroegings was só groot dat die hele bed geskud het. Hy wou nie toelaat dat die kerse snags uitgeblaas word nie, en wou ook nie vir ‘n minuut lank alleen wees nie. Ek moes altyd die klokkie lui sodat een van die ander bediendes kon inkom voordat hy my toegelaat het om te gaan. Hy het onrustig geslaap en was nog meer onrustig wanneer hy wakker was. Die selfverwyt en vrees op sy gesig het voortgeduur en ook toegeneem totdat hy sy bewussyn verloor het. Hy was sonder God en sonder hoop.

Michelangelo

In ‘n kort testament het dié groot Italiaanse skilder en beeldhouer gesê: “Ek gee my siel aan God oor, my liggaam aan die aarde en my besittings aan my naaste familie. Ek sterf in die geloof in Jesus Christus en in die vaste hoop op ‘n beter lewe.” Sy laaste woorde was: “Onthou die lyding van Jesus dwarsdeur jou lewe.”

‘n Maklike pad na die hel

‘n Spiritis se man was ernstig siek. Hy het die Christendom só gehaat dat hy vooraf gevra het dat sy liggaam nie vir ‘n begrafnisdiens na ‘n kerk toe geneem moes word nie, en dat geen predikant gevra moes word om hom te begrawe nie. Sy vrou het gesien dat hy in sy gees ontsteld was, en hom probeer troos deur te sê dat sy gees sou terugkeer en dat hulle met mekaar sou kommunikeer soos nou. Dit het egter aan hom geen vertroosting in sy uur van benoudheid gebring nie. Met ‘n uitdrukking van wanhoop in sy oë het hy gesê: “Ek sien ‘n groot en hoë muur wat rondom my opgaan en ek vind nou uit, wanneer dit té laat is, dat dit makliker is om in die hel te beland as om daaruit te kom!” Kort daarna het sy gees hom verlaat om die loon van goddeloosheid te ontvang.

Skoonheid van die hemel

‘n Jong sendeling, David Appleby, het op sy sterfbed ervaar hoedat hy uit die hemel geroep word om daarheen te kom. Hy het die onbeskryflike skoonheid van die hemel aanskou en gesê: “Ek het nie geweet dit is só mooi nie. Dit is wel met my siel!”

Wonderlike gesig van die goue poorte

Toe die tien-jarige Lillian Lee sterwende was, het sy vir haar pa gesê: “O pappa, wat ‘n wonderlike gesig! Die goue poorte is oop en ‘n skare kinders kom daaruit. Hulle is so baie!” Later het sy gesê: “Hulle hardloop na my toe en begin om my te soen en met ‘n nuwe naam te noem. Ek kan nie onthou wat dit was nie.” Sy het weer opgekyk boontoe en haar stem het tot ‘n fluistering versag terwyl sy gesê het: “Ja, ja, ek kom, ek kom.”

O, ek het dit uiteindelik gemis!

‘n Tyd gelede het ‘n dokter ‘n jongman besoek wat ernstig siek was. Nadat hy hom ondersoek het, het hy aan hom gesê dat hy net ‘n kort tydjie gehad het om te lewe. Die jongman was verbaas. Hy het vergeet dat die dood dikwels in ‘n uur kom wanneer jy dit nie verwag nie. Ná ‘n tyd het hy in die dokter se gesig opgekyk en met ‘n uitdrukking van wanhoop gesê: “Ek het dit uiteindelik gemis!”

“Wat het jy gemis?” het die vriendelike geneesheer gevra. “Dokter, ek het die redding van my siel gemis,” het die jongman geantwoord. “Moenie so sê nie – dit is nie so nie. Onthou jy nie die rower aan die kruis nie?” het die dokter gesê. “Ja, ek onthou die rower aan die kruis. Hy het egter nooit die Heilige Gees weggewys nie, maar ek het vir Hom gesê: ‘Gaan weg’ en nou sê Hy vir my ook: ‘Gaan weg!’”

Met leë, starende oë het die jongman gesê: “’n Tyd gelede het ek geestelik ontwaak en was in benoudheid oor my siel, maar ek wou nie toe gered word nie. Dit was asof iets vir my gesê het: ‘Moet dit nie uitstel nie, maak seker van jou redding.’ Ek het myself hierteen verhard en gesê: ‘Ek sal dit uitstel.’ Ek weet ek moes dit nie gedoen het nie. Ek was ‘n groot sondaar wat ‘n Verlosser dringend nodig gehad het. Ek het egter besluit om die saak vir die huidige te ignoreer en op ‘n later, meer geleë tyd daaraan aandag te gee. Ek het met die Heilige Gees geknibbel en Hom in die proses weerstaan en beledig. Ek het nooit gedink dat ek in hierdie toestand sou beland nie. Ek wou nog van my redding seker maak, maar nou het ek dit gemis!”

“Onthou,” het die dokter gesê, “dat daar sommige was wat in die elfde uur ingekom het.” Ook dit het geen vertroosting aan hom gebied nie: “My elfde uur was toe die Heilige Gees my geroep het. Ek het daarna geen roepstem gehoor nie en sal ook nooit weer een kry nie. Ek is oorgelewer om verlore te gaan. O, ek het dit gemis! Ek het my siel vir niks verkoop nie, vir ‘n veertjie en ‘n strooihalm. Ek is nou vir altyd verlore!” Daarna het hy sy kop in die kussing toegevou en opnuut met verskrikking en selfverwyt uitgeroep: “O, ek het dit uiteindelik gemis!” en daarna gesterf.

Nou is die gunstige tyd om gered te word! “Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie” (Heb. 3:7-8).

Die ondervinding van ‘n gelowige jongman

Augustus Toplady het op 38-jarige leeftyd in Londen gesterf. Hy was die outeur van hierdie onsterflike woorde:

            Ewige Rots geklief vir my,

            Laat my veilig in U bly!

            Laat die water en die bloed,

            Uit u sy as lewensvloed,

            My tot heil wees en tot krag,

            Teen die sondeskuld en mag!

Hy het alle rede gehad om na ‘n aangename lewe uit te sien, en tóg het hy in sy siel blydskap ervaar toe die dood nader kom: “Siekte is geen beproewing nie, pyn is nie ‘n vloek nie, die dood is nie die einde van my lewe nie, want my siel verlang om heen te gaan – hy is soos ‘n voël wat in ‘n hok opgesluit is en verlang om te vlieg. As ek vlerke soos ‘n duif gehad het, sou ek na God toe gevlieg en altyd by Hom gebly het.

Omtrent ‘n uur voordat hy dood is, het hy uit ‘n sagte sluimering ontwaak. “O, watter heerlikheid! Wie kan die vreugde van die hemel peil? Hoe is ek nie deur helder sonskyn omring nie! Ek het nie woorde om dit mee uit te druk nie. Ek weet dit is nou nie meer lank voordat my Verlosser my kom haal nie. Hy het soveel wonderlike dinge aan my siel geopenbaar! Alles is lig, lig, lig – die helder skynsel van God se heerlikheid! O, kom Here Jesus, kom gou!”

Hy het sy oë toegemaak, sy gees is weg om by Christus te wees, en sy liggaam het ontslaap om saam met ander wat hierdie kosbare geloof het, opgewek te word. Dan sal die Here Jesus uit die hemel geopenbaar word “om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo” (2 Thess. 1:10).

Kom op hierheen!

Toe Clement Brown op die punt was om te sterf, het hy met sy vinger gewys en gesê: “Ek sien een, twee, drie, vier, vyf engele wat hulle sending afwag. Ek sien hulle so duidelik as wat ek jou sien, Hester. Hoe wens ek nie dat jy hulle ook kon sien nie! Hulle is in skitterende wit geklee. Hulle wink vir my om te kom, en Jesus roep my ook.”

Dood van ‘n ryk man

‘n Sekere ryk man het sy lewe daaraan gewy om ‘n groot rykdom op te bou, sonder om enige aandag aan die redding van sy siel te gee. Op sy sterfbed het sy rykdom geen vreugde aan hom gebring nie. Groot benoudheid het oor hom gekom toe die besef tot hom deurgedring het dat hy die rykdom ten koste van sy siel versamel het. In sy sterwende toestand het hy sy swaer gevra om vir hom te kom bid. Hy het hard en ernstig om genade vir die ryk man tot die Here geroep, maar die ryk man se verharde, materialistiese hart is geensins deur die gebed beweeg nie. Hy wou genade hê maar kon dit nie vind nie.

‘n Rukkie later het sy seun in die kamer gekom en gesê: “Vader, watter reëlings wil u hê moet ons in verband met u besittings tref?” Die sterwende man het geantwoord: “Ek het my hele lewe gegee om besittings en geld te verkry, maar ek kan nie eers een dollar saam met my neem nie. Besittings help my niks nie – ek het genade nodig!” Terwyl hy om genade tot God geroep het, het hy gesterf, maar hy het geen aanduiding gegee dat hy dit verkry het nie.

“Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is” (Jes. 55:6). “Dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie” (Pred. 12:1). “Hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam het?” (Heb. 2:3).

Reik die hand na God se koninkryk

‘n Voormalige goewerneur van Massachusetts, John Brooks, het die volgende op sy sterfbed gesê: “Ek sien geen verskrikking in die dood nie. Ek het geen vrees as ek na die toekoms kyk nie, want ek weet in wie ek glo. Ek kyk met nederigheid terug op my lewe omdat ek van al my swakhede en onvolmaaktheid bewus is, maar nou rus my siel op die genade van my Skepper deur die enigste Middelaar, sy Seun, ons Here Jesus Christus. O, watter rede vir hoop is daar nie in die volgende woorde van die apostel nie: “God het in Christus die wêreld met Homself versoen deur hulle misdade nie toe te reken nie” (2 Kor. 5:19). Hy het sy hand uitgesteek en toe hy gevra is waarheen hy reik, het hy in ‘n fluisterstem gesê: “Na ‘n koninkryk,” en gesterf.

‘n Gesig van die Heilige Stad

Carrie Carmen was kort voor die oomblik van haar dood by haar volle bewussyn. Sy het skielik opgekyk na waar sy engele, ontslape heiliges en die Heilige Stad gesien het. Sy het in verwondering uitgeroep: “Wonderlik! wonderlik! wonderlik! O, die engele is so wonderlik en hulle sing mooier as enigiets wat ek ooit gehoor het... Ek sien die Heilige Stad wat met ‘n meetroede gemeet is, waarvan die lengte, die breedte en die hoogte gelyk is, en die bopunt daarvan reik tot in die lugruim. Dit is so wonderlik, ek kan die skoonheid daarvan nie beskryf nie.”

Daarna het sy gesê: “Ek moet deur die vallei van doodskaduwee gaan.” Sy het ook van die eensaamheid van haar man gepraat en gebid dat hy krag sal ontvang om sy verlies te kan dra, en dat hy ook krag sal ontvang om uit te gaan en siele vir die Here te wen. Die paartjie was besig om vir ‘n voltydse bediening voor te berei. Sy het ook vir haar ouers gebid en die Here gevra dat hulle almal in daardie wonderlike stad verenig sal word sonder dat een vermis word.

Carry het weer haar oë opgehef en gesê: “O, dra my van hierdie bed af weg.” Haar man het gedink dat sy in ‘n ander bed wou lê, maar haar pa het gesê: “Sy praat met die engele.” Toe sy gevra is of dit so was, het sy gesê: “Ja.”

Hierna het sy die dokter vir sy goedheid bedank en hom gevra om haar weer in die hemel te ontmoet. Sy het haar oë toegemaak en haar man het haar saggies gesoen. Sy het nie veel meer gesê nie en net vir haarself en haar vriende gebid. Sy het dikwels met ‘n glimlag opgekyk asof sy iets baie wonderlik sien.

Ek is in die vlamme – trek my uit, trek my uit!

‘n Uitgesproke agnostikus het in die ouderdom van 74 in New York gesterf. Hy was in sekere opsigte ‘n goeie buurman, maar hy was ‘n bose man en het met die Christendom gespot. Omtrent sewe jaar voor sy dood het hy ‘n herlewingsdiens bygewoon. Die Heilige Gees het hom van sy behoefte aan redding oortuig, maar hy het dit aanhoudend weerstaan. Die Sondag hierna was ‘n plaaslike lekeprediker op pad kerk toe en het die man by sy tuinhekkie aangetref. Hy het hom genooi om saam met hom kerk toe te gaan. Die agnostikus het sy hand na die prediker uitgestrek en gesê: “Wys my ‘n haar op die palm van my hand en ek sal jou ‘n Christen wys.”

Toe die agnostikus die siekte opgedoen het waaraan hy sou sterf, het die prediker hom dikwels besoek en was ook by hom die dag toe hy gesterf het. Hy was van sy naderende einde bewus en nou, toe dit té laat was, ook van die verskrikking van sy verlore toestand. Hy het aan die prediker gesê: “Waarsku die wêreld om nie soos ek te leef nie en hulleself my smarte te spaar.” Toe die dokter hom besoek het, het hy gekreun en tekens van groot lyding gegee. Die dokter het hom gevra waarom hy so kreun aangesien sy siekte nie pynlik was nie. “Dokter, dit is nie die liggaam wat my pynig nie, maar die siel.”

Op die aand van sy dood het die prediker hom weer besoek en ‘n bose teenwoordigheid in die kamer aangevoel – dit was asof hy in die omgewing van die verdoemdes was. Die sterwende man het uitgeroep: “O God, verlos my uit hierdie verskriklike put!” Omtrent 15 minute later het hy weer uitgeroep: “Ek is in die vlamme – trek my uit, trek my uit!” Hy het hierdie uitroep aanhoudend herhaal totdat die woorde op sy lippe weggesterf en sy krag hom verlaat het. Die prediker het sy oor naby gehou om die man se laaste fluistering te hoor. Hy het gesê: “Trek my uit – trek my uit!”

“Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele... En hulle sal weggaan in die ewige straf... daar sal geween wees en gekners van die tande” (Matt. 25:41,46,30).

My hart is so hard!

‘n Sekere boer wat tuberkulose gekry het, was ‘n baie bose man wat sy hele lewe daaraan gewy het om aardse rykdom te versamel. Die leraar van die plaaslike Metodiste-gemeente het gehuiwer om hom te besoek omdat hy so goddeloos en vyandig teenoor die evangelie was. Hy het gesê: “Ek sal wag totdat hy sterwende is en hoop dat hy dan sal luister as ek met hom oor sy siel praat.” Hy het dit ook gedoen.

Die siek man se gemoed was donker en vol ongeloof. Die leraar het ernstig oor die redding van sy siel met hom gepraat en by hom aangedring om in die naam van Jesus vir genade tot God te roep. “Ek kan dit nie doen nie,” het hy uitgeroep. “Ek het nooit die naam van Jesus gebruik nie, behalwe wanneer ek dit ydellik gebruik het, en dit het ek deur die jare heen dikwels gedoen. Ek het Christus my lewe lank soos ‘n hond behandel en Hy sal nie nou na my luister nie. Ek sou al my besittings gee om te kan voel soos wat jy voel.”

Die leraar het aan hom gesê dat God nie ‘n aannemer van die persoon is nie, en dat Hy niemand sal wegwys wat vir vergifnis na Hom toe kom nie. Die man het geantwoord: “Ek kan nie enige gevoel kry nie. Wat kan ek doen? My hart is so hard.” Hy was bang om sonder geloof in God te sterf, maar het net nie die vermoë gehad om hom te bekeer nie. Hy het groot skatte op aarde gehad, maar dit het hom niks gebaat toe hy die ewigheid in die gesig gestaar het nie.

Leser, hoe behandel jy dié Christus van wie jy afhanklik is om jou siel te red?

Dit is té laat!

‘n Jongman wat ‘n bose en sondige lewe gelei het, het by misdaad betrokke geraak en in die tronk geëindig. Sy gesondheid is deur alkohol vernietig en sy moeder het hom kort voor sy dood in die tronk se hospitaal besoek. Sy het mooi met hom gepraat, maar hy het uitgeroep: “Dit is té laat! Dit is té laat! Ek doen vir jou die enigste guns wat ek ooit gedoen het, moeder, want ek sterf nou en dan hoef jy nie meer jou hart oor my te breek nie. Dit was nie jou skuld nie, dit was die vervloekte drank wat my lewe verwoes en my hier uitgebring het. Nou is ek aan moord skuldig, maar ek sal die familie die verleentheid van teregstelling spaar.” Daarna het hy sy kop neergelê en gesterf.

“Die loon van die sonde is die dood” (Rom. 6:23).

Ek is mislei

Oliver Cromwell het gesê: “Die duiwel probeer om almal van ons te mislei, en ek is mislei.”

Ere aan God en die Lam vir ewig!

Ann Cutler was ‘n ernstige persoon met hoë morele standaarde, maar sy het nie die wyse van redding deur geloof in die Here Jesus verstaan nie. Op die ouderdom van 26 het sy gehoor hoedat ‘n Metodiste-predikant die weg van verlossing verduidelik. Sy was van haar sonde oortuig en het haarself daaraan toegewy om genade vir vergifnis te verkry. Kort daarna is sy verlos en haar nuwe lewe het van die seën getuig wat sy ontvang het.

Hoewel Ann haar sekerheid van vergifnis behou het, het sy aanvanklik nie aandag aan die behoefte vir volmaakte liefde gegee nie. Nadat sy van die opdrag tot heiligmaking as ‘n tweede genadewerk ná bekering bewus geword het, en die feit aanvaar het dat dit ook deur die geloof verkry kon word, het sy vir krag gebid om dit te kon glo en aanneem. Haar vertroue het toegeneem totdat sy met oortuiging kon sê: “Here Jesus, U sal my van alle ongeregtigheid reinig.”

Nadat sy hierdie seën ontvang het, het sy ‘n nederige persoon geword wat haar vertroue volkome in die Here alleen gestel het. Sy het in gebed gesê: “Jesus, U weet ek het U met my hele hart lief. Ek sal eerder sterf as om die Heilige Gees te bedroef. Ek kan nie in woorde uitdruk hoe baie ek U liefhet nie!” Almal kon die beeld van Christus in haar sien. Sy het haarself gees, siel en liggaam aan die Here gewy en een van John Wesley se werkers geword in wie hy groot vertroue gehad het.

Kort voor haar dood het Ann gesê: “Ek gaan sterf en Jesus gaan my na Hom toe neem. Ek sal my kroon in liefde en aanbidding voor Hom neerlê. Ere aan God en die Lam vir ewig!”

Hulle trek my af!

‘n Jong dame wat diep onder die oortuiging van haar sonde was, het ‘n herlewingsdiens verlaat om aan ‘n dans deel te neem wat deur booswigte gereël is in ‘n poging om die diens te ontwrig en op te breek. Sy het tydens die dans ‘n ernstige koue opgedoen en was nie lank daarna nie op haar sterfbed. Toe ‘n predikant haar besoek het, het sy hom sterk teëgestaan en gesê: “Mnr. Rice, ek sê vir u baie reguit dat ek nie ‘n Christen wil wees nie. Ek sal liewer na die hel as na die hemel toe gaan.” Die prediker het geantwoord: “Jy wil tog sekerlik nie hel toe gaan nie, Jennie?” Iets in haar binneste het gebreek en sy het gesê:

“Nee, mnr. Rice. Ek wens ek was nooit gebore nie! Ek verduur nou die smarte van die verlorenes. As ek maar net van God af kan wegkom, maar ek kan nie – ek is altyd van Hom bewus. O, ek haat Hom, ek kan nie anders nie! Ek het sy Gees van my af weggedryf toe Hy my met sy liefde wou vul, en nou is ek onder die beheer van my eie bose natuur – oorgelewer aan die duiwel vir my ewige verderf. My smarte is onuitspreeklik! Hoe sal ek die eindelose eeue van die ewigheid kan verduur? O, die verskriklike gedagte van die ewigheid!”

Mnr. Rice het haar gevra waar haar groot probleem begin het. “Dit was daardie Vrydagaand laas winter toe ek geweier het om die diens by te woon en liewer te gaan dans. Ek het die Heilige Gees met alle mag van my af verdryf. Ek het toe die gevoel gekry dat Hy my vir ewig verlaat het. Ek weet ek het iets verskriklik gedoen, maar dit is gedoen. Van daardie dag af het ek geen begeerte gehad om ‘n Christen te wees nie, en ek het steeds dieper in ‘n kuil van duisternis en wanhoop weggesink. Nou is alles rondom my ondeurdringbare wolke van duisternis. Wat ‘n verskrikking!” Sy het mnr. Rice weggestuur en hom gevra om nie vir haar te bid nie, want sy wil nie geestelik deur die geklank van gebed aangekla en gefolter word nie.

Daardie aand het sy mnr. Rice geroep en vir hom gesê: “Ek wil hê u moet by my begrafnis preek. Waarsku al my jong vriende en vertel hulle alles wat ek vir u gesê het. Kort daarna het sy in doodsangs uitgeroep: “O, red my, hulle trek my af! Verlore! verlore! verlore! Bind my, o kettings van duisternis.”

‘n Sterwende man se berou

‘n Predikant het by geleentheid vir ‘n sterwende man gesê: “Sou jy anders geleef het indien die Here jou gesondheid sou herstel?” Die man het vasberade gesê: “Ek sou myself vir heiligheid beywer. Die rykdom en plesier van die wêreld sou ek as drek beskou. O, as die regverdige Regter my lewe net ‘n bietjie langer sou spaar, sou ek elke genademiddel gebruik om in heiligheid te groei en geestelik te ontwikkel. Dit sou vir my kosbaarder as al die goud en silwer van die wêreld wees. Maar, waarom amuseer ek myself met verbeeldingsvlugte? Die beste voornemens is nou betekenisloos want hulle is té laat!

Dit was die diepe besorgdheid van iemand wat begin het om in die lig van die ewigheid na die lewe te kyk. Ons staan op die klein molshope van ons aardse lewe, en kan nie van hier af ‘n duidelike beeld van daardie ander wêreld kry nie. Hoe moet dit wees om op die top van die donker berg van die dood te staan en na ons omgewing te kyk? As engele ons nie oplig en na die hemel daarbo wegvoer nie, moet ons ‘n sprong neem na die ewige duisternis daaronder.

Dit is al wat ek kan begeer

Aan die einde van sy lewe het Samuel Pierce gesê: “Geseënd is die naam van Hom wat sy bloed vir my gestort het! Ek besef nou ten volle die waarde van die evangelie van die kruis. Dit is die godsdiens vir ‘n sterwende sondaar. Dit is al wat die skuldigste en ellendigste persoon kan begeer.

Benoud in sy siel

‘n Agnostiese prokureur, Clarence Darrow, het ‘n groot benoudheid in sy siel ervaar toe hy op sy sterfbed gelê het. “Kry vir my drie predikante,” het Darrow aan sy klerk gesê. Toe die predikante aangekom het, het Darrow, wat ‘n openbare bespotting van ‘n Bybelse geloof gemaak het, gesê: “Menere, ek het in my lewe baie dinge teen God en teen kerke gesê en geskryf. Ek wens dat ek dit nooit gedoen het nie, want ek besef nou dat dit baie moontlik is dat ek verkeerd was. Ek wil dus ‘n laaste guns vra, dat elkeen van julle by die Almagtige vir my sal intree.” Die predikante het daarna vir Clarence Darrow gebid, en ‘n mens kan maar net hoop dat hy self ook die sondaarsgebed gebid het.

‘n Smartlike dood

William Pope was vroeër in sy lewe ‘n oënskynlik geredde en gelukkige man wat ook ‘n lid van ‘n evangeliese gemeente was. Sy vrou, wat ‘n toegewyde Christen was, het oorwinnend gesterf. Ná haar dood het sy ywer vir godsdiens afgeneem. Hy het met teruggevalle huigelaars geassosieer en die weg van geestelike veragtering en ondergang bewandel. Sy vriende het selfs geglo dat duiwels gered kon word. William het hulle bewonder, kroeë saam met hulle besoek en ‘n volslae dronkaard geword. Hy het uiteindelik ‘n dissipel van Thomas Paine geword en met deïste geassosieer. Hulle het op Sondae byeengekom om in hulle ongeloof te roem. Hulle het selfs Bybels op die vloer rondgeskop en dit onder hulle voete vertrap.

William het ernstig siek geword aan tuberkulose. Mnr. Rhodes het hom besoek en hom tot bekering opgeroep deur sy vertroue in die magtige Verlosser te stel. Hy het ook vir hom gebid. Die aand het mnr. Rhodes teruggekeer en William in die uiterste nood aangetref, oorweldig deur sielswroeging en wanhoop. Hy het hom probeer bemoedig deur verskeie gevalle te noem waarin die Here die grootste sondaars gered het. Sy antwoord was: “Nie een van die gevalle wat u genoem het, kan met myne vergelyk word nie. Ek het geen berou nie en ek kan nie tot bekering kom nie. God sal my verdoem en ek weet dat genadetyd vir my verby is.”

Mnr. Rhodes het hom gevra of hy enigiets van die genade en liefde van God af weet. “O ja,” het hy gesê, “baie jare gelede het ek waarlik tot bekering gekom en vrede en blydskap in die Here gevind. Ek het egter my rug op Hom gedraai en met Hom gespot, en nou is ek vir altyd verdoem! Ek weet dat genadetyd vir my verby is en nooit weer sal terugkeer nie! Ek kan nie bid nie want my hart is baie hard. Ek het ook geen begeerte om enige seëninge van die Here af te ontvang nie.” Hy het uitgeroep: “O, die hel, die pyniging, die vuur wat ek binne-in my voel! Om vir ewig saam met duiwels en verdoemde siele in die brandende hel gefolter te word, en dit is my verdiende loon!”

William het dikwels die redes vir sy verdoemenis hardop herhaal: “Ek het die Seun van God opnuut gekruisig en die bloed van die testament onrein geag! O, daardie bose en verskriklike daad van laster teen die Heilige Gees wat ek weet dat ek gedoen het... Ek wil niks anders as die hel hê nie! Kom, duiwel, en vat my!” Hy het ook gesê: “Daar was ‘n tyd toe ek gered kon word, maar ek wou nie; nou wil ek, maar ek kan nie!” Hy het sonder God gesterf.

Sy lewe is gespaar

‘n Ateïs het siek geword en vinnig agteruitgegaan. Christen-kennisse van hom het ernstig gebid dat hy in sy hart ‘n behoefte aan die Verlosser sou ervaar, maar hy het hulle afgejak. Een van hulle het hom besoek en aan hom verduidelik hoe belangrik dit is om voor te berei om God te ontmoet. Hy het dit verwerp met die woorde dat daar nie ‘n God is nie, dat die Bybel ‘n fabel is en dat die dood ‘n einde aan ‘n mens se bestaan bring. Hy wou nie eers toelaat dat die persoon vir hom ‘n gebed doen nie.

‘n Maand later het die dokters aan hom gesê dat hy nog net ‘n uur, of op die meeste twee ure, sou leef. Een van die Christene het hom direk ná hierdie slegte nuus besoek. Daar was pyn op sy gesig toe hy uitgeroep het: “Ek is nie gereed om te sterf nie! Daar is ‘n God en die Bybel is waar! O, bid vir my! Vra die Here om my lewe te spaar en my net nog ‘n paar dae te gee sodat ek gered kan word!” Die vriend het hom verseker dat Jesus ‘n magtige Verlosser is wat in staat én gewillig is om hom in die elfde uur van sy lewe te red, soos wat Hy ook met die rower aan die kruis gedoen het – hy moet net na Hom toe kom. Verskeie ander Christene het saam gebid dat die Here die man se lewe ‘n paar dae lank sou spaar sodat hy gered kon word.

Daardie aand was die man reeds sterker as die oggend. Hy het sy saak met die Here reggemaak en die blydskap van vergifnis in sy hart ontvang. Die volgende oggend toe sy vriend ingekom het, was dit dadelik op die man se gesig te sien dat vrede en blydskap die plek van vrees en benoudheid ingeneem het. Sy lewe is vyf dae lank gespaar, en hy het duidelike getuienis gelewer dat hy weergebore was en uit die dood na die lewe oorgegaan het. Die dokters kon nie verstaan waarom hy so lank bly lewe het nie, maar die Christene het geweet dat dit in antwoord op gebed was.

Niks om aan vas te hou nie

‘n Dokter in Pennsylvania het ‘n boek oor agnostisisme aan een van sy pasiënte gegee en hom oorreed om Christus te verloën. Toe hierdie man omtrent 50 jaar oud was, het hy gesterf. Die ongelowige dokter het aan hom gesê dat hy moes sterf soos wat hy geleef het – ‘n verwerper van God en van Christus. “Hou net hieraan vas,” het die dokter hom aangemoedig. “Dit is juis my probleem,” het die sterwende man gesê, u het my niks gegee om aan vas te hou nie.” Die dokter het hom nie geantwoord nie.

Geregverdig deur die geloof

Alan Williams het die volgende geskryf: “My ma was ‘n vormgodsdienstige kerklidmaat wat haar lewe lank in vrees vir die dood geleef het (Heb. 2:15). Ek het ook aan die kerk behoort, maar was jare lank ‘n alkoholis en vir sewe jaar van al my familielede vervreem. In hierdie tyd is my ma dood. Voor haar dood is sy egter geregverdig deur die geloof in ons Here Jesus Christus en het vrede met God gemaak. Sy het die volgende boodskap vir my nagelaat: “Sê vir Alan dat ek nog in hom glo.” Drie jaar later het Jesus Christus, God se geliefde Seun, my siel gered, my van alkohol vrygemaak, en ek is waarlik vry (Joh. 8:36). As ‘n kind van die Here, vir sewe jaar nou al, het die Heilige Gees my gelei om ‘n getuie vir die Here Jesus te wees.

Die Here het my op ‘n dag gelei om ‘n poskaart aan ‘n jarelange kerklidmaat te stuur wat op sy sterfbed gelê het. Hy was ongered. Ek het aan hom geskryf dat die krag en sterkte van die Here Jesus tot ons beskikking is. Ons moet onsself ten volle aan Hom oorgee voordat ons die blydskap van die Heilige Gees sal ervaar. Die Gees het hom hiervan oortuig en hy is gered. Kort voor sy dood het hy aan my ‘n boodskap gestuur: “Sê vir Alan dat alles nou reg is. Ek glo en verstaan dit alles.” Hy het sy eerste glimlag van ware blydskap gegee en kort daarna gesterf.

Gereinig deur die bloed van Christus

‘n Duitse Christendame was op haar sterfbed toe vriende aan haar gesê het dat die Here haar sou help. “Ja, in die hemel in,” het sy geantwoord. Die volgende was die laaste woorde wat sy gefluister het: “Die bloed van Jesus Christus reinig van alle sonde! O, soet woorde van ewige lewe!”

 ‘n Kykie in die ewigheid

Mev. Barnes se bekering is deur die dood van haar dogtertjie meegebring. Sy sê: “My klein dogtertjie, May, was maar agt jaar oud toe sy ‘n ernstige koors gekry het en vier dae later dood is. Tydens haar kort siekbed het sy gesê dat sy geen liggaamlike lyding het nie, maar dat sy hemel toe wou gaan. Sy het dit dikwels gesê. Kort voor die einde het sy die Onse Vader opgesê, almal hartlik bedank vir wat hulle vir haar gedoen het, en gevra dat ons nie oor haar bekommerd moes wees nie. Skielik het sy opgekyk en gesê: ‘Ek dank U, liewe Jesus. Liewe Jesus, ek dank U.’ Hierna het sy ‘n paar mooi liedere gesing. Sy het weer opgekyk en gesê: ‘O Here, my sterkte en my Verlosser.’ Met ‘n uitdrukking van vrede en blydskap op haar gesig het sy haarself opgerig en gesê: ‘O!’ toe was sy weg. Dit was duidelik dat sy iets gesien het wat ons oë nie kon sien nie.

Die duiwel trek my af

‘n Meisie het baie siek geword en is meegedeel dat sy nie sou lewe nie. Haar ouers het haar grootgemaak om die modes en maniere van die wêreld na te volg, en dit het haar voetstappe weg van die Here af gerig. Nou was sy sterwende, omring deur haar jong vriende saam met wie sy sonde gedoen en die duiwel gedien het. Die ellendige meisie het haar vader na die bed toe geroep en voor almal aan hom gesê: “Jou hart is net so swart soos die hel. As jy my geleer het om vir die Here te leef, eerder as om jou tyd te vermors deur met ma te stry en te baklei, kon ek dalk gered geword het.” Toe wend sy haar tot die ander en sê vir hulle: “Moenie my goddelose voorbeeld navolg nie. Moenie julleself aan die sondige plesier van die wêreld oorgee nie! O, as ek maar op die waarskuwings ag geslaan het...” Toe roep sy skielik uit: “Die duiwel kom om my siel af te trek na die hel toe! Ek is vir ewig verlore!” Toe sterf sy.

Die ondraaglike lyding van die hel

Die groot waarhede van die evangelie is vroeg in sy lewe aan sir Francis Newport geleer. Toe hy nog ‘n jong man was, is daar gehoop dat hy ‘n groot aanwins en seën vir sy familie én vir die hele volk sou wees. Die werklikheid was egter heel anders. Hy het in slegte geselskap beland wat sy morele beginsels ondermyn en ook van hom ‘n uitgesproke agnostikus gemaak het. Sy losbandige lewe het na ‘n ongeneeslike siekte gelei.

Toe hy besef het dat hy sou sterf, het hy uitgeroep: “Waarvandaan kom hierdie stryd in my hart? Watter argumente kan my nou teen die feitelike werklikhede help? Sê ek nog steeds dat daar nie ‘n hel is nie, terwyl daar een in my binneste brand? Is ek seker dat daar geen straf ná die dood is nie, terwyl ek al die oordeel aanvoel? Bevestig ek dat my siel net so sterflik as my liggaam is, terwyl die liggaam wegkwyn en my siel nog net so lewenskragtig soos altyd is? Ellendeling wat ek is, waarheen sal ek vlug van die pyn binne-in my? Wat gaan van my word?”

Hy het voortgegaan: “Waarom het God my as ‘n voorbeeld van sy wraak gekies, eerder as een van my vriende? Ek neem aan dit is omdat ek ‘n Christelike opvoeding gehad het en dus groter smaad vir die Gees van genade gebring het. Ek sal vir ewig in die vlamme van die hel moet ly.”

Sommige van sy vriende het gedink dat hy kranksinnig is. Aan hulle het hy gesê: “Julle meen dat ek swartgallig en versteurd is. Ek wens ek was, maar dit is deel van my vreeslike oordeel dat ek nie so is nie. My waarnemingsvermoë van persone en dinge is net so skerp as wat dit was toe ek volkome gesond was. Dit is die vloek wat op my rus, omdat ek soveel te meer van my toestand bewus is. Weet julle waarom ek in drie of vier dae ‘n geraamte geword het? Dit is omdat ek my Maker en Verlosser verloën het. Ek het myself by die ateïs en die goddelose gevoeg en ten spyte van my beterwete op hierdie pad voortgegaan totdat ek vir die straf ryp was. Die regverdige oordeel van God het my ingehaal toe ek gemeen het dat ek veilig was en my gewete my nie regtig aankla nie.”

Toe sy geestelike benoudheid en liggaamlike siekte hom tot op die rand van die ewigheid gedryf het, het iemand hom gevra of daar nie vir hom ‘n gebed gedoen kon word nie. Hy het sy gesig weggedraai en uitgeroep: “Tiere en monsters! Het julle ook duiwels geword om my verder te treiter? Wil julle aan my die hoop op die hemel bied net om my hel meer ondraaglik te maak?” Kort hierna het sy stem ingegee, en met ‘n kreun van onuitspreeklike verskrikking het hy gesê: “O, die ondraaglike lyding van die hel!” Daarna was hy weg.

Jesus leef en ek sal ook leef

Merritt Caldwell was ‘n begaafde dosent en skrywer. Kort voor sy dood het hy aan sy vrou gesê: “Ek hoop nie jy sal op jou bed gaan lê en huil as ek sterf nie. Omdat die Here so goed vir my was, moet jy nie oor my treur nie. Wanneer jy my graf besoek, moenie in die aandskaduwee of in die donkerte van die nag gaan nie – dit is nie wanneer mens die graf van ‘n Christen besoek nie – maar kom in die oggend, in die helder sonskyn wanneer die voëltjies sing.” Sy laaste woorde was: “Ere aan Jesus! Hy is my vertroue en my krag! Jesus leef en ek sal ook leef!”

Dit is volbring!

Die betekenis van die laaste woord wat Jesus Christus aan die kruis uitgespreek het voordat Hy gesterf het, stel almal wat waarlik in Hom as hulle Verlosser glo, in staat om in die vrede en oorwinning van Golgota te sterf. Byna 2 000 jaar gelede het Jesus aan die kruis uitgeroep: “Dit is volbring!” Daar is toe aan al die eise vir die redding van sondaars voldoen, en daarna moes alle mense op aarde voor die keuse gestel word om dit óf te aanvaar óf te verwerp. Om vír of téén Christus te wees, en weldra vir ewig op hierdie grondslag beoordeel te word, verg 'n duidelike begrip van Jesus se plaasvervangende dood aan die kruis vir ons. Wat is die volle betekenis van sy sterwenswoord toe Hy met 'n groot stem uitgeroep het: "Dit is volbring!"?

Jesus is aan 'n kruis vasgespyker om die straf vir die sonde van die ganse mensdom te betaal (Jes. 53:5-6). Omdat "die loon van die sonde die dood is" (Rom. 6:23), sou dit nie genoeg wees dat Hy slegs vir ons sondes ly nie – Hy móés ook in ons plek tereggestel word. Dit was eers toe Hy die doodstraf uitgedien het dat Hy aan die eise van God se plan vir die kwytskelding van sondaars voldoen het. In die laaste oomblikke toe Hy sy lewe afgelê het, het Hy gesê: "Vader, in u hande gee Ek my gees oor!" (Luk. 23:46). Direk daarna het Hy met sy laaste asem as 'n sterwenswoord uitgeroep: "Tetelestai!" – "Dit is volbring!" (Joh. 19:30).

Ten einde die betekenis van die woord tetelestai ten volle te kan begryp, sal ons kortliks na die verskillende gebruike daarvan in die eerste eeu moet kyk. Vir die mense van daardie tyd het dit veel meer gesê as vir ons vandag.

Ten volle betaal. In die eerste plek is die woord tetelestai volgens die Vocabulary of the Greek Testament as die sleutelwoord op 'n kwitansie gebruik. Dit het die betekenis gehad van ten volle betaal. Het die gedagte ooit by jou opgekom dat die Here Jesus jou gekoop het toe Hy sy bloed gestort en sy lewe vir jou afgelê het?

Paulus herinner ons daaraan wanneer hy sê: "Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort" (1 Kor. 6:20). Petrus sê: "Julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van 'n lam sonder gebrek en vlekkeloos" (1 Pet. 1:18-19). Die getuienis van die ouderlinge in die hemel bevestig die feit dat hulle ten volle daarvan bewus is dat hulle lewens deur die bloed van die Lam gekoop is: "U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie" (Op. 5:9).

Geagte leser, het jy die versekering dat jou sondes betaal is? Voldoen jy aan die vereistes van bekering en die belydenis van jou sondes ten einde vergifnis daarvoor te kan verkry? Die Bybel sê: "Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind" (Spr. 28:13; kyk ook 1 Joh. 1:8-9).

Ná ons bekering moet ons met die Here wandel en alle sondes bely waarvan die Heilige Gees ons oortuig (1 Joh. 2:1-2). Het jy vars datumstempels op jou kwitansie van kwytskelding? Moenie die nuwe lewe met 'n erfenis van vleeslike gesindhede en onbelyde sondes binnegaan nie. Dit sal jou aftrek en uiteindelik geestelik laat struikel. Die Here Jesus het die volle prys betaal om 'n volmaakte werk in jou lewe te doen. Hy wil jou red én heilig. Moet dus nie die troon van genade verlaat met verborge en onbelyde sondes in jou hart nie.

Vonnis uitgedien. Gedurende die eerste eeu was dit algemene praktyk om die klagstaat van 'n gevangene aan sy seldeur vas te spyker. Die oortredinge waarvoor hy veroordeel is, is daarop aangeteken, asook die vonnis wat hom opgelê is. Nadat hy sy tronkstraf uitgedien het, is die klagstaat van die seldeur verwyder en uitgekanselleer deur in groot letters daaroor te skryf: TETELESTAI ("Ten volle uitgedien"). Daarna is dit aan die betrokke persoon oorhandig, en niemand kon hom ooit weer vir dié oortredinge aankla nie – hy het die vonnis uitgedien en daardeur die prys vir sy misdade betaal.

In 'n geestelike sin is alle mense gevangenes van Satan, "want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God" (Rom. 3:23). Aangekla deur hulle sonde is hulle in die mag van Satan waar hulle in sy dodeselle hulle verhoor en veroordeling na die ewige poel van vuur voor die groot wit troon afwag. Die tronkbewaarder is die duiwel self, en geen persoon kan homself uit sy mag bevry en die doodstraf wat op hom wag, vryspring nie.

Om verlore sondaars te kan red, het Jesus Christus gewilliglik die doodstraf uitgedien wat in beginsel reeds oor alle sondaars uitgespreek is (Rom. 6:23). Ná sy opstanding uit die dode is Hy in 'n posisie om die klagstaat van elke verlore sondaar uit te kanselleer deur met sy bloed daaroor te skryf: Tetelestai – die vonnis is uitgedien: "En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael" (Kol. 2:13-14).

Die Verlosser is na die wêreld gestuur "om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die duisternis sit" (Jes. 42:7). Sy sending om diegene wat in die mag van Satan is, te bevry, word in Jesaja 61:1 herbevestig: "Die Gees van die Here Here is op My, omdat die Here My gesalf het om 'n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om... vir die gevangenes 'n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis."

Is al die sondes waarvoor die duiwel jou by die troon van God aangekla het, uitgewis deur die bloed van die Lam? Indien wel, dan kan niemand jou ooit weer hiervoor aankla en beskuldig nie. Dit maak nie saak hoe ernstig hierdie oortredinge was nie, want die straf daarvoor is reeds ten volle betaal. Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus jou vrygekoop het (Gal. 5:1).

Die oorwinning is behaal. 'n Derde gebruik vir die term tetelestai was in verband met suksesvolle militêre operasies teen die vyand. Wanneer 'n generaal van die slagveld af teruggekeer het, het hy van sy krygsgevangenes in Rome se strate geparadeer en sy oorwinning geproklameer deur uit te roep: Tetelestai... tetelestai... Deur hierdie uitroep van oorwinning is 'n duidelike stelling gemaak, nl.: sending volbring.

Hoewel dit Jesus se sterwenswoord aan die kruis was, het Hy sy oorwinning oor die vyand aangekondig deur uit te roep: Tetelestai! Om te sterwe was dus vir Hom 'n groot oorwinning, "sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel – en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was" (Heb. 2:14-15). Dit was 'n groot triomf oor die vyand van ons siele: "Hy [het] die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer" (Kol. 2:15).

Die Here Jesus het wél oor die vyand getriomfeer, maar Hy het hom nie uitgewis nie. Die duiwel is steeds baie aktief op aarde, daarom word ons opgeroep om deelgenote van die oorwinning op Golgota te word (Rom. 8:37).

Laat ons die meeste van die oorblywende tyd maak en dit uitkoop om die Here te dien en sy koninkryk op aarde uit te brei. Die skadu's is besig om lank te rek en die tyd loop vinnig uit. Soos Jesus, moet ons ook 'n dringendheid omtrent ons opdrag hê: "Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie" (Joh. 9:4).

Die nag van God se oordele in die groot verdrukking kom vinnig nader, en daar is nog baie onafgehandelde werk in sy koninkryk voordat die basuin blaas. Die verlorenes moet gered word en die Christene voorberei word vir die ontmoeting met die hemelse Bruidegom: "Christus het die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees" (Ef. 5:25-27).

Jesus is nie net jou Verlosser uit die dodesel van Satan nie – Hy is ook jou Heiligmaking om jou in 'n lewe van reinheid, oorwinning en godsvrug in te lei.