Prof. Johan Malan, Middelburg (Des. 2008)
In Mattheus 14 lees ons van ‘n moeilike situasie waarin die Here Jesus sy dissipels geplaas het. Hulle moes laataand teen ‘n sterk wind en te midde van ‘n dreigende storm met ‘n klein roeiboot oor die See van Galilea vaar:
“En Jesus het dadelik sy dissipels gedwing om in die skuit te gaan en voor Hom uit te vaar na die oorkant... En nadat Hy die skare weggestuur het, klim Hy op die berg om in die eensaamheid te bid. En toe dit aand geword het, was Hy daar alleen. En die skuit was al in die middel van die see, geteister deur die golwe; want die wind was teen hulle. Maar in die vierde nagwaak het Jesus na hulle gekom, al wandelende op die see. En toe die dissipels Hom op die see sien loop, word hulle ontsteld en sê: Dit is ‘n spook! En hulle het geskreeu van vrees. Maar Jesus het dadelik met hulle gespreek en gesê: Hou goeie moed, dit is Ek! Moenie vrees nie. En Petrus antwoord Hom en sê: Here, as dit U is, beveel my om op die water na U te kom. En Hy sê: Kom! Petrus klim toe van die skuit af en loop op die water om na Jesus te gaan. Maar toe hy die sterk wind sien, het hy bang geword; en toe hy begin sink, roep hy uit en sê: Here, red my! En Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy getwyfel? Daarop klim hulle in die skuit, en die wind het gaan lê. Toe kom die wat in die skuit was, en val voor Hom neer en sê: Waarlik, U is die Seun van God! En hulle het oorgevaar en in die land Gennésaret gekom. En die manne van daardie plek het Hom herken en in daardie hele omtrek uitgestuur en almal wat ongesteld was, na Hom gebring; en hulle het Hom gesmeek dat hulle net maar die soom van sy kleed mag aanraak; en almal wat dit aangeraak het, het gesond geword” (Matt. 14:22-36).
Hierdie gedeelte kan tipologies toegepas word op die ganse kerk van Jesus Christus in ‘n nagtelike vaart oor die see van die lewe. Die ontmoeting tussen Jesus en sy dissipels in die vierde nagwaak dui op die toekomstige ontmoeting tussen Christus en sy kerk tydens die wegraping, wanneer die storms van die lewe finaal vir hulle verby sal wees.
Reg aan die begin van die reis is Jesus van sy dissipels geskei. Dit was laat in die middag en hulle was bang om die reis alleen aan te pak, maar Jesus het hulle gedwing om in die skuit te klim en oor te vaar.
Die dissipels se houding was kenmerkend van die vrees wat hulle voor Jesus se kruisiging en hemelvaart sou ervaar. By daardie geleentheid het Hy vir hulle gesê: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh. 14:1-3). Toe Jesus hier, net voor sy gevangeneming, van sy dissipels afskeid geneem het, het hulle besef hulle sou alleen in ‘n vyandige wêreld moes agterbly. Dit verklaar die vrees en ontsteltenis wat in hulle harte ontstaan het. Hulle het nie kans gesien om van Hom geskei te word nie.
Hier langs die see was hulle in dieselfde situasie. Hulle was bang om, geskei van Jesus, alleen in die nag oor die stormagtige see te vaar. Dit verklaar waarom Jesus hulle moes dwing om alleen in die skuit te klim en oor te vaar. Net voor die aanvang van hierdie moeilike vaart het Jesus alleen op ‘n hoë berg geklim om te bid. Dit dui profeties op sy hemelvaart en die vervulling van sy Hoëpriesterlike bediening om tydens die kerkbedeling by sy Vader se troon in die hemel vir sy dissipels op aarde in te tree.
Die dissipels se nagtelike vaart oor ‘n stormagtige see met die wind van voor, is kenmerkend van die lewe wat alle Christene tydens die kerkbedeling op aarde kan verwag. Ons is geestelik gesproke in ‘n donker wêreld waarin ons moet skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag (Fil. 2:15). Ons het deurentyd die wind van voor. Dit dui daarop dat ons gedurig met die koers en beginsels van die verdorwe wêreld in botsing is. Ons moet hierop voorbereid wees, want Jesus het gesê: “In die wêreld sal julle verdrukking hê” (Joh. 16:33). In ons magteloosheid te midde van stormgeweld moet ons vertroue volkome op God gestel word. Paulus sê:
“Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het. Ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dode opwek; wat ons verlos het uit so ‘n groot doodsgevaar en nog verlos; op wie ons hoop dat Hy ook nog sal verlos” (2 Kor. 1:8-10). Hy brei verder hierop uit:
“Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na. Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ‘n nag en ‘n dag het ek op die diepwater deurgebring – dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders; in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid. Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes. Wie is swak en ek is nie swak nie? Aan wie word ‘n struikelblok in die weg gelê en ek is nie aan die brand nie? As daar geroem moet word, sal ek in my swakhede roem” (2 Kor. 11:24-30).
In die volgende hoofstuk verklaar Paulus die vreemde ingesteldheid van blydskap oor al sy verdrukking waarteen hy as mens weerloos is: “Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk” (2 Kor. 12:9-10). Wanneer mens voel die lewenstorme dreig om jou te oorweldig en jou te vernietig, dan vind jy geestelike krag in die Here, en ook die nodige motivering om die stryd te kan voortsit.
Dit is goed om te weet dat die lewenstorme meermale deur die groot sielevyand oor ons ontketen word, slegs ter wille van Christus wat in ons woon. Jesus het vir sy dissipels gesê: “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het” (Joh. 15:18). Wanneer ons dus vervolg en verwerp word omdat ons aan Christus behoort, is dit ‘n groot eer en iets wat ons te wagte moet wees:
“Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel. As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus... Wanneer iemand as ‘n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig” (1 Pet. 4:12-14,16).
Die Here laat dikwels beproewings en tugtiging in ons lewe toe sodat ons van wêreldse begeerlikhede losgemaak kan word om meer heilig en diensbaar te kan leef. Dit moet daartoe lei dat ons die beproewings sal aanvaar en die Here sal vertrou om dit vir ons ten goede te laat meewerk sodat ons sterker uit die stryd kan tree:
“Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is. Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word. Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Heb. 12:11-14).
Ons moet besef dat geen verdrukking of benoudheid of probleme ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie, want ons is meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het (Rom. 8:35-39). Ons moet onsself in die ewige, versorgende arms van die Here werp. Wanneer ons toelaat dat vrees, twyfel of selfbejammering ons geestelik laat sink, soos vir Petrus daar in die stormsee toe hy van die Here Jesus af weggekyk het, moet ons opnuut die hand in die geloof na ons Verlosser uitstrek. Hy is magtig om te red, want Hy troon nog steeds bokant die storms uit wat sy dissipels bedreig. Hy is die oorwinnaar en ons moet ons oë op Hom gevestig hou. Wanneer ons fokus na die probleme rondom ons verskuif, mag die donker golwe ons straks tot wanhoop dryf. Dit is slegs wanneer ons oë op Jesus gehou word, dat ons geloof en moed ons nie tydens die aanslae sal begewe nie. Die Here Jesus se teenwoordigheid deur die Heilige Gees moet ten alle tye bewustelik ervaar word.
In die vierde nagwaak, terwyl die dissipels teen die wind en die golwe veg, het Jesus skielik al wandelende op die see aan hulle verskyn. Die vierde nagwaak is tussen 3-uur en 6-uur in die oggend wanneer die nag op sy koudste en donkerste is. Dit is die tyd wanneer die blink môrester bokant ‘n donker horison verskyn. Die Here Jesus sê dat Hy die blink môrester is (Op. 22:16), en hierdie simboliek dui op die geheime ontmoeting met sy bruidsgemeente tydens die wegraping, wanneer die res van die wêreld slaap. Net dié wat geestelik wakker is, sal die verskyning van die blink môrester sien.
Dit was vir die dissipels op die bootjie ‘n bonatuurlike en onverwagte ervaring toe Jesus skielik op die stormwater na hulle toe aangestap kom. Hierdie ontstellende ontmoeting het nietemin wonderlike gevolge gehad, want die wind het dadelik gaan lê en die storm was vir hulle verby. Saam met Jesus het hulle die laaste entjie van die reis na die oorkant afgelê. Die storms van die lewe sal vir alle ware dissipels van die Here Jesus verby wees wanneer hulle Hom in die lug ontmoet (1 Thess. 4:16-17).
Vir diegene op aarde, daarenteen, sal die grootste storm van alle tye gedurende die sewe jaar van die verdrukking oor hulle koppe losbars. Jesus het gewaarsku: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:21). In hierdie tyd sal die ware Christene by die Here wees omdat hulle nie vir God se oordele oor ‘n Christus-verwerpende wêreld bestem is nie (Luk. 21:36).
Ná die verdrukking sal Jesus Christus na die aarde terugkom. Dit sal sy openbare verskyning wees wanneer elke oog Hom sal sien, en wanneer Hy van sy verheerlikte kerk vergesel sal wees (Sag. 14:4-5; Kol. 3:4). Die komende Koning sal sy duisendjarige vrederyk vestig, waarin geregtigheid, harmonie en voorspoed op aarde sal heers, en al die ongesteldhede van die verlede genees sal word.
Hierdie dramatiese verandering word deur die aankoms van Jesus en sy dissipels ná die bootreis uitgebeeld. Die donker, stormagtige nag was verby en die son het pas opgekom om die wêreld te verlig. Die belofte staan vas: “Vir hulle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees” (Mal. 4:2).
Die opkomende son in Gennésaret dui profeties op die sigbare koms van Jesus ná die verdrukking wanneer elke oog Hom sal sien. “En toe hulle uit die skuit gaan, het die mense Hom dadelik herken” (Mark. 6:54). “Hulle het in daardie hele omtrek uitgestuur en almal wat ongesteld was, na Hom gebring; en hulle het Hom gesmeek dat hulle net maar die soom van sy kleed mag aanraak; en almal wat dit aangeraak het, het gesond geword” (Matt. 14:35-36).
In die komende millennium sal Jesus wêreldwyd erken en gedien word, en mense sal met al hulle probleme na Hom toe kom om dit op te los. Jesaja sê: “Die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jes. 11:9).
Die Christene is op hierdie oomblik baie naby aan die einde van hulle nagtelike vaart deur die see van die lewe. Weldra sal die Here Jesus aan sy dissipels verskyn en ons na hemelse plekke wegvoer. Dan sal die uur van groot duisternis en verdrukking op aarde aanbreek. Aan die einde daarvan sal die Koning van die konings ten aanskoue van almal sy verskyning op die Olyfberg in Jerusalem maak en sy duisendjarige vrederyk op aarde vestig.
Daar wag ‘n wonderlike toekoms vir hierdie wêreld nadat dit weens sy rebellie, boosheid en sonde deur die uur van beproewing gegaan en al die verharde, onbekeerlike sondaars verdelg is. Die nuwe era sal tydens die koms van die groot Vredevors, Jesus Christus, aanbreek:
“En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:29-30).
Daar sal geen vrede wees voordat die Here Jesus kom nie. Aardse leiers sal hoogstens daarin slaag om ‘n tydelike, valse vrede deur middel van kompromie tussen botsende ideologieë te skep. Blywende vrede en voorspoed sal hulle egter ontwyk totdat dié Een kom wat alle mag in die hemel en op aarde het. Eers sal Hy sy dissipels in die geheim ontmoet en ná sewe jaar sal Hy saam met hulle terugkom om oor die aarde te regeer.