Johan Malan
Opsomming: Christene word in die Nuwe Testament ook tempels van die Heilige Gees genoem. Watter verantwoordelikheid plaas dit op ons?
Ons liggame is ‘n tempel waarin die Heilige Gees woon: “…julle ken [die Gees van die waarheid] omdat Hy by julle bly en in julle sal wees” (Joh. 14:17). Deur Hom woon die Vader en die Seun ook in ons harte. Jesus het gesê: “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak” (Joh. 14:23).
Die tempel van God is heilig, en dit plaas ‘n verpligting op ons om heilig te leef: “…soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word” (1 Pet. 1:15). Terwyl ons op die bloedgebaande weg tot God se teenwoordigheid toetree, moet ons sorg dat ons harte deur besprenkeling van ‘n slegte gewete gereinig is sodat ons onbesmet voor Hom kan verskyn (Heb. 10:22).
Die tempel se fondament is met kosbare gekapte klippe gelê (1 Kon. 5:17). Dit is ‘n heenwysing na Jesus Christus, want Hy is die gekliefde rots waarop ons lewens as tempels van God gebou moet word. “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus” (1 Kor. 3:11). ‘n Persoon wie se lewe nie deur die wedergeboorte op Hom oorgebou is nie, is nog ongered en bou sy lewe op die sand. Hy kan nie as ‘n tempel van God funksioneer nie.
Die heilsvoorwepe in die tempel is in die teken van die kruis geplaas. Die vertikale lyn van die kruis word deur die reguit lyn tussen die hoofingang, die brandofferaltaar, die koperwaskom, die reukofferaltaar en die verbondsark voorgestel. Die horisontale lyn word deur die goue kandelaar aan die een kant, en die tafel met die toonbrode aan die ander kant, voorgestel. Soos die twee balke van die kruis, asook die twee kliptafels van die wet, het hierdie uitleg ook 'n duidelike boodskap. Dit vestig die aandag op die mens-God-verhouding (liefde vir God), asook die mens-medemens verhouding (liefde vir jou naaste). Neem die gekruisigde Jesus ook in jou lewe gestalte aan, en kan die kruis gesien word in jou verhouding tot God asook in jou getuienis (die kruisboodskap) teenoor ‘n wêreld in sy nood?
“Julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Pet. 2:9).
Die funksie van die priester was onder meer om namens die volk met God te praat, en ook namens God met die volk. Hy moes dus vir sy volksgenote by die Here intree, en ook die woord van die Here aan hulle verkondig. As tempels van God moet ons hierdie funksies in die Nuwe Testament vervul. Tree jy as ‘n voorbidder vir ‘n verloregaande wêreld by die Here in, en verkondig jy ook die goeie tyding van Jesus Christus se reddende genade aan hulle?
|
OU TESTAMENT |
NUWE TESTAMENT |
|
1. Die poort na die tempel Dit is die toetreepunt tot die heiligdomme van die Here. Die volk is uitgenooi om daardeur in te gaan, met God versoen te word deur offers vir hulle sondes te bring, en sy Naam te prys vir al sy weldade: “Maak oop vir my die poorte van geregtigheid; ek wil daardeur ingaan” (Ps. 118:19). |
1. Die nou poort na die hemel Die deur, of poort, na God se genadetroon is Jesus Christus self: “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal Hy gered word” (Joh.10:9). “Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie” (Luk. 13:24). |
|
2. Die brandofferaltaar Die bloed van diere is as soenoffers aan die Here gebring, want sonder bloedvergieting is daar geen versoening nie (Heb. 9:22). “En dit is wat jy op die altaar moet berei: twee jaaroud lammers gereeld elke dag… dit moet ‘n voortdurende brandoffer vir julle geslagte wees” (Ex. 29:38, 42). |
2. Die soenoffer vir sonde In die Nuwe Testament is Jesus die Lam van God wat deur sy eenmalige offer aan die kruis versoening vir almal se sondes gedoen het. Johannes die Doper het gesê: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Deur die bloed van Christus word ons voortdurend van ons sondes gereinig (1 Joh. 1:7). |
|
3. Die koperwaskom In die koperwaskom waarin die priesters hulle hande ná die slagoffers gewas het, was daar bloed en water gemeng. (Ex. 30:18). Dit dui daarop dat die offer afgehandel was en dat die priester homself gereinig het om die tempel te kon betree. |
3. Die volbragte offer Die bloed en water uit die sy van Jesus is die bewys van ‘n volbragte offer: “…een van die soldate het met ‘n spies in sy sy gesteek, en dadelik het daar bloed en water uitgekom… en hy wat dit gesien het, het dit getuig, en sy getuienis is waaragtig” (Joh. 19:34-45). |
|
4. Die reukofferaltaar Net voor die voorhangsel van die Allerheiligste was die reukofferaltaar waarop reukwerk tot ‘n lieflike geur aan die Here moes brand: “Jy moet ook ‘n altaar maak om reukwerk te brand. En Aäron moet daarop reukwerk van speserye aan die brand steek… as ‘n voortdurende reukwerk voor die aangesig van die Here in julle geslagte” (Ex. 30:1, 7-8). |
4. Die offers van gebed Die teëbeeld van die reukofferaltaar is die voortdurende gebede van die Christene in die Nuwe Testament. In gebed tree ons tot die troon van God toe. Hierdie kommunikasie moet in stand gehou word, daarom word ons vermaan om te “bid sonder ophou” (1 Thess. 5:17). Ons moet “by elke geleentheid bid in die Gees” (Ef. 6: 18). |
|
5. Die verbondsark In die Allerheiligste, afgesluit deur die voorhangsel, was die verbondsark. Hier kon net die Hoëpriester een maal per jaar op die Groot Versoendag ingaan om met ‘n bloedoffer vir die hele volk se sondes versoening te doen: “En dit moet vir julle ‘n ewige insetting wees om vir die kinders van Israel weens al hulle sondes een maal in die jaar versoening te doen” (Lev. 16:34). |
5. Die genadetroon Die oomblik toe Jesus aan die kruis gesterf het, het die voorhangsel geskeur en elkeen van ons vrye toegang tot die genadetroon van God gekry: “Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen… laat ons toetree in volle geloofsversekerdheid” (Heb. 10:19-20, 22). Die prys is betaal. |
|
6. Tafel met die toonbrode Vars brood moes altyd op hierdie tafel voorsien word: “En op die tafel moet jy altyddeur toonbrood voor my aangesig neersit” (Ex. 25:30). Die koringkorrels wat gebreek en fyngemaal is om meel te vorm, is ‘n tipe van die Messias wie se liggaam gebreek sou word om die brood van die lewe vir ‘n sterwende wêreld te word. |
6. Die brood van die lewe Jesus is die brood van die ewige lewe, deur wie ons geestelike behoeftes ook daagliks vervul word: “Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie” (Joh. 6:35). Die Christene moet nie net hulle eie siele met die lewensbrood versadig nie, maar ook die brood van God se Woord aan mede-Christene én die wêreld bedien. |
|
7. Die goue kandelaar ‘n Kandelaar wat gedurigdeur moes brand, was deel van die toerusting in die heiligdom. Die olie moes elke oggend en aand aangevul en die pitte van die lampe skoongemaak word. “Maak ook ‘n kandelaar van suiwer goud… Jy moet ook sewe lampe daarvoor maak” (Ex. 25:31, 37). “En jy moet die kinders van Israel beveel dat hulle vir jou suiwer, uitgestampte olyfolie vir die kandelaar bring, om gedurigdeur ‘n brandende lamp te hê” (Ex. 27:20). Die kandelaar het langs die suidelike muur gestaan, wat die donker kant van die tempel was. Die lig moes die duisternis verdryf en van God se teenwoordigheid getuig. |
7. Die lig van die wêreld Volgens Openbaring 1:12 en 20 is die gemeentes van die Nuwe Testament God se kandelare wat sy lig in ‘n donker wêreld laat skyn. Elke Christen moet in sy eie reg ook as ‘n tempel van God funksioneer en sy lig te midde van ‘n krom en verdraaide geslag laat skyn (Fil. 2:15). Om dit suksesvol te kan doen, moet ons voortdurend deur die bloed van die Lam gereinig (1 Joh. 1:7) en met die olie van die Heilige Gees vervul word (Ef. 5:18). As die lig van die wêreld moet ons in ‘n geestelik donker wêreld onder die leiding van die Heilige Gees van die Here Jesus se reddende genade getuig. |