Toets die Geeste

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Januarie 2012)

Christene behoort in staat te wees om alle leerstellings in geloofsbelydenisse, preke, boeke, artikels en in gesprekke te toets ten einde vas te stel of hulle n ware weergawe van Bybelse waarhede is: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Joh. 4:1). Elke godsdienstige boodskap het n geestelike dimensie – dit is óf die Gees van die waarheid wat ons in die hele waarheid wil lei (Joh. 16:13), óf Satan se gees van dwaling wat daarop ingestel is om soveel as moontlik mense te mislei, ook binne-in kerke (1 Joh. 4:6; 2 Pet. 2:1-2).

n Toets van hierdie aard word gedoen deur n bepaalde stelling of boodskap noukeurig met Bybelse uitsprake te vergelyk ten einde die egtheid daarvan te bepaal. Indien dit nie gedoen word nie, sal valse leerstellings op n naïewe wyse aanvaar word deur diegene wat onkundig oor Bybelse leerstellings is (vgl. 2 Kor. 11:3-4). Volg liewer die voorbeeld van die gelowige Jode in Beréa, wat Paulus se boodskap op n baie welwillende wyse aanvaar het, maar nogtans elke dag die Skrifte ondersoek het om vas te stel of alles wat Paulus gesê het, waar was (Hand. 17:11). Hulle entoesiasme vir die evangelie, sowel as hulle hoë agting vir die apostel, het hulle nie daarvan weerhou om Paulus se boodskap krities te ondersoek nie, sodat hulle seker kon wees dat wat hulle geglo het, in volle ooreenstemming met God se Woord was.

Geestelike onderskeidingsvermoë

n Mens het geestelike onderskeidingsvermoë nodig indien jy die Bybel reg wil verstaan. Wanneer die Heilige Gees n persoon oortuig van sy sonde, van die geregtigheid van Christus en van die sondaar se behoefte aan wedergeboorte, verlig Hy die verstand van die persoon sodat hy die basiese beginsels van die evangelie kan verstaan (Joh. 16:8).

Gelowiges was pas weergebore is, verstaan egter nie onmiddellik alle aspekte van die meer omvattende “leer van Christus” nie (2 Joh. v. 9), omdat hulle nog klein kinders in Christus is wat met die melkkos van die basiese beginsels van die Woord gevoed moet word (1 Kor. 3:1-2; Heb. 5:12-14). Gedurende hierdie fase is hulle nog “kinders ... wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Ef. 4:14).

Die grootste probleem met geestelik onvolwasse mense is dat hulle n innerlike konflik beleef tussen die ongekruisigde vlees (hulle ou, sondige natuur wat deur die mag van die gewoonte gevestig is) en die inwonende Heilige Gees wat hulle tydens hulle bekering gewederbaar het (Gal. 5:17). Hulle verstaan wel sekere beginsels van die evangelie van verlossing, maar het nog n lang pad vorentoe om werklik geestelike mense te word.

n Volle oorgawe moet gemaak word om die “oue mens” te kruisig en jou met die nuwe natuur van Christus te beklee (Ef. 4:22-24). Hierdie dieper werk van die Heilige Gees sal die gelowige heilig en aan om verligte oë van die verstand gee om die geestelike erfdeel van die heiliges in Christus Jesus beter te kan begryp (Ef. 1:18).

Die ervaring van heiligmaking sal n proses van geestelike groei inisieer wat vir die res van ons lewe moet voortduur. Dit sal ons verder van misleiding af laat beweeg en ons duidelik bevestig in die waarhede van God se Woord (2 Pet. 3:17-18). Gedurende die voortgaande proses van heiligmaking moet ons volhoubare vordering na uiteindelike volmaaktheid en volkome heiligheid maak.

Hoewel ons nie die vlak van volmaaktheid tydens ons aardse lewe sal bereik nie, moet ons nogtans in daardie rigting beweeg. Christus het aan sy dissipels gesê: “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is” (Matt. 5:48). God het ook gesê: “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet. 1:16).

Dit is belangrik om daarop te let dat die opdragte oor volmaaktheid en God-gelykvormige heiligheid in die aoristus-tydsvorm geskryf is, wat die onbepaalde verlede tyd van n werkwoord is, veral in Grieks, en wat betrekking het op die tydsduur en afhandeling daarvan. Dit dui dus op n aksie wat steeds voortgaan en nog nie voltooi is nie.

Diegene wat kan getuig van n wandel in die Gees, het verskillende grade van vooruitgang gemaak in die proses van groei in die genade en kennis van Jesus Christus onderweg na die vlak van n “volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” (Ef. 4:13). Dit is die rede waarom daar verskille is tussen Geesvervulde (maar onvolmaakte) dissipels van Christus – hulle leer nog steeds en moet voortgaan om na volmaaktheid te streef. Paulus sê: “Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is” (Fil. 3:12). Hy was met Christus gekruisig en dus ontledig van eiebelang, persoonlike vooroordeel en menslike agendas (vgl. Gal. 2:20), maar het nog nie finale volmaaktheid bereik nie.

Terwyl ons in n menslike liggaam is, is ons onderhewig aan swakhede en beperkings wat deur ons menslikheid veroorsaak word – dit sluit fisiese, emosionele en intellektuele swakhede in wat op verskillende maniere die volmaaktheid waartoe ons geroep is, onbereikbaar maak. Ons word soms moeg en moedeloos, of daartoe geneig om kortpaaie te neem deur ons stiltetye en deeglike Bybelstudie af te skeep, en dit kan as swakhede in ons kennis, interpretasie en aanbieding van God se Woord manifesteer.

As gevolg van hierdie faktore, asook die gevestigde belange van ons “eie kerk” (n tipies menslike manier om dinge te sien, wat verder deur n kerklike tradisie verskans word) ken ons ten dele (1 Kor. 13:12) en bied dikwels verkeerde voorstellings van God se Woord aan. Die Woord van die waarheid moet reg gesny word (2 Tim. 2:15) ten einde verdraaide en misleidende weergawes daarvan te voorkom.

Die feit is dat terwyl Geesvervulde dissipels van Christus saam met al die heiliges ten volle kan begryp wat die breedte, lengte, diepte en hoogte van Christus se liefde is (Ef. 3:18-19), hulle nog steeds oor verskeie ander sake kan verskil. Dit is die taak van alle gelowiges om ernstige en onpartydige Bybelstudie te doen ten einde duidelikheid oor omstrede onderwerpe te verkry, selfs al beteken dit ook dat hulle van n lank gevestigde familie- of volkstradisie af sal moet wegbreek om hulle oortuigings te kan uitleef.

Die probleem van vleeslike en nominale gelowiges

Wat vleeslike gelowiges betref, is daar feitlik geen perke aan hulle verbeeldingsvlugte nie. Hulle stem gewoonlik saam met sekere basiese Christelike leerstukke, maar daarna vertrou hulle meer op die menslike rede as op die leiding van die Heilige Gees. Hulle word meer geredelik deur die teologiese konstruksies van sekere kerkvaders en “leidende teoloë” beïnvloed as deur die basiese betekenis van die Bybel self. Die vergeesteliking en allegorisering van die Skrif, sowel as die vervangingsteologie, bied aan hulle die geleentheid om menslike rasionalisering bokant die grondbetekenis van die Skrif te verhef, en dan eindig hulle gewoonlik met leerstellings wat deurtrek is van subjektiewe en foutiewe aannames.

Baie van hierdie vleeslike teoloë is akademies goed gekwalifiseerd, en dus in n gunstige posisie om n groot invloed uit te oefen op die denke van studente en ander gelowiges wat na hulle luister of hulle boeke lees. Hulle neem die inisiatief om misleidende leerstellings aan te bied soos die uitverkiesingsleer, doopsaligheid, die verbondsteologie, koninkryksteologie, mistisisme en die ontkenning van die letterlike vervulling van eindtydse profesieë – insluitend Israel se herstel, die opkoms van n persoonlike Antichris, die wegraping, die verdrukking, die wederkoms van Christus en sy daaropvolgende vrederyk op aarde.

Sommige van diegene wat hulleself as groot geestelike leiers voordoen, is nie eers gered nie en handhaaf net n gedaante van godsaligheid. Hulle redenasies is so vleeslik en op menslike wysheid gebaseer dat hulle nie eers die mees basiese beginsels van die Christelike geloof erken nie, bv. die maagdelike geboorte van Christus, die betekenis van sy soendood aan die kruis, sowel as sy fisiese opstanding en hemelvaart; hulle erken ook nie die letterlike inspirasie van die Bybel as God se Woord nie. Paulus sê: “Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Tim. 3:5).

Dit bly n moeilike uitdaging om in die genade en kennis van Christus te groei sonder om geestelik mislei of ontspoor te word deur die voorstanders van valse leerstellings – ongeag of hulle gedeeltelik verkeerd of heeltemal verkeerd is. Die leerstellings van diegene wat die waarheid en die leuen meng, is die moeilikste om te kan onderskei omdat hulle dwalings meer subtiel is. Dit is om goeie redes dat die Here Jesus gesê het: “Pas op dat niemand julle mislei nie” (Matt. 24:4).