Twee Groot Oorloë in Israel

Die Bybel profeteer twee groot oorloë wat in die eindtyd in Israel gevoer sal word. Die eerste is die Russies-Arabiese inval in Israel (Eseg. 38 en 39), en die tweede die slag van Armageddon (Sag. 14; Op. 19). Die eerste een sal ‘n groot streeksoorlog en die tweede een ‘n wêreldoorlog wees waardeur alle mense op aarde geraak sal word. Beide hierdie oorloë sal deur die koninkryk van die duisternis aangeblaas word in ‘n poging om die openbaring van God se koninkryk op aarde te voorkom.

Die Russies/Arabiese oorlog

Volgens Esegiël 38 en 39 gaan verskeie Arabiese lande onder die aanvoering van Rusland ‘n geweldige aanslag op Israel loods om hierdie land tot ‘n val te bring en van die wêreldkaart af uit te wis. Gog in die land Magog (dit is die land ten noorde van die Kaukasusgebergte, m.a.w. die moderne Rusland) sal saam met Persië (Iran), Togarma (Turkye), Kus (Ethiopië), Put (Libië), Gomer (Duitsland) en verskeie ander lande vir Israel aanval.

Die leierskapsrol van Rusland (Eseg. 38:7) is nie net aan hulle sterk weermag en gevorderde wapentuig te danke nie, maar is so beskik omdat die Here hulle wil straf (Eseg. 39:1). Die rede vir die goddelike toorn teen hulle is omdat Rusland ‘n leidende rol in die aanstigting van Jodehaat speel en ook die vyande van Israel bewapen. As gevolg hiervan gaan die Here op die berge van Israel met hulle in die gerig tree (Eseg. 39:4).

Die Here sê dat Rusland met hake aan sy kakebene uit sy land getrek sal word om aan dié oorlog deel te neem. Hulle sal dus deur omstandighede gedwing word om hulle Arabiese en ander bondgenote te gaan help. Die Here sê aan Gog: “Ná baie dae sal jy bevel ontvang; aan die einde van die dae sal jy ‘n land intrek wat van die swaard weer reggekom het, wat versamel is uit baie volke, op die berge van Israel... En jy sal optrek teen my volk Israel soos ‘n wolk om die land te oordek. Aan die einde van die dae sal dit wees” (Eseg. 38:8,16).

Onder die bondgenote van Rusland wat deur Esegiël genoem word, het Iran se president die afgelope paar maande ten minste twee keer oproepe vir die totale uitwissing van die Joodse staat gemaak. Verskeie ander Arabiese state stem in beginsel met ‘n heilige oorlog (jihad) teen Israel saam. Hulle haat teen Israel het weer tot nuwe hoogtes opgevlam toe die Joodse staat vir Libanon ingeval het om vestings van die Hezbollah-terroriste, wat sterk deur Iran en Sirië gesteun word, uit te wis. Rusland het die Jode ook oor hierdie daad van selfverdediging veroordeel en gaan dus voort om met Israel se vyande saam te werk.

Sirië en Iran het gemeen dat hulle deur middel van die duisende vuurpyle wat aan Hezbollah in Libanon verskaf is, vir Israel uit die noorde van hul grondgebied sou verdryf. Tesame met offensiewe deur Hamas en die Islamitiese Jihad uit Gaza en die Wesbankgebied sou dit, volgens hulle, tot die val van die Joodse staat lei. Dit het nie gebeur nie, want die Here stry vir Israel (vgl. Ex. 14:25).

Nou smee radikale Islam grootskaalse wraakplanne teen Israel, asook teen lande soos Amerika en Engeland wat as vriende van Israel, en dus vyande van Islam, beskou word. Hierdie keer gaan hulle egter nie net deur terroristegroepe werk nie, maar ‘n volskaalse oorlog teen Israel voer om die Jodendom te probeer verdelg en die hele land te beset. Hiervoor is daar ‘n multinasionale invalsmag nodig wat van verskillende fronte af ‘n verrassingsaanval op Israel kan doen – uit die noorde, die ooste, die suide én ook van Libië se kant af uit die weste, oor die Middellandse See.

Vir hierdie groot oorlog beplan Israel se vyande om Rusland se betrokkenheid te verkry. Vir Rusland is daar die voordeel van belange in die Midde-Oosterse olievelde. Hulle sou ook die moontlikheid wou voorkom dat Sjina die Arabiere militêr sal help indien hulle self sou weier om dit te doen. Hoewel teësinnig, sal Rusland volgens die Bybel instem om aan ‘n uitwissingsoorlog teen die Joodse staat deel te neem.

Die oorlog van Esegiël 38 en 39 kom dus onwrikbaar nader. Die Here gaan Homself op ‘n besondere manier deur die beëindiging van hierdie oorlog openbaar: “Ek sal jou teen my land laat aankom, sodat die nasies My kan ken as Ek My in jou, o Gog, voor hulle oë as die Heilige laat ken” (Eseg. 38:16). Die verdelging van hierdie invalsmagte word duidelik uitgespel: “Op die berge van Israel sal jy val, jy en al jou leërs en die volke wat saam met jou is... Op die oop veld sal jy val; want Ek het dit gesê, spreek die Here. En Ek sal ‘n vuur slinger in Magog” (Eseg. 39:4-6). Daar sal ook ‘n buitengewone groot aardbewing wees (Eseg. 38:19).

Rusland, Israel én al die nasies sal God op grond van hierdie duidelike ingryping as die Heilige erken. Dit sal dus die einde van ateïsme, agnostisisme en sekularisme meebring, maar ongelukkig nie ‘n ware en blywende terugkeer na die lewende God nie. Al die volke van die wêreld, insluitende Israel, het tot ‘n groot mate in ongeloof, materialisme en humanisme verval en as gevolg daarvan die Drie-enige God en sy Woord verwerp. Hulle het bewys hiervan gelewer deur die vroeëre erkenning van God se oppergesag uit hulle grondwette weg te laat en ook Christelike onderwys as ‘n amptelike onderwysstelsel te skrap. Baie van dié lande het ‘n openlike bespotting van die Christendom gemaak deur dit met die heidense gelowe gelyk te stel.

Met die bonatuurlike vernietiging van Israel se vyande sal die nasies erken dat die God van Israel en die Bybel die ware God is wat gevrees en gedien moet word. Hulle sal egter só min van Hom af weet hulle die verkeerde persoon, nl. die Antichris, as die Christus en gesant van God sal aanvaar. Die Antichris sal die nasies se ontsag vir bonatuurlike tekens uitbuit en saam met die valse profeet vir ‘n skouspel van tekens en wonderwerke sorg:

“Hy [die valse profeet] oefen al die mag van die eerste dier [die Antichris] uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. En hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen” (Op. 13:12-14). Die mensdom sal dit in verbystering aanvaar.

Die valse aansprake van die Antichris en valse profeet sal só oortuigend wees dat selfs Israel mislei sal word om die verkeerde persoon as hulle Messias aan te neem. Die Here Jesus het vir hulle gesê: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5: 43). So ook sal die hele wêreld mislei word, verwonderd agter die dier aangaan en hom as die selfverklaarde wêreldmessias aanbid (Op 13:3-4).

Die Antichris sal deur sy tekens en wonderwerke krediet opeis vir die skielike beëindiging van die groot oorlog in Israel. Nie net sal Israel hom as gevolg hiervan as die beloofde Messias aanhang en navolg nie, maar al die nasies sal ook met dié wonderwerkende “vredevors” ‘n verbond sluit en hom as hulle leier erken. Daar sal openlik gesê word dat hy die mensdom uit ‘n dreigende wêreldoorlog verlos en daardeur nuwe hoop aan almal gegee het wat op selfvernietiging afgestuur het.

Die wêreld se skielike swaai na die algemene erkenning van God sal dus deur die duiwel se toedoen in grootskaalse misleiding eindig. Dit sal vir die hele sewe jaar van die Antichris se regering op aarde voortduur. Gedurende hierdie jaarweek sal Israel groot ekonomiese nut uit die militêre toerusting kry wat van Gog en sy menigte buitgemaak is. Hulle sal daarmee vuurmaak of dit opsmelt en die metaal in hulle nywerhede gebruik (Eseg. 39:9). Hierdie sewe jaar sal die sewentigste jaarweek van Daniël wees (Dan. 9:27), m.a.w. die tyd van verdrukking wat tussen die wegraping (Christus se geheime koms vir sy Bruidsgemeente; Joh. 14:2-3) en sy sigbare verskyning op die Olyfberg sal verloop wanneer elke oog Hom sal sien (Sag. 14:4-5).

Die slag van Armageddon

Die feit dat Israel én die hele wêreld verwonderd agter die Antichris sal aangaan (Op. 13:3), sal tot ‘n valse vrede en eenheid lei wat 3½ jaar lank sal voortduur. Dit sal die eerste helfte van die Antichris se sewe jaar lange verbond met Israel en die nasies wees (Dan. 9:27). In hierdie tyd sal al die valse godsdienste, insluitende ‘n vervalste vorm van die Christendom, met mekaar hande vat en saam die Antichris as hulle gemeenskaplike messias erken en aanbid (Op. 13:8; 17:3-5). Dit sal met die formele en wêreldwye verwerping van die evangeliese Christendom gepaard gaan, wat hoegenaamd geen bande met die nie-Christelike gelowe kan aanknoop nie (Joh. 14:6; 2 Kor. 6:14-16). Die Christene wat in daardie tyd gered word (Op. 7:9, 13-14), sal oral vervolg en doodgemaak word.

In die tweede helfte van die verdrukking sal die oorlog teen die koninkryk van God voortgaan. Die Antichris sal sy rebellie teen God tot nuwe hoogtes voer deur homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God te verklaar (2 Thess. 2:4). Hy sal ‘n afgodsbeeld van homself in die Allerheiligste van die tempel laat oprig en almal laat teregstel wat weier om hom as God te aanbid (Op. 13:15).

Die Antichris sal weet dat Jesus Christus aan die einde van daardie jaarweek na die aarde sal terugkeer om ‘n oorblyfsel van Israel en die nasies te red (Matt. 24:29-30). Dit beteken dat die Antichris se skrikbewind in die tweede helfte van die verdrukking net 3½ jaar (42 maande) lank sal duur (Op. 13:5-7). Met die oog hierop sal Satan van sy demone na al die nasies van die aarde uitstuur om hulle vir ‘n oorlog in Armageddon aan te hits en op te roep, waar hulle sal probeer voorkom dat Jesus Christus sý koninkryk op aarde vestig:

“En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God… En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armageddon” (Op. 16:13-16).

Die groot konfrontasie sal op die dag van Christus se wederkoms plaasvind, maar dit sal ‘n slegte dag vir die vyande van die Here Jesus wees: “En ek het die dier [die Antichris] en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit [Christus], en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit” (Op. 19:19-21). Die kortstondige ryk van die Antichris sal hiermee beëindig en deur die duisendjarige vrederyk van die ware Christus vervang word.

Godsdienstige oorloë

Beide hierdie twee groot oorloë in die Midde-Ooste het ‘n duidelike geestelike dimensie omdat hulle die weerstand van die gevalle mens teen die openbaring van God se koninkryk op aarde weerspieël. Israel se Islamitiese vyande sal aan die begin van die sewe jaar die hulp van Rusland én ander lande kry om Israel uit hulle godgegewe erfdeel te probeer verdryf. Die strydkreet teen Israel sal wees: “Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie” (Ps. 83:5).

Israel én die ware kerk van Jesus Christus staan in die pad van die Antichris se sataniese nuwe wêreldorde. Die bose magte gaan alles in hulle vermoë doen om van hierdie twee groepe, wat vir ‘n groot rol in die koninkryk van God bestem is, ontslae te raak. Satan weet dat ‘n oorblyfsel van Israel met die Messias versoen sal word (Sag. 12:10) en daarna ‘n belangrike volk in die Messiasryk sal wees (Jes. 60:12,14; Sag. 8:23). Hy weet ook dat die evangeliese Christene saam met Christus in sy koninkryk sal regeer (Op. 2:26-27; 5:9-10). In dié tyd sal Satan in ‘n bodemlose put gebind wees sodat hy die nasies nie kan verlei nie (Op. 20:1-3).

Israel verwerp tans nog die Here Jesus as hulle Messias, en sal as gevolg daarvan deur die tyd van verdrukking moet gaan voordat ‘n oorblyfsel van hulle eers op die dag van sy wederkoms die knie voor Hom sal buig (Jer. 30:7; Eseg. 36:22-28; Sag. 13:9; Rom. 11:26). Ná die eerste groot oorlog (Eseg. 38–39) sal Israel van hulle agnostisisme en ateïsme verlos word, maar weens hul onkunde die verkeerde Messias aanhang. Ná die tweede groot oorlog (Sag. 14) sal ‘n oorblyfsel in Israel van die valse messias se diktatuur verlos word en met die ware Messias versoen word. Dieselfde geestelike verandering sal onder ‘n oorblyfsel van die nasies intree, veral ook onder die Assiriërs (Sirië en Irak), asook die Egiptenare (Matt. 24:30; Jes. 19:23-25).

God se koninkryk sal in mag en heerlikheid geopenbaar word, en die begin van die Messiasryk wees met Jerusalem as hoofstad van die hele wêreld (Jer. 3:17). Al die nasies sal na Jerusalem optrek om die Here te eer, te dien en deur Hom onderrig te word (Jes. 2:2-4; Sag. 14:16).

Geestelike stryd

Daar is ‘n groot geestelike stryd in die wêreld aan die gang. Dit sou geen nut hê om net die militêre implikasies daarvan te beoordeel nie, want daar is agter die skerms ander magte aan die werk.

Militante Islamitiese organisasies en lande voer ‘n demonies-geïnspireerde stryd teen Israel. Lees maar Sagaria 14:12-13 en Joël 3:2 oor die goddelike wraak wat in die nabye toekoms oor hulle uitgestort gaan word. Daar is geen Bybelse gronde vir Jodehaat en oorloë teen Israel nie, want hulle woon in ‘n land wat die Here aan hulle gegee het. Enige pogings om hulle daaruit te probeer verdryf, kom prakties op ‘n oorlog teen God neer.

Aan die ander kant moet Israel se geestelike blindheid nie uit die oog verloor word nie. Die Here bring hulle juis in benoudheid onder hulle vyande omdat hulle as volk nog steeds die Messias minag en verwerp. Geestelik gesproke het hulle in die Here se oë skuim geword, daarom bring Hy hulle in hul eie land in benoudheid (Eseg. 22:18-22). Bid vir Israel én hul vyande se redding. Almal moet op Jesus se koms voorberei word – Hy sal die ongereddes veroordeel en die gereddes in sy koninkryk aanstel en verheerlik.