Prof. Johan Malan (Januarie 2007)
In die tydperk tussen Christus se eerste en tweede koms verwys die Bybel baie duidelik na ‘n eerste en ‘n laaste geslag wat in belangrikheid ver bo die ander geslagte in dié bedeling uitstaan. Die groot betekenis van hierdie twee geslagte hou verband met die belangrike gebeurtenisse wat daarin plaasgevind het, en in die nabye toekoms nog sál plaasvind.
Omdat ons reeds diep in die laaste geslag is, is dit noodsaaklik om absolute duidelikheid oor hierdie tydperke te kry. Die Here Jesus verwag van ons om op gebeurtenisse in dié twee geslagte ag te slaan, daarom het Hy die vaste versekering gegee dat beide geslagte nie verby sou gaan voordat alle profesieë wat op hulle betrekking het, vervul is nie.
In die eerste geslag het die Messias na Israel gekom, vir Hom dissipels geroep en hulle opgelei om die boodskap van sy reddende genade verder uit te dra. Die volk Israel het egter vir Jesus as Messias verwerp, Hom verraai en aan die Romeinse owerhede uitgelewer om gekruisig te word. Hierdie gebeurtenis het vir alle mense ten goede meegewerk omdat die Here Jesus sy lewe afgelê het om die straf vir die hele wêreld se sonde te betaal. Op grond van sy plaasvervangende dood kan almal wat hulle van hul sondes bekeer en Hom as hulle Verlosser aanneem, gered word (Rom. 5:10; Ef. 1:7). Drie dae ná Jesus se kruisiging het Hy uit die dood opgestaan en ná nog 40 dae opgevaar hemel toe. Tien dae ná sy hemelvaart is die Heilige Gees uitgestort en het die tydperk van wêreldevangelisasie begin. In die eeue daarna moes die boodskap van dit wat in die eerste geslag gebeur het, aan alle mense op aarde verkondig word.
Die feit dat Israel die Messias verwerp het, het binne hierdie geslag na ‘n dispensasionele oorgang van die bedeling van Israel af na die kerkbedeling gelei. Israel is as God se spesiale getuies uitgefaseer en die kerk onder alle nasies ingefaseer. Die eerste geslag sou nie verbygaan voordat die kerk van Christus onder die nie-Joodse volke gevestig, Jerusalem en die tempel verwoes en Israel onder die nasies verstrooi is nie.
In die laaste geslag word Israel en hulle stad, Jerusalem, weer herstel. Verskeie dispensasionele veranderings word in hierdie geslag gemaak om vorige tydperke te beëindig en nuwe tydperke in God se raadsplan in te lui: die kerkbedeling word deur die wegraping beëindig, waarna die bedeling van die Antichris se sewe jaar lange regering op aarde sal aanbreek. Aan die einde daarvan sal Christus na die aarde terugkom en die bedeling van sy duisendjarige vrederyk hier vestig. Die herstelde Israel sal geestelik herleef en groot internasionale aansien in die Messiasryk geniet, wat aan die einde van die laaste geslag gevestig sal word. Hierdie geslag sal die oorgang na groot en wonderlike dinge in God se raadsplan wees.
Die begrip “geslag” dui in die oorspronklike tale dikwels ‘n groep mense aan – ‘n familie, stam, volk of verskeie ander groepe, bv. ‘n bose geslag (Luk. 11:29). In ander gevalle het dit op ’n bepaalde generasie binne só ‘n groep betrekking. In hierdie sin is daar ‘n chronologie, of opeenvolging, van geslagte soos wat die ouer geslagte deur jonger geslagte opgevolg word. Dit is in hierdie verband dat daar in Mattheus 1:17 staan: “Al die geslagte van Abraham tot Dawid is 14 geslagte.” In dieselfde volk is daar dus baie geslagte mense.
Wanneer daar na die hele leeftyd van ‘n geslag sedert geboorte gekyk word, word ‘n tydperk van omtrent 70 jaar bedoel (Ps. 90:10). ‘n Volwasse geslag, daarenteen, verteenwoordig ‘n tydperk van 40 jaar tussen die ouderdomme van 30 en 70 jaar. ‘n Klassieke voorbeeld van ‘n totale geslag, insluitende sy volwasse gedeelte van 40 jaar, is dié van koning Dawid: “Dertig jaar was Dawid oud toe hy koning geword het; veertig jaar het hy geregeer” (2 Sam. 5:4).
In Israel moes die mans 30 jaar oud wees voordat hulle as priesters en politieke leiers kon optree. Jesus moes as Jood ook hierdie reël eerbiedig voordat Hy met sy openbare bediening as ’n profeet en geestelike leier kon begin (Luk. 3:23; vgl. Num. 4:3).
Dit is opvallend dat dit in die Bybel meesal die volwasse geslagte is wat aangespreek word, omdat hulle deur die Here vir hulle besluite en dade verantwoordelik gehou word. In Numeri 32:13 staan daar: “En die toorn van die Here het teen Israel ontvlam, en Hy het hulle veertig jaar in die woestyn laat rondswerwe, totdat die hele geslag verteer was wat kwaad gedoen het in die oë van die Here.” Hoewel daardie volwasse geslag (met die uitsondering van Josua en Kaleb) almal in die woestyn gesterf het, het die volgende geslag tot volwassenheid opgegroei en die Beloofde Land in besit geneem.
Hoewel ons nie presies weet wanneer Jesus gebore is nie, was die eerste 70 jaar van die Christelike bedeling nietemin die eerste geslag daarvan. Hierdie geslag het met ‘n geboorte begin wat eeue tevore reeds deur die profete voorspel is. ‘n Engel van die Here het aan Josef gesê: “Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees; en sy sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos. En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal Hom Emmanuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons” (Matt. 1:20-23; vgl. Jes. 7:14).
Groot en deurslaggewende gebeurtenisse vir die hele mensdom het in die volwasse gedeelte van die eerste geslag gebeur – dit is in die jare tussen 30 en 70 n.C. Lukas sê: “Jesus was omtrent dertig jaar oud toe Hy begin leer het” (Luk. 3:23). Pas voor sy finale verwerping en kruisiging deur Israel, het Jesus vir die Joodse volksleiers gesê dat die verwoesting van Jerusalem en hulle verstrooiing uit die land in daardie geslag (van 0 tot 70, of, meer spesifiek, die volwasse gedeelte daarvan van 30 tot 70 n.C.) vervul sou word:
“Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes... Julle is kinders van die wat die profete vermoor het. Maak die maat van julle vaders dan vol! Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug? Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg, sodat oor julle [die tydgenote van Jesus] kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaria, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar. Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom. Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Matt. 23:29-38; beklemtoning bygevoeg; vgl. Luk. 19:41-44; Deut. 28:52,64).
Hierdie belangrike profesieë is in 70 n.C. vervul toe Jerusalem deur die Romeine verwoes en die oorlewende Jode as krygsgevangenes uit die land weggevoer is. Die feit dat die Here Jesus ‘n vaste versekering gegee het dat die betrokke profesieë binne die raamwerk van die geslag mense met wie Hy gepraat het, vervul sou word, dien as ‘n onbetwisbare bewys dat sy hoorders bedoel was om te verstaan wat die begrip “geslag” beteken. Dit was ‘n chronologiese geslag wat ‘n begin- en ‘n eindpunt gehad het, en wat nie verby sou gaan voordat die belangrike profesieë wat daaroor uitgespreek is, vervul is nie.
Daar het ‘n lang tyd tussen die eerste en laaste geslag in die Christelike bedeling verloop. Dit was die tye van die nasies, m.a.w. die tyd van wêreldevangelisasie. In hierdie tyd het die heidense (nie-Joodse) nasies die geleentheid gekry om in die koninkryk van God in te kom (Rom. 11:25). Gedurende die tye van die nasies sou Jerusalem vertrap en Israel in ballingskap onder die nasies wees, van die een einde van die aarde af tot by die ander. Die Here Jesus het die interim periode ná die val van Jerusalem só beskryf:
“En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie. Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog in daardie dae; want daar sal ‘n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:20-24; beklemtoning bygevoeg).
Jerusalem sou dus deur die eeue heen vertrap word terwyl Israel in ballingskap is en die tye van die nasies hulle loop neem. Hoewel individuele Jode in hierdie tyd gered is deur vir Jesus as Messias aan te neem, het die volk grotendeels in geestelike blindheid verkeer. Paulus sê dat “die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het” (Rom. 11:25). Hierna sal hulle as volk gered word. Jesus het ook na ‘n tyd in die toekoms verwys wanneer Israel hulle standpunt oor Hom sal verander en Hom as hulle Verlosser aanneem: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39).
Dit is dus duidelik dat Israel in die interim periode nie deur die Here verwerp en deur die kerk vervang is nie. God sê in sy Woord: “Maar ook dan, as hulle in die land van hul vyande is, verwerp Ek hulle nie en het Ek van hulle geen afsku, sodat Ek ‘n einde aan hulle sou maak en my verbond met hulle sou verbreek nie; want Ek is die Here hulle God. Maar Ek sal tot hulle beswil dink aan die verbond van die voorvaders wat Ek uit Egipteland voor die oë van die nasies uitgelei het om vir hulle ‘n God te wees. Ek is die Here” (Lev. 26:44-45).
Daar móét ‘n einde aan die tyd van wêreldevangelisasie én Israel se internasionale verstrooiing kom, want Jerusalem word net vertrap deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is. Net so seker as wat daar in die Christelike bedeling ‘n eerste geslag was toe Jesus Christus die losprys vir die wêreld se sondes betaal en sy dissipels na alle nasies uitgestuur het om dié boodskap te verkondig (Luk. 24:46-47; Hand. 1:8), sal daar ook ‘n laaste geslag wees waarin Hy sal terugkom om die regverdiges te verheerlik en die sondaars te straf. Hierdie twee geslagte staan ook in verband met die internasionale verstrooiing en eindtydse herstel van die volk Israel. In die eerste geslag is hulle uit hul land verstrooi en in die laaste geslag word hulle herstel – eers net fisies in hulle land en later ook geestelik.
Die laaste geslag het ook met ‘n geboorte begin, naamlik die geboorte van die volk Israel in Mei 1948 as ‘n herstelde volk in hulle eie land. Dit verskaf aan ons ‘n vaste vertrekpunt vir ‘n geslag van 70 jaar wat in Mei 2018 ten einde sal loop. Daar is talle profesieë oor Israel se herstel uit hulle internasionale verstrooiing: “So spreek die Here Here: Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land” (Eseg. 37:21). Die Here “sal ‘n banier ophef vir die nasies en bymekaar laat kom die seuns van Israel wat verdryf is, en versamel die dogters van Juda wat verstrooi is, uit die vier hoeke van die aarde” (Jes. 11:12). “Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander... en Ek sal hulle terugbring in die land wat Ek aan hulle vaders gegee het, en hulle sal dit in besit neem” (Jer. 30:3).
Ná Israel se herstel in Mei 1948 het hulle verder uitgebrei en hulleself in die land versterk sodat hulle die groot aanslag kon loods om Jerusalem en die Wesbankgebied, wat toe nog deur Jordanië beheer is, te herower. Dit het in die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967 gebeur. Die jong volk was egter toe nog nie uit ‘n Bybelse oogpunt staatkundig volwasse nie omdat dit nog nie 30 jaar oud was nie. Hierdie baken is eers in Mei 1978 bereik, wat die laaste volwasse geslag van 40 jaar ingelui het. Kort daarna, in Augustus 1980, is Jerusalem na sy Bybelse status herstel en tot die ewige en onverdeelbare hoofstad van Israel verklaar. Die eerste minister het hierna sy kantore uit Tel Aviv na Jerusalem verskuif.
In Christus se profetiese rede in Lukas 21 vind ons aanduidings van sowel die geboorte van die laaste volle geslag as die begin van die laaste volwasse geslag. Die bot van die vyeboom (Luk. 21:29-30) verwys na die geboorte van moderne Israel in 1948 (vgl. Hos. 9:10), terwyl die einde van Jerusalem se vertrapping en staatkundige vervreemding van Israel (Luk. 21:24) op die begin van die laaste volwasse geslag dui. Hierdie geslag het in 1978 aangebreek toe Israel 30 jaar oud was, en die weg na Jerusalem se volle staatkundige herstel in 1980 gebaan.
Die Here Jesus het in sy profetiese rede in Lukas 21 duidelik na die laaste geslag van groot benoudheid verwys, wat ná Jerusalem se vertrapping sou aanbreek: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is. En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid wanneer see en branders dreun… En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid… Voorwaar, Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie” (Luk. 21:24-32; beklemtoning bygevoeg).
Die laaste geslag kon slegs aanbreek ná die lang tydperk waarin Israel verstrooi en Jerusalem deur die nasies vertrap is. Aan die begin van die laaste geslag is Israel se posisie hervat waar dit eeue gelede aan die einde van die eerste geslag was. In 70 n.C. is hulle uit die land verstrooi, maar in 1948 was hulle aan die begin van ‘n herstelproses na die land. In 70 n.C. was Jerusalem slegs gedeeltelik ‘n Joodse hoofstad omdat die Romeinse goewerneur die oppergesag in die stad gehad het. In 1948 het Israel net die nuwe deel van Jerusalem beheer en toe nog nie jurisdiksie oor die ou deel van die stad (Bybelse Jerusalem) gehad nie.
Verdere fases van Israel se herstel in die laaste geslag is die volle herstel van Jerusalem asook die tyd van Jakob se benoudheid (die verdrukking, vgl. Jer. 30:7; Matt. 24:21), wat ‘n voorbereiding vir hulle geestelike herstel is. Die verdrukking van sewe jaar sal die vervulling van Daniël se 70ste jaarweek in Israel se heilsgeskiedenis wees (Dan. 9:27). Eers aan die einde van hierdie jaarweek sal die maat van Israel se sondes vol wees en ewige geregtigheid vir hulle as volk aanbreek (Dan. 9:24). Dit sal terselfdertyd ook die einde van die laaste geslag in die huidige bedeling tussen Christus se eerste en tweede koms wees. Dan sal Hy kom, sy voete op die Olyfberg sit, Israel sal met Hom versoen word, die oordeel oor die nasies sal plaasvind en Christus se duisendjarige regering in Jerusalem gevestig word.
Daar moet in gedagte gehou word dat Israel weens ongeloof in die Messias uit hulle land en hoofstad verdryf is (Matt. 23:37-38). Met hulle eindtydse herstel na die land is hulle uit die oogpunt van die Messias nog net so ongelowig, daarom beteken hulle fisiese en staatkundige herstel geensins dat hierdie geslag guns in die oë van die Here gevind het en reeds met Hom versoen is nie: “Daarom, sê vir die huis van Israel: So spreek die Here Here: Ek doen dit nie om julle ontwil nie, o huis van Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat julle ontheilig het onder die nasies waar julle gekom het... Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word van al jul onreinhede... Ek sal julle ‘n nuwe hart gee... [en] my Gees in jul binneste” (Eseg. 36:22-28).
Die Here spreek Israel dus nie in hul huidige toestand salig nie, maar sê dat Hy hulle in Jerusalem bymekaar maak om die vuur van sy toorn teen hulle te blaas sodat hulle gelouter en van alle onreinheid gesuiwer kan word (Eseg. 22:19-22). Weens hulle ongeloof wag daar vir hulle ‘n tyd van verdrukking onder die valse messias, wat deur hulleself bó Jesus verkies sal word (Joh. 5:43). Dit is eers aan die einde van die komende verdrukking dat ‘n oorblyfsel van Israel gered sal word (Jer. 30:7; Rom. 9:27). Wanneer die Here Jesus op die Olyfberg verskyn, sal die hele oorblyfsel van Israel opsien na Hom vir wie hulle deurboor het, en bitterlik oor Hom ween (Sag. 12:10).
Die Here Jesus se wederkoms vind reg aan die einde van die verdrukking plaas. Dit beteken dat die verdrukking van sewe jaar onder die bewind van die Antichris deel van die laaste geslag is, want wanneer Christus kom, sal Hy sy vyande in die slag van Armageddon verdelg (Op 16:13-16) en ook die Antichris en valse profeet lewendig tot die poel van vuur verdoem (Op. 19:19-21; 2 Thess. 2:8). In sy profetiese rede het Jesus duidelik gesê dat sy openbare verskyning direk ná die groot verdrukking sal plaasvind:
“Daar [sal] groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie... En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:21,29-30).
Omdat die verdrukking van sewe jaar benewens die skrikbewind van die Antichris ook ‘n oordeel van God oor ongeredde lede van Israel en die nasies sal wees, sal ware gelowiges voor die aanvang van die verdrukking deur die Here weggevoer word. Hy het vir sy dissipels gesê dat hulle vir hierdie ontmoeting waardig en heilig moet leef: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36; vgl. 1 Thess. 4:16-17; 5:23).
Vir die getroue dissipels van die Here Jesus kan die laaste geslag nie enduit hier op aarde verloop nie, omdat hulle beslis nie die voorwerpe van God se toorn in die sewe jaar van verdrukking sal wees nie. Paulus sê dat ons die Seun van God uit die hemele moet verwag, “Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos” (1 Thess. 1:10). Ons is nie vir God se toorn in die verdrukking bestem nie (1 Thess. 5:9). Trouens, die ware kerk van Christus is as ‘n tempel van die Heilige Gees ‘n teëhouer wat eers weggeneem moet word voordat die Antichris geopenbaar kan word (2 Thess. 2:6-10).
In sy profetiese rede het Christus na ‘n verlossing verwys wat reg aan die begin van die tyd van groot benoudheid sal plaasvind: “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Luk. 21:28). Ons verwag nie eerste die Antichris se verskyning of die sigbare koms van Jesus op die Olyfberg nie, maar die geheime koms van die hemelse Bruidegom wat sy bruid na haar woning in die hemel sal wegvoer. Daarna sal die Antichris geopenbaar kan word omdat sy teëhouer weggeneem is, en eers sewe jaar later sal die Here Jesus se openbare verskyning op aarde plaasvind.
Beide hierdie geslagte is oorgangstydperke waarin Israel en die kerk vir ‘n tyd lank saam bestaan het terwyl die een vir die ander een plek gemaak het. In die eerste geslag was daar ‘n oorgang van Israel af na die kerk toe, en het Israel uiteindelik as ‘n sigbare werklikheid uit hulle eie land van die toneel af verdwyn.
In die laaste geslag bestaan dié twee groepe weer saam. Nou is dit egter Israel wat in ‘n herstelfase is, terwyl die kerk gereed moet maak om enige oomblik weggeraap te word. Daarna sal ‘n gelowige oorblyfsel in Israel as ‘n geestelik herstelde volk hulle rol in God se koninkryk vervul: “In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak” (Jes. 27:6). Die Messias sal die hele wêreld van die herstelde troon van Dawid af uit Jerusalem regeer (Jer. 3:17; Hand. 15:16-17) en die geredde Israel sal deur almal geëer word: “So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die Here om genade te smeek... In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:22-23).
Voordat hierdie geseënde tyd egter kan aanbreek, moet die laaste geslag van die huidige bedeling voor Christus se wederkoms eers verder verloop sodat die hele Israel gered kan word (Rom. 11:25-27).
Tydens die sewe jaar-tydperk wanneer die verdrukking op aarde sal verloop, sal die Antichris ‘n verbond met Israel en die nasies sluit (Dan. 9:27). Die groot vraag is of die Antichris se verbond met Israel en die nasies met die herstelde siklus van jaarweke in Israel sal ooreenstem. Indien wel, dan is die jaarweek wat in Sept. 2008 begin en tot by die Rosh Hashannah in Sept. 2015 strek, die laaste een wat ten volle binne die raamwerk van die laaste geslag geakkommodeer kan word. Indien hulle nie sal saamval nie, kan hierdie sewe jaar lange verbond in elk geval nie later as 2011 gesluit word nie omdat die laaste geslag in 2018 ten einde loop. Ons is in ‘n geslag wat volgens Christus nie verby kan gaan voordat alles, insluitende sy wederkoms ná die sewe jaar van verdrukking, vervul is nie. Hierop kan u reken!
‘n Fees van Israel wat ook vervul moet word, is die jubeljaar. Ná elke sewe jaarweke word daar in die 50ste jaar ‘n jubeljaar gevier (Lev. 25:8-10). Die 50ste jaar is die eerste jaar van ‘n nuwe jaarweek, en so ‘n fees sal in Israel gevier word wanneer die Messias kom. Omdat die Jode die valse messias as die ware Messias sal aansien (Joh. 5:43), sal hulle aan die begin van die jaarweek wanneer hy regeer, só ‘n fees uitroep. Hulle sal in die middel van die week agterkom dat hulle ‘n fout gemaak het, hulle verbond met hom verbreek en na die woestyn toe moet vlug omdat hy alle Jode sal probeer uitwis (Matt. 24:15-27; Op. 12:13-14).
Die ware Messias sal aan die einde van die jaarweek kom waarin die Antichris oor die wêreld regeer het (Op. 13:7), dan sal Israel met Hom versoen word (Sag. 12:10-11; 13:8-9) en weer ‘n jubeljaar uitroep – hierdie keer op sy regte tyd.
Ons het ‘n vaste waarborg dat die laaste geslag nie verby sal gaan voordat Christus ons kom haal het nie, en dit is beslis nou baie naby. Of Israel se huidige jaarweeksiklus ‘n regstreekse rol in eindtydse gebeure rondom die openbaring van die valse messias en die koms van die ware Messias sal speel, sal binnekort duidelik word. Indien wel, dan sal die volgende jaarweek nie onvervuld verby kan gaan nie.
Die Here het nie die dag of uur van sy koms in profesieë aan ons vermeld nie, maar wel ‘n geslag genoem wat nie verby sal gaan voordat alles gebeur het nie. Soos wat ons meer lig oor die vertolking van Bybelse geslagte kry, en veral die vertrekpunt en lengte van die laaste geslag, is dit ons plig om ons toekomsverwagting duidelik op hierdie belangrike tydsraamwerk in te stel. Die woorde en beloftes van die Here Jesus kan immers nie onvervuld verbygaan nie. As mense met beperkte kennis en insig kan ons wel in ons vertolking van Bybelse profesieë foute maak. Dit sou egter ook ‘n ernstige fout wees om agter nalatige onkunde te skuil en te sê dat ons geen konkrete aanduiding van die skedulering en verloop van eindtydse gebeure binne die raamwerk van ‘n geslag het nie. Daarvoor is die stellings in die profetiese rede van Christus té duidelik en ondubbelsinnig.
Ons moet nie die profetiese woord vergeestelik, verdraai of ignoreer nie want dan kan Jesus Christus ons verkwalik nét soos wat Hy die mense verkwalik het wat nie op die tekens van sy eerste koms, asook die gebeure van die daardie eerste geslag, ag geslaan het nie: “Wanneer julle ‘n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: Daar kom reën! en dit gebeur ook. En wanneer julle die suidewind sien waai, sê julle: Dit sal gloeiend warm wees! en dit gebeur. Geveinsdes, die voorkoms van die aarde en die lug weet julle te beoordeel, maar hoe is dit dat julle hierdie tyd nie kan beoordeel nie?” (Luk. 12:54-56).
Doen u ‘n Bybelse beoordeling van die tyd waarin ons leef? Merk u op hoedat die wêreld ‘n herhaling van die tyd van Noag en Lot beleef, waarin ‘n geweldskultuur oral posvat en homoseksualisme (sodomie) aan die orde van die dag is (Gen. 6:13; 19:1-14; Luk. 17:26-30)? Sien u die voorbereidings vir die verskyning van die Antichris, wat die wêreld tot sy eie ondergang sal verenig sodat hy, as die mens van sonde, sy bose bewind op almal kan afdwing (2 Thess. 2:3-4; Op. 13:7)? Hoe reageer u op hierdie verwikkelings?
As u gered is en die Gees van God in u woon, sal u onder die teëhouers van die Antichris se ontluikende nuwe wêreldorde wees (2 Thess. 2:6-12; 1 Joh. 4:1-6). Dan sal u waardig wees om sy massamisleiding en latere skrikbewind te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan. Indien u nie deur God se Gees gelei word nie, sal u baie beïndruk met die huidige hervormings en onbeperkte menslike vryhede wees, en sodoende ‘n wegbereider vir die Antichris word. Dan sal die oordele van die laaste geslag oor u kom, naamlik die verdrukking van sewe jaar wat op die slag van Armageddon sal uitloop.
In die eerste geslag was daar ontvlugting vir die ware dissipels van die Here Jesus voordat Jerusalem en sy Messias-verwerpende inwoners deur God geoordeel en aan hulle vyande oorgegee is (Luk. 21:20-24). In die laaste geslag sal daar ontvlugting vir die ware gelowiges wees nét voordat ‘n Christus-verwerpende wêreld aan die diktatuur van die Antichris oorgegee sal word, en ook hewig onder die uitstorting van goddelike toorn sal ly (Op. 6 tot 19).
Deur die wegvoering van Christene sal ‘n Bybelse beginsel gestand gedoen word dat God nooit die ware gelowiges oordeel nie (Joh. 5:24; Rom. 8:1; 1 Thess 1:10; 5:9). Ons word wél deur ‘n bose wêreld verwerp en verdruk, maar dit is nie die oordele van God wat oor ons kom nie. Daarvoor is ons nie bestem nie. Soos wat Noag, Lot en hulle mede-gelowiges die goddelike oordele van hulle tyd fisies ontvlug het, en die Messiaanse Jode beveel is om net voor Jerusalem se vernietiging uit die stad te vlug, het ons ook die opdrag om te waak en te bid sodat ons vir die groot ontvlugting van die laaste geslag waardig sal wees (Luk. 21:36). Vertrou die Here vir volkome heiligmaking sodat u as ‘n lid van Christus se bruidsgemeente na hemelse plekke weggevoer kan word (1 Thess. 4:16-17; 5:23-24; 1 Joh. 3:2-3). Maranata!