Prof. Johan Malan, Universiteit van Limpopo, Suid-Afrika
Daar is verskeie aanduidings van tye en geleenthede in die Bybel, sommige daarvan duidelik en ander minder duidelik. Ons moet hierdie tye, sowel as hulle fisiese, morele en geestelike kenmerke (die tekens van die tye) op ‘n Bybels korrekte manier vertolk indien ons geldige aannames en gevolgtrekkings wil maak oor die tyd waarin ons leef, asook oor die nabyheid van geprofeteerde gebeurtenisse wat nog in die toekoms lê. In hierdie artikel sal ons die betekenis van seisoensjare, profetiese jare en geslagte in oënskou neem met spesifieke verwysing na Israel se tydsberekening en ook die eerste en tweede koms van die Messias.
Die mees algemene tydsberekening in die wêreld is op seisoensjare gebaseer, waarna ook soms as sonjare verwys word. In hierdie tydseenhede lei die oënskynlike kringloop van die son (eintlik die posisie van die aarde in sy baan rondom die son) na die verskynsel van verskillende seisoene, naamlik lente, somer, herfs en winter. Elke jaar word ook in maande verdeel, gebaseer op ‘n volle siklus van die maan van een nuwemaan af tot by die volgende een. Maande word in weke van sewe dae elk verdeel, terwyl dae uit 24 ure bestaan – omtrent 12 ure in die nag (vier nagwake van drie ure elk, van sononder tot 9-uur, van 9 tot 12, van 12 tot 3 en van 3-uur tot sonsopkoms) asook min of meer 12 ure in die dag tussen die opkoms en ondergaan van die son.
Die probleem is dat hierdie verskillende tydseenhede nie ten volle met mekaar sinchroniseer nie. Daar is presies sewe dae in ‘n week, maar daar is nie ‘n presiese aantal weke in ‘n maanmaand nie en ook nie ‘n presiese aantal maanmaande in ‘n seisoensjaar nie. ‘n Maanmaand is 29½ dae lank (die lengte van maande op die Joodse kalender wissel tussen 29 en 30 dae elk) en lei na ‘n sogenaamde “maanjaar” van 354 dae. Dit is 11¼ dae korter as ‘n seisoensjaar van 365¼ dae.
Israel volg nog steeds maanmaande wat van een nuwemaan tot by die volgende een strek. Hulle het egter nie maanjare nie maar seisoensjare, aangesien sekere maande op hulle kalender direk met bepaalde seisoensveranderings in die jaarlikse landbousiklus in verband staan. Nisan staan altyd met die lente in verband, terwyl Tisri met die insameling van die oes in die herfs saamval. Ten einde met seisoensjare tred te hou, het Israel skrikkeljare ingestel waarin ‘n 13de maand van 29 dae (We-Adar, of Tweede Adar) aan die einde van die jaar bygevoeg word. In elke siklus van 19 jaar is daar sewe sulke skrikkeljare, naamlik jare no. 3, 6, 8, 11, 14, 17, en 19.
In die Gregoriaanse kalender is die lengte van maande aangepas sodat daar presies 12 maande in elke seisoensjaar is, wat tot gevolg het dat die maande nie met die siklusse van die maan saamval nie. Die basiese feit is dat beide die Gregoriaanse en Joodse kalenders op seisoensjare gebaseer is. As gevolg van die veel langer skrikkeljare in die Joodse kalender, wissel hulle jaarlikse feeste soms tot ‘n maand of langer op die Gregoriaanse kalender, maar dit verloor nooit heeltemal tred daarmee nie. Die beginpunt van jare is ook heel verskillend. Israel het ‘n siviele kalender wat op die eerste dag van Tisri (Rosh Hashanah) begin, terwyl hulle ook ‘n godsdienstige kalender het wat in die lentemaand Nisan begin, wat vroeër Abib genoem is (vgl. Ex. 12:2). In die Gregoriaanse kalender is die beginpunt van jare kort ná die winter-sonstilstand in die noordelike halfrond op 1 Januarie.
Daar is ook ‘n ander kalender in die Bybel, waarna soms as die profetiese kalender verwys word. Hierdie jare is 360 dae lank en bestaan uit 12 maande van 30 dae elk. Die belangrikste rede vir hierdie kalender, waarna in Daniël 9:24-27 en Openbaring 11 tot 13 verwys word, is om ‘n presiese aftelling na die eerste en tweede koms van die Messias moontlik te maak – selfs in dae. Ander belangrike gebeurtenisse wat direk voor die Messias se wederkoms sal plaasvind, word ook in hierdie tydsraamwerk geplaas. Hierdie kalender vervang nie die Joodse of Gregoriaanse kalenders nie, maar sny oor hulle heen ten einde die tyd van sekere belangrike gebeurtenisse bo enige twyfel vas te stel. Hierdie kalender word duidelik nie op die kerkbedeling toegepas nie, en maak dus nie ‘n berekening van die tyd van die Messias se geheime koms voor die hervatting van die jaarweeksiklus moontlik nie, wanneer Israel ‘n verbond met die valse messias sal sluit. Slegs die 70ste jaarweek is nog onvervuld in die siklus van 70 jaarweke wat in Daniël 9 bespreek word. In die Nuwe Testament word hierdie jaarweek as die verdrukking beskryf, waarvan die laaste helfte die groot verdrukking sal wees (Matt. 24:21,29; Op. 7:14).
Daniël bied ‘n baie merkwaardige profesie aan waarin Israel se heilsgeskiedenis vanaf die einde van die Babiloniese ballingskap tot aan die begin van die Messias se vrederyk bespreek word: “Sewentig sewetalle is oor jou volk [Israel] en jou heilige stad [Jerusalem] bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf. Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors [die Messias] is sewe sewetalle; en 62 sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid. En ná die 62 sewetalle [m.a.w. ná 7 plus 62 sewetalle] sal ‘n Gesalfde [die Messias] uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom” (Dan. 9:24-26).
Die beginpunt van hierdie profesie was die toestemming deur die Persiese koning, Artasasta, dat die Jode na hulle land kon terugkeer om Jerusalem en die tempel weer op te bou. Die Jode in die ballingskap was in ‘n vertrapte en, menslik gesproke, hopelose toestand. Die koninklike familie en die heersers van Juda is almal deur die koning van Babel doodgemaak (Jer. 52:10-11). Jerusalem was verwoes en die indrukwekkende tempel van Salomo het in puin gelê. ‘n Klein oorblyfsel in Israel – insluitende lede van die verstrooide suidelike koninkryk van Juda, asook lede van die noordelike tienstammeryk van Israel wat vroeër reeds verstrooi is – was in Babilonië en het ‘n twyfelagtige toekoms in die gesig gestaar.
Gedurende hulle ballingskap het Daniël oor die uiteindelike herstel van Israel, hulle land en hulle hoofstad geprofeteer. Hy het gesê dat ná 70 jaarweke (70 X 7 profetiese jare) daar ‘n besliste einde aan Israel se nasionale sondes sal wees, wat beteken dat die oorblyfsel van die volk deur die Messias met God versoen sal wees. Hierdie toekomsvisie van Israel se verlossing word deur al die profete bevestig (vgl. Jes. 49:5-6; Jer. 31:31-34; Eseg. 36:22-28; Hos. 14:5-7; Sag. 8:23, 13:1) asook deur Paulus in die Nuwe Testament (Rom. 11:26). Sagaria sê dat hierdie wonderlike gebeurtenis ná ‘n persoonlike ontmoeting met die Messias tydens sy wederkoms sal plaasvind (Sag. 12:10; 14:4-5). Eers dan sal daar ewige geregtigheid in Israel heers. Al die profesieë oor hulle geestelike herstel en daaropvolgende seëninge onder die regering van die Messias sal dan vervul en verseël wees. Die tempel van die millennium sal ook gebou en aan die Here toegewy wees (Eseg. 40 tot 44).
Daniël het egter nie ‘n vinnige en probleemvrye geskiedenis vir Israel voorsien tot in die stadium wanneer die profesieë oor hulle geestelike herstel finaal vervul sal wees nie. Inteendeel! Hy het gesê dat die stad en tempel vir sewe jaarweke lank in tye van benoudheid herbou sou word. Israel se benoudheid sou nie daar ophou nie, maar verder voortduur totdat die Messias aan die einde van 69 jaarweke “uitgeroei” sou word. Dit is presies wat hulle as ‘n volk gedoen het, omdat hulle die Messias verwerp en oorgelewer het om gekruisig te word. Jesaja sê dat Hy “afgesny is uit die land van die lewendes” (Jes. 53:8). Dit beteken dat Israel hulle bande met Hom verbreek het en hulleself as gevolg daarvan tydelik van God se heilsplan afgesny het. Daar is in God se heilsplan geen toekoms vir Israel as volk sonder dat hulle die Messias ten volle aanvaar nie.
Die Here Jesus het die Jode duidelik gewaarsku dat indien hulle Hom verwerp, dit tot die verwoesting van hulle land en stad sou lei, en ook tot hulle internasionale verstrooiing (Matt. 23:37-38; Luk. 19: 41-44; 21:20-24). Gedurende die tyd van hulle geestelike blindheid sou die nie-Joodse wêreld geëvangeliseer word (Matt. 28:19).
Aangesien die kerkbedeling nie aan die Ou Testamentiese profete geopenbaar is nie, het Daniël nie die gevolge van Israel se verwerping van die Messias aangedui nie, naamlik hulle internasionale verstrooiing tydens die kerkbedeling. Aan die einde van die kerkbedeling sou Israel weer in hulle land herstel word. Aangesien hulle weens die voortgesette verwerping van die Messias steeds in ‘n toestand van nasionale rebellie teenoor God verkeer, is daar steeds geen einde aan hulle lang geskiedenis van benoudheid wat hulle tydens die Assiriese en Babiloniese ballingskap beleef het, tydens hulle daaropvolgende herstel in ongeloof, in hulle internasionale verstrooiing as gevolg van die verwerping van Jesus as Messias, en ook tydens hulle eindtydse herstel in ongeloof nie. Die Here het gesê dat Hy hulle in Jerusalem bymekaar sou maak om die vuur van sy toorn teen hulle aan te blaas (Eseg. 22:18-22). Uit hierdie pynlike proses van beproewing en benoudheid sal ‘n oorblyfsel gered word (Sag. 13:8-9; Rom. 9:27).
Die noodwendige gevolg van die verwerping van die ware Messias was geestelike blindheid, wat uiteindelik daartoe sal lei dat die volk ‘n verbond met die valse messias sal sluit (Joh. 5:43). Dit sal na die grootste probleme en benoudheid lei wat die volk nog ooit ervaar het. Jeremia sê dat dit ‘n tyd van benoudheid vir Jakob sal wees (Jer. 30:7). Die Here Jesus het gesê dat hulle ‘n groot verdrukking sal beleef soos wat daar nog nooit op aarde was nie (Matt. 24:21-22). Aangesien die komende verdrukking ‘n tyd van lyding en reiniging sal wees waaruit ‘n oorblyfsel van Israel gered sal word, vorm hierdie sewe jaar-tydperk weer ‘n deel van hulle heilsgeskiedenis. Hulle sal die siklus van 70 jaarweke hervat wanneer hulle met die valse messias ‘n verbond sluit.
Daniël sê: “...en die volk van ‘n vors wat sal kom [die valse messias], sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings. En hy [die valse messias] sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week [ná 3½ jaar] sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word” (Dan. 9:26-27).
Hierdie laaste jaarweek in Israel se heilsgeskiedenis tussen die Babiloniese ballingskap en die bedeling van geregtigheid gedurende die regering van die Messias, sal nét so letterlik as die eerste 69 jaarweke vervul word. Dit sal wêreldwyd ‘n tyd van groot rampe en goddelike oordele wees, wat na die wederkoms van die Messias sal lei. In hierdie tyd sal die lotgevalle van Israel en die nasies finaal bepaal word. ‘n Oorblyfsel van Israel en die nasies sal gered word, maar die meerderheid sal tot hulle eie verderf en ondergang ‘n verbond met die valse messias (die Antichris) sluit.
Aangesien die 70ste jaarweek deel van Israel se heilsgeskiedenis is, is dit nie ‘n deel van die kerkdispensasie nie. Die kerkbedeling sal formeel deur die wegraping van die ware gelowiges beëindig word, en aan die Antichris die geleentheid bied om geopenbaar te word en sy verbond met Israel en die nasies te sluit (2 Thess. 2:6-8). Hierdie jaarweek is duidelik in twee helftes van 3½ jaar elk verdeel, wat ook as 42 maande (Op. 11:2; 13:5) of 1260 dae elk (Op. 11:3; 12:6) uitgedruk word. Dit laat geen twyfel oor die letterlike aard van die laaste sewe jaar nie, wat ‘n presiese aftelling na die koms van die Messias op die Olyfberg sal wees. Hierdie tydperk kan nie metafories verklaar word nie.
Die gelykstelling van 3½ jaar met 42 maande of 1260 dae bepaal die tydsraamwerk van profetiese jare wat uit 12 maande van 30 dae elk bestaan. Hulle is effens korter as seisoensjare, maar maak nogtans ‘n noukeurige aftelling tot by die eerste én tweede koms van die Messias moontlik. Daniël sê hierdeur vir ons dat 69 jaarweke (483 profetiese jare) sou verloop tussen die opdrag deur Artasasta om Jerusalem te herbou (Neh. 2:1-8) en die dood van die Messias. Dit is ‘n tydperk van 173 880 dae. Artasasta se opdrag is op 1 Nisan 445 v.C. gegee en Jesus is op 14 Nisan 32 n.C. gekruisig. Die tydperk tussen hierdie twee datums is inderdaad 483 profetiese jare, of 173 880 dae. Wanneer dit deur 365¼ gedeel word, stel dit 476,06 seisoensjare op die Gregoriaanse kalender voor. Op hierdie kalender het die 69 jaarweke tussen 23 Maart 445 v.C. en Vrydag 11 April 32 n.C. verloop. Dit was ‘n baie merkwaardige en letterlike vervulling van ‘n Bybelse profesie.
Met die kruisiging van die Here Jesus het die horlosie vir Israel as ‘n volk in God se heilsplan gaan staan, en het die evangelisering van die nie-Joodse wêreld begin. Dit beteken dat Israel tydelik sy posisie as die spesiale dienskneg en mondstuk van God verloor het en dat alle mense op aarde, insluitende die verstrooide Israeliete, die geleentheid sou kry om Jesus Christus as hulle Messias en Verlosser aan te neem en sodoende deel van die koninkryk van God te word.
Met die huidige herstel van Israel en die stad Jerusalem is ons baie naby aan die einde van die tye van die nasies (Luk. 21:24). Dit beteken dat die laaste jaarweek van Israel se heilsgeskiedenis moet verloop voordat die oorblyfsel van die volk vir Jesus in een dag sal aanvaar om gered te word (Sag. 3:9). Omdat Israel in ‘n geestelik verblinde toestand in hulle land herstel word, is dit duidelik dat hulle deur die valse messias mislei gaan word. Wanneer die valse messias homself presies in die middel van die 70ste jaarweek in die herboude tempel in Jerusalem tot God sal verklaar (2 Thess. 2:4; Dan. 11:36), sal Israel besef dat hy ‘n valse ‘verlosser’ is wat oor sy ware identiteit vir hulle gelieg het, en dat hy in werklikheid daarop uit is om hulle te verdelg.
Die Antichris sal dan sy sataniese skrikbewind instel, en die hele wêreld sal met ‘n skok uit die vrede en valse gerustheid ontwaak wat hulle die eerste 3½ jaar geniet het: “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess. 5:3). Israel sal geweldig ontnugter wees wanneer hulle besef dat hulle ‘n valse messias nagevolg en aanbid het wat voorgegee het dat hy God is. Hulle sal onmiddellik hulle verbond met hom verbreek en hom verwerp. In reaksie hierop sal die valse messias hulle verbied om offers aan God (Jahweh) te bring. Hy sal ‘n beeld van homself in die Allerheiligste van die herboude tempel in Jerusalem laat oprig en eis dat alle mense hom aanbid (Dan. 9:27; 11:31,36). Die valse messias sal dan as ‘n genadelose diktator en selfverklaarde God geopenbaar word, wat die aanbidding en verering van alle mense op aarde sal eis.
Soos in Wêreldoorlog II, sal ‘n volksmoord in die tweede helfte van die verdrukking teen die Jode gepleeg word – dit is in die 3½ jaar periode wat as “die groot verdrukking” of “die tyd van benoudheid vir Jakob” bekend staan. Die ware Messias het hierdie tyd van groot benoudheid in sy profetiese rede beskryf: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom... dan moet die wat in Judea is na die berge vlug... Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:15-21). Hierdie duidelike profesie deur die Messias oor die eindtyd is ‘n onweerlegbare bewys van die feit dat Daniël se profesieë nie almal in Ou Testamentiese tye vervul is nie. Daniël verwys ook in sy profesieë oor die eindtyd na die donker dae van die komende verdrukking onder die Antichris se leiding: “En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel” (Dan. 11:31).
Tydens die hoogtepunt van die groot verdrukking sal die Messias kom: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:29-30). “In dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant” (Sag. 14:4). Hy sal dan die valse messias, die valse profeet en hulle leërs verdelg (Op. 19:19-21).
Dit was met die oog op hierdie tyd van geweldige verdrukking en demoniese misleiding dat die Here aan Israel ‘n aftelling tot by sy wederkoms gegee het: “Dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan... En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal 1290 dae verloop. Welgeluksalig is hy wat bly verwag en 1335 dae bereik” (Dan. 12:1,11-12).
Van die tyd af dat die valse Messias die offerdiens sal verbied en die tempel ontheilig deur ‘n beeld van homself daarin te plaas, sal 1260 dae verloop totdat die ware Messias sy voete op die Olyfberg sit (Dan. 9:27; Op. 13:5). Ná ‘n verdere 30 dae van rou (vgl. Sag. 12:10-11; Num. 20:29; Deut. 34:8) sal die geestelike vereniging tussen Israel en die Messias voltooi wees. Dan sal daar 1290 baie dramatiese dae verloop het sedert daardie donker dag van openlike rebellie teen die koninkryk van die hemel, toe die valse messias homself in die tempel tot God verklaar het. ‘n Verdere 45 dae sal deur die bruilofsmaal van die Lam, die herstel van die troon van Dawid in Jerusalem en die oordeel oor die nasies in beslag geneem word (Op. 19:7-9; Hand. 15:16-17; Matt. 25:31-32).
Wanneer die Messiasryk formeel begin, sal 1335 dae verstryk het sedert die aanvang van die valse Messias se skrikbewind toe sy afgodsbeeld in die tempel opgerig is. Jode wat hierdie verskriklike tyd oorleef, sal ná die 1260 dae van die groot verdrukking die koms van die Messias aanskou. Ná 1290 dae sal hulle geestelik met Hom versoen wees, en ná 1335 dae sal hulle die beloofde ryk van die Messias binnegaan. Dan sal ewige geregtigheid vir hulle as volk van God aanbreek terwyl die Messias uit Jerusalem regeer (Jes. 2:2-4).
Dit is baie duidelik dat die profesie van die 70 jaarweke ‘n eksakte en betroubare aftelling na die eerste én tweede koms van die Messias insluit, terwyl dit ook die tydperk van die valse messias se regering in profetiese jare, maande én dae aftel. Hierdie profesie gee egter nie aan ons enige aanduiding van hoe lank die kerkbedeling is wat ná die “uitroei” of “afsny” van die Messias deur Israel verloop nie. Ander Skrifgedeeltes sal hieroor geraadpleeg moet word.
Die Here het nie gesê hoe lank die kerkbedeling sou wees nie, behalwe net vir ‘n benaderde aanduiding dat sy bediening van gesondmaking en verlossing vir “twee dae” (van ‘n duisend jaar elk) sou voortduur. In God se tydsberekening is daar nie net ‘n week van dae (7 dae; vgl. Lev. 23:3), ‘n week van weke (49 dae; vgl. Lev. 23:15; Deut. 16:16), en ‘n week van jare nie (7 jaar; vgl. Lev. 25:3-8; Dan. 9:24-27), maar ook ‘n week van millennia (7000 jaar; vgl. 2 Pet. 3:8). In die laasgenoemde geval verteenwoordig een dag ‘n duisend jaar (vgl. Hos. 6:1-2 en Luk. 13:32 waarin sulke dae bedoel word).
In die week van menslike heilsgeskiedenis op aarde het daar twee dae tussen Adam en Abraham, twee dae tussen Abraham en Christus, en twee dae tussen Christus se eerste en tweede koms verloop, terwyl die sewende dag die duisendjarige vrederyk van Christus sal wees. Gedurende die sewende dag, wat ook as “die dag van die Here” beskryf word, sal Christus as Regter én Koning geopenbaar word (vgl. Jes. 13:9; Sag. 14:9; Op. 6:16-17; 20:6).
In die profetiese rede van die Here Jesus is daar duidelike verwysings na die eerste én laaste geslagte van die kerkbedeling, maar baie mense sien nie die groot betekenis hiervan raak nie. Die eerste geslag ná die koms van die Messias het met die vernietiging van Jerusalem en die internasionale verstrooiing van die Jode geëindig (Matt. 23:33-38), terwyl die laaste geslag op die wederkoms van die Messias en die einde van die groot verdrukking sal uitloop, wanneer Hy ook vir Israel geestelik sal herstel (Luk. 21:25-32; Eseg. 36:24-25).
‘n Volle geslag stel ‘n tydperk van 70 jaar voor (Ps. 90:10). Die begin van die laaste volle geslag voor die Messias se terugkeer na Jerusalem (Sag. 14:4-5), was die geboorte van die moderne Joodse staat in Mei 1948. Die Here werk egter meesal met Israel binne die verband van volwasse geslagte van 40 jaar, aangesien Hy die volwasse geslag vir hulle dade aanspreeklik hou. Ná Israel se uittog uit Egipte het Hy hulle 40 jaar lank in die woestyn laat rondtrek totdat die volwasse geslag wat teen Hom in opstand gekom het, gesterf het (Num 32:13). Volwaardige volwassenheid word in Israel op die ouderdom van 30 jaar bereik wanneer mans godsdienstig én polities mondig is en toegelaat word om openbare ampte op dié terreine te beklee. Om dieselfde rede kon Jesus eers met sy openbare bediening as leermeester in Israel begin nadat Hy die ouderdom van 30 bereik het. ‘n Volwasse geslag verwys na die periode tussen 30 en 70 jaar (vgl. 2 Sam. 5:4).
Dit moet beklemtoon word dat daar nie so-iets soos ‘n “profetiese geslag” van 14 000 dae is, wat in terme van profetiese jare bereken word nie. Die ouderdomme van persone in Israel word altyd in seisoensjare uitgedruk, aangesien Israel se maankalender daarby aangepas is.
Die begrensing van die eerste en laaste volwasse geslagte van die huidige bedeling tussen die eerste koms en die wederkoms van Christus word duidelik in die Bybel gedoen. Die eerste geslag het begin toe Jesus Homself as Messias-Koning aan die Jode gebied, en deur hulle verwerp en gekruisig is. Die einde van die eerste geslag was tydens die vernietiging van Jerusalem en die wegvoering van Joodse krygsgevangenes aan die begin van hulle internasionale verstrooiing.
Die laaste geslag het met die herstel van Jerusalem na sy eertydse status as die hoofstad van Israel begin. Hierdie geslag sal in dieselfde situasie eindig as waarin die eerste geslag begin het: Die inwoners van Jerusalem sal weer die geleentheid kry om Jesus as hulle Messias-Koning te aanvaar en vir redding en die reiniging van hulle sondes voor Hom neer te buig (Sag. 12:10; 13:1). By die eerste geleentheid het hulle Hom verwerp, maar by die tweede geleentheid sal hulle Hom ten volle aanvaar. Hulle sa opsien na Hom vir wie hulle deurboor het, en sê: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39).
‘n Baie opvallende eienskap van die eerste en laaste geslagte in die kerkbedeling is die naasbestaan van Israel en die kerk. In die eerste geslag is die kerk geleidelik ingefaseer, terwyl Israel op ‘n koers was om as volk deur middel van hulle internasionale verstrooiing na die nasies uitgefaseer te word. In die laaste geslag word Israel weer geleidelik in hulle land en in wêreldsake ingefaseer, terwyl die kerk moet voorberei om deur middel van die wegraping uitgefaseer te word.
Dat daar noodwendig ‘n laaste geslag voor die wederkoms sal wees, is net so seker as wat daar ‘n eerste geslag ná die verwerping en kruisiging van Christus was. Ons moet duidelikheid oor die vertrekpunte van hierdie twee geslagte hê as ons ook hulle afsluiting reg wil verstaan. In die jaar 32 het die Here Jesus lede van ‘n volwasse geslag aangespreek, dit wil sê, persone van 30 jaar en ouer, en aan hulle gesê dat binne hulle geslag (van 40 jaar) Jerusalem vernietig en Israel uit hulle land verdryf sou wees (Matt. 23:32-38). Hy het daarmee letterlik bedoel dat teen die jaar 72 n.C. hierdie profesieë reeds vervul sou wees. Dit is ‘n histories bekende feit dat Jerusalem in 70 n.C. deur die Romeine verwoes en al die oorlewende Jode daarna as krygsgevangenes weggevoer is (Luk. 21:20-24).
Die volle geslag van 70 jaar het al die Jode ingesluit wat in of voor die jaar 2 n.C. gebore is. Hierdie geslag het in 72 n.C. geëindig. In die jaar 32, toe hierdie geslag politieke en godsdienstige mondigheid bereik het, moes Israel besluit of hulle vir Jesus as Koning en Messias sou aanvaar. Omdat hulle geweier het om dit te doen, moes die lede van daardie volwasse geslag die bitter gevolge van hulle ongeloof en goddeloosheid dra (Matt. 23:37-38). Daardie geslag het nie verbygegaan voordat al die profesieë oor Jerusalem se vernietiging en Israel se verstrooiing vervul was nie.
Die laaste geslag van 70 jaar het in 1948 met die geboorte van die staat Israel begin, en 30 jaar later in 1978 mondigheid bereik. Kort daarna, in 1980, is Jerusalem tot hoofstad verklaar sonder om enige erkenning aan die Messias te gee. Israel is nou in hulle 40 jaar van aanspreeklikheid as gevolg van hulle voortgesette verwerping van die Messias. As gevolg hiervan sal hulle verkeerdelik met die valse messias ‘n verbond sluit. Voordat hierdie sewe jaar-tydperk egter aanbreek, sal die Here Jesus die ware gelowiges deur die wegraping na die hemel toe wegvoer (Luk. 21:36; Joh. 14:2-3; 1 Thess. 4:16-18).
Ons het sterk bewyse vir die feit dat ons in ‘n gevorderde stadium van die laaste geslag is, en dat hierdie geslag nie langer as 2018 kan voortduur nie. Die Here Jesus het belowe dat hierdie geslag nie sal verbygaan voordat alles (insluitende die verdrukking) vervul is nie. Ons moet ook noukeurig op Israel se jaarweke let, wat weer in 1980 ingestel is toe Jerusalem tot hoofstad verklaar is. Die huidige jaarweek het met die Rosh Hashanah in 2001 begin, baie naby aan die val van die tweetoringgebou in New York. Die volgende jaarweek sal in September 2008 begin, en sal die laaste een wees wat ten volle in die huidige geslag geakkommodeer kan word. Dit lyk dus of die volgende jaarweek bestem is om die 70ste jaarweek van Daniël te wees. Dit is, indien ons begrip van die vertrekpunt en einde van die laaste geslag korrek is.
Ons moet ook uit ‘n ander oogpunt versigtig wees om gevolgtrekkings oor die begin van die laaste jaarweek te maak. In die 1980’s het rabbi Ben Zion Wacholder na aanleiding van sy navorsing bevind dat Israel se huidige siklus van jaarweke, wat op die datums vir sabbatsjare gebaseer is wat in die 12de eeu deur Maimonides verstrek is, nie met die Bybelse chronologie sinchroniseer nie en een jaar aangeskuif moet word. Of dit waar is, en of Israel ná soveel jare nog op hierdie inligting sal reageer, is nie seker nie. Wat wél seker is, is dat ons vinnig na die laaste jaarweek van die laaste geslag voor die wederkoms van die Messias op pad is. Aan die begin van die laaste jaarweek sal Israel ‘n verbond van sewe jaar lank met die valse messias sluit. Kort voordat hierdie kritieke jaarweek begin, het alle weergebore gelowiges ‘n afspraak voor die regterstoel van Christus in die hemel. Die enigste manier om in verheerlikte liggame by hierdie geleentheid van beoordeling en die toekenning van genadeloon in die hemel uit te kom, is deur middel van die wegraping. Ons sal deur goddelike krag “weggevoer word” om die Here in die lug te ontmoet (1 Thess. 4:16-17).
Aangesien die Antichris vir een week lank ‘n sterk verbond met baie nasies sal sluit (Dan. 9:27), is dit net logies om aan te neem dat daar in die voorafgaande jaarweek al ‘n duidelike patroon van eindtydse gebeure waarneembaar sal wees. Indien die huidige jaarweek (Sept. 2001 tot Sept. 2008) die aanloop na die 70ste jaarweek van Daniël is, dan moet ons in hierdie baie belangrike tydperk ag slaan op die ernstige waarskuwings wat uit verskeie tekens van die tye tot ons spreek. Die volgende gebeurtenisse het die nuustoneel in die eerste jaarweek van die nuwe millennium oorheers:
Terrorisme en oorlog
· Die huidige jaarweek het in die skadu van die 9/11 aanvalle begin. Dit was die ergste terroriste-aanval wat daar ooit teen Amerika of enige ander land uitgevoer is. Hierdie aanvalle het verreikende gevolge vir die VSA én die hele wêreld, omdat dit terrorisme tot ‘n belangrike vorm van internasionale oorlogvoering verhef het. Bose mense infiltreer hulle gasheerlande om netwerke van terreur daar te vestig. Die psalmis sê: “Die donker plekke van die land is vol wonings van geweld” (Ps. 74:20).
· As gevolg van die VSA se steun vir en bewapening van Israel – Islam se geswore vyand in die Midde-Ooste – is die jare voor 9/11 deur ‘n sterk opbou van spanning tussen Amerika en fundamentele Moslem-groepe in die wêreld gekenmerk. Ander faktore wat tot hierdie haatveldtog bygedra het, is Amerika se leidende rol in Operation Desert Storm, wat vir die Moslems hoogs onaanvaarbare militêre intervensie in ‘n Islamitiese staat was.
· Die betrokkenheid van Islamitiese terroriste in die 9/11 aanvalle het ‘n tydperk van die vinnige opbou van vyandelikhede tussen Moslem fundamentaliste en Amerika en sy bondgenote ingelui. Die opsienbarende manier waarop Amerika se eer gekrenk is, het tot woedende vergeldingsaanvalle teen Afghanistan en Irak gelei, en daardeur die klimaat vir verdere groot oorloë geskep.
Die opkoms van Babilon
· Toe die VSA Irak ingeval het, het hulle ‘n land ingeval wat nie alleen met die oorsprong van die mens in die Tuin van Eden geassosieer word nie, maar ‘n land wat ook met uiterste demoniese aktiwiteite in antieke tye verbind word. Satan se eerste oorwinning teen die mensdom is hier behaal toe hy ons eerste ouers, Adam en Eva, suksesvol verlei en in sy mag gekry het. Later, ná die sondvloed, was Satan die motiverende krag agter die vestiging van die eerste goddelose wêreldryk met sy hoofstad, Babilon, op die walle van die Eufraatrivier. Vyandighede het hier voortgeleef. Die herstelde Babiloniese ryk van Nubukadnesar het vir Israel as die verteenwoordiger van God se koninkryk op aarde probeer uitwis. Babilon is ook bestem om die tuiste van die laaste groot rebellie teen die mensdom te wees, naamlik die regering van die Antichris (Op. 17 & 18). Voordat dit kan gebeur, moet die Islamities-gedrewe Irakse konflik eers die wêreldvrede tot in só ‘n mate bedreig dat Irak die grootste enkele uitdaging vir die instelling van ‘n nuwe wêreldorde sal wees. Besluite oor vrede of oorlog in die wêreld sal afhang van wat hier gebeur.
· Die Amerikaans-geleide oorlog teen Irak het die antieke Babiloniese gees van openlike rebellie teen die koninkryk van God laat herleef. Hierdie gees weerstaan die Heilige Gees én ook elke land en ideologie wat regstreeks of onregstreeks met God se koninkryk geassosieer word. Die mees gehate vyande van die koninkryk van die duisternis is Christelike volke, asook Israel en sy ondersteuners. Die gees van rebellie teen Joods-Christelike beginsels word deur fundamentele Islamitiese groepe bevorder, en is tot ongekende hoogtes deur die Amerikaanse intervensie in die Islamitiese wêreld aangeblaas.
· Die groot betekenis van Babilon se eindtydse rol word deur etlike Bybelse profesieë bevestig (vgl. Jes. 13; Jer. 50 & 51, Op. 17 & 18). Dit is totaal ongeregverdig om hierdie profesieë op Rome of New York toe te pas. Hierdie stede is nie die oorsprong of simbool van Satan se rebellie teen God nie en sal dus nie, soos Sodom en Gomorra, totaal vernietig word nie; hulle was ook nooit deel van ‘n terrein waar Arabiese herders hulle tente sou wou opslaan nie (Jes. 13:19-22). Babilon is die oorsprong van alle boosheid in die wêreld, en dus die enigste gepaste plek waar die oorwinning en uitdelging daarvan in die oë van die nasies wat deur haar verlei is, gedemonstreer kan word.
Ekonomiese tekens
· Die val van die tweetoringgebou in New York was simbolies van Amerika se ekonomiese ineenstorting en sy vinnige ondergang as die enigste supermoondheid in die wêreld. Die administrasie van George Bush het gevaarlike kompromieë met die sogenaamde “gematigde Islam” gemaak, veral met die rebelse Palestynse staat, terwyl hulle Israel ook voorwaardelik ondersteun. In die proses het hulle Islam gepolariseer deur hulle provokasie van die fundamentaliste, en terselfdertyd ook Israel se posisie verswak deur hulle te dwing om selfvernietigende kompromieë te maak en van dele van hulle godgegewe land afstand te doen. Die verswakking en veroordeling van Israel blaas ook die vlamme van die wêreldwye jihad aan. Die noodwendige gevolg van hierdie gevaarlike speletjie om te Israel te help én te benadeel is dat Amerika die vloek van Genesis 12:3 oor hulleself bring. Die VSA sal egter nie totaal verwoes word soos wat verwag word deur diegene wat verkeerdelik die VSA en Babilon met mekaar gelykstel nie, maar hulle sal ten minste hulle ekonomiese vermoë verloor om die wêreld te kan domineer.
· Die ekonomiese toekoms van die wêreld is van die voortgesette voorsiening van groot hoeveelhede ruolie uit die oorbenutte olievelde afhanklik. Die huidige jaarweek het die olieprys van net meer as $20 per vat in 2001 tot meer as $65 per vat in 2005 sien styg. Die sewe Persiese Golf-lande besit 57% van die wêreld se totale oliereserwes. Die hoogste reserwes is in Saoedi-Arabië, gevolg deur Irak. Dit is baie duidelik dat vrede en politieke stabiliteit in die Midde-Ooste gevestig sal moet word indien die wêreld ‘n versekerde ekonomiese toekoms wil hê. Dit vereis aktiewe intervensie deur die internasionale gemeenskap in die sake van die hoogs verdeelde en veranderlike Midde-Ooste. Die ekonomiese toekoms van die wêreld sal ongetwyfeld hier beslis word – nie in New York, Rome of Londen nie.
· Die belangrike gebeurtenisse wat tot die skerp styging in die olieprys bydra, is oorloë, natuurrampe, die gebruik van olie as ‘n politieke wapen deur Opec, asook die skerp stygende vraag na olie in Sjina as gevolg van hulle hoë ekonomiese groeikoers. Indien Sjina se groeiende industriële vermoë deur ‘n onseker olietoevoer bedreig word, kan hierdie polities hoogs onvoorspelbare land met sy bevolking van 1,2 miljard mense dalk die olieproduserende lande van die Persiese Golf inval ten einde die toevoer van olie hiervandaan te verseker.
Godsdienstige tekens
· Tydens die Millenniumberaad van die Verenigde Nasies is daar ‘n Verenigde Godsdienste Inisiatief in die lewe geroep om die pogings deur politici te ondersteun om vrede en eenheid in die wêreld te skep. Dit verraai die gees van ons tyd, en vind ook aansluiting by inisiatiewe soos dié van die Parlement vir Wêreldgodsdienste. Die eerste jaarweek van die millennium word inderdaad deur ‘n wêreldwye alliansie tussen politiek en godsdiens gekenmerk. Hierdeur word die weg vir ‘n toekomstige wêreldleier voorberei wat nie alleen ‘n politieke en ekonomiese leier sal wees nie, maar ook ‘n geestelike verlosser vir die mensdom.
· Die dood van pous Johannes Paulus in die middel van hierdie jaarweek, asook die inhuldiging van ‘n nuwe pous, het die potensiaal van ‘n geestelike leier bevestig om die mensdom in sy soeke na vrede en versoening te verenig. Selfs voormalige teëstanders van die Rooms-Katolieke Kerk het na Rome toe gekom om die nuwe pous geluk te wens en deur hom geseën te word. Hierdie verwikkelings het die gees van godsdienstige kompromie gedemonstreer wat met die noodwendige verlies aan leerstellige suiwerheid bevorder word. Die eindresultaat hiervan sal multigodsdienstige ekumeniese bande wees, wat die koms van die universele messias van alle gelowe sal bespoedig.
· Daar is inderdaad ‘n groeiende verwagting onder die aanhangers van die meeste groot godsdienste in die wêreld dat ‘n messias spoedig op die toneel sal verskyn om die mensdom weg van ‘n dreigende derde wêreldoorlog af te lei na ‘n nuwe dispensasie toe waarin alle godsdienstige groepe in vrede dieselfde toekoms met mekaar deel. Die universele messias sal die Christus vir die Christene wees, die Messias vir die Jode, die Imam Mahdi vir die Moslems, Krishna vir die Hindoes en die Maitreya Boeddha vir die Boeddhiste. Die Bybel noem hierdie intergeloofsmessias die Antichris.
Morele verval
· ‘n Immorele lewenswyse word toenemend die algemene kenmerk van die bevryde, postmoderne mensdom van die nuwe millennium. Die normatiewe waardes van die Christendom is byna heeltemal oorboord gegooi en immorele gebruike soos sodomie, hoerery, buite-egtelike verhoudings, aborsie, drank- en dwelmmisbruik, asook lastertaal, is oral aan die orde van die dag. Pornografiese webblaaie op die internet dra daartoe by om die proses van wêreldwye morele verval aansienlik te bespoedig. Die reputasie van Sodom en Gomorra as van die mees goddelose en losbandige samelewings ter wêreld is besig om deur strawwe kompetisie uit die tegnologies moderne maar moreel verrotte wêreld van ons tyd bedreig te word. Neem in ag dat daar in Sodom en Gomorra nie eers Bybels of ‘n Christelike tradisie was nie, dan is dit duidelik dat die oordeel oor moderne boosdoeners wat van beter behoort te weet, in werklikheid swaarder sal wees.
· ‘n Geweldskultuur is besig om oral in die meeste “ontwikkelende lande” pos te vat waar daar ‘n groot kompetisie vir mag en lewensmiddele is. Dit is een van die maatskaplike gevolge van die verwerping van morele en godsdienstige waardes. Soos in Noag se tyd kort voor die vloed, is die wêreld boos en vol geweld (Gen. 6:5,12-13). Die ergste vorms van geweld en terrorisme word teen politieke opponente gebruik, terwyl godsdienstige teëstanders ook dikwels afgemaai word. Selfs lede van opponerende sportspanne en hulle ondersteuners moet soms met hul lewe boet. In baie van die wettelose samelewings word gesagspersone soos amptenare, onderwysers en polisiemanne deur bendes aangeval en vermoor. Weerlose vrouens en kinders, asook ou mense, is in baie gevalle die slagoffers van rooftogte, aanrandings en molestering. Finansiële instellings soos banke en winkels is gedurigdeur teikens vir rooftogte.
· Materialisme, dobbelary, korrupsie en diefstal vier oral hoogty omdat Mammon, die geldgod, aan mense ‘n onversadigbare drang na meer geld gee. As gevolg van onregmatige selfverryking word die rykes nóg ryker. Diegene wat hulleself nie op wettige maniere kan verryk nie, wend hulle dikwels tot dobbel en diefstal. Uit hierdie gesindheid van materialisme vloei ‘n menigte sondes voort, want die geldgierigheid is die wortel van alle euwels (1 Tim. 6:9-10). Die eindtydse gemeente, Laodicea, ly ook aan hierdie sondige gesindheid en word as gevolg daarvan deur die Here uit sy mond gespuug. Hulle is materieel voorspoedig, maar geestelik bankrot (Op. 3:16-17).
Die nuwe wêreldorde
· Amerika se “Padkaart na Vrede” in Israel is ‘n tipiese nuwe wêreldorde beleid wat daarop ingestel is om die situasie in die Midde-Ooste te internasionaliseer deur ten koste van Israel aan Moslem-eise toe te gee. Dit is ‘n poging om die internasionale gemeenskap wat oorwegend pro-Palestyns en anti-Israeli is, tevrede te stel. Hierdie beleidsdokument wettig ook inmenging van buite af in state se interne sake, en ontken daardeur die beginsel van die absolute soewereiniteit van state buite die sfeer van die wêreldmening. Die onttrekking van Israel uit gebiede in Gasa en die Wesbank sal die druk op die status van Jerusalem as Joodse hoofstad aansienlik laat toeneem. Dit is ‘n belangrike teken van die tye, en berei die weg vir ‘n internasionale drukgroep teen die Joodse beheer van Jerusalem voor. Hierdie probleem sal versleg tot op die punt van ‘n volskaalse oorlog teen Jerusalem (Sag. 12:2-3). Hier sal die Here die rebelse nasies oordeel wat geweier het om Israel se godgegewe reg oor hulle land en hoofstad te erken (Sag. 14:2,12; Joël 3:2).
· Op ‘n VN beraad in 2005 is groot kommer uitgespreek oor die doeltreffendheid van die wêreldliggaam om wêreldwye probleme soos terrorisme, diktatorskappe, armoede en siekte te bekamp en uiteindelik uit te skakel. Die algemene houding wat deur lede ingeneem is, is dat die wêreld ‘n VN met uitvoerende magte nodig het – nie ‘n hond sonder tande soos wat die huidige organisasie is nie. Dit sal die begin van wêreldregering wees en die Antichris in staat stel om beheer oor die hele wêreld te verkry: “En die draak [Satan] het hom [die Antichris] sy krag gegee en sy troon en groot mag... en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:2,7). Die VN is duidelik besig om in die duiwel se hande te speel deur ‘n nuwe wêreldorde te beplan, asook ‘n wêreldregering wat gebruik sal word om sataniese magte wêreldwyd formeel in te stel.
· Die ontluikende nuwe wêreldorde sal ‘n herlewing van die antieke wêreldryke wees wat almal in ‘n noue bondgenootskap met ‘n valse wêreldgodsdiens gefunksioneer het. Hierdie regeringstelsel sal weer herhaal word omdat die ontugtige vrou, wat die moeder van al die valse godsdienste is, op die dier (die Antichris) se rug sal ry. Die komende bedeling sal terselfdertyd aspekte van die antieke Babiloniese, Griekse en Romeinse ryke beliggaam. Die Antichris is die horing wat nie alleen uit die tien horings van die herstelde Romeinse ryk voortkom nie (Dan. 7:20-21), maar ook uit die verdeelde Griekse ryk ná Alexander die Grote (Dan. 8:8-9,21-25). Verder sal hy die antieke Babiloniese godsdiens, asook die stad Babilon, laat herleef (Op. 17 & 18). Uit hierdie aanduidings is dit duidelik dat die Antichris uit ‘n gebied in die Midde-Ooste sal opstaan wat deel van al drie die genoemde ryke was – dit was die Siriese provinsie in die ou Romeinse ryk, Sirië (die koning van die noorde) in die Griekse ryk, en Babilonië in die Babiloniese ryk. Huidige ontwikkelings in die Arabiese wêreld, veral in Irak en Sirië, is van groot profetiese betekenis omdat dit die weg berei vir ‘n valse vredevors wat ‘n sterk magsbasis noord van Israel sal vestig. Van hier af sal hy ook die wêreld polities, ekonomies en godsdienstig beheer.
Natuurrampe
· Die aardbewings en ander natuurrampe wat in die profetiese rede van Christus bespreek is, het meesal op die verdrukking van sewe jaar betrekking omdat hulle die nabyheid van sy openbare verskyning aandui (vgl. Sag. 14:4-5; Op. 6:12; 16:18-21). Ons sien egter nou al ‘n merkbare toename in aardbewings as ‘n voorspel tot die veel groteres wat sekerlik in die komende verdrukking sal plaasvind.
· Die tsunami-ramp wat op 26 Desember 2004 in Suidoos-Asië voorgekom het, het die realiteit van die feit onderstreep dat die kragte van die hemele wêreldwyd geskud sal word voordat die Seun van die mens kom (Luk. 21:25-27). Daar sal ook ontstellende tekens in die buitenste ruimte wees. Indien ons in ‘n jaarweek verkeer wat ‘n aftelling na die verdrukking is, moet ons verwag dat natuurrampe meer dikwels en ook met groter lewensverlies sal voorkom.
· ‘n Baie opvallende en ontstellende teken in die natuur is dié van aardverwarming. Die Antarktiese yslaag bevat 30 miljoen biljoen ton ys, wat vier keer meer as al die vars water in die hele res van die wêreld is. Slegs ‘n gedeelte hiervan hoef te smelt om ‘n ramp te veroorsaak. Die vlak van die wêreld se oseane kan met omtrent vyf meter styg indien die yslaag smelt, en daardeur die helfte van Bangladesj en ‘n driekwart van Holland oorstroom, asook Kalkutta en groot dele van Sydney, Londen en Florida. In Bangladesj is daar 50 miljoen mense wat minder as vyf meter bokant die seevlak leef. Daar is ook baie ander laagliggende dele in die wêreld wat geraak sal word. Ander skrikwekkende scenario’s in verband met aardverwarming word ook nou bekend gemaak. Die reënwoude in die Amasone-gebied kan in hulle geheel uitdroog en doodgaan. Indien die wêreld se klimaat na ‘n nuwe stabiele vlak van 6 grade warmer as tans verander, kan ‘n derde van die totale landmassa in woestyne verander. Die onlangse reeks orkane wat die suidelike en oostelike VSA getref het, het ook vrae oor die verband tussen orkane en aardverwarming laat ontstaan. Daar word verwag dat die intensiteit van orkane as gevolg van die stygende temperatuur op die see se oppervlakte in ‘n warmer wordende aarde sal toeneem. Die Bybel verwys na geweldige hittegolwe wat in die komende verdrukking sal voorkom, terwyl die hoër stygende warm lug ook na ongekende haelstorms sal lei (Op. 16:8-9,21).
Indien al hierdie tekens beoordeel word binne die raamwerk van ‘n laaste geslag wat duidelik deur die Here Jesus self beskryf is, dan het ons uit onlangse gebeure meer as genoeg getuienis dat die wêreld op ‘n tyd van ongekende rampe afstuur – sommige van hulle mensgemaak, terwyl ander deur ‘n goddelike skudding van die natuur se kragte veroorsaak sal word. Die erns van die komende verdrukking as God se oordele oor die goddeloses, word met die groot katastrofes vergelyk wat in die tyd Noag en Lot voorgekom het (Luk. 17:26-30). Soos in daardie vroeë tye, word gelowiges weer ernstig gewaarsku om vir ‘n ontruiming van die gebied van goddelike oordele gereed te maak – in hierdie geval ver weg van die planeet aarde af, wat in sy geheel getref sal word.
Noag moes ‘n ark bou om die vernietiging van die groot vloed te ontsnap. Lot en sy familie moes na die berge toe vlug om die verwoesting van Sodom en Gomorra deur vuur te ontsnap. Ons word vermaan om te waak en bid sodat ons waardig sal wees om al die verskriklike dinge wat tydens die verdrukking oor die aarde sal kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan (Luk. 21:36). Dit beteken letterlik dat ons die aarde in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, sal verlaat om die Here in die lug te ontmoet (1 Kor. 15:51-52; 1 Thess. 4:16-17). Christus sal sy bruid van die aarde af wegneem na haar hemelse woning wat Hy vir haar gaan berei het (Joh. 14:2-3).
Die bruid moet heilig leef en gedurig vir die skielike koms van die Bruidegom gereed wees: “Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie” (Matt. 25:13). Ons weet beslis nie op watter uur en dag die Here Jesus ons sal kom haal nie, maar ons weet dat dit naby is: “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Luk. 21:28). Ons weet vir seker dat ons in ‘n gevorderde stadium van die laaste geslag is, waarvan Jesus Christus gesê het: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie” (Luk. 21:32). Die Here sal nie na ‘n geslag verwys waarvan ons die beginpunt nie uit sy Woord kan bepaal nie.
Ons moet nie nalaat om op die tekens van die tye ag te slaan nie: “Wanneer julle ‘n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: Daar kom reën! en dit gebeur ook. En wanneer julle die suidewind sien waai, sê julle: Dit sal gloeiend warm wees! en dit gebeur. Geveinsdes, die voorkoms van die aarde en die lug weet julle te beoordeel, maar hoe is dit dat julle hierdie tyd nie kan beoordeel nie? (Luk. 12:54-56). Net so seker as wat die westewind in Israel vogtige lug van die Middellandse See af inbring, en die suidewind hitte van die Negef-woestyn af inwaai, is die huidige tekens in die wêreld ‘n voorspel tot die tyd van groot rampe en oordele wat vir die hele wêreld voorspel is.
Het jy gemerk dat die vyeboom ná Israel se verstrooiing van byna twee millennia gebot het? (Luk. 21:29-30). Hosea het gesê dat die Here vir Israel ná twee dae (2000 jaar) van swaarkry en vervolging geestelik sal lewend maak, sodat hulle in die derde duisend jaar voor sy aangesig kan leef (Hos. 6:1-2). Het jy gesien hoedat die laaste geslag ontwikkel het tot in die stadium dat Jerusalem as Israel se hoofstad herstel is nadat dit eeue lank deur nie-Joodse volke vertrap is? (Luk. 21:24). Ervaar jy die onheilspellende koers van gebeure wat duidelik na ‘n groot verdrukking lei soos daar nog nooit op aarde was nie? Weet dan dat die tyd van God se toorn oor die goddeloses baie naby is.
Indien jy ongered is, het jy alle rede om diep bekommerd te wees, en selfs te wanhoop, omdat daar menslik gesproke geen manier is om die komende oordele oor die sondaars te ontvlug nie. Indien jy egter die Here Jesus as jou Verlosser aangeneem het, sal jy nie in die oordele oor die goddeloses kom nie (Joh. 5:24; Rom. 8:1). In plaas daarvan sal jy vir die hemelse Bruidegom wag wat ons van die toekomstige toorn sal verlos (1 Thess. 1:10), “want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus” (1 Thess. 5:9).
Soos in die tyd van Noag en Lot, sal uiterste verwoesting die goddeloses oorval spoedig ná die vertrek van diegene wat soos ligte geskyn het te midde van ‘n krom en verdraaide geslag (Fil. 2:15). Dan sal die teëhouer teen uiterste goddeloosheid en misleiding weg wees (2 Thess. 2:6-10) en sal ‘n tyd van groot benoudheid oor die hele aarde aanbreek.