Johan Malan (Sept. 2007)
Paulus het aan Timótheus sekere voorskrifte gegee oor hoe om aan Christus, aan die Woord en aan sy roeping as evangelis, getrou te bly. Dit het ‘n verbintenis ingesluit om die waarheid te verkondig, selfs te midde van die grootste teëstand van valse leraars wat van die waarheid afgewyk het. Hy is ook daaraan herinner dat hy teenoor die Here Jesus aanspreeklik is vir die manier waarop hy sy bediening beoefen:
“Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening” (2 Tim. 4:1-5).
Elke kind van God, veral evangeliste wat die evangelie verkondig, kom voor die uitdaging te staan om die Woord reguit en sonder enige kompromie te verkondig. God is absolute waarheid, en die Here Jesus het in sy hoëpriesterlike gebed gebid dat sy dissipels in hierdie waarheid bevestig sou word: “Heilig hulle in u waarheid; u Woord is die waarheid” (Joh. 17:17). Die Heilige Gees getuig van hierdie groot waarhede wat mense tot bekering kan lei, daarom is Hy die Gees van waarheid wat ons in die hele waarheid sal lei (Joh. 16:13). Jesus Christus, sy leer en versoeningswerk, is deel van hierdie goddelike waarheid. Hy het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh. 14:6).
Die oomblik wanneer ‘n persoon van hierdie groot waarhede afwyk, dan dwaal hy. Ons moenie regs of links hiervan afwyk nie (Jos. 1:7). Mense verdraai egter die Bybel se boodskap, en wyk ook daarvan af deur hulleself vir buite-Bybelse openbarings van God se wil deur valse profete, drome en visioene oop te stel, asook die valse boodskappe van misleide predikers. Dit is waarom Paulus by Timótheus aangedring het: “Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig... want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie.” Gelowiges moet vermaan word wanneer hulle van die Woord afwyk.
Baie mense verkies egter om na valse leraars te luister wat die Woord só verdraai dat dit soet op die oor val. Die fabels wat hulle verkondig, is wanvoorstellings van die Bybel waarin die standaard daarvan drasties verlaag word om dit vir vleeslike mense meer aanvaarbaar te maak. ‘n Openheid vir hierdie soort leuens is baie algemeen en gaan terug na die vroeë kerk.
Paulus het vir die Galasiërs gesê: “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai” (Gal. 1:6-7). Een van hierdie fabels waardeur mense mislei word, is die uitverkiesingsleer, waardeur mense verseker word dat die Here hulle voor die grondlegging van die wêreld verkies het om hemel toe te gaan, dat hulle redding deur die kinderdoop bekragtig is en dat niemand hulle uit die Here se hand kan ruk nie. Sulke mense dien die Here net met hulle lippe omdat hulle onwedergebore harte ver van Hom af is.
Die Here Jesus het Israel se geestelike leiers skynheiliges genoem omdat hulle nie weergebore was nie. Hy het gesê: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Matt. 15:8-9). Hierby het Hy gevoeg: “Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou” (Mark. 7:9).
Verkondig jy die teologiese tradisies van mense of bedien jy die onvervalste melk van die Woord? Bly getrou aan die eenvoud van die evangelie-boodskap wat op die versoeningsdood van die Here Jesus gebaseer is. Beklemtoon altyd die plig wat sondaars het om ‘n duidelike keuse te maak om Christus as Verlosser aan te neem, en om alle sonde waarvan hulle bewus is, te bely en laat staan.
Ons leef in die tyd van die groot afval. Een van die kernaspekte van geloofsverval is die ontkenning van die maagdelike geboorte en godheid van die Here Jesus. Ons het ‘n besliste uitdaging om getrou te bly aan die groot Verlosser wat nie net die Seun van God is nie, maar ook God self. Die Drie-enige God van die Bybel word as God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees aan ons geopenbaar. 1 Joh. 5:7 sê: “Daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een.”
Die Here Jesus is die Woord wat vlees geword en onder ons kom woon het – en die mense het sy heerlikheid aanskou, die heerlikheid van die Eniggeborene wat van die Vader kom, vol van genade en waarheid (Joh. 1:14). Hy bestaan van alle ewigheid af: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God” (Joh. 1:1). As ons aan Hom getrou wil bly, moet ons Hom nie net as “Jesus” of “Christus” aanspreek nie, maar ook as “Here” en “God” soos wat Thomas gedoen het (Joh. 20:28; dit is “Kurios” en “Theos” in Grieks en “Jahweh” en “Elohim” in Hebreeus).
Paulus verwys na Hom as “die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus (Tit. 2:13), Johannes sê Hy is “die waaragtige God en die ewige lewe” (1 Joh. 5:20), en Petrus sê Hy is “onse God en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 1:1). Selfs ongelowiges praat van Jesus as ‘n profeet, daarom moet ons altyd sy persoonlike naam aan sy godheid koppel (Here Jesus), aan sy ampsnaam (Jesus Christus), of aan beide daarvan (Here Jesus Christus). Met die oog op die wydverspreide ontkenning van sy maagdelike geboorte en godheid, moet ons Hom altyd as die Here Jesus aanbid en as Here en God verkondig.
Hy is een met die Vader, daarom kon Hy sê: “Ek en die Vader is een” (Joh. 10:30). Vir die Jode van die eerste eeu was dit baie moeilik om die feit te aanvaar dat Jesus van Nasaret ewig en selfbestaande is, en een met Jahweh – die groot EK IS. Jesus Christus het vir hulle gesê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:58). Niemand kan gered word as hy of sy nie in die godheid van Christus glo nie. Hy het gesê: “As julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe” (Joh. 8:24). Die Jode moes van die aanspraak van sy godheid geweet het, omdat die profeet Jesaja gesê het: “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God...” (Jes. 9:5).
Eer en verkondig jy die wonderlike Naam van Jesus Christus, onse Here? Hy het vir getroue lede van die gemeente in Filadelfia gesê wat Hy ook aan getroue dissipels by sy regterstoel-oordeel sal sê: “Jy het my Woord bewaar en my Naam nie verloën nie” (Op. 3:8).
Ons moet onthou dat ons ten eerste die opdrag gekry het om getuies vir Christus te wees (Hand. 1:8). Hoe stel jy Hom aan die wêreld voor? Verkondig jy sy goddelike eienskappe en versoeningswerk? Openbaar jy die uitnemendheid van die kennis van Christus? Bring jy mense onder die besef daarvan dat alle skatte van wysheid en kennis in Hom verborge is, en dat Hy algenoegsaam is om in elke behoefte van hulle te voorsien na die rykdom van sy genade?
Een van die uitdagings wat deel van ‘n oorgawe is om die evangelie te verkondig, is die bereidwilligheid om verdrukking te verduur. Paulus het vir Timótheus gesê: “Ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis” (2 Tim. 4:5). Vroeër in sy brief het hy reeds hierna verwys: “Ly dan verdrukking soos ‘n goeie krygsman van Jesus Christus” (2 Tim. 2:3). “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word” (2 Tim. 3:12). Die rede vir benoudheid en vervolging is dat ons vir die waarheid stryd voer teen ‘n goddelose wêreld wat in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19).
Die Here Jesus het ook sy dissipels op verwerping en vervolging voorberei: “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het... ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle julle woord ook bewaar” (Joh. 15:18,20). Ons behoort oor hierdie negatiewe ervaring geëer te voel omdat ons ter wille van Christus ly, en ook ter wille van die waarheid van sy Woord wat ons verkondig. Paulus het aan die Filippense gesê:
“Gedra julle waardig die evangelie van Christus... [terwyl] julle in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie, en dat julle jul in geen opsig laat afskrik deur die teëstanders nie... omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly” (Fil. 1:27-29).
Baie van die vervolging kom van valse leraars wat die godheid van Jesus Christus ontken, en ook die leer van regverdigmaking op grond van sy bloed wat Hy gestort het, verwerp. Petrus sê: “Daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Pet. 2:1-2).
Hierdie predikers ontken sekere belangrike attribute van Jesus Christus, asook sleutelaspekte van die leerstellings oor redding en heiligmaking. Hulle gee aan evangeliese predikers ‘n slegte naam deur bewerings dat hulle nie sensitief genoeg is nie, aanstoot gee deur sonde té sterk te veroordeel, en onnodige hoë standaarde vir redding en Christelike diens stel.
Paulus se opdrag is duidelik: “...ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.” Moenie van jou probleme af weghardloop nie, maar vervul jou bediening op ‘n waardige manier. Hoewel ons kragtig stry vir die waarheid, moet ons nie as twisgierige mense bekend staan nie: “’n Dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra. Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys” (2 Tim. 2:24-25).
Paulus het dit sterk op Timótheus se hart gedruk dat hy moes aanhou om die evangelie te verkondig, ongeag of dit vir mense geleë is om te luister. Dit is in alle mense se belang om die ware evangelie te hoor en nie verdraaide weergawes daarvan nie. Die Here het alle mense lief en wil hulle red. Die Here Jesus het sy dissipels tot by die eindes van die aarde gestuur sodat almal die boodskap van redding kan hoor. Diegene wat gered word, word nie net geroep om dissipels van Christus te word nie, maar ook lede van sy bruidsgemeente wat eendag in al sy heerlikheid sal deel.
Ons moet onsself opnuut aan die taak toewy om die evangelie aan almal te verkondig. Die Woord moet oral en ten alle tye verkondig word. In ‘n gelykenis in Lukas 14 vergelyk die Here Jesus die verkondiging van die evangelie met uitnodigings wat aan mense gerig word na ‘n bruilofsfees. Dit dui profeties op die bruilofsmaal van die Lam. Hy het gesê:
“’n Sekere man het ‘n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi. En op die uur van die maaltyd het hy sy dienskneg uitgestuur om vir die genooides te sê: Kom, want alles is nou gereed. En hulle het hul almal eenparig begin verontskuldig. Die eerste het vir hom gesê: Ek het ‘n stuk grond gekoop en ek moet noodsaaklik uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my tog. En ‘n ander een het gesê: Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u, verskoon my tog. En ‘n ander een het gesê: Ek het ‘n vrou getrou en daarom kan ek nie kom nie. En daardie dienskneg het gekom en dié dinge aan sy heer vertel. Toe het die eienaar van die huis kwaad geword en vir sy dienskneg gesê: Gaan gou uit in die strate en gangetjies van die stad en bring die armes en verminktes en kreupeles en blindes hier in. En die dienskneg het gesê: Meneer, wat u beveel het, is gedoen, en daar is nog plek. Toe sê die heer van die dienskneg: Gaan uit op die paaie en na die lanings en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word” (Luk. 14:16-23). Die woord “lanings” kan ook na distrikspaaie verwys. Die bedoeling is dat daar ook op smal, plattelandse paaie na afgesonderde groepies mense gegaan moet word om die evangelie aan hulle te verkondig. In ‘n Suid-Afrikaanse situasie verwys dit na klein dorpies en plase wat ver van die hoofpaaie af is.
‘n Soortgelyke situasie bestaan vandag: baie mense in die stede het al dikwels die evangelie gehoor, maar aanvaar nie die uitnodiging om lede van Christus se bruidsgemeente te word nie. Hulle is só besig met hulle ekonomiese en sosiale verpligtinge dat daar geen tyd vir Christelike aktiwiteite in hulle lewe is nie. Omdat so baie van hulle die uitnodiging van die hand gewys het, kry die dissipels die opdrag om op die paaie na afgeskeepte gemeenskappe in die platteland te gaan en die goeie nuus aan hulle te verkondig. Hulle het nie die geleenthede wat mense in die stede het nie, en sal onder die laastes wees om die bruilofsaal vol te maak. Is jy ook by evangelisasie-uitreike van dié aard betrokke?
Ons moet as getuies van Christus volharding aan die dag lê. Paulus sê: “Wees jy in alles nugter [m.a.w. waaksaam]... doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.” Ons moet op die Here Jesus ingestel bly en heilige lewens lei. Paulus sê: “Laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” (Heb. 12:1-2). Sommige Christene word deur laste afgetrek wat nie in sigself sonde is nie, maar hierdie dinge is nogtans struikelblokke omdat hulle baie aandag, energie en geld vereis wat andersins tot groot voordeel in die diens van die Here aangewend kon word.
Om op Jesus Christus ingestel te bly, beteken dat ons ook sy wederkoms en die volle openbaring van sy heerlike koninkryk moet verwag. Johannes sê dat “elkeen wat hierdie hoop op Hom het, homself reinig soos Hy rein is” (1 Joh. 3:3). Dit verwys na leerstellige én morele reinheid. Ons moet heilige lewens lei en die ware leer van Christus verkondig wat volgens die godsaligheid is (1 Tim. 6:3). Sekere gelowiges voldoen nie aan hierdie standaard nie en val geestelik terug. Ons moet hierteen waak: “Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ‘n volle loon ontvang. Elkeen wat ‘n oortreder is en nie bly by die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hý het die Vader sowel as die Seun” (2 Joh. 1:8-9).
Die apostel praat hier van oortreders wat nie by die leer van Christus bly nie en daarvan afwyk. Proff. Walvoord en Zuck (The Bible Knowledge Commentary) sê die volgende oor dié teks: “Hierdie woorde impliseer duidelik dat die apostel na geloofsverval verwys onder diegene wat in ‘n stadium geglo het. Die uitdrukking “bly in” (Grieks meno) word 23 keer in Johannes se eerste sendbrief gebruik, en verwys na die lewe wat voortdurend in Christus bly (“the abiding life”). Iemand wat nie in iets bly nie, was duidelik vroeër in dit gewees. Die Nuwe Testamentiese skrywers was realisties oor die moontlikheid dat ware Christene die slagoffers van dwaalleerstellings kan word, en het dikwels teen dit gewaarsku, veral in die boek Hebreërs. Johannes het pas sy lesers teen die moontlike verlies aan loon gewaarsku (v.8). Hulle word nou gewaarsku om nie buite die grense van die gesonde leer te beweeg nie, maar om in die leer van Christus te bly en daarin te volhard. Wanneer ‘n persoon van die waarheid afwyk, dan laat hy God agter, want Hy is nie met só een nie. Wat hierdie persoon doen, doen hy sonder die Here... Daar moet ‘n sterk standpunt teen die verkondigers van valse leerstellings ingeneem word.”
Jesus Christus het die behoefte beklemtoon dat ons altyd in Hom moet bly: “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie... As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur” (Joh. 15:4-6). Johannes die Doper het mense ook vermaan om vrugte te dra wat by die bekering pas (Matt. 3:8).
Aanvaar jy die uitdaging om elke las af te lê én die sonde wat ons so maklik omring, met volharding die wedloop te loop wat voor ons lê en ten bloede toe weerstand teen die sonde te bied? Wanneer ons ‘n besluit neem om nie van die smal weg af te wyk nie, moet ons onsself ook daaraan toewy om die Here met al ons krag te dien. Jesus het gesê: “Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie” (Joh. 9:4). Paulus het gesê: “Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie” (1 Kor. 9:27). Ons moet ons liggame dissiplineer, oefen en hard laat werk om die regte dinge te doen. Ons kan nie op gemakstoele terugsit en geleenthede by ons laat verbygaan nie.
Christene moet in alle dinge waaksaam wees – dit sluit hulle persoonlike lewe én die leerstellings in wat hulle verkondig. Hulle moet teëstand en selfs verdrukking verduur van diegene wat van die waarheid afvallig geraak het, en aanhou om die waarheid van die evangelie te verkondig, selfs al het dit vir moderne gehore onaanvaarbaar geword. Dit is die enigste manier waarop ons die bediening kan vervul waartoe die Here ons geroep het.